Die wonder van die enige katolieke kerk.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-06-17
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 27
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis
Artikel 27

Ds C Kleyn - Sondag 17 Junie 2001

Lees: Psalm 67; Efésiërs 2:11-22;
Openbaring 7:9-17; Nederlandse
Geloofsbelydenis Artikel 27.
Sing: Ps 122:1,2; Ps 96:5,6; Ps
22:11,12; Ps 87; Ps 96:7,8.

Tema: Die wonder van die enige katolieke kerk.

  1. Die katolieke karakter van die kerk
  2. Die eenheid van die kerk

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Besef u dat u lid is van die katolieke kerk?
Ons bely mos ’n enige katolieke of algemene kerk. En dan
praat ons nie oor die Rooms katolieke kerk nie. Juis nie. Art 27
bely verder dat hierdie kerk nie geleë is in, gebonde aan of
bepaal tot ’n sekere plek of sekere persone nie. Dis
duidelik teen die Rooms Katolieke kerk gerig. Hulle bind ons aan
’n sekere plek, Rome, en aan ’n sekere persoon, die
Pous. Rome sou die sentrum van die kerk wees. En die Pous die
plaasvervanger van Christus op aarde. Die roomse maak aanspraak
op die naam katoliek.

Ons doen dit ook. Waarom? Omdat ons oortuig is
dat die Roomse kerk allermins katoliek is. Hulle gebruik ten
onregte die naam. En ons wil nie graag die pragtige titel
katoliek prysgee nie. Wat bedoel ons daar dan mee? Die woord
katoliek is in ons art ook vertaal met die woord algemeen. Die
woord kan na tyd, ruimte, kultuur of geloof verwys. Die katolieke
kerk is die kerk van alle tye, van die begin van die wêreld af
tot die einde toe. Die katolieke kerk is ook die kerk wat oor die
hele wêreld versprei en verstrooi is. Die katolieke kerk is ook
die kerk wat uit die hele menslike geslag vergader is, uit alle
kulture. Die katolieke kerk is ten slotte ook die kerk wat in die
eenheid van die ware geloof vergader is, wat die volle waarheid
van die Heilige Skrif vashou, ja, wat stry vir die geloof wat
eenmaal aan die heiliges toevertrou is – die katolieke
geloof. Die kerk is dus katoliek of algemeen wat betref tyd,
ruimte, kultuur en geloof. Sou u dit durf sê van die Rooms
katolieke kerk.

Ons glo en bely ’n enige katolieke of
algemene kerk. Ek glo en bely dat ek daarvan ’n lewende lid
is en ewig sal bly (sondag 21). Gemeente, besef ons wel wat dit
beteken om lid te wees van die katolieke kerk? Hoe groot die
wonder van die bestaan van die kerk is? In die komende week hoop
afgevaardigdes van verskillende gereformeerde kerke uit alle
kontinente in konferensie byeen te kom in Philadelphia, in
Amerika. Afgevaardigdes van allerlei lande wat die gereformeerde
leer, met ander woorde die skriftuurlike en katolieke leer
liefhet en wil verdedig. By so ’n byeenkom proe ’n mens
iets van die wonderlike katolisiteit van die kerk. Mense uit
allerlei lande en kulture herken mekaar en wil mekaar te
ondersteun in die stryd vir dieselfde geloof.

Vanoggend wil ek fokus op die bestaan van die
enige katolieke kerk. Sodat ons bewus kan wees van ons plek in
die katolieke kerk, en dat ons daaroor bly en dankbaar kan wees.

Ek verkondig vir U: die wonder van die enige
katolieke kerk.

  1. Die katolieke karakter van die kerk
  2. Die eenheid van die kerk

Vanaf die begin het God sy wêreldwye kerk in
die oog. Die Ou Testament begin met God se skepping van die wêreld
en van die mensheid. God skep mens en wêreld vir die
vermeerdering van sy lof. Van Adam tot Abraham is die kerk
universeel. Met Abram sien ons dat God die pad van die kerk
versmal tot ’n nasionale kerk deur met Abraham en sy
nakomelinge verder te gaan. Maar selfs dan is daar die
perspektief van die katolisiteit van die kerk. Wanneer die Here
Abram roep, dan beloof Hy vir hom dat in hom of in sy nageslag al
die geslagte van die aarde geseën sal word (Gen 12:3 sien ook
vers 18).

In Gal 3:16 betrek Paulus die nageslag of saad
op Christus. Dit word dus: in Christus sal al die nasies van die
aarde geseen word. God maak aan Abraham sy groot plan van
verlossing bekend. Hy roep hom uit Ur en Haran, bring hom in die
land Kanaän. Waarom? Omdat Hy sy groot verlossingsplan wil begin
uitvoer. Dit sal uiteindelik lei tot die koms van Christus. Die
bedoeling is uiteindelik om onder die hele verlore mensheid
verlossing te werk. Die evangelie van Christus sal daarom aan
alle volke verkondig word. Tot redding van die volke. God is nie
slegs bekommerd oor een volk of nasie nie, Hy wil alle volke red.
Daarom verander God Abram se naam na Abraham want sê Hy, Ek maak
jou ’n vader van ’n menigte van nasies (Gen 17:5).

Gemeente, hierdie geweldige belofte is die
beginpunt van die Ou Testamentiese verwagting van die dag waarop
die heil na alle volke sal uitgaan. Die Here se genadige omgang
met Israel berei die pad vir die uiteindelike uitbreiding van die
seën na alle geslagte van die aarde. Die katolieke karakter van
die kerk behoort by Israel se toekomstige heerlikheid.

Daarom sing die Psalmiste daarvan. Die beloofde
Messias sal oor die hele wêreld regeer. Ps 2 sing van die
besluit van die Here om nasies as sy erfdeel te gee en die eindes
van die aarde as sy besitting. Vergelyk Ps 72, die bekende
koningspsalm. Ps 22:28 sing: Al die eindes van die aarde sal
… hulle tot die Here bekeer en al die geslagte van die
nasies sal voor u aangesig aanbid. Ps 67, die Psalm wat ons
gelees het, jubel oor de volke wat God sal loof: "Die volke
sal U loof, o God, die volke almal saam U loof." Die volke
word meermale uitgenooi om saam met God se volk die Here te dien.
Byvoorbeeld Ps 96: "Gee aan die Here, o geslagte van die
volke, gee aan die Here eer en sterkte. Gee aan die Here die eer
van sy naam, bring offer en kom in sy voorhowe."

Ten slotte wys ek op Ps 87 wat heel uitdruklik
die katolieke karakter van die stad van God besing. "Heerlike
dinge word van u gesê, o stad van God! Ek wil Rahab en Babel
vermeld onder hulle wat My ken; kyk, Filistea en Tirus saam met
Kus – hierdie een is daar gebore…Die Here sal tel as Hy
die volke opskrywe: Hierdie een is daar gebore." Die Psalms
ego dus die geweldige belofte dat die Here Homself onder die
volke sal bekend maak en hulle in sy heil sal laat deel.

Gemeente, die katolieke perspektief vind ons
ook by die profete. In hoofstuk 2 profeteer Jesaja dat in die
laaste dae al die nasies na die tempelberg sal toestroom: "En
aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here
vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels,
en al die nasies sal daarheen toestroom" (verse 2). Die Here
Jesus word in Jes 49 as die Kneg van die Here aangekondig. Van
hom sê die Here: Ek het U gemaak tot ’n lig van die nasies,
om my heil te wees tot aan die einde van die aarde (vers 6).

Ten slotte wil ek nog na die profesie van
Sagaria verwys. In hoofstuk 2 word God se volk opgeroep om te
jubel en bly te wees omdat die Here in hul midde sal woon.
Daaraan voeg die Here die woorde: "en baie nasies sal hulle
in die dag by die Here aansluit, en hulle sal My tot ’n volk
wees" (vers 11). En in Sag 8: 20-23 lees ons die pragtige
profesie van die toestroom van die volke tot God se volk: "So
sê die Here van die leërskare: Nog sal volke aankom en die
inwoners van baie stede. En die inwoners van die een stad sal
gaan na die ander en sê: Kom, laat ons heengaan om die aangesig
van die Here om genade te smeek en die Here van die leërskare te
soek. Ek wil ook gaan! So sal dan baie volke en magtige nasies
kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die
aangesig van die Here om genade te smeek. So sê die Here van die
leërskare: In die dae sal tien man uit al die tale van die
nasies die slip van ’n Joodse man gryp en dit vashou en sê:
Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle
is."

Dis duidelik, die Ou Testament praat
voortdurend van die glorieuse toekoms van God se volk wanneer die
volke by hulle sal aansluit. Die Katolisiteit van die kerk is vir
die vrome Jode ’n geweldige perspektief waarna hulle uitsien.
Hul beloofde Messias sal die Heiland van die wêreld wees. Deur
Hom sal die seën van Abraham na alle geslagte van die aarde
uitgaan.

Broeders en susters, wanneer word hierdie
beloftes vervul? Moet ons nog die toestroom van die volke verwag?
Moet ons nog uitsien na die vervulling van Ps 67: Die volke sal U
loof, o God, die volke almal sal U loof? Gemeente, ons sien dit
reeds in die Nuwe Testament in vervulling gaan. As ons nou die
eerste evangelie, Mat, neem dan sien ons dat die verbondsbeloftes
aan Abraham en Dawid in ons Here Jesus in vervulling gaan. Baie
sal kom van ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob
aansit in die koninkryk van die hemele (Mt 8:11). Hierdie
evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld
tot ’n getuienis vir al die nasies en dan sal die einde kom
(Mt 24:14). Mt se evangelie eindig met Christus se katolieke
opdrag: Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies. Mk praat
van: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die
ganse mensdom (Mk 16:15). "Al die nasies," "die
hele wêreld," "die ganse mensdom." Woorde wat wys
op die katolisiteit van die kerk. En Christus voeg daaraan toe:
En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die
wêreld. Hierdie woorde is kenmerkend vir hierdie nuwe bedeling
tussen Christus se hemelvaart en wederkoms. Dit klink vir ons
miskien heel gewoon, maar ons moet besef dat dit ’n
opvallende ontwikkeling in die heilsgeskiedenis is. ’n
Geweldige ontwikkeling. Die vervulling van die belofte wat God
reeds aan Abram gegee het: in jou sal al die geslagte van die
aarde geseën word.

In die boek Handelinge word die katolieke
opdrag herhaal: "julle sal krag ontvang wanneer die Heilige
Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem
sowel as in die hele Judea en Samaria en tot die uiterste van die
aarde" (Hand 1:8). Op die Pinksterdag sien ons die katolieke
karakter van die kerk in die bekeerlinge uit die Parthers en
Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotamië, Judea en
Kappadocië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en die
streke van Libië by Cirene, Jode en Jodegenote, Kretense en
Arabiere. Hulle word almal langs mekaar genoem en word almal
opgeroep om hulle te bekeer.

Die Efesiërs word herinner aan die
verborgenheid van Christus wat albei – Jode en Grieke –
een gemaak het en die middelmuur van skeiding afgebreek het (Ef 2:14).
Die heidene is nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar
medeburgers van die heiliges en huisgenote van God,
mededeelgenote aan die belofte in Christus (2:19, 3:6).

Die Nuwe Testament eindig met die pragtige lied
van die Lam wat ons vir God met sy bloed gekoop het uit elke stam
en taal en volk en nasie (5:9). Daar is ook die visioen van die
groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme
en volke en tale, wat staan voor die troon en voor die Lam (7:9).

Broeders en susters, as u al hierdie gegewens
oor die katolisiteit van die kerk (en ons kan nog baie meer noem)
tot u laat deurdring dan kan u nie anders nie as onder die indruk
kom van die aangrypende skoonheid daarvan. Ons het te doen met
God se wonderwerk wat Hy van die begin beoog het en wat Hy in
ooreenstemming met sy beloftes vervul het. Wil u bewys hê dat u
in die Messiaanse tydperk lewe, let maar op die katolieke
christelike kerk. God vergader sy kerk uit alle volke en tale. U
sien selfs iets daarvan binne u eie gemeente. Ons het lidmate wie
se voorouers van Franse, Duitse, Nederlandse en Engelse oorsprong
was. As ons minder ver teruggaan dan sien ons dat Afrikaners,
Nederlanders en Engelse saam vergader word. Dan het ons ook nog
die sendingsgemeentes uit allerlei swarte stamme en die
kleurlinggemeente in Belhar. En om dan te dink dat dit maar
’n baie kleine verteenwoordiging is van die enige katolieke
kerk wat oor die hele wêreld versprei is. Ons kan nie anders as
om verwonderd te staan nie. Om in verwondering God se wêreldwye
werk van kerkvergadering te aanskou. Ons wil ons dan nie
terugtrek in ons eie klein kring nie. Dit sou ’n belediging
vir ons groot God wees. As ek weet dat ek lid is van die een
katolieke kerk wat Christus uit die hele menslike geslag, van die
begin van die wêreld tot die einde toe vergader, dan kan ek nie
eng van hart betreffende God se volk wees nie.

Maar gemeente, wat is dit dan wat die mense uit
alle dele van die wêreld verenig? Christus vergader sy katolieke
kerk in die eenheid van die ware geloof. Dit word reeds in die Ou
Testament duidelik gewys. Waarom sal die volke na Sion toestroom?
Jesaja skryf daaroor: "En baie volke sal heengaan en sê:
Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die
God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan
wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die
Here uit Jerusalem" (Jes 2:3). Hoe sal al die geslagte van
die aarde in Abraham geseën word? Deur deel te kry aan die
geloof van Abraham. Ons lees in Gal 3:9 dat die wat uit die
geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham.

Van die skape van Christus se kudde word gesê
dat hulle na sy stem luister en Hom volg (Joh 10:3,4). In die
hoofstuk sê Christus ook: "Ek het nog ander skape wat nie
aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal
na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder" (vers
16).

Wanneer Christus in Joh 17 bid oor die eenheid
van se dissipels vra Hy die Vader: "Heilige Vader, bewaar in
u Naam die wat U My gegee het" en "Heilig hulle in u
waarheid; U woord is die waarheid." (17:11,16). U Naam
verwys na God se selfopenbaring. As ons hoogste Profeet en Leraar
het Jesus Christus God se Naam aan ons bekendgemaak. Na sy gebed
vir die dissipels bid Christus vervolgens vir die wat deur hulle
woord in My sal glo – dat almal een mag wees (vers 20). Dis
duidelik dat die eenheid waarvoor Christus bid, verbonde is aan
die aanvaarding van God se openbaring deur Jesus Christus, wat
deur die apostels deurgegee word. Dis ’n eenheid in die
waarheid.

Van die kerk word gesê dat dit gebou is op die
fondament van apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die
hoeksteen is (Ef 2:20). Beide die apostels en profete het van die
Christus getuig. Daarom word Christus self ook die fondament van
die kerk genoem in 1 Kor 3:11. As ons hierdie twee dinge
kombineer: die getuienis van die apostels en profete en Christus
self as fondament, dan kan ons sê dat die fondament bestaan in
Christus soos Hy in die voltooide Bybel bekend gemaak is. Dit is
die fondament van die katolieke kerk.

Art 27 van ons belydenis vra nadruklik aandag
vir die feit dat die katolieke kerk ’n vergadering is van
almal wat waarlik in Christus glo. Daar word nog geloof op aarde
gevind. Die evangelie van Christus word gepredik en geglo. Waarom
die nadruk op geloof? Omdat geloof die liefdeband met Christus is.
Art 22 beskryf dit so: "Die geloof omhels Jesus Christus met
al sy verdienstes. Dit maak Hom ons eie en soek na niks anders as
na Hom nie." Pragtige taal.

Die kerk word getipeer as ’n vergadering
van ware gelowiges. Van mense wat volgens die belydenis almal
hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed
gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees. Ons lewe as
gelowiges word volkome deur ons gemeenskap met Christus bepaal.
Van Hom verwag ons ons saligheid, want in Hom is volle saligheid.
Sy bloed het ons gereinig en bevry van die heerskappy van die
sonde. En die Gees van Christus maak ons lewe nuut. Hy skenk ons
die sekerheid van die geloof en waarborg die bekroning van die
stryd.

Die eenheid van die katolieke kerk word dus
bepaal deur die band met Christus, die aanvaarding van die volle
evangelie van Christus, en daarin die aanvaarding van Christus
self. Haar toekoms is ook gewaarborg in haar ewige koning
Christus. Soos ons bely: "Hierdie kerk was daar van die
begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want
Christus is ’n ewige Koning, wat nooit sonder onderdane kan
wees nie. En hierdie heilige kerk word deur God teen die woede
van die hele wêreld bewaar, alhoewel dit soms ’n tyd lank
baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot
niet gegaan het – soos die Here vir Hom gedurende die
gevaarlike tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar het wat nie
voor Baal gekniel het nie." Wat ’n bemoediging vir ons
in ons stryd vir die bewaring van die geloof.

Broeders en susters, Waar vind ons dan die
enige katolieke kerk? Dit is oor die hele wêreld versprei en
verstrooi. Dit vertoon hom in baie plaaslike kerke. Ons word as
gelowiges nie geroep om jaarliks ’n pelgrimstog na een
sentrale heiligdom te maak nie. Die Heilige Gees kom na ons toe
en vergader ons plaaslik. Tog is die verskillende plaaslike kerke
een. Met die korinthiers weet ons ons verbind met almal wat die
Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep (1 Kor 1:2).
Dis soos ons bely aan die slot van art 27: Tog is dit met hart en
wil en deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees
saamgevoeg en verenig. Die een Gees bind ons saam. Dis een Here,
wat ons dien, een katolieke geloof, een doop. Hier sien u die
diepste grond vir die kerkverband en die internasionale kerklike
kontakte: die verbondenheid deur een Gees.

Waar vind ons dan die katolieke kerk. In elke
troue plaaslike gemeente. Ons mag na die Skrif van kerk praat in
die enkelvoud en in die meervoud. Daar is baie plaaslike kerke en
tog een kerk. Wanneer u na die kerk gaan, gaan u na die katolieke
kerk. Daar is Christus en daar woon die Gees. Daar is u verbind
aan die gelowiges van alle plekke en tye. U is mos lid van die
enige katolieke kerk. Laat ons God daarvoor loof en prys. En
ernstig daarna strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur
die band van vrede (Ef 4:3).

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)