Die eerste ding wat Christus aan die kruis doen is om vir sy vyande te bid.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-04-13
Teks: 
Lukas 23
Preek Inhoud: 

Lukas 23:34a

Ds C Kleyn - Vrydag 13 April
2001

Lees: Lukas 23:13-49.
Sing: Ps 103:1,2; Ps 40:4,5; Ps
22:1,7; SB 6:1,2,6,7; SB 8:1,2.

Tema: Die eerste ding wat Christus aan die
kruis doen is om vir sy vyande te bid.

Hy bid:

  1. Vader, straf hulle nie
  2. Straf My alleen
  3. Laat hulle eers u evangelie hoor

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die Jode het gekry wat hulle wou hê. Jesus
Christus hang aan die kruis. Hulle is nou eindelik van hom verlos.
Met sy invloed sal dit nou wel afgelope wees. Sy mag lyk finaal
gebreek.

Daar hang Hy dan. Met hande en voete
vasgespyker aan ’n paal. Daar hang Hy magteloos en uitgeput.
Jode en heidene het saam daarvoor gesorg dat Hy aan die kruis
gekom het. Nou gaan hulle saam Hom bespot. ’n Mooi koning,
daar aan die kruis. Joodse leiers, Romeinse soldate, selfs hulle
wat langs hom aan ’n kruis hang, los hom nie uit nie. Is dit
die koning van die Jode?

Maar, broeders en susters, wat sien u nou? Wat
doen Jesus onder daardie verskriklike lyding en hoon? Skreeu Hy
van pyn en verdriet? Kla Hy oor sy nood by die Vader? Roep Hy God
se oordeel oor sy vyande uit? Nee, niks daarvan nie. Die eerste
wat ons Here Jesus aan die kruis doen is om te bid. Om te bid,
nee, nie vir Homself nie, maar vir sy vyande.

Toe hulle die spykers deur sy hande en voete
gehamer het, het Hy sy mond nie oopgemaak nie. Hy het swyend
toegelaat dat hulle hom aan die kruishout gespyker het. Maar nou
Hy daar hang, nou doen Hy sy mond wel oop. Hy gaan bid. Bid vir
sy vyande. Kan u dit begryp? So magtig is die liefde van u
Heiland.

Vanoggend wil ek vir u die blye boodskap van
die teks verkondig onder die tema: die eerste ding wat Christus
aan die kruis doen is om vir sy vyande te bid.

Hy bid:

  1. Vader, straf hulle nie
  2. Straf My alleen
  3. Laat hulle eers u evangelie hoor

Wie sou ooit dit verwag? Terwyl die felste pyn
deur sy hande en voete sny, bid ons Here vir sy vyande. Terwyl
die mense juis hulle haat en spot oor Hom uitgiet, bid Hy vir
hulle. Wie sou dit nadoen?

Wat maak ’n mens as iemand jou swaar
beledig? As iemand jou afwys, verag, verneder, verwerp? Wat doen
jy dan? Gaan jy dan vir die persoon bid? Ja, dis wel wat Christus
ons geleer het. Het Hy nie in sy bergpredikasie vir ons gesê:
"Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle
vervloek, doen goed aan die wat julle haat, en bid vir die wat
julle beledig en julle vervolg" (Mt 6:44). Is dit wat julle
doen? Bid vir die wat julle beledig en julle vervolg? Word ons
dikwels nie eerder kwaad op so ’n persoon? Soek ons nie
eerder sy onheil? Dis die mees natuurlike reaksie. ’n
Reaksie wat ons kan begryp. Maar let wel, ’n reaksie van die
vlees en nie van die Gees van God nie.

So reageer ons Here Jesus nie. En hy het nie
eers te make met mense wat Hom slegs beledig nie. Nee, dis baie
erger. Hy het te doen met folteraars, moordenaars. Tog bid Hy vir
hulle. Vader, vergeef hulle.

Christus sou die beskikking kon kry oor
duisende engele. Hy sou sy vervolgers sommerso kon verdelg het.
Dit het hulle ook werklik verdien. Wat doen hulle immers? Hulle
vergryp hulle aan die Seun van God. "Hy het na sy eiendom
gekom, maar sy eie mense het Hom nie aangeneem nie" (Joh 1:11).
Die middelaar van die nuwe verbond het tot sy eie volk gekom,
maar hulle is besig om Hom op ’n kruis stadig te laat
doodgaan van pyn en ellende. ’n koeël of swaard sou die
eksekusie kort hou, maar nou word die marteling lang uitgerek.

Hoe het dit in die Ou Testament gegaan? Hoe het
dit gegaan toe Korag, Datan en Abiram teen Moses die man van God,
opgestaan het? Die aarde het sy mond toe oopgemaak. Hulle is toe
deur die toorn van God lewend verslind. Toe het hulle slegs
’n groot mond teen Moses gehad. Toe het hulle slegs die
middelaar van die Ou Verbond verag. En God het hulle in sy toorn
verdelg.

Op Goeie Vrydag is dit veel erger. Die mense
bespot nie slegs die Seun van God nie. Hulle folter God se eie
Seun op een van die verskriklikste maniere. Hulle het hom aan die
kruis laat spyker en laat hom nou daaraan van pyn en uitputting
doodgaan. Indien ooit iemand die vuur van God se toorn verdien
het, dan seker hulle. Moet die aarde sy mond nie oopmaak om hulle
lewend te verslind nie? Moet daar nou geen vuur uit die hemel kom
om hulle te vernietig nie? Ja, dit verdien hulle wel.

Maar wat doen die Seun van God wanneer Hy so
verskriklik en skandelik gefolter word? Hy bid: Vader, vergeef
hulle. Vader, laat die aarde sy mond nie oopgaan nie. Laat die
vuur nie uit die hemel neerdaal om hulle te verteer nie. Gee nie
vir hulle wat hulle verdien nie. Straf hulle nie. Bedwing u toorn.
Vergeef hulle. Dit beteken : laat hulle vryuit gaan. Reken hulle
hierdie kwaad nie toe nie.

So ver gaan Christus se liefde vir sy haters.
Hy smeek dat hulle in die lewe mag bly, dat hulle vryuit mag gaan.
Hy bid vir hulle dat hulle nog die geleentheid mag ontvang om
hulle te bekeer. Om so uiteindelik ook ewig vryuit te kan gaan.

So bid ons Here Jesus. En Hy doen dit met baie
klem. Sy gebed is eintlik ’n soort bevel. Dit word geuit in
die gebiedende vorm: vergeef hulle. Christus doen ook ’n
beroep op sy intieme verhouding tot die Vader. Let maar op die
aanspraak ‘Vader’. Dis die beste en sterkste pleitgrond.
Straks word dit vir homself: my God, my God, waarom het U my
verlaat. Hier is dit vir sy vyande: Vader, vergeef hulle.
Christus wil so sterk as moontlik op verhoring aandring. Vader,
Ek is u eie Seun. U kan my tog nie afwys nie? Verhoor my gebed.
Laat my vyande nou vryuit gaan. Straf hulle nie.

Vir wie bid ons Here Jesus eintlik? Vir die
Romeinse soldate? Vir die Jode? Christus bid vir albei. Hy bid
vir die soldate wat Hom aan die kruis vasgespyker het. Hy bid ook
vir Pontius Pilatus wat daar agter staan, wat amptelik die
onregverdige uitspraak gedoen het dat gekruisig moet word. Hy bid
vir sy eie volk. Hy bid vir die hoëpriesters en die
skrifgeleerdes. Hy bid vir al die manne en vroue wat geroep het:
kruisig hom, kruisig hom.

Ja, gemeente, ons kan nog verder gaan. Hy bid
ook vir u en my. Hoe kan dit? Ek was tog nie daarby aanwesig toe
Christus gekruisig is nie? Dit mag waar wees, maar wie het
Christus aan die kruis gebring? Wat het Hom aan die kruis gebring?
Tog ons sondes. Dit is ons oortredinge wat Hom aan die kruis
gebring het. Soos die Profeet Jesaja dit so duidelik verwoord het:
"Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter
wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel (Jes 53:5) As u die
kruis sien, dan sien u u sonde en skuld. Dat u van nature in
sonde en skuld verlore is. Die nagmaalsformulier verwoord dit so
mooi: "God se toorn teen die sonde is so groot dat Hy –
eerder as om dit ongestraf te laat bly – sy geliefde Seun
Jesus Christus met die bittere en smadelike kruisdood gestraf het"

Is dit nie wonderlik, broeders en susters, dat
ons Here Jesus vir ons gesterf het, toe ons nog sondaars, vyande
was nie?. Christus het vir u en my gebid toe ons nog vyande was.
Vyande gaan nie vir hulself bid nie. Dit wil hulle nie. Dit kan
hulle nie. Maar nou gaan Christus vir hulle bid. Daarmee wil Hy
Vader se hart vir hulle in beweging sit. Daarom is dit nie so dat
u eers in aksie kom om vir vergewing te vra en dat dan eers die
vergewing van sondes aan u gegee word nie. Gelukkig nie! Nee,
daar is eers die bede van u Heiland. U gebed tot God gaan nie aan
die genade vooraf nie. Eers is daar die gebed van u Heiland, toe
u nog ’n vyand was. Die feit dat Hy vir u tot die Vader
gebid het, maak dit moontlik dat u nou ook gaan bid. So ver gaan
sy liefde. Hy bid vir U reeds aan die kruis. En nie slegs dit nie.
Hy doen nog veel meer. Hy sterf daar vir u en my.

So kom ons by die tweede gedagte: Christus bid
nie slegs ‘Vader straf hulle nie’ nie, maar ook ‘Vader
straf My alleen.’

Ons Here Jesus het alle rede vir sy gebed. Wat
gebeur daar immers op Golgota? Jode en heidene bedryf ’n
gruwelike misdaad. Hulle vergryp hulle aan die geliefde van die
Vader. Hulle kruisig die eniggebore Seun van God. Dit moet vir
die Vader ’n baie moeilike tyd wees. Wie kan dit aansien en
rustig bly? Watter aardse vader sou so ’n smaad en onreg
teen sy geliefde kind kan verdra? Hoeveel te meer geld dit vir
ons hemelse Vader. Vader het reeds oneindig veel geduld met sy
volk gehad. Hy het vir hulle profete, priesters en konings
gestuur. Maar wat het hulle met hulle gedoen? Hulle het die een
na die ander verwerp en gedood. Ten slotte stuur God sy eie Seun
na hulle toe. En dan roep hulle: Kruisig hom, kruisig hom. Moet
Vader se toorn nie teen hulle losbars nie? Dit kan tog nie uitbly
nie? As mense jou seun so folter en hoon dan kan jy jou tog nie
afsydig hou nie?

Ja, gemeente, onderskat nie wat hierdie lyding
vir die Vader beteken nie. Baie mense noem die Vader van die
Bybel ’n harde, bloeddorstige Vader. Hy laat sy Seun ly. Hy
straf Hom vir die sondes van ander. Is u Vader daardeur hard en
bloeddorstig? Wat ’n godslastering! Juis in die lyding van
sy Seun, toon die Vader sy onbegryplike liefde. Wie sou dit vir
sondaars, ja, vir vyande, oorgehad het? Die lyding van sy Seun
was geen kleinigheid vir die Vader nie. Dit het Hom diep geraak.
Kan u dit voorstel: soveel het Hy vir u verlossing oorgehad.

Tydens die verskriklike oomblikke van die
kruisiging steun die Seun sy Vader. Hy bid: Vader vergeef hulle.
Hou u toorn in. Straf hulle nie. Vader gryp nie in nie. Maak geen
einde aan hulle gehoon en gespot nie. Slaan die folteraars en
haters nie neer nie. Gee hulle nie die straf wat hulle verdien
nie.

Christus bid dus: Vader kom nou nie vir my op
nie. Laat My maar ly. Laat my verskriklike lyding maar
onverhinderd voortgaan. Straf my maar. Straf my alleen. Giet u
volle toorn maar oor My uit. Laat alles op my neerkom. Ek wil die
beker van u toorn heeltemal leeg drink. Om vir vyande die lewe te
verdien.

’n Onbegryplike gebed: Midde in sulke
verskriklike lyding. Wie bid nou vir die voortgang van so ’n
lyding? En dit terwille van vyande. Die mense spot en hoon. Hulle
gaan aan om Hom te folter. En dan so ’n gebed. Dan moet
’n mens wel boordevol liefde wees. Christus weet dat as die
Vader vir Hom opkom, dit met sy vyande gedaan is. Hulle sal dan
hel toe gaan. Christus weet ook dat dit dan met sy
verlossingswerk gedaan is. Dan ontvang Hy wel bevryding, maar nie
die sondaars nie. Dan word geen enkele sondaar verlos nie. Dan is
daar ook vir u en my geen verlossing nie. Daarom bid Christus vir
die voortgang van sy lyding. Sien u die liefde van u Heiland? Sy
liefde tot die uiterste? Hy wil nie die hel vir sy vyande nie,
maar die hemel. Hy aanvaar self die hel om dit moontlik te maak.
Die mees verskriklike helse lyding is vir Hom nie te veel om
sondaars te red nie. Wat ’n liefde! Onbegryplik. Vader straf
nie hulle nie, straf my alleen.

Christus identifiseer Homself met sy volk, met
u en my. By ander geleenthede het Christus nie so ’n versoek
tot die Vader gerig nie. As Seun van God het Hy self mense hul
sondes vergewe. Waarom vra Hy dan nou wel vir die Vader om hulle
te vergewe. Hy is nou aan die kruis. Daar aan die kruis mag Hy sy
goddelike voorreg, volmag nie gebruik nie. Waarom nie? Hy hang
daar immers as ons plaasvervanger. Die regverdige is besig om vir
sondaars te sterwe. Dit wil Hy doen in die plek van u en my. Hy
hang daar nie in ’n plek van gesag nie. Hy hang daar as
’n vervloekte. Daarom neem Hy nou ook die plek in van ’n
smekeling voor die Vader. Hy identifiseer Homself met sy volk. Hy
bid vir oortreders.

Christus gebed beteken ook: laat hulle eers u
evangelie hoor. Die derde gedagte.

In sy gebed spreek ons Here van onwetendheid.
"Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen
nie." Weet die Jode en die soldate werklik nie wat hulle
doen nie? Hulle weet tog dat hulle Jesus kruisig? Hulle weet tog
ook dat Hy onskuldig is? Dis nie verniet dat hulle valse getuie
teen Hom laat optree nie. En Pilatus herhaal nadruklik tot drie
maal toe dat Jesus niks gedoen het wat die dood verdien nie, hy
is onskuldig. Maar hulle skreeu: kruisig hom, kruisig hom. In
sekere sin weet hulle dus wel wat hulle doen. Hulle kruisig die
onskuldig Jesus.

Tog besef hulle ten diepste nie waar hulle mee
besig is nie. Hulle besef nie dat hulle besig is om die eie Seun
van God te kruisig nie. Hulle weet nie met watter sataniese werk
hulle besig is nie. Petrus sê dan ook later vir die Jode: ek
weet dat julle dit in onwetendheid gedoen het, net soos julle
owerstes (Hand 3:17). Rondom die kruis is nog baie wanbegrip en
misverstand. Selfs by die dissipels. Hoeveel te meer by Christus
se vyande.

Nee, dit is geen verontskuldiging nie. Hulle
kon dit weet. Die woord van God was juis aan hulle toevertrou.
Die profete het bv reeds in duidelike taal oor die Christus
gepraat. En Christus optrede en prediking het van Hom getuig as
die beloofde Messias. Sy woorde en dade was uniek. Ongehoord.
Volmaak. Vol van gesag. Goddelik. ’n Vervulling van profesie.
Maar die Jode wou dit nie aanvaar nie. Daarom sit daar agter die
onwetendheid ongeloof. Tog is die onwetendheid voldoende rede om
die oordeel voorlopig uit te stel. Vader straf hulle nou nie.
Laat eers die volle evangelie gehoor word. Laat eers hierdie
kruis ten volle verklaar word. Laat eers u Gees uitgaan. Laat die
Pinksterevangelie eers verkondig word. Laat die mense eers hoor
wat hier aan die hand is. Laat u Pinkstergees alle misverstand
wegneem. Dan kan die mense bewus hulle voor of teen my opstel.

So bid Christus aan die kruis voor die
verkondiging van die evangelie in hierdie wêreld. En sy gebed is
verhoor. Die kerkgeskiedenis is daarvan ’n bewys. Op die
Pinksterdag word reeds drie duisend mense op hul knieë gebring.
Hulle glo en aanbid die Christus.

So het die evangelie ook by u uitgekom, in
antwoord op die gebed van Christus. Vader, vergeef hulle, want
hulle weet nie wat hulle doen nie. Die wêreld ontvang nog ’n
tyd van genade. ’n Tyd om tot geloof en bekering te kom.
Steeds meer mense hoor die evangelie van die kruis.

Wat doen u, wat doen jy met die evangelie? Raak
dit jou? By so ’n liefde kan jy tog nie onbewoë,
onverskillig of passief bly nie? By so ’n onbegryplike,
selfopofferende liefde? Terwyl Hy die felste pyn ly, bid ons Here
Jesus vir sy vyande. Dis die eerste ding wat Hy aan die kruis
doen. Hy bid vir vyande, vir u en my. Vader straf nie hulle nie,
straf My. So ver gaan sy liefde vir sondaars. Wat ’n liefde
en genade. Sou ek Hom dan nie aanbid nie? Hom my wederliefde wys
nie? Vir Hom vuur en vlam wees nie?

Daar is nou geen pardon meer nie. U kan dit
weet. Die woord van die kruis is vir u verkondig. As ek nou nog
weier, dan is ek besig om Jesus Christus opnuut te kruisig. En
dit is veel erger as die eerste kruisiging op Golgota. Laat ons
dan almal saam Hom aanbid as ons enige en volkome verlosser. Hoor
hom aan die kruis bid tot die Vader, hoor Hom tot u spreek in die
evangelie. Laat dan die klank van sy woord resoneer in u harte.
En in u lewe.

En as u soms uit swakheid in sonde val, moet u
nie aan die genade van God twyfel nie. Christus se offer is
volkome. Hy het die Vader sy toorn teen die sonde op Hom laat
uitgiet. "Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter
wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir
ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir
ons genesing gekom" (Jes 53:5). Is daar nog enige rede om te
twyfel aan sy genade, aan die feit dat sy offer u ten goede kom?.
U sondes, jou sondes, hoe groot en baie ookal, wou Hy op Hom neem,
het Hy op Hom geneem. Hoor Hom bid: Vader straf nie hulle nie,
straf my in hul plek. Onbegryplik maar waar! So het hy u sondes
uit die verlede, in die hede en in die toekoms versoen. Glo u dit?
Durf u dit te aanvaar? Dan is u sondes vergewe. In Hom het u
vergewing van sondes en die ewige lewe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)