Waarom bid ons?

Predikant: 
Ds RM Retief
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-02-25
Teks: 
HK Sondag 45
Preek Inhoud: 

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Daar is baie redes waarom ons bid. Ons bid omdat ons God liefhet. Ons bid omdat ons na God verlang en Hom wil aanbid. Ons bid omdat ons ons sondes wil bely en om vergewing wil vra. Ons bid omdat ons ons eie nietigheid en afhanklikheid van God besef. Ons bid omdat ons God elke oomblik nodig het. En ons bid omdat die Here ons leer om te bid, en beveel om te bid.

Al hierdie redes waarom ons bid, word deur die kategismus dankbaarheid genoem. Dit is hoe die kategismus ingedeel is. Die eerste afdeling handel oor ons sonde, die tweede afdeling handel oor ons verlossing, en die derde afdeling handel oor ons dankbaarheid – die dankbaarheid wat God van ons eis. Met dankbaarheid word bedoel: die nuwe lewe in gehoorsaamheid aan God.

Die nuwe lewe in gehoorsaamheid aan God, is ‘n liefdeslewe – liefde vir God en liefde vir ons naaste. Ons het die Here lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het (1Jh.4:19). Omdat Hy ons verlos het en ons nuut gemaak het, en ons ‘n onbeskryflike en ewige heerlikheid skenk, het ons Hom lief, en word ons lewe deur hierdie liefde geken.

Die kategismus het gekies om hierdie heilige liefdeslewe ‘n dankbaarheidslewe te noem. Dankbaarheid, omdat die nuwe lewe waarin ons wandel, ‘n antwoord is op God se liefde. Omdat Hy ons gered het en ons nuut gemaak het, wíl ons in antwoord op sy liefde Hom ook liefhê en uit dankbaarheid ons hele lewe aan Hom wy.

Ons dankbare liefde vir God se genade moet dan ook sigbaar vrug dra in ons lewe. Hierdie dankbaarheid is sigbaar wanneer ons wetsgehoorsaam leef. Ons liefde en dankbaarheid word getoon wanneer ons sy gebooie onderhou. Met die woord dankbaarheid verwys die kategismus hier na die totale geloofsgehoorsaamheid van ons hele lewe.

U sien dus dat die kategismus nie hier bedoel dat ons nodig het om te bid net omdat ons bly en dankbaar vóél nie. Dit gaan nie hier in die eerste plek oor ons gevoel of emosie nie.

Natuurlik sluit ons gebede dan ook vreugde en blydskap en dankbaarheid in. Blydskap oor God se verlossing en dankbaarheid is deel van die lewe uit die geloof. Gebed is egter meer as net gevoel. Gebed is ‘n belangrike deel van ons totale geloofslewe. Dit raak ons hele lewe. Omdat die dankbaarheid waarvan hier gepraat word ons geloofslewe volledig insluit, let ons op die volgende twee sake:

Ons moet bid:

  1. omdat gebed deel is van ware geloof; en
  2. omdat God sy genadegawes net gee aan dié wat bid.

Dat ons moet bid: omdat gebed deel is van ware geloof

Vir die volgende dertig dae mag niemand bid nie! Die een wat bid, sal volgens die wet van Meders en Perse in die leeukuil gegooi word. Wat sal jy doen? Sal jy die bevel kan gehoorsaam sonder om te sondig?

Is dit regtig nodig om elke dag te bid? God weet mos wat ek nodig het. En Hy weet mos ek het Hom lief. Hy weet tog dat ek daarna verlang dat sy Naam geheilig word. Hy weet tog dat ek daarna verlang dat sy koninkryk sal kom. Ek verlang daarna dat net sy wil sal geskied. Maar moet ek dit elke dag vir Hom sê? As ek dit vir ‘n tyd lank sou nalaat, sal dit sonde wees? Dit is ‘n vraag wat Daniël homself moes afvra. Ons behoort ook die vraag aan onsself te stel: Is ek bereid om eerder te sterf as om ‘n tyd lank nie tot God te bid nie?

As jy verseker weet dat daar ‘n kuil vol honger leeus op jou wag as jy dit sou waag om in die volgende paar dae te bid, is dit dan nie selfmoord om openlik in die openbaar te gaan bid voor ‘n oop venster nie? Moes Daniël nie eerder sy deur gesluit het en sy vensters toegemaak en die gordyne dig getrek het nie? Hy sou mos in die geheim kon bid sonder dat iemand dit agterkom. Hy sou mos in sy gedagtes kon loop en bid op pad werk toe, of in die aand net voor hy gaan slaap. Hy sou tog kon bid sonder om op sy kneë te gaan staan. Waarom gaan doen hy dit in die openbaar wanneer daar so ‘n verbod uitgevaardig is. Is dit nie selfmoord nie?

As ons God nie liefhet nie, sal ons baie verskonings kan uitdink waarom dit nie nodig is om voortdurend te bid nie. Ons sal slim redenasies kan aanvoer. Sou dit nie vir Daniël beter wees om te bly leef en die Here met sy gawes te dien, as om sy lewe so in gevaar te stel deur openlik voort te gaan met sy gebede nie? Was dit regtig nodig? Wat sou jy in so ‘n situasie doen?

Dit moet vannaand vir ons duidelik word, dat gebed onder geen omstandighede nagelaat mag word nie, selfs al sou dit jou lewe kos. Gebed is deel van ons geloofsgehoorsaamheid.

Dit gaan nie vannaand oor die inhoud van gebed nie, maar oor die vraag of gebed wel noodsaaklik is, of voortdurende gebed – oggend, middag en aand – regtig nodig is.

Ons kry dit in die wet van Moses by die tabernakeldiens, dat die gebede van die volk voortdurend tot God moes opstyg. Daarvan was die reukaltaar die simbool gewees. Elke môre en elke aand moes die reukwerk aan die brand gesteek word as ‘n voortdurende reukwerk voor die HERE van geslag tot geslag (Ex.30:7,8). God het self die wette neergelê hoe Hy aanbid wil word. Hy het geëis dat ons gebede ‘n voortdurende reukwerk moet wees wat oggend en aand tot Hom opstyg.

Drie maal op ‘n dag het Daniël op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het (6:11). En die vraag is nou: Eis die Here ook van ons dat ons so baie moet bid op ‘n dag?

Ons harte is van nature traag om tot God te bid. Daar is soveel redes wat ons kan voorhou as verskoning. Ons is te besig. Was Daniël nie besiger nie? Hy was een van die drie ministers wat oor ‘n wêreldryk moes regeer! Hy het sy werk so getrou en met soveel sorg gedoen, dat daar geen klag teen sy werk ingebring kon word nie. Ja, hy was ‘n besige man – waarskynlik besiger as ek en u! En tog het hy drie maal op ‘n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God.

Drie maal op ‘n dag! Sou dit nie later net ‘n ydele herhaling van woorde wees nie? God weet mos hoe ons voel en dink, waarom sal ons oggend, middag en aand tyd afsonder vir gebed?

Broers en susters, in die eerste plek is gebed ‘n opdrag van die Here. Die Hére sê: "Bid sonder ophou" (1Thes.5:17). Die Here sê: Bid by elke geleenteheid met volharding en smeking (Ef.6:18). Die Here sê: Waak en bid altyddeur (Luk.21:36). Dit is ‘n opdrag van die Here: Volhard in die gebed (Rom.12:12). Ons vind hierdie opdrag oor en oor in die Skrif.

Deur die gebed het ons gemeenskap met God, aanbid ons Hom, loof ons Hom en kom ons voor sy aangesig om onself as ‘n dankoffer aan Hom te wy. Deur die gebed gee ons uiting aan ons geloof. As ons glo dat God leef, as ons glo dat Hy ons Vader is wat ons liefhet en vir ons sorg, dan sal ons tog ook ons vertroue op Hom stel, dan sal ons tog ook alle goeie gawes van Hom bid.

Waar daar geloof is, is daar gebed. Want waar die hart van vol is, loop die mond van oor. As jou hart vol liefde en verlange na God is, as jy verlang om in sy weë te wandel, as jou hoop voortdurend op Hom is – as dit is wat in jou hart omgaan, dan sal jou mond ook daarvan oorloop.

As ‘n kind sy Pa liefhet, praat hy met hom. As jou kind van die skool af kom en daar het die dag iets met hom gebeur, dan vertel hy jou daarvan. As hy bly is oor iets, dan hardloop hy na sy ma en sê: Ma!, Ma!, weet Ma wat? Hy kan nie anders nie – hy móét sy ma vertel! Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Jou kind praat met jou, want hy ken jou. Hy vertrou jou. Daarom praat hy met jou.

As ons ons hemelse Vader ken, as ons op Hom vertrou, as ons Hom liefhet en weet dat dit Hy is wat vir ons sorg, dan praat ons met Hom.

Die lewe deur die geloof is ‘n lewe waar ons met God wandel en ons harte voor Hom blootlê. Deur die gebed kom ons geloof tot woorde van vertroue, woorde van lofprysing, woorde van dank, woorde van aanbidding en smeking. Gebed is gemeenskap met God, dit is deel van ons omgang met God. Daarom kan jy nie glo sonder om te bid nie.

Die lewe deur die geloof word ook die weg van die Here genoem. Dit is ‘n pad waarop ons loop. Maar ons loop nie alleen op die pad nie. God neem ons hand en stap saam met ons. Wie so met die Here wandel, wil tog nie die hele pad in stilte loop nie. Wie met die Here wandel is in gesprek met Hom.

As jy die pad in stilte loop, is dit omdat daar niemand saam met jou op die pad is nie. As jy nie met God praat nie, is dit omdat jy nie met Hom wandel nie.

Maar nou moet ons erken dat dit nie iets is wat vanself gebeur nie. Van nature vertrou ons op onsself, en vergeet ons om die Here se bystand te vra. Van nature is ons so vol van onsself. Ons soek ons eie eer en ons eie wil. Van nature soek ons die koms van ons eie koninkryk. En dus het ons nodig om te verander. Ons denke moet nuut gemaak word deur die Woord van God. Ons hele lewe moet verander. Want van nature is daar niemand wat na God vra nie, niémand wat na God soek nie. As ons bid, is dit niks minder as ‘n wonder wat plaasvind nie.

Gebed is die bewys dat God wonderbaarlik werksaam is in ons lewe. Hy het ons opgewek uit die dood! Hy het ons aangeneem as sy kinders en woon nou in ons deur sy Gees. Daarom bid ons nou. Die Hére het die wonder gedoen en die verandering in ons begin.

Maar nou moet die goeie werk wat Hy in ons begin het ook voortgaan en groei. Die nuwe lewe in liefde en dankbaarheid is ‘n groeiproses. Ons moet leer om te bid en al hoe meer te bid. En dit gebeur nie vanself nie. Dit is dikwels ‘n stryd, ‘n stryd teen ons eie vergenoegdheid en gemaksug en kleingeloof.

Om te kan bid, moet ons steeds meer en meer verander. Dit is ‘n pad van heiligmaking. Dit is wel ‘n gawe en genade van God, maar dit geskied net in óns lewe wanneer ons ons eie heil uitwerk met vrees en bewing. God gee sy gawes alleen aan dié wat met hartlike versugting sonder ophou daarom bid en Hom daarvoor dank. Daarom let ons in die tweede plek daarop…

Dat ons moet bid:Omdat God sy genadegawes net gee aan dié wat bid.

Die Kategismus sê, in die tweede plek, dat ons nodig het om te bid omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.

Waarom het ons nodig om te bid? Ons kan met allerhande slim redenasie kom en sê dat ons gebede tog niks aan God se wil of aan sy raadsplan sal verander nie. Alles sal tog gebeur presies soos God dit van ewigheid af bepaal het. My gebede sal niks daaraan verander nie. Wat help dit dan om te bid?

Ja, God se raadsplan is ewig en onveranderlik, maar Hy het ons gebede ingesluit by sy raadsplan. Ons het die voorreg … nee, ons het die genade ontvang om met ons gebede mee te werk aan die ewige en heerlike koninkryk van God.

God verhoor ons gebede. As ons bid dat die Vader se Naam geheilig sal word, dan verhoor Hy ons gebed. Dan gebeur dit! As ons nie bid dat die Vader se Naam geheilig sal word nie, dan sal sy Naam steeds geheilig word, maar ons sal nie deel hê daaraan nie. Dan sal God ander gebruik om sy Naam te verheerlik. Hy sal selfs die klippe laat uiroep. Hy kan selfs ‘n donkie laat praat. Hy is nie van ons gebede afhanklik om sy wil uit te voer nie. Hy het ons nie nodig nie. Hy het nie ons gebede nodig nie. Dit is ons wat Hóm nodig het. Tog het Hy ons die genade en die voorreg gegee om te mag deel in al sy grootse werke en mee te doen in ons gebede!

Wat is ons? Wat kan óns doen? Kan ons iets tot stand bring wat vir ewig sal staan? Kan óns ‘n ewige koninkryk tot stand bring?

In onsself is ons stof en nietiger as die nietigheid self. Sonder God is ons niks en kan ons niks. Maar God het in sy groot genade besluit om ons in te skakel by sy heerlike en ewige werke! Ons mag meewerk aan die verheerliking van sy Naam, aan die volvoering van sy wil en aan die koms van sy koninkryk. Ons mag help bou aan die nuwe Jerusalem! Wanneer ons bid, dan gebeur dit!

As ons nie bid dat sy koninkryk sal kom nie, dan sal sy koninkryk steeds kom, maar ons sal nie deel daaraan hê nie. As ons nie bid dat sy wil sal geskied nie, dan sal sy wil nog steeds geskied, maar dan sal sy wil téén ons gerig wees.

As ons nie bid vir ons daaglikse brood nie, dan sal Gód geen gebrek ly nie, dit is ons wat dan gebrek sal ly.

As ons nie om vergewing vra vir ons sondes nie, dan sal Gód geen skade ly nie. Dit is ons wat geen vrede of rus sal vind totdat ons terugkeer tot ons God en om vergewing vra nie.

As jy nie vra vir sy bewaring teen die Bose nie, dan sal God nog steeds in heiligheid en in heerlikheid regeer, maar jy sal in sonde val en jou eie siel skade doen.

Gód het nie ons gebede nodig nie, maar ons het Hóm nodig! Ons het nodig om voortdurend sy aangesig te soek, omdat ons geen lewe in onsself het nie. Sonder God het ons géén lewe nie. Alle goeie gawes kom van Hom. Hy gee dit egter net aan dié wat voortdurend en van harte daarvoor bid en Hom daarvoor dank.

Die kategismus sê God wil sy genade en sy Heilige Gees net gee aan dié wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank. Nou kan iemand weereens vra hoe dit moontlik is. Hoe kan God sy genade en sy Gees net gee aan die wat Hom daarom bid? Gee Hy dan nie juis sy genade aan goddelose nie? Skenk Hy dan nie juis sy Gees om mense wat dood is in hul sonde lewend te maak nie? Hoe kan iemand wat geestelik dood is bid om die Heilige Gees?

Iemand met sulke vrae verstaan die kategismus hier verkeerd. Want hier gaan dit daaroor dat Christene nodig het om te bid. Mense wat reeds God se genade ontvang het, moet voortdurend, sonder ophou, elke dag opnuut weer bid vir genade. As ons die Gees reeds ontvang het en Hy reeds in ons woon, moet ons steeds voortgaan om voortdurend te bid vir die vervulling met die Heilige Gees, sodat ons ook kan deel in al sy gawes.

Die vervulling met die Heilige Gees beteken dat ons al hoe meer deur die Gees gelei en beheer word. Elke aspek van ons lewe moet al hoe meer gebring word onder sy heerskappy, sodat Hy ons hele lewe vervul en beheer. Daarvoor moet ons elke dag opnuut weer bid.

Dit is wel waar dat Hy net eenmaal in ons kom woon om nooit weer van ons te wyk nie, en tog bid Dawid: "Neem u Heilige Gees nie van my weg nie" (Ps.51:13). Hy het in sonde geval en nou voel dit of God Hom verlaat het, of sy Gees gewyk het.

As sy Gees in jou woon, sal Hy nooit van jou wyk nie, maar jy kan die Gees bedroef en self skade ly. As jy nie voortdurend vra dat sy Gees in jou sal woon en werk nie, bedroef jy sy Gees en sal jy nie die goeie stryd van die geloof kan stry nie, totdat jy weer tot inkeer kom. As jy nie bly bid vir God se genade en vir sy Gees nie, kan jy die bewuste omgang met God vir ‘n tyd lank totaal verloor, totdat jy weer tot inkeer kom. Jy sal in sonde val en die besef van sy genade verloor en jou gewete ernstig verwond. Jy sal jou eie siel skade doen. Daarom moet ons waaksaam wees en volhard in die gebed.

Dit gaan met ander woorde oor die voortgaande genade wat elke dag weer opnuut ontvang moet word, net soos wat Israel in die woestyn elke dag opnuut moes uitgaan om manna te versamel en dit nie kon opgaar vir môre nie. Elke dag moet ons opnuut weer voor God verskyn om sy genade en sy Gees van Hom te bid. Wie nie daarin volhard nie, sal verslap in die geloofslewe en agteruitgaan en skade ly. Daarom het ons die opdrag om te volhard in die gebed. Daarom moet ons voortdurend waak en bid.

Hoewel God ons veel meer skenk as waarvoor ons bid, en hoewel Hy ons veel meer vergewe as waarvan ons selfs bewus is, wil Hy dit net doen vir die wat in afhanklikheid van Hom leef, vir die wat voortdurend sy aangesig soek.

Soms lyk dit vir ons asof ons gebede nie verhoor word nie. Juis dan is dit nodig om deur die geloof te volhard, om te bly glo, bly vertrou, bly bid. Ons het in dié verband ook ‘n gelykenis saam gelees:

Daar was ‘n regter in ‘n stad wat God nie gevrees en geen mens ontsien het nie. En daar was in daardie stad ‘n weduwee, en sy het gedurig na hom gekom en gesê: Doen reg aan my teenoor my teëparty. En ‘n tyd lank wou hy nie; maar daarna het hy by homself gesê: Al vrees ek God ook nie en al ontsien ek geen mens nie, tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen, sodat sy nie eindelik kom en my in die gesig slaan nie.

Die Here vertel hierdie gelykenis sodat ons sal leer om gedurig te bid en nie moedeloos word nie – selfs al lyk dit soms vir ons asof ons gebede nie verhoor word nie. God is nie ‘n onregverdige regter nie. Hy sal ons gebede veel sekerder verhoor as wat daardie weduwee se versoek verhoor is. God gee ag op die wat dag en nag tot Hom roep (Lk.18:7). Dit is sy wil dat ons met volharding sal bly bid, selfs al lyk dit vir ons tevergeefs. Deur die geloof wéét ons dat dit nie tevergeefs is nie.

Om met volharding te bid, vra geloof. Vertrou op God, selfs al loop alles verkeerd en al lyk dit asof jou gebede nie verhoor word nie. Want soms gee God nie dadelik wat ons vra nie, al vra ons dit volgens sy wil. Soms laat Hy ons wag en toets Hy ons geloof.

Natuurlik verhoor God nie enige gebed nie. En daarom is die volgende vraag in die kategismus: Watter gebede behaag God en word wel verhoor? Vannaand sal ons nie daarby stilstaan nie. In kort kom dit daarop neer dat God net dié gebede verhoor wat volgens sy wil is, en dat Hy dit nie verhoor omdat ons dit verdien nie, maar omdat ons deur Christus sy kinders is.

As ons besef dat ons self niks by God verdien nie, dan kan ons nie eise aan God stel nie. Alles wat ons bid, bid ons op grond van sy genade. Dit pas ons dus om steeds in nederigheid en met heilige ontsag voor Hom te verskyn. Dan bid ons nie om óns wil te laat geskied nie, maar om sy wil oor ons lewe af te bid. God het ons immers ook geleer wat en hoe ons moet bid om Hom te behaag. Hy het ons geleer wat sy wil vir ons hele lewe is, en daarvolgens moet ons bid. Wanneer ons vanuit die heilige Skrif weet wat God se wil is, mag ons daarom vra, en moet ons daarom vra. En deur die geloof moet ons aanhou om te vra.

Ten slotte

Ons het almal nodig om voortdurend te bid. Dit is ‘n opdrag van God. Daarsonder wil God nie vir ons sorg nie en wil Hy nie sy genade bly gee nie. Hy wil sy genade en sy Gees net gee aan dié wat met hulle hele hart en met volharding tot Hom bid.

Hierdie opdrag is ook genade. Want deur die gebed mag ons meewerk aan die volvoering van God se wil, die koms van sy koninkryk en die verheerliking van sy Naam. En deur die gebed mag ons vir al sy seëninge bid en dit ontvang wat Hy ons in Christus beloof.

Die vraag waarna ons vannaand gekyk het, is nie of jy baie van gebed weet nie, maar of jy voortdurend in gebed is.

Ons het nodig om te bid. Ons het ook die voorreg om te bid. Ons het die genade ontvang deur Christus om die lewende God aan te roep as óns Vader. Alle goeie gawes kom van die Vader. Hy skenk ons sy Seun en woon in ons deur sy Gees. Deur Christus skenk Hy ons al sy seëninge en ewige rykdom. Hy wil egter hierdie genade en lewe en oorvloed net gee aan dié wat Hom dag en nag aanroep in smeking en gebed.

Glo u dat Hy magtig is om ons alles te gee wat Hy in Christus beloof het? Glo u dat Hy ons gebede inskakel by sy ewige en heerlike raadsplan? Glo u dat Hy gou is om te hoor wat ons bid? Glo u dat Hy ons gebede laat meewerk vir die koms van sy koninkryk? Laat ons dan met heilige verwondering en met dankbaarheid en met volharding bly bid.

AMEN

Liturgie: 

Sondag 45 Vraag en Antwoord 116

Prop. R.M. Retief - Sondag 25 Februarie 2001

Lees: Daniël 6:1-29; Lukas 18:1-8; Sondag 45 Vraag en Antwoord 116.
Sing: Ps.100:1-4; Ps.119:1-3 (aand: Apostoliese Geloofsbelydenis); Ps.50:7,11; Ps.118:1,2,7,14; Ps.150:1-3.

Tema: Waarom bid ons?
Omdat gebed deel is van ware geloof; en
Omdat God sy genadegawes net gee aan dié wat bid.