Wat beteken die sewende gebod vir ons daaglikse lewe.

Predikant: 
Ds RM Retief
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-02-04
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 41
Preek Inhoud: 

Sondag 41

Prop. R.M. Retief - Sondag 4 Februarie 2001

Lees:

Génesis 2:15-25; Maleági 2:10-16; Sondag 41.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps. 128:1-4; Ps. 119:1-5; Ps. 25:3-6.

Tema: Wat beteken die sewende gebod vir ons daaglikse lewe

Ons let op drie sake:

  1. Dat die huwelik ‘n instelling van God is;
  2. Dat die huwelik heilig is; en
  3. Wat die doel van die huwelik is.

 

Inleiding

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Jy mag nie egbreek nie. Egbreek beteken om owerspel te pleeg, om die huwelikstrou te skend. Die sewende gebod handel oor die huwelik. Daarmee saam handel dit oor kuisheid, sowel binne as buite die huwelik. Die sewende gebod eis dat ons die huwelik sal bewaar, sal heilig en sal koester; en kuis sal lewe. Daarteenoor verbied die sewende gebod ons om die huwelik te breek, te skend, of te ontheilig; of om op enige wyse onkuis te leef.

Hier, in die behandeling van God se wet, gaan dit oor liefde vir God en vir ons naaste. Die liefde vir ons naaste, spruit ook uit ons liefde vir God, sodat ons hier by die tweede tafel van die wet, steeds te doen het met ons liefde en diens aan God. Dit geld dus ook vir die huwelik. Ook deur die huwelik moet God en ons naaste in liefde gedien word. Waar hierdie liefdesdiens aan God en ons naaste ontbreek in die huwelik, is dit ‘n skending en ontheiliging van die huwelik.

Wanneer ons die sewende gebod behandel, moet ons dus onthou dat dit deel is van God se volmaakte wet wat vir ons hele lewe geld; en nie net vir ‘n klein deeltjie van ons private lewe nie.

Ons is nou besig met die derde afdeling van die Kategismus, wat handel oor ons dankbaarheidslewe. As verlostes wil ons nou God met ywer en met blydskap dien. Hierdie nuwe lewe waarin ons leef, is ‘n gawe van God. Die Vader herskep ons en heilig ons. Hy doen dit deur sy Gees en Woord. Hy skenk ons die geloof waardeur Hy ons aan Christus bind sodat ons deel in Christus se sterwe en opstanding. Ons het saam met Hom gesterf en saam met Hom opgestaan uit die dood. Ons is nou nie meer slawe van die sonde nie, maar vry – vry om goed te doen! Deur Christus se oorwinning oor die sonde en die dood, en in die krag van sy Gees, is ons nou vry – vry om in God se wette te wandel!

Ja, ons het nog steeds ‘n stryd teen die sonde, en ons sondig nog dikwels, maar juis daarom is ons vertroue op God, met die wete dat ons in Christus reeds die oorwinning behaal het, en uiteindelik in volmaakte heiligheid by die Vader sal wees. Ons leef dus die nuwe lewe in afhanklikheid van God en in die blye verwagting van volkome oorwinning wat reeds vas en verseker is deur Christus.

Hierdie dankbaarheidslewe geld ook vir die huwelik. Die huwelik tussen man en vrou word nie gebou op ons natuurlike vermoëns of op ons natuurlike liefde nie; maar op die liefde en vermoëns wat God deur sy Gees aan ons skenk. Daarom is die huwelikslewe in besonder ook ‘n lewe vanuit die geloof, waar ons ons vertroue volledig op God stel vir die behoud en die heiliging daarvan.

Daarom, omdat ons die HERE liefhet en in sy weg wil wandel, wil ons vanaand graag weet wat die sewende gebod vir ons daaglikse lewe beteken, en ons let op drie sake:

  1. dat die huwelik ‘n instelling van God is
  2. dat die huwelik heilig is
  3. wat die doel van die huwelik is.

Die huwelik is ‘n instelling van God

In die begin het die HERE die mens man en vrou geskape. Hy het man en

vrou geskep om een te wees. Die huwelik was dus reg van die begin af deel van God se raadsplan. God self is die Argitek wat die huwelik ontwerp het en dit geskep het. Dit is God self wat man en vrou só geskape het dat hulle binne die huwelik een kan wees en gesê het: Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees". God self het die vrou geskep en haar aan die man gegee. Hyself het hulle saamgevoeg om een te wees.

Wanneer die Fariseërs dan aan Jesus vra of dit geoorloof is om oor allerhande redes te skei, antwoord die Here hulle en sê: "Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie"(Mt.19:3-6). Die Skrif leer ons dus dat die huwelik ‘n instelling van God is. Dáárom moet ons dit bewaar en heilig.

Omdat die huwelik ‘n instelling van God is, mag dit nie gebreek word nie. Die huwelik kan gebreek word deur owerspel, maar dit word ook op talle ander wyses geskend en ontheilig. Wanneer die huwelik nie meer funksioneer soos Gód dit bepaal het nie, is dit reeds die oortreding van die sewende gebod. Met ander woorde, as ‘n man nie sy vrou liefhet nie, oortree hy die sewende gebod. As hy nie sy vrou se belange op die hart dra en die beste vir haar soek nie, oortree hy die instelling van God. As ‘n vrou nie vir haar man ‘n hulp is nie, of aan hom onderdanig is nie, oortree sy die sewende gebod. Want die huwelik word dan in sy wese aangetas. Die huwelik as instelling van God moet bewaar word volgens Gód se bedoeling en bepalings.

As die man nie meer die man is nie, en die vrou nie meer die vrou is nie, dan funksioneer die huwelik nie meer soos God dit bepaal het nie, dan word die huwelik geskend. Die opheffing van die geslagtelike onderskeid soos God dit geskape het, is oortreding van die sewende gebod. Die sewende gebod beveel ons om Gód se bedoeling en sy bepalings vir die huwelik te erken en te gehoorsaam.

Die huwelik kan natuurlik ook geskend word deur ongetroudes. As ‘n man en vrou voor die huwelik saam leef asof hulle getroud is, verwerp hulle daardeur die instelling van God. Die sewende gebod geld daarom nie net vir getroudes nie, maar ook vir jong mense en ongetroudes, dat hulle die instelling van die huwelik sal eer en heilig. Dit geld vir ons dade en woorde, en selfs vir ons gedagtes.

Die band wat God binne die huwelik tussen man en vrou gelê het, is nie net ‘n natuurlike band nie, dit is ook ‘n wetlike band. God reël dit in sy wetgewing. Die mens is nie vry om binne die huwelik te maak soos hy goeddunk nie. In die huwelik lê God die reëls neer. Hy lê ‘n morele plig en verantwoordelikheid op die mens. Die huwelik eis liefde en trou. Die huwelik eis selfverloëning en diensbaarheid. Die huwelik eis volkome eenheid tussen man en vrou en volkome eensgesindheid. Dit word alles vir ons bepaal deur God se Woord. Omdat die huwelik deur God ingestel is, bepaal Hy ook die wette waarvolgens man en vrou binne die huwelik moet leef.

Gelukkig is hierdie wette nie téén die menslike natuur nie. Die Here het ook ‘n natuurlike aangetrokkenheid tussen man en vrou gelê, sodat sy wette vir ons ‘n vreugde mag wees. Nogtans word die huwelik nie bepaal deur ons gevoelens en opinies nie, maar deur die wetgewing van God.

Die huwelik is heilig

Ons liggaam en ons gees behoort aan God. Daarom moet ons die Vader

met liggaam én gees verheerlik. In die huwelik gaan dit om albei – liggaam en gees wat heilig bewaar moet word in die diens van die Here en in trou aan mekaar.

Nie net die liggaamlike gemeenskap moet heilig wees nie, maar ook die geestelike gemeenskap binne die huwelik. Daar is nie net liggaamlike verskille tussen man en vrou nie, maar ook geestelike verskille. Die HERE het nie net man en vrou se liggame so gemaak om by mekaar te pas nie, maar ook hulle gees, sodat die een die ander aanvul en komplimenteer. In die huwelik gaan dit dus ook oor ‘n geestelike gemeenskap tussen man en vrou wanneer hulle die HERE saam dien. Dat die huwelik heilig is, beteken dus ook dat die geestelike verhouding tussen man en vrou op God gerig moet wees, en op diensbaarheid aan mekaar. Gód moet geëer word deur die man en vrou se gesamentlike dienswerk en omgang met mekaar. Dit geld dus weer eens vir elke terein van die lewe. Die heiligheid van die huwelik, waar man en vrou een word in hulle diens aan die Here, raak die hele samelewing en alle dienswerk in die koninkryk.

Dat die huwelik heilig is, beteken ook dat dit rein en onbesmet bewaar moet word. Weer eens geld dit nie net vir die liggaamlike nie, maar ook vir die geestelike omgang tussen man en vrou. Dit geld selfs vir ons gedagtewêreld. Daarom lê Christus die sewende gebod ook so aan ons uit wanneer Hy se: "Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreek gepleeg het". Die gebod word dus ook in ons harte oortree en in ons gedagtes wanneer ons nie ook in ons denke heilig en kuis is nie.

Vir die vrou geld dit dan ook dat as sy so aantrek, dat sy deur haar kleredrag die aandag op haar liggaam vestig, of as sy so optree dat ander mans na haar kyk, sy ook daardeur die sewende gebod oortree. Daarom sê die kategismus dat God nie net egbreuk en sulke skandes verbied nie, maar ook alle onkuise dade, gebare, woorde, gedagtes, luste, en ook alles wat ‘n mens daartoe kan verlei.

Vanselfsprekend is die lees van pornografiese boeke, die kyk van onkuise films, en die vertel van onsedelike grappies oortreding van hierdie gebod. Die huwelik en alles wat vir die huwelik bedoel is, is rein en goed. Daarom moet ons respek en eerbied hê vir dit wat God heilig en goed en mooi geskape het.

Die Here gebruik juis die huwelik as ‘n beeld van Christus se verhouding met sy kerk. Niks is heiliger as hierdie liefdesverhouding nie. En net soos die kerk trou moet bly aan haar hemelse Bruidegom, net so eis die huwelik tussen man en vrou dat hulle aan mekaar trou sal bly. Dit is ‘n heilige verbinding waarin alle ontrou aan mekaar niks anders is as hoerery nie. Die Skrif leer ons dat God egskeiding haat en ‘n geweldige oordeel uitspreek oor hoereerders en onsedelikes. Daardeur leer ons ook die heiligheid van die huwelik ken, wanneer ons let op God se toorn en sy oordele oor die wat dit skend.

Die doel van die huwelik

Ons het in Gen.2:18 gelees: "Ook het die Here God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas." Die Here het die vrou vir die man geskape as ‘n hulp wat by hom pas. Sonder Eva was die mens nie volkome nie, en was hy ook nie volkome toegerus vir sy taak nie. Waar man en vrou een word in die huwelik, vul hulle mekaar volkome aan en kan hulle saam die Here beter dien. Die bedoeling is dat man en vrou een word sodat hulle mekaar in alles kan bystaan en vrugbaar mag wees.

Die gesamentlike vrug van die huwelik is ewig. Waar man en vrou een geword het in hulle diens aan die Here, waar hulle saam groei in hul gemeenskap met God, saam groei in dieselfde geloof en liefde, en hulle hul kragte saamspan in vrugbare arbeid in diens van God, is die loon en die vrug daarvan ewig. Ons arbeid in die Here is tog nie tevergeefs nie. U kan byvoorbeeld glo dat die kinders wat u binne die huwelik ontvang het, en die goeie opvoeding wat u aan hulle gee, ewige gevolge sal hê. Die huwelik het dus nie net ‘n doel vir die aardse lewe nie; dit is bedoel om vrug te dra wat ewig bly.

Juis daarom mag ‘n gelowige nie met ‘n ongelowige trou nie. Man en vrou moet in die huwelik immers een word in alles wat hulle glo en doen. Hoe kan die gelowige in dieselfde juk trek met ‘n ongelowige (2Kor.6:14; 1Kor.7:39)? Di’s tog onmoontlik!

As man en vrou bedoel is om een te word in die huwelik, dan is dit ook ‘n skending van die huwelik wanneer man en vrou weier om een te word – wanneer die man hom van sy vrou onttrek, of andersom; wanneer elkeen net aan sy eie belange en begeertes dink, of wanneer man en vrou weier om alle goeie gawes met mekaar te deel. Dit is oortreding van die sewende gebod. Wanneer die huwelik nie uitgeleef word soos God dit bedoel het nie, in ‘n volmaakte band van eenheid nie, is dit ontheiliging van die huwelik, en is dit sondig.

Ons het reeds genoem dat die huwelik op God gerig moet wees. Sy wil en sy eer moet in die huwelik gesoek word. En tog is die huwelik ter wille van die mens gegee. Dit is ‘n gawe wat God aan die mens geskenk het. Man en vrou mag hulle vreugde en vervulling daarin vind om op só ‘n wyse saam die Here te dien. Hulle is daar vir mekaar. Ons ken Ef.5:22-32 waar die huwelik aan ons voorgehou word as ‘n nabootsing van Christus en sy gemeente. Die man moet homself vir die vrou gee, soos Christus Homself aan die gemeente gegee het. Hy moet haar voed en koester. Die vrou moet haarself in onderdanigheid en met eerbied aan die man wy, om vir hom ‘n hulp te wees. Waar hierdie verhouding, soos God dit ingestel het, met die man as hoof van sy vrou en die vrou as hulp naas hom, ontken word, daar word die huwelik ook ontheilig. Net binne die regte verhouding, soos God dit bepaal het, kan beide man en vrou vir mekaar tot seën en tot groot vreugde wees. In so ‘n huis kan daar ook kinders ontvang en opgevoed word in die vrees van die Here.

Want as ‘n reël gee die Here ook kinders in die huwelik, volgens sy wil. Die ontvang en die opvoeding van kinders is ‘n ontsaglike voorreg. Nie elkeen ontvang hierdie voorreg nie. Waar God hierdie seën van ‘n egpaar weerhou, is dit dan ook ‘n groot beproewing en ‘n stryd vir so ‘n egpaar. Wanneer God u egter wel seën met kinders, is dit ‘n groot verantwoordelikheid wat deel is van die huwelik. Reeds voor die sondeval is die huwelik ingestel en die opdrag gegee om vrugbaar te wees en te vermeerder. Reg van die begin af was dit deel van die bedoeling wat God met die huwelik gehad het – om kinders te verwek en op te voed.

In Maleági 2, wat ons saam gelees het, word dit duidelik aan ons geleer. Eers sê hy in verse 11,12 hoe groot gruwel dit vir die Here is wanneer ‘n gelowige met ‘n ongelowige trou. So word die heilige diens aan die Here verontreinig en wek dit sy toorn op. Dan praat hy in die volgende verse oor die trou wat daar binne die huwelik tussen man en vrou moet wees. Ons lees in vers 15: "Het Hy dan nie een mens gemaak nie, hoewel Hy gees oorgehad het? En waarom die een? Hy het ‘n geslag van God gesoek. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie".

Wat, sê hy, is die rede waarom God net een mens geskape het? Omdat Hy ‘n geslag van God gesoek het. Letterlik staan daar in die Hebreeus: Omdat Hy saad van God gesoek het, dit wil sê: ‘n nageslag wat aan God behoort. Daarom moet die huwelik in die Here wees. Daarom moet man en vrou trou wees aan die Here en aan mekaar. As die huwelik opbreek, of as man en vrou nie een is in die Here nie, raak dit immers ook die kinders se opvoeding. Man en vrou word deur God saamgevoeg in ‘n volkome liefdesband, sodat hulle saam hul kinders kan opvoed in die vrees van die HERE.

Daarom het God een mens gemaak, al het Hy gees oorgehad om meer te maak. U sal vra of Hy dan nie twee gemaak het nie – Adam en Eva. Hier wil ek u herinner aan Gen.2 wat ons saam gelees het. God het die vrou uit die man geneem. Die profeet Maleági lewer kommentaar daarop en sê dat God net een mens gemaak het. Hy het die mens uit die stof van die aarde gevorm, net een mens, Adam. Toe blaas Hy in die mens se neus die asem van die lewe. So het die mens ‘n lewende siel geword. Toe Hy die vrou geskep het, het Hy nie weer opnuut ‘n mens uit die stof gevorm nie. Nee, Hy het dit net eenkeer gedoen, al het Hy gees oorgehad om dit weer te doen. Hy het net één mens geskep en uit die één mens het Hy die vrou geneem, sodat man en vrou letterlik één is.

Die profeet Maleági sê dat God wel nog gees oorgehad het as Hy ‘n tweede mens wou skep. Hy kon ook baie meer vrouens vir Adam skep. Maar deur net een mens te skep,man en vrou, is hulle ‘n volmaakte eenheid, en is die huwelik geskik vir die opvoeding van kinders. Die vrou is dus uit die man geneem, sodat man en vrou binne die huwelik volkome een kan wees.

Die doel van hierdie eenheid, sê Maleagi, is sodat man en vrou sáám hulle kinders kan kry en opvoed in die vrees van die Here! Sodat daar ‘n nageslag sal wees wat aan God behoort.

Wanneer kinders buite die eg gebore word, of wanneer kinders grootword in ‘n gebroke huis, is dit soveel moeiliker om hulle op te voed in die weg van die Here. Dáárom, sê hy, moet jy nie ontrou wees aan die vrou van jou jeug nie.

As die huwelik ook ten doel het, om ‘n nageslag vir God groot te maak, dan volg dit logies dat waar kinders aan hulleself oorgelaat word, dit oortreding van die sewende gebod is.

Ten slotte

Wie van ons kan in eie krag volgens hierdie gebod leef? Wie van ons kan sê: "Ek het in gedagte, woord en daad myself volkome rein gehou"? Watter egpaar kan sê: "Ons is altyd volkome eensgesind in dieselfde liefde vir God en mekaar"? Wie kan sê: "My huwelik is volkome diensbaar aan God en aan my naaste"? Nee, ons leer ons eie liefdeloosheid ook deur hierdie gebod ken.

Maar dank God dat Hy ons wil heilig en herskep om met lus en ywer in sy weg te wandel! Deur die geloof mag ons weet dat al ons skuld vergewe is. Deur die geloof kan ons leef in die vertroue dat God self ons hand sal neem en ons sal onderrig soos ‘n vader sy seun onderrig.

Hy wil egter sy genade en sy Gees in antwoord op ons gebede gee. Hy wil hê dat ons tot Hom moet nader. Vra Hom dan om u huwelik te seën. Laat ons die Here vra om elke man en vrou in hierdie gemeente wat in die eg verbind is, die krag en die liefde en die wysheid te gee om waarlik vir mekaar ‘n man en ‘n vrou te wees, en om saam diensbaar te wees as vaders en moeders van kinders. Laat ons ook bid vir al die jong mense en ongetroudes; mag die Here hulle, en elkeen van ons, die genade gee om onsself rein te bewaar en kuis te lewe in gedagtes, woorde en dade.

Laat ons nou onsself voor God verootmoedig en Hom dank vir sy genade en vir al die seëninge wat Hy deur die huwelik aan ons geskenk het.

AMEN

 

Liturgie: 

(kyk in preek)