In ons omgang met mekaar moet heiligheid en liefde saamgaan.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-05-20
Teks: 
Lukas 17
Preek Inhoud: 

Lukas 17:3,4

Ds C Kleyn - Sondag 20 Mei 2001

Lees: Efésiërs 4:17-32; Lukas 17:1-10..
Sing: Ps 96:1,5; Ps 51:1,3; Ps 105:5; Ps 15; 1-3;
Ps 139:1,2,12; Ps 147:1,2.

Tema: In ons omgang met mekaar moet heiligheid en liefde
saamgaan.

  1. Bestraf die sondaar; en
  2. Vergewe die boetvaardige sondaar.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Moet ons altyd iemand wat teen ons gesondig het vergewe? Ook
as die persoon geen berou het nie? Na die preke van afgelope
sondag sou ’n mens miskien kan dink dat dit inderdaad die
geval is. Na aanleiding van die 5e bede is sterk beklemtoon dat
ons altyd bereid moet wees om te vergewe. Petrus vra vir die Here
Jesus: Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom
vergewe? Tot sewe maal toe? Jesus antwoord daarop: nie tot sewe
maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe. Dws die vergewing
moet grensloos wees. Hier word egter nie gepraat van berou nie.

Moet ons grensloos vergewe ookal is daar geen berou nie? Dis
vrae wat ’n mens kan pla. Veral as daar ernstige sondes teen
jou gedoen is, soos molestering of verkragting. Moet ’n mens
sulke dinge vergewe ookal is daar geen berou nie? Dis moeilik
genoeg om sulke dinge te vergewe ookal is daar berou. Vergewing
bly ’n moeilike saak, ’n gevoelige saak. Dis ’n
saak van die grootste belang in die gemeenskap van die kerk.
Sonder dit kan die gemeenskap van die heiliges nie funksioneer
nie. Daarom wil ons vanoggend fokus op die vergewing van mekaar.
Dit na aanlyding van opmerkings vanuit die gemeente en as
aanvulling en vervolg op die preke van afgelope sondag oor die 5e
bede.

Ek verkondig vir u:

In ons omgang met mekaar moet heiligheid en liefde saamgaan.

  1. Bestraf die sondaar; en
  2. Vergewe die boetvaardige sondaar.

Die Here Jesus begin met die woorde: Pas op vir julleself. Let
goed op jouself. Waarom sê die Here dit? In die voorgaande verse
het die Here gewaarsku dat die struikelblokke sou kom. Jou pad na
die hemelryk sal nie sonder hindernisse wees nie. Jy moet daarop
reken dat daar strikke en valkuile sal wees. Daar sal altyd mense
wees wat jou tot sonde wil verlei, jou laat struikel. Die
situasie in onvermydelik in hierdie sondige en gebroke wêreld.

Christus voeg daaraan toe: maar wee hom deur wie die
struikelblokke kom. Dis is beter vir hom as ’n meulsteen aan
sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van
hierdie kleintjies sou laat struikel. Ernstige woorde: dis beter
om morsdood te wees as om skuldig te wees aan die geestelike
ondergang van ’n kind van God. Die geestelik welsyn van die
kinders van God moet vir ons ’n ernstige saak wees. Daarom:
Pas op vir julleself. Pas op dat jy niemand in sonde laat stuikel
nie. Pas op dat jy nie die oorsaak daarvan word dat iemand in die
sonde bly lê nie. Bv deur jou gebrek aan heilige liefde en
vergewensgesindheid.

So vervolg Christus: As jou broeder teen jou sondig, bestraf
hom.

Jesus praat oor iemand wat teen jou sondig. Dit gaan nie oor
iets wat minder aangenaam vir my is nie, woorde wat ek liewer
anders geformuleer sou gesien het, dade wat ek ook liewer anders
sou gesien het. Dit gaan hier oor sonde, iets wat vir God se
aangesig verkeerd is, iets wat teen sy gebooie is. Ons moet dus
goed weet waaroor ons praat. Nie oor insidentele en onbeduidende
irritasies nie. Ons moet nie ’n persoonlik aanstoot maak van
iets wat dit einlik nie is of nie bedoel is nie. bv, miskien dat
iemand my na die diens nie groet nie. Om aanstoot daaraan te neem
beteken dat ek aan die versuim die slegste moontlike verklaring
gee en dienooreenkomstig reageer. So kan ons maklik vanuit ’n
negatiewe oordeel oortredinge kreeer of vergroot in ons eie
verbeelding. In plaas daarvan laat ons ons beywer om die dinge
wat mense doen of versuim om te doen in die beste moontlike lig
te sien. Liefde glo mos alles, hoop alles en verdra alles (1 Kor
13:7).

Jesus praat dus nie oor persoonlike irritasies wat moontlik
veroorsaak is deur my eie sonde en swakheid nie. Hy praat oor
sonde wat teen my gedoen is. ’n Duidelike oortreding van God
se gebod. Laat ons dus eers vaststel of daar werklik van ’n
sonde sprake is. Wat moet ek dan doen? Hom bestraf. Sy daad
afkeur. Hom daaroor berisp. Dis ’n bevel: bestraf hom. Ek
kan my nie daaraan onttrek nie. Ek moet dit doen. Juis omdat ek
God en my naaste liefhet. Hier ontmoet liefde en heiligheid
mekaar.

In liefde soek ek die beste vir hom wat teen my gesondig het.
Daarom probeer ek vir hom sy sonde te wys. Dis baie moeilik. Aan
die een kant wil jy die persoon spaar, aan die ander kant moet jy
hom bestraf. Om die twee te doen blyk so moeilik te wees dat ons
neig om die een of die ander te doen. Dit lyk amper onmoontlik om
die twee te kombineer. Daardeur sien ons dat mense mekaar deur
vleiery mislei, ’n mooi gesig vir mekaar vertoon of dat
hulle sterk en liefdeloos in die aanval gaan. Albei is verkeerd.
Daardeur word aan die sonde van die oortreder ons sonde toegevoeg.

Deur ons vleiery versuim ons om die sonde aan te spreek.
Negeer ons die heiligheid. Deur die vleiery keur ons in feite
goed wat God veroordeel. Ons wys daardeur nie dat ons die sonde
met ’n heilige haat haat nie. In feite ontbreek ook in so
’n situasie die liefde. Die liefde soek immers die beste vir
die sondaar. Dit beteken dat ons hom van die sonde wil probeer
bevry deur te werk aan berou en bekering.

Aan die ander kant as ons ’n liefdelose aanval op die
sondaar doen, dan ontbreek daar ook die heilige liefde. Onthou,
dit gaan tog om die behoud van die sondaar. Wanneer ek hard en
liefdeloos die persoon aanval, red ek dan so ’n persoon? Die
teendeel kan bereik word. Daardeur kan ek die sondaar moedeloos
maak. Hom, wat ek moes red, alle uitsig ontneem. Onder die skyn
van heilige ywer kan ek een van God se kinders laat struikel. Dis
ook iets waarvoor die Here Jesus ons waarsky.

Daarom let dit nou hoe ek die ander bestraf. Ookal het die
persoon my kwaad aangedoen. Dan juis moet die liefde blyk. Dit
motief vir die bestraffing moet nie wees my seerkry nie, maar dat
God daarmee seergemaak is. Ons praat mos oor sondes. Dit gaan nie
oor my eie reg, my gelyk, my eer nie, maar om die eer van my God
en die behoud van my broeder. Dit beskerm my teen liefdeloos
optrede. Optrede wat skade doen en selfs die oorsaak daarvan kan
wees dat die sondaar nog verder van die Here en sy kerk gedryf
word. Daarom sê die Here ook in Gal 6:1 "Broeders, as
iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle
wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid,
terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie."
Heiligheid en liefde moet saamgaan. In my betraffing moet heilige
liefde sigbaar en hoorbaar wees. Sodat die sondaar deur die
koorde van die liefde getrek word en hom bekeer. Sodat hy uit die
greep van die sonde gelok word en bevryding ontvang.

Nou die 2e gedagte: Vergeef die boetvaardige sondaar.

As jou broeder wat teen jou gesondig het berou kry, vergewe
hom.

Daar is mense wat beweer dat ons altyd moet vergewe, ookal is
daar geen berou van die sondaar nie. Dit sou ’n bewys van
liefde wees. Is dit wat die Here ons leer? In ons teks sien ons
dat die reel is: vergewing na berou. As hy berou het vergewe hom.
Dit is die reel, die normale patroon. Vergewing na berou. Dis die
patroon waarin God self ons voorgaan.

In Mk 1:4 lees ons dat Johannes besig was om die doop van
bekering tot vergifnis van sondes te verkondig. Let op die
volgorde: bekering tot vergifnis van sondes. In Lk 24:47 sê die
Here Jesus vir sy apostels dat bekering en vergewing van sondes
in sy Naam verkondig moet word aan al die nasies. Ja, bekering en
vergewing van sondes, in die volgorde. Nie dat ons op grond van
ons bekering vergewing ontvang nie. Ons ontvang vergewing op
grond van God se onbegrypelike liefde en Christus se
plaasvervangende offer. Maar die vergewing kom wel na my toe
langs die pad van bekering. Sonder bekering sal die vergewing nie
my deel wees nie.

In sy Pinksterpreek hoor ons Petrus sê: Bekeer julle en laat
elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot
vergewing van sondes en julle sal die gawe van die Heilige Ges
ontvang (Hand 2:38). Opnuut die volgorde: bekeer julle tot
vergewing van sondes. In Hand 5:31 getuig Petrus voor die Joodse
Raad van die Here Jesus: Hom het God as Leidsman en Verlosser
deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis
van sondes te skenk. Beide bekering en vergifnis is dus ’n
gawe van God. Maar dit word wel in die volgorde gegee.

Tenslotte wil ek wys op die duidelike woord van 1 Joh 1:9.
Daar lees ons: "As ons ons sondes bely, Hy is getrou en
regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle
ongeregtigheid te reinig." Dis duidelik dat berou en
bekering, erkenning van skuld ’n voorwaarde vir vergewing is.
Dis die normale patroon, die reel waarna God handel. En ons moet
God daarin navolg. Ons lees immers in Ef 4:32, wat ons ook aan
die begin van die diens gelees het: "vergeef mekaar soos God
ook in Christus julle vergewe het." Ons moet dus die beeld
van ons hemelse Vader wys in ons vergewe van mekaar. God vergewe
as reel na berou, so moet ons ook slegs na berou vergewe.

Maar waarom kan ons nie sommerso vergewe nie? Omdat die sonde
’n verhindering vir versoening is. In Jes 59:2 sê die Here
vir sy volk: "julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur
geword tussen julle en julle God." Sonde skei twee partye
van mekaar. Om te vergewe beteken dat jy die struikelblok tussen
jou en die ander wegdoen. Maar hoe kan jy dit doen as die ander
party dit nie wil hê nie? Die verhindering bly daar totdat die
sondaar die sonde weg laat neem, totdat hy daaroor berou het.
Sonder ware bekering kan geen ware versoening plaasvind nie. Die
sonde bly daar lê tussen die partye in. Wanneer ek iemand
vergewe, dan behandel ek die persoon asof hy nie gesondig het nie.
Ek verwyder die sonde. So word die onderlinge verhouding herstel
en kan die onderlinge vertroue terugkeer. Maar as die sondaar
weier om sy skuld te erken? Dan bly die sonde daar lê.

Maar is dit nie ’n gebrek aan liefde wanneer ek die sonde
in so ’n situasie nie vergewe nie. Nee, juis nie. Liefde wat
vergewe sonder berou is ’n onheilige liefde. Dit negeer mos
die erns van die sonde, wat daar nog lê en waardeur God vertoorn
word. Dit is ’n slap en swak liefde. Ja, dis nie eers liefde
nie. Die liefde soek mos die ware bevryding van die sondaar? Maar
as die sondaar dit nie wil bely nie, dan bly hy daaraan vassit.
Die liefde wat nodig is, is ’n heilige en sterk liefde,
’n liefde wat vergewing weerhou totdat daar bekering is.
’n Liefde wat die sonde bestraf om die sondaar tot bekering
te beweeg. ’n Liefde wat die moeilike pad met die sondaar
wil loop met die oog op sy heil, sy versoening met God en mense.

Broeders en susters, ons moet in so ’n situasie natuurlik
wel vergewingsgesind wees. Mense wat beweer dat ons altyd moet
vergewe ookal is daar geen berou nie verwar die bereidheid om te
vergewe en die daad van vergewing. Ons moet inderdaad altyd
bereid wees om te vergewe. Die bereidheid moet grensloos wees,
soos Christus in ons teks noem: "en as hy sewe maal op
’n dag teen jou sondig en sewe maal op ’n dag terugkom
en sê: Ek het berou – moet jy hom vergewe." Die
begeerte om te vergewe en om te versoen moet daar altyd by ons
wees, maar die daad van vergewing kan slegs plaasvind na die
berou van die sondaar.

Natuurlik is daar die gevaar dat ons vergewing weerhou uit
wraaksug of bitterheid. En dan pas dit ons miskien goed dat die
persoon nog geen berou toon nie. Waak teen sulke gevoelens. Hoe
kan ek weet dat ek tog wil vergewe ook al kan ek nog nie vergewe
nie? Dit sal blyk uit my verdriet oor die verhindering wat daar
nog is, uit my verdriet oor die sonde wat versoening verhinder.
Dit sal blyk uit my houding teenoor die sondaar.

In Mt 5:44 roep die Here Jesus ons op: "Julle moet jul
vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan
die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle
vervolg." Hier praat Christus oor ons houding teenoor ons
vyande. Hoeveel te meer moet ons die houding wys teenoor ons
broeder of suster wat teen ons gesondig het. Hom liefhê. Werklik
die beste vir hom of haar soek. Is dit wat jy doen? "Seën
die wat vir julle vervloek." Wens hulle alles van die beste
toe. Smeek jy God se guns oor die persoon af? "Doen goed aan
die wat vir julle haat." Beantwoord jy die kwaad wat iemand
jou aangedoen het, met goeie dinge? Deur werklik vir die persoon
goed te doen? Om so vurige kole op sy hoof op te hoop? Om hom met
die koorde van liefde te trek? "Bid vir die wat julle
beledig en julle vervolg." Het jy, voordat jy op die
persoonlike belediging gereageer het, gebid, gebid vir jou juiste
houding en gedrag en gebid vir die heil van die persoon wat jy
wil aanspreek? Ja, gemeente, die beste graadmeter vir jou liefde
vir jou naaste is jou gebed vir hom. Die beste bewys dat jy
inderdaad vergewingsgesind is is deur ware liefde te wys, deur
die persoon te seën, deur aan hom goed te doen en deur vir hom
te bid. Dis die beste bewys dat jy die heilige liefde het wat die
sondaar se redding en versoening soek.

Maar watter bewyse van berou moet ons hê voordat ons kan
vergewe? Moet ons altyd wag op ’n uitdruklike belydenis van
skuld van alle oortredings, voordat ons kan vergewe? Hoe is dit
dan met God se vergewing van ons sondes? Kry ons slegs vergewing
vir die sondes wat ons uitdruklik vir Hom bely het? Hoe gaan dit
met die verlore seun wanneer hy weer na sy vader toegaan? Wag die
vader op ’n uitdruklike skuldbelydenis van sy kant? Wanneer
die vader hom van ver sien kom, dan voel hy innig jammer vir hom,
hardloop na hom toe en omhels hom. Dit gebeur almal voordat die
seun nog een woord van berou kan uit. Die feit dat die seun
terugkeer is vir die vader voldoende bewys van bekering. Die
houding van die seun sê vir hom genoeg.

Wanneer die Here in 1 Joh 1:9 sê dat ons eers ons sondes moet
bely om vergewing te ontvang, dan bedoel Hy nie dat ons ’n
hele lys van sondes moet byhou en dat ons elke individuele sonde
moet bely om vergewing te ontvang nie. Om ons sondes te bely
beteken letterlik dat ons dieselfde oordeel as God oor ons sondes
het. Ons stem saam met sy oordeel. Dit omvat die afwysing van die
sonde en daaroor bedroef wees. Om met God oor ons sondes saam te
stem is ’n konstante houding, nie ’n meganiese nagaan
van ’n tjeklys nie. Joh roep nie op tot ’n een vir een
verhouding van sonde en belydenis nie, maar tot ’n
voortdurende instemming met God se oordeel oor ons sondes. Dit
gaan oor ’n voortdurende houding van berou en bekering.

Daar is nog sondes waarvan ons nie bewus is nie. Daarom ook
die bede van Dawid in Ps 139:23: "Deurgrond my, o God, en
ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my
’n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!" As
daar by ons die ootmoedige houding teenoor God is, dan sal Hy ons
nie verdoem oor sondes wat ons nog nie besef en wat ons dus nog
nie uitdruklik bely het nie.

Dit het ook iets te sê oor ons vergewe van mekaar. Moet daar
altyd ’n uitdruklike skuldbelydenis wees om vergewing te kan
gee? Daar moet wel ’n boetvaardige houding wees. As God nie
van ons ’n uitdruklike belydenis van elke spesifieke sonde
wat ons teen sy hoë majesteit gedoen het eis, sou ons dan wel so
’n uitdruklike skuldbelydenis van elke verkeerdheid teenoor
ons klein en sondige mensies moet eis? In die sonde teenoor God
is daar geen enkele skuld van God se kant nie. Terwyl in die
sonde teenoor ons daar dikwels wel ook skuld van ons kant is. Ons
kan daaraan bygedra het deur ons eie gebrek aan liefde en wysheid.
Miskien is ons selfs die oorsaak daarvan dat die ander teen ons
gesondig het. Daarom moet ons des te meer bereid wees om te
vergewe as ons ’n houding van opregte berou ontdek. Ook by
ons moet ware ootmoed sigbaar wees. Waar sondaars mekaar ontmoet
daar pas ’n gemeenskaplike ootmoedige houding. Die ootmoed
van die een lok die ootmoed van die ander uit. Die een uiting van
berou wek die ander uiting van berou uit. En so wek die een woord
van vergewing die ander woord van vergewing op. So wil God onder
ons versoening bewerk en handhaaf.

Ja, gemeente, vergewing van ander is nie natuurlik of maklik
nie. Die skriftuurlike beginsels is duidelik. Maar die boosheid
wat ons nog aankleef in ’n sondige wêreld kompliseer die
nalewing daarvan. In hoogmoed en koppigheid wil ons soms gewoon
nie vergewe nie. Dikwels vertrou ons te min in God se sorg
wanneer ons protesteer: "ek kan nie vergewe nie." Ons
het mekaar nodig om ons hierin te help, te bemoedig en soms te
bestraf.

Laat ons wanneer ons die moeite om te vergewe ontdek,
sensitief wees vir die pyn en vrees wat dikwels daaragter lê.
Herstel van ernstige misdrywe vat tyd. ’n Mens het tyd nodig
om dit te hanteer. Laat ons mekaar ondersteun en vertroos.
Vertrou op God se genade en krag. So kon Paulus sê: Ek is tot
alles in staat deur Christus wat my krag gee. Wanneer God gebied
om mekaar te vergewe soos God ook ons vergewe het, dan wil Hy ons
ook die kragte gee om dit te doen. Vertrou jou toe aan Hom, aan
sy belofte van vergewing en vernuwing. Laat sy woord en Gees jou
vul. Dan sal heiligheid en liefde julle omgang met mekaar tipeer.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)