Die noodsaak van die wetsprediking

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-02-25
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 44
Preek Inhoud: 

Sondag 44
Ds C Kleyn - Sondag 25
Februarie 2001

Lees: Romeine 7:13-8:17;
Sondag 44.
Sing: Ps 99:1,2; Ps 99:3-5; Ps 51:1,2,3;
Ps 26:1,2,3,7; Ps 103:1-3.

Tema: Die noodsaak van die wetsprediking.

  1. Die wetsprediking is skerp;
  2. Die wetsprediking is beskamend; en
  3. Die wetsprediking is heilsaam.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons kom nou by die einde van die wet. Die
uitwerking van die verskillende gebooie was bes skerp. ’n
Mens sou die indruk kan hê dat alles te idealisties was. Neem
die behandeling van die 9e gebod. Daar is mooie dinge gesê oor
die onderlinge omgang, dat ons tot heil van mekaar ons tong moet
gebruik. Wat bring ons daarvan tereg? Hoe is die werklikheid? So
sou ons alle gebooie langs kan gaan. Was die prediking nie te
idealisties nie? Was dit nie alles onbereikbaar ver weg nie? Was
dit nie wêreld vreemd nie? Moes die prediker nie realistieser
gewees het? Moes hy die eise nie aanpas aan die lewe en aan die
moontlikhede van ons tyd en samelewing nie? ’n Mens kan tog
nie bly aankom met sulke hoë en vir ons gevoel onuitvoerbare
eise nie?

Tog wil die Here dit juis wel hê. Die Here het
sy wet vir alle tye gegee. En Hy wil dit streng bly verkondig.
Ook al weet Hy hoe die tye verander het. Sy wet het nie verander
nie. En die wet moet skerp en onomwonde in alle tye verkondig
word.

Waarom so skerp en streng? Die Here het tog
’n blye boodskap vir ons? Pas daar die strenge wetsprediking
wel by? Ja seker, of die twee by mekaar behoort. Die een kan nie
sonder die ander nie. Wet en evangelie behoort by mekaar. As jy
die twee uit mekaar haal dan hou jy in feite niks oor nie. Neem
jy die wet op homself, los van die evangelie, dan kom jy tereg by
die prediking van die wanhoop. Alles is dan hel en verdoemenis.
Daar is dan geen enkele houvas en hoop meer nie. As jy aan die
ander kant die evangelie op homself neem, los van die wet, dan
hou jy ’n leë evangelie oor. Die blye boodskap is dan
niksseggend. Dit evangelie hou immers in dat jy verlos word. Dan
moet jy ook weet waarvan jy verlos word. En waartoe jy verlos
word. Daarvoor is die wet onmisbaar. Jy moet immers uit die
slawehuis van die sonde verlos word. En tot die diens aan die
Here. Dit gaan oor nuwe gehoorsaamheid in Christus. En hoe sou jy
dit verstaan sonder die wet?

So kom die wet van die Here ook vandag tot jong
en oud. Die Here laat die wet aan elkeen van ons streng voorhou.
Vir die moderne mens is dit allermins aantreklik. O wee, as jy
vandag durf moraliseer, as jy vir die mense durf sê hoe hul
hulself moet gedra. Ons leef tog in ’n multikulturele,
veelvormige samelewing met velerlei opvattings? Jy sou elkeen vry
moet laat om sy eie gedragsreëls te bepaal. Elkeen moet dit self
maar beslis. Asseblief geen moralisering nie. Kom asseblief nie
met een gedragskode nie.

Maar nou kom die Here tot elkeen met sy een wet.
Hy doen dit sonder onderskeid. By alle verskeidenheid onder die
mense bly daar die een wet met sy tien woorde. Elke individu blyk
die wet bitter nodig te hê. Hoe verskillend ons ook mag wees,
ons moet almal mense van God wees, mense wat na die beeld van ons
Skepper vernuwe moet word.

So wil ek aan u verkondig: die noodsaak van die
wetsprediking

  1. Die wetsprediking is skerp;
  2. Die wetsprediking is beskamend; en
  3. Die wetsprediking is heilsaam.

Die 10e gebod word soms die sleutel van die wet
genoem. Terwyl alle ander gebooie uitdruklik praat van ons gedrag,
ons doen en late, word in hierdie gebod dieper geboor. God stoot
deur na die hart. Na ons gedagtes en begeertes wat agter die dade
steek. Wanneer ons die eerste 9 gebooie hoor dan sou ons kan dink
dat die wet slegs ons doen en late raak.

By die behandeling van die gebooie het ons
reeds daarop gewys dat God se wet ook ons hart raak. By die 6e
gebod is daar bv gesê dat God ook die wortel van doodslag soos
afguns, haat, woede en wraaklus verbied en dit as heimlike moord
beskou. Dat die wet so ’n diepgang het blyk uitdruklik uit
die 10e gebod. Daar word oor dieselfde sake gepraat as in die 7e
en 8e gebod, maar nou word die onderliggende gedagtes onder die
tug van die wet gestel.

Die 10e gebod staan nie los naas die ander
gebooie nie. Dit kom juis die voorgaande 9 gebooie verdiep en
verswaar. Ek is nie klaar met my uiterlike gedrag nie: as ek dit
gedoen en dit nagelaat het nie. Nee die 10e gebod prik deur die
oppervlakte heen. Dit stoot deur na wat die mens nie sien nie,
maar God wel sien. Hier op aarde is die wetgewers reeds bly as ek
my na buite toe fatsoenlik gedra. Hulle is reeds bly as ek my aan
die letter van die wet hou. God vra egter meer. Hy kyk dieper.
Dit is eg nie voldoende as ek die sondige begeertes, sodra hulle
opkom, onderdruk nie, sodat dit nie in dade omgesit word nie. Nee,
ook die begeertes kom onder die tug van die wet. Ook die
begeertes moet volkome suiwer wees, heeltemal aan die wet van die
Here beantwoord.

Die kategismus is na die Skrif baie radikaal:
selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God
mag nooit in ons hart opkom nie. Dit is nogal wat. Verkeerde
begeertes mag nooit in my hart opkom nie. Ook nie die gedagtes
wat so onskuldig lyk nie, selfs nie die geringste begeerte of
gedagte teen enige gebod van God nie. God eis my hele hart op. My
seun of dogter gee my jou hart. God wil hê dat my hart volkome
aan Hom toegewy is. Ek moet altyd en hartgrondig alle sonde haat
en ’n begeerte tot alle geregtigheid hê.

My houding teenoor die sonde moet dus bewus
’n vyandige houding wees. Nie ’n welwillende houding
nie, selfs nie ’n neutrale houding nie. Hoe maklik ruim ons
nie ’n plek in vir bepaalde sondes nie. ‘So is ek nou
eenmaal’ word daar dan gesê, ‘daar kan ek min aan doen.
Die omstandighede lei my daartoe.’

Getuig sulke uitsprake daarvan dat ek ’n
hartgrondige vyand van alle sonde is? Besef u wel dat alle sonde,
ook die boesemsondes, ook die sondes waar niemand op let nie, ons
doodsvyande is nie. Vyande wat ons dood wil maak. Dan kan ek
sulke sonde tog nie koester nie? Teenoor doodsvyande neem ’n
mens tog nie ’n welwillende of gemaksugtige houding aan nie?
Tensy, ja, tensy ek die dood liewer as die lewe het.

Gemeente, God vra van u die volmaaktheid. Hy
wat nie die geringste gedagte teen enige gebod van God het nie en
altyd en hartgrondig alle sonde haat en alle geregtigheid begeer
is immers ’n volmaakte mens. God vra niks minder as dit nie.
Hy kan nie minder vra nie. Hoe anders sou ons by Hom die Heilige
kan verkeer? Daarom bly die woorde staan: wees heilig want Ek is
heilig.

En, gemeente, die volmaaktheid is geen ideaal
wat onbereikbaar ver buite u gesigsveld bly nie. Dit is nie iets
wat later in die ewige heerlikheid vanself u deel sal word nie.
As dit so was, dan kon ons wel ophou met die wetsprediking. Nee,
die volmaaktheid wil u lewe hier en nou binnedring. Daarom word u
nou steeds tot die volmaaktheid opgeroep. Dis nie iets wat eers
straks na die oorgang in die ewige lewe van belang is nie. Dis
reeds nou van belang. As u hier nie na die volmaaktheid jaag nie,
dan sal u nooit volmaak kan word nie. Dit moet hier begin. Anders
sal ek eendag ontdek dat dit inderdaad onbereikbaar is wanneer ek
buite gewerp word.

Indien ek egter hier en nou na die volmaaktheid
jaag - en dit kos inspanning, ’n sny in eie vlees, ’n
pynlike operasie - maar as ek nou na die volmaaktheid jaag, dan
word ek bemoedig. Hoekom? Wel, hoewel ek in die doen van alle
geregtigheid steeds weer faal, mag ek ontdek dat die Heilige Gees
reeds in my besig is. Waar anders kom die haat van die sonde en
die liefde vir alle geregtigheid vandaan? Dis die Heilige Gees
wat besig is om dit in my te wek. Die Gees het blykbaar reeds tot
in my hart binnegedring en het daar die wet van die Here geskrywe.
Nee, dit beteken nie dat ek lydelik moet bly wag tot die Gees
eers die wet in my hart kom skrywe nie. Dit gebeur nie outomaties
nie. Juis so ’n passiewe, lydelike houding verhinder die
Gees. Hier geld: hoor na die woord van God. Verhinder die woord
nie, maar laat u daardeur lei. Dan sal u die krag van die Gees,
wat reeds besig is om nuwe lewe wek, ervaar.

Dan sal u ook bemerk dat u hier op aarde nog
maar ’n geringe begin van die volmaaktheid kan bereik. Ons
wil daarop let in die 2e punt: die wetsprediking is beskamend.

Indien ek moeite het om my eie sondes en skuld
te herken, moet ek maar goed let op die 10e gebod. Laat ek maar
na die gedagtes afdaal, die motiewe, die diepste begeertes in my
hart. Dan sal ek ontdek wat dit wil sê dat ons elke dag ons
skuld groter maak. Teenoor die volmaaktheid wat God van ons eis,
bly ons nêrens.

Die kategismus stel die vraag: Kan die wat tot
God bekeer is, hierdie gebooie volmaak gehoorsaam? In die vraag
word ’n strenge seleksie toegepas. Ons hoef nie te praat oor
ongelowiges, onbekeerdes nie. By hulle is dit by voorbaat
uitgesluit. Hulle kan immers nie God bo alles liefhê nie. Maar
as ons nou let op bekeerde mense, mense wat reeds ’n nuwe
hart ontvang het, mense wat volgens sondag 33 van die kategismus
’n hartlike berou oor hul sondes het en ’n hartlike
vreugde in God deur Christus en ’n lus en liefde om volgens
die wil van God in alle goeie werke te lewe. Hoe staan dit met
sulke bekeerde mense? Bring hulle die lus en liefde tot goeie
werke ook volkome in praktyk?

Die antwoord is beskamend. Selfs die
allerheiligstes het in hierdie lewe nog maar ’n geringe
begin van hierdie gehoorsaamheid. Selfs die mees gevorderdes in
God se koninkryk, mense wat na ons oordeel dit ver gebring het in
die diens van die Here. Die steunpilare van die kerk vir wie ons
groot respek het. Abraham wat sy seun Isak opgeoffer het, Job met
sy groot geduld. Paulus met sy onverdrote ywer in die
evangelieprediking. Selfs die allerheiligstes het egter maar
’n geringe begin van hierdie gehoorsaamheid.

Dis nie verniet dat die Bybel die sondes van
die groot manne soos Abraham en Dawid noem nie. Hulle was werklik
geen geloofshelde nie, maar sondige mensekinders soos u en ek,
wat slegs ’n geringe begin van die gehoorsaamheid gehad het.
So beoordeel God, nie hulle wat agteraan loop nie, die trae en
slap mense nie, maar hulle wat voorop loop, ook die apostels en
profete. Paulus noem homself die grootste van alle sondaars.

Sommige mense skuil graag agter sulke uitsprake.
Hulle is daar vinnig by om te erken dat selfs die voorgangers
daar min van teregbring. Dit gee hulle ’n sekere bevrediging.
Hulle vind daarin ’n verontskuldiging vir hul eie sondige
gedrag. Wanneer hulle daarop aangespreek word, dan wys hulle maar
al te graag na die ander wat dit nie so goed afbring nie. Om
agter die gebreke van ander te skuil gee ons ’n veilig en
rustig gevoel.

Wat dink u, broeders en susters, sou die wat
tot God bekeer is, met die beskamende beskrywing van die
kategismus tevrede wees? Hy sal inteendeel daaroor baie ontevrede
en bedroef wees. As ek werklik glo, dan lê ek myself nie neer by
my sondige gedrag nie, maar dan bly ek uitroep: ek, ellendige
mens, wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? (Rom 7:24).
Dan bly ek jaag na die volmaaktheid. As ek bekeer is, dan gaan ek
nie stilstaan nie, maar dan sit ek juis die stryd voort. Ek laat
myself nie imponeer deur die duiwelse leuen dat ek nou eenmaal so
is en dat ek niks daaraan kan verander nie.

Die wat so die stryd teen die sonde in sy lewe
opgee, weet blykbaar nie wat bekering is nie. Wie tot God bekeer
is, word ’n nuwe mens. Hy het deel aan die nuwe lewe wat
groei en toeneem. Die kategismus praat hiervan as ons lees:
"maar tog so dat hulle met ’n ernstige voorneme begin
om nie alleen volgens sommige nie, maar volgens al die gebooie
van God te lewe." As die begin daar nie is nie, dan sal die
heerlike einde daar ook nie wees nie. Hier kom die onderskeid
tussen bekeerdes en onbekeerdes na vore. Die verskil is nie dat
die onbekeerdes sondig en die bekeerdes nie sondig nie. Ons is
almal sondaars. Ja, groot sondaars. Maar die onderskeid sit in
die verskil van oortuiging, lewensbeginsel. Dit sit in die
veranderde hart. In die veranderde voorneme. Word ek deur die
Gees van God gelei of deur die gees van die sonde? Dit sal blyk
uit die houding wat ek teenoor die sonde aanneem. As ek tot God
bekeer is, dan het ek moeite met die sonde wat ek telkens weer
doen. Ek sê dan met Paulus: want die goeie wat ek wil, doen ek
nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek (Rom 7:19).

Die beskamende is tegelyk ook weer bemoedigend.
Want hier praat die mens met die geboë wil en die gebroke hart.
Hy wil opnuut die goeie, al is dit moeilik. In elk geval is daar
’n nuwe beginsel aanwesig. En die begin roep om meer, om
vooruitgang. Soos daar lewe in ’n saadkorrel is, so sit daar
nuwe lewe in die hart van die gelowige. En omdat die lewe deur
God gewek is, hou dit ook stand. Dit sterf nie af nie, dit bly
nie steek nie, maar dit groei.

En, gemeente, om die lewe in stand te hou en te
ontplooi gebruik God sy woord, ook die wetsprediking. Ons wil
daarop let in die laaste punt: die wetsprediking is heilsaam.

God laat die wet streng aan u voorhou. Sy woord
is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en
dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en
murg, en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes
van die hart (Hebr 4:12). Die woord ontdek u aan die kwaad wat u
uit uself nie sou opmerk nie. U ontvang daardeur ’n
verdieping van die kennis van u ellende. Die kategismus noem dan
ook as vrug van die skerp wetsprediking dat ons ons hele lewe ons
sondige natuur hoe langer hoe beter kan leer ken. Ja, daarvoor
het ek my hele lewe nodig, om myself te leer ken soos ek werklik
is. Hoe verder ek kom, des te verwerpliker ek in eie oë word.
Nee, ek word nie steeds slegter nie, dit sou agteruitgang wees.
Maar ek sien steeds skerper my sonde. Ek bly dan ook nie slegs
kyk na die afsonderlike sondes nie, maar ek ontdek die bron van
al die sondes. Ek sien in die agtergrond my sondige natuur. Ek
ontdek dat ek uit myself deur en deur sleg is.

Gemeente, hierdie groeiende kennis beteken nie
dat ek steeds meer en meer moet gaan wanhoop nie. Nee, die feit
dat ek die sondige natuur steeds meer ontdek, beteken juis dat
God se Gees in my werksaam is. Ware selfkennis is naamlik nie
moontlik sonder die verligting van die Gees van God nie. So
ontstaan daar pleks van wanhoop juis ’n verdieping van my
geloof. God se skerp wetsprediking het as ’n spieël my
doemwaardigheid voor oë gestel. Maar dit dryf my tegelyk in die
arme van Christus. Ek leer om af te sien van myself en dit van
Hom alleen te verwag.

Daarom sê die kategismus dat ons deur die
groeiende kennis van eie sondige natuur met groter verlange na
die vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus kan
soek. Die genade van Christus kom steeds skerper in beeld. Hoe
meer ek die sonde leer ken, des te meer verlang ek na die
vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus. Hoe meer
die sonde vir u ’n verskriklike werklikheid geword het, hoe
meer u die blye boodskap van verlossing kan gaan verstaan. Sonder
Christus bly ek nêrens. Sonder Hom kan ek voor God se aangesig
beslis nie bestaan nie. Die vergewing van sonde is broodnodig. As
die sonde, ja, die sondige natuur nie deur Christus se bloed
versoen word nie, dan hou die lewe vir my op. Daarom is dit so
heilsaam dat God se wet my ontdek aan my sonde. As ek nie eers
weet dat ek vuil is, hoe sou ek dan vir Christus vra om my te was?
Of as ek nie wil aanvaar dat ek vuil is, waarom sou ek dan myself
gaan was?

As ek egter in die spieël van die wet my
ellende leer sien het, dan kan ek gaan werk aan verandering,
vernuwing. Ek word dan ywerig in goeie werke. Ek wil steeds meer
breek met die kwaad om steeds meer deel te kry aan die egte volle
lewe met God. Dit dryf my dan na die gebed. Uit myself bring ek
niks daarvan tereg nie. As biddende stryder kom ek egter verder.
Die Heilige Gees kan dit doen en moet dit doen. En die Gees word
alleen aan hulle gegee wat Hom sonder ophou daarom bid. So bly
ons via die skerp wetsprediking op pad na die volmaaktheid. Die
doel bly voor oë. En die doel sal eendag bereik word. As ek
tenminste God se werk nie weerstaan nie. Bedroef daarom nie die
Gees van God nie. Laat die Gees u lei na die volmaakte hemelse
vaderland.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)