Die HERE is met Josef

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-01-28
Teks: 
Génesis 39
Preek Inhoud: 

Genesis 39
Ds C Kleyn - Sondag 28 Januarie
2001

Lees: Genesis 39.
Sing: Ps. 46:1,6; Ps. 86:3;
Ps. 86:4,6; Ps. 66:7-9; Ps. 91:1,2

Tema: Die HERE is met Josef

  1. In Potifar se huis
  2. In die uur van versoeking
  3. In die tronk

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Twee keer na mekaar word Josef diep verneder en
sien hy dat sy lewe en hoop die bodem ingeslaan word. Albei kere
is sy kleed van hom afgeneem en gebruik as bewys teen hom. Die
eerste keer moes sy sierlike rok, wat sy broers in bloed gesteek
het, bewys dat hy deur wilde diere verskeur is. Die tweede keer
is sy kleed gebruik as bewys dat hy Potifar se vrou wou verlei.
In beide gevalle is die kleed gebruik om ’n leuen weg te
steek.

Josef ly groot onreg en sien sy lewe stukkend
gemaak as ‘t ware. Hy word ’n slaaf en beland
uiteindelik in die tronk.

Maar geliefdes, hoe reageer Josef op hierdie
dinge? Is hy ’n gebroke man? Is hy verslae? Word hy sinies
en bitter, noudat dit lyk asof sy hoop die bodem ingeslaan word?
Ja, is dit so dat sy lewe stukkend breek, dat daar vir hom geen
perspektief meer is nie?

Laat ons daarna kyk wanneer ek vir u verkondig:

Die HERE is met Josef

  1. In Potifar se huis
  2. In die uur van versoeking
  3. In die tronk

Daar het ons dan Josef in Egipte, ’n slaaf
van Potifar. Sonder enige regte. Slegs ’n slaaf, die eiendom
van iemand anders. Met geen hoop om ooit weer vry te kom. Wat
’n droewige situasie! Sou Josef die doel van die alles
verstaan het? Josef het waarskynlik geworstel met die vrae:
waarom doen die Here dit? Waarom laat die Here dit vir my gebeur?
Maar Josef ontvang geen antwoord nie.

Dit is meestal so in sulke situasies. Wanneer
my lewe deur ’n diepte gaan, dan verstaan ek skaars nooit
onmiddellik waarom dit alles gebeur nie. My vrae bly dan meestal
nog onbeantwoord. Ek sien ’n sombere toekoms. ’n Mens
kan amper voorstel dat die situasie erger kan wees as dit van
Josef in Egipte.

Maar, gemeente, as God se kinders deur dieptes,
deur moeilike tye gaan, dan beteken dit nie dat God hulle in die
steek gelaat het nie. Dalk lyk dit so en dink jy dat dit so is.
Maar dit is nie waar nie. Die Here gaan met ons deur die diepte.
Soos ’n Herder lei Hy ons deur die dal van doodskaduwee.

Die geskiedenis van Josef maak dit baie
duidelik. Terwyl Josef ’n slaaf in die huis van Potifar is,
lees ons: "En die Here was met Josef." Het julle dit
goed gehoor. Die Here was met Josef. Dit kan. Jy kan in die mees
verskriklike situasie verkeer, terwyl God nog met jou is. Jou
hele lewe kan die grond ingeslaan word, jou hoop kan verbreek
word, maar die Here is nog daar, met jou. Dit is moontlik. Jy kan
arm wees en ’n miserabele, onmenswaardige bestaan lei. Tog
beteken dit nie noodwendig dat God jou verlaat het nie.

Kyk maar na Josef. Hy het geen regte meer nie.
Hy behoort aan iemand anders, as ’n slaaf. Tog is die Here
in die miserabele situasie met hom. Dit is die geheim van sy lewe.
Dit is ook wat bepaal of jou lewe voorspoedig is of nie, die
moeite werd is of nie.

Menslikerwys gesproke is Josef se lewe ’n
mislukking. Wat ’n miserabele en hopelose situasie. Maar ons
lees dat Josef voorspoedig is. Sou u dit voorspoed noem? In ons
samelewing word voorspoed dikwels gemeet na wat ons besit. As ek
’n florerend besigheid het, as ek ’n goeie maatskaplike
posisie het met ’n hoe inkome dan word ek voorspoedig genoem.
My voorspoed word gemeet na wat ek besit: ’n groot erf, a
pragtige huis, ’n dure kar ens. Hoe kan ons dan sê dat
Josef in Potifar se huis voorspoedig is? Josef het geen ding wat
van homself is nie. Hy bly ’n slaaf sonder enig iets. Alles
wat Hy doen en verwerf is vir sy Heer Potifar. En Potifar baat
inderdaad baie deur Josef. Die seën van die Here wat op Josef is,
vloei deur na Potifar. Dit maak Potifar voorspoedig.

So kan ’n mens sê dat Josef self het by
al sy harde werk geen baat vind nie, behalwe dat hy sy heer se
guns verwerf. Alle materiële voordeel gaan na sy heer toe. En
dit waar Josef die meeste na verlang – sy vryheid – kry
hy nie. Kan ons hom dan voorspoedig noem?

Die seën van die Here moet tog diegene wat
geseën word baat? Die Here is met Josef en seën hom. Maar
Potifar pluk die vrugte en nie Josef self nie.

Broeders en susters, hierdie geskiedenis wys
dat voorspoed nie ’n saak van materiële voorspoed is nie.
Ondanks die feit dat Josef ’n slaaf is, is sy lewe tog
’n sukses. God maak sy lewe vrugbaar, ’n seën vir
ander. Sukses is om diensbaar te kan wees vir God en jou naaste.
Josef se lewe is ’n lewe van diens.

Die Here is met Josef. Dit is die geheim van
Josef se lewe. Dit maak sy lewe ’n sukses, ook al lyk dit
dalk op ’n mislukking in die oë van mense. Dit word sigbaar.
Potifar begin om dit agter te kom. Josef is voorspoedig in alles
wat Potifar vir hom laat doen. Maar dis nie alles wat Potifar
waarneem nie. Hy sien ook dat die HERE met hom is en dat die HERE
alles wat hy doen voorspoedig maak (vers 3). ’n Opvallende
opmerking. Hoe kan Potifar weet dat die HERE met Josef is? In
Egipte is die HERE mos ’n onbekende God. Potifar kan dit
slegs weet deur Josef self. Josef moet vrylik met hom oor die
HERE gepraat het. Josef is nie skaam om oor sy HERE God te praat
nie. Hy praat oor Hom en laat homself, by alles wat hy doen, deur
die HERE lei. Daarom kan Potifar daar agter kom dat dit meer as
natuurlike gawes is. Dit is die HERE sy God wat hom aan die seën
is. Josef is ’n leesbare brief van sy God.

Hier sien u, gemeente, hoe belangrik dit is om
leesbare briewe van God te wees. In die lewe en gedrag van baie
christene kan buitestaanders nie God of Christus herken nie. Die
christene is nie transparant nie. Hulle maak die Christus nie
sigbaar in hul lewe nie. Deur hul gedrag blokkeer hulle die sig
op Christus. Niemand leer deur hulle Christus ken nie.

Met Josef is dit anders. Deur hom sien Potifar
die HERE aan die werk. Josef vestig nie die aandag op homself en
weg van God nie. Nee, hy vestig die aandag weg van homself op God.
Dink jou in: in die situasie waarin Josef verkeer. Na wat hy
ervaar het. Ook al verstaan hy God se paaie nie, staan hy op vir
die HERE sy God, bely hy sy geloof in Hom. Midde in die
vernederende situasie, terwyl hy as ’n slaaf in Egipte moet
dien, maak Josef die HERE groot. Hy redeneer nie van: die HERE
het my in die steek gelaat nie. Hy het hierdie verskriklike dinge
met my laat gebeur. Wat is die nut daarvan om Hom nog te dien?
Nee, Josef bly trou aan God. Hy weerspieël die heerlikheid van
sy God in alles wat hy doen. Hy vestig die aandag van die mense
op die HERE sy God.

Dis vandag nog steeds ons roeping. Ek moet ook
’n leesbare brief van Christus wees. "Laat julle lig so
skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en
julle Vader wat in die hemele is, verheerlik" (Matt. 5:16).
As alles glad verloop, dan vind ek dit miskien nie baie moeilik
nie. Maar onthou: Josef is ’n leesbare brief van God terwyl
dit lyk asof sy lewe ’n mislukking is en dat hy geen hoop
meer het nie. In goeie en slegte dae moet ons God se briewe van
aanbeveling wees.

Dis egter die vraag of dit inderdaad makliker
is om in goeie dae leesbare briewe van Christus te wees. As alles
in die lewe glad verloop en ons suksesvol lyk, dan is dit maklik
om die aandag op onsself te rig. Kyk maar na my vermoëns, my
kwaliteite, my prestasies. Maar wanneer alle dinge waarop ek
vertrou stukkend geslaan word en ek met leë hande daar staan,
dan is daar min ruimte om op myself te vertrou. Dan is daar meer
ruimte om God sigbaar te maak in my lewe. Om God sigbaar te kan
maak, moet ’n mens eers alle hoogmoed prysgee en jou totale
afhanklikheid van God erken.

Josef is verneder, maar God maak hom groot. God
is met hom. Dit is sy krag. Hy vertrou homself aan God toe, hoe
die omstandighede van sy lewe ookal is. God seën hom. Daarom
merk het Potifar hierdie jong man op en gee hy hom meer en meer
verantwoordelikheid. Hy word ’n seën in Potifar se huis.
Ons lees in vers 5: "Die seën van die HERE was by alles wat
syne was, in die huis en op die veld". Josef kry beheer oor
alles. ’n Groot verantwoordelikheid teenoor God en mense. Ja,
ook teenoor God. As Josef die verwagtings van Potifar nie nakom
nie, dan ly die naam van die Here sy God skade.

Maar dan kom die uur van die versoeking. Die
tweede gedagte.

Josef word op die proef gestel. Sal hy aan sy
heer en aan sy God trou bly? Potifar sy vrou stel besondere
belangstelling in Josef, ’n frisse en mooi jong man. Wat
’n versoeking! Josef is en bly ’n slaaf. Is ’n
vreemde land, ver van huis. Sonder vriendskap. Alleen. Sou jy in
so ’n situasie nie verlang na geselskap nie? Na ’n
warme, intieme verhouding in ’n koue wêreld.

Josef is nie ’n man sonder verlangens of
sonder seksuele gevoelens nie. Hy is ’n man van vlees en
bloed, soos u en ek. Dit maak die situasie so gevaarlik.

Josef is resoluut in die weiering om met
Potifar se vrou bed toe te gaan. Let daarop hoe hy met haar praat.
Hy reageer nie op haar aansoek met woorde soos: Ek het daaraan
geen behoefte nie of ek is nie lus daarvoor nie. Nee, Josef sê:
dit sou sonde wees. Ek sou die vertroue van jou man skend. Hoe
kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?

Kyk hoe reg Josef die situasie takseer. Hy
besef dat sy persoonlike verlangens en begeertes hier nie
deurslaggewend is nie. Dit mag nooit die norm vir die gedrag wees
nie. ’n Bepaalde daad word nie goed as dit maar jou
persoonlike verlangens bevredig nie. Jou verantwoordelikheid
teenoor God en mens, dit is wat bepaal of iets goed of sleg is.
Die seksuele ervaring is nie ’n doel in homself nie en mag
nie slegs deur die begeerte bepaal word nie. Dit moet deur God se
norme gereguleer word.

Geliefdes, is dit nie geweldig dat Josef trou
bly aan God en Potifar nie? ’n Mens sou kan indink dat jy in
sulke omstandighede maklik kan gaan redeneer: God het my in
hierdie droewige en eensame situasie gebring. Hy het dit laat
gebeur. Ek het hier tog ook troos en vriendskap nodig? Trouens,
wat kan ek in so ’n situasie van God verwag?

By Josef is daar nie so ’n sondige
benadering nie. Pleks daarvan, ’n resolute weiering: Hoe kan
ek hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?

Potifar se vrou gee egter nie op nie. Dag na
dag probeer sy hom te oorreed om met haar bed toe te gaan. Om die
eerste keer nee te sê, is dalk nog nie so moeilik nie. Maar om
dag na dag nee te moet sê, kan baie moeiliker wees. Jy kan dan
gaan speel met die gedagte in jou kop. Jy kan wat meer aandag aan
so ’n vrou gaan gee. Jy kan jou gevlei gaan voel deur die
belangstelling wat sy vir jou het. Jou weerstand verswak en die
begeerte groei. So kan jy gevaarlik naby die punt kom om toe te
gee.

Dit is hoe dit ook met Josef gegaan het. Dis
duidelik uit sy reaksie op die kritieke oomblik, tydens die uur
van versoeking. Sulke oomblikke is daar wanneer alle dinge op so
’n manier saamkom om jou in die val te lok. Satan staan dan
gereed om jou te gryp.

Op ’n sekere dag is hulle alleen in die
huis. Josef se weerstand is verswak. Potifar se vrou gryp die
geleentheid aan. Sy gryp hom aan sy kleed en sê: Kom, dis ons
kans. Daar is niemand anders in die huis wat ons sou kan betrap
nie. Kom, lê by my.

Dit word teveel vir Josef. Hy kan nie langer
koel bly nie en met haar redeneer nie. Die enigste wat hy kan
doen is om van die situasie weg te vlug. Dis die enigste wat hy
kan doen om die verleiding te weerstaan. Dis nie so ’n edele
oplossing nie. Om weg te hardloop is nie baie eervol nie. Veral
om te vlug sonder jou kleed. Maar in die situasie is dit die
enige manier om trou te bly aan God en Potifar.

Broeders en susters, hoe kon Josef die
verleiding weerstaan? Nie omdat hy van nature so ’n sterk
man was nie. Ook nie omdat hy geen verlange na die vrou gehad het
nie. Sy eerlose vlug wys dat dit nie so is nie. Hy het trou gebly
omdat hy God gevrees het. God was met hom. God het hom krag gegee.
God het hom die oorwinning gegee. En die oorwinning word belowe
aan elkeen wat sy krag waarlik by die Here soek.

Josef se trou aan Potifar en aan God bring hom
in die tronk. Met ’n leuen kry Potifar se vrou die vir
mekaar dat hy opgesluit word. Josef ly opnuut ’n groot onreg.
Hy moet nou ly vanweë sy trou aan God. Dit lyk asof hy vir sy
trou aan God gestraf word.

As ’n slaaf kan Josef niks anders maak as
om die onreg te aanvaar nie. Josef het geen regte en hy kan nie
in hoë beroep gaan nie. Sy situasie lyk meer somber as ooit
tevore. Hoe kan hy uit die tronk kom? Daar is niemand daarbuite
om sy saak te verdedig nie. Daar is min rede vir hoop; slegs
isolasie en eensaamheid.

Die enigste van wie hy iets kan verwag, is die
HERE. Maar sou dit vir hom op daardie oomblik wel duidelik gewees
het wat hy van die HERE kon verwag? Wat mag ’n mens in so
’n situasie van die HERE verwag, terwyl jy onregverdig in
die sel sit. Mag jy verwag dat God ’n engel sal stuur om die
deure van die gevangenis vir jou oop te maak? Mag jy verwag dat
jy in die nabye toekoms bevry sal word? Wel, God het nie sulke
beloftes gegee nie. God is nie die groot ombudsman wat daar is om
al jou probleme vir jou op te los nie. Nêrens het God ons belowe
dat Hy alle moeite van ons sal weer nie. Wat Hy wel belowe het is
dat Hy in alle omstandighede met ons sal wees en dat Hy alles ten
goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet.

Geliefdes, ondanks die onreg van sy
gevangenskap kry Josef blykbaar nie medelyde met homself nie en
gaan hy homself nie bekla nie. Hy bly positief en behulpsaam.
Daarom wen hy die guns van die owerste van die gevangenis. As
gevolg gee die gevangenisbewaarder hom steeds meer
verantwoordelikhede.

Ja, in so ’n situasie sou dit so maklik
gewees het om bitter te word. Vir die tweede keer sien Josef sy
lewe in skerwe en sy hoop verbreek. Wat ’n groot onreg! En
dit sonder om daaraan iets te kan doen. Baie mense worstel met
onreg en kan dit nie aanvaar nie. Hulle bly hulself daaroor opwen
en kwaad maak. Dit word ’n obsessie vir hulle. Sodoende is
hulle voortdurend besig met hulself, om hulself jammer te kry.

Broeders en susters, ondanks al die onreg wat
hy ly, word Josef nie sinies of bitter nie. Hoe kan dit? Dis
slegs moontlik as ek myself aan die HERE toevertrou. Ek kan dit
slegs doen wanneer ek God agter die mense wat my onreg aandoen
raaksien, wanneer ek aanvaar dat God in beheer is, ondanks alle
onreg wat mense my aandoen. Dié geloofskennis beskerm my teen
bitterheid en negativisme in my lewe. Dan is die belangrikste
saak nie wat mense my aandoen nie, maar wat God daarmee beoog.
Dan mag ek seker weet: dit is nooit God se bedoeling om my te
verhinder of my lewe bitter te maak nie. Nooit nie! Dis altyd sy
bedoeling om my nader tot Hom te bring en om iets moois van my te
maak.

Nee, ’n mens sien dit nie altyd nie.
Dikwels nie. Dat God in beheer bly en dat selfs die onreg wat jou
aangedoen word ten goede meewerk, is iets wat jy nie onmiddellik
kan aanwys nie. Dis ’n saak van geloof. En geloof is
uiteindelik ’n oortuig wees van die dinge wat ons nie sien
nie (Hebr 11:1). Die geloof weerhou jou daarvan om in jou lewe
sinies en bitter te word. God bly in beheer. As ek dit glo, dan
bly ek positief en behulpsaam, ook as ek onreg ly en dit lyk asof
my hoop die bodem ingeslaan is. Die geloof bou brüe vir Josef.
Dit bring lig in die donker sel. God is met hom. God bewys
goedertierenheid aan hom en verleen hom guns in die oë van die
owerste van die gevangenis.

Normaalweg was daar ’n groot, harde muur
tussen die tronkbewaarder en die gevangenes. Die tronkbewaardes
was vry en hulle kon met die gevangenes maak wat hulle wou. Daar
was nog geen Amnesty International om hulle in die oog te hou nie.
Daar was niemand wat hom oor die lot van die gevangenes bekommer
het nie. Tog sien ons dat in Egipte die groot kloof oorbrug word.
Daar ontstaan ’n goeie verhouding tussen die tronkbewaarder
en die hebreeuse slaaf Josef. God is besig om voorbereidings te
tref vir Josef se toekomstige posisie van leierskap. Alles pas
presies in mekaar, volgens God se plan. Josef word nie in ’n
gewone gevangenis gewerp nie. Hy kom tereg op die plek waar die
gevangenes van die koning opgesluit word. So sal Josef
uiteindelik onder die aandag van die koning kom. God is besig om
Josef voor te berei op sy toekomstige leierskap. God is besig om
hom deur dik en dun te vorm tot die man wat God wil hê dat hy
sal wees, ’n seën vir Egipte en vir Jakob se huis.

Wel, broeders en susters, sou u nog twyfel of
God in beheer is? Wat ’n wonderlike en getroue God het ons!
Een wat altyd aktief aanwesig is tot verlossing van sy volk.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)