Die gebod: jy mag nie doodslaan nie

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-01-28
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 40
Preek Inhoud: 

Sondag 40
Ds C Kleyn - Sondag 28 Januarie
2001

Lees: Romeine 12:9-13:7;
Sondag 40.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis;
Ps. 72:1,2; Ps. 16:1,4,5; Ps. 47:1,4

Tema: Die gebod: jy mag nie doodslaan nie.

  1. Die grond van die gebod
  2. Die diepte van die gebod
  3. Die breedte van die gebod

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Oor die doodstraf word in ons land behoorlik
wat gepraat. Sommiges pleit daarvoor om dit weer in te voer.
Ander, waaronder ons huidige regering, wil dit beslis nie doen
nie. Moet moordenaars die doodstraf ontvang?

In die bespreking oor hierdie saak word soms
gewys na die 6e gebod. Mense gebruik dan die gebod: jy mag nie
doodslaan nie, as ’n argument teen die doodstraf. Is liefde
nie die vervulling van die wet nie? Hoe kan Christene dan
voorstel om die doodstraf weer in te voer?

Hoekom kry die 6e gebod nie dieselfde publieke
goedkeuring in die debat oor eutanasie nie? En wat van die
praktyk van aborsie wat in ons land baie toegepas word? Waarom is
daar mbt die praktyke geen publieke opstand op grond van die 6e
gebod nie?

En, broeders en susters, hoe is nou ons posisie?
Op grond van die 6e gebod stry ons inderdaad teen aktiewe
eutanasie en die moord op ongebore kinders. Beteken dit dat ons
ook teen die doodstraf moet wees? Is dit nie ’n saak van
konsekwent vir die lewe wees?

Wel gemeente, in hierdie verband is dit goed om
herinner te word aan wat God in sy woord vir ons sê. God se
gebod spreek ’n duidelike taal.

Ek verkondig vir u die gebod: jy mag nie
doodslaan nie.

  1. die grond van die gebod
  2. die diepte van die gebod
  3. die breedte van die gebod

Waarom mag ek wel ’n dier doodmaak en nie
’n mens nie? Dit hang saam met die onderskeid tussen mens en
dier. Waar mense die onderskeid verloën, daar word ook die
absolute gesag van die 6e gebod ontken. Daar is die ontluisterde
lewe van mense, bv van swaar gestremdes, nie meer veilig nie.

God verbied nie die doodmaak van diere nie. Die
mens het die heerskappy oor die diere ontvang. Nie dat ons hulle
nodeloos mag mishandel nie. Diere is immers ook skepsels van God.
Maar die mens mag wel, na eie behoefte, oor die lewe van diere
beskik.

Die lewe van die mens, daar moet ek egter van
afbly. Die mens ontvang onmiddellik na sy skepping ’n
besondere plek in die wêreld. Nadat God al die diere geskep het,
sê Hy: "Laat ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis,
en laat hulle heers oor die visse van die see en oor die hele
aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip." ( Gen 1:26).
So het God dan die mens na sy beeld geskep. Waarom mag ek bv wel
’n siek dier doodmaak, maar nie ’n ernstig sieke mens
nie? God gee die antwoord in Gen 9:6 "Hy wat die bloed van
’n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word;
want God het die mens na sy beeld gemaak."

Gen 9 wys op die groot onderskeid tussen mens
en dier. Eers sê die Here vir Noag en sy seun: "Die vrees
en die skrik vir julle sal wees oor al die diere van die aarde en
al die voëls van die hemel: alles wat op die aarde beweeg, en
die visse van die see. Hulle is in julle hande oorgegee. Alles
wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen
plante, gee Ek dit alles aan julle" (Gen 9:2,3). Oor die
lewe van die diere mag die mens dus vryuit beskik. Maar
onmiddellik daarna lees ons die woorde wat ons reeds aangehaal
het: "Hy wat die bloed van ’n mens vergiet, sy bloed
sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld
gemaak."

Die feit dat die mens – ter onderskeiding
van die ander skepsels – na God se beeld gemaak is, is die
grond van die 6e gebod: jy mag nie doodslaan nie. Onder sy
skepping het God ons ’n spesiale plek en funksie gegee. Hy
het ons begiftig met besondere gawes. Hy het ons aangestel om
namens Hom oor sy skepping te heers as sy verteenwoordiger.

Hierdie besondere plek en roeping bly, ook na
die sondeval. God bly ons lewe – ook al is dit deur die
sonde geskonde – aansien as lewe wat na sy beeld geskep is.
Daarom spreek Hy na die sondeval sy oordeel uit oor hom wat die
bloed van die mens vergiet. Geen individuele persoon het die reg
om te beslis oor die lewe van die medemens nie. Selfs nie oor die
verskriklike ontluisterde lewe nie. Waarom nie? Want God het die
mens na sy beeld geskep.

Hier sien u, broeders en susters, die grond van
hierdie gebod: God het ons mense na sy beeld geskep. En Hy het
die beskikking oor die lewe van die mens aan Homself gehou.
Daarom mag ek ook nie oor my eie lewe beskik nie, om dit te beëindig,
via eutanasie of selfmoord. God het die lewe gegee. Ek moet dit
uit sy hand aanvaar, solank as Hy dit so beskik. Ek moet dit
aanvaar saam met die roeping om Hom daarmee te dien, maak nie
saak hoe beperk ek my daarin voel nie.

In ons tyd is daar ’n toename in die
aantal selfmoorde. Baie mense loop vas en sien geen uitkoms meer
nie. Persoonlike moeites of stres kan die uitsig belemmer. In
wanhoop is die verleiding groot om daar maar ’n einde aan te
maak. God ken die gebrokenheid en hopeloosheid. Tog bly hy ons
terugroep na ons oorspronklike posisie. Ons lewe is ’n gawe
en ’n opdrag. God het my geskep na sy beeld om Hom te dien.
Gee jouself oor aan Hom. Vlug na Hom in jou verwarring en wanhoop.
Hy sal hulle wat na Hom kom, nie verlaat nie. Inteendeel, Hy het
sy Seun verlaat opdat ons nooit meer deur Hom verlaat sou word
nie. Vertrou jouself en mekaar toe aan sy sorg. Bowendien,
vergeet nooit, sy nabyheid hang nie af van jou ervaring van die
nabyheid nie. Hy is baie groter as ons gevoelens. Hy is naby,
selfs wanneer ek dit in my verwarring nie kan ervaar nie. Ware
oorgawe aan Hom is die enigste oplossing vir die probleem van
selfmoord.

Geliefdes, waar God nie meer as die Skepper en
Heer van die lewe erken word nie, daar verdwyn die vaste basis
van die 6e gebod. Daar is die menslike lewe in prinsipe nie meer
veilig nie. Hoe kan ek die plek van my naaste respekteer of selfs
my eie plek indien ek God nie sy plek gee nie? ’n Mens soek
dan na ander gronde om nie dood te maak nie. Omdat hulle God nie
erken nie, verskuif hulle die grond van hierdie gebod na die mens
self. Mense sê dan bv: jy mag jou naaste nie doodmaak omdat hy
’n mens is soos jy en omdat hy ook wil lewe. Of: hy het ook
’n reg om te lewe ewenas jy.

Maar wat moet ons maak as die persoon nie meer
wens om te lewe nie? Of as die persoon nie meer in staat is om sy
wens bekend te maak nie? Moet ander dan vir hom besluit?

Hier sien u, gemeente, as ek die grond vir
hierdie gebod verskuif van God na die mens, dan het ek geen
verweer teen eutanasie nie. Ek kom dan tereg in ’n geslote wêreld,
waar die lewe hier en nou alles is. Kan ’n mens in so ’n
geslote wêreld, sonder God, nog die behoud van swaar gestremdes
verdedig? Van hulle wat geen kwaliteit van lewe het nie? As die
menslike bestaan so versleg het dat die lewe sinloos lyk, wat kan
’n mens dan weerhou om die lewe te beëindig? In so ’n
geslote wêreld is die dood immers die einde van alles.

In ’n humanistiese samelewing is die lewe
nie veilig nie. Daar is geen vaste grond onder die 6e gebod meer
nie. Daarom moet dit benadruk word dat die grond van die 6e gebod
nie in die mens lê nie, in sy reg om te lewe nie of in sy wil om
te lewe nie. Die 6e gebod is veranker in God die Skepper van alle
lewe.

Elkeen moet die lewe aanvaar soos God dit vir
hom of haar gegee het. Ook as dit ’n baie moeilike lewe lyk.
Aanvaar dit met die roeping om God daarmee te verheerlik. God gee
ons nie die reg om oor ons eie lewe te besluit of oor die lewe
van swaar gestremdes of oor die lewe van ongebore kinders nie.
God het die lewe in sy eie hande. Hy besluit daaroor.

Maar hoe moet ons dan die swaard van die
owerheid sien? Moet die regering nie ’n polisiemag en ’n
weermag in stand hou nie? Om die wat kwaad doen te weer en te
straf? Het hulle ook nie die reg om vyandelike magte of kriminele
dood te maak nie?

Geliefdes, in die gedeelte wat ons uit Rom 12
en 13 gelees het, blyk daar ’n duidelike onderskeid te wees
tussen dit wat ons persoonlik doen en dit wat gesaghebbendes doen.
Persoonlik mag ek nooit myself wreek nie. Die mense wat deur die
moorde in ons land swaar getref word, mag nie die reg in eie
hande neem nie en hulleself wreek nie. Nee, God sê vir ons in
Rom 12:19: "Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek
vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe,
Ek sal vergeld, spreek die Here." God sê in feite: laat dit
aan My oor. Ek sal reg laat geskied.

Dan gaan ons na Rom 13. Daar wys God dat Hy
owerhede aangestel het om namens Hom op te tree. Kyk maar na vers
4: "want hy, die owerheid, is ’n dienaar van God,
’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf." Daarom
skryf Paulus, "as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die
swaard nie verniet nie". Wat ek persoonlik nie mag doen nie,
bv die misdadiger straf nie, dit moet die owerhede doen. Die
owerheid moet reg handhaaf namens God. God het aan haar nie
verniet die swaard gegee nie. Die swaard is daar om te gebruik.
Dit kan selfs behels die roeping om bepaalde kriminele dood te
maak.

Dis goed om hier mekaar te herinner aan die
teks van die 6e gebod. Letterlik staan daar nie: "jy mag nie
doodslaan nie." God gee geen absolute verbod op doodmaak nie.
Daar is omstandighede waarin Hy selfs wil hê dat mense
doodgemaak word. In die 6e gebod gaan dit daaroor dat ons niemand
wederregtelik, dws onwettig, vermoor nie. Ek mag so te sê nooit
doodmaak sonder God se toestemming nie. Daarom mag ek nooit
’n misdadiger persoonlik doodmaak nie, tensy in
selfverdediging (Rom 12).

Maar wat van die owerheid? Na die sondvloed het
God onmiddellik bepaal: "Hy wat die bloed van ’n mens
vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word." Met ander
woorde: Ek die Skepper bepaal dat die moordenaar gedood moet word.
Dis nie ’n Mosaïese wet wat tipies by die Ou bedeling
behoort nie. God het dit bepaal voordat Moses geleef het en
voordat Israel ’n volk was. Daarom mag ek aanneem dat wat
God in Gen 9 bekendgemaak het, vandag nog geld. Op grond daarvan
sou dit inderdaad gepas wees as die owerheid die doodstraf aan
moordenaars sou toepas. Dit sou dan nie ’n onwettige
doodslag wees nie. Dit sou volkome wettig wees, volgens God se
wet. Hy het die swaard nie verniet aan die owerheid toevertrou
nie. Nee, die owerheid is sy dienaar, ’n wreker om die een
wat kwaad doen, te straf. God wil dat reg gehandhaaf word. Hy wil
hê dat die owerheid die gepaste straf toedien.

Maar gaan so ’n doodstraf nie teen God se
wet van liefde nie? Moet ons die moordenaars nie liefhê nie?
Inderdaad. Ons moet hulle liefhê, dws ons moet die beste vir
hulle soek. Daarom bid ons vir hulle bekering en ewige redding.
Daarom mag ek nie haat teen hulle koester nie. Maar liefde
verswelg nie die reg nie. Ook die mense wat ek moet liefhê moet
die verdiende straf ontvang. God handhaaf beide liefde en reg.

Broeders en susters, die Here God is nie slegs
die Skepper en Heer van die lewe nie. Hy is ook die herskepping
en verlosser van die lewe. Dit gee ’n nuwe luister en waarde
aan ons gebroke lewens. Hier is ons lewens nog besoedel, mismaak.
Soms selfs verskriklik mismaak. Maar as dit deur Christus se
bloed gekoop is, dan is dit nooit sonder waarde nie, nooit
sinloos nie. Selfs die kind wat nie kan praat of sing nie, is
daar tot God se verheerliking. Die kind is ’n mens, geskep
na God se beeld, gemaak om Hom te dien. Dalk sien jy dit nog nie
hier op aarde nie. Maar God sal die lewe, wat deur die sonde
verwoes is, weer tot heerlikheid bring. God sal eendag iets moois
daarvan maak. Hy sal alle gebreke verwyder. Hy sal ’n
volmaakte en heerlike liggaam daarvan maak. Volmaak toegerus om
Hom ewig te loof en te prys.

Gemeente, die 6e gebod verwys nie slegs na
onwettige doodslag nie. Dit sê veel meer. Ons wil daarop let in
die 2e punt: die diepte van die gebod.

U is, broeders en susters, nog nie klaar met
hierdie gebod, indien u keurig nalaat om u naaste dood te maak
nie. Joh skrywe: "elkeen wat sy broeder haat, is ’n
moordenaar" (1 Joh 3:15). ’n Moordenaar soos satan, die
moordenaar van die begin. Ek moet my nie verbeel dat ek vryuit
gaan, solank as ek niemand letterlik vermoor nie. Ek kan ’n
ander ook doodmaak op ’n nette manier, met my gedagtes, met
my woorde of met my dade. Ek kan die lewe van ander moeilik maak.
Ek kan ander mense aan die kant du, weg van die plek wat God vir
hulle wys. Dit is waar moord oor gaan: jy verhinder mense om te
wees wat God wil hê dat hulle is. Jy verdring hulle van die plek
wat God vir hulle wys.

God wil hê dat ons mekaar help om te wees wat
Hy bedoel het. Die Kat wys op die wortel van doodmaak soos afguns,
haat, woede en wraaklus. Dit alles is vir God heimlike moord.

Afguns: ek kan dit nie verdra dat ’n ander
dit beter as ek het, dat hy of sy voorspoedig is. Ek wen my
daaroor op dat die ander sy sin kry en nie ek nie. As my hart
eenmaal afgunstig is, dan begin dit om my gedagtes te beheers,
tensy ek deur die krag van die Heilige Gees daarteen stry, tensy
ek resoluut daarmee breek. Dink maar aan Kain. Hy het ’n
moordenaar geword. Afguns het by hom haat verwek. Dan keer jy jou
teen die persoon. Jy begin om die persoon se onheil te soek. Jy
begin heimlik te hoop dat iets verskrikliks met die persoon sal
gebeur.

Indien dit nie gestop word nie, lei dit tot
woede, ’n uitbarsting van opgekropte emosies. Jy word dan
skerp en onbillik. Ten slotte noem die kat die wraaklus. Jy wil
die persoon seermaak, in ruil vir dit wat hy jou aangedoen het.
Jy wil terugbetaal. Hom of haar skade doen.

Dis hoe die kat die wortel van doodmaak skilder.
Is jy nog onskuldig mbt die 6e gebod? Gaan jy vryuit? Jy wat
weier om bloed te vergiet? Elkeen wat sy broeder haat is ’n
moordenaar.

Gemeente, die kat wys ook op die positiewe kant
van die gebod: "Terwyl God afguns, haat en woede verbied,
gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Ons moet
teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en
vriendelik wees, alles wat hom kan benadeel, sover moontlik
probeer voorkom en selfs aan ons vyande goed doen."

Liefde is nie slegs ’n saak van jou naaste
nie skaad nie. Miskien het ek die negatiewe dinge nagelaat uit
verkeerde motiewe. Miskien het ek dit gedoen uit liefde vir
myself. Ek wou nie die risiko loop om uiteindelik myself seer te
maak nie.

Liefde is egter iets positiefs. Iets wat ek vir
die heil van ander doen. Geduldig wees, vredeliewend. Paulus sê:
as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede
met alle mense (Rom 12:18).

Wees sagmoedig. Ek is dan nie onmiddellik
ontstel as iemand op my tone stap nie. Ek bly positief en soek
die beste vir die ander. Wees barmhartig en vriendelik. Om
vriendelik vir my naaste te wees beteken nie dat ek altyd so
’n persoon sy sin gee nie. Liefde beteken dat ek die beste
vir hom soek, dws dat ek die persoon se ontwikkeling as kind van
God soek. Dit kan beteken dat ek die persoon moet teenstaan,
korrigeer of vermaan. Doen ons as ouers nie dieselfde wanneer ons
werklik ons kinders liefhê nie. Ons bestraf hulle vir hulle
beswil.

Die liefde dien die naaste sodat hy kan wees
wat God hom wil laat wees. Sodat die naaste die plek van
verantwoordelikheid kan inneem wat God hom wys, as sy
verteenwoordiger. Die lewe is immers baie meer as dat jy gevoed
word en dat jou hart klop. Die lewe is ’n saak van diens aan
God.

Ten slotte nog enkele woorde oor die naaste.
Dit is wat ek bedoel met die breedte van die gebod. Die derde
gedagte.

Wie is jou naaste? Is dit alle mense? Let
daarop dat Christus in die samevatting van die wet nie sê:
"jy moet alle mense liefhê soos jouself" nie. Nee,
Christus sê: jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Dit maak
die gebod veel konkreter. Dikwels is dit makliker om liefde te
wys vir iemand ver weg as vir mense wat naby is, as vir jou eie
ouers, kinders, broers en susse, klasgenote, werkmaats, brs en
srs in die kerk. Dis makliker om geld te stuur vir hulle wat ver
weg in nood verkeer as om hulle in jou eie straat te help. Dit
vereis meer persoonlike insette.

Deur die gelykenis van die barmhartige
samaritaan maak die Here egter duidelik dat ons moet begin om
liefde te wys naby. Jou naaste is die persoon wat jou pad kruis,
die persoon waarmee jy in aanraking kom. Daarom begin die gebod
om lief te hê by die huis, in jou gesin. Wys jy as ouers egte
liefde, geduld ens vir jou kinders? Dis nie voldoende om hulle
kos te gee nie en om te sorg dat hulle ’n goeie opleiding
kry nie. Hul waarde lê in hul skepping na God se beeld en in
hulle vernuwing na sy beeld. Daarom is dit die belangrikste
waarop u moet let as liefdevolle ouer. Jy wil veral hê dat hulle
groot mag word as God se profete, priesters en konings. Wys jy
ware liefde vir jou ouers, jou vrou of man, jou broeders en
susters, jou huisgenote? Die kring word steeds groter. Wys jy
liefde vir die mense wat jy by die skool of by die werk ontmoet?
Wat van jou liefde vir jou brs en srs in die kerk? Help jy hulle
soveel as moontlik om te wees wat God wil hê dat hulle sou wees?
Die kring word wyer totdat ons kom by die verre naaste. Die verre
naaste mag ook ’n beroep op jou liefde doen.

Broeders en susters, benader hierdie wêreld
met die liefde van Christus. In ’n liefdelose wêreld vol
van haat en bloedvergieting moet die kerk homself wys as ’n
tuiste van liefde. Dis baie moeilik. Menslikerwys gesproke selfs
onmoontlik. Maar Christus se liefde vuur ons aan. Sy
onselfsugtige liefde om vir ons sondaars te sterwe. Weerspieël
die liefde in jou gesin, in die kerk, onder jou jaargenote en
onder jou kollegas by die werk. Het jou naaste lief soos jouself.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)