Die bede: laat u koninkryk kom.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-04-08
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 48
Preek Inhoud: 

Sondag 48

Ds C Kleyn - Sondag 8 April
2001

Lees: Daniël 2:31-49;
Handelinge 1:1-11; Sondag 48.
Sing: Ps 99:1,2; Ps 99:3-5; SB 11:1-3;
Ps 110:1-4; Ps 2:3,6.

Tema: Die bede: laat u koninkryk kom.

  1. Die koms van die koninkryk is ’n gawe
    (belofte); en
  2. Die koms van die koninkryk is ’n
    opdrag (roeping).

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Te midde van die koninkryke van die wêreld bid
ons daagliks vir die kom van God se koninkryk. Ons verwag ’n
koninkryk uit die hemel. ’n Ryk van volkome heil, waarin
geregtigheid woon, waarin God alles in almal sal wees.

Met begryplike ongeduld kan die vraag by ons
opkom: Hoe lang nog? Wanneer kom die koninkryk eindelik? As
Christus - en nie die duiwel nie - koning is, dan moet dit in die
wêreld tog harmonieus en paradyslik word? Dan moet tog alle
moorde, oorloë, armoede tot die verlede behoort? Dan moet al die
wapens tog afgeskaf kan word? En alle haat en angs verdwyn? Dan
moet dit tog op alle paaie veilig wees en onsself sprankelend
gesond?

Maar in ons daaglikse lewe is dit so anders.
Wat ek sien en lees, wat ek aan die lywe ondervind, kan soms alle
plesier vir my wegneem.

In so ’n wêreld het Christus uitgeroep:
die koninkryk van God is onder u. Ek is Koning. Ek stig my
koninkryk van geregtigheid en vrede. Maar wat sien ons daarvan?
Kom dit nog wel?

Die psalmiste en profete het op hul manier ook
geroep: Hoe lang nog? Die daeraad het gekom, maar dit bly nog
steeds nag. En toe die Here Jesus op aarde die koninkryk van God
verkondig het, het die mense ook in ongeduld gevra: wanneer gaan
u die ryk dan oprig?

Tussen opstanding en hemelvaart het die
apostels ook die vraag gestel: Here, gaan U in hierdie tyd die
koninkryk vir Israel weer oprig? Die opgestane Christus het
gedurende die 40 dae oor die dinge van die koninkryk van God tot
hulle gespreek. Die koninkryk was die inhoud van sy laaste
onderrig. En nou vra hulle na die wanneer. Hul verwagtings is
hoog gespanne. Gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel,
die koninkryk van God, weer oprig? Op die vraag gee die Here
’n duidelike antwoord. Nee, Hy noem nie die tydstip nie:
"dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat
die Vader deur sy eie mag bepaal het nie." Nee, oor die
tydstip word nie gepraat nie, maar die Here wys wel duidelik die
pad: "maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees
oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as
in die hele Judea en Samaria en tot die uiterste van die aarde."
Hier praat Jesus van ’n gawe en ’n opdrag. Langs die
pad van belofte en roeping rig God sy koninkryk in hierdie wêreld
op.

Ek wil vir u verkondig: die bede: laat u
koninkryk kom

  1. Die koms van die koninkryk is ’n gawe
    (belofte)
  2. Die koms van die koninkryk is ’n
    opdrag (roeping)

Sedert die sondeval het God die koms van sy
koninkryk in die vooruitsig gestel. Satan het die owerste van
hierdie wêreld geword, maar God het tegelyk belowe dat satan
verwyder sal word, vernietig: die saad van die vrou sal die kop
van die slang vermorsel.

Die koms van daardie koninkryk was in die
geskiedenis voortdurend die magtige saak van die Vader. Na die
rewolusie in die paradys het God die aarde nie gelos nie. Hy sal
die aarde opnuut paradys laat wees. Die boeke van die Ou en Nuwe
Testament staan vol daaroor. Alles is daarop gerig. Dit gaan van
die verlore paradys na die herstelde paradys. Van Gen 3 na Openb
21. Van die eerste paradys, waarin God met die mens gewandel het,
na die nuwe hemel en nuwe aarde waarvan in Openb 21:3,4 gesê
word: "Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy
sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by
hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë
afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en
geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste
dinge het verbygegaan." Sedert die sondeval is alles daarop
gerig.

Reeds by die naamgewing van Noag klink die
verlange deur. Noag beteken immers soveel as rus. Die naam word
in Gen 5 gemotiveer met woorde: "Dit is hy wat ons sal troos
oor ons werk en oor die moeitevolle arbeid van ons hande wat
voortkom uit die aarde wat die Here vervloek het."

Die bede: laat u koninkryk kom, is die bede van
die kerk van die ou en nuwe bedeling. Daaroor gaan die vir die
Vader in die hemel. En daaroor gaan dit gevolglik ook vir Vader
se kinders op aarde.

Wanneer God Abraham roep, stel Hy die wêreld
omspannende ryk duidelik in die vooruitsig. Ja, die roeping is
daarop gerig. Abraham en sy nageslag word nie verkies om altyd as
enige die Here te dien nie. Nee, God het reeds by die verkiesing
van die aartsvader die geslagte van die aarde op die oog. In Gen
12 sê God vir Abram: "in jou sal al die geslagte van die
aarde geseën word". Vanaf die begin het die Here al die
geslagte van die aarde op die oog. Hulle sal met Abraham, in Hom,
geseën word. God se universele ryk sal kom.

Die profete en digters gee aan die verwagting
van God se wêreldheerskappy uitdrukking. Die profete moet die
verwagting by God se volk lewendig hou. Teenoor ongeloof en
ongeduld waardeur die uitsig vervaag of verdwyn. Die belofte aan
Adam en Eva na die sondeval, die belofte aan Abraham by sy
roeping, word steeds weer deur God bevestig. Die wêreldwye
strekking van God se werk word steeds skerper voor oë gestel.
Dink maar aan Daniël se verklaring van Nebukadnesar se droom.

Indien daar ooit ’n tyd was waarin die
uitsig op die koms van God se Koninkryk vervaag het, dan was dit
wel in die tyd van die babiloniese ballingskap. Die volk van God
is verneder. Die ryk van Dawid het verdwyn. Die wêreldmag Babel
het die mag in hande. Wat kan ’n mens in so ’n situasie
nog van die koms van God se ryk verwag? As selfs die ryk van
Dawid nie teenoor die mag van Babel kan standhou, hoe moet dit
dan kom tot beloofde wêreldryk?

Maar wat sien ons God nou doen? Juis in die
situasie laat God sy almag sien en voel in die hof van die wêreldmag.
Israel lyk self magteloos te wees. Maar Israel se God is
allermins magteloos. Hy regeer ook oor die maghebber Nebukadnesar.
En juis in daardie situasie gee God weer uitsig op die koms van
sy ryk, via die droom van Nebukadnesar. Die ryk sal kom! En hoe!
Op ’n mees wonderlike manier. Sonder toedoen van mensehande
raak ’n klip los wat die magtige beeld tref en verbrysel.
Die beeld, wat die verskillende magte van die aarde
verteenwoordig, word sommerso deur ’n losgeraakte klip
fyngestamp. Dit gebeur sonder toedoen van mensehande. Dit is God
se werk, sy persoonlike ingryping. God self sorg vir die een klip
wat alles oorwin en verpletter. Daarteen kan die maghebbers van
die aarde Nebukadnesar, Antiochus Epiphanus, keiser Augustus,
Napoleon, Hitler, Saddam Hussein ens niks begin nie.

Dit sou ’n mens van so ’n klip nie
verwag nie. En tog: dit tref sy doel. Die ryke van die aarde word
vernietig en God se ryk word gevestig. Die klip word ’n
groot rots wat die hele aarde vul. Die God van die hemel verwek
’n koninkryk wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en
die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie
(Dan 2:44). Broeders en susters, dit is wat gebeur met die klip
Jesus Christus. Die steen wat deur die mense verag en verwerp
word. Maar wat deur God verhef word tot ’n hoeksteen. Jesus
Christus voeg daar self aan toe: "En hy wat op hierdie steen
val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, die sal hy
vermorsel" (Mt 21:44).

So is die prediking van Daniël nog steeds
aktueel, ook vandag. Die steen word ’n rots wat die hele
aarde vul. God sê universele ryk kom. En al die koninkryke van
die aarde sal verdwyn. Waar is al die groot wêreldryke van die
verlede, die Babliloniese, Romeinse, Britse, Rusiese ryke? Maar
intussen het God wel sy ryk gevestig oor die hele aarde. Ons is
mos lid van die een, algemene christelike kerk, uit alle volke en
tale. Kan u my ’n wêreldryk noem wat werklik oor die hele wêreld
uitstrek? Die klip van Dan 2 het uitgegroei tot ’n rots wat
langsamerhand die hele aarde gevul het. Wat God beloof het, sien
ons steeds meer werklikheid word: al die geslagte van die aarde
deel in die seën van Abraham. God vergader sy kerk uit alle
volke en tale.

Sedert Pinkster het vaart daarin gekom. Die
beloofde Gees het baie losgemaak. Die apostels het gevra na die
wanneer van die koninkryk. Christus het toe geantwoord: "Maar
julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom".
Hemelse kragte kom vry. Kragte vir Christus se groot offensief in
die wêreld: die deurbraak van God se koninkryk. Deur sy Woord en
Gees is die verhoogde Christus besig om die eindes van die aarde
tot sy besit te maak. God se koninkryk breek baan. Satan moet wyk.
Hy moet sy greep op die volke loslaat. Hy word gebind. Sodat
mense uit al die volke vir die evangelie gewen kan word. Sodat
die volkomenheid van God se ryk kan kom.

Die koms van God se ryk blyk dus in die eerste
plek ’n belofte en ’n gawe te wees. God self beloof dit
en bewerk dit deur sy Gees en Woord. Ons verwag het as ’n
gawe van bo. Daarom: waak en bid. Laat jouself nie opjaag deur
ongeduld nie. Alles kom nie in een slag nie. Daar sit groei en
vooruitgang in. Die klip word ’n rots wat die hele aarde vul.

Die koms van God die koninkryk is tegelyk egter
ook ’n roeping, ’n opdrag. Dis die tweede gedagte van
die preek.

Let op Christus se antwoord aan die apostels
kort voor sy hemelvaart. Die program van die koninkryk lui:
"Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle
kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die
hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde"
(Hand 1:8).

Die apostels moet dit van bo verwag. Maar hulle
word ook self aan die werk gesit: hulle moet getuies wees, hulle
moet die grondleggers van Christus se kerk word. Hulle moet
uitgaan met hul apostoliese getuienis. Hulle moet daardeur mense
tot burgers van God se ryk maak. Vyande moet daardeur op hul knieë
gebring word. Hulle moet tot onderdane van Christus gemaak word.
Daarby maak God gebruik van die dienste van mense, in eerste
instansie van apostels. Dit is dus nie slegs: waak en bid nie,
maar ook: bid en werk.

Die twee, bid en werk moet u nooit van mekaar
losmaak nie. As ek bid, dan verwag ek dit van die Here. Dis die
eerste. As ek werk, dan is dit in afhanklikheid en in diens van
die Here. My gebed bepaal die manier waarop en die doel waarmee
ek gaan werk. Indien ek negeer om te bid, dan kan ek miskien baie
presteer, maar dit staan dan nie in diens van God se koninkryk
nie. So kan daar soms ’n stuk doperse aktivisme wees. ’n
Mens dink dan dat hy self die koninkryk moet en kan oprig. Die
vrederyk word dan ’n menslike prestasie, volkome afhanklik
van menslike dade. In feite word God oorbodig gemaak. Die mens
sal dit self regkry. Die mens sal bekeerlinge maak. Die kerk sal
groei. Dink aan die church-growth movement. Die massa sal vir die
evangelie gewen word. Solank as jy maar die juiste tegnieke,
metodes en programme toepas. Solank as jy die kerk maar
gebruikersvriendelik durf te maak. Die mens sal vir die toekoms
van vrede en geregtigheid sorg. Wat ’n hoogmoed.

Nee, so gaan dit nie. Gelukkig nie. God self
sorg daarvoor. Wat hy beloof het, dit bring Hy self tot stand.
"Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê
die Here" Sag 4:6. Eers wanneer ek dit sien en ervaar,
skakel God my in. Nie dat God dit onmoontlik sonder ons kan doen
nie, maar na sy welbehae wil God van ons mense gebruik maak. Hy
vul en lei ons deur sy Gees, Hy maak ons tot sy bruikbare
instrumente.

Dawid moet bv die oorloë van die Here voer.
Die apostels moet Christus se getuies wees. So moet die getuienis
van Christus die wêreld in. Die hele boek Handelinge spreek
daarvan. God se pinkster program word afgewerk. Die evangelie
gaan uit van Jerusalem na Judea, Samaria, tot aan die uiterste
van die aarde.

Broeders en susters, besef goed wat u doen
wanneer u bid: laat u koninkryk kom. U bid dat u ingeskakel word.
U bid dat u medearbeider en medestryder van God mag wees. Ja, u
bid die stryd na u toe. U bid: laat my tog in u leër stry.

In hierdie verband spreek die kat van die kerk.
Miskien dink u: wat het die kerk nou hiermee te make? Kerk en
koninkryk is tog nie dieselfde nie? Inderdaad, ons moet hulle
onderskei, maar nie skei nie. Waar vergader God die burgers van
sy koninkryk? Tog in die kerk? Daar vind u die leër van die
koninkryk, die fronttroepe.

Waar word die soldate opgelei en toegerus tot
die stryd? Tog hier in die kerk? Hier ontvang ons die nodige
voedsel, training en wapenrusting. Die verheerlikte Christus het
sy hemelse gawes oor sy gemeente uitgegiet. Daarby behoort die
ampsdraers. Betreffende die oorwinningsgawes van die verhoogde
Christus lees ons in Ef 4: "En Hy het gegee sommige as
apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as
herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle
dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus." So
hou God die lewe van sy burgers in stand. So maak Hy ons weerbaar
en strydbaar.

Daarom is dit so belangrik dat dit kerk werklik
kerk bly. Slegs die Woord van God is voedsel vir die siel en
tegelyk die swaard van die Gees. Waar die Woord ondermyn word,
daar funksioneer die kerk nie meer as die kragsentrale van God se
koninkryk nie. Daar kwyn die christelike lewe weg. Daar sien
’n mens ’n wegbeweeg van Christus se heerskappy weg.
Daarom die bede: bewaar u kerk. Gee dat sy trou haar plek bly
inneem. Gee dat sy bly vashou aan u woord en die woord bly
deurgee. Vernietig alle kwaadwillige planne wat teen u heilige
Woord bedink word.

En dit begin by u en ek: regeer ons so deur u
Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan u onderwerp.
Uit myself is ek allermins volkome gewillig en getrou, onderworpe.
Ek bid dus teen myself in. Vader, laat die vuur van u Gees alle
hoogmoed, eiewilligheid opstand, en gemaksug wegbrand. Bring my
steeds meer en meer op my knieë. Maak ons tot gewillige
onderdane en stryders van u ryk.

Ja, as kerk kan ons nie bly steek in die
mobilisasie nie. God rus toe tot die stryd sodat ons ook in die
aanval kan gaan. Die aanvalswapen, die swaard van die Gees, die
Woord van God, word nie verniet ons in hande gegee nie. Ons moet
daaraan saamwerk dat alles onder Christus se heerskappy gebring
word. Gestel dat die soldate almal tuis bly sit en niks anders
maak as om hul wapens op te poets nie. Hoe sou sulke soldate die
koninkryk van God kan bevorder? Tog bid ons: laat u koninkryk kom.
Gee dat Christus se heerskappy steeds meer en meer op alle
terreine van die lewe mag deurdring.

Ons kan onsself dan nie in ons eie knus
geselskap opsluit nie. Nee, ek bid juis dat die vensters en die
deure oopgaan. Ek bid om die erkenning van Christus se koningskap
in die breë lewe. Dan kan ek onmoontlik die samelewing oorlaat
aan hulle wat God nie ken nie. God se koninkryk moet tog in
hierdie wêreld baan breek? Die wêreld moet tog uit die mag van
die Satan? Hoe kan ek myself dan afsydig hou van dit wat rondom
my gebeur? Om Christus se heerskappy te kan erken moet mense tog
eers die christelike boodskap hoor en sien in die lewens van ons
Christene? Indien ek dit nie na vermoë doen nie, dan lewer ek
die samelewing oor aan die teenstander van God.

Vader, laat u koninkryk kom. Regeer ons deur u
Woord en Gees. Gee dat ons onsself deur U laat lei. Bring ons op
die knieë sodat ons daaraan kan meewerk dat ook ander op die
knieë gebring word. Gee dat ons ons laat instrueer, mobiliseer.
En laat ons dan ook uitgaan in die breë lewe as goeie soldate
van U. As christen stryders op die werkplek. Laat ons
evangeliseer met woord en daad. Laat ons meewerk aan die
vervulling van u pinksterprogram, sodat u evangelie die eindes
van die aarde bereik, sodat u laaste kinders kan aantree en die
volkomenheid van u ryk kom.

Besef u nog wel, broeders en susters, dat u dit
van die Here bid? Die bede: laat u koninkryk kom, beteken die
einde van ’n gemaksugtige lewe. Dit beteken die einde van
alle onverskilligheid. Dit beteken ook die einde van ’n lewe
wat hom terugtrek in eie individualistiese vroomheid. Dit beteken
ook die einde van alle krampagtigheid of gierigheid mbt bydraes
vir God se kerk en koninkryk. Ek wil tog hê dat God se koninkryk
sal kom? Dat God se kerk bewaar en vermeerder sal word? Ek bid
tog dat God my daarby wil inskakel? Hierby pas slegs gewilligheid
en trou. Ek bid vir alles wat die koms van die ryk kan bevorder.
Vader, laat u koninkryk kom. Gee dit na u belofte. Hier staan ek
om u wil te doen as christen arbeider en stryder.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)