God bring Jakob se gesin in ’n krisis om hulle na Homself en na mekaar te trek.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-03-25
Teks: 
Génesis 42
Preek Inhoud: 

Genesis 42

Ds C Kleyn - Sondag 25 Maart
2001

Lees: Genesis 42.
Sing: Ps 136:1,2,19,20; Ps 91:1,8;
Ps 86:1,6; Ps 4:2,3; Ps 4:4.

Tema: God bring Jakob se gesin in ’n
krisis om hulle na Homself en na mekaar te trek.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat ’n droewige situasie in Jakob se gesin.
Wat ’n droewige situasie in die kerk van die dae. Jakob se
gesin is mos die kerk. Jakob se gesin sit vasgevang in die sonde.
Die sonde dryf die partye uit mekaar sodat daar geen onderlinge
vertroue is nie. Daar is nog die onbelede sonde van Jakob se
seuns, hul sonde mbt Josef. Die onbelede sonde versteur hul
verhouding met hul vader. Hulle het ’n ernstige saak om weg
te steek. Ja, hulle is die oorsaak van hul vader se verdriet.

En Jakob self, vir ongeveer 20 jare rou hy oor
die verlies van sy liefling seun Josef. Vir ongeveer 20 jare word
hy gemartel deur verdriet en onrus. Hy weier om hom te laat troos.
Wat Jakob aan die slot van ons hoofstuk vir sy seuns sê is
ontdekkend. Jakob sê vir hulle: Julle beroof my van kinders.
Josef is weg! En Simeon is weg! En Benjamin wil julle wegneem!
Alles is teen my! (vers 36).

Julle beroof my van kinders. Hoe kan Jakob dit
sê? Om dit te kan sê moet Jakob tog ’n sekere agterdog
teen sy seuns gekoester het. Vir jare het hy sy diepste vermoede
onderdruk. Maar nou alles teveel vir hom word, kom die diepe
verborge gevoelens tog tot uiting: Julle beroof my of het my
beroof van kinders. Natuurlik is Jakob hier onbillik. Maar is dit
dikwels nie die geval wanneer dinge teveel vir jou word nie? Dan
laat jy jou onderdrukte emosies na bo kom op ’n onbeheerste
en onbillike manier. "Alles is teen my". Hier hoor u
die kerkvader Jakob.

Gemeente, dis ook duidelik uit sy dade dat
Jakob ietwat agterdogtig teenoor sy 10 seuns is. Waarom beskerm
hy so angsvallig sy jongste seun Benjamin? En waarom weier hy
pertinent om Benjamin saam met hulle na Egipte te laat gaan?
Luister maar na wat hy sê: "My seun sal nie saam met julle
aftrek nie, want sy broer is dood, en hy het alleen oorgebly; en
as ’n ongeluk hom oorkom op die pad wat julle sal gaan, dan
sal julle my grys hare met kommer in die doderyk laat afdaal"
(vers 38). Gestel dat jou vader sulke dinge vir jou sou sê. Dit
getuig nie van ’n hegte band met jou pa nie. Benjamin is
alles vir Jakob. Die ander tien seun tel amper mee. Jakob het
blykbaar nie baie vertroue in hulle nie.

Wel, gemeente, wat ’n droewige situasie in
die kerkgesin. Daar is ’n verskriklike onbelede sonde aan
die kant van die broers. Daar is ’n gebrek aan vertroue in
God en sy seuns by Jakob. Versteurde verhoudings, wantroue,
agterdog. ’n Angsvallig beskerming van Benjamin. En Josef
leef geskei van sy familie in Egipte, sonder dat Jakob dit weet.
Wat ’n gesinssituasie! Wat ’n kerksituasie! God het
sulke ryke beloftes aan die gesin gegee. Maar alles val uit
mekaar. Gebrek aan vertroue in God en in mekaar. Kan daar ooit
iets van die kerkgesin word? As dit van die mens afhanklik is,
dan sal daar inderdaad niks van word nie. Die sonde sou die gesin
volkome ruïneer.

Maar, broeders en susters, waar die erfgename
van die beloftes faal, daar gryp God in om sy beloftes waar te
maak. In ons hoofstuk sien u God besig om die verhoudings te
herstel. Die onbelede sonde moet bokom ter wille van versoening.
Solank as die sonde daar bly lê, sal die breuk in die
gesinsverhoudings daar ook bly. God bring Jakob se gesin in
’n krisis om hulle na Homself en na mekaar te trek. Dis
waaroor die hoofstuk gaan. Ons kan dit die tema van die preek
noem.

God is besig om die gesinsverhoudings te
herstel. Daarin gebruik die Here Josef as sy instrument. Josef
word die redder van die gesin op ’n tweevoudige manier: Deur
sy optrede trek hy hulle na mekaar toe en deur die graan wat hy
vir hulle gee, hou hy hulle in lewe. Laat ons die hoofstuk in die
lig bekyk.

God gee 7 jare van oorvloed en 7 jare van
hongersnood. God bepaal die 7 jare van hongersnood, nie slegs vir
Egipte nie, maar ook vir Kanaän. God bepaal ook dat Egipte
koring ophoop terwille van die 7 jare van hongersnood. God wil
Jakob se seuns na Egipte bring.

Dis opvallend dat Jakob sy seuns moet aanpor om
na Egipte te gaan. In die reël het die seuns voldoende eie
inisiatief. Maar nou hang hulle rond sonder om iets te doen. Dis
slegs na Jakob se aansporing dat hulle na Egipte gaan. Is hulle
miskien bang om na die plek te gaan waar die Ismaelitiese
handelaars met Josef na toe gegaan het?

Wanneer hulle in Egipte aankom, verskyn hulle
voor Josef. God organiseer dit so. Josef sal nie al die mense wat
vir koring gekom het, persoonlik ontvang het nie. Dit sou
prakties onuitvoerbaar wees. Bowendien sou dit nie pas by sy hoe
posisie as goewerneur oor die land nie. Normaal sou sy dienaars
die kopers van koring bedien het. Miskien dat hy geëis het dat
alle buitelanders na hom verwys moet word. Hoe dit ookal mag wees,
die 10 broers verskyn voor Josef self. Hulle buig hulle voor hom
met hul aangesig na die aarde toe. Josef herken hulle onmiddellik.
Skielik herinner hy die drome wat hy meer as 20 jare gelede gehad
het. Daar het jy dan die sterk manne voor hom met hulle gesig na
die aarde gebuig. Josef begin meer te sien van God se leiding in
sy lewe. Die dinge gebeur soos hy dit gedroom het. Die prentjie
begin duideliker te word. Nie dat Josef nou reeds alles verstaan
nie. Hy sien nou tenminste wel God se leiding in sy lewe. Van
daaruit moet u dan ook na sy gedrag teenoor sy broers kyk.

Die broers herken Josef nie. Josef was nog
’n tiener toe hulle hom vir die laaste keer gesien het,
terwyl hy nou ongeveer 40 jaar oud is. Hy dra Egiptiese klere en
spreek die Egiptiese taal. Dit kom nie in hulle gedagtes op dat
die goewerneur Josef hul broer kan wees nie.

Josef maak asof hy vir hulle ’n vreemde is.
Hy spreek hulle hard aan. Waarom? Is dit om hulle terug te betaal
vir wat hulle teen hom gedoen het? Indien hy wraak wou uitoefen,
sou hy baie ander dinge gedoen het. Nee, Josef se hele benadering
wys dat hy hom nie deur gevoelens van haat en wraaklus laat lei
nie. Hy het God se leiding in sy lewe ontdek. En as jy dit in jou
lewe sien, dan het jy geen behoefte om jouself te wreek nie.
Wraaklus is slegs sterk daar waar ’n mens geen rekening met
God hou nie.

Die manier waarop Josef sy broers benader, word
dus nie bepaal deur wraaklus nie. Josef wil sy broers op die
proef stel om te sien of hulle verander het. Josef wil weet hoe
hul verhouding met mekaar en met hul vader is. Josef wil ook weet
of hulle berou oor hul sonde het. ’n Herstelde verhouding is
slegs moontlik as die broers verander het.

Wel, om dit te beproef, behandel Josef eers sy
broers hard. Hy beskuldig hulle daarvan dat hulle spioene is.
Maak nie saak wat hulle sê nie, Josef hou vol dat hulle spioene
is en sit hulle in die tronk. Tydens hul verdediging bring hulle
Josef op datum aangaande hul gesinssituasie. Josef se
beskuldiging bring dit op die tafel. Hulle noem selfs die feit
dat een van hulle broers daar nie meer is nie. Hulle noem dit as
’n objektiewe feit, asof hulle geen skuld daaraan het nie.

Die drie dae in die tronk gee hulle tyd om oor
hul lewe na te dink. Dit stel ook hul onderlinge verhouding op
die proef. Hulle moet immers een van hulle aanwys om na hul vader
te gaan om Benjamin te gaan haal. Wie sal hulle stuur? Wie sal
hulle vertrou? Ja, sal hulle enige van die ander vertrou om dit
te doen en om met Benjamin terug te keer, sodat hulle vrygelaat
kan word? Dit moet ’n moeilike 3 dae vir hulle gewees het.
Na 3 dae word hulle vrygelaat en verander Josef sy voorwaardes.
Nou hoef slegs een broer in die gevangenis agter te bly, terwyl
die ander na Kanaän terugkeer om Benjamin te haal.

Josef se harde optrede het die begeerde effek.
God gebruik dit om hulle tot besinning te bring oor hul sondes.
Hul gewetens begin hulle te pla. Josef sit hulle op hul plek.
Hulle het geen keuse as om Josef se voorstel te aanvaar nie. Die
voorstel naamlik dat een in die gevangenis agterbly, terwyl die
ander na Kanaän terugkeer om hul broer Benjamin te haal. Hoe sal
hulle ooit hul vader kan oortuig om Benjamin saam te laat gaan?
Maar daar is geen keuse nie. Hulle kan daar nie onderuit nie.

Dan lees ons die merkwaardige woorde: "Toe
sê hulle vir mekaar: Voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer,
omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons
gesmeek het en ons nie geluister het nie – daarom kom
hierdie benoudheid oor ons" (vers 21). Dit sê hulle nou,
terwyl hulle 3 dae gelede oor Josef se dood gepraat het asof
hulle daar nie by betrokke was nie. Die 3 dae in die gevangenis
het hulle goed gedoen. Hul gewetens is onrustig gemaak.

Broeders en susters, mense is dikwels goed
daarin om hul sondes toe te smeer, weg te druk, weg te steek.
Dikwels moet God op die harde manier ons tot ons sinne bring, ons
wakker skud, deur moeilikhede, krisisse, konfrontasie. Selfs dan
het dit nie altyd die beoogde effek nie. Niemand hou daarvan om
na te dink oor sy of haar sondes nie. Teenslag is slegs tot my
voordeel indien God my hart vir sy tugtiging oopmaak. Die broers
kon bv ook fokus op die onmiddellike oorsaak van hul lyding. Dan
sou hulle slegs verontwaardig gewees het oor hul mishandeling.
Maar nou laat God hulle nadink oor die diepere oorsaak van hul
moeite. Dit is genade! Want onbelede, weggesteekte sondes
verhinder die verhouding met God en met ander mense.

Die broers erken dat dit God se regverdige
oordeel is dat die Egiptiese goewerneur nie na hulle gesmeek
luister nie. Hulle het self ongeveer 20 jare gelede harteloos
opgetree teenoor hul broer Josef toe hy in sy benoudheid vir sy
lewe gesmeek het. Christus het nog nie die woorde geuit: "Met
die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en
met die maat waarmee julle meet sal vir julle gemeet word" (Mt
7:2). Tog het die broers die waarheid van die woorde reeds in hul
lewe ervaar. Hulle was harteloos teenoor hul broer. Hulle wou nie
na sy gesmeek luister nie. Nou ontvang hulle hul verdiende loon.

Laat ons, broeders en susters, des te meer ag
gee op die waarskuwings uit die Skrifte. In Spreuke 21:13 lees
ons: "Wie sy oor toestop vir die geskreeu van die arme, hy
sal self ook roep en nie verhoor word nie." In Gal 6:7,8 sê
die Here vir ons: "Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot
nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in
sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die
Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai."

Laat ons daarom in die Gees saai, die vrug van
die Gees vertoon: liefde, geduld, vriendelikheid en
barmhartigheid. En as dit ooit gebeur dat jy hard deur ander
behandel word, beproef dan jouself. Durf dan jouself die vraag te
stel: Het ek self ooit teenoor ander hart en onvriendelik
opgetree? Dis natuurlik altyd beter om onmiddellik wys te wees.
Tog is dit heilsaam wanneer ander jou verneder om na te dink of
jy moontlik self ander mense so behandel het en of jy uiteindelik
self die oorsaak van die huidige situasie kan wees. Die 10 broers
erken: "Ons boet nou vanweë ons broer, omdat ons die
benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons
nie geluister het nie – daarom kom hierdie benoudheid oor
ons."

Gemeente, hierdie erkenning is ’n gevolg
van God se genadige ingryping. Die onbelede skuld het hul
verhouding met God en hul vader verhinder. Hulle kon hul God en
hul vader nie reg in die oë kyk nie. As God dan 20 jare later
die sonde na die oppervlakte bring, dan maak dit seer, inderdaad,
maar dit is genade. Want daardeur kom daar vergewing en
versoening in sig. Verhoudings kan herstel word en die lewe kan
weer bloei.

Gemeente, wanneer ek my sonde bly wegsteek, dan
maak ek feitelik my lewe miserabel. Onbelede sondes kan ons
agtervolg en ons lewens verwring en vergiftig. Daar is egter nuwe
perspektiewe wanneer ek die sondes bely. Slegs dan kan herstel en
versoening plaasvind.

Josef se behandeling van sy broers bring die
erkenning van skuld tot stand. Ook al was dit nie bedoel vir
Josef se ore nie, hy hoor en verstaan dit. Dis genoeg vir hom.
Dit ontroer hom om sy broers so te hoor praat. Hy kan sy trane
nie bedwing nie. So lief het hy sy broers. Dis ook opvallend dat
Josef later nooit ’n uitdruklike belydenis van skuld van
hulle eis nie. Hy is tevrede met wat hy oorhoor het. Hy is
tevrede as hy sien dat sy broers verander het.

Daar is baie mense wat in sulke situasies
anders reageer. Hulle wil die volle genoegdoening ontvang. Dalk
ontdek u sulke gevoelens ook by uself. Iemand het u sleg behandel.
U het van ander verneem dat die persoon dit betreur. U sien ook
dat die gedrag van die persoon anders is. Maar u is nie tevrede
nie. U wil eers hê dat die persoon voor u op die knie kom om
vergewing te vra. Pleks dat u self na die persoon toegaan en die
verhouding herstel op grond van wat u gehoor en gesien het. Nee,
u wil eers sien dat die persoon hom diep voor u neerbuig, sy
skuld bely en u gelyk erken. Wel, gemeente, is dit ware liefde?
Wat sê Paulus oor liefde in 1 Kor 13? Onder ander dit: die
liefde handel nie onwelgevoeglik nie, soek nie sy eie belang nie,
word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie.

Dink aan Josef. Hy het baie meer onreg gely as
enige van ons. Hy is deur sy broers verkoop om slaaf te word. Hy
het vir sy lewe gepleit, maar sy broers het nie geluister nie. As
slaaf in Egipte het hy opnuut die slagoffer van onreg geword en
is hy onregverdig in die tronk opgesluit waar hy jare moes bly.
Die skinker het hom vergeet. Jare lank is hy en sy belange
geignoreer. Alles vanweë sy broers. Menslikerwys gesproke is die
beste jare van sy lewe geruineer deur die gedrag van sy broers.
Indien Josef sy eie belang gesoek het, dan sou hy verbitterd
gewees het en vol van wraaklus teen sy broers. Ja, selfs teenoor
God, wat dit alles laat gebeur het. Die twee dinge behoort immers
by mekaar. As ek ander nie kan vergewe vir wat hulle my aangedoen
het nie, en wrok koester, dan het ek ook geen vrede met God nie.
Dan blameer ek in feite God wat dit laat gebeur het. En dan word
ek bitter en soek ek maniere om wraak uit te oefen.

Maar geliefdes, as ek liefhê, dan stel ek
werklik belang in die ander persoon. Liefde soek immers nie sy
eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe
nie, sê Paulus.

Indien Josef die kwaad wat sy broers teen hom
gedoen het, bly toereken het, dan sou hy wraak geneem het. Hy het
’n pragtige kans daarvoor gehad. As goewerneur kon hy immers
met hulle maak wat hy wou. Maar wraaklus kan die frustrasies en
die bitterheid nie wegneem nie. As ek wraak neem, dan word ek
miskien in ’n sekere mate tevrede gestel, maar ek sal geen
innerlike vrede vind nie. Die bitterheid bly daar. Dit kan slegs
deur liefde oorwin word. Josef slaan nie terug nie. Hy ween. Hy
het sy broers lief, ondanks alles wat hulle teen hom gedoen het.
Hy wil dat dit goed met hulle gaan, na liggaam en siel. Tog
spreek hy hulle hard aan. Tog plaas hy Simeon in die gevangenis
en eis hy dat hulle Benjamin na Egipte sal bring. Lyk dit nie op
wraaklus nie? Nee. Indien hy wraak wou neem, dan sou hy anders
opgetree het.

Nee, Josef wil sy broers op die proef stel.
Hulle moet wys dat hulle ten goede verander het. Hulle moet wys
dat hulle op mekaar kan staatmaak; dat hulle werklik vir mekaar
omgee; dat hulle bereid is om vir mekaar risiko’s te neem.
Laat hulle wys dat hulle bereid is om alles te doen om hul broer
Simeon uit die gevangenis te bevry.

Josef se voorwaarde stel ook hul houding
teenoor vader Jakob en hul boetie Benjamin op die proef. Josef
bring sy broers in ’n krisis situasie. Deur hul geld in hul
sakke terug te plaas, maak Josef die krisis nog erger. Ookal al
was dit moontlik slegs as ’n vriendelike gebaar van Josef
bedoel. Dit vererger die vrees van die broers. Hulle sien dit as
’n daad van God. Hulle voel dat God met hulle besig is. En
wat kan hulle van God verwag na hul misdaad teen hul broer Josef?
Dit maak hulle des te meer bevrees. Hulle is bang vir God. Wat
gaan nou gebeur?

Die broers sien nog nie God se genade in dit
alles en dat Hy hulle wil herstel nie. Maar hulle is reg in hul
vermoede dat God daarin besig is. God is besig om hul verlede na
die oppervlakte te bring, sodat hulle daarvan bevry kan word.

Wanneer Jakob hul verslag hoor dan is ook hy
ten einde raad en bevrees. In wanhoop sê hy: "Julle beroof
my van kinders. Josef is weg! En Simeon is weg! En Benjamin wil
julle wegneem! Alles is teen my!"

Jakob se woorde moet die seuns diep geraak het,
veral na hul ervarings in Egipte. Dit moet hul gewetens opnuut
geprik het. Ja, hulle het inderdaad hul vader van Josef beroof.
Jakob kon nie weet dat hy so naby die waarheid was. Sy seuns is
inderdaad die oorsaak van hierdie ellende.

Tegelykertyd het Jakob geen idee dat hy sover
besyde die waarheid is nie. Want God gaan hom juis by sy verlore
seun uitbring en geen enkele seun sal in die proses verdwyn nie.

Daarna wys die 10 seuns van Jakob dat hulle
inderdaad verander het. Ruben bied sy seuns as borg vir Benjamin
se veiligheid. En later bied Juda sy eie lewe as waarborg. God
trek die gesin na mekaar toe. Hulle is bereid om hul lewens te
riskeer terwille van Benjamin en terwille van hul vader.

Jakob gaan nie in op die vreemde voorstel van
Ruben. Hy wil Benjamin nie laat gaan nie. Onbewus vertraag hy
sodoende die hereniging met Josef. Gelukkig hang God se planne
nie af van ons eie menslike insigte nie. God bly in beheer en sal
nie toelaat dat Hy van sy planne afgebring word nie. Dit is die
waarborg vir ons heil, ook vandag.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)