Die blydskap tussen Skepper en Skepping

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-03-04
Teks: 
Psalms 104
Preek Inhoud: 

Psalm 104:31-35

Ds C Kleyn - Sondag 4 Maart
2001

Lees: Psalm 104.
Sing: Ps 98:1,2; Ps 85:1,4; Ps
104:1,2,8,9; Ps 104:19-21; Ps 145:9-12.

Tema: Die blydskap tussen Skepper en Skepping.

  1. Die Skepper verheug Hom in sy skepping;
  2. Die Skepsel verheug hom in sy Skepper.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons verheug ons in die Here. Dis immers ’n
dankdiens vir gewas en arbeid. Dan verbly ons ons oor God se
werke. Die werke wat sy krag en majesteit, sy goedheid en trou
wys. In ons gewone, daaglikse lewe van eet en drink, werk en
slaap, rande en sente, kleding en behuising. Ons verheug ons in
die werke van die Here in die natuur: die son, maan, reën, winde,
selfs onweer. Dis te veel om te noem. Die Profeet Jesaja hoor die
serafs sing: "Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare.
Die hele aarde is van sy heerlikheid vol." (Jes 6:3). Hoe u
situasie ookal mag wees, so is God en so is die aarde. Die Here
is heilig en die aarde is vol van sy heerlikheid. Sien u dit nog?
God se heerlikheid waarvan die aarde vol is?

Ek veronderstel dat u God in u gebede daagliks
dank. Doen u dit nog vol verwondering oor God se heerlikheid in u
lewe? Is dit duidelik in u gesprekke, ook in u gesprekke oor geld
en materiële sake dat u God nog vol verwondering dank? Dis
maklik om verblind te word deur wat die oog sien en om te fokus
op wat ’n mens graag sou hê maar nie het nie. Ons het soms
die neiging om ons situasie te vergelyk met dit van ander mense
of lande. Wanneer ons moeite het om by die skool of by die werk
vooruit te kom, dan kan ons begin om ander wat daarin voorspoedig
lyk, te beny. As ek teenslag ervaar, dan kan ek maklik daardeur
heeltemal in beslag geneem word.

Maar, broeders en susters, maak nie saak hoe
moeilik dit kan wees om klaar te kom met sekere sake in jul lewe
– en laat ons die stryd vanweë die gebrokenheid van die
lewe nie onderskat nie – laat dit nooit jul lewe beheers nie.
Die belangrikste is dat jy God in jou lewe besig sien, God in sy
heerlikheid. Sy heerlikheid is jou heerlikheid. En die hele aarde
is van sy heerlikheid vol. Kyk rond in geloof en jy sal dit sien.
Bowendien, God se blydskap is jou blydskap.

Gemeente, dat u bly is, is nog nie eers die
belangrikste nie. Voorop moet staan dat God bly is, dat God Hom
verheug oor die werke van sy hande. Dat die son geskyn het, dat
die reën geval het, dat daar ete en drank was, ’n huis om
in te woon en klere om aan te trek, dit wat God se voorsienigheid.
Hy het dit alles gegee. En hy is bly oor die werke van sy hande.
Elke dag is ’n fees vir Hom, ’n sabbat. God se blydskap
bepaal die gang van die wêreld geskiedenis. Dit bepaal ook u
vreugde.

Daar behoort ’n heilige harmonie te wees
tussen God se vreugde oor sy werke en u vreugde daaroor. U
vreugde in die Here moet ’n vreugde saam met die Here wees.
Die blydskap begin by God en mag deur u gedeel word. God verbly
Hom in sy skepping. U verbly u in u Skepper. Dit is wat ek
vanoggend vir u wil verkondig. Ek vat die teks as volg saam:

Die blydskap tussen Skepper en Skepping

  1. Die Skepper verheug Hom in sy skepping
  2. Die Skepsel verheug hom in sy Skepper

Ps 104 sing van die heerlikheid van die Skepper
en sy Skepping. Dit Psalmis verwoord sy verwondering oor God se
krag en majesteit. Hy doen dit in die Kanaänitiese wêreld,
’n wêreld wat die skepsel bo die Skepper eer. Die son, maan
en sterre, reën en vrugbaarheid word daar as gode gedien. En
pleks om die afgodediens te verwyder, neem God se volk dit
dikwels oor. Hulle dien dan die Baal as die god van reën en
onweer. God se volk word voortdurend bedreig deur die gees van
die wêreld. Daarom loof die skeppings psalms nie slegs God nie,
maar veg hulle oor vir die eer van God. Die Here word aanbid en
bely as Skepper. Teenoor die gees van die wêreld. Ook in ons tyd
van wetenskap en tegniek moet die Psalm gesing word, teenoor
hulle wat die skepsel bo die Skepper eer.

Ps 104 loof die grootheid van die Here in sy
skepping en onderhouding van die wêreld. Dit sing van God se
kolossale huishouding. Soos ’n koning is Hy met majesteit en
heerlikheid beklee. Sy huishouding omvat hemel en aarde. In poëtiese
taal praat die Psalmis van die Here wat die hemel soos ’n
tentdoek uitspan, wat sy woonplek oor die waters daarbo inrig.
Die winde en die weerlig word God se dienaars genoem. Die
hemelliggame bepaal die jaargetye. Hulle skep orde en reëlmaat.
Die berge, die see, die velde, die bosse, die voëls en diere en
alle mense behoort aan God se huishouding. Wat ’n voedsel is
vir daardie huishouding nodig! Alle lewende skepsels moet reëlmatig
eet en drink. Maar ook die berg hellings moet besproei word.
Brood is nodig om die menslike lewe in stand te hou. Die magtige
seders van die Libanon moet onderhou word. Maar ook die voëls in
die bome, die ooievaar in die sipresse, die steenbokke, die dasse
in die rotse en die leeus in die bosse. Hulle is almal deel van
God se huishouding.

Wel, gemeente, u weet hoe veel inspanning dit
ouers reeds kos om hul huishouding te versorg. Dis soos ’n
besigheid. Daar is soveel dinge waaraan jy moet dink en wat jy
moet organiseer. Hierdie huishoudings is niks in vergelyking met
God se reusagtige huishouding nie. As jy nadink oor God se beheer
van hierdie hemel en aarde dan moet jy wel met die Psalmis
saamstem: Here my God, U is baie groot!

Die Psalmis dink blykbaar aan die geskiedenis
van Gen 1. Hy volg ongeveer dieselfde volgorde. Hy begin met die
lig en eindig met die mens. Hy beskryf met poëtiese skoonheid
hoe God die hemel en aarde gemaak het (verse 1-9). Hoe God ete en
drank en ’n skuilplek vir alle voëls en diere gee (verse 10-23).
Na ’n verdere meditasie oor God se skepping en onderhouding
van alle skepsels, klein en groot (verse 24-30) besluit hy met
die woorde van ons teks. Alles eindig met die 7e dag waarop God
rus van al die werk wat Hy gedoen het. Met blydskap het God alles
gesien wat Hy gemaak het en dit was baie goed. Hy kon hom verheug
in sy skepping.

Wel, gemeente, die Psalmis bid dat die vreugde
mag bly: "Laat die heerlikheid van die Here vir ewig wees,
laat die Here bly wees oor sy werke." Die Psalmis verstaan:
as God nie meer oor sy werke bly is nie, dan is dit die einde.
Dis die einde van die wêreld en die einde van God se skepsels.
Die Here hoef die aarde slegs aan te kyk en dit bewe. Hy hoef die
berge slegs aan te raak en hulle rook. Daarom bid die Psalmis dat
God se vreugde mag aanhou.

Gemeente, u het ete en drank van die Here
ontvang. Die son het geskyn. Reën het geval. Die gras en plante
mog groei. Mense het hul oes ingesamel of hoop dit nog te doen.
Ons kon brood en groente koop. Hoekom? Omdat die heerlikheid van
die Here nog steeds in hierdie wêreld skitter. Omdat die Here sy
sabbat bly vier het en Hy Hom verheug het oor sy werke. Daarom
was daar sonlig en reën.

God het alle dinge vir sy verheerliking en
vreugde geskep. Hy sien nie neer op wat Hy geskep het nie. Daarom
is jou natuurlike lewe nie van ’n lager orde nie. Asof ek
God slegs deur te bid en bybel te lees sou kan dien. "Alles
wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit
met danksegging ontvang word nie" (1 Tim 4:4).

Die skepping self is nie sleg nie. Die sonde
sit in die hart van die mens. Die sondige hart verhinder God in
sy vreugde. Sonde bederf God se werke. Wanneer kan God dan sy
skepping en sy skepsels geniet? Nie slegs wanneer hulle bid,
bybellees of daaroor mediteer nie. Die Here geniet daarvan
wanneer Hy sien dat ek Sy gawes met ’n dankbaar hart gebruik,
wanneer Hy sien dat ek my talente op ’n verantwoordelike
manier gebruik tot sy eer. Dink maar aan die situasie in ’n
gesin. Wanneer geniet jy as pa of ma van jou kinders? Slegs as
hulle op jou skoot sit en jou laat weet dat jy so ’n goeie
pa of ma is? Is jy as pa of ma ook nie bly wanneer jy sien dat
jou kinders bly speel met die dinge wat jy vir hulle gegee het
nie? God hou daarvan om te sien dat ons geniet van sy gawes as
dankbare kinders. Hy geniet het wanneer Hy jou sien speel,
studeer of werk as sy kind, in ooreenkomstig jou gawes. Geen werk
is van lager orde nie. Alles wat God geskape het is goed, solank
as dit met danksegging gebruik en ontvang word. Vader is bly oor
sy werke. Dan moet ek sy kind ook bly wees. Ek mag lewe en werk
in Vader se wêreld. Wat ’n geweldige Vader het ek en wat
’n geweldige skepping.

Dit kan ook heeltemal anders wees, naamlik dat
God Hom nie verheug in sy werke nie. Dink aan die sondvloed. In
Gen 6 lees ons: "Toe die Here sien dat die boosheid van die
mens op aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart
bedink, altyddeur net sleg was, het dit die Here berou dat Hy die
mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart."
Die berou is die teenoorgestelde van vreugde. En u weet almal
waar dit op uit geloop het. God het die ongelowige wêreld met
die sondvloed gestraf.

In verband hiermee noem die Psalmis God se
vreeswekkende grootheid: "Hy wat die aarde aankyk, en dit
bewe; Hy raak die berge aan, en hulle rook." (vers 32). Die
voortbestaan van die aarde hang van God se vreugde af. "Wanneer
Hy sy hand oopmaak dan word die skepsels versadig met die goeie.
Wanneer Hy sy aangesig verberg, dan word hulle verskrik" (verse
28,29).

Broeders en susters, Hebr 12: 25, 26 waarsku
ons: "Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want
as hulle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde
’n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder ons wat ons
van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek. Toe het sy stem
die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê : Nog een maal
laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe."
Wanneer Christus terugkom dan sal alles op sy fondamente skud.
Dan sal God eens en vir altyd sy aarde reinig van sonde en
sondaars.

In hierdie verband moet u Ps 104:35 lees. Daar
staan: "Mag die sondaars omkom van die aarde en die
goddelose mense nie meer wees nie." Hierdie woorde klink
hard en liefdeloos. Hoe kan jy bid vir die verdelging van die
goddelose mense? Moet jy nie inteendeel bid vir hul bekering nie?
Sodat hulle kan lewe? Die gebed van die Psalmis is egter nie in
stryd met die begeerte vir die bekering van sondaars nie. Maar
dit is nie die fokus hier nie. Die fokus van die Psalm is die
heerlikheid van God. Laat die heerlikheid van die Here vir ewig
wees, laat die Here bly wees oor sy werke (vers 31).

Wat doen dan die goddelose mense? Hulle
vervloek hul Skepper. Hulle weier om vir Hom vreugde en eer te
gee. Hulle lewe vir hulself en laat God buite hul lewe. Hulle eis
die wêreld en alles wat daarin is, vir hulself op. Daarom
behoort hulle nie in Vader se skepping te wees nie. Hulle bederf
sy pragtige skepping. Hulle verhinder die sabbatsvreugde. Hulle
versteur die goeie harmonie. Hulle bereik die teendeel van die
doel van hul skepping. Daarom behoort hulle nie hier nie. Tensy
hulle hul bekeer moet hulle uit God se skepping verwyder word.
Die Psalmis verlang na die herstel van die volmaakte harmonie,
die harmonie waarin God volkome oor sy werke kan bly wees. Dit is
in die belang van God se heerlikheid dat die ryk van die bose
verwyder word.

Hierdie bede van die Psalmis kom ooreen met die
2e bede wat Christus ons geleer het: "laat u koninkryk kom."
Wanneer ek die bede bid, dan bid ek ook: Vernietig die werke van
die duiwel, elke mag wat teen u opstaan. Dan bid ek dat die
volkomenheid van God se ryk sal kom, waarin Hy alles in almal sal
wees.

Nou die 2e gedagte: die skepsel verheug hom in
sy Skepper. Daar is ’n gedeelde vreugde tussen Skepper en
skepping. Dis wederkerig.

Die Psalmis vervolg: "Ek wil sing tot eer
van die Here solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my
God solank as ek daar is. Mag my oordenking Hom welgevallig wees:
ek sal bly wees in die Here."

Na die eerste punt sal u verstaan waarom die
Psalmis dit sê. Hy weet dat dit daarop aankom dat God verheerlik
word. God het ons mense gemaak so dat ons Hom sou verheerlik en
ons saam met Hom ons sou verheug.

Geliefdes, God het u ’n plek hier op aarde
gegee as sy medearbeiders en feesgangers om te deel in sy
sabbatsvreugde. God verheug Hom in sy skepping. U mag daarin deel
en u verheug in Hom u Skepper. Daarom: "Ek wil sing tot eer
van die Here solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my
God solank as ek daar is."

Is dit, broeders en susters, seuns en meisies,
die fokus van jul lewe? Sing tot eer van die Here. Is dit wat
julle doen wanneer julle skool toe gaan, wanneer julle jul gawes
ontwikkel en gebruik, wanneer julle jul werk doen en wanneer
julle jul ontspan? Sing tot eer van die Here. Is dit die Here wat
julle wil eer? Nie slegs sondags nie, maar ook op die ander dae
van die week?

Met die woorde van Ef 5 kan ons sê: "Spreek
onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en
sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here, terwyl
julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van ons Here
Jesus Christus." Psalms, lofsange en geestelike liedere, het
jy dit nog wel in jou hart en op jou lippe? Of is dit die satan
en die wêreld wat vir jou die toon aangee? Of het jy jou
spesiale plek as kind in Vader se wêreld vergeet? Jy mag saam
met jou Vader bly wees oor sy skepping. Geniet van sy gawes.
Geniet van die geleenthede wat Hy vir jou gee. Geniet dit as sy
dankbare kinders, as sy medearbeiders, as sy eregaste, waar jy
ook mag wees en watter taak jy ook mag hê. Is dit nie geweldig
om in Vader se wêreld te lewe en te werk nie?

Maar nou moet die danksegging ook ’n gebed
word, ’n gebed om vergewing. Want dit is my sonde: ek verbly
my nie altyd saam met die Here nie. Dikwels geniet ek sonder Hom
of probeer ek om plesier te maak sonder Hom. Ek is ’n
spelbreker, wat God se vreugde versteur pleks om by Hom aan te
sluit. Hoe het jy in die afgelope jaar geleef en gewerk? Hoe het
jy geëet en gedrink? In die gees van Ps 104? Natuurlik, ek weet
dit, daar is nog soveel moeite en verdriet, ook in ons daaglikse
lewe. Daar is die dreiging of realiteit van werkloosheid of van
onvoldoende werk. Daar was siekte en stres ensovoort. Maar,
geliefdes, wanneer julle op jul hemelse Vader fokus dan weet
julle dat jul vreugde nie afhanklik van jul gesondheid of
inkomste is nie. Jul Vader is daar in heerlikheid. Sy heerlikheid
is jul heerlikheid. Sy vreugde is jul vreugde. Daarom kan jy ag
slaan op Paulus se oproep: "Verbly julle altyd in die Here;
ek herhaal: Verbly julle! (Fil 4:4). Elke dag weer was Vader daar,
of nie soms? Vader was bo jou en met jou. Sou jy jou dan nie
verbly nie?

Gemeente, die Psalmis is bewus van sy
onvolkomenheid. Hy besef sy onmag om vir God ’n volmaakte
offer te gee. Daarom bid hy nederig: Mag my oordenking Hom
welgevallig wees: ek sal bly wees in die Here. Daar is soveel
afleidings. Die sonde is naby. Die sonde bederf dikwels my
gedagtes en woorde. Slegs deur Christus se bloed en Gees kan my
dankoffer werklik Hom welgevallig wees.

Die Psalmis sluit die Psalm af met die woorde
waarmee hy begin het: "Loof die Here, o my siel! Hy wek
homself op om die Here te prys. Dis blykbaar nodig om jouself
steeds weer daartoe op te wek. Waarom? U weet dit wel. Uit
onsself is ons traag en slap in die loof van God. Dis iets wat
ons nie outomaties doen nie. Selfs nie wanneer ons vaste tye vir
gebed en lofprysing het nie. Ons het voortdurend bemoediging
nodig om vir God die offer van ons lippe en harte te gee.

Daarom moedig ek u vandag weer aan om die Here
te loof, om Hom te prys as die Skepper van hemel en aarde. Die
aarde is van sy heerlikheid vol. Hy onderhou en regeer sy
kolossale huishouding. "Hoe talryk is u werke, o Here! U het
hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele"
(vers 24). Dan vergeet ons nie die sogenoemde kleine dinge nie.
Ons laat ook nie ons blik versmal deur die minder plesierige
ervarings nie. Hoe wonderbaarlik het God sy skepping gemaak en
onderhou. Dis te groot om te noem. Om slegs ’n klein deel
van God se groot en gevarieerde skepping te sien, is reeds te
veel vir ons. Dis te wonderlik vir my, te hoog.

Laat ons Hom dan prys vir wat Hy tot stand
gebring het en wat Hy ons ter beskikking gestel het. Onnoemlike
skatte en gawes. Laat ons dit doen met hart en mond. Laat ons
hele lewe ’n offer van dankbaarheid wees. Loof die Here, o
my siel. Loof Hom nou en wanneer ek die diens verlaat. Loof Hom
wanneer ek in my kar stap en wanneer ek daaraan dink om my radio
aan te skakel. Loof Hom in my gesprekke. Loof Hom ook wanneer ek
oor my werk en loon praat. Loof Hom wanneer ek praat oor
werkloosheid of siekte. Loof Hom wanneer ek vir werk soek of my
vakke moet kies. Loof Hom wanneer ek my inkopies doen. Loof Hom
wanneer ek na die nuus luister en wanneer ek die weerberigte hoor
of sien. Loof Hom wanneer ek opstaan en wanneer ek bed toe gaan.
Loof die Here, o my siel. Halleluja!

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)