Laat u nie lei deur die geesryke vog nie, maar deur die Gees van God.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-07-03
Teks: 
Efésiërs 5
Preek Inhoud: 

Efésiërs 5:18

Ds C Kleyn - Sondag 03 Junie 2001

Lees: Efésiërs 5:1-21.
Sing: SB. 27; Ps. 34:1,6;
Ps. 25:2,4,6; Ps. 150:1-3

Tema: Laat u nie lei deur die geesryke vog nie,
maar deur die Gees van God

  1. Wees nie met die geesryke vog vervul nie
  2. Wees vervul met die Gees van God

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat besiel U eintlik? In besondere situasies
kan dit gebeur dat ons die vraag vir mekaar stel. Hoekom doen u
dit? Wat dryf u daartoe om so te praat of om so op te tree?

In die teks gaan dit oor dieselfde vraag. Wat
besiel u? Wat is die dryfveer van u lewe? Elke persoon het ’n
sekere krag wat hom aandryf. Ons doen die dinge nie sommerso nie.
Daar is altyd iets wat ons daartoe beweeg. Die apostel Paulus
bepaal ons by die vraag: wat is die dryfveer van u, van jou
bestaan hier op aarde? Wat is die motor wat jou in beweging hou?

Die Apostel roep op tot ware geesdrif: word met
die Gees vervul. Laat tog die Gees van God u dryfveer en krag
wees. Om met die Gees vervul te wees raak nie slegs u gevoelslewe
nie. Dis nie slegs ’n kwessie van innerlike belewing nie.
Dit raak u hele bestaan hier op aarde. Dit het alles te make met
u daaglikse doen en late. Die ware geesdrif moet blyk in die
manier waarop u u daaglikse werk verrig, in u omgang met die
mense, in u optrede in die huwelik en gesin, in die manier waarop
u u aande deurbring en u u probleme aanspreek. Waardeur laat u u
dryf: deur die Gees van Christus of deur iets anders? Waarvan is
u vervul?

Ek verkondig vir u: Laat u nie lei deur die
geesryke vog nie, maar deur die Gees van God

  1. Wees nie met die geesryke vog vervul nie
  2. Wees vervul met die Gees van God

In die teks word twee dinge teenoor mekaar
geplaas. Die vol wees met die Gees teenoor die vol wees van wyn.
"Moenie dronk word van wyn nie, maar word met die Gees
vervul." Die teenstelling lyk op die eerste gesig ietwat
vreemd. Waarom plaas Paulus die twee dinge teenoor mekaar: die
vol wees van wyn en die vol wees met die Gees?

Die gebruik oftewel misbruik van sterk drank
het onder die heidene in Klein Asië ’n belangrike plek
ingeneem. Nie slegs in die private lewe nie, maar ook in die
publieke godsdienstige lewe, by die kultiese maaltye of ander
kultiese plegtighede.

Waarom het mense hulle te buite gegaan aan
drank? Dit is ten diepste vanweë die behaaglike gevoel wat
alkohol bevattende dranke vir ’n mens gee. Die behaaglike
gevoel dat jy bo jou sorge en spanning verhef word. n Rukkie
terug het ’n dwelm gebruiker dit so verwoord: dagga dien
dieselfde doel as drank: "Dit olie die gemoed en hef
inhibisies op. Jy voel so gemaklik, ontspanne en vry, dis asof
jou gedagtes vleuels kry en jy net lekker lag en gesels saam met
jou vriende." Wanneer jy onder invloed van die alkohol raak,
dan kom jy in die reël los, dan word die lewe ’n fees. Die
natuurlike en morele remme wat jou belemmer val weg. Die ellende
van die lewe word verdring en vergeet. Jy vlug effens in ’n
roes.

Agter die misbruik van die wyn lê die nood van
die lewe sedert die sondeval. Deurdat mense God, die bron van
lewende water, verlaat het, het die menslike lewe arm, leeg,
doelloos, rusteloos en onseker geword. Waar leef jy nog voor as
God vir jou nie meer bestaan nie. Wat moet jy maak met die
ellende in die wêreld en met die ellende in jou eie lewe as God
daar nie meer vir jou is nie? Waar moet jy rus vind as jy God nie
as die groot Rusgewer ken nie. Waar die lewendige gemeenskap met
God nie geken of ervaar word nie, daar soek jy vinnig na middels
om bo die gevoel van onrus, onsekerheid en spanning uit te kom.

Die wyn – die geesryke vog, was in Paulus
se dae die middel om daar bo uit te kom. In die moderne tyd het
daar talryke middels bygekom. Wat word vandag nie gebruik om die
harde werklikheid van die lewe te ontvlug nie. Daar is sterk
dranke in oorvloed opwekkende middels. Selfs die sigarette en
ander genotmiddels moet dien om die leegheid en eentonigheid van
die bestaan te deurbreek.

Dit kan wees dat Paulus in die teks veral die
kultiese drankgebruik van alkohol in die oog het. Wat Hy na die
teks skryf laat dink aan die samekomste van die gemeente. Die
griekse wêreld het die uitgelate feeste geken tot eer van
Bacchus, die god van die wyn. Mense het gedink dat dit moontlik
was om dmv dronkenskap tot ekstase en tot die vereniging met die
godheid te kom.

Paulus waarsku daarteen: Moenie dronk word van
wyn nie. Paulus sê dit nie sonder rede nie. Dit is nog jong
gemeentes vir wie hy skryf. Die lidmate het kort gelede van die
heidendom na die christelike geloof oorgegaan. Om radikaal met
die heidense verlede te breek is nie maklik nie. Van die heidense
leef en denkwyse kom ’n mens nie sommerso los nie. Vergelyk
dit maar met die situasie in die jong sendingskerke. Die jong
gelowiges leef nog midde in die heidense samelewing met sy
sondige praktyke en invloede. Kort voor ons teks lees ons dat die
dae boos is. Binne die Romeinse ryk is dit ’n tyd van
toenemende geestelike en sedelike verwarring en verval.
Vergelykbaar met die huidige situasie in ons land. Die sonde maak
hom sterk aan alle kante. Ook die sonde om na opwekkende,
prikkelende middels te gryp om bo die onsekerheid en spanning van
die lewe uit te kom.

Gemeente, wie dit soek in die geesryke vog kom
bedroë uit. Jy verval van kwaad tot erger. Jou probleme word nie
werklik opgelos nie. Inteendeel, dit word slegs erger. Want in
die oordadig gebruik van wyn sit losbandigheid sê Paulus. Die
opwekkende genotmiddels neem die morele remme weg. Jy verloor
beheer oor jouself. Oor jou gevoelens (woorde bade). En wat daar
dan loskom is dikwels sonde en dwaasheid. Dan kom die dinge bo
wat in jou hart sluimer. Onder invloed van alkohol sê jy en doen
jy dinge waarvoor jy jou normaal sou skaam. Die drank besiel. Die
drank sit jou in vuur en vlam, maar dit is ten diepste duiwelse
vuur. Kyk maar na die heidense feeste. Waar die drank die mens in
sy greep kry, daar bly ten slotte min mensliks oor. Jy soek
lewensverheffing maar jy kry lewensvernieling. Dink maar aan
Paulus se vermanings in die begin van die tekshoofstuk teen
hoerery en allerhande onreinheid of hebsug, gemeenheid en dwase
of lawwe praatjies. Mense wat hulle te buite gaan in sterk drank
maak hulle maklik daaraan skuldig. Die hele heidense lewe word
deur losbandigheid getipeer. Die uitgelate feeste lyk so
aantreklik. Dis uitbundige pret waar jy daar vind. Maar dis
surrogaat, ’n skyn vreugde. Dit lei tot ongebondenheid, dit
verlaag die mens.

Gemeente, die waarskuwing van die teks bly
aktueel. Die gebruik van verslawende middels neem in ons
samelewing vaste vorme aan. En dit onder alle lae van die
bevolking, ryk en arm. Hoeveel mense laat hulle nie deur alkohol
of ander middels tot ’n bepaalde stemming opwerk nie. Die
lewe word eers werklik ’n fees wanneer daar stewig gedrink
word.

En as daar in jou lewe spannings is en probleme
waar jy nie kan uitkom nie, dan word dit des te gevaarliker. Jy
ervaar dat die spannings deur alkohol of dwelms van jou afgly.
Die probleme by die huis of by die werk kan jy daardeur vergeet.
En jou angste en frustrasies verdwyn. Gaan jy in so ’n
situasie drink, dan is die gevaar van verslawing des te groter.
Jy kry gou die gevoel dat jy nie meer sonder die middels kan nie.
Jou lewe moet tog draaglik bly?

Brs en srs, laat ons goed weet wat ons doen?
Waar soek ons ons lewensvulling? Waar soek ons ons toevlug by
spanning, verveling, eensaamheid of frustrasies? Waar soek jy jou
rus en sekerheid in ’n onrustige en onsekere wêreld? Dit is
vrae wat ons jong en oud eerlik moet beantwoord. Soek ons dit
werklik by die Gees van God of soek ons dit in die geesryke vog
of ander opwekkende middels. Die keuse is tussen ’n vol wees
met wat die sondige wêreld aan surrogaat bied of die vol wees
met die Gees van God. Laat u nie lei deur die geesryke vog nie,
maar deur die Gees van God. So kom ons by die tweede gedagte:
wees met die Gees vervul. Teenoor die leeg lewe met sy ydele
vulling plaas Paulus die vol wees met die Gees: word met die Gees
vervul.

Wat is dit om met die Gees vervul te word?
Beteken dit dat ons die Gees nog moet ontvang? Dit kan nie waar
wees nie. Paulus gaan daarvan uit dat elke Christen die Gees van
God reeds ontvang het. Sonder die Gees sou ek nie kan glo nie.
Dis mos die Heilige Gees wat die geloof in my hart bewerk. Wie in
die Here Jesus glo het die gawe van die Gees. So skryf Paulus in
Ef 1:13 en 4:30 dat hulle vir wie hy skryf reeds met die Heilige
Gees verseël is. Die ontvangs van die Heilige Gees is dus iets
wat reeds in die lewe van die gelowiges plaasgevind het. Wanneer
Paulus ons dan oproep om met die Gees vervul te word dan bedoel
hy dus iets anders as die besit van die Gees. Die ontvangs van
die Heilige Gees is iets wat eenmaal in ons lewe gebeur. Wie tot
geloof kom kry die Heilige Gees. Om met die Gees vervul te word
is egter iets wat herhaaldelik kan en moet voorkom. Dis iets wat
die gelowige telkens opnuut moet soek. Ja, juis omdat ek as
gelowige die Heilige Gees ontvang het, daarom moet ek nou ook met
die Heilige Gees vervul word.

Daar is mense wat beweer dat almal wat tot
geloof gekom het, nog apart die Heilige Gees moet ontvang. Hulle
maak ’n onderskeid tussen gelowiges wat die Heilige Gees nog
nie ontvang het nie, en gelowiges wat die Gees wel ontvang het.
Die eerste groep het slegs die Here Jesus in geloof aanvaar,
terwyl die tweede groep ook die Heilige Gees aanvaar het. Op
grond van wat ons reeds genoem het so ’n onderskeiding nie
korrek nie. Elke ware gelowige, elke ware Christen het reeds die
Heilige Gees ontvang. Sonder die Heilige Gees sou niemand ’n
gelowige kan wees nie.

Laat ons, broeders en susters, egter oppas dat
ons nie uit reaksie teen daardie verkeerde opvatting slegs van
die een aanvanklike werking van die Heilige Gees wil weet nie.
Sonder dat ons sou wil strewe na ’n diepere geestelike
ervaring. Wanneer ek die Gees ontvang het, dan is ek nog nie
klaar nie. Ek moet steeds weer deur die Gees aangeraak word. Ek
moet geestelik bly groei. En dit sal vir my baie nuwe geestelike
ervarings beteken, baie verdiepings en verrykings van dit wat ek
reeds by my bekering ontvang het. Laat ons die voortgaande
werkinge van die Gees dus nie negeer nie. Daardeur sou ons as
christene baie arm bly. Dis ook miskien die rede waarom sommige
mense kla oor die gebrek aan geestelikheid in ons midde. Leef ons
wel voldoende as geestelike mense, as mense wat deur die Gees van
God gedryf word? Die gebrek aan geestelikheid kan voortkom uit
’n gearriveerde houding, die vanselfsprekende houding van:
ons het tog reeds die Gees ontvang. Dis miskien ook wat mense
bedoel wanneer hulle kla oor verbondsoutomatisme. Maar as ons by
ons bekering reeds alles ontvang het, waarom roep Paulus ons dan
nog op: word met die Gees vervul? Is dit dan nie oorbodig nie?
Nee, juis omdat ek as gelowige die Heilige Gees ontvang het,
daarom moet ek nou ook met die Heilige Gees vervul word.

Wat beteken dit dan om met die Heilige Gees
vervul te word? Om die Gees te ontvang het betrekking het op ons
regverdiging. Deur die geloof word ons regverdig voor God gereken,
ontvang ons vryspraak van ons sondes. Om met die Gees vervul te
word het egter betrekking op ons heiliging, op die vernuwing van
ons lewe. Die groot geheim van ons heiliging is om vervul te wees
met Hom wie se naam ‘heilig’ is. Dit gaan daaroor dat
ons steeds meer en meer deur die Gees ons laat beheers en beïnvloed.
Ek moet die Gees alle ruimte gee. Ek moet my heeltemal deur die
Gees in beslag laat neem. My volkome deur Hom laat lei. Hom in
alles gehoorsaam wees. Deur Hom my laat aandryf en besiel. So sal
die verseëling met die Gees steeds sigbaarder word.

‘Word met die Gees vervul’ is ’n
bevel. Is dit nie vreemd nie? Om met die Gees vervul te word, is
tog iets wat vir ons gegee moet word? Moet ons daarby nie passief
wag totdat dit vir ons gebeur nie? Die werkwoord staan ook in die
passiewe vorm: ‘word vervul.’ Dis ’n daad van God.
Kan ons invloed daarop uitoefen? Die Gees is tog volkome
soewerein om te kom en te gaan wanneer Hy self wil?

Tog gee Paulus dit as ’n bevel. My
afhanklikheid van die Gees sluit my eie verantwoordelikheid nie
uit nie. As ek met die Gees vervul wil wees, dan moet ek nie
passief of lydelik bly wag nie. Paulus roep op tot aktiwiteit en
nie tot passiwiteit nie. Ek moet aan die werk spring: word met
die Gees vervul. Die werk van die Heilige Gees maak ons nooit
onmondig nie. Inteendeel, die Gees wat vir my die geloof en die
nuwe lewe skenk, skakel daarby my eie wil en eie
verantwoordelikheid in. So is die geloof tegelykertyd ’n
gawe en ’n opdrag. Tog is daar geen konkurrensie tussen die
soewereiniteit van die Gees en die gehoorsaamheid van die
gelowige nie. So goed en magtig is die Here.

Om met die Gees vervul te word is ’n gawe.
God wil dit vir ons gee. God wil ons immers seën met alle
geestelike seëninge. Hy wil ons ten volle laat geniet van die
liefde en krag van die verbondsomgang met Homself. Hy wil die
vrymoedigheid en bekwaamheid vir die werk in sy koninkryk gee. So
het die vervulling met die Heilige Gees vir die vervolgde kerk
saamgegaan met vrymoedigheid om die woord van God te spreek (Hand
4:8, 29-31).

Om met die Gees vervul te word is tegelyk ook
’n opdrag. ’n Opdrag waarmee ons tydens hierdie lewe
nooit klaar sal kom nie. Ons moet geestelik bly groei. Sodat ons
steeds meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word,
sodat ons steeds meer en meer ’n afspieëling van God gaan
wees, werklik geestelike mense.

Gemeente, so ’n bevel om met die Gees
vervul te word sou sinloos wees as ons niks daarmee sou kan begin
nie. Hoe kan ek dan aan die bevel gehoor gee? Hoe laat ek my met
die Gees vervul? In die eerste plek deur aanhoudend vir die Gees
te bid. Christus het op die gebed gewys toe Hy gesê het: "As
julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te
gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee
aan die wat Hom bid?" (Lk 11:13). Die wagtende gemeente van
Hand 1 was ’n biddende gemeente. Ons lees: "Hulle almal
het eendragtig volhard in gebed en smeking." (Hand 1:14). In
antwoord op die gebed word hulle op die Pinksterdag met die Gees
vervul. Die Heidelbergse Kategismus wys ons daarop dat ons ons
sonder ophou moet beywer en God om die genade van die Heilige
Gees bid sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God
vernuwe mag word (antwoord 115).

Hoe kom ek verder onder die beslag van die Gees?
Sodat die Gees my lewe steeds meer beheers en lei? Deur die Woord
van die Gees. Daarom beteken die bevel van Paulus ook dat ek
daagliks met die Woord van God omgaan, dit lees, oordink en
toepas. Ek moet die woorde van God in my opneem, uit die Woord
lewe, my deur die Woord laat vul en lei. So wil die Gees my
vervul. Wanneer ons Ef 5:18 naas Kol 3:16 plaas dan is dit
duidelik dat die vervulling met die Heilige Gees beteken dat jy
volledig deur die Woord van Christus beheers word. In Kol 3:16
vervang Paulus die woorde "word met die Gees vervul met
"Laat die Woord van Christus ryklik in julle woon." Om
met die Gees vervul te wees beteken dat ek geheel en al onder die
heerskappy van die Woord kom. Dit vra gebed, geloofsoefening en
selfverloëning. Deur die gebed stel ek my oop vir die Gees. Deur
die Woord laat ek my met die Gees vul.

So kan ek as Christen geestelik groei en bloei.
Ek ontvang rus en sekerheid. Ek ontvang nuwe krag en wysheid. Ek
leer om my probleme, teleurstellings en spanning beter te hanteer.
Ek laat die Gees my deur die donker dal lei. So kom daar in my
lewe die ware geesdrif. Ek word nie langer beheers deur die
plesier van die oomblik nie, maar deur die blydskap in die Here
wat ewig is. Op die Pinkster dag was dit reeds sigbaar. So selfs
dat mense gesê het: die dissipels is dronk. Maar Petrus het gesê:
dis nou die werk van die Gees. Hy besiel ’n mens. Nie in
’n kortstondige opwekking nie. Hy vervul jou hart met vrede,
blydskap en krag.

So wys Paulus ook op die gevolge van die
vulling met die Gees in die woorde na die teks. "Spreek
onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en
sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here, terwyl
julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse
Here Jesus Christus, en aan mekaar onderdanig is in die vrees van
God." (Ef 5:19-21). Die vervulling met die Gees blyk dus uit
ons houding teenoor God en teenoor mekaar. Pleks van leuens, vuil
en driftige taal, spreek ons onder mekaar met psalms, lofsange en
geestelike liedere. Daarby dank ons altyd God die Vader vir alles.
Ons lewe word deur blydskap, dankbaarheid en diensbaarheid
gekenmerk. Ja, ook deur diensbaarheid. Die Gees leer ons mos om
aan mekaar onderdanig te wees in die vrees van God, binne alle
menslike verhoudings (vergelyk Ef 5:21-6:9).

Broeders en susters, daar word soms gekla oor
’n gebrek aan geesdrif in die kerk. Met as gevolg ’n
gebrek aan blydskap en dankbaarheid. Ons leef dikwels benede die
vlak van die ryke Pinkstergees. Daarom bly die oproep van Paulus
baie aktueel: ‘word met die Gees vervul.’ Stel jou oop
vir die Gees van God. Beoefen jou geloof. Bid sonder ophou (1
Thess 5:17). Ontvang met sagmoedigheid die Woord van God (Jak 1:21).
Lees en oordink die woord. Laat jou deur die woord vul en lei.
Beoefen die gemeenskap van die heiliges. Langs die pad wil die
Gees jou vul. Sodat jy werklik geesdriftig kan lewe, bly,
dankbaar en diensbaar.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)