Die straf wat vir ons die vrede aanbring was op Christus.

Predikant: 
Ds RM Retief
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-04-08
Teks: 
Jesaja 53
Preek Inhoud: 

Jesaja 53

Prop. R.M. Retief - Sondag 8 April 2001

Lees: Jesaja 52:7-53:12.
Sing: Ps.98:1,2; Ps.119:11,14; SB.7:5,6; Ps.116:1-5,7;
Ps.118:1,7,14.

Tema: Die straf wat vir ons die vrede aanbring was op
Christus.

  1. Christus was deur die mense verwerp;
  2. Christus het in ons plek gesterf; en
  3. Christus reinig vir Homself ‘n volk.

 

Inleiding

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wie is die Kneg van die Here waarvan ons hier lees? Praat die
profeet van homself of van iemand anders?

Dit is ‘n baie relevante vraag, veral as ‘n mens
sien hoe verkeerd die Bybellenium en die Bybel in Praktyk hierdie
vraag beantwoord. Daar is vandag al hoe meer vrysinnige teoloë
wat sê dat die Kneg van die Here, hier in Jes.53, die volk
Israel is. In die ballingskap sterf die volk dan as’t ware
vir die sondes van hul vaders, terwyl die kinders eintlik
regverdig is! Die volk Israel, in ballingskap, is dan die
Regverdige in wie se mond geen bedrog was nie en wat die sonde
van baie dra. Maar wat sê die Skrif? Wie is die Kneg van die
Here hier in Jes.53?

Daar was ook iemand anders wat hierdie vraag gevra het. Dit
was ‘n man op ‘n wa op pad na Ethiópië besig om te
lees uit die profeet Jesaja. Die gedeelte wat Hy gelees het, was
juis Jes.53: "…soos ‘n lam wat na die slagplek
gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders…".
Maar die Ethiópiër verstaan nie wat hy lees nie. Dan kom
Filippus by die wa en vra hom: "Verstaan u wel wat u lees?"
En die Ethiópiër antwoord: "Hoe kan ek tog as niemand my
die weg wys nie?"

Hy nooi Filippus om op die wa te klim om God se Woord aan hom
uit te lê. Asseblief, sê hy, "Ek bid u, van wie sê die
profeet dit, van homself of van iemand anders? Toe het Filippus
die woorde van Jes.53 aan hom verklaar en vanuit hierdie gedeelte
die evangelie van Jesus aan hom verkondig – Hand.8:26-35.
Dit handel dus hier oor Jesus Christus.

Jes.53 is net twaalf verse, ‘n baie klein deeltjie van
die OT, maar dit word 25 keer deur die NT
aangehaal. Daar is nie nog ‘n Skrifgedeelte in die OT wat so
baie deur die NT aangehaal word nie. En elke keer sê die NT vir
ons dat Jes.53 van niemand anders praat nie as van Jesus Christus.
Die saak is vas en seker. Wie die apostels se uitleg van Jesaja
53 glo, het geen twyfel nie. Daar mag by ons geen twyfel wees oor
die Persoon van Jes.53 nie.

Ons hoef nie meer soos die Ethiópiër te wonder van Wie
Jesaja hier praat nie. God self het deur sy apostels in die NT
hierdie verse aan ons uitgelê en getoon hoe hierdie Kneg van die
Here niemand anders is as Jesus, die Gesalfde, nie.

En daarom kan ons nou met sekerheid weet wát Jes.53 beteken
en van Wie dit praat. Die uitleg van hierdie verse word op baie
plekke in die NT aan ons gegee. Dit praat van Jesus, die Kneg van
die HERE, wat ons sondeskuld op Hom geneem
het, ons straf gedra het, in ons plek geslaan is, en in ons plek
gesterf het. Dit praat van Jesus wat die Lam van God is wat
Homself geoffer het om ons skuld weg te neem.

Nêrens in die Skrif word die plaasvervangende werk van
Christus duideliker beskryf nie. Daarom verkondig ek nou aan u
hierdie evangelie met die tema: Die straf wat vir ons die
vrede aanbring was op Christus. Ons let op drie sake:

  1. Christus was deur die mense verwerp
  2. Christus het in ons plek gesterf
  3. Christus reinig vir Homself ‘n volk

Dat Christus deur die mense verwerp is

Vers 1 stel die vraag: Wie het geglo wat aan ons verkondig is?
Nie baie het geglo nie!

Die woord het wel uitgegaan dat die Christus moet ly, maar die
mense het dit nie begryp nie. Wanneer Christus geslaan en bespot
word en weggelei word om gekruisig te word – wie het toe
gesien en bemerk dat dit die hand van die Here is, dat dit sy
hand is wat hierdie dinge laat gebeur (Hand.4:28)? Wie het gesien
dat dit die Vader is wat Christus slaan vir ons sondes? Wie het
gesien en geglo dat dít die vervulling is van al die profesieë?

Die hoorders het hulle harte verhard. 700 jaar later haal die
apostel Johannes hierdie profesie aan, uit Jes.53:1, om te
verklaar waarom die Jode Jesus verwerp. Hy sê : "…alhoewel
Hy so baie tekens voor hulle oë gedoen het, het hulle nie in Hom
geglo nie…" Waarom het hulle nie geglo nie? "…sodat
die woord van die profeet Jesaja vervul sou word wat hy gesê het:
Here, wie het ons prediking geglo, en aan wie is die arm van die
Here geopenbaar? Daarom kon hulle nie glo nie, omdat Jesaja óók
gesê het: Hy het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat
hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle
bekeer en Ek hulle genees nie" – Jh.12:37-40.

Die Here sê aan Jesaja: "Gaan sê aan hierdie volk: Hoor
altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie.
Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en
bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hulle oë en met hul
ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie
bekeer en gesond word nie"(6:9,10). Die genade om die
geheimenisse van die koninkryk te ken, is nie aan almal gegee nie
(Mt.13:11). Daarom roep die profeet Jesaja hier uit: "Wie
het geglo wat aan ons verkondig is?"

Hierdie profesie van Christus se verwerping geld tot aan die
einde. Vandag nog verhard die mense hul harte wanneer hierdie
evangelie verkondig word. En God verhard hul harte, sódat hulle
nie sien of hoor en tot bekering kom nie.

As u vanmôre Jes.53 begryp, dan is dit omdat die Here dit aan
u openbaar. Dit is Hy wat u hart daarvoor oopmaak, sodat u
ontvanklik is. Want van nature is ons blind deur die verharding
van ons hart. Van nature wil ons nie hoor nie. As ons vanoggend oë
het om te sien, as ons die evangelie in hierdie verse sien en glo,
dan is dit ‘n wonder wat God skenk. Die wat wel oë ontvang
om te sien en ore om te hoor, is geseënd.

Maar hier gaan dit nou daaroor dat Christus verwerp sal word
deur die mense. "Hy was verag en deur die mense verlaat,
‘n Man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir
wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom
nie geag nie" (:3). "Hy het geen gestalte of
heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen vookoms
dat ons Hom sou begeer nie" (:2). Sy voorkoms was misvormd,
Hy het byna nie meer soos ‘n mens gelyk nie (52:14).

As ‘n mens Hom sien, het jy eerder ander pad gekyk. Ja,
Hy was veragtelik in die oë van die mense. Aan sy uiterlike
voorkoms was daar niks wat ‘n mens kon beïndruk nie. Hy het
geen heerlikheid gehad dat ons Hom sou begeer nie.

Waarvan praat die profeet hier? Hy praat van Jesus se voorkoms
wat misvormd geword het in sy lyding en vernedering. Christus
word verwerp. Want Hy het nie gekom in groot krag en heerlikheid
om te heers nie, maar as ‘n dienskneg om te dien. Hy het
gekom as Kneg van die HERE om die wil van
sy Vader te doen; gehoorsaam tot in die dood.

Hierdie evangelie is nie baie populêr nie. Die vernedering en
die lyding van Christus, is ‘n bloedige storie – iets
wat aanstoot gee en verag word. Vir die natuurlike mens is die
lyding en kruisiging van Jesus nie iets om op trots te wees nie.
Want wie wil homself identifiseer met lyding en vernedering? Ons
soek ‘n magtige leier; maar die kruis lyk na ‘n
mislukking En boonop is die kruis ‘n veroordeling van
onsself! Want Christus se lyding getuig van die Vader se toorn
oor ons sonde. Sy lyding en sterwe getuig van ‘n heilige God
wat die sonde wreek, en dit getuig van óns sonde en van die
straf wat ons moes kry. Die boodskap is nie baie vlyend nie. Ons
is sleg en verdien om te sterf, maar Christus neem ons vloek op
Hom. Dit is die boodskap.

Wanneer hierdie evangelie vandag verkondig word, word Christus
nog steeds verag en verwerp. Mense draai hul gesig weg, soos vir
iets wat aanstoot gee.

Dit moet ons nie verbaas nie. Ons hoef nie moedeloos te word,
wanneer ons Christus verkondig en die boodskap nie ontvang word
nie. Dit is reeds deur Jesaja so voorspel en dit geld tot die
einde toe.

Baie sal ook ‘n ander evangelie uitdink – ‘n
evangelie sonder sonde en oordeel en straf. ‘n Evangelie
waar God net liefde is wat almal liefhet en niemand sal oordeel
nie.

Maar hier sien ons die lydende Kneg van die Here, misvormd,
mishandel, verag, verneder. Die spoeg van spotters drup van sy
gesig. Sy baard word uitgepluk. Hy word deur die aangesig geslaan.
Die kruis word op sy bebloede rug geplaas en Hy word na Golgota
gelei. Hy word gekruisig en Hy sterf as vervloekte. Sy
vernedering strek tot in die dood. Wie wil iets met so ‘n
man te doen hê? Is dít die Koning van die Jode?

En wanneer dit verkondig word dat sy lyding ter wille van ons
was; wat beteken dit? Dat dit die Vader se toorn oor ons sondes
is wat Christus tref! Ja, dit is nie ‘n populêre evangelie
nie. Ons kan vandag saam met Jesaja uitroep: "Wie het geglo
wat aan ons verkondig is?"

Dit is hartseer wanneer mense hierdie evangelie nie wil hoor
nie. Dit behoort ons te grief wanneer Christus verwerp word deur
die mense. Ons kan dit egter te wagte wees. So is dit lank tevore
reeds verkondig.

Ons is vanmôre hier saam as gemeente van die Here omdat God
hierdie geheimenis aan u wil openbaar. Hy wil u die hand van die
Here laat sien in die lyding en sterwe van Jesus. Daardeur wil Hy
u ook tot bekering roep, om te breek met u sonde en te leef
volgens hierdie evangelie. Aan ons is hierdie evangelie
geopenbaar deur die werking van die Gees, sodat ons kan sien en
hoor, en ons van ons sondes bekeer. Want daaroor handel hierdie
evangelie, dat Christus ons van ons sondes verlos. Daarom let ons
nou in die tweede plek daarop…

Dat Christus in óns plek gely en gesterf het

Hy het "óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte
– dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat
geplaag, deur God geslaan en verdruk was".

Die Kneg van die HERE word deur God
geslaan, maar nie vir sy eie sonde nie. "Hy is ter wille van
ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy
verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom,
en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom".

Die straf wat vir ons die vrede aanbring was op Hom. Watter
straf? Die oordeel van God oor ons sonde. Die vloek wat die wet
uitspreek oor elkeen wat sondig. Die vloek wat die volmaakte wet
van God oor u uitspreek en oor my. Daardie vloek, daardie straf
het Hy namens ons gedra. Die houe wat ons moes tref, het sy rug
getref. Die skande wat ons verdien, het oor Hom gekom. En die
dood wat ons moes sterf, het Hy gesterf. Hy is in ons plek
deurboor en verbrysel. Die straf is uitgedien. Só het daar vir
ons vrede gekom

Die vrede het gekom toe God sy wraak op Christus uitgestort
het. Ons skuld is betaal. Daarom kon God vrede maak met ons. Ons
is met God versoen deur die straf wat Christus gedra het. En deur
sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Vrede en genesing!

Vrede, omdat ons verhouding met God herstel is. Genesing,
omdat ons gereinig is van ons sonde. Volkome verlossing! Omdat
die Kneg van die Here in ons plek kom staan het en die vloek
gedra het wat die wet oor ons uitspreek.

Ken u hierdie vrede, die vrede wat alle verstand te bowe gaan
(Fil.4:7)? Die vrede wat dit gee om te weet dat God al jou sonde
vergewe het en dat jy kan vooruitsien na ‘n ewige
heerlikheid saam met God? Dit is die vrede, dat ons verhouding
met God herstel is.

Van nature is dit nie so nie. Elke babatjie wat gebore word,
word van nature gebore onder die oordeel van God (Ef.2:3). Ons
almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop.
Ons almal. Alle mense. Nie net die heidene nie; ook God se
verbondsvolk, ook u en ek. Ons almal het gedwaal soos skape.

Na die sondvloed sê die Here: "die versinsels van die
mens se hart is sleg van sy jeug af" (Gen.8:21). En selfs
Dawid moet bely: "Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in
sonde het my moeder my ontvang" (Ps.51:7). En Job sê: Daar
kan geen rein mens uit ‘n onrein mens voortkom nie (14:4).
Ja, ons eerste ouers het gesondig; ons word almal in sonde
ontvang en gebore. Van nature is ons op ‘n dwaalweg. Ons
almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop.

Daar is net een goeie pad. Maar niemand van ons is op daardie
pad gebore nie. Ons is almal gebore op die verkeerde pad wat na
die verderf lei. Ons eie pad, is die pad wat ons self kies. Ons
kies self die verkeerde pad. Niemand van ons het die goeie pad
gekies nie. "Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een
nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat
God soek nie" – Rom.3:9,10.

Elke pad wat die mens vir homself uitdink, is sleg. Die
begeertes van ons hart is sleg van ons jeug af. Dít is die staat
waarin ons gebore is. Jy het nie self tot geloof gekom nie. Jy
het nie na God gesoek nie. Jy was nie verstandig nie. Ons almal
het gedwaal soos skape.

Maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Christus
laat neerkom. God het dit op Hom laat neerkom, en Christus het
dit gewillig op Homself geneem. Sy gewilligheid word hier vir ons
beskryf. "Hy is mishandel, hoewel Hy onderwordpe was, en Hy
het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die
slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy
skeerders – ja Hy het sy mond nie oopgemaak nie." Hy
was onderworpe. Hy het sy lewe vrywillig afgelê. Hy was meer as
gewillig om die wil van sy Vader te gehoorsaam.

Daarom het Hy voor Pilatus gestaan soos ‘n lam wat na die
slagplek gelei word, en sy mond nie oopgemaak om die
beskuldigings teen Hom te weerlê nie – Hy was meer as
bereid om die skuld van ons almal op Hom te neem en gestraf te
word vir sonde wat Hy nie gedoen het nie.

Dan verkondig die profeet Jesaja dat Christus vir ons sondes
sterf. Sy wonde en lyding is tot in die dood. Hy sê: Hy is
afgesny uit die land van die lewendes en hulle het Hom sy graf by
die goddelose gegee. En weer beklemtoon Jesaja dat dit nie vir sy
eie sonde is wat Hy sterf nie. Nee, Hy het geen onreg gedoen nie
– vers 9.

Daar was selfs geen bedrog is sy mond nie. Jak.3:2 sê: "…ons
almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is
hy ‘n volmaakte man…" Hiér is so ‘n man.
Iemand in wie se mond géén bedrog was nie. Hy is ‘n
volmaakte man.

"Maar", sê vers 10, "dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel…"

Het dit die Here behaag? Waarom het dit die Here behaag om
‘n volmaakte man te verbrysel? Kan dit waar wees dat dit die
Here behaag het om sy Regverdige Kneg te verbrysel? Ja, dit het
die Vader beháág om Christus te verbrysel!

Waarom? Omdat die Vader ons wou red. En omdat Christus ons
vuil klere aangetrek het. Hy het in ons plek kom staan. Die Vader
het na sy eie Seun gekyk, asof Hy die sonde gedoen het wat ons
gedoen het. Die skuld van al ons sonde was op Hom. Daarom het dit
die Vader behaag om Hom te verbrysel.

Het die Vader dan nie sy Seun lief nie? Ja, Hy het Hom lief
met ‘n volmaakte liefde. Dit is sy geliefde Seun in Wie Hy
‘n welbehae het. Maar vir ons het Hy so lief gehad, dat Hy
sy enigste Seun, wat Hy liefhet, aan ons gegee het om ons vloek
te dra. Nêrens het ons ‘n duideliker bewys van die Vader se
liefde vir ons, as in die sterwe van Christus nie.

Vers 10 sê verder dat Christus se siel ‘n skuldoffer
aangebied het. Die skuldoffer is ‘n offer wat voorgeskryf
word deur die wet van Moses – dit moet ‘n ram wees
sonder gebrek. Die skuld word op die ram gelê, en die ram word
dan geslag en geoffer as versoening vir die sondes. Nou staan
hier dat Christus sy siel aangebied het as skuldoffer. Die toorn
van God het nie net sy liggaam getref nie, ook sy siel. Christus
het Homself liggaam en siel geoffer vir ons sondes.

Christus het ons losgekoop van die vloek deur vir ons ‘n
vloek te word – Gal.3:13. 2 Kor.5:21: Christus, wat geen
sonde geken het nie, het sonde vir ons geword, sodat ons kan word
geregtigheid van God in Hom. Die vloek van ons sonde is op Hom
gelê, sodat Hy voor God gestaan het asof Hy al ons sondes gedoen
het. So was Hy die ram sonder gebrek wat as skuldoffer geslag is

Die profeet Jesaja leer ons hier dat ons sonde op geen ander
manier weggeneem kan word nie. Christus is die offer vir ons
sondes. Net deur sy dood is daar kwytskelding van ons skuld. Hy
is dié offer waarvan al die offers in die
tabernakeldiens getuig.

Dat Christus vir Homself ‘n volk reinig

Van hier af gaan die profeet nou verder om aan te toon dat
Christus se offer nie tevergeef is nie. Wanneer Hy sy siel as
skuldoffer aanbied, sal Hy ‘n nakroos sien. ‘n Nakroos
– dit beteken dat Hy kinders sal verwek deur sy sterwe! Deur
sy dood is ons met die Vader versoen en word ons aangeneem as
kinders. Sy kerk is die vrug van sy sterwe.

Daar was tye in die geskiedenis toe dit gelyk het asof die
kerk te gronde gaan. Ook vandag kan jy dalk rondom jou kyk en vra:
Watter toekoms het die kerk nog in ons land? Baie kerke probeer
om aan te pas by die samelewing. Die slagspreuk is: Verander of
verdwyn! En dit lyk asof die gereformeerde gelowiges al hoe
minder word. Sal die ware kerk bly voortbestaan? Of sal daar dalk
‘n tyd kom wat die lyding en sterwe van Christus vrugteloos
is?

Nee! Hier in die laaste sinne van Jes.53 sien ons Christus as
Oorwinnaar. Na sy lyding en vernedering sal Hy weer opstaan uit
die dood: Hy sal die dae verleng. Ná sy sterwe sal Hy verhoog
word en ‘n groot buit verdeel. Die profeet kom nou by sy
opstanding en verheerliking. Daar volg ‘n ryke beloning op
sy lyding en vernedering.

Vers 11 sê: Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit
sien en versadig word. Hy sal sy kinders sien wat Hy verwek het
– dié wat gered is deur sy bloed. En wanneer Hy na ons kyk
sal Hy versadig word. Ons is die beloning op sy bittere lyding.
Hy verheug Hom so oor ons dat sy siel versadig word. Nêrens het
ons ‘n duideliker bewys van die Seun se liefde vir ons nie.
Die begeerte van sy hart word versadig, omdat Hy ons verlos het.
Hy verheug Hom oor ons.

Hy het vir Homself ‘n volk gereinig. Ons is sy buit! Sy
lyding is nie te vergeefs nie. Daarom sál daar ‘n kerk wees,
verlostes deur die bloed van Christus. Sy oorwinning is die
waarborg vir sy nakroos. En daarom kan ons ook ons daarin verbly.
Ons is sy buit en sy buit sal groot en talryk wees!

Hoe kry ons deel aan hierdie oorwinning? Hoe word ons deel van
sy nakroos? Hoe sal ons geregverdig word deur sy sterwe? Dit word
ons deel wanneer ons Christus ken.

In die tweede helfde van vers 11 staan daar: "…deur
sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hy
sal hulle skuld dra". Christus is die Kneg van die HERE wat gesalf is om die blye boodskap te bring (Jes.61:1).
Hy is die Lig van die nasies (Jes.9:1). Hy is die groot Profeet (Deut.18:15),
die Leraar van geregtigheid. En deur sy onderrig kom ons tot
geloof. Deur die kennis van Christus sal baie geregverdig word.

Dit gaan nou oor die wyse waarop Christus se sterwe ons
regverdig. Ons word geregverdig deur die kennis van Christus. Hy
het ons skuld gedra, en elkeen wat dit ken en glo sal gered word.

Let daarop dat hierdie Kneg die Verlosser van sondes is. Die
verlossing waarvan hier gepraat word, is nie ‘n politieke of
staatkundige verlossing nie. Hier word nie gepraat van ‘n
magtige koning nie, maar van ‘n kneg. Hy word ‘n kneg
genoem, omdat Hy gehoorsaam is aan die wil van sy Vader. Hy word
die Kneg van die HERE genoem, omdat die HERE Hom aangestel het, gesalf het, vir hierdie
taak. Dit is hierdie Kneg wat sê: "Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE my gesalf het…"
(61:1). Hy is die gesalfde Kneg van die HERE.
Dit beteken dat Hy besig is met sy ampswerk. Christus beteken
gesalfde. Hy is gesalf om sy ampswerk te verrig.

Maar wat is die ampswerk, die taak, waarvoor Hy afgesonder is?
Die werk wat Hy hier as Kneg verrig, is om die skuld van ons
sondes te dra – einde vers 11. En dan weer aan die einde van
vers 12: Hy sal die sonde van baie dra.

Die ampswerk wat Hy hier verrig is dié van die Hoëprieter,
wat versoening doen vir die sondes van sy volk. Hy offer Homself.
Hy is dié Lam wat geslag word. Hy tree op as die enigste ware Hoëpriester,
waarvan al die ampsdraers in die tabernakeldiens getuig het. Hy
is dié Hoëpriester wat versoening doen vir die sondes van sy
volk.

En Hy bid vir die sondes van sy volk. In die laaste woorde van
vers 12 word gesê dat Hy die sondes van baie dra en vir die
oortreders bid. Hy doen dit ook nou waar Hy aan die regterhand
van die Vader is, waar Hy vir ons intree as ons Hoëprieter.
Wanneer ons sondig, doen Hy vir ons voorspraak by die Vader. Hy,
die Regverdige, neem ons plek in en tree namens ons in by die
Vader.

Hy doen dit vir baie. Sy nakroos is groot. Sy beloning is
‘n volk soos die sand van die see wat niemand kan tel nie.
Dit is die volk wat Hy vir Homself gereinig het deur hulle skuld
te dra.

Christus wás die lydende Kneg van die HERE.
Hy is dit nie meer nie. Hy is wel nog ons Hoëpriester, maar die
offer is klaar gebring. Nou is Hy besig om buit te verdeel –
vers 12. Deur sy sterwe het Hy die Bose oorwin en sy huis beroof
– Hy is besig om die buit te verdeel. Hy gee gawes aan sy
kerk, soos ‘n generaal wat buit verdeel nadat Hy as
oorwinnaar terugkeer van die slagveld.

Hoe het Hy die buit verower? Deur ons straf te dra het die
dood geen mag meer oor ons nie. So het Hy die dood en die graf
oorwin en kan Hy die gawes van lewe en vrede uitdeel aan sy kerk…Vergewing
van sondes, die ewige lewe, gawes van sy Gees. Hy is die
Oorwinnaar wat die buit verdeel.

Jesaja eindig dus nie by Christus se lyding en sterwe nie; hy
getuig ook van sy verhoging: Christus se opstanding en
verheerliking. God sal Hom verhoog en sy loon sal groot wees,
omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood om ons vry te koop.

Ten slotte

Daar is geen ander evangelie nie. Laat elkeen wat sy eie sonde
ken, hoor en glo dat Christus gely en gesterf het om ons vloek
weg te neem. Ons skuld is betaal.

Laat ons bly wees! Dit is die goeie nuus. Die straf wat vir
ons die vrede aanbring was op Christus. Hy het vrede gemaak
tussen God en ons. Deur Hom mag ons nou na die Vader gaan. Ons
het geen skuld meer om te betaal nie. Vir ál ons sondes het Hy
klaar betaal. Dit is die evangelie.

Ons het almal gedwaal soos skape. Nie een van ons het na God
gevra nie. Nie een van ons was verstandig nie. Ons het elkeen ons
eie pad geloop in dwaasheid en hardnekkigheid. As ons nou oë
ontvang om te sien, en ore om hierdie evangelie te hoor, laat ons
dan ons tot die Here bekeer. As jy sien hoe dit die Vader was wat
sy eie Seun gestraf het vir jou sonde, dan roep hierdie evangelie
jou tot bekering en heiligmaking. Want daarvoor het Christus
gesterf, sodat ons saam met Hom die sonde kan afsterf en kan deel
in sy opstanding.

Laat elkeen wat hierdie evangelie hoor afstand doen van die
sonde. Want dit is óns sonde wat Christus verbrysel het. Dit is
die skande van ons oortredings wat oor Christus gekom het. Laat
ons dan daarmee breek, en uit dankbaarheid vir sy verlossing die
Vader verheerlik deur heilig en gehoorsaam te leef. Want dáárvoor
het Christus gesterf. Hy het Homself vir ons gegee om ons te
verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk te
reinig, ywerig in goeie werke (Tit.2:14). Hy het gesterf om ons
vry te maak! Vry van die skuld van sonde, maar ook vry van die
smet van sonde. Hy het gesterf sodat ons gereinig word deur sy
bloed. Hy het vir ons sondes gely, sodat ons voortaan heilig en
gehoorsaam mag leef.

Stel dan u vertroue op Hom, ook vir u heiligmaking. Leef dan
uit hierdie genade, nie as slawe van die sondes nie, maar as
vrygekooptes – vry deur die bloed van Christus.

AMEN

 

Liturgie: 

(kyk in preek)