Die God wat deur Christus vrede maak, is die God wat deur Christus heilig maak.

Predikant: 
Ds RM Retief
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-04-29
Teks: 
Hebreërs 13
Preek Inhoud: 

Hebreërs 13:20,21

Prop. R.M. Retief - Sondag 29 April 2001

Lees: Hebreërs13:1-25.
Sing: Ps.95:1,4; Ps.32:1,3,6; Ps.100:2,3; Ps.23:1-3;
Ps.119:53,62,63.

Tema: Die God wat deur Christus vrede maak, is die God wat
deur Christus heilig maak.

  1. God het vrede gemaak deur Christus;
  2. God wil ons deur Christus volmaak; en
  3. God wil Homself deur ons verheerlik.

 

Inleiding

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons het die opdrag in die Skrif om vir mekaar te bid. Wat sal
ons bid? Wat sal die kern van ons bede wees wanneer ons mekaar
liefhet en mekaar aan die Here wil opdra? In hierdie twee verse
bid die apostel vir die gemeente. Die hoofsaak waarvoor hy bid is:
Mag God julle volmaak in elke goeie werk om sy wil te doen. Dit
is die heel beste wat hy die gemeente kan toebid. En hierdie
gebed is terselfdertyd ‘n opsomming van die hele boek Hebreërs.

Die boek Hebreërs sê vir ons Wie Jesus is en wat Hy gedoen
het. Hy is ons Hoëpriester wat ons eens en vir altyd met God
versoen het.

Maar dit is nie al wat die boek Hebreërs sê nie. Hierdie
evangelie van vrede roep tot geloof. Vandag as julle sy stem hoor,
gryp dit aan! (3:7). Hierdie evangelie roep ook tot bekering en
tot volharding. Geloof, bekering, volharding, dit is die vrug van
hierdie evangelie. Dit is waartoe die boek Hebreërs ons oproep.

Maar as iemand hierdie evangelie hoor en voortgaan om in sonde
te leef, nádat hy die kennis van die waarheid ontvang het, bly
daar vir hom geen offer vir die sondes meer oor nie – net
‘n verskriklike verwagting van oordeel en vuurgloed wat die
teëstanders van hierdie evangelie sal verteer (10:26,27). Die
wat hierdie evangelie gehoor het, maar nie daarvolgens geleef het
nie, vir hulle sou dit beter wees as hulle eerder nooit die
evangelie gehoor het nie. Want die Here is ook ‘n God van
wraak. Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God!
(10:31).

Ja, die boek Hebreërs word die brief van vermaning genoem.
Vermaning om hierdie evangelie aan te gryp. Vermaning om
daarvolgens te leef. En vermaning om daarin te volhard. Dít is
die boodskap: Christus is ons Hoëpriester wat Homself geoffer
het vir al ons sondes om ons te heilig. Hy het ons gered met
‘n ewige en volkome verlossing. Ook leef Hy om ons tot die
einde te behou en te volmaak. Wie dit glo, moet daarvolgens leef.
Want die verlossing is ‘n verlossing van sonde. Christus het
ons gereinig om rein te wees, geheilig om heilig te wees, verlos
om volmaak te wees.

Hier in die slotbede, vers 20,21, kry ons nou ‘n
samevatting van die hele boek. Die Vader het vrede gemaak deur sy
Seun, Hy het die ewige genadeverbond bekragtig deur die bloed van
Christus. Hy wil ons volmaak in elke goeie werk. En Hy wil dit
doen sodat sy Naam geëer sal word in alles wat ons doen.

In hierdie twee verse sien ons die verlossingswerk van God
Drie-Enig – Vader, Seun en Heilige Gees. Dit is die Vader
wat deur sy Seun vrede bewerk het, en dit is die Gees van die
Vader en van die Seun wat in ons werk om sy wil te doen.

Ek verkondig hierdie evangelie aan u met die tema: Die God
wat deur Christus vrede maak, is die God wat deur Christus
heilig maak. Ons let op drie sake:

  1. God het vrede gemaak deur Christus
  2. God wil ons deur Christus volmaak
  3. God wil Homself deur ons verheerlik

Dat God deur Christus vrede gemaak het

Mag die God van vrede julle volmaak in elke goeie werk.
Hierdie gebed is die wil van God. Die Vader het hierdie bede vir
ons laat opteken, sodat ons sy wil kan ken. Dit is sy wil dat ons
dit ook vir mekaar moet bid. In ons omgang met mekaar in die
gemeente, moet ons bid vir mekaar se volmaking. As ons mekaar
liefhet, dan bid ons vir mekaar. En dan bid ons die heel beste
vir mekaar: My broer en suster, ek bid dat die God van vrede jou
sal volmaak in elke goeie werk.

Hierdie bede word gerig tot die God van vrede. Hy is die God
van vrede, want Hy is die Een wat vrede gemaak het. Waar daar
vyandskap was tussen God en ons, is daar nou liefde en vrede. In
die plek van sy regverdige oordeel en vloek wat op ons gerus het,
word ons nou aangeneem as geliefde kinders en oorlaai met
goedheid en guns. Dit is die vrede wat die God van vrede ons
skenk.

Nou word daar in vers 20 ook beskryf hóé Hy hierdie vrede
bewerk het. Hy het die vrede bewerk deur ons Here Jesus Christus.
Christus word hier die groot Herder van die skape genoem. Die
werk wat Christus kom doen het, en die ampte waarin Hy steeds
optree as Koning, Priester en Profeet, kan vergelyk word met die
werk van ‘n herder.

Die God van vrede het vir ons ‘n groot Herder gegee;
‘n Herder wat sy lewe afgelê het vir sy skape. Hierdie
Herder het gekom na verlore skape. Hy het gekom om te soek en te
red wat verlore is. Voor Hom was daar diewe en rowers wat die
skape nie gespaar het nie; wat geroof en verskeur en verstrooi
het. Maar Christus is die goeie Herder wat die verstrooide skape
van Israel weer versamel en verbind en genees. Hy het sy skape
gekoop met sy eie bloed en hulle in een kudde versamel.

Sy werk as Koning, Priester en Profeet, is reeds in die OT
vergelyk met dié van ‘n herder. ‘n Herder lei sy skape,
hy versorg hulle, red en bewaar hulle, hy voed hulle. En hulle is
sy eiendom wat aan hom behoort.

Ons lees in Eseg.34 van hierdie goeie Herder. Daar staan:
"…so sê die Here HERE: Kyk, hier is Ek, en Ek sal na
my skape vra en vir hulle sorg. Soos ‘n herder vir sy trop
skape sorg op die dag as hy onder sy verstrooide skape is, so sal
Ek vir my skape sorg; en Ek sal hulle red uit al die plekke
waarheen hulle verstrooi is…Ek self sal my skape oppas, en
Ek self sal hulle laat lê en rus, spreek die Here HERE. Die wat
verlore is, sal Ek soek, en wat weggedryf is, sal Ek terugbring,
en wat gewond is, sal Ek verbind, en die siekes sal Ek versterk…Ek
sal een enkele herder oor hulle verwek, en hy sal hulle laat wei,
naamlik my kneg Dawid; hy sal hulle laat wei, en hy sal vir hulle
‘n herder wees. En Ek, die HERE, Ek sal vir hulle ‘n
God wees…" (:11-24).

En in Jes.40 lees ons ook van hierdie goeie Herder: "o
Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op ‘n hoë berg!
o Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met
mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda:
Hier is julle God! Kyk, die Here HERE sal kom as ‘n Sterke,
en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is
voor sy aangesig. Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder;
Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die
lammerooie sal Hy saggies lei" (:9-11).

Christus is die groot Herder wat sou kom. Hy word die groot
Herder genoem. Op ander plekke word Hy die Opperherder
genoem – 1Petr.5:4. Die ouderlinge in die gemeente is ook
herders. Die Here gee herders en leraars aan die gemeente om die
gemeente te versorg en te lei en te voed. Maar hulle is net
onderherders. Christus is die groot Herder van die skape aan wie
die hele kudde behoort.

Christus versamel sy kerk. Hy red en genees ons. Hy lei ons.
Hy lei ons na groen weivelde, na waters waar rus is. Hy lei ons
in die spore van geregtigheid om sy Naam ontwil. Hy bewaar ons,
ook in ‘n dal van doodskaduwee. Hy voed en versorg ons. Maar
hoe het dit gebeur dat Hy ons groot Herder geword het?

Die tweede helfde van vers 20 wys daarop dat die God van vrede
hierdie Herder deur die bloed van die ewige testament uit die
dode teruggebring het. Hy praat hier van bloed, van ‘n
ewige testament, en van Christus se opstanding. Daar is ‘n
ewige genadeverbond. Dit is ‘n testament wat met bloed
bekragtig moes word. Omdat die God van vrede Christus uit die
dood teruggebring het, weet ons dat God sy offer aanvaar het.
Anders sou Christus in die dood gebly het. As Christus se offer
nie volkome heilig en volmaak was nie, sou Hy die dood nie oorwin
nie en sou die genadeverbond nie van krag wees nie. Maar die God
van vrede hét Christus uit die dood teruggebring. Deur sy bloed
ís die ewige testament nou van krag. Dit is juis wat die boek
Hebreërs noukeurig aangetoon het. Nou verwys hy in die slot net
kortliks daarna. Want dit is die wyse waarop die God van vrede
ons ‘n Herder geskenk het. Deur die bloed van Christus is
die ewige verbond van genade van krag. Deur sy lewe af te lê vir
die skape, het die skape sy eiendom geword vir ewig.

Noudat ons weer herinner is aan die vrede wat die God van
vrede vir ons bewerk het, hoe Hy ons ‘n groot Herder geskenk
het om ons te versamel en te red en te versorg, nou kry ons die
bede dat hierdie God van vrede ons ook sal volmaak in elke goeie
werk, om sy wil te doen, deur in ons te werk wat welbehaaglik is
voor Hom deur Jesus Christus. Dit bring ons dan by die tweede
punt:

Dat God ons deur Christus wil volmaak

Mag die God van vrede julle volmaak. Mag Hy julle volmaak in
elke goeie werk. Mag Hy dit doen deur Jesus Christus. Hierdie
woorde is ook bedoel vir mense wat reeds die nuwe lewe ontvang
het. Wie tot geloof gekom het moet groei tot volmaaktheid. Dit
beteken dat ons geloof tot volle wasdom moet groei. Daar kom
nooit ‘n dag in hierdie lewe wat ons kan sê ek het nou
genoeg gegroei in die geloof nie. Dit sou ‘n tragiese dag
wees wanneer jy tevrede is met jouself. Wanneer jy sou dink dat
jy nie nodig het om verder te groei in kennis en liefde en
diensbaarheid nie.

Ons het reeds die Vader leer ken as die God van vrede. Ons
deel reeds in die genadeverbond. Maar dit is nie genoeg nie. God
wil ons volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in
ons te werk wat Hóm behaag. Hy wil ons kragtig laat groei en
toeneem in die genade. En Hy wil dit doen deur Jesus Christus.

Christus se verlossingswerk is volkome. Hy is nie net ons Hoëpriester
nie, Hy is ook die Leidsman en Voleinder van ons geloof. Deur die
geloof is ons met Hom verenig en deel ons in sy sterwe en
opstanding, sodat ook ons die sonde afsterf en saam met Hom
opgewek word om in ‘n nuwe lewe van gehoorsaamheid te wandel.
Sy verlossingswerk eindig dus nie by regverdigmaking nie, dit kom
tot volle wasdom deur heiligmaking. Dit is die doel van ons
verlossing, om heilig en sonder gebrek te wees (Ef.1:4).

Hoewel ons nie in hierdie lewe die volmaaktheid bereik nie,
jaag ons daarna; en is dit die wil van God dat ons daarna sal
jaag. In hoofstuk 12 het hy gesê dat ons die heiligmaking moet
najaag – die heiligmaking waarsonder niemand God sal sien
nie (:14).

Sonder God kan ons niks doen nie. Sonder God kan ons nie die
heiligmaking najaag nie. Juis daarom word hier gebid dat God so
in ons sal werk dat ons sy wil sal doen; dat ons deur Christus en
in Christus sal groei tot volwassenheid in die geloof, sodat ons
oorvloedig en ywerig sal wees in alle goeie werke.

Wanneer die apostel hier bid vir die gemeente se volmaking,
bid hy dit omdat dit God se wil is. God wil hê dat ons elkeen
afsonderlik, en gesamentlik as een liggaam, sal groei tot die
volle grootte van Christus; dat ons geloof tot volle wasdom sal
kom en vrug sal dra. Let op die woorde "volmaak in
elke goeie werk". Elke goeie werk – dit
beteken op elke terein van die lewe, elke dag van die week, in
alle omstandighede, oral en altyd. Ons hele lewe moet nuut gemaak
word. Daar is geen kamer in my hart wat ek mag toesluit vir
hierdie vernuwende werk van God in my lewe nie. Hy wil die gesag
van sy Woord deur die krag van sy Gees so in ons laat werk dat
ons heilig en bekwaam sal wees vir elke goeie werk.

Jongmens, God wil jou leer watter klere om aan te trek. Jy sal
miskien vra: Wat het dit met goeie werke te doen watter klere ek
aantrek? In álles wat jy doen, moet jy God se eer soek. Goeie
werke is nie net om Bybel te lees en te bid nie. Nee, dit raak
elke aspek van jou lewe – álles wat jy doen. God wil jou
leer van watter musiek Hy hou. Dit is sy keuse watter klere jy
aantrek, dit is sy keuse na watter musiek jy luister. Jy mag nie
self kies nie. Dit moet jou vreugde wees om God se wil te soek in
alles wat jy doen. Hy wil in jou werk wat Hóm behaag.

Broers en susters, God wil jou leer hoe jy jou tyd moet
gebruik. Hy wil jou leer hoe om jou geld te spandeer. Hy wil jou
lewe vir jou reël, sodat jy in alles sy wil doen. Dit is tog wat
hier staan, is dit nie? Hy wil jou volmaak in elke goeie werk, om
Wie se wil te doen? Om sy wil te doen. Hy wil in jou werk wat
welbehaaglik is vir wie? Wat welbehaaglik is voor Hom. Hy wil jou
lewe reël en beheers volgens sy wil. Dán sal jy geskik wees vir
elke goeie werk. Om sy wil te soek en te doen op elke terein van
die lewe – dit is wat hier bedoel word.

Maar hoe sal ons sy wil vir ons lewe ken? Ja, dit word
saamgevat in die Tien Gebooie; maar hoe sal ek sy wet ken en
verstaan? Hoe sal ek weet watter klere Hom gelukkig maak? Hoe sal
ek weet van watter musiek Hy hou? Hoe sal ek weet hoe om my tyd
en geld te gebruik? Hoe sal ek weet om diensbaar te wees met my
hele lewe? Hoe sal ek toegerus word vir elke goeie werk?

Broers en susters, die Here plaas nie sy wil in ons hart
sonder middele nie. Sy wil is nie outomaties in ons hart nie. Ver
daarvandaan! Van nature is ons geneig tot alle kwaad. Van naure
is ons dwaas en blind en doof! Van nature is ons denke verduister
en ons harte verhard. Hoe sal dit verander?

Net God kan dit verander. Daarom is die gebed tot Hom gerig
dat Hy ons sal volmaak in elke goeie werk. Maar Hy doen dit nie
sonder middele nie. Sy Gees werk in ons deur die geopenbaarde
Woord. Die Heilige Gees wil nie in jou werk sonder die Bybel nie.
Hy wil jou nie leer sonder die heilige Skrifte nie. Ons denke
moet gevorm en nuut gemaak word deur God se geopenbaarde Woord. Dáárin
het Hy sy wil vir ons lewe geopenbaar.

Wat Hóm behaag is in die Skrif geopenbaar. Jou eie gevoel is
nie die norm nie. As jy iemand vermaan, dan sê hy soms vir jou:
"Maar ék voel nie di’s verkeerd nie". Of as jy
iemand vermaan wat iets verkeerd doen, dan sê hy: "Maar ék
voel nie skuldig daaroor nie, ék voel di’s reg". Maar
volgens watter wet leef jy dan? God het ons vry gemaak, nie om
ons eie wil te doen nie, maar vry om sy wil te doen. En sy wil
vind ons nêrens anders as in die Skrif nie. Wil jy sy wil soek
en sy wil doen, dan vra dit aanhoudende en noukeurige studie van
sy Woord. Op geen ander manier sal ons weet wat welbehaaglik is
voor Hom nie.

As hy hier praat van goeie werke, hoef ons nie te wonder wat
dit is nie. Dit is die goeie werke wat hier aan ons geopenbaar is.
Die boek Hebreërs het juis die goeie werke waarin God ons wil
volmaak by die naam genoem en dit beskryf.

Deurgaans pas hy die evangelie toe op ons daaglikse lewe. As
Christus ons gered het, hoe moet ons nou leef? Hy sê: Ons moet
op mekaar ag gee om mekaar tot liefde en goeie werke aan te spoor
(10:24). Hy stel ons aan as mekaar se wagters. Ons is
verantwoordelik vir mekaar om mekaar op te bou in die geloof,
mekaar aan te spoor tot liefde en goeie weke, mekaar te vermaan.
Hy het dit ook reeds in hoofstuk 3 gesê, dat ons mekaar elke dag
moet vermaan, sodat niemand in die sonde verhard word en afdwaal
van die lewende God nie (3:12,13). Ons moet mekaar vashou, mekaar
reghelp, mekaar se hande vat om saam die goeie stryd te stry.
Daarom mag niemand die onderlinge samekomste van die gemeente
verwaarloos nie, maar moet ons mekaar vermaan om te volhard in
die gemeenskap van die heiliges – 10:24,25.

Die goeie werke, volgens die wil van God, wat vir Hóm
welbehaaglik is, waarin Hy ons wil volmaak, word vir ons beskryf.
Hy noem ‘n klomp dinge – praktiese implikasies van ons
geloof. Hy sê: As ons nou gekom het tot volle
geloofsversekerdheid (10:22) en gereinig is, moet ons afstand
doen van die sonde en heilig leef. En die heilige lewe word
uitgespel. Ons moet o.a. die smaad van Christus met lydsaamheid
dra – dit wil sê geduldig wees in verdrukking en bereid om
ter wille van Christus verag en mishandel te word. Om ons daartoe
aan te spoor word in hoofstuk 11 ‘n lang lys van voorbeelde
genoem uit die OT – manne en vroue wat deur die geloof
gehoorsaam gebly het te midde van hewige beproewings en lyding.

En dan, in hoofstuk 12 en 13, volg ‘n klomp opdragte. Kyk,
dit is nou hoe hierdie evangelie jou lewe raak. As jy geanker is
in die hoop op God se onbeskryflike genade in Christus, hier is
dan die wyse waarop jy moet leef om Hom te behaag: Hardloop die
wedloop met volharding (12:1), stry teen die sonde – ja, ten
bloede toe (12:4), wees dankbaar vir tugtiging, gryp dit aan,
sodat julle heilig kan leef (12:5-11), rig die slap hande en die
verlamde knieë weer op, maak reguit paaie vir julle voete, jaag
die vrede na met almal en die heiligmaking waarsonder niemand God
sal sien nie (12:12-14). Die lys van goeie werke in hoofstuk 12
gaan nog voort.

As ek miskien net nog enkele voorbeelde kan noem uit hoofstuk
13 wat ons saam gelees het. Hy sê: Die broederliefde moet bly,
vergeet die gasvryheid nie, dink aan die wat ter wille van die
evangelie in die gevangenis is (die bedoeling is: ondersteun
hulle), laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees, julle
gedrag moet vry wees van geldgierigheid, wees tevrede met wat
julle het, dra die smaad van Christus, offer voordurend dank aan
God, wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig. En,
broers, bid vir ons. Al hierdie opdragte is die openbaring van
God se wil.

U sien dus dat ons nie nodig het om self te besluit wat God
behaag nie. Die praktiese uitlewing en toepassing van ons geloof
word duidelik uitgespel. Die goeie werke, wat ons volgens sy wil
moet doen, word byna in elke vers aan ons bekendgemaak.

As hier nou staan dat God ons wil volmaak in elke goeie werk,
deur in ons te werk, dan weet ons hoe Hy dit doen. Hy werk in ons
deur sy Gees; en sy Gees werk deur die Woord. Deur die Woord
skenk Hy geloof. Deur sy geopenbaarde Woord gee Hy insig en
wysheid. Die Woord wat ons hier saam gelees het, dít gebruik Hy
om nuwe lewe te wek, en dáárdeur bly Hy nuwe lewe gee.

Dit moet nou vir ons duidelik wees dat God se werk in ons, ons
nie passief maak nie! Want sy wil is nie outomaties in ons nie.
Om in ons te hê wat Hom behaag, moet ons denke
gevul wees met sy Woord. Sy woorde moet in ons hart wees. Jy moet
dit vir jou kinders inskerp en daaroor praat as jy in jou huis
sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.
Heeldag en aldag. Jy moet sy woorde as 'n teken bind op jou hand,
en dit moet as ‘n voorhoofsband tussen jou oë wees. Dit
beteken: jou handeling en jou denke moet deur sy Woord bepaal
word. Jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte
skryf. Dit beteken dat God se Woord jou huis moet regeer en dat
sy Woord moet geld by die regspraak. So sal wat Hom welbehaaglik
is, in jou gewerk word, wanneer jy ywerig saamkom om sy Woord te
hoor en gretig is om dit in jou hart te bêre. Want sonder
Bybelstudie en sonder die prediking van sy Woord, kán ons nie
weet wat Hom behaag nie, kan ons nie weet wat sy wil is of wat
goeie werke is nie. Dan sal ons soos dwase en soos blindes in die
duisternis van ons eie opinies en eie gevoel rondtas en verdwaal.

God werk in ons om sy wil te doen. Dan is dit ons wat doen.
Dit is ons wat onsself moet opbou in ons allerheiligste geloof (Jud.:20).
So sê Fil.2:12 en 13 ook: "…werk julle eie heil
uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om
te wil sowel as om te werk na sy welbehae". Ons moet aan die
werk spring, omdat God in ons werk. Omdat Hy die goeie in ons
werk om sy wil te doen, moet ons soveel te meer ons eie heil
uitwerk met vrees en bewing. Dit klink dalk vir u teenstrydig:
Ons moet dit doen, omdat God dit in ons doen. Maar dit is juis
hoe die hele Skrif ons leer. God werk in ons, daarom moet ons met
vrees en bewing aan die werk spring. Dit wil sê: vervul met
groot ywer en heilige ontsag, omdat ons weet Wie hierdie heilige
God is wat in ons werk.

Mag die God van vrede julle volmaak in elke goeie werk, om sy
wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur
Jesus Christus. Mag Hy julle volmaak deur Christus. God
wil op geen ander wyse in ons werk as deur Christus nie. Die nuwe
lewe waar ons herskep word om in vrede met God te leef, is ‘n
lewe deur Christus. Net deur Christus is ons met God versoen. Net
deur Christus is ons geheilig en wil God in ons woon en werk.

Elkeen wat in Christus glo, deel in sy opstanding uit die dood.
Net in Christus word ons opgewek om vir God te leef, sodat ons
nie meer vir onsself leef nie, maar vir God, om sy wil te soek in
alles wat ons doen.

Hierdie gebed, vir ons volmaking in elke goeie werk, om God se
wil te doen, is ‘n gebed wat vír ons gebid word. Maar dit
is ook ‘n gebed wat ons vir mekaar moet bid en vir onsself
moet bid. Dit moet ons verlange wees om mekaar daartoe te help en
self daarin te volhard. Want dit is waartoe ons verlos is, om
volgens God se wil tot sy eer te leef.

En daarom let ons nou in die derde plek net kortliks daarop
dat dit alles gaan oor die eer van God.

Dat God Homself deur ons wil verheerlik

Mag die God van vrede julle volmaak in elke goeie werk, om sy
wil te doen, deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid
toekom tot in alle ewigheid. Die heerlikheid kom Hom toe
vir alles wat Hy vir ons gedoen het en in ons doen.

Wanneer ons die goeie doen, word God verheerlik. Die eer kom
nie ons toe nie. Wanneer ons kwaad doen, is dit uit onsself.
Wanneer ons goed doen, is dit uit God. Daarom kom al die eer aan
God toe vir die goeie wat Hy in ons werk om ons te volmaak.

In ons teks word die heerlikheid in die eerste plek aan
Christus toegesê. Christus staan op die voorgrond by ons
verlossing. Tog is dit God Drie-Enig wat werksaam is. Die
heerlikheid kom toe aan die God van vrede, deur Jesus Christus.
En hoe word Hy verheerlik? Wanneer sy verlossing vrug dra in ons
lewe deur die werking van die Gees. God wil Homself verheerlik
deur ons. Mag dit so wees! Hierdie bede is ‘n bede dat ons
God sal verheerlik, omdat Hy ons verlos met ‘n volkome
verlossing. Die heerlikheid kom Hom toe tot in alle ewigheid.

In hierdie lewe is die lof en die eer wat ons aan God bring
maar baie gebrekkig. Ons het die opdrag om daarin te groei en toe
te neem. Ons sien vooruit na daardie dag wanneer ons finaal bevry
sal word van alle sonde. Die dag waarop ons in ‘n oomblik,
in ‘n oogwink sal verander. Dan sal ons volkome heilig wees,
volmaak in elke goeie werk, om God se wil te doen. Dan sal ons
vir ewig doen wat Hom behaag. Dan sal Hy deur ons verheerlik word
tot in alle ewigheid. Maar dit begin ook nou reeds. Nou is God
besig om in ons te werk. Nou is Hy besig om ons te onderrig in sy
Woord, sodat ons sy wil sal ken; sodat ons nou reeds kan leef tot
verheerliking van sy Naam. Dit is waartoe ons verlos is.

Ten slotte

Die God van vrede wat Christus uit die dood opgewek het, wil
ook in ons werk om ons op te wek tot ‘n nuwe lewe van
gehoorsaamheid. Tog word dit nie hier aan ons verkondig as iets
vanselfsprekend nie. Nee, dit is ‘n gebed. Mag dit so wees.
Mag die God van vrede dit doen.

Dit is ‘n gebed wat ook ons voortdurend moet bid; vir
mekaar en vir onsself. Dit behoort ons grootste verlange te wees,
om te groei in die kennis van God, om toe te neem in die kennis
van sy wil vir ons lewe, om te jaag na heiligmaking, om te kom
tot volkome diensbaarheid aan God – sodat God deur ons
verheerlik mag word.

Bid God dat Hy ons, sy gemeente, sal volmaak in elke goeie
werk. Bid God dat Hy ook in u sal werk wat welbehaaglik is voor
Hom.

God wil dit doen. Maar ons moet Hom ook vra om dit te doen.
Here, werk in ons deur die prediking van hierdie evangelie. Vader,
seën ons verenigings, wees met ons tydens huisgodsdiens en
katkisasie. Seën ons studie van u Woord. Leer ons om u wil vir
ons hele lewe te ken. Werk in ons sodat ons hoe langer hoe meer
ons ou mens kan kruisig en afsterf en kan opstaan tot die nuwe
lewe in Christus. Werk deur hierdie evangelie in ons om ú wil te
gehoorsaam. Vorm ons en rus ons volkome toe vir elke goeie werk,
sodat ons hele lewe ú sal behaag.

God het ons sy vrede geskenk deur Christus. Hy is ons Herder
wat ons red en versorg en lei na groen weivelde, na waters waar
rus is. Die groen weivelde is om sy wil te ken en te gehoorsaam.
Die waters waar rus is, is die vreugde van verlossing, die
vreugde om vir God te leef. Om sy wil te doen, daartoe is ons
verlos en daarin vind ons rus en vrede en die lewe.

Mag die God van die vrede wat Christus, ons groot Herder,
opgewek het uit die dood, ook ons opwek en volmaak in elke goeie
werk, om sy wil te doen, deur in ons te werk wat Hóm behaag.
Laat dit ons bede wees en ons vreugde. Laat ons mekaar daartoe
aanspoor en vir mekaar bid. En mag die God van vrede, wat ons
hierdie vrede skenk deur Jesus Christus, so verheerlik word tot
in ewigheid!

AMEN

 

Liturgie: 

(kyk in preek)