Die heiliging van God se Naam.

Predikant: 
Ds RM Retief
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-03-25
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 47
Preek Inhoud: 

Sondag 47

Prop. R.M. Retief - Sondag 25
Maart 2001

Lees: Levítikus 10:1-3;
Psalm 99; Sondag 47.
Sing: Apostoliese
Geloofsbelydenis; Ps.147: 1,7; Ps.145:1,4,5,12; Ps.99:1,2,5.

Tema: Die heiliging van God se Naam.

Om ons Vader wat in die hemel is se Naam te heilig, moet ons:

  1. God reg ken
  2. God liefhê met ons hele hart en siel
  3. Sy goedheid en lof verkondig

 

Inleiding

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Sien ons nog hoe God se heiligheid en sy heerlikheid skitter
in al sy werke? Sien ons dit raak in ons daaglikse lewe? Want ons
het nou in die kategismus gelees dat sy almag en wysheid, sy
goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid skitter in al
sy werke! Sien ons dit? Kan jy self ook daarvan getuig? Eer en
aanbid en loof jy God wanneer jy rondom jou kyk en sy heiligheid
sien straal in al sy werke? Sy ewige krag en goddelikheid kan
duidelik gesien word in al sy werke, en dit behoort ons daartoe
te bring om Hom as God te verheerlik en te dank (Rom.1:20).

Ons weet dat alle dinge bestaan tot eer van God. Dit is die
hoogste doel van ons lewe om met ons hele lewe God te verheerlik.
Ons leef vir God. Hy is die middelpunt van alles wat bestaan.
Alles draai om Hom. Die ganse skepping moet Hom dien en aanbid.

Weet jy self ook dat dit die rede is waarom jy leef? Weet jy
dat dit die hoogste doel van jou lewe is om God te verheerlik? Is
dit die begeerte van jou hart? Wanneer jy in gebed tot God kom,
is dít die eerste begeerte wat jy uitspreek: "Laat u Naam
geheilig word"?

Die Here leer ons hoe ons moet bid. Die eerste wat ons moet
vra, is: Laat u Naam geheilig word. Dit is die eerste bede omdat
dit die belangrikste is. Voordat ons vir enige iets anders vra,
is dit ons eerste en hoogste begeerte.

Hierdie eerste bede – laat u Naam geheilig word – is
die hoofbede waaruit die res van die gebed volg. Dit is die
samevatting van al ons begeertes. Ons vra niks meer nie. Die
begeerte van ons hele lewe is dat sy Naam geheilig word. Ons bid
dat sy koninkryk sal kom, sodat sy Naam geheilig sal word. Ons
bid dat sy wil sal geskied, sodat sy Naam geheilig word. Ons bid
vir daaglikse brood, sodat ons kan leef om sy Naam te heilig. Ons
bid vir vergewing, sodat ons met ‘n rein en skoon gewete sy
Naam kan heilig. Ons vra dat Hy ons teen die Bose sal bewaar,
sodat sy Naam geheilig word. Want aan Hom behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.

Alle dinge is deur Hom en ter wille van Hom geskape (Kol.1:16).
Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Alle eer en
heerlikheid is Syne tot in ewigheid (Rom.11:36). Dit is dan die
eerste en belangrikste waarvoor ons bid. Al ons verlange is die
heiliging van sy Naam. Dit is ware godsdiens. Niks is belangriker
as die heiliging van sy Naam nie.

Ons behandel nou die heiliging van sy Naam onder drie
opskrifte. Om ons Vader wat in die hemel is se Naam te heilig,
moet ons:

  1. God reg ken
  2. God liefhê met ons hele hart en siel
  3. Sy goedheid en lof verkondig

Dat ons God reg moet ken

Nadab en Abihu bring offers aan die Here. Hulle is baie
godsdienstig. Hulle wil aan die Here offers bring. Hulle aanbid
Hom, maar hulle doen dit op hulle eie manier – nie soos Hy
aan hulle voorgeskryf het nie. Daarom ontvlam die toorn van die
Here teen hulle en verteer hulle met vuur sodat hulle sterwe. En
dan sê Moses: "Dit is dit wat die HERE
gespreek het deur te sê: In die wat naby My is, wil Ek My as die
Heilige laat ken, en voor die oë van die hele volk wil Ek My
verheerlik".

Was dit dan nie ‘n goeie ding dat hulle aan die Here wou
offers bring nie? Hulle was tog godsdienstig! Nee, hulle het nie
geweet met Wie hulle te doen het nie. Hulle het die heiligheid
van die Here nie geken nie, daarom het hulle gedink dat hulle
sommer so die Here op hul eie manier kan dien. Die vreeslikheid
en die heiligheid van sy Naam het hulle nie geken nie. Daarom
moet ons weet Wie Hy is. En ons leer Hom net ken uit die heilige
Skrif. Dáárin het God Homself aan ons geopenbaar en gesê Wie
Hy is.

Hy wil Homself as die Heilige laat ken deur dié mense wat
naby aan Hom is. Die wat sy Naam ken, net hulle is in staat om
met heilige eerbied en vrees sy Naam te verheerlik. Sy Naam word
nie verheerlik wanneer ek Hom nie ken nie, of wanneer ek Hom op
my eie manier wil aanbid nie. Dan is ek ‘n afgodediennaar,
al is ek godsdienstig. Dan laster ek sy Naam, ook met my
aanbidding; al doen ek dit in die Naam van die Here. Daarom is
dit so belangrik om die Here reg te ken. Net dan kan ons Hom in
waarheid aanbid.

Hy het sy Naam aan ons bekendgemaak. Sy Naam – dit is Hy,
soos Hy Homself geopenbaar het. Hy het Homself geopenbaar as
heilig, regverdig, almagtig, as volkome wys en goed, barmhartig
en genadig, lankmoedig, groot van goedertierenheid en trou,
waaragtig, ewig, onveranderlik. En dit is sy wil dat ons Hom só
sal ken, soos Hy is. Wanneer ons Hom erken soos Hy is, dan word
sy Naam al reeds geheilig. Want ware kennis van God dring ons tot
aanbidding. Sy heerlikheid is so groot, dat sy Naam al meer
gevrees en al meer geëer word hoe meer ons Hom leer ken.

Hoe minder ons van Hom weet, hoe minder kan ons sy lof besing.
Om sy Naam te heilig, en al meer te heilig, het ons dus nodig om
voortdurend te groei in die kennis van God.

God se groot dade in die geskiedenis, hoe Hy vir Homself
‘n volk uitgekies het en verlos het en gelei en onderrig het,
hoe Hy trou gebly het aan sy Woord en sy verbond, sy magtige dade
en sy wysheid en sy goedheid en sy genade – dit alles is aan
ons geopenbaar sodat ons Hom sal ken soos Hy is. Wanneer ons Hom
ken, kan ons nie anders as om te aanbid nie. Sy Naam is heilig,
en hoe meer ons sy Naam leer ken, hoe meer word sy Naam ook deur
ons geheilig. Hoe meer ons Hom leer ken soos Hy is en hoe meer
ons ag gee op sy grootse werke, hoe meer sal sy Naam deur ons
geheilig word.

Sy grootste werk waarin Hy al sy wysheid en liefde en genade
aan ons toon, is sy verlossingswerk deur Christus. In Christus
sien ons die wysheid van God. Dink maar aan die Seun se
menswording, die wyse van regverdigmaking en die uitverkiesing
– daarin is reeds soveel wat ons verstand te bowe gaan. In
Christus sien ons ook die goedheid en die geregtigheid, die
genade en die barmhartigheid en die liefde van God. Die
geregtigheid van God, dat Hy eerder as om die sonde ongestraf te
laat, die vloek op sy eie Seun lê.

In en deur Christus leer ons die Vader ken. Deur Christus word
die Vader verheerlik (Jh.13:31). In Christus openbaar die Vader
Homself aan ons. As ons Hom so ken, soos Hy Homself aan ons
geopenbaar het, dan kan ons nie anders nie, dan moet ons Hom eer
en dank vir sy heilige geregtigheid en onbeskryflike genade.

Om die Vader se Naam te heilig, vra ‘n persoonlike
verhouding met die Vader. Maar hoe ken ons die Vader en sy
Selfopenbaring deur Christus? Net deur die Skrif. Deur kennis van
die Skrif moet ons kom tot ‘n persoonlike verhouding met God.
Deur die kennis van sy liefde en genade in Christus, moet ons kom
tot persoonlike geloofskennis waar ek self sy goedheid smaak
– die genade wat Hy ook aan my bewys het. Dan kan ek ook,
persoonlik, leef om Hom te loof.

Daarom sê die kategismus: Om sy Naam te heilig het ons
allereers nodig om Hom reg te ken. Uit die ware kennis van God,
kom ware aanbidding. As ons God ken vir Wie Hy is, kan ons nie
anders as om Hom te dien met vrees en te juig met bewing nie (Ps.2:11).
Sy Naam word in heiligheid verhoog en geëer deur almal wat Hom
in waarheid ken.

Dat ons God moet liefhê met ons hele hart en siel

Ons Vader wat in die hemel is se Naam word geheilig – of
gelaster – deur ons lewenswandel. Wanneer ons heilig en
gehoorsaam leef, heilig ons sy Naam. Wanneer ons sondig, word sy
Naam gelaster. Want Hy is ons Vader.

Wanneer ‘n kind stout is, dan kan mense soms sê dat sy
ouers hom nie opvoed nie. Spr.29:15 sê: "…’n seun
wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande".
Mense sal sê: Sy ma het hom nie geleer nie. ‘n Ouer se naam
is verbind aan sy kinders. Ons erf ons pa se van. As iemand in
die familie oortree, word die hele familie belaster. En so is dit
met ons Vader in die hemel en sy heilige Naam wat oor ons
uitgeroep is.

Wanneer God se volk sondig, dan word sy heilige Naam onder die
heidene gelaster (Jes.52:5; Rom.2:24). Toe Dawid owerspel en
moord gepleeg het, sê die profeet Natan aan hom dat hy die Here
se vyande rede gegee het om te laster. Die Here se vyande laster
sy heilige Naam, wanneer sy kinders sondig.

Daarteenoor lees ons in Mt.5:16: "Laat julle lig só skyn
voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle
Vader wat in die hemele is, verheerlik". Sy Naam word groot
gemaak en geëer deur ‘n heilige lewenswandel. Dit is waarom
ons met ons hele lewe sy Naam moet heilig, deur alles wat ons
doen en sê en dink. Daarom sê die apostel Petrus ook: "…hou
julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van
julle kwaadspreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die
goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van
besoeking" (1Petr.2:12). God se Naam word verheerlik en
geheilig deur goeie werke, omdat dit Hy is wat die goeie in ons
werk.

Daarom sê Hy ook: "…Ek is die HERE julle God; toon
dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig…"
– Lev.11:44.

As ons die Vader liefhet en uit dankbaarheid ons hele lewe aan
Hom wil wy; hoe sal ons sy Naam kan heilig? Deur te leef volgens
sy gebooie. Ons heilig die Naam van ons Vader wat in die hemel is
wanneer ons Hom liefhet met ons hele hart, met ons hele siel, met
ons hele verstand en met al ons krag.

Nou moet ons erken dat ons nie uit onsself hiertoe in staat is
nie. Ons kan nie in ons eie krag volgens God se wet leef nie. Uit
onsself is ons nie in staat om met God te wandel nie. Van nature
het ons Hom nie lief met ons hele hart en siel en verstand en met
al ons krag nie – ver daarvandaan!

Juis daarom bid ons. Omdat ons ons eie bose hart ken, daarom
vra ons die Here dat Hy ons sal help om sy Naam te heilig. Here,
gee ons alles wat nodig is om u Naam te heilig! Leer ons, sterk
ons, sodat ons hele lewe u Naam sal heilig.

Daarom sê die kategismus "Laat u Naam geheilig word"
beteken: "Gee allereers dat ons U reg ken, en
dat ons U heilig…" Gee ons…, gee ons…,
sodat ons u Naam kan heilig. Dit is ‘n bede dat die
Vader sy eie Naam sal verheerlik, maar dat Hy asseblief óns
daarvoor sal gebruik. Ons Vader wat in die hemel is, ons wil u
Naam heilig, maar ons is sondig; help U ons, reinig ons, leer ons,
want sonder U kan ons dit nie doen nie.

Dit is die vurige verlange om God groot te maak, om die
heiligheid van sy Naam te eerbiedig, en met vrees en bewing sy
lof te besing. Soos ons ook saam gelees het in Ps.99: "Die HERE is Koning, laat die volke bewe! Hy troon op
die gérubs; laat die aarde sidder! Die HERE
is groot in Sion, en verhewe is Hy bo al die volke. Laat hulle u
grote en gedugte Naam loof! Heilig is Hy!…Verhef die HERE onse God, en buig julle neer voor die
voetbank van sy voete. Heilig is Hy! … Verhef die HERE ons God, en buig julle neer voor sy heilige
berg. Want heilig is die HERE onse God".

Ons sien hier, en oral in die Skrif, hoe God se Naam gevrees
moet word met heilige ontsag. Daarom sê Hebr.12 ook dat ons God
moet dien met eerbied en vrees (:28). Dankbaarheid, blydskap,
maar ook met groot ontsag en eerbied, want: "Heilig is Hy!".
Vreeslik en gedug en wonderbaar in al sy werke! Daarom hoort die vrees
van sy Naam by die heiliging van sy Naam. Want: Heilig is
Hy! Dit beteken dat Hy hoog verhewe is in sy vlekkelose
volmaaktheid, reinheid, hoogheid en almag.

Sy heiligheid word dikwels vergelyk met ‘n verblindende
lig, met ‘n verterende vuur. Vreeslik en gedug is Hy. Geen
mens kan Hom sien en bly leef nie.

Daarom sê Ps.19 ook: "Die vrees van die HERE
is rein, dit bestaan tot in ewigheid…"(:10). Om sy Naam
te heilig, vra heilige eerbied en ontsag vir sy Naam.

So word God se Naam geheilig, wanneer ons Hom liefhet en eer
met ons hele hart, en siel en verstand, met al ons krag, met
alles wat ons is en het. Ons hele lewe moet gerig wees op die
heiliging van sy Naam in dankbare en liefdevolle gehoorsaamheid.
Dit is dan hoe ons sy Naam moet heilig. Dít is ons verlange. Dit
is ons hoogste begeerte. Dit is die doel van ons ganse bestaan en
van alles wat leef. Laat alles wat asem het, die HERE
loof!

So word sy Naam geheilig: wanneer ons Hom ken en liefhet en sy
lof verkondig. Dít is ook die vreugde van ons hart.

Maar omdat ons nie self daartoe in staat is nie, omdat ons van
nature in onsself gekeer is en ons eie eer soek, daarom bid ons:
Ons Vader wat in die hemel is, maak ons lewe nuut, vervul ons met
u Gees en Woord, sodat ons met ons hele lewe u heilige Naam mag
loof en prys.

Dat ons sy goedheid en lof moet verkondig

"Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid
is tot in ewigheid! Laat Israel dan sê dat sy goedertierenheid
tot in ewigheid is! Laat die huis van Aaron dan sê dat sy
goedertierenheid tot in ewigheid is! Laat die wat die HERE vrees, dan sê dat sy goedertierenheid tot in
ewigheid is!" (Ps.118:1-4).

As die HERE goed is, laat ons dit dan sê!

Ons wat vroeër sonder God en sonder hoop in die wêreld was,
het nou deel geword van God se volk. Deur sy genade is ons nou
‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n
heilige volk. Hy het ons sy eiendom gemaak, sy volk, sodat ons al
sy goedheid sal verkondig – die deugde sal verkondig van Hom
wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig (1Petr.2:9-10).
Om sy deugde te verkondig, dáárvoor is ons gered en geheilig.

Ef.1 sê dat ons uitverkies is "tot lof van die
heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die
Geliefde" (:6). Dat Hy beluit het om ons te red "sodat
ons kan wees tot lof van sy heerlikheid" (:12). Hy het ons
verlos "tot lof van sy heerlikheid" (:14). Oor en oor sê
hy: ons is gered om te loof. Aan ons is genade bewys sodat ons sy
deugde sal verkondig.

As die Here goed is, laat Israel dit sê. As die Here
goedertieren is, laat die wat die Here vrees dit sê.

Ons is gered en geroep om die Naam van die Here groot te maak,
en in verwondering neer te buig voor sy heerlikheid. Ons is
geroep om sy goedheid te verkondig en sy lof te besing.

Ons doen dit hier in die erediens, maar ons is ook geroep om
dit voortdurend te doen; by die huis, in ons gesprekke met mekaar,
met huisgodsdiens en katkisasie. Ook by die werk, of as ons met
vakansie is, oral en altyd, in alles wat ons doen, ook in
voorspoed en in teëspoed.

As jy jou kind onderrig, vertel jy Hom van die Here se groot
dade? Leer jy hom om die Here se goedheid raak te sien wanneer
julle aansit om te eet. My kind, as dit nie vir die Here se
goedheid en sorg was nie, sou Pa nie werk gehad het nie, en sou
ons nie voor so ‘n heerlike maaltyd kon aansit nie. En as Hy
my nie krag en gesondheid en wysheid gegee het nie, my kind, dan
sou ek nie my werk kon doen nie. Kom ons dank die Here nou vir sy
sorg en die kos wat ons mag eet. Want dit is Hy wat reën gee,
sodat die koring en die mielies kan groei en die beeste gras het
om te eet. Dit is Hy wat vir alles sorg en alles onderhou deur sy
ewige krag en wysheid en goedheid. Leer jy dit vir jou kind?

Sien jy self nog sy goddelike majesteit en ewige krag in die
skepping. Die natuur, van die kleinste blommetjie tot die
majestueuse berge en die sterrehemel. Sien jy nog hoe Hy dit
alles met wysheid gemaak het en hoe sy heerlikheid daarin skitter?
Ook die tegnologie. Verwonder jy jou nog oor die wette wat God in
die natuur gelê het, sodat ‘n vliegtuig deur die lug kan
vlieg, ‘n motor met brandstof kan loop, ‘n rekenaar met
elektrisiteit kan werk? Wie is dit wat al hierdie dinge in die
skepping gelê het sodat ons dit kan ontdek en gebruik?

Sien jy nog die grootheid van sy almag, ook in jou eie lewe en
in die geskiedenis van hierdie wêreld; hoe Hy alles in sy
wysheid bestuur volgens sy raadsbesluit, sodat alles ten goede
meewerk vir die wat Hom liefhet?

Sien jy nog sy oordele raak, hoe Hy wraak uitoefen oor die
goddelose? Vertel jy nog jou kinders van die sondvloed toe God
hierdie wêreld geoordeel het, omdat die mense goddeloos was?
Praat jy nog met jou kinders oor Sodom en Gomorra, en wat die
Here daar gedoen het met die wat nie sy Naam wou heilig nie?

En vertel jy hulle van sy groot dade van verlossing, hoe die
see oopgegaan het en die waters soos ‘n muur bly staan het
aan hulle linker en regterkant, sodat hulle te voet deur die see
kon loop? En wat Hy gedoen het met Farao en sy leermag toe húlle
dit probeer het? Vertel jy jou kinders hoe God sy volk gelei het
in die woestyn waar daar geen kos en water was nie? Hoe Hy elke
dag brood uit die hemel oor hulle laat reën het? En hoe Hy uit
‘n klipharde rots ‘n rivier laat vloei het? Glo jy dit
self nog? Vertel jy dit nog aan ander?

Laat ons nie die groot dade van God vergeet nie. Sien jy dit
in jou eie lewe, hoe hy jou onderrig soos ‘n vader sy kind
onderrig? Sien jy hoe Hy ons deur hierdie lewe lei en bewaar?
Laat ons met mekaar en met ander daroor praat en sy lof verkondig,
want so word sy Naam deur ons geëer en verheerlik. Ja, selfs die
kinders mag daarin deel, want uit die mond van kinders en
suigelinge het Hy vir Hom lof berei (Ps.8:2,3).

Terwyl ons elke oomblik die lewe uit sy hand ontvang, en
terwyl ons weet van die groot genade wat Hy ons in Christus
geskenk het, laat ons dankie sê. Hy het ons geseën met al die
geestelike seëninge in die hemele in Christus, Hy het ons
erfgenaam gemaak van al sy rykdom en ewige heerlikheid – hoe
sal ons Hom kan dankie sê? Ons sal leef om Hom te loof. Laat ons
sy goedheid en sy heiligheid verkondig, met eerbied en vrees.
Laat ons dankbaar ons hele lewe aan Hom wy. Dit is hoe sy Naam
geheilig word.

Ten slotte

Ons Vader wat in die hemel is se Naam sál geheilig word. Hy
ís Heilig, en sy heiligheid skitter nou reeds in al sy werke, te
midde van die sonde en die boosheid van goddelose mense. Nou is
daar nog bose magte in die lug wat stryd voer teen Christus en sy
kerk, en wat die heiligheid van sy Naam probeer verduister, sodat
dit soms vir ons moeilik is om sy heiligheid raak te sien in die
wêreld om ons.

Daar is soveel sonde en ellende, en alles is daarmee besmet.
Tog sien ons nou reeds deur die geloof hoe God werksaam is in die
geskiedenis van die mensdom. Deur die geloof neem ons sy
Selfopenbaring in die Skrif vir waar en betroubaar, en loof ons
Hom vir sy groot genade en goedertierenheid, al doen ons dit nog
so gebrekkig.

Maar daar kom ‘n dag wat alles nuut gemaak sal word. Daar
kom ‘n dag wanneer ons Vader wat in die hemel is sy Naam
volkome sal heilig voor die oë van alle mense en engele en
owerhede en magte. Die Seun van die mens sál kom op die wolke as
Regter van hemel en aarde. Dan sal elke knie voor Hom buig. Dan
sal daar ‘n einde gemaak word aan die goddelose en hul werke.
Dan sal die aarde en alles wat daarop is verbrand word.

Dan sal die ganse skepping nuut gemaak word. Dan sal al wat
leef die Here loof. Dan sal sy Naam geheilig word tot in ewigheid.
Dan sal alles wat asem het sê: Heilig, heilig, heilig, is die
Here God, die Almagtige! Dan sal elke skepsel wat in die hemel en
op die aarde is, saam met die ganse skepping, sê: "Aan Hom
wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer
en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!

AMEN

 

Liturgie: 

(kyk in preek)