Ondanks Farao se poging om Josef vir homself op te eis, bly Josef God se instrument

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-03-11
Teks: 
Génesis 41
Preek Inhoud: 

Genesis 41:1-45

Ds C Kleyn - Sondag 11 Maart
2001

Lees: Genesis 41:1-45.
Sing: Ps 113:1,2; Ps 37:1-4; Ps
11:3-5; Ps 105:1,10-12; Ps 148:1,5.

Tema: Ondanks Farao se poging om Josef vir
homself op te eis, bly Josef God se instrument.

  1. Josef se profesie;
  2. Farao se kleim; en
  3. God se oorwinning.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Josef is ’n man wat een teleurstelling na
die ander ervaar. Amper herstel van een terugslag moet hy ’n
volgende deurstaan. Eers word hy deur sy broers verag, verwerp,
verneder. Uiteindelik verkoop as slaaf. As slaaf wen hy egter
Potifar se guns en word hy oor Potifar se huis aangestel. Daarna
word hy opnuut diep verneder. As gevolg van die leuen van Potifar
se vrou word hy in die tronk gesit.

Daar in die gevangenis word hy opnuut verhoog
in ’n posisie van gesag. God laat hom guns vind in die oë
van die owerste van die gevangenis. Die owerste stel hom aan oor
alle gevangenes. Tog is daar vir hom geen hoop op bevryding nie
totdat hy die droom van die skinker uitlê nie. Die skinker sou
’n goeie woord vir hom by Farao kan doen. Josef pleit met
die skinker om hom in gedagte te hou en om hom te help om uit die
gevangenis te kom. Dit lyk sy enigste kans te wees om uit die
tronk uit te kom. Maar dae, weke en maande gaan verby, sonder dat
daar iets gebeur. Geen teken van vrylating nie. Die skinker het
hom heeltemal vergeet. Wat ’n teleurstelling vir Josef.
Opnuut word sy hoop en verwagting die bodem ingeslaan.

Dis nie maklik vir Josef om so een
teleurstelling na die ander te hanteer nie. Sou ’n mens in
sulke omstandighede nie moedeloos, sinies of bitter word nie? As
jy let op wat voor oë is, dan sou jy amper dink dat God iets
teen hom het. Tog is dit nie die geval nie. "Al gaan ek ook
in ’n dal van doodskaduwee, ek sal nie vrees nie."
Waarom nie? "Want u is met my" sing Dawid in Ps 23. God
is diegene wat jou as die goeie Herder deur die dal lei. So is
God ook met Josef. En Josef bly aan sy God getrou ondanks die
onbeantwoorde vrae. Josef gee nie in aan die versoeking om sy
vertroue in God op te sê nie, ondanks die feit dat God al die
verskriklike dinge vir hom laat gebeur. Josef soek geen
bevrediging van sy hunkering na vriendskap en intimiteit deur die
sondige voorstel van Potifar sy vrou nie. Josef staan vas. Hy wil
nie sy God en sy Heer verraai nie.

Probeer eers om dit voor te stel in so ’n
droewige situasie. Sou jy in sulke omstandighede ja vir God bly sê
en nee teen die sonde? Ondanks alle onreg wat aan hom gedoen is,
bly Josef trou aan God en so ook positief en behulpsaam aan ander.
Dit is wat gebeur as jy ’n ware Christen is. Die owerste van
die gevangenis sien dit en stel hom aan oor die gevangenes. Josef
is oplettend en hulpvaardig. Hy sien dat die skinker en die
bakker na hul drome ontstemd is. Hy laat weet dat hy vir hulle
omgee deur hulle te vra waarom hulle so droewig gestem is. Hy is
onmiddellik bereid om hulle in hul nood te help. Hier het u
’n jong man wat die evangelie uitleef.

Twee jaar na die vrystelling van die skinker,
word Josef eindelik self bevry. Eindelik ontvang Hy dit waarna hy
so verlang het, sy vryheid. En hy word oor heel Egipte aangestel.
’n Geweldige verhoging! Maar die versoeking bly. Ja, dit kan
wees dat die versoeking om sy God te verlaat nog groter word,
noudat hy vry is en soveel mag ontvang het. Want Farao probeer om
hom op te eis vir sy wêreldse doelstellings, vir die bevordering
van sy aardse koninkryk.

Laat ons daarop let as ek vir u verkondig:

Ondanks Farao se poging om Josef vir homself op
te eis, bly Josef God se instrument

  1. Josef se profesie
  2. Farao se kleim
  3. God se oorwinning

Egipte was in die tyd ’n wêreldmag.
’n Totalitêre wêreldmag. Daarmee bedoel ek ’n mag met
’n gesentraliseerde regering wat die beheer oor alle dele
van die lewe geneem het, inklusief die private- en gesins- lewe.
’n Individuele burger het min seggenskap. Die
gesentraliseerde regering het alles vir jou bepaal. U kan dit
vergelyk met die situasie toentertyd onder die kommunistiese
regerings in Oos Europa. Onder so ’n sisteem was daar geen
ruimte vir ander opinies of vir ’n ander godsdiens nie. So
sou jy sê dat daar vir Josef met sy diens aan die enige ware God
geen ruimte is nie.

Maar God bring Josef na Egipte. En die Here God
doen wonderlike dinge in Egipte. Daar in die heidense land berei
die Here die pad vir sy openbaring en vir sy profeet Josef.
Probeer om dit in te dink! Israel se God maak Homself bekend aan
die Farao van Egipte. Israel se God keer die Egiptiese wêreld
onderstebo.

Farao het twee drome. God gee hom twee drome. 7
lelike en maer koeie eet 7 mooi en vet koeie op. In die ander
droom verslind 7 maer are 7 vet en mooi are. Farao ontvang die
drome in ’n wêreld vol van magie en towery. ’n Wêreld
waarin die koei die simbool is van die godin van vrugbaarheid en
waarin die nommer 7 ook ’n heilige nommer is. In die lig kan
u verstaan hoe onrustig Farao oor die drome is. Maar sy staf van
teoloë, towenaars en wyse manne kan die drome nie vir hom
verklaar nie.

Uitlêers van drome was deel van die Egiptiese
kultuur. Om drome te verklaar was ’n spesiale wetenskap,
’n tegniek wat grondige studie vereis het. Egipte het ’n
spesiale fakulteit daarvoor gehad. En die beste studente het
’n plek aan die koninklike hof gekry as Farao se adviseurs.
Maar nou is geen van hulle in staat om Farao te help nie. Wat
’n verleentheid! Farao weet dat jy drome nie sommer as
onbelangrik genegeer kan word nie. Hy weet dat hulle iets
belangriks wil sê. Maar hy kan nie te wete kom wat nie. Die gode
bly stil. En dan te bedink dat die Egiptenare geglo het dat die
Farao ’n god in menslike gedaante was.

Gemeente, as u al hierdie dinge in rekening
bring, dan kry u ’n idee wat die Here God daar in die
heidense Egiptiese paleis besig is om te doen. Egipte is ten
einde raad. Dan kom Moses in beeld. God skuif hom vorentoe as sy
profeet.

Die voorman van die skinkers dink skielik aan
Josef en vestig Farao se aandag op hom. Josef word voor die
koning gebring. Daar voor die koning tree hy op as God se profeet.
Josef verwys na God, soos hy dit gedoen het toe die skinker en
die bakker met hul drome by hom gekom het. Hy vestig die aandag
op God, soos hy dit gedoen het tydens sy verblyf in Potifar se
huis. Daardeur het Potifar die Here God leer ken en die Here God
ook in Josef herken. Josef het homself bewys as God se profeet in
woord en daad.

So hoor ons Josef vir die heidense koning sê:
"Niks vir my nie! God sal Farao ’n gunstige antwoord
gee." En: "Wat dit betref dat die droom twee maal vir
Farao herhaal is – dit is omdat die saak deur God vas
besluit is en God dit gou sal doen." (vers 32). God se naam
word verkondig in die koninklike paleis. Kan u dit voorstel? God
se naam word verkondig in so ’n totalitêre staat, waar daar
geen ruimte vir God is nie. God lê die dwaasheid van die
towenaars en wyse manne van Egipte bloot. God lê die dwaasheid
van die heidendom self bloot. Hulle kan nie eers sulke belangrike
drome uitlê nie. Hulle is almal ten einde raad. God stel homself
voor daar in die sentrum van die heidense wêreldmag. God stel
homself voor as diegene wat die toekoms van die volke bepaal.
Sonder enige aarseling of reserwe profeteer Josef wat God gaan
doen volgens die drome.

Wanneer die towenaars en wyse manne drome
uitgelê het, het hulle meestal vaag gebly. Hulle het ruimte
gelaat vir allerlei moontlikheid, gebeurlikhede. Anders sou hul
voorspelling dalk nie reg wees nie en sou hulle gedood word. Nee,
hulle wil geen risiko’s loop nie. Maar nou is daar die jong
Hebreeuse man wat die enige ware God dien. Hy gee ’n baie
konkrete en definitiewe uitleg aan Farao se drome. Geen maar of
indien nie. Baie konkreet en prakties. Wat ’n teenstelling!
Hier het u ’n profeet van die enige ware God.

Josef profeteer van 7 jare van groot oorvloed
en 7 jare van hongersnood. Dis wat die Here gaan doen. Ja, u het
dit goed gehoor. God gaan 7 jare van oorvloed gee en 7 jare van
hongersnood. Dis goed om ’n oomblik daarby stil te staan.
Vandag sê baie mense dat hongersnood nie van die Here kan kom
nie. As jy al die kinders wat van honger sterwe sien, dan kan jy
jouself nie voorstel dat God daarin betrokke is nie. Nee, sê
baie mense, God wil en werk slegs die goeie dinge. Alle goeie
dinge kom van Hom. Maar Hy het niks te make met die slegte dinge,
soos hongersnood nie.

Op die eerste gesig lyk dit aanneemlik en
aantreklik. Maar as jy daaroor nadink, dan besef jy al gou wat
die gevolg van so ’n gedagte is. God is dan eintlik nie meer
in beheer nie. Die ellende in die wêreld en satan sou dan ’n
selfstandige mag wees waarteen God niks kan doen nie. God word
verlaag na ’n magtelose god wat alles uit die hand laat loop
het en dit nie onder beheer kan kry nie. Dan het jy ’n
totaal ander god as die God van die Bybel. Want ons God is ’n
almagtige en alwyse God wat alle dinge regeer en bepaal. Dis is
die woord wat Josef vir Farao gebring het. God gaan 7 jare van
oorvloed gee en 7 jare van hongersnood. Beide oorvloed en
hongersnood kom werklik uit God se hand.

God se naam word verkondig in die heidense
Egiptiese paleis. Wat maak Farao daarmee? Ons wil daarop let in
die 2e punt: Farao se kleim.

Farao kom onmiddellik in aksie. Dis iets wat
ons in hom kan prys. Hoe dikwels sien ons nie dat Christene weier
om in aksie te kom deur die woord van die Here nie? Daarin
beskaam Farao ons. Maar gee Farao die Here die eer? Dit lyk so as
ons hom hoor praat. Oor Josef sê hy immers: "kan ons wel
iemand vind soos hierdie man in wie die Gees van God is?"
Daarna sê hy vir Josef: "Aangesien God dit alles aan jou
bekend gemaak het, is daar niemand verstandig en wys soos jy nie."

In sy woorde lyk dit asof Farao aan God die eer
gee. Maar in werklikheid eis hy die eer vir homself op. Want hy
eis Josef vir homself en vir sy wêreldse doelstellings op. Hoe
weet ek dit? Wel, hoe stel hy Josef aan sy Egiptiese volk voor?
As ’n Egiptenaar, met die Egiptiese naam Safenat-Paneag. Die
naam beteken waarskynlik die verlosser van die lewe.

Die naam ‘verlosser van die lewe’ lyk
baie toepaslik. Maar dit is misleidend. Wat so word God se
dienaar Josef aan die volk voorgestel as ’n produk van
Egipte, as ’n produk van Egiptiese wysheid en mag. So
onderdruk Farao die waarheid van God. Egipte het geen verlosser
nodig nie. Egipte het die Here God as verlosser nie nodig nie.
Egipte kan homself red: Safenat-Panéag. So gebruik Farao die
woord wat God deur Josef vir hom gegee het, vir sy eie nasionale
ambisies.

Farao gaan selfs ’n stap verder. Hy neem
nie halwe maatreëls nie. Behalwe dat hy Josef ’n Egiptiese
naam gee, gee hy hom ook ’n Egiptiese vrou: Asenat, die
dogter van Potifera, die priester van On. Deur hierdie huwelik
maak Farao Josef deel van die Egiptiese wêreld en kultuur.
’n Wêreld vol afgodery.

Die vernaamste god van Egipte was die songod Ra
of Re. Potifera, Josef sy skoonvader, die priester van On, was
aan die god gewy. En Josef se vrou is genoem na die Egiptiese
godin Anath. Die vrou van Josef was dus aan afgodery gewy. Farao
lyf Josef in in sy hoë kringe. Daar behoort Josef volgens die
Egiptiese standaarde.

Bowendien, was Egiptiese priesters geleerde
mense. Hulle was die wyse manne, die adviseurs van Farao.
Dieselfde soort mense wat Farao vir sy drome geraadpleeg het.
Josef word aan die staf van priesters toegevoeg, aan die staf van
wyse manne en towenaars. Josef moet in die geheime wysheid van
Egipte deel. Die wyse manne van Egipte kan sy buitengewone
wysheid ook goed gebruik.

Ps 105 vertel ons dat Josef aan die oudstes
wysheid moes leer. Josef se wysheid word vir die Egiptiese wêreld
van afgodery opgeëis. Hulle kan hom gebruik om die heerlikheid
en mag van hul heidense staat te vermeerder. So word die waarheid
van God verswelg deur die duisternis van die heidendom. Die
profesie word geneutraliseer. Josef word opgeneem in ’n
heidense kultuur.

Wat ’n gevaarlike situasie om in te
verkeer. Hoe verleidelik om in so ’n situasie God te vergeet
en om jouself aan te pas aan die heidense omgewing. Dit lyk amper
asof daar geen ander keuse is nie. Besef u, broeders en susters,
hoe gevaarlik die situasie is? God se profeet word deel gemaak
van ’n heidense kultuur. Hy word geneutraliseer as profeet
van God, hy word tot ’n dienaar van die afgode gemaak. Dit
kan mooi wees dat Josef vry is en tot so ’n hoë posisie
verhoog word. Maar wat ’n versoeking! Josef word heeltemal
in beslag geneem deur Farao en sy koninkryk. Die versoeking is
selfs groter as tydens sy slawerny en gevangenskap. Hoe kan
’n mens in so ’n situasie aan sy God trou bly? Dis
werklik ’n wonder van God dat Josef trou gebly het. Ook al
is daar later aanwysings dat Josef nie heeltemal onbesmet van die
heidense wêreld gebly het nie. Ons lees bv in Gen 44:15 dat
Josef vir sy broers sê dat hy verborge dinge deur waarsëery kan
uitvind. Blykbaar het Josef deelgeneem in die heidense praktyk
van waarsëery, pogings om verborge dinge deur geheime kunste te
ontdek.

Word Josef die profeet dan volkome opgeslurp as
deel van die Egiptiese sisteem? Het hy dan volkome ’n
instrument van Farao en so van satan geword?

Beslis nie! God is in beheer en God is die
oorwinnaar, ook in hierdie geskiedenis. Dis die laaste punt van
die preek: God se oorwinning.

Ondanks Farao se poging om Josef vir homself op
te eis, bly Josef God se instrument. Waarom het God Josef na
Egipte gestuur? Nie terwille van die Egiptiese wêreld mag nie.
Maar terwille van sy eie volk. Om vir Homself ’n volk in die
lewe te hou. Om die pad vir Jakob en sy gesin na Egipte toe voor
te berei. Om die pad van God se verlossings plan voor te berei.
Uiteindelik om die pad voor te berei vir die glorieuse uittog van
sy volk uit Egipte en hul intog in die beloofde land Kanaän.

Bedink dit: die wêreldmag Egipte word as
‘t ware onderstebo gekeer, nie terwille van Egipte se glorie
nie, maar ter wille van Jakob en sy gesin. God het sy instrument
vooruit gestuur en bly hom as sy instrument in diens neem. Alles
wat Josef doen is uiteindelik terwille van God se plan vir sy
volk.

Nee, Josef sal dit nog nie besef het tydens sy
verhoging nie. Dit lyk asof sy werk slegs die Egiptiese staat
baat. Dit lyk asof hy dag en nag vir Egipte aan die werk is. Wat
is die nut daarvan? sou ’n mens kan dink. Die gevoel kan ons
ook in ons huidige situasie oorkom. Dit lyk soms asof alles wat
ons doen ’n goddelose sisteem, ’n goddelose staat en
kultuur in stand hou. Watter voordeel het al ons werk en
inspanning vir God se koninkryk?

Dis dikwels nie duidelik nie. Maar die
geskiedenis van Josef leer ons dat God altyd in beheer is. Hy is
altyd besig om sy planne te vervul. Alles dien uiteindelik die
koms van sy koninkryk en die verlossing van sy volk. Daarom keer
God volke onderstebo, as ‘t ware. Maak nie saak hoe magtig
bepaalde volke of bepaalde leiers mag wees, hulle moet almal God
se plan dien. God bring oorvloed en hongersnood tot stand,
politieke oorwinnings en politieke nederlae om sy planne en
beloftes waar te maak. Die veranderings in die politieke situasie
is nooit toevallig nie. Die val van die kommunistiese regerings
in Oos Europa was bv nie toevallig nie, ook nie die oorgang van
die nasionale blanke regering in Suid Afrika na die regering van
die swarte meerderheid nie. God is in beheer. En Hy het sy
dienaars waar hy hulle wil hê. Die duiwel kan probeer om hulle
vir sy eie koninkryk op te eis. Maar God bewaar hulle wat van Hom
is, as sy instrumente.

Wat ’n groot troos wanneer die verleiding
sterk word om ons aan te pas. Laat jouself nie opsluk deur die
goddelose magte nie. Vertrou jouself toe aan God. Bly trou aan
Hom as sy instrument. Hoe die omstandighede ookal mag wees. En Hy
sal jou nie slegs behoed en bewaar nie, maar ook seën.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)