Die 5de bede, vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-05-17
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 51
Preek Inhoud: 

Sondag 51

Ds C Kleyn - Sondag 13 Mei 2001

Hierdie preek is eintlik 'n kombinasie van twee preke. Mens
sal dit kan gebruik as een preek, deur om die stukke wat in
kursiewe letters getik is uit te los.

Oggenddiens:

Lees: Psalm 32; Sondag 51a.
Lees by Nagmaalstafel: Psalm 86:1-10;
Psalm 86:11-17; Psalm 130.
Sing: Ps 18:1; Ps 15:1,2,3; Ps
139:1,12; Ps 118:11,12 (voor HN); Ps 86:3 (1ste tafel);
Ps 86:6 (2de tafel); Ps 130:2 (3de tafel);
Ps 118:14.

Aanddiens:

Lees: Matthéüs 18:21-35;
Sondag 51b.
Sing: SB 27; Ps 116:1,4; Ps 116:7,10;
Ps 34:6; Ps 32:1,6; Ps 133:1,2.

 

Tema: Die 5de bede, vergeef
ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe.

  1. Hierdie bede is 'n vraag om vergewing; en
  2. Hierdie bede impliseer ware vergewings gesindheid.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

[Die 5de bede is eerstens 'n
vraag om vergewing en impliseer tweedens ware
vergewingsgesindheid.]

Daagliks bid ons tot ons Vader in die hemel:
Vergeef ons ons skulde. Waarom doen ons dit? Sodat dit tussen
Vader en ons reg mag wees. Sodat die skulde nie langer ’n
breuk in ons verhouding bring nie. Want dit is wat die skulde
doen, hulle versteur die verhouding tussen Vader en ons. Dan lê
daar iets tussen Vader en ons in. En ons wil dit nie hê nie, ons
wil dat dit tussen Vader en ons reg is.

Vanuit onsself is ons egter geneig om die
skulde te kleineer. Ja, ons is sondige mense. Ons het in Adam
geval. Dit is ’n geaksepteerde feit. Daagliks maak ons ons
skuld groter. Dis ook ’n feit wat ons weet en aksepteer en
selfs bely. Dit kan egter gebeur dat ons aan die waarheid so
gewoond geraak het dat dit ons amper meer raak. Ons word daar nie
warm of koud van nie. Ons mag tog om vergewing vra? En dan is die
skuld tog weer weg? Ons is opgewek daaronder asof niks ernstigs
gebeur het nie. Die terugkerende ritme van skuld maak en om
vergewing vra pla ons nie. Dis ’n gewone aanvaarde patroon
in ons lewe. Amper vanselfsprekend.

Gemeente, as ek so daar teenoor staan, dan maak
ek die genade goedkoop. Ek gaan dan te maklik met die genade om.
Ek besef dan nie die erns van my skulde nie. Hoe ernstig is mos
my skulde? So ernstig dat dit Christus se lewe gekos het.

Ja, so ernstig moet u u skulde bly sien en
ervaar. Vergewing is nie goedkoop nie. Kyk maar na die kruis. Let
maar op die tekens van die nagmaal. In die formulier vir die
viering van die heilige nagmaal word ons daarom opgeroep om na te
dink oor ons sondes en vervloeking en om te besef dat ons die
toorn van God verdien. Vanweë die sonde sal ons ’n afkeer
kry van onsself en ons voor God verootmoedig. "Want God se
toorn teen die sonde is so groot dat Hy – eerder as om dit
ongestraf te laat bly – sy geliefde Seun Jesus Christus met
die bittere en smadelike kruisdood gestraf het."

As ek my skulde nie ernstig neem nie, dan is ek
verder van die pad af as Dawid in Ps 32. Dawid sê daar van
homself dat hy geswyg het. Hy het sy skuld nie bely nie. Agteraf
moet hy egter wel erken: "Toe ek geswyg het, het my gebeente
uitgeteer in my gebrul die hele dag; wat u hand was dag en nag
swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed (verse 3,4).
Dawid se swye het hom geen rus gegee nie. Inteendeel! Dit het hom
bly pla, agtervolg. Waarom? Omdat die Here hom nie met rus wou
laat nie. Die Here agtervolg Dawid. Hy sorg daarvoor dat die lewe
vir Dawid ongelukkig, ondraaglik word. Dawid probeer om sy gewete
te sus, stil te maak. Maar God laat dit nie toe nie. Dawid bly
van binne onrustig. Hy verloor die besef van God se genade. Hy
voel hom nie gelukkig met sy godsdiens nie, met sy God nie. Daar
lê iets tussen hom en God. Die onbelede sonde. Dit neem alle
vreugde en vrede teenoor God en ander weg. So gaan Dawid stukkend
daaraan. Siel en liggaam word gekwel. Dawid ontvang eers weer rus,
vrede en vreugde wanneer hy sy skuld bely.

Wie vrolik oor sy sonde heenleef, is dus verder
van die pad af as Dawid. Dawid was tenminste nog bedroef. Die
sonde bly hom pla. Hy ly onder die skuld wat nog nie versoen is
nie. As ek egter opgewek daaronder is, dan ly ek daar selfs nie
onder nie. Dit is dan baie erger.

Gemeente, ons mag bid: vergeef ons ons skulde.
Maar ons moet nie dink dat die Vader sommerso vergeef nie.
Vergewing is geen kleinigheid nie. Dis ’n onvoorstelbare
groot gawe. So groot dat dit die bloed van ons Here Jesus gekos
het. Vader verhoor ons nie sommerso nie. Hy doen dit slegs op
grond van Christus se offer aan die kruis. Laat ons dit goed bly
besef. Dan kan die bede vir vergewing nooit ’n vlot gebed
wees nie. Dit sal gedra moet word deur opregte droefheid oor ons
sondes. ’n Hartlike berou daaroor dat ons God deur ons
sondes vertoorn het. Ons het nie slegs mense seergemaak nie. Nee
ons het in die eerste plek God seergemaak. God vertoorn. Is daar
by ons nog die opregte droefheid? Weet ons nog wel wat Dawid
bedoel wanneer hy skryf: "Die offers van God is ’n
gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal u, o God, nie
verag nie."

Vergeef ons ons skulde. So ’n gebed neem
’n mens nie maklik op die lippe nie. Asof skuldvergewing
’n kleinigheid is. Dit sal ook daarin moet blyk dat ons die
Vader in die hemel erken as die Enigste wat ons skulde kan
wegdoen. Ons kan niks met ons skulde begin nie. Ons kan dit nooit
betaal nie. Ons is soos die Kat sê arme sondaars. Wat beteken
dit? Dit beteken nie dat ons sielige mense is nie. Daarmee word
ook nie bedoel dat ons arme stakkers is, slagoffers wat niks aan
die sonde kon doen nie, so van: ons is nou eenmaal so. Nee, die
benaming is allermins as ’n soort verskoning bedoel. Dit dui
daarop dat ons uit onsself geen enkele moontlikheid het om die
skulde weg te werk nie, gestel dat ons dit sou wil doen. Dit is
’n aanduiding van my totale magteloosheid teenoor die berg
skuld, waaronder ek as sondig mens bedolwe is. Tegelykertyd
verwys dit ons na die troon van God. Dis die enigste plek waar
ons arme sondaars tereg kan. Daar is geen ander uitweg nie. Vader,
vergeef ons ons skulde. Terwille van die Christus.

Want daar en daar alleen word al my sondes
uitgedelg. In antwoord op my gebed. Deur die bloed van Christus.
En so, so alleen kom dit weer reg. Kom dit elke dag weer
heeltemal reg. Want elke dag moet ons weer op die knieë. Ek weet
vandag reeds dat ek dit more weer sal moet doen. Want dan sal
daar weer ’n berg skuld wees.

Dit is, broeders en susters, dan die goeie nuus
wat ons mag hoor: ons mag bly bid. Vader in die hemel kry nooit
genoeg van die verhoring van die gebed nie. Waarom nie? Omdat Hy
self ook maar een ding wil hê. Naamlik dat dit reg is tussen Hom
en ons. Dink maar aan die nagmaalstafel wat weer vir ons aangerig
is. Vader wil dit so sterk, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het,
sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die
ewige lewe kan hê. Is daar dan nog enige rede vir u om daaraan
te twyfel? U mag altyd weer na Vader toegaan met dieselfde bede
wat Christus u, ten koste van sy eie bloed, geleer het: vergeef
ons ons skulde. Vader, neem ook vandag weer alle belemmeringe weg.
Deur u goddelike krag en in u vaderlike liefde. Doen dit sodat
dit weer goed mag wees tussen U en ons. Sodat ons met U bly kan
wees. Sodat ons kan geniet van ware vrede en rus. Sodat ons saam
met u volk die lied van bevryding kan sing en die fees van
bevryding kan vier.

[Broeders en susters, vier dan die fees van
bevryding aan die tafel van die Here. As verloste sondaars. As
mense wat werklik met God versoen is. Deur Christus se bloed. Met
’n hartlike berou oor u sondes. Maar ook met ’n
hartlike vreugde in God deur Christus.

AMEN]

*************

[Geliefde gemeente van ons Here Jesus
Christus,

Ons leef in ’n wêreld waarin die
verhoudings tussen die mense ver van ideaal is. Daar is baie
rusie en stryd. Wat kan die mense vir mekaar die lewe suur maak.
Hulle kan mekaar baie kwaad aandoen. Hulle veg vir hul eer en
posisie en deel klappe uit. Mense het immers dikwels lang tone.
Hulle voel hul gou op die tone getrap en beledig. En wat gebeur
daar dan? Die saak kan geweldig oploop. En dan: wat moet jy maak
t.o.v. die persoon wat dit so moeilik vir jou maak? Die reaksie
wat so menslik is, is haat. Jy soek nie die heil van die persoon
nie, maar sy onheil. Indien jy my slaan dan slaan ek jou terug.
Ek sal hom of haar nog wel terugkry.

Gemeente, vir sulke gevoelens hoef ons
waaragtig nie na die wêreld rondom ons te kyk nie. In ons eie
huis, in ons eie hart, binne die eie gemeente herken ons
dergelike dinge. Ook binne die gemeente is daar die lang tone,
waar so gou op getrap kan word. Ook binne die gemeente is daar
mense wat liggeraak is, mense wat vir mekaar baie moeilik kan
wees. So kan die verhoudings ook binne die verbondsgemeenskap
gespanne wees. Dit lyk miskien asof daar vrede heers. Ons sit
saam in die een kerkgebou. Ons gaan saam nagmaal toe. Maar dit
kan ’n afgemete vrede wees, ’n soort wapenstilstand.
Daar hoef slegs ’n klein ding te gebeur en die gemoedere is
weer opgesweep. En dan word meestal pleks van die heil die onheil
van die ander gesoek. Om werklik mekaar te vergewe en dit dan te
vergeet blyk verskriklik moeilik te wees.

Dit gebeur dan onder mense wat voortdurend
bid: vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.
Ja, "soos ons ook ons skuldenaars vergewe." Herken u
dit by uself, by jouself? Christus leer ons nie verniet om so te
bid nie. Hy ken ons hart. Hy weet ook dat daar soms dinamiet in
ons hart is. Daarom leer Hy ons steeds weer opnuut: So moet julle
dan bid: Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars
vergewe. Christus hou ons dit voor sodat ons ook hierin die styl
van Vader gaan vertoon.

Ek verkondig vir u die tweede deel van die
bede: "soos ons ook ons skuldenaars vergewe."
]

Ons sien [in die tweede plek] dat die bede om
vergewing ware vergewingsgesindheid by ons impliseer.

Waarom voeg Christus toe aan die bede vir
vergewing die woorde: soos ons ook ons skuldenaars vergewe? Moet
ons ons vergewing van ons skuldenaars as voorbeeld aan God
voorhou: soos ons ook vergewe? Dit lyk amper asof ons sê: Vader
doen vir ons, soos ons vir ander doen.

Sou dit die bedoeling van die Here Jesus wees?
Dis onmoontlik. Jesus ken ons as mense wat nog steeds moeite het
om werklik en onbegrens te vergewe. Dink maar aan die vraag van
Petrus: Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom
vergewe? Tot sewe maal toe? Met sy voorstel doen Petrus nog nie
so sleg nie. Dit lyk baie rojaal: tot sewe maal toe. Sou ons
sover gaan? Tog dink ook Petrus dat daar ’n oomblik kom
wanneer jy nie langer kan vergewe nie. Op ’n gegewe moment
dink ons dat die uiterste grens bereik is. As ons skuldenaars ons
dan nog weer durf lastig val, kwaad aandoen, dan hou dit op. Jy
kan tog nie eindeloos bly vergewe nie?

Christus wys egter daardie gedagte aan grense
en getalle af. Die vergewingsgesindheid moet onbegrens wees: Ek sê
vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe
toe. Hier gaan dit nie oor die aantal nie, maar die Here wil
daarmee sê: so ’n oomblik waarop jy nie meer kan vergewe
nie, mag daar nooit wees nie. Jy moet altyd weer en sonder einde
bereid wees om te vergewe.

Omdat ons daarin baie tekortskiet, kan Christus
met die woorde "soos ons ook ons skuldenaars vergewe"
nie bedoel: Vader kyk maar na ons voorbeeld van vergewing;
vergeef ons soos ons ons skuldenaars vergewe. Dan sou dit maar
sleg vir ons uitsien. Indien God sou moet vergewe soos ons dit
doen, dan sou daar ontsaglik baie skuld bly staan. Dan sou ons
vir die oorgeblewe skulde uiteindelik tog nog ewig moet boet. In
die vergewing van die naaste laat ons mos baie skuld staan. Ons sê
miskien dat ons die skuld vergewe het, maar ons bly dit tog hom
of haar aanreken. Sodra daar weer ’n geleentheid voordoen,
word die skuld weer opgehaal. Ons het dit blykbaar tog nie
vergewe nie. Want om te vergewe wil sê dat ons dit skrap, dat
ons daardeur ’n streep trek, dat ons dit heeltemal van ons
verwyder, sodat ons saam weer met ’n skoon lei verder gaan.

Dink aan die beelde van vergewing wat God in
die Bybel gebruik. "So ver as die ooste verwyderd is van die
weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons." (Ps 103:12)
Dit beteken dat God die oortredinge eindeloos ver weg verwyder,
om dit nooit weer te gryp nie. ’n Ander uitdrukking: "Ek
is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou
sondes dink Ek nie" (Jes 53:25). Oortredinge uitdelg en
nooit meer daaraan dink nie, dis wat vergewing is. ’n Laaste
voorbeeld van die manier waarop God ons vergewe om ons te leer
wat dit is om ander te vergewe. Ons lees in Miga 7:19: "Hy
sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U
sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp." Is dit
hoe ons mekaar die skuld vergewe? Die skuld vertree, tot niet
maak en dit in die dieptes van die see werp, buite bereik, sodat
ons dit nooit weer kan opdiep nie, sodat ons die ou koeie nooit
weer uit die sloot kan haal nie? Is dit hoe ons vir mekaar
vergewe?

Gemeente, wat is dan die bedoeling van die
toevoeging: soos ons ook ons skuldenaars vergewe? Christus wil
ons daarmee leer dat die bede vir vergewing altyd gepaard moet
gaan met vergewingsgesindheid en dat dit die vergewingsgesindheid
ook tot gevolg moet hê. Dit moet daarmee saamgaan: "Want as
julle die mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse
Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle
oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge
ook nie vergewe nie." (Mt 6:14,15). Dit moet blyk dat my
bede opreg is. Dit moet blyk dat ek weet waarvoor ek bid, dat ek
weet wat vergewing is. Hoe moet dit blyk? Uit my vergewing van my
naaste.

Deur die vergewing van ons naaste te noem spog
ons nie op wat ons self gepresteer het nie. Ek het reeds ons
onvolkomenheid op hierdie gebied genoem. Wanneer ons wys op ons
vergewing van skuldenare, dan doen ons ’n beroep op wat God
self reeds in ons bewerk het. Die Kat sê dit so mooi: "Ons
bid dit van u omdat ons hierdie bewys van u genade in ons vind:
dat ons die ernstige voorneme het om ons naaste van harte te
vergewe."

Dis by ons nog gebrekkig. In die daaglikse
praktyk blyk dit moeilik te wees om ons ernstige voorneme
konsekwent uit te voer. Maar reeds in die vergewingsgesindheid
mag ons, Here, U genade in ons ontdek. U het ons daartoe gebring
om ander te vergewe. U het ons geleer wat dit is om te vergewe en
waarvoor ons bid. U het u liefde in ons hart uitgestort. Dit gee
ons vrymoedigheid om tot u te gaan met die bede: vergeef ons ons
skulde. As u ons geleer het om ander te vergewe, dan mag ons tog
verwag dat u ons ook sal vergewe? Die bewys van u genade in ons
laat ons sien hoe U is, dat u ’n vergewende God is. Dit gee
ons des te meer vertroue om u aan te roep. U kan Uself immers nie
verloën nie. So is U en so sal u optree. Ooreenkomstig die styl
wat U self ons geleer het.

Gemeente, die vergewing van Vader moet ook tot
gevolg hê dat ons ander vergewe. Die wonder van vergewing –
dit bly immers ’n groot wonder van genade – moet iets
uitwerk in ons lewe. Die een woord van vergewing lok ons menslike
woord van vergewing uit. As ek weet wat dit beteken dat my skuld
kwytgeskeld is, dan sal ek bereid wees om op my beurt ook ander
se skuld te vergewe. As ek besef wat my, ’n groot skuldenaar,
te beurt geval het, dan sal dit ook wys in my houding en gedrag
teenoor hulle wat my ’n bietjie skuldig is?

Christus se gelykenis van die onbarmhartige
skuldeiser maak dit duidelik. Die dienskneg van die koning skuld
die koning ’n onbetaalbare bedrag van 10,000 talente. Die
koning skeld hom dit in ontferming sommer kwyt. Maar wat doen die
dienskneg wanneer hy een van sy medediensknegte ontmoet, wat hom
slegs honderd pennings skuldig is? Dit verskil van die skuld is
ontsaglik groot. Een talent is immers gelyk aan 10,000 pennings.
100 pennings in vergelyking met 10,000 talente is dus ’n
verskil van een op een miljoen. Dis dus een miljoen keer soveel.
Vandaar dat die Nuwe vertaling spreek van miljoene rand skuld in
vergelyking met ’n paar rand skuld.

Wel, wat doen die man aan wie miljoene
kwytgeskeld is? Hy word kwaad op die mededienskneg wat hom slegs
enkele rande skuld. Hy behandel die mededienskneg op ’n
harde en liefdelose manier. Hy gryp hom aan die keel en beveel:
betaal my wat jy skuld. Hy eis die volle bedrag. Sonder pardon.
Hoe die man hom ook om ontferming smeek, met woorde wat hyself
kort gelede voor die koning gebruik het, dit help niks nie. Die
skuldenaar moet boet. Hy moet die gevangenis in totdat hy die
laaste sent betaal het.

Ons kan begryp dat die koning woedend is
wanneer hy hiervan hoor. Wat ’n ondankbaarheid. Dis
onbegryplik. Terwyl Hy die dienskneg miljoene kwytgeskeld het, is
hy nie eens bereid om sy mededienskneg die onbeduidende som van
enkele rande kwyt te skeld nie. Hom is alles vergewe. Hyself wil
nou niks vergewe nie. Die groot ontferming van die koning het hom
blykbaar nie geraak nie. Hy bly koud en hard daaronder. Die
onmeetlike groot liefde van die koning het hom nie eers gebring
tot ’n minimale bewys van liefde nie. Daarom is hy onwaardig
vir sy heer. So ’n onbarmhartige persoon is vir die
vergewende koning ’n belediging. So ’n persoon mag nie
langer vir ’n begenadigde deurgaan nie. Hy moet nou maar
sonder vergewing leef en boet vir sy skuld.

Gemeente, dis ’n ernstige vermaning vir u
en my wat bid: vergeef ons ons skulde. Christus sê: "So sal
ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy
broeder van harte sy oortredinge vergewe nie." Besef julle
wel dat daar in julle verhouding tot ander mense en tot ander
lidmate slegs sprake is van onbeduidende pennings in vergelyking
met die enorme bedrag wat God vir julle kwytgeskeld het? Ons kan
dit vir mekaar moeilik maak, ook in die gemeente. Ons is gou
liggeraak. Soms is daar wel redes om verontwaardig te wees. Ons
kan mekaar soms so sleg behandel. Maar vergeet nooit: selfs die
ergste wat ander jou aandoen, is slegs ’n skuld van enkele
rande in vergelyking met die miljoene skuld wat jy teenoor God
het, en wat God jou wil kwytskeld.

As ek opreg vir die Here bid om vergewing van
die enorme skuld, en as ek uit die vergewing leef, dan moet dit
ook in my verhouding teenoor my naaste blyk. Dan kan ek nie hard,
liefdeloos en afstandelik bly nie. Dan kan ek die ander se skuld
nie toereken nie. Dit pas gewoon nie by die oorweldigende genade
wat ek van God ontvang het nie. As ek die minimale skuld van die
ander wel wil laat staan, waar is ek dan mee besig? Is die paar
rande wat iemand ander my skuld dan belangriker as my miljoene
skuld? Wil ek die vergewing van my miljoene skuld ter wille van
die paar rande wat die ander my skuld op die spel sit?

Bowendien, is die ander wel so skuldig is as
wat ek dink dat hy is? Dit kan ook aan myself lê, aan die
kwetsing van my eergevoel, dat die skuld so groot lyk. En as my
aangetaste eer in geding is, wie is dan, in die lig van God se
woord van genade, die mees skuldig? Hy wat my seergemaak het of
ek wat so eergevoelig en selfsugtig is?

En as ek ander wat my iets skuld aanspreek, hoe
doen ek dit? Gaan ek, wat soveel vergewing ontvang het, my
skuldenaar hard en liefdeloos behandel, hom kleineer of uitskel?
Pas nie eerder ’n versoenende houding waaruit die liefde
spreek, die liefde wat God in my hart uitgestort het. Of het God
dit soms nie in my hart uitgestort nie? Het Hy vir my soms nie
die miljoene vergewe nie?

Broeders en susters, besef goed wat u bid
wanneer u bid: vergeef ons ons skulde, soos ons ons skuldenaars
vergewe. Verwonder u oor God se vergewing van u onbetaalbare
groot skuld. Hy het dit vir u betuig en verseker aan die heilige
nagmaal. U het die tekens van Christus se liggaam en bloed, van
sy soenoffer aan die kruis, geëet en gedrink. So seker mag u
wees van die vergewing u massiewe, onbetaalbare skuld. Leef dan
uit die vergewing. Dan sal dit ook wys in die onderlinge
verhoudings. Is daar iets wat u verhouding met ander versteur? Lê
daar nog dinge wat uit die pad geruim moet word? God se vergewing
van u groot skuld wil u vergewing van ander se klein skulde
uitlok. Sy groot liefde wil u liefde uitlok. Die liefde kan nie
onbeantwoord bly nie. Die liefde sal dan die verhoudings suiwer.
En die gemeente, as woning van God in die Gees, sal die styl van
Vader meer en meer gaan vertoon.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)