Wanneer is ons gebede aanvaarbaar vir God?

Predikant: 
Ds RM Retief
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-03-18
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 45
Preek Inhoud: 

Sondag 45 Vraag & Antwoord
117

Prop. R.M. Retief - Sondag 18
Maart 2001

Lees: 1 Konings 18:17-40;
Lukas 11:1-13; Sondag 45 Vraag & Antwoord 117.
Sing: Apostoliese
Geloofsbelydenis; Ps.5:1,3; Ps.66:7-9; Ps.141:1-3.

Tema: Wanneer is ons gebede aanvaarbaar
vir God?

Ons gebede is net vir God aanvaarbaar as ons:

  1. God reg ken;
  2. Ons eie nood en ellende ken; en
  3. In die geloof bid.

 

Inleiding

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind;
klop, en vir julle sal oopgemaak word.

Tog is daar gebede wat nie beantwoord word nie. God het nie
die Baalspriesters op Karmel se gebede verhoor nie, maar wel Elia
se gebed. Natuurlik omdat die Baalspriesters tot ‘n
verkeerde God gebid het. En tog het die Baalspriesters gedink dat
hulle tot God bid. Hulle het vir hulleself ‘n beeld van God
gemaak soos húlle Hom voorgestel het, en hulle het hul eie beeld
van God aanbid.

Maar toe hulle Hom aanroep, was daar geen antwoord nie. Hulle
het hulleself stukkend gekerf en rondgespring en geraas. ‘n
Mens sou selfs kon sê hulle was baie ywerig en opreg in hul
poging. Hulle het wel gedink dat hulle die regte God ken, maar
hulle het Hom nie geken soos Hy Homself aan hulle geopenbaar het
nie. Daarom was hulle gebede nie vir God aanneemlik nie, en het
God geen gehoor gegee nie.

Daar is ook vandag mense wat in die gebed worstel, wat bid
sonder om gehoor te word, wat nie verstaan waarom God nie na hul
gebede luister nie. Ons wil vannaand na drie redes kyk. Ons
gebede is net vir God aanvaarbaar as ons:

  1. God reg ken
  2. ons eie nood en ellende ken
  3. in die geloof bid

Dat ons God reg moet ken

Ons moet weet Wie die God is tot wie ons bid. As jy ‘n
brief skryf en jy pos dit na die verkeerde adres, sal dit nie
ontvang word nie en sal jy geen antwoord kry nie. Die adressering
van ‘n brief is belangrik, maar veel belangriker is dat ons
gebede tot die regte adres gerig sal wees. Net as ons die enige
ware God aanroep, soos Hy Homself geopenbaar het, sal ons gebede
verhoor word.

En die vraag is nou: Hoe sal ek weet dat ek nie dalk, soos die
Baalspriesters, my eie beeld van God aanbid nie. Hoe kan ek
verseker weet dat die God wat ek in gebed aanroep, die ware God
is?

Daar is net een ware God, dié God wat Homself in die Skrif
aan ons geopenbaar het. Dit is belangrik om nou te let op die
woord geopenbaar. Hy het Homself bekendgemaak. As hy nie
Homself aan ons bekend gemaak het nie, sou ons Hom nooit kon ken
nie. Daarvan getuig al die heidennasies. Die Egiptenare het die
son aanbid, koeie en krokkodille en wat meer! Elke nasie het sy
eie beelde van God gemaak – die een meer belaglik as die
ander. Die mens se hopelose poging om self God te versin uit sy
eie hart, is tragies. Die dwaasheid en die blindheid van die mens
is nêrens duideliker as wanneer hy probeer om sy eie
voorstelling van God te maak nie. As die HERE
nie Homself aan ons geopenbaar het nie, dan sou ook ek en u
vandag neergebuig het voor die versinsels van ons eie hart.

En dit gebeur inderdaad ook vandag nog met almal wat nie die
heilige Skrifte ken nie. God het Homself in sy Woord aan ons
geopenbaar. Daarin leer ons Hom ken. God sê self Wie Hy is, en
hoe Hy aanbid wil word. Sonder kennis van die Skrif sal ons almal
noodwendig ons eie denkbeelde van God aanbid. Die Skrif is
voortdurend besig om die verkeerde beelde wat ons van God het af
te breek, en die enige ware God aan ons te openbaar.

Sonder Skrifkennis is dit onmoontlik om God te ken en
onmoontlik om volgens sy wil te bid. Daarom sê die kategismus
dat ons alleen die enige ware God moet aanroep wat Homself in
sy Woord geopenbaar het.

Voordat ons met God praat, moet ons eers na Hóm luister.
Bybelstudie en gebed gaan daarom hand aan hand. In die Skrif
praat God met ons. In sy Woord wys Hy ons wie Hy is en wat sy wil
vir ons lewe is. In ons gebede moet ons dan antwoord op sy Woord
en sy wil naspreek.

Daar is mense wat in die gebed worstel sonder dat hulle gebede
verhoor word. Een van die redes is dat hulle ‘n verkeede
godsbeeld het. Daarom het hulle ook verkeerde verwagtings van God.
En omdat hulle nie sy wil ken nie, is hul gebede in stryd met sy
wil.

Ons dink bv. hier aan mense wat sê dat hulle die Gees het.
Die Gees praat met hulle in drome, sê hulle. Hulle sê die Gees
lei hulle wat hulle moet sê en bid – maar sonder om die
Skrifte te ondersoek. Die eie gevoel en ervaring word dan die
norm. God se beeld in die Skrif word dan vervang met ‘n eie
beeld van God. Hulle reken dan dat hul eie wil noodwendig die wil
van God is, omdat hulle die Gees het. En dan is hulle verbaas
wanneer God nie hul gebede beantwoord nie.

Nee, sy wil is helder en duidelik in die Skrif aan ons
geopenbaar. As ons dáárvolgens bid, sal God ons gebede verhoor.
As ons bid dat sy Naam geheilig sal word, dan sal Hy ons help om
sy Naam te heilig. As ons bid dat sy koninkryk sal kom, dan sal
Hy ons diensbaar maak in sy koninkryk. As ons bid dat sy wil sal
geskied, sal Hy ons help om volgens sy wil te leef.

Let daarop dat ons dan besig is om sy wil oor ons lewens af te
bid, volgens die voorskrifte van sy Woord. Ons wil moet verander
en buig onder die gesag van sy Woord, sodat sy wil ook ons wil
word.

As sy vreugde ons vreugde is, en sy droefheid ons droefheid is,
as sy wil ons wil is, dán sal ons vra net wat ons wil hê, en
ons sal dit verkry.

Sal ek vir enigiets bid? Sal ek vra vir groot rykdom? Sal ek
vra vir ‘n gemaklike en plesierige lewe hier op aarde?

Miskein het u al gehoor van die voorspoedsteologie. Dit sê:
Ons is koningskinders, daarom wil die Here hê dat dit altyd net
goed sal gaan met ons. As jy swaar kry, as jy siek word, of teëspoed
het, dan is dit – sê hulle – omdat jy gesondig het, of
omdat jou geloof te klein is. As jou geloof groot genoeg is en as
jy gehoorsaam leef, sê hulle, sal dit altyd net voorspoedig gaan
met jou in hierdie lewe. God sal jou groot rykdom gee en alles
wat jou hart begeer. Jy kan maar bid vir ‘n rooi sportmoter,
en as jou geloof net groot genoeg is, sal jy dit kry!

Maar, broers en susters, is dit volgens God se geopenbaarde
Woord? Het Hy sulke beloftes aan ons gemaak? Het Hy ons groot
rykdom en voorspoed beloof in hierdie lewe? Is dit sy wil dat ons
nou, in hierdie lewe, ‘n gemaklike en plesierige lewe sal hê?
Beloof Hy ons êrens in die Skrif dat Hy ons in hierdie lewe alle
swaarkry en lyding wil spaar?

Leer Hy ons nie veel eerder om lydsaam te wees nie, geduldig
in verdrukking, en gelowig in beproewing nie? Sê Hy nie ook dat
elkeen wat godvrugtig wil leef, vervolg sal word nie (2Tim.3:12)?
Het ons miskien al geariveer, of leef ons dalk al in hemelse
heerlikheid op die nuwe aarde? Veel eerder is ons hier in ‘n
vuuroond waar ons geloof getoets en gelouter word. In hierdie
lewe sal ons siekte en pyn en droefheid ken.

Die beloftes van ongekende heerlikheid en rykdom en
volmaaktheid wat aan ons gemaak is, moet nog in vervulling gaan;
dit sien op die hiernamaals. Deur die geloof glo ons dit, al sien
ons dit nie nou nie. Deur die geloof verbly ons ons in God se
beloftes, selfs al ervaar ons nou droefheid en pyn. Ons leef nie
vir die hier en die nou nie. Ons leef nie vir die dinge wat ons
met ons oë kan sien, wat ons kan tas en ervaar nie. Dit is nie
geloof nie.

Die apostel Paulus sê in Rom.8:24: "…ons is gered
in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want
wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog? Maar as ons hoop wat ons
nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding".

Met ander woorde, geloof is nie om te leef vir die dinge wat
ons kan sien nie, maar om vas te hou aan die dinge wat ons nie
sien nie, om bly te wees oor die dinge wat ons nie nou kan tas en
ervaar nie. Geloof is om vas te hou aan God se onsigbare beloftes.

Die apostel Paulus sê in 2Kor.4:18 dat ons nie let "op
die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare
dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig".

En in Hebr.11 lees ons dat die gelowiges in die hele
geskiedenis van hierdie wêreld vreemdelinge en bywoners was. Die
gelowiges was vervolg en mishandel en het selfs gebrek gely.
Hulle is bespot en gegesel en in die tronk gestop. En dan staan
daar dat die gelowiges gesterf het, sonder om die beloftes te
verkry (11:13, 36-40). In hierdie lewe het hulle droefheid en
stryd en vervolging geken, en die beloftes waaraan hulle vasgehou
het, het nie in hierdie lewe vir hulle in vervulling gegaan nie.
Maar deur die geloof het hulle geweet dat God sy beloftes volkome
waar sal maak. Die regverdige sal ‘n lang lewe ontvang, al
moet Abel dit eers op die nuwe aarde ontvang. Abraham sal die
beloofde land in besit neem, al gebeur dit eers op die nuwe aarde,
want in hierdie lewe het hy nie ‘n voetbreedte van die land
Kanaan besit nie (Hand.7:5).

Al God se beloftes sal volkome in vervulling gaan. Ons al die
volmaaktheid ingaan op die nuwe aarde waar daar geen dood of
moeite of siekte of pyn of trane is nie. Maar dit is beloftes wat
nog in vervulling moet gaan, ons ontvang dit nie in hierdie lewe
nie. Die Skrif verkondig geen voorspoedsteologie aan ons, dat die
gelowige ‘n rooskleurige lewe hier op aarde sal geniet nie.

Daarom soek ons ook nie ons geluk in die sigbare en tasbare
van hierdie wêreld nie. Daarom bid ek ook nie vir ‘n rooi
sportmoter nie. Want dit nie God se wil om vir my ‘n rooi
sportmoter te gee nie. Dit is nie wat ek nodig het nie.

Wat ek nodig het, is kennis van die Skrif. Wat ek nodig het,
is dat God se Gees in my sal woon en my diensbaar sal maak in sy
koninkryk. Wat ons nodig het, is krag om in die geloof te volhard.
Dit is wat ons nodig het. Ons het nodig dat God sy liefde sal
uitstort in ons hart, sodat ons mekaar van harte en vurig sal
liefhê, sodat ons mekaar se belange op die hart sal dra en
mekaar sal dien. Ons het Hom nodig, ons het sy Gees nodig, sy
vergewing en sy bystand.

En ons het alles nodig wat noodsaaklik is vir die liggaam om
te kan leef en werk. Dit is wat ons nodig het en dit is wat God
wil hê waarvoor ons moet bid.

As ons weet Wie God is, wat sy beloftes is, en wat sy wil vir
ons lewe is, dan bid ons net vir die dinge wat volgens sy wil is.

Wat ís God se wil vir ons lewe? Dat ons met ons hele lewe sy
Naam sal heilig en eer, sy koninkryk sal soek, sy wil sal doen.

En wat het ons nodig om volgens sy wil te leef? Ons het
daaglikse brood nodig, vergewing van al ons sondes, en krag om
teen die Bose te stry. Daarom is dit die dinge waarvoor ons bid.

Daar is net een ware God, en Hy het self gesê Wie Hy is en
hoe Hy aanbid wil word en wat sy wil vir ons lewe is. Wanneer ons
sy wil oor ons lewe afbid, dán sal ons gebede verseker verhoor
word.

Dat ons ons eie nood en ellende moet ken

God is in die hemel en ons is op die aarde. Hy is die Skepper
van hemel en aarde, en ons is skepsels. Wanneer ons sterf, keer
ons liggaam terug tot stof.

En daarom pas dit ons om nederig te wees en ons afhanklikheid
van ons Skepper te ken. Dit is Hy wat vir ons sorg. Sonder Hom ís
ons net stof.

Dit gaan nou daaroor dat ons ons eie nood en ellende reg en
grondig sal ken, sodat ons ons voor God se majesteit sal
verootmoedig. Ons moet weet Wie Hy is, maar ons moet ook weet wie
ons is. Ons is in sonde ontvang en gebore. Ons ellende is dat ons
almal gebore word onder God se toorn en oordeel. So stel Ef.2:3
dit: "ons was van nature kinders van die toorn". Dit
wil sê, ons natuurlike staat waarin ons gebore is, is onder die
toorn en vloek van God. Van nature is dit die staat waarin ons
verkeer – mense wat verdien om te sterf, om uitgewerp te
word in die buitenste duisternis weg van die aangesig van God.

Geen mens het daarom die reg om te leef nie. Ons het geen
menseregte nie. Ons verdien niks anders as die dood nie. En
daarom is dit net genade om te mag leef. Dit is ‘n
onbeskryflike groot genade dat ons die heilige God deur Christus
mag aanroep as óns Vader. Want van nature is ons nie sy kinders
nie – ons is aangenome kinders. Ons leef dus volkome uit
genade. God het ons ook nie uitverkies omdat ons beter is as die
wat verlore gaan nie. As dit nie was vir God se uitverkiesende
genade nie, was ook ons verlore.

Die beginsel wat nou hier aan ons voorgehou word – om ons
eie nood en ellende te ken sodat ons ons voor God se majesteit
sal verootmoedig - is ‘n beginsel wat reg deur die Skrif aan
ons voorgehou word as die beginsel van wysheid. Dit is ons
wysheid dat ons die Here sal vrees. Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid, ook wanneer
dit kom by die wyse waarop ons God aanbid. As ons ons eie nood en
ellende reg en grondig ken, dan sal ons nie hande in die sakke
staan en bid terwyl ons kougom kou nie.

Dan sal ons nie in dwase hoogmoed reken dat God daar is vir
ons nie, asof Hy ons bediende is wat altyd moet regstaan om ons
wense uit te voer nie. Dan sal ons in nederige afhanklikheid en
met heilige vrees en eerbied sy troon nader.

Wanneer ons ons eie nood en ellende ken, dan weet ons ook om
elke dag jammer te sê. Wie nie meer vir God jammer sê nie, wie
reken dat hy nie elke dag nodig het om sy sondes voor God te bely
nie, ken nog nie sy eie ellende nie. Want ons het almal ‘n
stryd teen die sonde, en ons almal struikel dikwels. Daarom het
ons nodig om ook daagliks berou te hê oor ons sondes, dit te
bely en vergewing te vra.

Want ons eie sonde kan ook ons gebede verhinder. Die apostel
Petrus sê: "Net so moet julle, manne, verstandig met hulle
saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys,
omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is
– sodat julle gebede nie verhinder mag word nie"(3:7).
Met ander woorde, as ‘n man sy vrou sleg behandel, sal sy
gebede verhinder word. As jy moedswillig sondig, word jou
gemeenskap met God versteur, totdat jy weer tot inkeer kom.

1Jh.3:22 sê ook: "…wat ons ook al bid, ontvang ons
van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is
voor Hom". Met ander woorde, ware geloof en ‘n heilige
lewenswandel gaan saam. As ons hardnekkig aanhou met moedswillige
sonde, dan kom daar verwydering tussen ons en God. Dan word ons
gebede noodwendig verhinder, totdat ons weer tot inkeer kom.

Nou is dit nie so dat ons God se guns verdien deur ons goeie
werke, en dat Hy dan ons gebede verhoor op grond van ons goeie
werke nie. Maar Hy skenk ook nie sy seën wanneer ons moedswillig
in sonde volhard nie.

Wanwee ons nood en ellende pas dit ons om onsself voor God te
verneder, om met heilige eerbied sy aangesig te soek, in diepe
afhanklikheid en ootmoed.

Dat ons in die geloof moet bid

Die kategismus sê hier: "Ten derde het ons hierdie vaste
grond dat Hy ons gebed, hoewel ons dit nie verdien nie, tog ter
wille van die Here Christus sekerlik wil verhoor, soos Hy dit in
sy Woord beloof het". Ons het hierdie vaste grond, dit wil sê:
ons kan verseker weet, dat God ons gebede sal verhoor ter wille
van Christus. Dit is ook God se wil dat ons gebede op hierdie
vaste grond sal rus.

Jak.1:5-8 sê: "…as iemand van julle wysheid kortkom,
laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om
te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die
geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos
‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en
voortgesweep word. Want dié mens moet nie dink dat hy iets van
die Here sal ontvang nie – so ‘n dubbelhartige man,
onbestendig in al sy weë". Ons moet dus in die geloof bid
sonder om te twyfel. Ons moet volledig op God vertrou en op sy
beloftes.

Want ons weet dat dit Christus is wat ons gebede aan die Vader
voorlê. Hy is ons Hoëpriester wat vir ons intree. Om in die
geloof te bid beteken dan dat ons sonder twyfel glo dat die Vader
ons gebede sal verhoor ter wille van Christus.

Christus is ons Middelaar. Dit beteken vir ons twee dinge.
Eerstens, dat Hy ons met God versoen het. Hy het vir al ons
sondes gely en gesterf. Daardeur is daar nou vrede tussen God en
ons en word ons aangeneem as kinders. Daardeur mag ons God nou
aanroep as ons Vader.

Tweedens beteken Christus se middelaarskap dat Hy voortdurend
vir ons intree by die Vader en ons gebede aan die Vader voorlê.
Om te bid in die Naam van Jesus Christus beteken dat ons ons
gebede deur Christus tot die Vader bid. Christus bid dan ons
gebede namens ons tot die Vader. Daarom sal die Vader ons gebede
nooit afwys nie, omdat Hy die Seun nooit afwys nie. Daarom word
ons gebede verhoor, omdat Christus ons Voorspraak is by die Vader.

1Jh.2:1 sê: "My kinders, ek skryf hierdie dinge aan
julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het,
ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus die
Regverdige. En Hy is ‘n versoening vir ons sondes…".

Omdat Christus ‘n volmaakte offer gebring het vir ons
sondes, en omdat Hy ewig leef om vir ons in te tree by die Vader,
kan ons nou met volkome geloofsversekerdheid tot die Vader bid.

Die Vader sal ons sekerlik alles skenk wat Hy ons in sy Woord
beloof het. Maar as Hy dit nie in sy Woord aan ons beloof het nie,
moet ons ook nie daarvoor bid nie.

Ons is séker dat God ons gebede sal verhoor, nie omdat ons
dit verdien nie, nie omdat ons so vurig bid of so aanhoudend bid
nie, maar omdat ons geloof rus op die beloftes van God se
geopenbaarde Woord.

Ons gebede mag nie ‘n eksperiment wees nie. Ons mag nie
dink: Kom ek bid maar en kyk of die Here dit gee nie. Jakobus sê
so iemand moet nie dink dat hy iets van die Here sal verkry nie.
Deur die geloof moet ons vashou aan God se Woord en glo dat Hy al
sy beloftes in Christus ook aan ons waar sal maak wanneer ons
daarvoor bid.

Sommige van ons gebede is reeds verhoor, ander sal nog later
beantwoord word op die regte tyd, en ander gebede sal eers
beantwoord word op die nuwe aarde wanneer al God se beloftes in
volle werklikheid vervul word.

Ten slotte

Hierdie lewe is ‘n smeldoond waarin God ons wil reinig en
vorm. Hy wil jou wysheid gee en lydsaamheid leer. Hy wil jou
onderrig soos ‘n Vader sy seun onderrig. Hy wil jou tug
omdat Hy jou liefhet. Hy wil jou geloof louter en jou tot
volwassenheid lei. Hy wil jou diensbaar maak in sy koninkryk. In
die gebed moet ons net sê: Ja, Here, laat u wil geskied. Vorm my,
gebruik my, leer my, tugtig my. Gee my groter geloof en wysheid,
dat ek my lewe kan inrig volgens u Woord. Help my om ú wil te
doen. Leer my dat ek U, die enige ware God, reg sal ken; dat ek u
wil vir my lewe sal ken. Dankie dat ek nie meer aan myself
behoort nie, maar aan U behoort om U te loof en te prys met alles
wat ek is en het.

As dit die gesindheid is waarmee ons die Vader nader, om sy
wil oor ons lewe af te bid, dan sal Hy verhoor. Alles wat Hy ons
beveel om te bid, dit sal Hy verhoor.

As sy wil jou wil is, as sy begeerte jou begeerte is, as sy
vreugde jou vreugde is, as sy droefheid jou droefheid is, en as
sy belange jou belange is, dan kan jy bid net wat jy wil hê, en
jy sal dit ontvang. Alles wat Hy beloof, mag ons ontvang. Hy sal
dit verseker skenk aan almal wat Hom aanroep as die enigste ware
God; aan almal wat in nederige afhanklikheid en in volle
geloofsversekerdheid tot Hom bid.

Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind;
klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid,
ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak
word.

AMEN

 

Liturgie: 

(kyk in preek)