Ons sál leef omdat Christus leef.

Predikant: 
Ds RM Retief
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-04-15
Teks: 
I Korinthiërs 15
Preek Inhoud: 

1 Korinthiërs 15:20-23

Prop. R.M. Retief - Sondag 15 April 2001

Lees: 1 Korinthiërs 15:1-58.
Sing: Ps.118:7,12; Ps.19:4,5; Ps.98:1,2; Ps.16:1,4,5;
Ps.68:9,15,16.

Tema: Ons sál leef omdat Christus leef.

  1. Christus ís opgewek uit die dood;
  2. Hy is opgewek as die Eerste van baie; en
  3. Ons is saam met Christus opgewek.

 

Inleiding

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die opstanding van die dode is deel van die evangelie. Die
goeie nuus van die opstanding is geen nuwe evangelie nie. Dit is
die evangelie wat van die begin af, reeds in die OT, so verkondig
is.

As bewys van Christus se opstanding verwys die apostel hier na
‘n klomp mense wat kan getuig dat Christus wel opgestaan het.
Ná sy kruisiging en sterwe het Jesus aan baie verskyn. Die
apostel sê as’t ware aan die gemeente: Kyk, hier is hulle
name; gaan vra hulle self. Hulle kan almal getuig dat hulle Jesus
met hul eie oë gesien het – ná sy kruisiging en sterwe. Hy
leef. Al die apostels het Hom gesien. En, sê Paulus, ek het Hom
ook gesien; Hy het ook aan my verskyn en met my gepraat. Op een
keer het Jesus aan vyfhonderd mans tegelyk verskyn. Die meeste
van daardie vyfhonderd mans leef nog – gaan vra hulle. Daar
is genoeg bewyse van sy opstanding.

As Jesus nié opgestaan het nie, dan is ons geloof tevergeefs.
Ons kan dan maar ons goed vat en huis toe gaan. Dan is daar geen
evangelie nie. As Christus nie opgestaan het nie, dan is ons
verlore in ons sonde! Meer nog, as Jesus Christus nie werklik uit
die dood opgestaan het nie, dan is die Christene die ellendigste
van alle mense! Want ons word gehaat en vervolg in hierdie wêreld.
Broers, sê die apostel, ek leef elke uur in doodsgevaar, ek
sterf dag vir dag. In die verkondiging van die evangelie veg ek
met mense soos met wilde diere (:30-32). Dit is ‘n geweldige
stryd. Dit is nie ‘n maklike saak om ‘n Christen te
wees in hierdie wêreld nie. Dit is nie maklik om die evangelie
uit te dra nie.

As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink en
vrolik wees, want môre sterf ons! Waarom sal ons die geweldige
stryd voer as Christene, as dit net ter wille van hierdie lewe is?
As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, is ons inderdaad
die ellendigste van alle mense! As Christus nie opgewek is nie,
dan sal ons ook nie opgewek word nie. En as daar geen opwekking
van die dode is nie, dan is daar geen lewe na die dood nie. Kom,
laat ons dan maar die lewe geniet, want môre sterf ons! Dan kan
ons maar leef net soos ons wil. Dan is daar geen rede om kuis en
ingetoë te leef nie. Laat ons dan doen net waarvoor ons lus het,
want môre, as ons sterf, is daar geen lewe wat voorlê nie.

Dit is nou teen hierdie dwaling wat die apostel optree. Moenie
dwaal nie! Hierdie leer sal lei tot totale losbandigheid en
oorgawe aan die sonde.

Dit is juis die opstanding van die dode wat maak dat ons in
hierdie lewe nugter leef. Dit is juis die opstanding van die dode
wat ons aanspoor om in hierdie lewe standvastig te wees,
onbeweeglik, en om altyd oorvloedig te wees in die werk van die
Here, omdat ons wéét dat ons arbeid in die Here nie te vergeefs
is nie. Die dode sál opgewek word, en elke mens sál vergeld
word volgens sy werke (Rom.2:6).

En daarom verkondig ek hierdie evangelie aan u, met die tema: Ons
sál leef omdat Christus leef. En ons let op drie sake:

  1. Christus ís opgewek uit die dood
  2. Hy is opgewek as die Eerste van baie
  3. Ons is saam met Christus opgewek

Dat Christus wel opgewek is uit die dood

Wie is dit wat hierdie dwaling in Korinthe verkondig het dat
daar geen opstanding van die dode sal wees nie? Mense in die
gemeente – vers 12.

Die dwaling dat Jesus nie regtig opgestaan het uit die dood
nie, kom vandag nog voor onder mense wat hulleself Christene noem.
Verskeie sogenaamde kerkleiers het al in die openbaar verklaar:
Almal weet dat Jesus nie regtig opgestaan het nie; Hy het net in
ons harte opgestaan! Ja, sê hulle, dit maak ook nie saak of
Jesus regtig uit die graf opgestaan het nie, net solank Hy in ons
harte opstaan! Sy gees en goeie voorbeeld moet in ons harte leef.
So staan Hy dan op uit die dood.

Hierdie dwaling word vandag nog verkondig. En daarom het ons
nodig om onself te wortel en te grond in die ware evangelie; en
moet ons die implikasie van Christus se opstanding weer helder
voor oë stel.

Christus ís opgewek uit die dood. Die woord opwek
word deurgaans in hierdie hoofstuk gebruik en nie die woord opstaan
nie. Daar word op baie ander plekke in die Skrif gesê dat
Christus opgestaan het uit die dood. Maar in hierdie hoofstuk val
die klem op ‘n handeling wat God verrig. God sal die dode
opwek.

Van Christus kan ons natuurlik sê dat Hy self opgestaan het
uit die dood, omdat Hy self God is wat beskik oor lewe en dood.
Maar in hierdie hoofstuk val die klem juis op sy mensheid, dat Hy
as mens opgewek is, as die eerste mens van baie mense wat lewend
sal word. En daarom word hier gepraat van opwek – dit is God
wat die mens sal opwek uit die dood, soos Hy ook die mens Jesus
opgewek het uit die dood.

Jesus is liggaamlik opgewek. Die Skrif leer ons nêrens dat
net sy gees opgewek is nie. Inteendeel, wanneer Jesus ná sy
opstanding aan die apostels verskyn, sê Hy vir hulle: "Kyk
na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk;
want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek
het nie" (Lk.24:39). Die Skrif leer ons juis dat ook ons
liggaamlik opgewek sal word en ‘n verheerlikte liggaam sal
ontvang soos wat Christus ontvang het – Fil.3:21.

Sy opstanding uit die dood, dat Hy werklik, liggaamlik,
opgestaan het uit die dood, word baie duidelik in die Skrif aan
ons geleer. Ons mag geen twyfel daaroor hê nie. En waarom is dit
so belangrik? Omdat Jesus se opstanding uit die dood die kern van
ons geloof raak! Sy opstanding is ook ons oorwinning. Sy
opstanding is die bewys dat ook ons sal opstaan uit die dood. En
daarom let ons nou in die tweede plek daarop:

Dat Hy opgewek is as die Eerste van baie

Christus ís opgewek uit die dood. Maar Hy sal nie die enigste
Een wees nie. Hy is, vers 20, opgewek as eersteling
van die wat ontslaap het. Dit beteken Hy is opgewek as die eerste
een van baie wat opgewek sal word.

Die woord eersteling wat hier gebruik is, is
‘n woord wat baie in die Skrif gebruik word. Dit kom uit die
wet van Moses. Lev.23 sê: "Spreek met die kinders van
Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle
gee en sy opbrengs oes, moet julle die eerstelingsgerf van die
oes na die priester bring" (:10). En dan word daar beskryf
hoe die eerstelingsgerf aan die Here gewy moet word. En in Deut.26
lees ons dat hulle so moes doen met die eerstelinge van ál die
vrugte.

Die eerste appel wat ryp word moet in ‘n mandjie gesit
word, die eerste tros druiwe, die eerste ryp vy – dit is die
eerstelinge. Dit moet aan die Here gewy wees en aan Hom geoffer
word om te erken dat dit Hy is wat Israel uit Egipte verlos het
en dat dit Hy is wat hulle hierdie land gee wat oorloop van melk
en heuning. Deur die eerstelinge van die oes aan die Here te wy,
word die hele oes aan die Here gewy, want die eerstelinge was
verteenwoordigend van die hele oes wat sou volg.

Nou sê die apostel dat Christus opgewek is as eersteling van
die wat ontslaap het. Daar is ‘n groot oes op die land. Baie
vrugte sal ingesamel word. Maar Jesus is die Eersteling van die
wat uit die dood sal opstaan. Hy is die eerste gerf wat ingehaal
word. Hy verteenwoordig die hele oes. Ná Hom sal die res van die
oes volg.

U sal dalk vra: Is Hy regtig die eerste Een wat uit die dood
opgestaan het? Wat van die weduwee van Sarfat, by Sidon; het Elia
nie haar seun opgewek uit die dood nie? En wat van die seun van
die Sunamietiese vrou, het Elisa hom nie opgewek nie? En wat van
al die ander, Talita en Lasarus?

Ja, hulle het wel almal opgestaan uit die dood – maar aan
hierdie kant van die graf met sterflike liggame. Hulle het almal
weer gesterf. Hulle is nie in onverganklikheid opgewek met
verheerlikte liggame nie. Hulle is nie opgewek tot die ewige lewe
in heerlikheid nie – dáárdie opstanding moet nog plaasvind.
Dit sal eers gebeur by Christus se wederkoms.

Jesus was die eerste Een wat opgewek is in heerlikheid. Hy het
as’t ware deur die dood gegaan en aan die ander kant as
oorwinnaar opgestaan in heerlikheid en in onverganklikheid. Hy
het die dood oorwin. En daarom word Hy ook die eersgeboorne uit
die dode genoem – Openb.1:5. Hy sal nooit weer sterf nie! En
Kol.1:18 sê: Hy is die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in
alles die eerste kan wees.

Dat Jesus die Eersgeborene uit die dode is, beteken dat Hy die
eerste is van baie wat sal opstaan. Sy opstanding is die bewys
dat óns sal opstaan; dat álmal sal opstaan wat in Hom ontslaap
het. As Christus nié opgestaan het uit die dood nie, dán was
almal "wat in Christus ontslaap het verlore" (:18).
Maar omdat Hy wel opgewek is uit die dood, sal ons ook opgewek
word.

"Want aangesien die dood deur ‘n mens is, is die
opstanding van die dode ook deur ‘n mens. Want soos hulle
almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in
Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as
eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy
koms" (:21-23). Let op die sekerheid waarmee die apostel dit
sê. Dit sal so wees. Christus se opwekking uit die
dood is die waarborg dat baie lewend gemaak sal word.

Net so seker as wat almal wat in Adam is sterwe, net so seker
sal almal wat in Christus is lewend gemaak word. Toe Adam, die
hoof van die mensdom, gesterf het, het ons almal in hom gesterf.
Nou dat ons nuwe Hoof, Christus, opgewek is uit die dood, is dit
net so seker dat ons in ons nuwe Hoof, lewend gemaak sal word.

Let ook daarop dat dit hier gaan oor die opstanding tot die
ewige lewe. Die wat ontslaap het, vers 20, is die wat in Christus
ontslaap het, vers 18, is die wat lewend gemaak sal word, vers 22,
is die wat aan Christus behoort, vers 23. Hy praat dus nie hier
van die ongelowiges nie. Hulle sal ook opstaan, maar hulle sal
nie opgewek word tot die ewige lewe nie. Hulle sal ook nie lewend
gemaak word in die sin wat dit hier bedoel word nie.

Daar sal wel net een dag wees, een gebeutenis, waar al die
dooies sal opstaan. Maar dit sal op daardie dag twee verskillende
opstandings wees. Want op daardie dag sal die gelowiges én
ongelowiges opstaan uit die graf. Jesus sê in Jh.5:28: "…daar
kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal
hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding
van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van
die veroordeling. Daar is dus twee opstandings wat gelyktydig sal
plaasvind: die opstanding tot die lewe, en die opstanding tot die
dood in die poel van vuur.

Nou handel dit hier in ons teks oor die opstanding tot die
lewe. Dit handel oor die wat aan Christus behoort – húlle
sal lewend gemaak word. Net hulle.

Maar lees ons nie hier dat almal in Christus
lewend gemaak sal word nie. Nee, nie alle mense sal in Christus
lewend gemaak word nie. Ons moet vers 22 reg verstaan. Dit gaan
oor twee verbondshoofde: Adam en Christus. Almal wat in Adam is,
sterf; almal wat in Christus is, word lewend gemaak. Van nature
is ons almal in Adam; wanneer ons tot geloof kom is ons in
Christus. Maar nie alle mense is in Christus nie. Nie alle mense
sal lewend gemaak word nie. Vers 22 praat dus van twee groepe
mense: dié wat in Adam is, en dié wat in Christus is. Almal wat
in Adam is, húlle sterf; maar almal wat in
Christus is, húlle almal sal lewend gemaak word.

En dit bring ons dadelik by die derde punt:

Dat óns saam met Christus opgewek is

Die krag van God wat Christus uit die dood opgewek het, werk
ook in ons, om ons lewend te maak. Vers 22 sê dat ons in
Christus lewend gemaak sal word. Die woord lewendmaak
wat hier gebruik is, word in die Skrif gebruik met betrekking tot
gelowiges. Dit is die ontvangs van die ewige lewe.

Hoor hoe stel Rom.8:11 dit: "…as die Gees van Hom
wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat
Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame
lewend maak deur die Gees wat in julle woon". Met ander
woorde: die Gees van God het Jesus uit die dood opgewek en
dieselfde Gees wat Hom opgewek het, woon ook in ons om ons op te
wek uit die dood.

Die Skrif leer ons dat die krag van Christus se opstanding ook
nou reeds in ons werk om ons lewend te maak. Ef.1:19,20 sê dat
God met dieselfde krag in ons werk as waarmee Hy Christus uit die
dode opgewek het.

Ef.2:6 stel dit nog kragtiger. Daar staan dat ons saam met
Christus opgewek is, en dat ons saam met Christus opgevaar het na
die hemel, dat ons, in Christus, reeds in die hemel is!

Hoe is dit moontlik? In beginsel is ons reeds opgewek uit die
dood saam met Christus. En as ons in Christus is, dan is ons ook
waar Hy is! As Hy ons Hoof is en ons sy liggaam, dan kan Hoof en
liggaam tog nie geskei word nie. As die Hoof van die liggaam
opgewek is, dan is die liggaam tog ook opgewek. As die Hoof van
die liggaam reeds in die hemel is, dan deel sy liggaam daarin.

Wat met Christus gebeur het, het ook met sy liggaam gebeur
– en ons is sy liggaam. Daarom deel ons in sy opstanding.
Wat met Hom gebeur het, het met ons gebeur! Dit raak ons lewe.
Ons is een met Hom deur die geloof. En deur die geloof is die
krag van sy opstanding werksaam in ons om ons te laat deel in sy
opstandingslewe.

As hier nou staan dat almal in Christus lewend gemaak sal word,
dan raak dit u lewe en my lewe. In Christus is ons ‘n nuwe
skepping. 2Kor.5:17 sê: "…as iemand in Christus is, is
hy ‘n nuwe skepsel. Ons is nuwe mense deur die opstanding
van Christus. 1Petr.1:3 sê dat God ons die wedergeboorte geskenk
het deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode. Met
ander woorde: Ons is wedergebore deur Christus se opstanding. Ons
het saam met Hom opgestaan uit die dood. Ons leef nou in ‘n
nuwe lewe. Kol.2:12 sê ons is saam met Christus begrawe en ons
is saam met Hom opgewek deur die geloof.

Rom.6:4 sê: "Ons is dus saam met Hom begrawe…sodat
net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid
van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel".
Ons is in Christus lewend gemaak.

Hier in die konteks gaan dit oor die opstanding van die dode
op die laaste dag. Maar in vers 21 en 22 is daar ‘n
teenstelling tussen dood en lewe. In Adam sterwe ons; in Christus
word ons lewend gemaak. Hy gebruik spesifiek nie die woord opwek
in vers 22 nie, omdat vers 22 oor meer praat as net die
opstanding van die laaste dag. Soos ons in Adam gesterf het, so
sal ons in Christus lewend gemaak word – dit gaan oor ons
totale verlossing, ons lewendmaking in Christus, wat reeds ‘n
werklikheid is.

As dit nou hier in ons teks in die toekomende tyd gestel word:
so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak
word, dan wys dit op die voltooiing van ons verlossing en
vernuwing. Op die laaste dag sal ons volkome herskep word in
‘n oomblik, in ‘n oogwink. Dan sal ons die lewe in
volmaaktheid ken en ervaar. Maar die woordjie sal wys
ook op sekerheid. So seker as wat ons in Adam gesterf het, so
seker sal ons in Christus lewendgemaak word. En dit
gebeur nou reeds deur die geloof. Nou is die Gees besig om ons op
te wek en ons te laat deel in die opstanding van Christus. Ons is
opgewek saam met Christus, ons word opgewek saam
met Christus, en op die laaste dag sal ons opgewek
word in heerlikheid en onverganklikheid as lede van Christus se
liggaam.

Ten slotte

Die dood is oorwin. "Dood, waar is jou angel? Doderyk,
waar is jou oorwinning? Die dood het geen mag meer oor ons nie.
Vir ons is die liggaamlike dood net ‘n deurgang tot ewige
heerlikheid. Wanneer ons sterf ontvang ons die lewe in oorvloed!
Daarom sê die apostel: Die sterwe is vir my wins! (Fil.1:21).
Die dood is nie meer vir ons ‘n verskrikking nie.

Waarom nie? Omdat ons saam met Christus opgewek is uit die
dood. Ons sal leef, omdat Christus leef.

Deur die geloof is ons met Hom verenig in sy sterwe en
opstanding. Deur die geloof deel ons nou reeds in die nuwe lewe
van sy opstanding en sien ons vooruit na die dag waarop ons
geloof ook sal oorgaan tot aanskoue. Die dag waarop ons ‘n
verheerlikte liggaam sal ontvang soos Christus ontvang het. Dan
sal ons onsterflik wees, volmaak in heiligheid, nuwe skepsels
deur die opstanding van Christus.

Maar as Christus nie opgestaan het nie, dan is ons geloof
tevergeefs. Dan is ons verlore in ons sonde. Dan is ons lewe
selfs ellendiger as die van die ongelowiges, omdat ons stryd dan
tevergeefs is. Dan kan ons veel eerder losbandig leef! Eet en
drink, want môre sterf ons! Dit sal lei tot totale oorgawe aan
die sonde.

En daarom die opdrag: Moenie dwaal nie. Wees nugter. Stel jou
hoop volkome op die werklikheid van die opstanding. God het ons
die oorwinning gegee deur ons Here Jesus Christus. Wees dan
standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die
Here, want ons weet dat ons arbeid in die Here nie tevergeefs is
nie.

As ons wéét dat daar ‘n ewige hiernamaals is, as ons wéét
dat daar ‘n ewige heerlikheid op ons wag, moet dan nie moeg
word om goed te doen nie, moet dan nie moed verloor deur die
kwellings en sorge van hierdie lewe nie, moet dan nie meegesleur
word deur die begeerlikhede van hierdie wêreld nie. Wees
standvastig, onbeweeglik, oorvloedig in die werk van die Here,
want die dode sal opgewek word, die goddelose sal geoordeel word,
en die wat in Christus is sal as oorwinnaars alles erf.

Glo dat Christus vir jou sondes gesterf het volgens die
Skrifte, glo dit dat Hy opgewek is volgens die Skrifte, en dat
ons saam met Hom opgewek is om vir God te leef. Wees nugter! Hou
vas aan hierdie hoop. Leef vir God, standvastig in verdrukking en
nood. Wees altyd oorvloedig in die werk van die Here met blydskap
en dankbaarheid. Want volgens hierdie evangelie sál ons leef,
omdat Christus leef.

AMEN

 

Liturgie: 

(kyk in preek)