Vader se kinders bid om gehoorsaamheid aan Vader se wil.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-04-29
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 49
Preek Inhoud: 

Sondag 49

Ds C Kleyn - Sondag 29 April
2001

Lees: Matthéüs 16:21-28; 26:36-46;
Sondag 49.
Sing: Apostoliese
Geloofsbelydenis; Ps 25:2,4,6; SB 28:1,2; Ps 119:39,48,51.

Tema: Vader se kinders bid om gehoorsaamheid
aan Vader se wil.

Ons bid vir

  1. die verloëning van ons eie wil; en
  2. getrouheid in ons daaglikse werk.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

"Laat u wil geskied, soos in die hemel net
so ook op die aarde." ’n Bekende bede, wat ons dikwels
bid. Maar weet ons nog wel wat ons daarmee bid? Dat ons daarmee
teen onsself bid? Is die doen van die wil van die Vader werklik u
wens? Wat van die begeerte om ons eie wil te doen, om ons eie
begeertes en gedagtes na te volg? Is die bede nie dikwels in
stryd met die praktyk van ons lewe nie? Laat ons daarom goed
besef wat ons bid wanneer ons vir Vader sê: laat u wil geskied.

Ek verkondig vir u: Vader se kinders bid om
gehoorsaamheid aan Vader se wil.

Ons bid vir

  1. die verloëning van ons eie wil; en
  2. getrouheid in ons daaglikse werk.

Laat u wil geskied. Watter wil bedoel die Here?
Ons maak naamlik onderskeid tussen die geopenbaarde en die
verborge wil van God. Die geopenbaarde wil van God sien op die
gebooie, die bevele, die norme wat die Here ons in sy woord
bekendmaak. Dis iets wat ons gewoon moet doen. Met die verborge
wil van God is dit anders. Dit sien op God se verborge raad, sy
voorsienigheid, waardeur Hy alles onderhou en regeer. Dis iets
wat God met my laat gebeur. Iets waarin ek my moet berus. Wel,
watter wil bedoel die Here in die derde bede. Die geopenbaarde
wil wat ek moet gehoorsaam of die verborge wil waarin ek my moet
berus?

Dis duidelik dat die Here nie God se verborge
wil bedoel nie. Ons bid hier nie: laat u raadsplan geskied nie.
Dit val reeds onder die eerste en tweede bede. Die tweede
gedeelte van die 3e bede, "soos in die hemel net so ook op
die aarde" sou ook nie goed daarby pas nie:. Nee, dit gaan
hier duidelik oor die geopenbaarde wil van God. Ons bid dat ons
die wil van die Here gehoorsaam uitvoer soos die engele in die
hemel dit doen. Dit word tereg in SB 28 so geformuleer:

En laat ons op die aarde, soos
Die eng’le wat u troon omring
Gewillig, Heer, u wil volbring.

Ons bid nie vir passiewe berusting nie, maar
vir aktiewe gehoorsaamheid.

Die wil van die Vader word as bekend
veronderstel. God se woord is duidelik. Wie wil luister, goed wil
luister, sal in die algemeen weet wat God van hom vra. Soms maak
ons asof die wil van die Here onduidelik is. En dan voeg ons
daarby: waar staan dit in die Bybel dat ek dit moet doen of dit
nie mag doen nie? Asof ons eers ’n uitdruklike gebod of
verbod in die Bybel moet hê voordat ons kan weet wat God se wil
is. Is Vader se wil werklik so onduidelik mbt my gebruik van geld,
tyd en energie? Is God se wil werklik so onduidelik betreffende
die manier waarop ek my feeste vier en die manier waarop ek my
werk of studie moet doen? Is Vader se wil werklik so onduidelik
oor die aangaan van verhoudings, oor huwelik en seksualiteit? Is
Vader se wil werklik so onduidelik oor die vrae van ons moderne
lewe en samelewing? Is al die praat oor die onduidelikheid van
Vader se wil nie dikwels ’n kwessie van eiewilligheid nie?
Ons wil gewoon ons eie dinge kan doen en dan kom dit wel goed van
pas om te kan sê dat God nerens uitdruklik gesê het dat ek dit
nie mag doen nie. Ons sluit ons oë dan vir die lig wat God
daaroor laat skyn sodat ons ons eie pad kan volg. Daarom is die
praat oor die onduidelikheid van God se wil dikwels ’n
dekmantel vir eiewilligheid. Waar dit dan aan ontbreek, is dan
nie die kennis van Vader se wil nie, maar die gehoorsame
onderwerping daaraan. Daarvoor bid ons in die 3e bede.

Natuurlik kan daar situasies wees waarby ek nie
presies weet wat ek moet kies of doen nie. Die konkrete
toepassing van God se geopenbaarde wil is nie altyd onmiddellik
duidelik nie. Maar daar neem ek dan as kind van Vader geen
genoege mee nie. Laat staan dat ek sou dink dat dit my goed pas
nie. Nee, so ’n situasie van onsekerheid sal vir ’n
ware Christen juis verdriet en stryd veroorsaak. Ek weet dat
slegs die wil van die Vader ware vrede kan gee. Ek sal my dan ook
inspan om die Vader se wil te verstaan en op te volg. Dis baie
anders as die gemaksugtige houding van: los maar, maak jou nie te
bekommerd daaroor nie. Hoe meer jy jou in God se wil verdiep, des
te meer sal jy moet prysgee. En dit doen ek liewer nie. Daarom
span ek my liewer nie in om Vader se wil te leer ken nie.

Gemeente, die derde bede: laat u wil geskied,
is geen maklike bede nie. Daarmee bid ek teen myself in. "Gee
dat ons en alle mense ons eie wil prysgee." Vind u dit
maklik om u eie wil prys te gee? Om nee te sê teen u eie
begeertes en verlangens? Ter wille van hemelse Vader? Let wel,
dis wat u self van Vader vra. U bid dat Vader aan u
selfhandhawing ’n einde wil maak. Dat Hy al u heilige koeie
wil vernietig. Dat Hy alle selfsug en eiewilligheid wil breek.

Dit is nie niks nie. Kan dit wel? Is dit wel
verstandig? Is dit wel goed vir my om nee vir myself te sê? In
die hulpverlening word daar dikwels juis benadruk dat jy jouself
moet wees. Jy moet vir jouself opkom, anders gaan dit fout met
jou. Jy moet vir jouself besluit wat jy wil en dit dan ook doen.
Jy moet jou nie deur ander laat lei nie.

Hoe kan jy dan vir selfverloëning bid? Wat
bedoel die Here daarmee? Die Here bedoel daar in elk geval nie
mee dat jy jouself moet verwerp nie. Hy bedoel nie daarmee dat jy
jou deur ander mense mag laat misbruik nie, asof jy geen waarde
het nie. Nee, daar is niemand wat ons mense hoër waardeer as ons
hemelse Vader nie. Hy het ons as sy meesterstuk geskep. Hy het
selfs sy Seun vir ons oorgegee. Ons is sy dierbare kinders. Ek
moet daarom myself ook sien as ’n waardevolle kind van die
Vader. U, ek, jy is dierbaar vir die Here. Vergeet dit nooit nie.

Maar wat bedoel die Here dan as Hy sê dat ons
onsself moet verloën? En dat ons ons eie wil moet prysgee? Hy
bedoel daarmee dat ons voorrang moet gee aan Vader se wil. Jy is
wel belangrik maar nie die belangrikste nie. Jou Vader is die
belangrikste. Sy wil is in jou lewe ook die belangrikste. En dit
is juis goed vir jou. Dit beteken jou redding. Ook al lyk die
teenoorgestelde miskien waar te wees. Deur jouself aan Vader se
wil oor te gee red jy jou lewe. Dink maar aan wat ons uit Mt 16
gelees het. Petrus wil daar niks van weet dat die Here Jesus moet
ly en sterwe nie. Petrus wil die Here Jesus hier op aarde in
lewende lywe by hom hou. Gelukkig beslis ons Vader anders. Want
as Jesus sy lyding en sterwe nie aanvaar nie, dan is daar vir u
en my geen toekoms nie. Dan is daar immers geen versoening nie.
Die Here bestraf Petrus dan ook met die woorde: Gaan weg agter My,
Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, omdat jy nie die dinge
van God bedink nie, maar die dinge van die mense."

Daarna sê Christus: "As iemand agter My
aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My
volg". Met die woorde beskerm die Here Jesus ons teen
onsself. Die Here weet van die mag en invloed van die sonde en
van satan, dat hulle lewens verwoes. Dis iets wat baie
hulpverleners nie wil erken nie. Daarom gee hulle die raad: kies
wat jy self wil en doen wat jy self wil. Maar die Here Jesus is
bewus van sonde en satan. Hy hou rekening met die volle
werklikheid van hierdie lewe en wêreld. Daarom sê Hy: doen nie
altyd wat jy self wil doen nie. Dit is dalk sleg vir jou of selfs
rampsalig. Jou eie wil is mos dikwels sondig en kortsigtig. Verloën
jouself ter wille van jou Here. Onderwerp jou wil aan Vader se
wil. Dit is altyd goed vir jou. "Want elkeen wat sy lewe wil
red (wat heeltemal op die lewe hier en nou gefokus is en
krampagtig daaraan wil vashou), sal dit verloor; maar elkeen wat
sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat dit
’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade
ly?" Ja, wat baat dit my as ek nou ’n fees van ’n
tyd het, maar my lewe met God in gevaar bring? Wat baat dit my as
ek hier in die wolke leef, maar intussen my Vader verloor?

In die 3e bede bid u dus dat ek gehoorsaam my
wil aan Vader se wil sal onderwerp. Om die wil van ’n ander
te gehoorsaam is vandag nie ’n populêre saak nie. Vryheid
en blyheid is die slagspreuk. Onafhanklikheid en
selfbeskikkingsreg. Elkeen moet vry wees om self te bepaal wat hy
wel of nie wil doen nie. Elkeen moet sy eie wil opvolg. As die
wil van jou regering, van jou ouers, jou onderwysers jou nie pas
nie, dan sou jy vry moet wees om dit te ignoreer. So ’n
houding begin meestal reeds op ’n jong leeftyd. Hoe dikwels
het ouers nie daarmee te make nie. Jou kind is nie lus om te doen
wat jy in alle billikheid van hom vra nie. As jy as ouer aan die
gevoelens toegee en weier om hulle tereg te wys dan gaan dinge
fout. Dan kry ’n mens eiewillige en selfsugtige kinders..
Die samelewing, ja ook die skool en die kerk, sal daarvan die
wrange vrugte pluk. Jy kry dan eiewillige en selfsugtige burgers,
studente en lidmate van die kerk. Mense wat nooit geleer het om
hul eie wil te verloën nie. As jy as kind by pa en ma tuis nooit
geleer het om jou eie wil prys te gee nie, dan sal dit baie
moeilik wees om dit wel te doen in die kerk, by die skool of by
die werk. Dan laat jy amper vanself jou eie wil die toon aangee,
tensy dit deur oorreding of oormag tot swye gebring word.

Gemeente, gehoorsaamheid was altyd al ’n
moeilike saak vir ons mense. Maar in die huidige leefklimaat is
nog moeiliker. Jy moet dan teen die gees van die tyd opvaar.
Daarom is die christelike gesin des te belangriker. Dis waar jy
as kind geoefen moet word in selfverloëning. Dis waar jy moet
leer om jou wil aan die wil van jou hemelse Vader te onderwerp.
Dis waar jy moet leer om gehoorsaam te wees. Waar die oefening
nie meer gegee word nie, daar word die stryd teen eiewilligheid
in die kerk en samelewing amper onmoontlik. Daar verhinder ons as
ouers die verhoring van ons eie bede. Gehoorsaamheid aan die wil
van ’n ander moet in die eerste plek daar in die gesinne
geleer word. Veral ook: gehoorsaamheid aan die wil van Vader.
Daar in ons gesinne moet ons leer wat dit beteken om te bid:
Vader, laat u wil geskied.

Die gehoorsaamheid aan Vader se wil moet
natuurlik nie ’n slaafse gehoorsaamheid wees nie. U is geen
slaaf nie. U is ’n kind van die Vader. U ken tog Jesus
Christus, wat Homself oorgelewer het om ons van slawerny te bevry
en om ons weer by Vader tuis te bring as sy seuns en dogters?
Dink aan die geskiedenis van Getsemane. Dis die Seun se lus en
lewe om die wil van sy Vader te doen. Hy wil niks anders nie.
Maar Hy huiwer wanneer Hy dink aan die beker van God se toorn.
Dit is te erg. Daarom: "My Vader, as dit moontlik is, laat
hierdie beker by My verbygaan." Dis egter nie alles wat die
Here Jesus bid nie. Hy vervolg: "nogtans nie soos Ek wil nie,
maar soos U wil." Hy onderwerp Homself aan Vader se wil.
Ookal beteken dit sy dood, sy dood aan die kruis. Hy aanvaar die
kruis ter wille van u en my. Om ons skuld te versoen, om ons te
verlos. Hy het alles daarvoor oor, sy lewe. Wel, as jy so ’n
bevryding ken, sou jy dan nie bly en dankbaar Vader se wil opvolg.
Vader soek kinders wat bly is om by Hom tuis te wees. Kinders wat
bly is om hulle aan Vader se huisreels te hou. Die kind weet
immers dat dit sy geluk is, sy redding.

In die 3e bede leer Christus ons om te vra vir
vreugde in die doen van Vader se wil. En as u dit in geloof doen,
dan sal Vader u die vreugde ook gee. Dit sal dan ’n vreugde
wees om Vader se wil te doen, en nie ’n las nie. In die Here
Jesus wil Vader immers u almagtige en getoue Vader wees. Die
stryd teen u eie sondige wil, sal bekroon word. U sal ontdek dat
u steeds verder kom, dat u steeds gelukkiger daarin word. Die
hartlike berou oor u sondes sal dan saamgaan met ’n hartlike
vreugde in God deur Chrsitus en ’n lus en liefde om volgens
die wil van God in alle goeie werke te lewe.

Dit bring ons by die tweede gedagte van die
preek. Ons bid in die 3e bede nie slegs vir die verloëning van
ons eie wil nie, maar ook vir getrouheid in ons daaglikse werk.

God wil gehoorsaam word daar waar ons leef en
werk, in ons daaglikse besighede. Die laaste woorde van die 3e
bede wys daarop dat God se wil nie so goed uitgevoer word op
aarde as in die hemel nie. In die hemel is daar volmaakte
gehoorsaamheid. Daar voer die engele volkome gewillig en getrou
die take uit wat God vir hulle gee. Daar is geen teëpratery of
ontevredenheid nie. Alles word in volkome harmonie gedoen. Die
Here hoef slegs een wenk te gee en die engele kom in beweging in
sy diens. Hulle wil niks anders as gehoorsaam wees nie. Daarom
noem die Bybel hulle dienende geeste wat vir diens uitgestuur
word terwille van die wat die saligheid sal beërwe (Hebr 1:14).
Ps 103 praat van die engele as kragtige helde wat sy woord
volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord. En: sy
dienaars wat sy welbehae doen. (Ps 103:20,21).

Die engele in die hemel stel ’n goeie
voorbeeld van getroue diens. ’n Pragtige voorbeeld, maar ook
’n beskamende voorbeeld. Want ons blyk ongehoorsame,
ongewillige en ontroue kinders te wees. Ons het die voorreg
ontvang om as kinders van God geskep te word. En ons het nou die
voorreg om deur Jesus opnuut tot kinders van God aangeneem te
wees. Ons moet nou egter leer van die voorbeeld van God se
dienaars, sy knegte. Dis die saak op sy kop. Ons, God se kinders,
sou ’n voorbeeld aan die engele, God se dienaars, moet stel.
Gestel dat ons kinders sou moet leer van die voorbeeld van die
werksters, hoe om hulle teenoor ons te gedra. Na die sondeval
stel Christus die engele aan ons voor as voorbeelde: soos in die
hemel net so ook op die aarde.

Gemeente, die bede verwys na ons daaglikse werk,
na ons taak hier op aarde. Die kat verwoord dit so: "sodat
elkeen sy amp en beroep net so gewillig en getrou kan uitvoer
soos die engele in die hemel."

Deur te praat van ons amp en beroep wys die Kat
op die plek waar ek God se wil moet gehoorsaam. In my daaglikse
werk moet ek my wil aan Vader se wil onderwerp. In my gewone
daaglikse werk is ek in diens van Vader. Dis nie in die eerste
plek mense, my baas, my direkteur, wat ek dien nie, maar my Vader.
Soms dink ons dat die diens aan die Here sien op allerlei
buitegewone dade. Maar ons word nie geroep om allerlei
buitegewone dinge te doen nie. Ons word geroep om God te dien in
die gewone daaglikse besighede.

God roep my hier en nou, op die aarde, in
hierdie wêreld. Daarom moet ek midde in hierdie wêreld staan,
en gewillig en getrou werk solank as God my lewe en gesondheid
gee. Dan bedink ek die dinge wat daarbo is. Daarbo is my
hoofkwartier, die sentrum van waaruit ek my instruksies ontvang.
Maar ek staan met my twee voete op hierdie aarde, in Vader se wêreld.
En ek dien Hom hier met al my vermoëns. Dan doen ek my bes om
christelik te wees, om ’n goeie christelike student te wees,
om ’n goeie christelike ondernemer te wees, om ’n goeie
christelike werknemer te wees ens. Tot verheerliking van my
hemelse Vader.

Ons moet hier lewe en hier daar uit haal wat
God daarin gelê het. Ons moet egter volgens die norme van die
toekomende stad leef. Soos Abraham. Maar in hierdie lewe. Dis
waar ons geroep word om te dien. Dit sal sweet en trane te
voorskyn bring. Ek moet die smaad van Christus dra. ’n
Dissipel is nie meer as sy Meester nie. Christus het mos gesê:
"As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en
sy kruis opneem en My volg."

Om hierdie diens te aanvaar, beteken dat ek nie
al te bekommerd moet wees oor myself nie, oor my besigheid, my
populariteit, my inkomste, my geriewe nie. Om Christus en sy
belange voorang te gee beteken miskien groot verliese, teenstand,
skinder, veragting en verwerping. Miskien verloor ek my vriende,
my werk relasies, my eie familie, my dierbaarste bande in die
lewe. Om die diens van Chrsitus te aanvaar kan soms beteken dat
ek die grootste offer moet gee, naamlik my eie lewe.

Broeders en susters, u daaglikse besighede word
geplaas binne die raamwerk van die volg van Christus. Die aarde
is nog u werkplek. U mag uself weer as dienaar van God sien, in
hierdie wêreld. In God se koninkryk is daar niemand werkeloos
nie. Hoe bevrydend is dit om te weet dat my daaglikse taak ’n
goddelike beroep is. Ek is nie meer ’n slaaf nie, ’n
slaaf van my werk, ’n slaaf van my geld, ’n slaaf van
my studie nie. Ek het ’n goddelike beroep. Ek mag God se
medearbeider wees.

So sien ons dan die christelike manne en vroue
besig in hul huis en gesin: in diens van God. So mag ons ons werk
toe gaan, op die kantoor, by die werkplek, by die skool of in die
winkel of waar ookal. Watter werk ek ook mag hê, hoe onbelangrik
dit mag lyk: ek is in diens van wie? Van God! Hy wil my gebruik,
in diens neem. Hy wil dat ek sy heilsame reëls nakom. Hy is
nommer 1. Sy wil is nommer 1. Sy wil alleen is volmaak goed.

Daarom bid ons: Laat u wil geskied , soos in
die hemel net so ook op die aarde. Gee dat ons en alle mense ons
eie wil prysgee om aan u wil gehoorsaam te wees. Bevry ons almal
van opstand teen U. Breek alle eiewilligheid by myself en by
ander. Maak ons almal gewillig en getrou in u diens.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)