Die Heilige Gees leer ons weer bid

Predikant: 
Ds E Viljoen
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-02-25
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 45
Preek Inhoud: 

SONDAG  45  ( Romeine 
8  : 1 - 30 )  ~  25
/ 02 / 2001

 

Martin Luther het gesê : "Gebed leer ons ons nood
ken."  Presies die omgekerde van
wat ons dikwels so maklik sê : "Nood leer bid.".  Nood leer nie bid nie!  Ons leer juis ons nood reg ken wanneer ons
in gebed voor God se aangesig kom.  Juis
wanneer ons wil bid, dan leer ons dat ons nie eers reg weet wat om te bid
nie.  Ons sug saam met die skepping tot
God.  Maar ons weet nie waarna ons sug
nie.  Daar wag vir ons ’n groot
heerlikheid by God, maar daardie heerlikheid is nog nie aan ons geopenbaar
nie.  Intussen kom die Gees ons swakhede
tegemoet.  Die at deur die Gees gelei
wordleef nie meer in vrees nie, maar het die Gees van aanneming tot kinders van
God ontvang.  Deur hierdie Gees bid ons
weer.  Deur hierdie Gees roep ons  : "Abba, Vader.".

 

     DIE HEILIGE GEES LEER ONS WEER BID

1.  DIE NOODSAAK VAN DIE
GEBED

2.  DIE GEHOORSAAMHEID VAN
DIE GEBED

3. DIE SEËN VAN DIE GEBED

 

1.  DIE NOODSAAK VAN DIE
GEBED

Ons gebede is nou dikwels maar swak.  Ons weet nie reg wat ons moet bid nie.  Die rede is dat ons God se wil nie meer ken soos wat ons
dit moes ken nie.  Daar was ’n tyd toe
dit anders was.  Die Here het op
daaglikse basis met Adam en sy vrou ’n gesprek gevoer.  Die Here het gekom om met die mens in die
paradys te wandel en met hom te praat. 
Hy het vir Adam vertel waarvoor Hy hom gemaak het : "Heers oor die
diere van die veld en die visse van die see en die voëls van die
hemel."  Wees vrugbaar en
vermeerder en laat daar mense van God oor die hele wêreld kom. 

 

En Adam kon met God praat. 
Só het die Here hom gemaak.  Toe
die Here die vrou wat Hy uit Adam gemaak het, na homk bring, praat Adam met die
Here en sê : "Dit is nou een wat my pas. 
Been van my gebeente.  Sy kom uit
my.".  Maar na die sondeval wil
hulle, Adam en Eva, nie meer met God praat nie.  As God na hulle kom in die aandwind dan hoor hulle sy stem.  Hy wil kom praat met sy kinders wat Hy
gemaak het.  Maar Adam wil nie praat
nie.  Hy het bang geword.  Eers weer by Set hoor ons die
opmerklike  : "Ook vir Set is ’n
seun gebore, wat hy Enos genoem het. 
Toe het hulle die Naam van die Here begin aanroep." (Gen.
4:26).  So in teenstelling met Lameg wat
sy krag by homself gesoek het en sy gesprekke by sy baie vroue.  By die geboorte van Enos af,  neem mense weer doelgerig die gesprek met
God verder.  Hulle roep Hom aan.  Hulle bid weer tot God.  Hulle bely hulle afhanklikheid van God.  Hulle leef weer met die besef dat mense
gemaak is om met God te praat.  Hulle
besef weer wat die Kategismus noem - die "noodsaak van die gebed". 

 

Gebed is noodsaaklik, want die Here wil nie hê dat die gesprek met
sy kinders onderbreek sal word nie.  Die
bevel om te bid is die bevel om nie sonder God te probeer leef nie.  Soos wat Lameg sonder God wou
leef nie.  Hy het u gemaak om met Hom
te lewe.  Dit is ook waarvoor Hy ons
weer verlos uit die mag van die satan.  
Deur die Skrif kom dan nou gedurig weer die roeping tot ons as mense :
"Roep my aan!".  Hy kom gee
ons die opdrag :"Bid!".  En
mense het God aangeroep. 

 

Dink maar aan Abraham.  In Genesis
18 lees ons hoe die Here vir Abraham die belofte kom maak dat Hy hom ’n
groot nageslag gaan gee wat ’n magtige nasie sal wees  en al die nasies van die aarde sal in Abraham geseën word.  Tegelyk maak die Here sy oordeel bekend oor
die sondige Sodom en Gomorra.  Daar het ’n
geroep van hierdie stede by God gekom. 
Maar nie ’n geroep van gebed nie. 
’n Geroep van sonde en God-loos-heid. 
Maar Abraham gaan bid!  Hy gaan voorbidding
doen.  As hy tot seën vir die nasies sal
wees, dan sal dit ook via die weg van gebed moet gaan.  Wil die Here nie tog nog die stede spaar ter
wille van die regverdiges daarin nie. 
Abraham gaan praat weer met God! 
Met groot vrymoedigheid.  U weet
almal hoe hy by God gepleit het vir die stede. 
Abraham waag dit om
met God te praat!

 

U sien - gebed mag weer.  En
dit mag, want God het self die gesprek aan die gang gesit met Abraham.  Hy maak die belofte van verlossing deur
Abraham se nageslag.  Daar kom vrede met
God.  En waar daar vrede is, is daar
gesprek.  Dit mag nie alleen nie.  Dit moet dan ook.  Om van God te vra wat Hy beloof het.  As God beloof om Abraham tot seen vand ie nasies te maak, dan
gaan bid Abraham vir die ongelowige stede. 
Dan bid hy : "Maak my tot seën."

 

U sien hoe kom gebed op uit dank vir God se verlossing.  As God aan Abraham beloof dat hy ’n groot
nasie sal word, dan bring daardie genade hom tot gebed.   Omdat ons dan nie meer in vrees vir God
leef soos wat Adam was na sy sonde nie. 
Ons het nie ontvang ’n gees van slawerny om te vrees nie  (Rom. 8:15) , maar ons het
ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep : "Abba,
Vader!".  Paulus noem nou hier
juis die gebed as díé kenmerkende van die kinders van God.  Soos wat die kategismus dan ook tereg sê dat
gebed is die VERNAAMSTE deel van ons dankbaarhied wat God van ons vra.  En dit is nou juis die Heilige Gees wat ons
só leer bid.

 

En wat ’n bemoediging is juis dit nou nie vir ons nie.  Wanneer dit van ons sou afhang, kom daar
niks van die gehoorsaamheid om te bid nie. 
Maar nou is daar die geweldige troos - die Gees van seunskap is ons
gegee.  Die Gees wat ons ons aanneming
as kinders van God laat verstaan.  Laat
glo.  Dit is juis hierdie Gees wat my
laat verstaan dat daar nou geen veroordeling is vir die wat in Christus Jesus is
nie (Rom. 8:1).  Hulle wat nie meer
volgens die vlees lewe nie, maar volgens die Gees.  Dit is die Gees wat my laat verstaan dat die vyandskap tussen God
en my tot ’n einde gekom het.  God
veroordeel my nie meer nie.  Die Gees
praat nie meer van sonde en dood nie. 
Deur sy Seun te stuur het Hy die sonde in die vlees veroordeel (Rom.
8:2-3). 

 

Die Gees praat nou van vrede en lewe  (vs. 6).  Die Gees van God
kom woon nou in ons (vs. 9).  Nou kan
ons die werke van die sonde doodmaak. 
Ook die biddeloosheid.  Want ons
word nou deur die Gees van God gelei en nie meer deur die vlees nie (vs.
14).  En elkeen wat deur die Gees gelei
word is kind van God.  En dit sien ons
daarin dat hy uitroep : "Abba, Vader."  Hy roep God weer aan.  Hy
bid weer.  Hy praat weer met God.  So gaan dit waar die verlossing in die bloed
van Christus geglo word. 

 

2.  DIE GEHOORSAAMHEID VAN
DIE GEBED

Die Here het self nou weer gebed moontlik gemaak deur sy Seun te gee
en ons sy Gees in ons te laat werk deur wie ons kan bid.  Maar dit beteken nie gebed is ’n saak van
elkeen wat nou maar sy eie gedagtes voor God uitstort nie.  Hulle wat DEUR die Gees bid, bid ook VOLGENS
die Gees.  Hulle wat deur die Gees gelei
word, is kinders van God.  Ons gaan bid
nie volgens die vlees nie.  Wat die
vlees bedink is die dood.  Vyandskap
teen God (Rom. 8:5-9).  Die wat volgens
die vlees bid, kan God nie behaag nie. 
As ons deur die Gees lewe, dan gaan ons ook volgens die Gees bid.  Nou is dit opvallend die konteks waarin die
roep tot God geplaas word in Romeine 8. 
Daar is nie alleen sprake van ’n gebed van die kinders van God nie, maar
selfs van die hele skepping.  Die
hele skepping sug saam met die kinders van God (Rom. 8:22).  Waaroor gaan hierdie sug van die
skepping.  Dit staan in verband met die
heerlikheid waarop die kinders  van God
hoop.  In teenstelling met die lyding
wat die kinders van die Here vandag in hierdie wêre;ld beleef, wag daar ’n
heerlikehid wat geopenbaar moet word. 
Die skepping wat met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die
kinders van God.  In 'n wê’nld wat
onvolmaak en vol sonde en lyding is, mag ons uitsien na ’n dag waarop die volle
heerlikheid van ons kindskap bekendgemaak sal word.

 

Hier word die gebed nie deur ons eie hartstogte gedryf nie, maar
volgens wat God ons beloof het.  Dit is ’n
gebed volgens God se Woord.  Die gebed
van die gelowiges kry ’n plek in die voortgang van die verloop van die wêreld
na die heerlikheid wat die kinders van God sal ontvang.   Maar nou nog is ons nood groot.  Ons sug in afwagting op die openbaarmaking
an die kinders van God.  En in hierdie
situasie is ons gebede swak.  Ons weet
nie altyd reg wat ons moet bid nie (8:26). 
Die Gees leer ons wel bid : "Abba, Vader.", maar ons gebede
bly baie gebrekkig.  Gebed leer ons ons
nood ken!!  Wanneer ons wil weer
ooreenkomstig God se wil gekom het, dan begin ons besef hoe gebrekkig ons
gebede is.

 

Ons weet dat alles ten gode mewrk vir hulle wat God liefhet ; wat
volgens die voorneme van God geroep is (Rom. 8:28).  Maar HOE dit alles vir ons meewerk tot ons beswil, weet ons
dikwels nie.  Ons bid dat die Here ons
uitkoms gee uit nood, maar die Here gee dit nie.  Ons vra allerhande dinge van die Here, terwyl ons in die omstandighede
nie altyd werklik weet wat ons nodig het om ons doel te bereik nie.  Ons bid vir genesing, maar die Here gee geen
herstel  nie.  Ons bid vir ’n spoedige sterwe, maar die Here gee langdurige
lewe.  Ons bid vir verligting uit ons
nood, maar die Here vererger dit alles net meer. 

 

Dit beteken nie God verhoor nie ons gebede nie.  O nee, Hy verkhoor dit meer gewillig as wat
ons dit van Hom begeer.  Maar gebed is
ook ’n saak wat ons moet reg léér doen.  Leer om te bid volgens die wil van God.  Laat ons deur die Gees gelei word in ons
gebede.  Deur die Woord wat ons
geopenbaar het wat die goeie wil van God vir osn lewe is ; en laat ons dan
daarvolgens gaan bid.  Ons word geroep
om heilig te lewe.  Bid dan
daarvoor.  Ons word geroep om gehoorsaam
te wees.  Bid daarvoor.  Ons word beloof dat ons saam met Christus
sal leef vir ewig.  Bid vir sy spoedige
koms.  Tog bly ons vir baie dinge bid,
sonder om nog goed te begryp watter heerlikehid vir ons wag en hoe ons reg moet
bid.

 

3.    DIE SEEN VAN GEBED

Nou is daat nog die geweldige troos.  Terwyl ons weet dat ons gebede nie volmaak is nie.  Moet ons dan eerder nie bid nie?  Ek bid liewer nie, want my begeertes na wat
ek vra is gebrekkig.  Wat ’n wondr dan
om te weet dat gebed nie alleen ’n saak is wat die Gees van Christus vir ons
wil leer en ons daarin wil lei nie.  Die
Gees self wil ook vir ons intree met onuitspreeklike sugte.  Die Gees sal ooreenkomstig die bedoeling van
God vir ons intree.  Hy wat die harte
deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is. 

 

Dit beteken nie dat die Gees ons bidwerk oorneem nie.  Hy kom wel ons swakhede te hulp.  Die Gees wat die diieptes van God ken (1
Kor. 2) weet reg wat om vir ons te bid. 
As ons nie kan bid presies volgens God e voorneme vir ons nie, dan kan
die Gees wel.  Met onuitspreeklike
sugtinge.  Hierdie sugtinge van die Gees
kan ons nie in ons gedagtes bevat nie. 
Dit is te wonderlik en is nou nog nie aan ons bekend gemaak nie.    

 

Kopiereg word voorbehou. Indien u
die preek wil gebruik kontak asseblief ds. E. Viljoen

 

Liturgie: 

(kyk in preek)