Die noodsaak van die 6e bede: "en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose."

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-05-27
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 52
Preek Inhoud: 

Sondag 52a

Ds C Kleyn - Sondag 27 Mei 2001

Lees: 2 Timótheüs 3:1-9; 2 Thessalonicense
2; Sondag 52a.
Sing: Ps 99:1,2; Ps 72:10,11; Ps 140:1-4; Ps 140:5,6,10,11;
Ps 125:1-3,7.

Tema: Die noodsaak van die 6e bede: "en lei ons nie in
versoeking nie, maar verlos ons van die bose."

Die bede is dringend noodsaaklik

  1. vanweë die massiewe aanval; en
  2. vanweë ons kwesbaarheid.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Nadat Christus die skuld vir ons sondes betaal het, het Hy sy
hemelse troon bestyg. Daar regeer Hy nou oor alle dinge. Die
triomfantlike hemelvaart van Christus beteken egter nie dat die
stryd op aarde nou verby is nie. Die teendeel is waar. Satan word
uit die hemel gewerp. Na die soenoffer van Jesus Christus het hy
geen reg om God se kinders voor God se troon aan te kla nie. Op
die aarde word die stryd geïntensifeer. So word in Openb 12 die
hemel gelukgewens met die oorwinning op satan, maar word ’n
wee oor die aarde uitgeroep: "Daarom, wees verheug, o hemele
en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see,
want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy
weet dat hy min tyd het."

In sy gebedsonderrig het die Here Jesus hiermee gereken.
Christus leer ons bid vir die heiliging van Vader se naam, die
koms van sy koninkryk, die onderwerping aan sy wil, ons daaglikse
brood, die vergewing van ons skulde. Na die vergewing van ons
skulde is ons nog nie klaar nie. Ons leef nog in ’n
strydtoneel. Satan gaan nog rond as ’n brullende leeu op
soek na prooi. Daarom die laaste bede: Lei ons nie in versoeking
nie, maar verlos ons van die bose.

Vanaand wil ek vir u verkondig die noodsaak van die 6e bede:
en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose.

Die bede is dringend noodsaaklik

  1. vanweë die massiewe aanval
  2. vanweë ons kwesbaarheid

Die aanval is hewig, massief. Is dit hoe u dit ervaar? Op
watter manier word ons dan aangeval? Waar vind dan die aanval
plaas? In die gelese skrifgedeeltes help Paulus ons om die aanval
raak te sien. In 2 Thess 2 skryf Paulus van die afval wat moet
kom en van die mens van sonde wat geopenbaar word. Die afval is
die algemene afval van die evangelie. Daarby kom daar die mens
van sonde.

In die geskiedenis is die mens van sonde dikwels geïdentifiseer
met die antichris en met ’n bepaalde persoon. So het die
Westminster konfessie die Pous die antichris genoem. En so is
daar nog mense wat ’n bepaalde persoon verwag wat as mens
van sonde sal optree. Ons hoef egter nie aan ’n bepaalde
figuur te dink nie. Die mens van sonde kan ook verstaan word as
’n tipe mens, die tipe mens wat deur die sonde getipeer word.
Die humanistiese mens wat sonder God en gebod wil lewe.

In 2 Tim 3 beskryf Paulus sulke mense. Paulus sê daar dat
daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Waarom? Vanweë die
ongeregtigheid, vanweë die sondige houding en gedrag van mense.
Ons lees: "Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees,
geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam
aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde,
onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir
die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van
genot as liefhebbers van God." 2 Tim 3:1-4. Uit die woorde
blyk duidelik dat in die laatste dae die sonde algemeen sal wees.
Die mense sal selfsugtig wees. Dis nie slegs ’n kategorie
mense wat hom aan die sonde oorgee nie, maar die sedelike verderf
infekteer prakties die hele samelewing, alle mense. Daarom sal
dit swaar tye wees, vol gevaar vir die kerk.

Let op die eerste en laaste tipering van die mens van sonde
soos ons daarvan lees in 2 Tim 3. Die mense sal liefhebbers van
hulleself wees, pleks van liefhebbers van God. Ja, vier van die
uitdrukkings word verbind met die woord liefde. Dit suggereer dat
die fundamentele probleem met hierdie mense is dat hul liefde
verkeerd gerig is. Pleks van liefhebbers van God te wees is hulle
liefhebbers van hulleself, liefhebbers van geld en liefhebbers
van genot. Is dit nie wat ons steeds meer en meer in ons
samelewing sien nie? Liefhebbers van hulleself. Ons leef in
’n ek tydperk. Mense is volop besig vir hulleself, hul
verlangens, die bevrediging van hul begeertes. Die reklame speel
daarop in en voed die selfsug. Liefhebbers van geld. Mense leef
vir hul geld, hul aardse welvaart. Dit word amper ’n
obsessie. Geld, besit, weelde. Daar leef en werk ’n mens vir.
Materialisme. Korrupsie. Lotery waaraan die mense van ons land
miljoene bestee, let wel miljoene per week. Die dien van die
Mammon. Liefhebbers van genot. Alles moet ’n plesier wees.
Onmiddellike bevrediging van jou begeertes. Koop vandag, betaal
later. Verafgoding van sport en vermaak. Alkohol, dwelms, ens.

En waar mense liefhebbers van hulleself is daar sien ons ook
die ander eienskappe wat Paulus in 2 Tim 3 noem kop opsteek.
Grootpraters, trotsaards, lasteraars. Wanneer ek myself as die
belangrikste in die wêreld beskou, dan moet ander vir my wyk:
hulle word neergehaal en gelaster. Die volgende vyf tiperings van
Paulus kan saamgevoeg word. Hulle kan wys op die gesinslewe. Die
eerste is: ongehoorsaam aan hul ouers. Geen onderwerping aan die
gesag van mense wat God oor jou aangestel het nie. Jy wil jou eie
baas wees. Ondankbaar. Daar is geen waardering vir wat die ander
vir jou doen nie, ook nie vir wat pa en ma of seun of dogter vir
jou doen nie. Hulle is daar mos vir jou? Onheilig. Geen respek
vir die ander nie.

Sonder natuurlike liefde. Indien ek die belangrikste is, dan
is daar min ruimte vir ander. Ouers het geen liefde vir hul
kinders nie. Kinders word as ’n las ervaar. Dink ook maar
aan die verskynsel van vrywillige kinderloosheid. Of die
verskynsel van die uitstel van kinders totdat ons daar lus vir is
of totdat dit ons pas. Wanneer ek, my genot en welvaart, die
belangrikste is, dan moet die kinders daarvoor wyk. Ek verstaan
dan nie wat selfverloënde liefde is nie. My geluk, my huis, my
vermaak, my vakansie, my oorsese reis, my luukse is vir my dan
belangriker. Daarom wanneer dit ons pas dan sal ons aan kinders
dink. So kom ook die huweliksverhoudings in gevaar.. Eggenotes
weet nie meer wat dit is om hulleself belangeloos vir die ander
in te set nie. As ek nie die bevrediging kry wat ek soek nie, dan
stap ek uit die verhouding. So sien ons dat tweederde van die
huwelike in Suid Afrika in ’n egskeiding eindig. Paulus noem
ook: onversoenlik. Mense weier om met mekaar te versoen. Wat kan
jy verwag as mense liefhebbers van hulleself is.

Paulus vervolg: selfsugtige mense word kwaadsprekers,
bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers,
roekeloos, verwaand. Hierdie asosiale gedrag, hierdie
ongehoorsame, ondankbare, minagtende, liefdelose houding, saam
met die gebrek aan selfbeheersing, trou, wysheid en ootmoed is
die onvermydelike gevolg van ’n godlose self gerigtheid. As
’n mens baie van homself dink dan sal hy homself moeilik kan
verloën om ander te dien. God se norm is dat ons eers Hom moet
liefhê, dan ons naaste en as laaste onsself. As ons die volgorde
van die eerste en die derde omkeer en ons onsself die eerste plek
en God die laaste plek gee, dan sal ons naaste ook daaraan ly.
Daarom is die basiese probleem in die swaar tye dat die mense op
hulleself gefokus is en nie op God nie, liefhebbers van hulleself,
van geld en van genot, pleks van liefhebbers van God.

Die ergste is dat hierdie mens van sonde vaste voet in die
kerk van God kry. In 2 Thess 2 vers 4 lees ons dat die mens van
sonde, die seun van verderf hom verhef bo al wat God genoem word
en voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as
God sal sit en voorgee dat hy God is. Dit is die ergste dat die
mens van sonde hom godsdienstig voordoen en binne die kerk
indring. Die outonome mens, wat homself tot god verklaar, kom die
kerk binne. Die mens wat homself tot ’n wet is gaan die
lakens uitdeel in die kerk.

Om dit in ons eie tyd en land raak te sien moet ons daarop let
dat 2 Thess 2 teen die agtergrond van Dan 11 geskrywe is. In die
tyd waaroor Daniël skryf, was daar ook die stryd van satan teen
Christus. Die stryd het sy toppunt bereik in die persoon van
Antiochus Epifanes. Waar het dit toe oor gegaan? Antiochus
Epifanes het geprobeer om aan die Joodse kerk die griekse kultuur
en godsdiens op te dring. Dws, die kerkvolk moes met die ander
volke gelykgestel word. Allerlei godsdienste moes in die een wêreldgodsdiens
saamgesmelt word. Hierdie godsdiens van die Grieke was ’n
groot gevaar vir die kerk van die dae. Pleks van die verlossing
van bo deur Jesus Christus die Seun van God, het hulle die
opklimming van die mens van benede uit na die godheid toe gestel.
Pleks van die verering van die lewende God was daar die
aanbidding van afgodsbeelde.

Vandag sien amper dieselfde gebeur. Daarby hoef ons nie aan
’n bepaalde persoon te dink nie. Die mens van sonde kan
’n afvallige mag wees wat van buite kom en wat hom in die
kerk nestel. Dit kan sien op die moderne humanistiese tydgees.
Nie God se woord nie, maar die tydgees gee in die moderne
teologie die toon aan. Die gees van die wêreld bepaal wat die
kerk nog sal glo en bely. Die norme van die tydgees en die
moderne lewensvisie neem oor in die kerk. Die moderne mens deel
in die kerk die lakens uit.

Ons herken dit in ons tyd. Ek noem enkele voorbeelde. ’n
Bekende Ou Testamentiese teoloog van UNISA leer dat die mens die
Bybel nie meer as God se Woord kan lees nie. Dit sou slegs
mensewoorde oor God wees. Daarom word ook die menslike
wetenskappe bo die Bybel verhef. Die mens moet in vryheid die
Bybel kan kritiseer. ’n Ander teoloog skryf: "Die
evangelie is nie ’n boodskap wat van bo af na die mense kom
nie, maar van onder af. Dit beveel mense nie om te glo nie, maar
lok hulle eerder. Dieselfde teoloog sê vir ons dat Allah nie
’n ander God as die ware God is nie, maar as ‘t ware
’n swak foto van Hom. Daarom kan Moslems ook sonder geloof
in Jesus Christus gered word.

’n Derde teoloog beweer dat daar geen objektiewe waarheid
is nie, en dat ons slegs werk met die mens se ervarings. God en
mens sou gelyke vennote vir mekaar wees. Goeie prediking sou wees
om die teologie wat uit mense se harte en monde kom, aan die
woord te stel. ’n Vierde teoloog voer aan dat Suid Afrika
’n dringende behoefte het om die Bybel op ’n nuwe
manier uit te lê. Die tradisionele, behoudende beginsels vir
skrifuitleg sou tot die regverdiging van apartheid gelei het.
Daarom sou ons so gou as moontlik van die ortodokse beginsels
ontslae moet raak en die Bybel anders moet gaan lees nie as die
onfeilbare Woord van God nie, maar as ’n feilbare menslike
geskrif. So sou ons kan aangaan.

Wat is nou opvallend by al die uitsprake? Dit, dat hulle nie
van buite die kerk kom nie, maar dat hulle almal van bekende,
vooraanstaande teoloë kom. Dit maak dit so erg en so gevaarlik.
Die mens van sonde het hom in Suid Afrikaanse kerke genestel.
Geen wonder dat die menslike wetenskappe dikwels ook in kerke die
lakens uitdeel nie. Die mens het homself tot god verhef. Hy
aanvaar nie langer ’n God wat van buite af Homself aan hulle
openbaar nie en wat oor hom gesag het nie. Hy aanvaar geen
objektiewe waarheid wat van God kom nie. Die moderne mens en in
navolging daarvan die moderne teologie het God onttroon en die
mens op die troon gesit. Daarom verander dinge so drasties in
verskillende kerke.

In hierdie postmoderne tyd mag ’n mens nie meer praat van
waar of vals nie. Die sleutelwoorde is wedersydse respek en
aanvaarding ook van die ander godsdienste, mensliewendheid. Ons
leef in die tyd van die groot vermenging van die godsdienste.
Niks is verkeerd nie, alles is reg as die mense hulle daarby
gelukkig voel. Wie durf vandag dan nog bepaalde leringe of gedrag
van mense te toets aan die waarheid van die Skrifte? Dis taboe in
ons postmoderne tyd. As jy dit wel durf dan is die moderne teoloë
daar vinnig by om jou in naam van die mensdom tereg te wys. Geen
wonder dat die norme van die Skrifte moet wyk vir die norme van
die moderne mens. Daar is geen plek meer vir die heiligmaking van
die mens ooreenkomstig die Skrifte nie. Maak nie saak dat God gesê
het dat niemand sonder die heiligmaking die Here sal sien nie (Hebr
12:14). Daarom moet ons homoseksuele gedrag, seksuele
verbintenisse voor of buite die huwelik, egskeidings, aborsie,
eutanasie ens ens vandag ook goedkeur. Alles in naam van
menslikheid. In naam van die mens wat hom as god verhef het en
wat in die kerk ’n vaste plek gekry het.

Sien u, broeders en susters, waar die aanval van satan vandag
vandaan kom? Die moderne kommunikasie tussen die volke en lande
van die wêreld plaas ons nog meer onder druk. ’n Mens wil
mos nie graag uit die toon val nie. Jy wil dink en handel soos
van ’n wêreldburger verwag word. Jy wil nie gesien word as
ouderwets, bekrompe, agterlik nie. Jy wil meetel in die steeds
kleiner wordende wêreld, in ons global village.

Die aanval op hulle wat aan God en sy woord trou wil bly is
dus massief en hewig. Daarby sien ons ook dat daar profete is wat
groot tekens en wonders doen, soos die profeet Joshua van Nigeria.
Wat moet ’n mens daarvan dink? In ons kerke is ons nie in
staat om sulke wonders en tekens te verrig nie. Is dit nie ’n
teken van swakheid, van gebrek van geloof en geestelike krag nie?
Gelowiges en ongelowiges is geïmponeer deur die wonderwerke van
die profeet Joshua. Massas stroom na Lagos toe in die hoop dat hy
vir hulle sal bid en dat hulle genees sal word. Georganiseerde
toere na Nigeria word selfs deur dominees gereël. Voorlopers in
die kerklike wêreld, oor die breë spektrum van bykans al die
kerke, word dissipels en verdedigers van die wonderwerker Joshua.

Wie durf dan nog kritiek te hê? Wie durf die gebeure in Lagos
nog op die proef te stel om te sien of dit uit God is? In 2 Thess
2:9-12 word gewaarsku dat Satan as engel van die lig "met
allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en
met allerhande verleiding" ’n aanslag sal maak. Tog
word ons verbied om die gebeure in Lagos in die lig van die Skrif
te toets. Die feit dat Joshua die wonderwerke in die naam van
Jesus verrig en dat hy sukses het word voldoende geag. Dit sou op
homself reeds voldoende bewys wees dat ons met ’n profeet
van God te make het.

Maar wat sê God daarvan? Die Here Jesus het ons reeds in Mt 7:
21-23 gewaarsku dat nie elkeen wat in sy naam profeteer en in sy
naam duiwels uitdrywe en in sy naam baie kragte doen, werklik by
Hom behoort nie. Die indrukwekkende dade in naam van Jesus sê op
sigself nog niks nie. Die skrif waarsku juis dat vals wonderwerke
die manier sal wees waardeur mense mislei word. Wanneer ons die
toets van die Skrif toepas, dan moet ’n mens ongelukkig
konkludeer dat wat daar in Lagos gebeur ’n gruwelike
misleiding is. Daar is heelwat dinge wat daar gebeur wat getuig
van ’n ander gees as die Heilige Gees. Wat daar gebeur pas
goed by hierdie postmoderne tyd, met sy vermenging van gelowe en
bygelowe, ookal word dit verpak in die naam van Jesus.

Hoekom is die massa deur die gebeure in Lagos geïmponeer? Die
Here verklaar dit vir ons in 2 Thess 2:10-12. "Omdat hulle
die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word
nie." Waar vind u in ons land nog die liefde van die
waarheid? Is dit nie juis wat besig is om in ons land vinnig te
verdwyn nie? As ons met die waarheid van die Skrifte aankom, dan
word ons verwys na die verlede wat verby is. Ons is nou mos veel
wyser. Mense is lief vir hulleself, lief vir genot, lief vir hul
gevoelens en wense, lief vir hul ervaring. Daarom lees ons verder
in 2 Thess 2, "sal God hulle die krag van die dwaling stuur,
om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die
waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die
ongeregtigheid." So verkondig Paulus ook in 2 Tim 4:3,4:
"daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer
nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil
wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens
hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid
en hulle sal wend tot fabels." Is dit nie wat u vandag sien
gebeur nie?

Gemeente, die aanval is dus massief en hewig. En ons is
kwetsbaar. Laat ons eerlik wees, dis nie maklik om die verleiding
wat van alle kante en langs allerlei kanale na ons toekom te
onderken en af te wys nie. Dit kom omdat ons nog steeds te lief
vir onsself is. Die duiwel, die wêreld, die kerk wat aan die wêreld
gelyk geword het, vind in ons hart dikwels ’n gewillige
bondgenoot. Dink maar aan die drie hooftrekke van die moderne
mens wat ons vanuit 2 Tim 3 genoem het. Liefhebbers van hulleself,
liefhebbers van geld, liefhebbers van genot. Pleks van
liefhebbers van God.

Hierdie drie dinge laat ons nie koud nie. Dit lok ons wel. Dis
tog belangrik dat ek gelukkig is, dat ek ’n goeie gevoel oor
myself het, dat my persoonlike behoeftes en verlangens bevredig
word, dat ek goed voorsien is van geld en goed, dat ek kan doen
waar ek lus vir is, dat ek gesond en sterk is ens ens? U herken
dit tog in uself? Daarom is die moderne gees so aanloklik vir ons.
Ook die wonderwerke van ’n profeet soos Joshua. Ek wil mos
tog ook kragtige werkinge sien, hoë ervarings hê? As ek siek is,
wil ek tog ook genesing ontvang? Satan weet wel op watter manier
en waar hy ons mense kan lok.

Is my gevoel en my ervaring ook nie dikwels belangriker as die
waarheid van God nie. Dan wil ons bepaalde dinge liewer nie toets
aan die waarheid van God nie, solank as ons ons maar gelukkig
voel. Ons wil bepaalde vermaak liewer nie prysgee nie. Dit gee
ons ’n sekere bevrediging. En die kerk moet hom maar aanpas
aan ons verlangens. Ek wil wel by die kerk betrokke wees, solank
as dit maar op my voorwaardes gebeur en ek myself daarin kan
uitleef. Nie die verheerliking van God nie, maar my persoonlike
geluk is die belangrikste. Selfsug, die kernsonde is nie ver van
ons weg nie. Om as god te wees. Die sonde van die paradys. En die
boodskap word op allerlei maniere aan ons voorgehou, oor ons
uitgegiet in ons steeds kleiner wordende wêreld met sy moderne
kommunikasie middele. Sorg vir jouself as nommer 1. Geniet van
die lewe. Eet, drink en wees vrolik want more kan dit afgelope
wees. Sorg dat jou behoeftes bevredig word.

Daarom bly die 6e bede dringend noodsaaklik: Lei ons nie in
versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Dit is: ons is in
onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie.
Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons eie
sondige natuur nie op om ons aan te val nie. Wil U ons tog deur
die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk sodat ons
teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelike
stryd nie beswyk nie totdat ons eindelik die oorwinning ten volle
behaal.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)