My gebed is verseker deur God verhoor.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-06-10
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 52
Preek Inhoud: 

Sondag 52b

Ds C Kleyn - Sondag 10 Junie 2001

Lees: Lukas 11:5-20; Lukas 18:1-8; Sondag 52b.
Sing: Ps 66:1,2; Ps 38:1,15,17; Ps 56:1,4; Ps
131:1-3; Ps 23:1-3.

Tema: My gebed is verseker deur God verhoor.

  1. Dit bely ons in die amen op ons gebed; en
  2. Dit bely ons in die lofprysing aan die einde van die
    gebed.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons het nou gekom by die slot van die gebed. In die ses bedes
het ons gevra vir alles wat ons vir liggaam en siel nodig het.
Dit het Christus vir ons saamgevat in die volmaakte gebed. Aan
die einde van die gebed styg die loflied omhoog: "want aan u
behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in
ewigheid." In ons gesprek met God kom ons nie slegs met vrae
nie, as smekelinge nie. Ons kom ook met danksegging en aanbidding.
Die gebed is mos die vernaamste deel van die dankbaarheid. Dan
sal ons as vanself tot ’n loflied op God se goedheid en trou
kom.

So eindig die gebed in die aanbidding van die naam van die
Here, die aanbidding van sy heerlike deugde. Dit ’n
jubellied van die gemeente van die Here: Laat almal saam die Here
prys: sy Naam alleen het hoog gerys; oor aarde en hemel, ver en
wyd, sien ons sy glans en majesteit" (Ps 148:5) In die
loflied sien ons meteens die gees wat die hele gebed beheers, die
gees van kinderlike geloof en vertroue. Vol aanbidding en
vertroue eindig ons die gebed. In Christus is ons mos meer as
oorwinnaars. Ons kan ons oorwinningslied nou reeds ophef. So sê
ons ook amen op ons gebed.

Ek wil vir u verkondig: My gebed is verseker deur God verhoor

  1. Dit bely ons in die amen op ons gebed
  2. Dit bely ons in die lofprysing aan die einde van die
    gebed

Aan die einde van die gebed sê ons amen. Deur kinders kan die
woordjie soms met ’n sug van verligting begroet word. Die
gebed is klaar, ons hoef nie langer stil te sit nie en ons gekug
in te hou nie. Ons mag weer ons oë oopmaak. So beteken die woord
amen dikwels nie meer as ’n sein dat die gebed klaar is.

Maar nou sê die Kat vir ons dat amen nie ’n punt is nie,
maar ’n belydenis. Amen wil sê: dit is waar en seker.
Letterlik beteken amen: die staan vas; dit het geldigheid. Na die
preek bv beteken dit: ek erken die volkome geldigheid en waarheid
van wat gesê is. Amen is dieselfde as voorwaar. Wanneer Jesus
Christus plegtig: voorwaar, voorwaar, ek sê vir julle, sê, dan
gebruik Hy die woordjie amen. Ons Here Jesus sê letterlik: amen,
amen, ek sê vir julle. Daarmee wil Hy aangee dat die woorde wat
Hy gaan spreek volkome seker en betroubaar is. Jesus waarborg dat
dit is of sal wees soos Hy dit sê.

Wanneer ek aan die einde van my gebed amen sê, dan sê ek
daarmee nie vir die mense dat ek klaar is nie. My gebed is immers
van begin tot einde ’n gesprek met God. Die amen sê ek vir
God en nie vir die mense nie. Ek sê daarmee dat ek God op sy
woord glo: Dit is waar en seker. Sterker nog: ek bely daarmee dat
my gebed reeds verhoor is. Ek bely dat ek seker van die verhoring
is. "Want my gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat
ek in my hart voel dat ek dit van Hom begeer." Die begeerte
in my hart dat God my sal verhoor kan baie sterk wees. Maar nog
sterker en vaster is die sekerheid van die verhoring.

U voel dus die gewig van die woordjie amen. So ’n woord
kan ek nie sommerso uitspreek nie. Besef u wel wat u daarmee
uitspreek en bely? Ons belydenis aan die einde van ons gebed het
tog nie tot ’n holle frase geword nie?

Maar wat as ons onseker is? Onsekerheid pas nie by die
woordjie amen nie. As my gebed meer ’n sprong in die duister
as ’n vertroulike gesprek met die Vader is, dan pas die
woord amen nie daarby nie. Immers, met die woord amen lê ek alle
twyfel aan die kant en bely ek juis my onbegrensde vertroue in
God. Sonder die vertroue bid ek nie reg nie. Dan is die gebed nie
’n hartlike en vertroulike gesprek met God nie. Jakobus sê
vir ons: "En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom
dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt,
en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof bid,
sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ’n golf van
die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want die
mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie –
so ’n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë. (Jak 1:5-8).

Om te bid sonder om oortuig te wees van God se welwillendheid
om na ons te luister is meer ’n misbruik van God se naam as
’n gebed. Daar is immers geen vertroue in God nie. Wat
’n belediging vir God op wie ons altyd kan staatmaak, wat
nooit lieg nie. Die grond van ons gebed behoort te wees ’n
kinderlike vertroue in God. Vol vertroue moet ons tot hom nader.
En dan kan ons met stelligheid bely: amen, dit is waar en seker.
Hierdie vertroue vind immers sy vastheid in die Here en in sy
beloftes. Ons kan dit so seker sê omdat God dit vir ons beloof
het. Hy het belowe dat Hy ons met alles wat vir liggaam en siel
nodig is, sal versorg. Ook dat Hy al die kwaad wat Hy in hierdie
jammerdal oor ons beskik tot ons beswil sal verander. Sy "ja"
is "ja." Daarom verhoor Hy ons gebed.

Ons het daarvan gelees in Lk 11. Jesus Christus het vir sy
dissipels geleer hoe hulle moet bid. Daarna gee Hy hulle die
versekering dat Hy hulle sal verhoor. Hy doen dit dmv ’n
gelykenis: Onverwags kom daar in die nag ’n vriend by jou
aan. Hy het ’n hele reis agter die rug en wil graag by jou
eet en slaap. Helaas het jy niks in huis om vir jou vriend te gee
nie. Wat moet jy nou doen? Skielik dink jy aan ’n ander
vriend van jou. Hy woon naby. Hy sal jou uit die nood kan help.
Daarom gaan jy na jou vriend toe in die volle vertroue dat hy jou
sal kan help, ookal is dit reeds midde in die nag en sal dit dus
baie ongeleë wees. By hom aangekom sê jy: Vriend, leen my drie
brode, want ’n vriend van my het van ’n reis by my
aangekom, en ek het niks om aan hom voor te sit nie."

Jesus vra: watter vriend sal dan vir jou antwoord: Moenie my
lastig val nie; die deur is al gesluit, en my kinders is saam met
my al in die bed; ek kan nie opstaan om vir jou te gee nie?

Op die vraag van Jesus word as vanself geantwoord: Niemand sou
so teenoor ’n vriend optree nie. Inteendeel: al sou hy ook
nie opstaan en vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog
ter wille van sy onbeskaamdheid opstaan en hom gee soveel as hy
nodig het. So ’n groot vertroue wil hy nie teleurstel nie.
Sy vriend het hom mos nie geskaam om by hom aan te klop nie.

Hiermee wil die Here Jesus sê dat God sekerlik die gebed van
hulle wat op Hom vertrou sal verhoor. As ’n vriende onder
sulke omstandighede tog aan die versoek gehoor gee vanweë die
vertroue wat die vriend in hom stel, hoeveel te meer sal God die
gebede van hulle hoor wat in vertroue tot Hom gaan. Die man van
die gelykenis het te make met ’n vriend, ’n mens wat
minder edele motiewe kan hê. Maar as gelowige het ek te make met
my hemelse Vader wat altyd volmaak is in alles wat Hy dink en
doen. In die gelykenis was sprake van twee vriende. Maar in die
toepassing is daar sprake van ’n Vader-seun verhouding. God
het ons tot sy kinders aangeneem. Sou Vader weier om na sy seun
te luister? Die hemelse Vader staan altyd gereed vir sy kinders.
Vir Hom is daar nooit ’n ongeleë oomblik nie. Die poorte
van sy hemelse woning is dag en nag oop. Daar is altyd vrye
toegang tot die troon van sy genade. Vir elkeen wat Hom van harte
soek. God is geen mens wat slegs op bepaalde tye lus is om te
help nie. By Hom is die bidder altyd welkom. En Hy verhoor die
gebed.

Uit die gelykenis trek Jesus self die konklusie: "Ek sê
vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal
vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid,
ontvang; en hy wat soek, vind; en hy wat klop, sal oopgemaak word."
Tot drie maal toe herhaal Hy ongeveer dieselfde gedagte. So
ontvang ons ’n sterk bevestiging. So verseker die Here Jesus
sy dissipels dat hul gebede sekerlik verhoor sal word, wanneer
hulle in volle erns tot Hom bid.

Ja, dit gaan in die teks oor ’n ernstige, aanhoudende
gebed. Dit gaan nie oor ’n terloopse gebed, dat jy so nou en
dan bid wanneer dit jou pas of as die nood op sy grootste is nie.
Dit gaan oor ’n ernstig en dringende bede wat uit die hart
opkom. Hier word ’n gebed bedoel wat volhard en nie verslap
nie. Dan is die gebed nie mat of oppervlakkig nie, maar dan is
dit ’n worsteling met God. Ons gebed is steeds ’n stryd.
En in elke stryd is daar spanning, want ons weet nie hoe die
stryd sal verloop nie. So is daar in elke gebed die spanning oor
wat die einde sal wees.

Ons gebed is nie ’n sekere kennis dat wat ons vra ook
werklik deur God vir ons geskenk sal word nie. Dawid het gebid
vir die behoud van sy kind, wat Batseba vir hom gebaar het.
Wanneer God die kind wegneem, dan het Dawid sy stryd gestry. Dan
praat hy met sy knegte oor die spanning wat sy gebed beheers het:
hy het gedink, miskien is die Here my genadig sodat die kind in
lewe bly.

God het nie gedoen wat Dawid gevra het nie. Dawid weet dat God
vrymagtig is om ons wense af te wys. Daarom die spanning. Maar
dan juis is die amen ’n oorwinningslied. Die amen is altyd
’n oorwinning. My gebed het miskien in groot angs en bewoënheid
begin, maar die gesprek met my hemelse Vader maak my rustig. As
ek dan aan die einde van my gebed gekom het, en amen gesê het,
dan weet ek: my gebed is verhoor. Ek sien die verhoring dalk nog
nie. Ek weet ook nie hoe God dit verhoor het. Wie weet hoe lank
ek nog moet wag voordat die verhoring vir my sigbaar en voelbaar
word. Maar dit weet ek vas en seker: my gebed is verhoor. As ek
nie die oortuiging het nie, dan sou ek geen amen kan sê nie. Ek
mag die amen sê omdat ek God as die waaragtige en getroue ken.

Ja, maar hoe is dit dan met die sogenaamde onverhoorde gebede?
Ek het so vurig vir die Here gebid om genesing, maar my siekte
bly my pla. Ek het voortdurend by die Here gesmeek vir werk, vir
’n oop deur, vir opheffing van my persoonlike verdriet en
nood, maar dit word maar nie werklikheid nie. Kan ek dan nog wel
met stelligheid sê: dit is waar en seker?

Wanneer ons so praat dan vergeet ons die lofprysing wat aan
die amen voorafgaan: "want aan U behoort die koninkryk en
die krag en die heerlikheid tot in ewigheid." In die loflied
wys ons ons volkome vertroue in God. Daarin plaas ons die gebed
ook in die juiste kader. Ons rig ons gebed tot God in vertroue
omdat Hy die Koning is wat mag oor alles het. Ons kan aan niemand
anders vra wat ons vir Hom vra nie. Die 6 bedes – wat ons
vir liggaam en siel nodig het – raak Hom soos geen ander nie
omdat die koninkryk aan Hom behoort. Sy koninkryk is die saak
waar alles in die wêreld om draai. Ondanks die feit dat baie
mense dit nie erken of herken nie. God alleen het onbeperkte
koninklike gesag.

En as Koning soek Hy die beste vir sy onderdane. Sy hart gaan
na sy volk uit. Hy wil ons alles wat goed is gee. Dit kan nie van
alle konings en maghebbers van die aarde gesê word nie. Die
groot leiers van Amerika, Europa, Rusland, China en Suid Afrika
weet nie eens wat ons wesenlik nodig het. Laat staan dat hulle
werklik alles wat goed is vir ons wil gee. In feite is die
regerings blind vir die werklike nood in die wêreld. Watter nut
sou dit dan hê om by hulle te kom vir alle geestelike en
liggaamlike behoeftes?

Daarby het hulle nie eers die mag om die nood te lenig nie. Ja,
hulle kan dalk wel bepaalde aardse nood lenig, maar hoeveel ander
node bring hulle nie tot stand deur die leniging van die een nood
nie. Dink u maar aan die moeites rondom die besuiniginge in ons
land. Hoe bekwaam die ekonome ookal mag wees, die toestand hier
op aarde sal altyd gebrekkig bly wat betref ons aardse behoeftes.
Laat staan die geestelik behoeftes. God alleen is in staat en het
die wil om ons werklik te help, ook wanneer alles ons teensit.

Ja, die hewige aanslae bly. Satan loop nog steeds rond soos
’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Daarby neem
hy ook nog alle aardse magte in sy diens. Dit bly ’n hewige
stryd, maar God regeer en het oor alles mag. In die skrifgedeelte
wat ons gelees het, sien ons Christus se oorwinnende krag. Jesus
het die beskikking oor die duiwels, om hulle uit te dryf. Daarmee
laat Hy vir ons die koninkryk van God sien. Ons vyand is
aggressief en lyk sterk, maar God het hom oorwin. Daar staan nou
niks meer op sy pad om vir ons alles te gee wat nodig is nie. Die
oorwinning is in feite reeds behaal.

En die heerlikheid behoort aan God tot in ewigheid. Daar kan
niks tussen kom nie. Ondanks die verset van die Bose. Aan God
behoort die heerlikheid. Dit bly so vir Hom tot in ewigheid. Dit
gee ons rus en vertroue. Niemand kan die vertroue wegruk nie.

Wanneer ons dit weet, dan sal ons ook by alles op sy
heerlikheid gerig wees. Ons rig die 6 bedes tot Hom om Hom te eer.
Ons bid dit alles sodat daardeur nie ons nie maar u heilige Naam
ewig geprys sal word. Dit gaan nie om ons wanneer ons om alles
wat goed is vra nie, maar uiteindelik gaat dit om die eer van God,
sodat daardeur nie ons nie, maar sy heilige Naam ewig geprys sal
word.

En dan begryp ons ook waarom God vir ons nie alle wense vervul
nie. En dit nie onmiddellik vervul nie. Ons vra mos dat die Here
alles wil onthou wat nie tot verheerliking van sy Naam strek nie.
Hemelse Vader, skenk my nie wat ek vurig van u begeer nie, indien
die eer van U naam nie daardeur bevorder word nie. Los my liewer
in my nood en sorg as dat u Naam op enige wyse smaad aangedoen
sal word.

Die alleenwyse God doen nie altyd wat ons wens nie. Gelukkig
nie. Ons is nog sondige mense en dikwels onwys en kortsigtig in
ons gebede. Ons bid nie altyd met ’n opregte geloof wat hom
aan God se beloftes toevertrou nie. Ons beste werke, waaronder
ons gebede, is met sonde bevlek. Maar die Here is wys. Hy verhoor
ons gebed ver bo alles wat ons bid en dink. God is die verhoorder
van die gebede, maar dan wel op sy alleenwyse manier. God se
gedagtes en paaie gaan ver bo ons gedagtes en paaie.

Indien ons wat sleg is, weet om goeie gawes aan ons kinders te
gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader goeie dinge gee aan
die wat Hom bid. ’n Vader wat alles doen wat sy kinders vra,
het sy kinders nie werklik lief nie. Ware liefde moet soms ook
nee sê. ’n Ware vader moet alles weier wat sleg en skadelik
is. Ook al verstaan die kind dit self nog nie. Dieselfde geld ook
vir die hemelse Vader. Hy is wyser as ons en gee slegs wat tot
ons nut en saligheid dien. Hy alleen kan goed bepaal wat ons
nodig het. Aan Hom behoort immers die koninkryk en die krag en
die heerlikheid tot in ewigheid.

En dan bly ons daarop amen sê as ’n jubel van oorwinning.
In die vertroulike verhouding tussen Vader en ons is daar Vader
se onwankelbare beloftes. Daarop vertrou ons wanneer ons sê: dit
is waar en seker. Wanneer ek my eerbiedig op sy eie beloftes
beroep, dan sal Hy vas en seker my verhoor. Want Vader is ’n
getroue verbondsgod. Hy verhoor op sy manier en op sy tyd al my
gebede. Hy oorsien alles en staan bo die tyd. Hy let nie slegs op
die korte termyn nie, maar ook op die lange termyn. Hy is die
ewige Koning. En as ek eenmaal ewig by Hom mag wees dan sal dit
vir my duidelik wees dat al die gebede inderdaad bo alles wat ons
bid en dink verhoor is. Die uiteindelike vervulling is mos
ongelooflik. Wie het dit ooit kan indink. So ’n heerlike
vervulling: die verheerliking van siel en liggaam.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)