Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-07-03
Teks: 
Handelinge 2
Preek Inhoud: 

Handelinge 2:21

Ds C Kleyn - Sondag 03 Junie 2001

Lees: Handelinge 2:1-21.
Sing: Ps. 149:1,2; SB. 14:1,2;
Ps. 110:1-3; SB. 13:4-9; Ps. 96:1,2,5,8[Ps;
SB.]

Tema: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep,
sal gered word

  1. Waarom die redding nodig is; en
  2. Waar die redding te vinde is.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Nouliks een en n half week gelede het ons die
hemelvaart van ons Here Jesus Christus gedenk. Het Jesus Christus
van toe die aarde afstand geneem? Hy het tog na die hemel
opgevaar, wie weet hoeveel miljoene kilometers hier vandaan. Laat
Hy die aarde dan nie aan sy lot oor nie? Soms kan die gevoel my
in my aanvegtings bekruip. Bemoei die Here Jesus Hom nog wel met
ons lewe hier op aarde?

Maar gemeente, amper 10 dae na sy hemelvaart,
laat die Here Jesus van Hom hoor, met Pinkster. Hy bring
Jerusalem in opskudding. Sy hemelse troon blyk juis op die aarde
gerig te wees. Hy blyk alle aandag vir die aarde te hê. Hy stort
sy Gees uit op alle vlees. Dit is, broeders en susters, die
sentrale boodskap van Pinkster. Petrus het dit in sy
Pinksterpreek saamgevat met die woorde: "Nadat Hy dan deur
die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte
van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dit uitgestort, wat
julle nou sien en hoor." (vers 33). Pinksterfees is in die
eerste plek die fees van die verhoogde Christus. Hy doop sy kerk
met die Heilige Gees.

Die Here kondig sy koms in die Gees op ’n
besondere manier aan: uit die hemel kom skielik ’n geluid
soos van ’n geweldige rukwind. Tonge soos van vuur gaan op
elkeen van die volgelinge van Christus sit. Hulle word almal
vervul met die Heilige Gees en begin in ander tale te spreek.
Elkeen van die toehoorders hoor hoe hulle in sy eie taal spreek.
So word op ’n indrukwekkende manier ’n nuwe tydperk
ingelui. Die bedeling van die Pinkstergees, oftewel die laaste
dae.

Wat mag ’n mens van die laaste fase van
die wêreld geskiedenis verwag? Wat gaan gebeur nou die Gees
uitgestort is? Hoe raak dit my lewe en die geskiedenis van die wêreld?
Kom die Pinkstergees slegs rus en vrede bring? Sal dit nou rustig
toegaan onder die volke van die wêreld? Laat ons daarby
stilstaan wanneer ek vir u verkondig:

Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal
gered word

  1. Waarom die redding nodig is
  2. Waar die redding te vinde is.

Daar is dus redding vir elkeen wat die naam van
die Here aanroep. Blykbaar het elkeen van ons redding nodig.
Redding van ’n bepaalde nood. Is dit hoe julle dit ervaar?
Is dit wel reëel? Is daar nie baie mense in hierdie land en wêreld
wat gesond en welvarend is? Dit lyk asof hulle alles het wat
hulle nodig het. Moet hulle, ja, moet elkeen van ons gered word?
Hulle kan hulleself tog goed red?

Tog spreek die Here in ons teks van redding wat
vir elkeen nodig is. Elkeen wat die Naam van die Here aanroep,
sal gered word. Redding waarvan?

Die voorgaande verse verduidelik dit. Uit Joël
se profesie haal Petrus die woorde aan: "En Ek sal wonders
gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur
en rookdamp. Die son sal verander in duisternis en die maan in
bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom."
God gaan dus groot dinge doen (wonders). En die magtige dade sal
’n sekere boodskap hê. Hulle word tekens genoem. Hulle sal
êrens op wys. Die wonders is dus tekens met ’n duidelike
boodskap.

Wat is dan die tekens? Die profeet noem: bloed
en vuur en rookdamp. U sien daar bloedvergieting, oorloë,
brandende stede en velde. En as gevolg daarvan rookwolke wat
vanuit die aarde omhoog styg. Waardeur die hemelliggame
verduister word of in vuurgloed kom te staan. Na die oorlog
tussen Kuwait en Iraq tien jare gelede en na die oorlog in Bosnia
’n paar jare gelede is dit nie moeilike om dit in beeld te
kry nie: bloed en vuur en rookdamp. Die son verander in
duisternis en die maan in bloed.

Wat wil God deur hierdie tekens vir ons sê? Om
dit te verstaan moet ons teruggaan na die profesie van Joël. Joël
moet God se woord spreek in ’n tyd vol verskrikkinge vir
Juda. Juda word verwoes deur ’n allesverslindende
sprinkaanplaag. Van die oes bly daar niks oor nie. Selfs die bome
word almal kaal gevreet. Hierdie plaag val saam met ’n
ernstige droogte. Dis daarom ’n dubbele plaag vir ’n
agrariese samelewing: sprinkane en droogte. Die boer sien sy hele
bestaan in puin val. En die hele volk treur vanweë die verlies
van hul inkomste en voedsel.

Gemeente, in hierdie konkrete nood sien die
profeet die oordeel van die Here. Daarom begin hy ook te praat
oor die dag van die Here. Van die sprinkane plaag en die droogte
trek die profeet ’n lyn deur na die rampe wat nog baie erger
sal wees en verband hou met die dag van die Here: bloed en vuur
en rookdamp, ’n son wat verduister word en ’n maan wat
’n bloedrooi glans kry. Hoe kom Joel daartoe om die
verbinding te lê? Omdat Joel die hand van die Here in die
sprinkaanplaag sien. Omdat hy daarin die Here na sy volk sien kom
met sy oordele en gerigte. En hy weet dat al God se oordele een
is. Vandag kom die Here met sprinkane en droogte, more sal Hy die
aarde met oorlog en honger tref. Dan weer sal Hy die pes stuur
wat baie lewens verwoes. Steeds weer wys God sy toorn oor die
sonde van mense. So is daar ’n regte lyn van die sprinkane
plaag in Joël se dae na die dag van die laaste gerig.

Op die Pinksterfees neem Petrus die woorde van
Joël oor. Deur die Gees gelei sê Petrus: dit is wat deur die
profeet Joël gespreek is. Die oomblik van die vervulling van sy
profesie het nou aangebreek. Die Gees waarvan Joël geprofeteer
het, het nou gekom. Maar ook die gerig wat Joel reeds in sy dae
het sien aankom.

Maar, gemeente, pas dit wel by mekaar: die
vreugde oor die uitstorting van die Gees en die ellende van God
se oordeel? Kon Petrus hierdie woorde liewers nie uitgelos het
nie?

Nee, die twee, die uitstorting van die Gees en
die gerig van God het alles met mekaar te make. Hulle behoort by
mekaar. Met die uitstorting van die Gees het die laaste fase van
die wêreldgeskiedenis aangebreek, die laaste dae. Dit beteken:
daar het ’n periode aangebreek waarin die beslissings sal
val. Dit is ’n periode van uiterste erns. Dit is die tydperk
wat eindig met die laaste dag, die laaste oordeel.

Die uitstorting van die Gees veroorsaak ’n
groot wêreldkrisis. Deur sy Gees gaan God self met geïntensiveerde
krag aan die werk. Hy gaan alles tot sy bestemming bring. Dit
gaan nou vol vaart na die voltooiing van sy ryk, na die laaste
dag toe. Dit beteken: genade sal meer oorvloedig wees, maar ook:
sonde en teenstand sal toeneem. Daardeur word die stryd hewiger.
En die oordele van God. Waar die genade oorvloediger is, daar is
die skuld vir die afwysing van die genade ook des te ernstiger.
Daar sal die oordele van God met groter krag sigbaar word.

God se offensief in die wêreld gaan gepaard
met wêreldrampe. Die oorloë sal nie ophou nie. Daar sal geweld
en bloedvergieting wees. ’n See van vuur sal die dinge, wat
mense met moeite opgebou het, verwoes. Rookwolke sal die uitsig
belemmer. Profeties sien Petrus hoe die rookwolke die lig van die
son belemmer, haar glans verduister. Hoe die rooie vlamme van
brandende stede en landerye die nag verlig en die maan ’n
bloedrooi glans gee. Dis een groot uitstorting van God se toorn
wat in die laaste oordeelsdag sy volle uitwerking sal ontvang.
Die dag waarop die son nie meer sal skyn nie en die maan sy glans
nie meer sal gee nie en die sterre van die hemel sal val (Mt 24:29).

Hierdie kragte sal nou, na die uitstorting van
die Gees, in verhoogde mate werksaam wees. Pinkster beteken
immers dat die laaste bedeling aangebreek het. Alles gaan nou met
groot spoed na die laaste dag van die voltooiing. Want Christus
die verhoogde Here het in sy Gees teruggekom. Niks kan dit stop
nie. Die Gees werk met volle krag en sal alles tot voltooiing
bring. So ervaar die wêreld sedert Pinkster talryke rampe,
verskrikkinge. Alles vanweë en deur Christus wat sy Gees
uitgestort het.

Broeders en susters, waarvan moet dan elkeen
gered word? Die antwoord sal nou duidelik wees. Ons moet almal
gered word van die toorn van God. Dink u dat die toorn van God
iets is waaroor u u nie hoef te bekommer nie, iets wat geen
aandag verdien nie? Kyk maar na die nuus, lees maar die koerante:
wat ’n rampe in die wêreld: bloed, vuur en rookdamp.

Maar is dit nie mense wat oorloë begin, mense
wat bloed vergiet, mense wat die stede en geboue in die brand
steek nie? Inderdaad het ons daarin met mense te make. Maar
vergeet nooit agter die mense te kyk en God te sien nie. God is
besig om sy toorn te wys. Daar gebeur niks op aarde sonder God se
beskikking nie. Selfs nie die mees afskuwelike moorde nie. Nie
dat God die skuldige is nie. Die mense is en bly die skuldige.
Vanweë hul sondes. Maar God gee hulle wel die ruimte om hul
afskuwelike dade te verrig. Hy gee hulle lewe en kragte.

En waarom doen die Here dit? Hy kan dit tog ook
voorkom? Hy doen dit om ons mense te bepaal by die erns van die
sonde. Om ons te bepaal by die werklikheid van sy toorn. Die dag
van die laaste oordeel werp sy skaduwees vooruit. God is dus in
die rampe besig. Hy is besig om u te herinner aan sy oordeel waar
niemand onderuit kan nie. Hy sê mos: "Ek sal wonders gee bo
in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed, vuur en
rookdamp." Ek sal dit doen. God self steek as t ware die
brande aan. Dit is voortekens van die groot en deurlugtige dag,
waarop alles aan die lig sal kom en God elkeen sal oordeel na sy
werke. Daarom, broeders en susters, negeer nooit wat u op die
nuus sien en hoor nie, die rampe naby en ver weg. Onthou, God is
ernstig in sy toorn teen die sonde. Veral nou in hierdie laaste
bedeling. Hy sal kom om die wêreld te oordeel. Elkeen sal voor
sy troon verskyn.

Maar, geliefdes, wat wil die Here met hierdie
tekens bereik? Wil Hy ons almal bang maak? Nee, Hy wil elkeen van
julle tot die juiste keuse roep. Hy wil julle almal tot geloof en
bekering roep, tot geloof in Jesus Christus. Die oordele van God
is evangelies gerig. Hulle wil God se genade benadruk. Hulle wil
ons almal op ons knieë bring en ons dryf na God se oorvloedige
genade. So kom ons by die tweede gedagte van die preek: wat die
redding beteken.

In die kritieke situasie van bloedvergieting,
skroeiende vuur en verstikkende rook hoor ons die bevrydende roep
van die evangelie: En elkeen wat die Naam van die Here aanroep,
sal gered word. Die oordele funksioneer as waarskuwinge om ons
mense wakker te skud voordat dit te laat is. Dis vandag nog die
tyd van genade. As julle vandag na sy stem luister, verhard julle
hart nie. Keer jou tot die Here. Stel die beslissing nie uit nie.
Want dit is die laaste bedeling, voor die wederkoms van Christus.
Die beslissings moet nou geneem word.

In ’n wêreld vol van vuur en rook wys God
die reddingsboei aan waardeur jy gered kan word. Elkeen wat die
Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Om die Naam van die Here aan te roep is
tiperend vir die volk van God. In Hand 9:21 word die gelowiges
aangedui as mense wat die naam van die Here aanroep. So is
gelowiges: hulle roep die Naam van die Here aan.

Maar wat beteken dit om die naam van die Here
aan te roep? Dis nie slegs dat jy die Naam van die Here noem nie.
’n Mens kan die Naam noem, homself as christen voorstel,
sonder om werklik by die Here Christus te behoort. Om die Naam
van die Here aan te roep sien ook nie enkel op die gebed nie.
Gelowiges roep inderdaad die Here aan in gebed. Tog beteken die
uitdrukking veel meer. Dit wys op ’n publiek aanroeping van
die Naam, dat jy die Naam bely, aanbid, dat jy jou in die Naam
beroem. Teenoor die pretensies van die ongelowiges. Daarom het
die uitdrukking "die Naam van die Here aanroep" ’n
vaste uitdrukking geword vir die publieke erediens.

Midde in ’n wêreld wat homself probeer
red, vlug die gelowiges na die Here. Ek erken my eie nietigheid
en afhanklikheid. Ek soek God se beskerming. Ek weet dat ek van
God se genade afhanklik is. Ek weet dat ek myself nie kan red nie,
dat redding van bo moet kom. Daarom soek ek my sekerhede nie hier
op aarde nie, maar bo in die hemel, by die Here. Ek verwag alles
van Hom. Daarom roep ek sy Naam uit, nie slegs by die huis nie,
maar ook publiek in die samelewing. Ek getuig van die een naam bo
alle name.

Die naam van die Here. In die Ou Testament
verwys dit na die verbondsgod Jahwe. Die God wat Homself bekend
gemaak het as die getroue, wat altyd aktief aanwesig is, tot
verlossing van sy volk. In die Nuwe Testament het die naam ’n
veel ryker inhoud gekry. Jesus Christus het die naam in sy volle
glorie bekendgemaak. En die Gees van Pinkster het die naam vir
ons op die hart gedruk soos nooit tevore nie.

Toe Joël van die naam van die Here gespreek
het, het hy nog nie die Here Jesus geken nie. Die naam van die
Here was toe verbind aan die uittog uit Egipte, die intog in Kanaän,
die verlossing van die mag van vyande. Maar nou skitter die naam
veel ryker en voller in Jesus Christus. Die naam is nou verbind
aan God se magtige verlossingsdade in Jesus Christus: Kersfees,
Goeie Vrydag, Pase, Hemelvaart en Pinkster. Elkeen wat na
Pinkster die Naam van die Here aanroep, ken die verlossing uit
die mag van satan en sonde, deur Jesus Christus. Wat ’n
geweldige evangelie in ’n gebroke en geskonde wêreld. In
’n wêreld vol bloedvergieting, vuur en rookdamp. In ’n
wêreld vol lyding, verdriet en pyn.

Daar is redding. God reik die reddingsboei aan.
Jesus Christus. Elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal
gered word. Dit geld vir elkeen sonder onderskeid van kleur of
ras, elkeen wat tot die Here gaan en op Hom vertrou. Wie ookal
hierdie reddingsmiddel aangryp, sal gered word.

Gered waarvan? Van die toorn van God. Dink maar
aan wat Paulus skryf in Rom 5:8,9: "maar God bewys sy liefde
tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog
sondaars was. Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is
in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn." Gered van
die toorn van God.

Wie waarborg dat die vuur van God se oordeel
ook nie my sal bereik en verteer nie? Wie waarborg dat ek daar
deurheen sal kom? Wil u weet wie? Wel, die Here God self: Dis Hy
wat dit vir u sê, die Here wat in beheer van al die brande is.
So seker as Hy sê: Ek sal tekens onder op die aarde gee, so
seker sê Hy ook: roep my Naam aan en jy sal gered word.

Dit wil nie sê dat die wêreldrampe my nie sal
tref nie. Dit kan gebeur dat ek ’n slagoffer van geweld word,
dat my aardse lewe daardeur verwoes word. Ek leef as christen in
die wêreld en ek moet dikwels ook saam met die wêreld ly. Maar
die vuur van God se toorn sal my nie verteer nie. Want Jesus
Christus het vir my deur die vuur gegaan, deur die helse vuur van
God se gerig. In Hom het ek dit reeds deurstaan. Daarom is daar
nou behoud vir elkeen wat sy naam aanroep.

Brs en srs, seuns en meisies, laat die ellende
in die wêreld julle nie verwar nie of julle laat twyfel nie. Dit
behoort by hierdie laaste fase van die geskiedenis van kerk en wêreld.
Skrik nie wanneer jy steeds weer te make kry met bloedvergieting,
vuur en rookdamp, lewens, stede en landerye wat verwoes word nie.
Let op Hom wat daaragter staan, God wat die tekens op die aarde
gee. Hy is besig met sy geweldige genade offensief. Hy is besig
om alles tot sy bestemming te bring, om alles te lei na die
laaste dag, die voltooiing van sy koninkryk. Hy is besig om jou
daaraan te herinner dat die groot en deurlugtige dag van die Here
kom.

Daarom, verloor nie moed nie, maar vat moed
wanneer julle die voetstappe van jul Heiland hoor en sien. Lewe
in gespanne verwagting. Roep sy naam aan. Nie slegs hier en nou
in die kerk nie. Maar voortdurend. Maak nie saak hoe verskriklik
die wêreld in brand staan nie. Vertrou jouself toe aan Hom, jou
redder in die hemel. Hy kom gou. Vir sy finale reddingsaksie.
Sedert Pinkster kan niks of niemand dit stop nie.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)