Die bede: ons Vader wat in die Hemel is.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-03-25
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 46
Preek Inhoud: 

Sondag 46

Ds C Kleyn - Sondag 25 Maart
2001

Lees: Jesaja 63: 7-64; Sondag
46.
Sing: Ps 84:1,2; Ps 112:1,2,5,6;
Ps 105:5 (na die doop van Janine Bosker); Ps 80:1,2; SB 33:1,2;
Ps 115:7,8.

Tema: Die bede: ons Vader wat in die Hemel is.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Is u ooit mismoedig wanneer u kyk na u lewe
hier en nou? God het u sulke ryke beloftes gegee. Ons mag kinders
van God genoem word. "En as ons kinders is, dan is ons ook
erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus"
(Rom 8:17). Hierdie wêreld is in feite ons s’n. Ons word
meer as oorwinnaars genoem. Ja, meer as oorwinnaars. Ons
oorwinning is glorieus en onbetwis. Ons sal nie beswyk nie, maar
luisterryk daar deur heen kom. Dit klink mooi.

Maar nou die daaglikse werklikheid. Wat kan
’n mens daarvan sien dat u ’n kind van God en ’n
erfgenaam van hierdie wêreld is? Wat kan jy daarvan sien dat jou
lewe deur Christus verlos is? Miskien ly jy aan ’n bepaalde
siekte of is jy gestremd. Dalk ervaar jy pyn, verdriet,
teleurstelling, vernedering. Jou reg op die wêreld lyk belaglik.
Wat sien jy daarvan dat jy meer as oorwinnaar is? Dikwels lyk ons
wel te beswyk. Ons val in sonde. Dit luk satan om ons te verlei.
En ons volg hom as ’n gewillige prooi. Ons meer as
oorwinnaars?

En nou die situasie van die kerk. Word u
ontmoedig wanneer u kyk na die kerk van vandag? Vergelyk u die
kerk ooit met wat dit in sy hoogty dae was? God het die kerk
sulke ryke titels gegee. Dit word die liggaam van Christus genoem,
die huis van God, Christus se bruid. Christus het ons ’n
pragtige beeld gegee van wat die kerk sal wees. Hy sal die
gemeente voor Hom stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets
dergeliks, heilig en sonder gebrek (Ef 5:27).

Maar nou die huidige werklikheid. Lyk ons op
die bruid van Christus? Is ons ’n stralende kerk sonder
gebrek? Dit lyk eerder asof ons vol vlekke en rimpels is. Ons lyk
so swak en sondig. Sou u nie ontmoedig wees om na die huidige
kerk te kyk nie?

Gemeente, die profeet Jesaja moet ’n
soortgelyke verpletterende ervaring gehad het. In die hoofstukke
60-62 gee hy vir ons die visioen van ’n stralende Sion. Hy
beskryf die kerk se glorieuse toekoms. Kom ons oop saam ons Bybel
en lees daardie gedeeltes: Jesaja 60:1 - "Staan op, word
verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die Here gaan
oor jou op." Jesaja 60:15 - "In plaas dat jy verlate en
gehaat is sonder dat iemand daar deurtrek, sal Ek jou maak tot
’n ewige heerlikheid, ’n vreugde van geslag tot geslag."
en Jesaja 62:3-5 - "En jy sal ’n sierlike kroon wees in
die hand van die Here en ’n koninklike tulband in die hand
van jou God. Jy sal nie meer genoem word Verlatene nie, en jou
land sal nie meer genoem word Wildernis nie. Maar jy sal genoem
word: my welbehae, en jou land: die getroude; want die Here het
’n behae in jou, en jou land sal getroud wees. Want soos
’n jonkman ’n jongedogter trou, so sal jou kinders jou
trou; en soos die bruidegom bly is oor die bruid, sal jou God oor
jou bly wees."

Pragtige beloftes vir God se volk, die kerk.
Die visioen van Jesaja lyk amper op Joh se visioen van die Nuwe
Jerusalem in Openb 21 & 22. Luister maar na Jes 60:19-21:
"Die son sal bedags jou lig nie meer wees nie, en as glans
sal die maan vir jou geen skynsel gee nie; maar. Jou son sal nie
meer ondergaan nie, en jou maan nie kleiner word nie; want die
Here sal vir jou wees ’n ewige lig, en die dae van jou
treurigheid is verby. En jou volk sal almal regverdiges wees, vir
ewig sal hulle die land besit – as lote deur My geplant,
’n werk van my Handelinge, tot my verheerliking.

Skitterende woorde. Wat ’n glorieuse
toekoms vir die kerk. Maar nou die werklikheid van vandag. Na die
visioen van die stralende Sion in die hoofstukke 60-62 keer
Jesaja na Sion soos dit in werklikheid is, of soos dit ongeveer
100 jare later sal wees tydens die babiloniese ballingskap. In
hierdie gebed verplaas Jesaja homself immers in die toekoms en
gaan hy uit van die ballingskap, wat daar in sy tyd nog nie is
nie. Deur die Gees van God formuleer die profeet hierdie gebed
vir die toekomstige ballinge. Sodat hulle dit later in die
ellendige ballingskap op hul lippe kan neem. Sodat hulle dan kan
weet hoe om tot die Here te vlug in gebed.

Wat ’n verpletterende ervaring vir Jesaja
na die heerlike visioen van die hoofstukke 60-62. Want hoe is die
kerk wat Jesaja in die hoofstukke 63, 64 voor hom sien? Vyande
het die heilige stad en tempel vertrap. Die heilige stad is
verlate. Jerusalem het ’n wildernis geword. En God se
heerlike huis is ’n puinhoop, met vuur verbrand.

En hoe is God se volk self? Die mense het teen
God opgestaan, keer op keer. Hulle is onwillig en eiewillig. Jes
64:4 sê dat ons almal soos ’n onreine geword het, en al ons
ongeregtighede soos ’n besoedelde kleed. Sonde het ’n
diep ingewortelde gewoonte geword. Iets wat hulle vanself gedoen
het. Met as gevolg dat die mense verdor het soos blare. Die sonde
skei ’n mens immers van die bron van lewe. Die lewe word
heeltemal onvas. "Ons ongeregtighede het ons weggevoer soos
die wind" sê Jesaja.

Wat ’n droewige situasie van die kerk. Nog
erger is dat God Homself van hulle afgekeer het. Soos ons lees in
Jes 63:10: "Maar hulle was wederstrewig en het sy Heilige
Gees bedroef; daarom het Hy vir hulle in ’n vyand verander:
Hy self het teen hulle gestry." Dis goed om mekaar steeds
daarvoor te waarsku om nie in die mag van satan te val nie. Maar
laat ons nooit vergeet nie dat dit nog erger is om in die hande
van ’n toornende God te val. En dit kan gebeur dat God Hom
teen jou keer en jou vyand word.

Wel, gemeente, in hierdie droewige situasie
hoor ons Jesaja se gebed vir vergewing en herlewing. Dis een van
die mees ontroerende gebede van die Ou Testament. ’n Juweel
van ’n gebed. In hierdie gebed is daar die opvallende
uitdrukking: "U, o Here, is ons Vader!" Dit word drie
maal herhaal. Dit gee aan die gebed sy besondere klem. Jesaja
doen ’n klemmende beroep op die feit dat die Here die Vader
van sy volk is. Daarmee wil hy die Here daartoe beweeg om na sy
volk terug te keer en om ’n herlewing te bewerk.

Laat ons nader stilstaan by die uitdrukking:
"U is ons Vader." Wat beteken dit? Normaal is dit so
dat as jy oor jou vader praat, jy dan na hom verwys wat jou
verwek het. Jou vader is diegene wat jou voortgebring het. Jy is
sy kind. Die Here is ons Vader. Hy het ons sy volk tot stand
gebring. Hy het ons geskep. Soos Jesaja dit verklaar in hoofstuk
64: 8: "Maar nou, Here, U is ons Vader; ons is die klei, en
U is ons Formeerder en ons almal is die werk van u hand."
Ons dank ons bestaan as kerk aan God. Daarom as jy Vader vir God
sê, dan verwys jy na God se verkiesing. Hy het jou gekies om sy
volk te wees. Hy het gesê: Hulle is tog my volk (63:8). God het
jou afgesonder van die ander mense van die wêreld. Soos Hy dit
gedoen het met Janine Bosker, wat vanoggend gedoop is. Hy het in
sy genade iets spesiaal van julle gemaak. Julle mag sy seuns en
dogters genoem word. Om ’n kind van Hom te wees is die
hoogste voorreg wat iemand kan besit. Deur God ons Vader te noem
word ons dus herinner aan God se verkiesende liefde jeens ons.
God het sy ewige verbond van genade met ons opgerig. Hy wou ons
tot sy kinders en erfgename aanneem.

Broeders en susters, om God ons Vader te noem
herinner ons ook aan God se liefde en sorg vir ons, sy volk.
Julle is sy besondere volk. Julle mag geniet van sy besondere
sorg. Daarom begin Jesaja sy gebed met die woorde: "Ek sal
die goedertierenhede van die Here prys, die roemryke dade van die
Here, ooreenkomstig alles wat die Here aan ons bewys het, en die
veelvuldige goedheid jeens die huis van Israel wat Hy aan hulle
bewys het, na sy barmhartighede en na die grootheid van sy
goedertierenhede." (vers 7).

Deur aan God se goedertierenhede te dink raak
die profeet opgewonde en welsprekend. Ryke gedagtes borrel oor.
Die geskiedenis van God se volk is immers vol van die roemryke
dade van die Here, van God se genadige ingryping. Jesaja ontdek
die diepe wortel van God se handelinge: die ontroeringe van sy
binneste en sy barmhartigheid. God het nie slegs vir Israel
gekies nie. Hy het ook vir hulle ’n Heiland geword (vers 8).
Vers 9 wei daaroor uit met ontroerende woorde: "In al hulle
benoudheid was Hy benoud, en die Engel van sy aangesig het hulle
verlos; deur sy liefde en deur sy medelyde het Hy hulle verlos;
en Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd."
Hierdie woorde herinner ons aan Ps 103:13: "Soos ’n
vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor
die wat Hom vrees." (Ps 103:13).

Gemeente, dis ontroerend om te sien hoe die
Here homself met sy volk sy lyding wil identifiseer. Hy wys
homself as ’n egte vader. In sy medelyde met sy volk het Hy
keer en keer sy spesiale kneg gestuur, "die Engel van sy
aangesig." Weet julle wie Hy is? Die engel van die Here is
niemand minder dan die Seun van God. Die Here Jesus voor sy
menswording. Hy was die grootste en beste gawe wat God ooit kon
gee. Sy verskyning het voortdurend verlossing beteken. God het sy
volk in die woestyn gelei. In die woestyn van Babel sal Hy dit
weer doen. As ’n liefdevolle Vader het Hy sy kinders op die
arm geneem en hulle gedra. Is dit nie geweldig, broeders en
susters, om so God se dade uit die verlede te gedenk nie? Ja, om
so God te ken nie? Dit gee ’n mens vertroue en goeie moed.

By tye kan ’n mens vra: raak my situasie,
my worsteling, my swakheid en seerkry werklik God? Om vir God
Vader te sê, gee my die antwoord. Natuurlik raak dit God. Hy
voel met ons saam. Hy ken ons soos geen ander nie. "Hy weet
wat van sy maaksel is te wagte, hoe swak van moed, hoe klein ons
is van kragte." Hy ken my node en vrae. "Maar U is ons
Vader", hoor ons Jesaja sê "Want Abraham weet van ons
nie, en Israel ken ons nie. U, o Here is ons Vader; ons Verlosser
is van ouds af u Naam." Die Here ken ons soos ’n goeie
vader sy kinders ken. Ja, meer as hulle. Dit kan gebeur dat ons
aardse vaders dinge vergeet of ons nie verstaan of aanvoel nie.
Nie so die Here ons ewige en almagtige Vader nie. Hy ken ons
volkome. Hy voel ons perfek aan. Hy wys sy warme en liefdevolle
hart. In sy liefde en barmhartigheid verlos Hy ons.

Maar, broeders en susters, hoe moet ons dan God
se toorn sien, die feit dat Hy teen sy volk kan keer en hul vyand
kan word? Vir Hom beteken Vader wees ook Heiland, Redder wees.
Hoe kan Hy dan verander in ’n vyand? Is dit nie teenstrydig
nie? Modernistiese christene sien God dikwels as slegs liefde, as
’n soort sinterklaas in die lug. Maar hulle wil nie van
heiligheid weet nie. God is inderdaad liefde. Maar dit beteken
ook dat hy alles wat sleg is haat. Juis die teks in die Skrif wat
God liefde noem (1 Joh 4:8) word gevolg deur die woorde: "Hierin
is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore
Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe.
Hierin is die liefde; nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat
Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ’n versoening
vir ons sondes." (1 Joh 4: 9,10).

God se liefde sluit nie toorn teen die sonde
uit nie. Nee, sy grootste liefde het Hy juis daarin gewys dat Hy
sy eie Seun vir ons sondes gestraf het. "God se toorn teen
die sonde is so groot dat Hy – eerder as om dit ongestraf te
laat bly – sy geliefde Seun Jesus Christus met die bittere
en smadelike kruisdood gestraf het." Praat asseblief nie van
’n God wat nie toornig kan wees nie. Dan het u niks van
Christus verstaan nie, dan het u niks verstaan van God se liefde
nie, wat juis in Christus ten volle gewys is. God haat die sonde.
Deur toornig te wees op hulle wat teen Hom opstaan, wys God dat
sy liefde diep en ernstig is. God is nie ’n goedhartige ou
baas nie. Hy is ’n ware Vader. Hy kry seer wanneer sy liefde
geskend word. Hy is bedroef daaroor. Daarom straf Hy sondaars.
Daarom tugtig Hy ons. Nie om ons vir ewig weg te stoot nie. Maar
om ons tot bekering te bring. Om ons ons sondes te laat besef en
daaroor te laat rou. Om ons terug by Hom te bring. Laat ons God
daarom vir sy tugtiging dank en prys. Op hierdie manier wys God
dat Hy ’n egte Vader is. ’n Vader wat werklik omgee.
Wat so vir my omgee dat hy ontstel is as ek my nie gedra nie. Wat
soveel vir my omgee dat Hy bereid is om my te berispe en te
bestraf.

Broeders en susters, om God so as ons Vader aan
te roep, wek by ons kinderlike vrees en vertroue op. Diep respek
en vertroue. Hy is mos ons Vader?

En watter Vader! ’n Baie besondere Vader.
’n Almagtige Vader. ’n Hemelse Vader. Die Jode het
geroem dat hulle kinders van Abraham, Isak en Jakob was. Die
aartsvaders was groot manne wat belang in hul nakomelinge gestel
het. Dalk is jy trots op jou aardse vader, trots op sekere
begaafde leiers wat vir jou as geestelike vaders funksioneer of
gefunksioneer het. Maar waar is hulle wanneer daar groot nood is?
Wat kan hulle doen? Wat kon hulle doen toe Israel in ballingskap
was? Abraham en Jakob was reeds dood. Hulle was nie in staat om
te help nie. Ons hoor Jesaja sê: "Want U is ons Vader! Want
Abraham weet van ons nie, en Israel ken ons nie. U, o Here is ons
Vader; ons Verlosser is van ouds af u Naam." Menslike wesens
– hoe groot, wys of sterk hulle ookal mag wees – het
hul beperkings. Hulle is sondig en sterflik. Hulle is
ontoereikend vir noodsituasies soos die ballingskap. Menslike
leiers is inadekwaat vir ’n kerk in verval, vir lewens in
puin.

"U, o Here is ons Vader, ons Verlosser is
van ouds af u Naam." U is ons ewige Verlosser, wat gister,
vandag en more dieselfde is, en tot in ewigheid. Ek kan altyd op
U staatmaak, watter krisisse ek ook deurheen moet gaan. Niks is
buite U bereik nie. Niks is te moeilik vir U nie. Ek hoef slegs
te dink aan u magtige dade in die verlede, as Verlosser van u
volk. Waardeur U vir Uself ’n naam gemaak het. Die
wonderbaarlike exodus uit Egipte. Die wonderlike reis deur die
woestyn. Die inname van die beloofde land Kanaän. Die
menswording van Jesus Christus. Die verlossing van sondaars deur
die lyding en sterwe van Christus. Christus se opstanding,
hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees.

Daarom kan Jesaja met ons Vader pleit om na sy
volk terug te keer. "Waar is Hy wat sy volk (by die exodus)
uit die see laat optrek het saam met die herder van sy kudde?
Waar is Hy wat sy Heilige Gees in hulle midde gegee het? Wat sy
heerlike arm laat trek het aan die regterhand van Moses; wat die
waters voor hulle uit gekloof het, om vir Hom ’n ewige Naam
te maak? Wat hulle deur die watervloede laat trek het soos ’n
perd deur die woestyn, sonder om te struikel? (63:11-13). "Kyk
van die hemel neer en aanskou uit u heilige en heerlike woning!
Waar is u ywer en u magtige dade?" (vers 15)

Dit lyk asof die Here Hom van die syne onttrek
het, asof Hy Hom van sy volk verberg het, agter ondeurdringbare
wolke. Daarom bid Jesaja: "Ag, as U maar die hemele wou
skeur, wou neerdaal. (64:1). Jesaja bid vir God se ingryping, vir
die vertoon van God se mag en majesteit, tot heil van sy volk.
Wanneer die Here ingryp dan gebeur dinge. Ontsagwekkende dinge!
Die berge bewe voor sy aangesig. Dink aan die berg Sinai en
Golgota. Wanneer die Here verskyn, word sy vyande deur vrees en
bewing bevang. Die dappere, trotse en sterk vyande! Dinge gebeur
wat onmoontlik gelyk het. Die kerk ontvang nuwe kragte, ’n
oplewing, ’n reformasie. Daarom lees ons in vers 4: "Van
ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het
’n God gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie,
behalwe U."

Broeders en susters, wat ’n groot en
almagtige Vader het ons! Gaan dan nooit aards dink van sy hemelse
majesteit nie. Hy bring die dinge wat onmoontlik is tot stand.
Dooies, geestelik dooies word lewend gemaak. Wanneer Hy inspring,
dan kom hemelse kragte los, onoorwinlike kragte. Die trotses word
verneder en die nederiges word verhoog.

Nou terug na die vrae wat aan die begin van die
preek genoem is. Is u ooit mismoedig wanneer u kyk na u lewe van
vandag? Wanneer u kyk na u lewe in die lig van God se ryk
beloftes? Is u ooit ontmoedig wanneer u kyk na die kerk van
vandag? Sien u weleens met weemoed terug na die glorieryke tyd
van die kerk, as ons daarvan mag spreek? Voel u uself ’n
mislukking as u let op die visioen van wat u en die kerk sou moet
wees?

Met die slotwoorde van Ps 27:14 wil ek sê:
"Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja,
wag op die Here." Die Here is julle Vader, julle hemelse
Vader, julle almagtige Vader. Pleit met Hom in gebed. Laat Hom
jou as sy instrument mobiliseer. Herinner Hom aan sy beloftes,
aan sy omgee vir sy volk, aan sy roemryke dade. Vertrou op Hom.
Hy sal die werke van sy hande voltooi. Niks kan Hom teenhou nie.
Die glorieuse visioen van die kerk sal werklikheid word. Begin
julle nie jul gebed met die woorde: Ons Vader wat in die hemel is
nie?

In die lig van wat ons genoem het nav die gebed
van Jes 63, 64 (en u sou dit by die huis weereens rustig moet
nalees) beteken sondag 46 des te meer vir ons. Ek wil dit ten
slotte nogmaals vir u lees.

Vraag 120: Waarom het Christus ons beveel om
God as ons Vader aan te spreek?

Antwoord: Sodat Hy heel aan die begin van ons
gebed in ons die kinderlike vrees en vertroue op God sal wek. Dit
moet die grond van ons gebed wees, naamlik dat God deur Christus
ons Vader geword het, en dat Hy ons veel minder dit wat ons van
Hom in die geloof bid, sal weier as wat ons vaders aardse dinge
ons ontsê.

Vraag 121: Waarom word hier bygevoeg: wat in
die hemel is?

Antwoord: Sodat ons van die hemelse majesteit
van God nie aards moet dink nie en van sy almag alles verwag wat
ons vir liggaam en siel nodig het.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)