Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-02-18
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 43
Preek Inhoud: 

Sondag 43
Ds C Kleyn - Sondag 18
Februarie 2001

Lees: Psalm 12; Sondag 43.
Sing: Ps 75:1,4; Ps 28:6-8; Ps 12:6,7;
Ps 141:3-6; Ps 105:4,5.

Tema: Jy mag geen valse getuienis teen jou
naaste spreek nie.

  1. Die Here verbied dat ons ons naaste deur
    ons woorde skaad;
  2. Die Here gebied dat ons ons naaste deur
    ons woorde dien.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die 9e gebod gaan oor die mag van die woord. In
onderskeid met die redelose diere het die mens die vermoë
ontvang om te dink en te praat. Ons kan ons gedagtes onder woorde
bring en dit aan ander kommunikeer. Deur ons woorde het ons
omgang met mekaar, kan ons relasies opbou en onderhou.
Tegelykertyd het ons deur ons woorde ’n sekere mag oor ander.

Die mag van die woord het in ons tyd baie
gegroei. Dink maar aan die mag van die massamedia, die radio,
televisie, koerante, internet, tydskrifte. Sedert die sondeval is
dit ’n grieselige saak. Die vermoë om te praat, wat tot
opbou bedoel is, word dikwels vir die teendeel gebruik. Die vermoë
het immers in die hande van die duiwel tereggekom. En hy word in
die bybel die vader van die leuen. "Wanneer hy leuentaal
praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die
vader daarvan." (Joh 8:44). En ons mense het gehoor gegee
aan die leuenaar en het ook self leuenaars geword. So het die mag
van die woord in die hande van leuenaars gekom. ’n
Lewensgevaarlike saak. Wat ’n mag het ons woorde nie! Die
massamedia kan mense maak of breek. Publieke persone, selfs
eenvoudige mense, kan daardeur gebreek word. Hul posisie en
toekoms kan verwoes word.

Mense gaan sit op die regterstoele om te
oordeel. Daar is spesiale skinderblaaie wat rustig die goeie naam
van die naaste deur die modder sleep. Niemand het hulle aangewys
as regters nie. Die enigste dryfveer is geld. Daar skyn ’n
mark vir hul skinder te wees. Hulle voorsien blykbaar in ’n
behoefte. Die behoefte naamlik om kwaad van die naaste te hoor en
so eie kwaad goed te praat of weg te steek. Blaaie wat die balk
in eie oog negeer, op soek na splinters in ander se oë.

God het die mens die mag van die woord gegee.
Die mens word geroep om te oordeel. Ons mag en kan as God se
onderkonings mense en situasies beoordeel. Ons word geroep om as
regters goed goed te noem en kwaad kwaad. Maar wat ’n
misbruik maak ons van ons bevoegdheid en mag. Op ’n
hooghartige en liefdelose manier verhef mense hulself op hul
regterstoele. Waar staan dan die regterstoele? Nie in die
geregshof nie, maar in die huise, by die kuierplekke, in die
wandelgange, op die partytjies. Daar word mense afgemaak. "Het
jy dit gehoor…wat die persoon gesê of gedoen het… As
jy alles sou weet, dan sou jy…nooit meer met die persoon wil
omgaan nie."

Gemeente, om te oordeel mag, moet, maar dan wel
op die manier waarop God oordeel. Ons mense mag konings van die
woord wees, maar dan wel as onderkonings van God. Dit leer die
Here ons in die 9e gebod.

Ek verkondig aan u: Jy mag geen valse getuienis
teen jou naaste spreek nie

  1. Die Here verbied dat ons ons naaste deur
    ons woorde skaad
  2. Die Here gebied dat ons ons naaste deur
    ons woorde dien.

Die 9e gebod dink in eerste instansie aan die
regspraak. Iemand is besig met ’n regsaak en gee valse
getuienis. Die valse getuienis lei tot die veroordeling van die
beskuldigde. Miskien selfs tot sy dood. Dink aan die tyd waarin
die Bybel geskryf is. Hulle het toe nog nie die forensiese toetse
soos vinger afdrukke en bloedtoetse geken nie. Hulle het nog nie
die verfynde tegnieke gehad om misdaad op te spoor soos kameras
en helikopters nie. Alles was afhanklik van die getuienis van die
getuies. In daardie tyd was daar ook nog die doodstraf op baie
oortredings. So het iemand se lewe afgehang van die
betroubaarheid van die getuies.

In die Ou Testament is daar die voorbeeld van
koningin Isebel. ’n Tipiese straathof. Valse getuiges word
uit ’n klomp betaalde skelme opgeroep. En die onskuldige
Nabot word die slagoffer van valse getuienis. Daar is veral die
voorbeeld van Jesus Christus se veroordeling. Geen ware getuienis
kon teen Hom ingebring word nie. Dus het hulle valse getuies laat
optree. Om sy woorde te verdraai en om seker te maak van sy
doodsvonnis. Hy, die absolute onskuldige, word op grond van
leuens tot die dood veroordeel.

Dit is wat God probeer om deur die 9e gebod te
voorkom. Vandag noem ons dit meineed. Dit is dat ek in die
geregshof onder eed valse getuienis aflê. So beskerm hierdie
gebod ons regterlike prosesse.

Die gebod gaan egter wyer as net die geregshof.
Die saak waaroor dit gaan is dat ons ons naaste deur leuen skaad.
Jy kan dit in die geregshof doen, maar ook daarbuite. Daar is
baie situasies waarin ek my naaste deur leuenagtigheid kan skaad.

Paulus skryf in Rom 3: "Daar is niemand
regverdig nie, selfs nie een nie….Hul keel is ’n oop
graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders in
onder hulle lippe. Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid."
(Rom 3:10-14). Die Skrif wy selfs ’n hele hoofstuk aan die
sonde van die tong, naamlik Jak 3.

Ons tong is maar ’n klein lid, sê Jakobus,
tog beroem hy hom op groot dinge. Die tong is ’n vuur wat
alles aan die brand steek, terwyl dit self uit die hel aangesteek
word. Dit is ’n onbedwingbare kwaad, vol dodelike gif.
Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die
mense wat na die gelykenis van God gemaak is.

Gaan dit die kerk verby? Ons wens dat dit waar
was. Tot wie rig Jakobus hom met daardie woorde? Die woorde word
juis tot kerkmense gerig. Jakobus sê bv "Dit, my broeders,
behoort nie so te wees nie."

Gemeente, in die Ou Testament moet God reeds
voortdurend teen die sonde van die tong waarsku. Sulke sondes kom
te dikwels binne die verbondsvolk voor. Dawid skryf daaroor in Ps
12, wat ons gelees het. As jy Dawid hoor, dan sou jy dink dat hy
’n duidelike tekening van die wêreld gee. Maar Dawid praat
hier oor die kerk. In die kerk tree mense soms op ’n volkome
wêreldse manier op. Dawid bid: "Red, o Here, want daar is
geen vrome meer nie; want die getroues het verdwyn onder die
mensekinders." Die getroues het verdwyn. Mense wat
betroubaar is, op wie jy kan staatmaak. Hulle het verdwyn.

Pleks daarvan praat die mense leuens, die een
met die ander. Die mense kan nie nalaat om hul volkgenote te
bedrieg nie. Met vleiende lippe spreek hulle dubbelhartig.
Letterlik staan daar: hulle spreek met een hart en ’n ander
hart, dws met tweeerlei hart. Ons kan die uitdrukking vergelyk
met die spreuk: Twee soorte gewig, twee soorte maat – hulle
altwee is vir die Here ’n gruwel (Spr 20:10). Agter jou rug
om praat hulle anders. Hulle wys nie hul ware self nie, wat hulle
werklik dink nie. Hulle hou ’n mooie skyn hoog asof hulle
vir jou omgee, maar in hul hart is hulle ver van jou.
Dubbelhartig.

Hulle praat immers met vleiende lippe. Hul
lippe bedrieg. Wat hulle sê klink so mooi. Maar dit is slegs
skyn. Hulle kan jou met hul woorde vlei, terwyl hulle in hul hart
jou haat of vervloek. U ken uit ervaring wel die vleiende lippe
en die dubbelhartigheid. Die mense vertoon twee gesigte en kan
dit verskriklik moeilik vir jou maak. Jy kan hulle nie gryp nie,
omdat hulle in jou aanwesigheid of op papier wel oppas dat hulle
die skone skyn ophou. Maar in hul hart is daar ander dinge wat
hulle dryf en agter jou rug maak hulle dit moeilik vir jou. Die
gif van adders is onder hul lippe. Tot ons skande moet ons sê:
dit kom nie slegs in die wêreld voor nie, maar ook in die kerk.

Die Kategismus praat van verdraaiing van woorde.
Bewus gee jy iemand se woorde anders weer as wat in werklikheid
gesê of bedoel is. Dit kan ook onbewus gebeur deurdat jy weier
om goed te luister. Daardeur is jy oortuig dat die persoon iets
gesê het wat hy in werklikheid nie gesê het nie. Of jy gee
’n ander invulling aan die woorde wat iemand gebruik het.
Iemand se woorde verdraai gebeur so maklik. Ons haal die woorde
dan uit die verband waarin hulle voorgekom het. Ons laat bepaalde
woorde weg wat ons nie pas nie of ons voeg bepaalde woorde
daaraan toe. So verander die spits van wat die persoon gesê het
volkome. So word die gedagtes van die mense waarmee ons praat in
’n verkeerde rigting gelei. Die mense trek verkeerde
konklusies. En op grond daarvan veroordeel mense die persoon,
terwyl hy dit nooit so gesê het nie. So kan jy die lewe vir
ander moeilik maak. So kan jy hulle verhinder in hul
funksionering in kerk en maatskappy.

Die Kategismus noem vervolgens ’n
kwaadstoker of lasteraar wees. Jy vertel opsetlik slegte dinge
van iemand anders. Dis waar, soms noem ek slegte dinge van ander.
Elkeen doen dit. Maar dit is tog geen kwaadstekery nie? Bowendien,
wat ek noem het ook werklik gebeur.

Moet ons dit onskuldige praat noem? Mag ons
vrylik die slegte dinge van iemand vir ander vertel? Waarom praat
ons daaroor? Wat baat dit? Help ons werklik ons naaste daardeur?
Laat ons eerlik wees: dit is meesal nie die doel van skinder nie,
om die naaste te help. Daarom word ook meesal die teendeel bereik.
As ek oor iemand, pleks van met hom praat, dan skaad ek meestal
hom. Ek veroorsaak dat mense op die persoon neersien en die
persoon aan die kant skuif. Ek verwoes die gemeenskap. My woorde
bou nie op nie, maar breek af. Die persoon kom so aan die kantlyn
tereg of selfs buite die gemeenskap van die kerk. Ons woorde is
vol dodelike gif.

Ja, gemeente, ek praat nou van die sogenaamde
onskuldige praat. Mense drink die woorde in. Dit bly in hul
gedagtes steek. Dit doen sy verwoestende werk. Die persoon word
voortaan op ’n bepaalde manier aangekyk en behandel vanweë
my sogenaamde onskuldige praat.

Bowendien, gemeente, is dit dikwels nie so dat
ons dink dat ons die waarheid praat, terwyl dit eerder ons eie
persepsie van die waarheid is nie? Skinder, of dit nou waar is of
nie, bly ’n verwoestende mag in die kerklike gemeenskap.

Vervolgens word laster genoem. Laster neem
skinder ’n stap verder. Ek het dan die begeerte om te sien
dat iemand verneder, bespot of in verleentheid gebring word. Ek sê
dan bewus dinge oor ander met die doel om die persoon se goeie
naam te skaad. Dit is een van die slegste dinge wat ons binne die
kerkelike gemeenskap of in die maatskappy kan doen. Ons weet dat
wat ons sê nie waar is nie. Maar dit bekommer ons nie. As ons
die ander persoon maar kan tref. Soos die valse getuies voor die
regter, so wil ons sien dat ons naaste onregverdig veroordeel
word. Om watter rede dan ook. Dikwels terwille van ons eie
posisie en mag, vanweë eie seerkry of trots. Jakobus noem
bittere afguns en selfsug as die oorsaak van slegte gedrag. Ons
wil dan bewus die ander seermaak, hom of haar gediskwalifiseer
laat word.

Gemeente, hoe reageer u op sulke kwade skinder,
laster? Wat ons hoor, lyk verskriklik. Sou dit werklik waar wees?
Maar ons doen nie die moeite om dit te verifieer nie. Nee, gou
word dit: daar moet wel iets van waar wees. Daarom, voordat ons
dit besef, begin ons ons naaste onverhoord en ligtelik te
veroordeel. Hoe maklik gebeur dit nie dat ons dan ook self
daaroor gaan praat met ander. Ja, om onsself te dek, voeg ons
daaraan toe, "dis tenminste hoe ander dit vir my gesê het".
Intussen het die kwaad geskied. En die kwaad werk verder. Pleks
van om ons naaste te help, het ons bygedra aan sy veroordeling.
Die tong waarmee ons behoort op te bou, word gebruik om af te
breek.

Daarom keur die Here sulke gedrag sterk af. Die
bybel draai daar geen doekies om nie. Dit noem die dinge by die
naam. Dit is duiwelse werk. As ek dit doen, dan word ek uit die
hel aangesteek.

Daarom bid Dawid: "Mag die Here al die
vleiende lippe uitroei, die tong wat grootpraat." Die duiwel
mag nie in die kerk terrein wen nie. As ek my tong tot skade van
my naaste gebruik, dan is ek ’n vyand van God en sy volk. Ja,
soms gedra ek my inderdaad as ’n vyand van God en sy volk.
Dawid beskryf so ’n gedrag as volg: "Hulle sê: Met ons
tong is ons sterk; ons lippe is met ons! Wie hoor ons?" Ons
kan mooi praat of skryf, oortuigend, wie kan ons oortref? Wie
bemerk wat daar werklik agtersteek?

Met hul tonge ag hulle hulself sterk. Daarmee
kan hulle baie doen: mense diskwalifiseer en hulself verhef.
Niemand is hulle die baas.

Niemand? Wel, God in elk geval. Hulle vurige
pyle kan mense diep tref en seermaak. Maar God self sal hulle
tref. Daarom kondig die Here in Ps 12 vers 6 aan: "Oor die
verdrukking van die ellendiges, oor die gesug van die behoeftiges
sal Ek nou opstaan, sê die Here. Ek sal hom in veiligheid stel
wat daarna smag."

In die 9e gebod is die Here besig om sy
getroues te beskerm teen die verwoestende mag van woorde. Daarom:
skaad jou naaste nie deur jou woorde nie, maar dien jou naaste.
Dis die tweede gedagte.

Wanneer kan my tong weer my naaste dien?
Wanneer dit nie langer uit die hel aangesteek word nie, maar deur
die Heilige Gees. Deur die Gees van God gaan jy mense anders
benader en behandel. Die gemeenskap word herstel. Wat anders kan
’n mens verwag. God is die waarheid self. Hy is diegene wat
volmaak betroubaar is. As ek my deur Hom laat lei, dan keer ek
terug na die waarheid.

Broeders en susters, die Psalm maak ’n
groot onderskeid tusse die woorde van mense en die woorde van God.
Terwyl menslike woorde onbetroubaar is, leuenagtig, word die
woorde van die Here rein genoem, vlekloos. Daarin is geen onreine,
sondige elemente nie. Dawid gebruik die beeldspraak van ’n
silwersmid. Die silwersmid werp die silwer in die smeltkroes om
alle onsuiwere elemente daaruit te verwyder. So word God se
woorde met silwer vergelyk, silwer wat gelouter is in ’n
smeltkroes, sewe maal gesuiwer. Met ander woorde: volmaak suiwer.

Sal ons dit onthou, broeders en susters, in ons
soek na betroubaarheid. Dalk dink ons dat ons niks kan doen teen
die morele agteruitgang in ons samelewing nie. ’n Samelewing
vol van leuen en bedrog. Die tekening wat Dawid in Ps 12 gee pas
goed by ons tyd. Maar onthou, gemeente, dat u God se woorde het.
Die woorde is soos silwer wat gelouter is, volkome suiwer. Ons
het die kosbare metaal van God se waarheid. Dis genoeg. Die
woorde lê al die grootspraak van mense bloot. Die suiwere woorde
stel ons ook in staat om ons tong tot heil van ons naaste te
gebruik.

Daarom is dit so belangrik wat ons met die
suiwere woord van God maak. Ons kan kla oor die korrupsie en
bedog van die wêreld. Wat verskriklik! Maar wat doen ons om
onsself daarteen te wapen? Wat lees ons en waarna luister en kyk
ons? Waardeur laat ons ons lei? Laat ons die ongelowige wêreld
die toon in ons lewe aangee, met sy massamedia? Of laat ons God
die toon aangee? Dan kan dit nie bestaan dat ons wel allerlei
kourante lees en televisie programme bekyk terwyl ons die Bybel
geslote laat nie. Indien u ’n goeie televisie gids wil hê
lees dan maar Ps 101 bv. Dan sou baie programme, films en videos
vir u taboe wees. Jy wil daar dan niks van weet nie. Laat ek
enkele verse uit die Psalm lees (vers 2-4,7).

Is ons wel konsekwent in ons opposisie teen
leuen en bedrog? Lewer ons ons nie te maklik uit aan die gees van
die tyd nie, deur ons bloot te stel aan hul voortdurende
propaganda nie? Waar laat ons ons kinders na kyk en luister? Is
dit ’n gesonde christelike lug wat hulle inasem of ’n
besoedelde wêreldse lug? Die invloed van die wêreldse styl word
dan ook merkbaar in die gesinne, in die manier waarop ons praat
en dinge doen, die atmosfeer in die huis. Laat ons ons en ons
kinders werklik vul met die suiwere woorde van God of vul ons
onsself met die leuenagtige woorde en voorstellings van die wêreld?

Beproef uself hierin, gemeente. Wees waaksaam.
Maak duidelike keuses. Sodat satan die groot leuenaar nie oorwin
nie, terwyl ons onsself nog as christene beskou.

Die kerk behoort ’n bolwerk van die
waarheid te wees. Elkeen van ons behoort modelle van die waarheid
te wees. U behoort tog aan Christus, die waarheid, of nie soms? U
kan slegs modelle van die waarheid wees indien U uself deur God
se waarheid laat vul en lei.

Dan sal die manier waarop ons met mekaar omgaan
bemoedigend wees, gesuiwer. Dan sal dit ’n plesier wees om
by die gemeenskap te behoort. Hoe meer ons die waarheid vashou,
des te meer sal ons op mekaar kan staatmaak. Des te meer sal ons
mekaar kan opbou en dien. Dis nie voldoende om op te hou om kwaad
van die ander te praat nie. Ek moet ook positief gaan praat tot
opbou van my naaste.

Elkeen word opgeroep om mekaar aan te spreek op
grond van die suiwere, betroubare woord van God. Sodat die
waarheid kan seëvier en die leuen oorwin kan word. Bly vir die
waarheid opkom, ook wanneer jy mense hoor skinder of laster. Die
werke van die duiwel moet in die kiem gesmoor word. Dit moet uit
die gemeente verban word.

Slegs dan kan die gemeente wees wat dit moet
wees: ’n oase van die waarheid in ’n leuenagtige wêreld.
Dan is ons veilig onder mekaar. Dan kan ons op mekaar staatmaak,
mekaar dien, ook met ons tong.

Maar broeders en susters, wie is daartoe in
staat?

Ek wil anders wees, meer betroubaar, maar
voordat ek dit besef val ek opnuut. Ek begin weer om te skinder
of te laster. Ek begin weer om iemand onverhoord of ligtelik te
veroordeel. Sonder die evangelie van Christus bly die 9e gebod
verskriklik ontmoedigend. En die goeie nuus is twee dinge. Eers
dat Jesus Christus ook vir my leuens gesterf het. Hy, die
waarheid, het sy lewe gegee vir ons onwaarhede, ons skinder en
laster. Hy het gewillig ’n slagoffer van valse getuies
geword. Om ons te bevry van satan, die vader van die leuen. Wat
’n verbasende liefde.

Jesus Christus het meer gedoen. In Hom vergewe
God nie slegs nie. Hy verander ons ook en vernuwe ons. Dit is die
tweede van die goeie nuus.

In Jakobus lees ons dat geen mens die tong kan
tem nie, dis ’n onbedwingbare kwaad (Jak 3:8). Maar God kan
dit wel doen. En God doen dit in Jesus Christus. Mense wat van
nature leuenaars is, kan deur die krag van Christus verander word.
Hy verlos ons van die begeerte om sterk en leuenagtige verhale te
vertel. Hy bevry ons van ons drang om te skinder en te laster.

Daarom, broeders en susters, bly gaan na Jesus
Christus toe. Hou aan om te bid vir sy genade en Gees. Bid vir
vergewing en vernuwing. Laat u met die Heilige Gees vervul. Laat
die woord van Christus, die waarheid, ryklik in u woon. Wat
’n verandering sal dit teweegbring.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)