Die bruid sien met groot verlange uit na die bruidlofsmaal van die Lam

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-02-11
Teks: 
Openbaring 22
Preek Inhoud: 

Openbaring 22: 20b
Ds C Kleyn - Sondag 11
Februarie 2001

Lees: Openbaring 22:6-21; by
Nagmaals tafels: Openbaring 19:6-10; 21:1-8; 22:1-5.
Sing: Ps 113:1,2; Ps 108:1; Ps 96:1,8;
Apostoliese Geloofsbelydenis; SB 29:8,9; SB 45:11,12; SB 30:5,6;
Ps 150:1.

Tema: Die bruid sien met groot verlange uit na
die bruidlofsmaal van die Lam.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

By die instelling van die Heilige Nagmaal het
die Here Jesus vir sy dissipels gesê: Ek sal van nou af nooit
meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op die dag
wanneer ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my
Vader." (Mt 26:29). Christus het ons gebied om die nagmaal
te vier totdat Hy kom. Ons formulier voeg daaraan toe: Ons geniet
aan die tafel ’n voorsmaak van die oorvloedige vreugde wat
Hy ons belowe het. Ons sien met groot verlange uit na sy
verskyning in heerlikheid, na die bruilofsmaal van die Lam.

Ons vier die nagmaal onderweg, op pad na die
heerlike toekoms. Christus leer ons om te lewe in
toekomsverwagting. Wat ons hier aan die tafel vier is slegs
’n voorsmaak. ’n Voorsmaak van die oorvloedige vreugde.
’n Voorsmaak, dis nie niks nie. Ons mag aan die tafel geniet
van die gemeenskap met Christus deur sy Gees. Maar dis ook nie
alles nie. Christus is nog nie liggaamlik aanwesig nie. Daarom
verlang ons na meer. Ons wil graag feesvier met Christus self
sigbaar aanwesig. Ons verlang om hom te sien. Om in sy
onmiddellike nabyheid te wees. Om as bruid met Hom die bruidegom
verenig te wees. Dis, broeders en susters, tog ook u verlange? U
sien tog ook met groot verlange uit na Christus se verskyning in
heerlikheid? Of nie?

Juis aan die nagmaal moet die verlange wel
sterk oplewe. Wanneer ek bewus die nagmaal vier dan verlang ek na
meer. Dan verlang ek na die vervulling van al God se beloftes, na
die volmaakte vereniging met my Here Jesus Christus. U het tog u
Heiland lief? Dan moet die vuur van die liefde tog by u brand?

Die boek Openbaring spreek meermale oor die
definitiewe koms van die Here Jesus. ’n Mens sou dit selfs
die tema van die laaste bybelboek kan noem. Christus herhaal sy
belofte: Ja, Ek kom gou.

Openbaring vertel ons ook hoe Hy kom. Hy kom as
diegene wat die 7 seëls van die boekrol oopmaak. Wanneer Hy dit
doen dan kom daar ’n wit, ’n vuurrooi, ’n swart en
’n vaal perd (Openb 6). Christus kom langs die pad van oorloë,
bloedvergieting, hongersnode, siekte en dood. Hy kom langs die
pad van die 7 basuine en die 7 skale van die grimmigheid van God.
Hy kom langs die pad van aardbewings, verleiding, onderdrukking,
valse profete, die haat van die groot hoer.

Ja, sê die Here Jesus, Ek kom gou. Ek is op
pad. Weldra is Ek daar by jou. Al die gebeurtenisse, rampe,
beproewinge begelei my koms. Ek is in hulle aanwesig. Die
geskiedenis van die wêreld en van die kerk staan nooit op
homself nie. Ek is daarin aan die kom. Dit is Christus se laaste
woord vir ons sy volk: Ja, Ek kom gou. Niks kan My teenhou nie.
Ek is op pad na die groot bruilofsfees. Ek vermors geen tyd nie.
Ek het haas.

Hoe reageer dan die bruid? Joh verwoord dit met
die woorde: Amen, ja kom, Here Jesus! Amen. Dit is waar en seker.
U is aan die kom. Dit is so. U is die getroue getuie. U het dit
belowe. Daarom is daar geen twyfel aan nie. Amen!

Ja, Hy kom gou. Christus laaste woord vir ons
sy kerk sal ons nooit vergeet nie. Dit bly resoneer in ons koppe.
Dis musiek in ons ore. Hy kom gou.

Ons lees en hoor sy woord. Die Bybel. Ons glo
dit. Daarom weet ons wie agter al die gebeurtenisse staan, wie
agter die 7 oop seëls, die 7 basuine en die 7 skale van gramskap
staan. Wie anders staan daaragter as ons verlosser Jesus Christus?
Wanneer ek die oordele oor die aarde sien, dan weet ek: die Here
is aan die kom. Wanneer ek verdrukking en beproewing moet
deurstaan, dan weet ek: my Here is aan die kom. Wanneer die
wetteloosheid en die veragting van die evangelie toeneem dan weet
ek: HY is aan die kom.

Dit is die pad na die bruilofsfees. Dit kom
steeds nader. Daarom gaan ons rustig skool toe en werk toe. Dit
is moontlik. Jesus se woord: Ek kom gou gee my perspektief. Dit
plaas my in die lig en aan die werk. Vir die vergadering van sy
kerk, vir die bewaring en verbreiding van sy Woord, vir
evangelisasie en sending. Daar moet nog baie gebeur, in die
breedte en in die diepte. En ek moet gereed wees. Daarom moet ek
aangaan. Daar is geen tyd om te vermors nie.

Gemeente, as Christus nie gesê sou hê: Ek kom
gou nie, dan sou ons geen uitsig hê nie. Dan sou ons rede hê om
tou op te gooi. Watter sin het dit dan om vir my Here te stry?
Waarom sou ek dan nee teen die sonde sê en ja vir my Here?
Daarmee haal ek alleen maar kritiek en veragting oor myself. Maar
die geloof dat Christus aan die kom is hou my op die been en
aktiveer my. Die mense moet nou kies. More kan te laat wees. Nou
is die tyd van genade. Ek moet nou besluit om trou te wees soos
’n reine bruid. Dit is nou die tyd om Hom aan te hang met
opregte geloof, vaste hoop en vurige liefde. Daarvoor moet ek nou
my kruis dra. En ek kan dit blymoedig dra. Want dit is vir my
Here Jesus en Hy is aan die kom. En dan sal die vreugde nooit
meer eindig nie.

U "amen," gemeente, is dus nie iets
wat u slegs hier in die kerk uitspreek nie. Die amen is iets van
elke dag en elke situasie. Dit is ’n manier van lewe. Daarom
word dit in woord en daad, in jou handel en wandel uitgedra. Dit
kenmerk jou lewe.

Broeders en susters, ons is seker van Christus
se koms. Dit verhinder ons egter nie om daarvoor te bid nie.
"Ja kom, Here Jesus, ek verlang na U." Dis hoe ons bid
in die woestyn van sonde en gebrokenheid, by verdrukking en
beproewing. Dis hoe ons bid wanneer ons worstel met ons sondes en
verdriet ondervind, siekte en swakheid.

Bid ons dit om daar self beter van te word? Dis
’n vreemde vraag. Vra maar vir ’n bruid waarom sy
verlang na die bruidegom. Dis tog sodat hulle saam kan wees. Die
bruid verlang na die bruidegom omdat sy hom liefhet en weet dat
hy haar liefhet. Omdat hulle saam wil geniet van mekaar se liefde.
Christus se bruid bid: kom, Here Jesus, omdat Hy eers gesê het:
Ek kom. Beide dink aan dieselfde dinge. As bruid wil jy alles vir
Hom wees, ookal is dit nie baie, en wil jy alles van Hom ontvang,
en dit is baie. Jy sal daar beter van word, dis waar. Maar jy
weet ook dat jou bruidegom slegs volmaak gelukkig sal wees as Hy
jou volmaak gelukkig gemaak het. Die 7 briewe aan die 7 gemeentes
getuig daarvan.

"Kom," sê ons, omdat ons die ewige
en volmaakte gemeenskap met Christus begeer. Dit sou tog
ondankbaar wees om nie daarvoor te bid nie? Bowendien het die
Heilige Gees ons geleer om daarvoor te bid.

Is dit, broeders en susters, werklikheid in u
lewe? Verlang u werklik na die volle en volmaakte eenheid met
Christus? Onthou, die ware bruid sê: Ja kom, Here Jesus. Sy
verlang na sy koms. As dit nie die geval is nie, dan wys u uself
nie as die bruid van die lam nie. Dan is die Gees van die bruid
nie in u nie, maar die gees van die ander vrou in Openbaring: die
hoer, wat haar skatte hier op aarde soek, in aardse en sigbare
dinge. Sy word heeltemal in beslag geneem met wat sy hier op
aarde kan geniet, materiële en sosiale welvaart. Daar leef die
hoer voor.

Die ware bruid sê: Kom, Here Jesus. Die bruid,
dit omvat nie slegs die siekes en bejaardes wat min van hierdie
lewe kan verwag nie. Dit omvat ook die seuns en dogters wat nog
bruis van lewe en vol van ideale is, maar wat nie kla: "wanneer
Christus kom dan sal ek alles los moet laat." Hulle weet
immers: sy koms is die grootste wat kan gebeur, dit sal volkome
geluk bring.

So kan ’n mens sien of jy bruid of hoer is.
Jou gedrag, jou lewenstyl wys wie jy is, of jy inderdaad sê:
Amen, ja kom, Here Jesus. ’n Mens kan sien of die bruid op
haar bruidegom gefokus is of nie. Jy kan die hoor in jou gebede,
jy kan dit sien in jou gedrag en besighede. Jy kan dit proe in
die dinge waarvan jy geniet. Die ware bruid geniet daarvan om die
briewe van die bruidegom te lees en te oordink, naamlik die Bybel.
Sy woorde is in haar hart geskrywe. En sy verlang om alles gereed
te hê vir die bruilof. Haar gesig straal reeds van vreugde. Hy
is amper hier. Sy sing daar reeds van.

Gemeente, herken u dit in u lewe en strewe?
Indien u daarmee worstel, bid vir die genade van die Heilige Gees.
Sodat Hy u hart mag vul en dit sterk mag maak, vol van verlange.
Hy sal voltooi wat Hy begin het. Onderweg berei Hy vir u die
tafel. Eet die brood en drink die wyn, as voedingsmiddel vir
onderweg. Laat u versterk in u geloof en verwagting. U Here Jesus
kom. Amen, ja kom, Here Jesus.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)