Eer jou vader en jou moeder

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-01-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 39
Preek Inhoud: 

Sondag 39
Ds C Kleyn - Sondag 21 Januarie
2001

Lees: Efésiërs 5:15-6:9;
Sondag 39.
Sing: Ps. 98:1,2; Ps. 98:3,4;
Ps. 86:5,6; Ps. 71:4,9,10; Ps. 131

Tema: Eer jou vader en jou moeder

  1. Die diepte van die gebod: eer jou
    vader en moeder;
  2. Die hoogte (erns) van die gebod: eer hulle
    terwille van God; en
  3. Die breedte van die gebod: eer almal
    wat oor jou gestel is.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat is die allereerste verhouding waarmee ons
hier op aarde te make kry? Is dit nie die verhouding met ons
ouers nie? Ons is gebore as kinders van ons pa en ma. Hoe het ons,
in elk geval die meeste van ons, die eerste kontak met die kerk
gekry? Tog deur ons ouers? By my doop het my ouers my in die kerk
ingedra. Ek het die teken van inlywing in die kerk ontvang as
kind van my gelowige ouers. As lid van die gesin het ek
uiteindelik ander lewensverbande binne getree.

Elke kind het allereers met sy pa en ma te make.
Tuis, by pa en ma, begin in die reël elke lewe. Pa en ma ontvang
gesag oor jou. Hul gesag is die eerste en die mees natuurlike
vorm van gesag. Dit is fundamenteel vir alle ander
gesagsverhoudings. Dit is van onskatbare waarde vir alle ander
gesagsverhoudings. Daar, tuis by pa en ma, leer ’n mens wat
gesag is en hoe jy daarteen moet staan.

Daarom, wanneer die Here oor menslike
gesagsverhoudings wil praat, noem Hy uitdruklik die verhouding
van ouers-kinders: Eer jou vader en jou moeder.

Vanaand wil ek die gebod verkondig: eer jou
vader en jou moeder

Ons let op drieërlei:

  1. Die diepte van die gebod: eer jou
    vader en moeder;
  2. Die hoogte (erns) van die gebod: eer hulle
    terwille van God;
  3. Die breedte van die gebod: eer almal
    wat oor jou gestel is.

Wie spreek die Here aan in hierdie gebod? Seuns
en meisies, in hierdie gebod spreek die Here uitdruklik julle aan.
Julle kry die opdrag om julle vader en moeder te eer. Tog geld
hierdie gebod nie slegs vir die jong kinders nie. Soos alle ander
gebooie, geld ook hierdie gebod vir jongeres en oueres. Dit geld
selfs vir hulle wat reeds getroud is. Die manier waarop ek my
ouers eer, sal verskil na ouderdom en omstandighede, maar die
gebod bly geld.

In die verlede, in ’n agrariese samelewing,
was dit meer vanselfsprekend as vandag. Toe het ouere en jong
gesinne meestal binne ’n groter familie verband, ’n
stamverband, geleef. Die geslagte het by mekaar gebly. So het
getroude kinders nog veel met hul ouers te make gehad. Die
geskiedenis van Jakob gee ons ’n voorbeeld van so ’n
familie verband. In Gen 46 lees ons dat Jakob al sy nakomelinge
na Egipte gebring het, sy seuns en kleinseuns, sy dogters en
kleindogters, alles wat aan hom behoort.

In so ’n agrariese samelewing het die
afsonderlike gesinne saam op die familie besit bly woon. So het
die stamvaders tot hul dood ’n sekere gesag oor hul kinders
uitgeoefen.

Hieruit is dit duidelik dat die 5e gebod hom
nie slegs tot die jong kind rig nie. Dit geld ewe eens vir die
volwasse Israeliet wat in die familieverband lewe. Dit geld selfs
mbt die oorlede ouers. Hoe eer ’n mens oorlede ouers? Deur
hulle bv ’n eervolle begrafnis te gee. Die aartsvaders het
ons daarin ’n voorbeeld nagelaat.

Natuurlik is daar ’n verskil tussen die
kind tuis by pa en ma en die volwassene.

Hoe kan jy jou vader en moeder eer? Eerstens
deur hulle te gehoorsaam. Paulus benadruk dit wanneer hy skryf:
"Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here,
want dit is reg" (Ef 6:1). Om gehoorsaam te wees beteken dat
jy na hulle luister. Jou ouers het iets om vir jou te sê. Ja,
hulle het seggenskap oor jou. Hulle moet jou lei en baie leer.
Daarom: luister goed na hul onderwysing en tug.

Dit kan gebeur dat ek enkel uit ’n sekere
respek hulle woorde aanhoor, om daarna weer gewoon my eie gang te
gaan. Eer ek daarmee werklik my ouers? Om hulle te eer is meer.
Dit is: om te luister en te doen. Ek moet hul onderwysing ter
harte neem, dit opvolg, gehoorsaam. Nie hulle gewoon laat praat
nie. Maar hulle gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg.

Ja, gehoorsaam wees ook wanneer hulle iets vir
my sê wat ek as minder prettig beskou. Wanneer hulle bv bepaalde
reëls stel wat ek te streng vind. Bv, met betrekking tot uitgaan,
feesvier of selfs vriendskappe. Hulle het iets om vir jou te sê.
Probeer om te verstaan wat hulle sê, waarom hulle dit sê en wat
hulle daarmee beoog. Jy is nog jonk en onervare. Hulle is aan jou
gegee om jou te lei en te onderrig. Luister daarom na hul goeie
leer en tug. Ook al sou dit jou nie pas nie.

Beteken dit dat jy altyd moet doen wat jou
ouers van jou vra? Die Skrif praat van gehoorsaamheid in die
Here. Die Kat praat van gehoorsame onderwerping aan hul goeie
leer en tug. Die ouers het nie ’n grenslose gesag nie. As
hulle slegte, sondige dinge vra dan mag ek hulle nie gehoorsaam
nie.

Maar hoe weet ek wanneer iets sleg is? Dit word
nie bepaal deur my gevoelens nie. Neem ’n verhouding wat my
ouers afkeur. Ek het sterk gevoelens oor hierdie saak. Ek is
immers baie lief vir die persoon. Ek kan nie gehoorsaamheid weier
omdat ek nie daarvoor lus is nie. Die norm is nie my persoonlike
gevoelens of wense nie. Die norm is God se Woord. As kind mag ek
nie self bepaal in hoeverre ek my ouers gehoorsaam sal wees nie.
Dit bepaal God.

Wanneer iets teen sy geopenbaarde wil is, dan
hou die bevel tot gehoorsaamheid op, dan mag ek nie gehoorsaam
nie. As ek op grond van die Skrif kan aantoon dat die verhouding
wat ek wil aangaan in ooreenstemming met God se wil is, dan kan
ek hulle op daardie gebied nie gehoorsaam nie. As dit egter blyk
dat hulle eise in hierdie verband voluit skriftuurlik is, bv dat
hulle die eis stel dat die eenheid van die geloof eers sigbaar
moet wees, dan moet ek hulle gehoorsaam, wat ek self ook mag voel
of dink.

Die gehoorsaamheid moet ook ’n gepaste
gehoorsaamheid wees. As ek dit met ’n opstandige gees doen,
dan het ek die gebod nog nie gehoorsaam nie. Om hulle slaafs
gehoorsaam te wees omdat ek bang vir straf is, is ook nie die
vervulling van hierdie gebod nie. Die Here gebied dat ek hulle
moet eer. Om hulle te eer is baie meer as slegs om te doen wat
hulle sê, ongeag my houding en gesindheid. Die gebod gaan dieper
as die uiterlike gedrag. Om my ouers te gehoorsaam beteken nie
noodwendig dat ek hulle werklik eer nie. En dit is wat die Here
van my vra. Die woord eer wys dat God die juiste gesindheid, die
houding van respek soek. Dit moet ek wys in my gehoorsaamheid,
’n eervolle houding.

Maar wat beteken dit presies om hulle te eer.
In die oorspronklike taal wys die woord eer op iemand se gewig.
Ouers het vir hul kinders ’n sekere gewig. Wat hulle sê of
doen moet vir die kinders gewig hê. As kind moet ek my ouers hul
volle gewig gee. Ek moet hulle belangrik ag, hulle hul volle
waarde gee. Dan behandel ek my ouers nie as my gelyke nie, hoe
liefdevol die verhouding ook mag wees.

Maar wat is dan hulle gewig? Daar wil ons op
let in die tweede punt. Die hoogte van die gebod: eer hulle
terwille van God.

Waarom moet ek my ouers eer? Wat is dan hul
gewig? Moet ek hulle eer vanweë hul ervaring in die lewe? Of
omdat hulle so kundig, so sterk of so wys is? Maar wat moet ek
dan maak as my ouers nie sterk, wys of kundig is nie? As hulle
geen persoonlike oorwig oor hul kinders het nie? As hulle maar
moeilik leiding kan gee en hul kinders nie onder tug kan hou nie?
Wat moet ons dan maak met ouers wat minder kennis, wysheid of
kundigheid as hul kinders het? Daar is baie kinders wat vandag
hul ouers op allerlei terreine oortref. Beteken dit dat hulle hul
ouers dan nie meer hoef te eer nie? Geld die 5e gebod dan nie
meer nie?

Broeders en susters, dit is duidelik dat ons
nie in die rigting moet gaan nie. Die 5e gebod is algemeen en
spreek alle kinders aan, ongeag hoe die ouers is.

Waarom moet ek hulle eer? Omdat God my deur
hulle wil regeer. Dit gewig van my ouers is God se aanstelling.
Hulle is God se dienaars. In sy wysheid het God hulle oor my
aangestel. Hy het hulle aan my as pa en ma gegee. Hy het my
’n plek gegee in daardie gesin, met daardie ouers. Alle
gesag kom van God. Daarom moet ons ons met die verskuldigde
gehoorsaamheid onderwerp terwille van God.

Om my ouers te eer hang nie af van menslike
gevoelens of kwaliteite nie. Dit is nie afhanklik van die
atmosfeer wat hulle in die huis skep nie, of van die liefde wat
hulle wys nie. Dis ook nie afhanklik van hulle ervaring of kunde
nie. Dis goed om dit te benadruk. Hoe maklik word ouers vandag
nie afgeskryf as hulle nie egte liefde wys nie of as hulle sekere
kwaliteite mis. Inderdaad dit kan in sulke gesinne baie moeilik
wees. Onderskat dit nie. As kinders het jy dan ’n swaar
kruis om te dra. Maar diskwalifiseer dit jou ouers? Ontlas dit
jou van jou roeping om hulle te eer? Nee, want om jou ouers te
eer hang nie af van hul kwaliteite nie. Dit hang af van God se
aanstelling. God het hulle oor ons aangestel. Daarom moet ons
hulle eer.

Geliefdes, binne die kerk van Christus blyk die
gewig van ouers des te duideliker. Let maar op ons doop as
kinders. Van elke kind bely ons dat hy of sy in sonde ontvang en
gebore is. Tog mog ek as kind die teken en seel van God se
verbond ontvang. Hoekom? Ek was ’n kind van gelowige ouers.
My ouers was God se instrumente om my as kind op die pad van die
lewe te lei.

Wat is dan die gewig van my ouers in die kerk?
Seker dit in die eerste plek: dat God my deur hul hand wou lei op
die pad van die lewe. Hulle het my gelei. In swakheid en met
tekortkomings. Dis waar. Maar dit weeg nie op teen die groot
gewig wat God aan hulle vir my gegee het.

As ek dít sien en waardeer as die belangrikste
in my lewe, dan sal ek met hulle gebreke geduld hê. Ouers is mos
ook swak en sondige mensekinders. Tog ontvang hulle so ’n
groot verantwoordelikheid om kinders op te voed namens die Here.
Dink daar eers oor na! Wie is in staat om dit getrou en volmaak
te doen? Geduld is nodig, geduld met hul swakhede en gebreke. Wat
’n geduld wys die Here nie daagliks vir my nie!

In díe lig wil ons tog ons christelik ouers
eer? Of nie soms? Deur hulle behoort ek by God se volk. Deur
hulle hand het God my gelei of wil God my lei op pad na die ewige
lewe. Sou ek dan nie luister na hulle goeie leer en tug nie?

Ja, gemeente, die Here weet wat Hy doen,
wanneer Hy ouers oor ons aanstel. Ons kan nie sonder leiding nie.
As ek in sonde ontvang en gebore is, sal ek dan outomaties
grootword as iemand wat die Here ken en dien? Dis onmoontlik! Om
my sover te kry moet daar baie gebeur. Die Gees van God moet
ingryp. En die Gees doen dit eerstens deur my ouers. Daarom:
luister goed na jou ouers, selfs as jy dink dat jy dit beter weet.
Oorskat jouself nie. Ook jy is in sonde ontvang en gebore. Van
nature is ook jy dwaas. En die dwaasheid laat hom nie sommer
verwyder nie. Wysheid moet geleer word. Daarom, laat jouself lei
deur die goeie leer en tug van jou ouers. Besef die gewig wat God
aan hulle gegee het in jou lewe. Eerbiedig hul gesag. Het geduld
met hul gebreke. Pleks van opstandig wees, help hulle om hul hoë
roeping te vervul.

Nee, nie alle ouers is getrou nie. Nie alle
ouers voed hul kinders op in die tug en vermaning van die Here
nie. Baie ouers gee hul kinders slegs ’n humanistiese, wêreldse
of materialistiese opvoeding. Maar ook dan bly hulle dienaars van
God. God het hulle geroep tot die amp van ouer. Dit moet ons bly
respekteer. Selfs as ek ’n moeilike ervaring met my ouers
gehad het, met ouers wat my bv nie op die regte pad gelei het nie.
Dan bly die 5e gebod van krag: eer jou vader en jou moeder. Die
manier waarop jy dit doen sal anders wees as in die geval van
werklik gelowige ouers. Dit kan soms baie moeilik wees om inhoud
aan die 5e gebod te gee. Tog moet ons bly vashou: die ouers het
hul posisie van God ontvang. Hulle was God se instrument om my in
die wêreld te bring. Wys respek vir hulle. Moontlik sal hulle
deur jou getrouheid hul eie ontrou ontdek en erken. Bid en werk
sodat hulle God as hul Heer mag soek en erken. Eer hulle terwille
van God.

Nou die derde punt: die breedte van die gebod:
eer almal wat oor jou gestel is.

In die inleiding het ek reeds daarop gewys dat
die gesag van vader en moeder die mees natuurlike en fundamentele
gesagsverhouding is. Daarom noem God uitdruklik die verhouding in
die 5e gebod.

Dit wil nie sê dat die 5e gebod daarmee eindig
nie. Soos by die ander gebooie, noem die 5e gebod nie alle
moontlike gevalle nie. God noem een kenmerkende geval om ’n
hele skale van gevalle te dek. Tereg spreek die Kat van almal wat
oor my gestel is. Die 5e gebod geld vir alle gesagsverhoudings.

Dink aan die verhouding tussen owerheid en
onderdane. In Rom 13 noem die Here die owerhede uitdruklik sy
dienaars. Daarom moet elke mens hom onderwerp aan die magte wat
oor hom gestel is. Want daar is geen mag behalwe van God nie, en
die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die
mag versit, die instelling van God weerstaan. Daarom moet ons aan
almal betaal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat
belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan
die wat eer toekom (Rom 13:1,2,7). Gehoorsaamheid mag slegs
geweier word indien hulle dinge vra wat teen God se wil ingaan.
God wil ons mos deur hulle hand regeer.

Ons kan ook dink aan die verhouding tussen
ampsdraers en gemeentelede. Die Here gebied in Hebr 13:17: "Wees
gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak
vir julle siele." Die ampsdraers is inderdaad slegs
mensekinders met hul eie swakhede en gebreke. Jesus Christus is
die enigste volmaakte ampsdraer. Tog wil God ons deur die
ampsdraers regeer. As ek die gewig wat God aan hulle verleen
eerbiedig, dan sal ek my aan hul goeie leer en tug met gepaste
gehoorsaamheid onderwerp en geduld met hulle gebreke hê.

Ons kan die 5e gebod ook betrek op die
verhouding tussen ’n man en sy vrou. Die aard van die
gesagsverhouding is natuurlik anders as dit tussen ouers en
kinders. ’n Vrou is geen kind of slaaf nie. Tog is daar ook
sprake van gesag deur God verleen. Daarom lees ons in Ef 5:22:
"Vroue wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here."
Bewys aan hulle alle eer, liefde en trou. Dit beteken ook:
aanvaar sy leiding en help hom in alle goeie dinge. Dit gee die
man geen vrybrief om met haar te maak wat hy wil nie. God gee ook
sy opdrag vir die mans en vir alle gesagdraers sodat hulle hul
posisie nie misbruik nie, maar liefdevolle leierskap gee.

Paulus verwys ook na die verhouding slaaf-heer.
In ons samelewing het ons nie meer slawe nie, hoewel dit soms wel
daarop lyk as ons die misbruik en vernedering van veral swart
mense in ons land raakloop. Ons ken dus nie meer die posisie van
slawe en here nie. Ons moet dus versigtig wees met die toepassing
van die 5e gebod en Paulus se verklaring daarvan vir vandag.

Vandag word die werkgewer-werknemer verhouding
in die reël bepaal deur ’n arbeidsooreenkoms. Die werknemer
aanvaar vrywillig die werk wat aangebied word onder bepaalde
voorwaardes en is vry om die kontrak te beëindig en elders te
gaan werk na ’n afgesproke periode. Hoe anders is dit in
vergelyking met die situasie in die antieke wêreld, waar die
heer letterlik die eienaar van die slaaf was. Maar ook vandag is
daar binne die arbeidsooreenkoms ’n gesagsverhouding. Binne
die ooreenkoms het ons een wat gesag uitoefen en een wat daaraan
onderworpe is. Die werkgewer mag en moet opdragte gee. Hy mag ook
verwag dat die opdragte binne die vasgestelde voorwaardes
opgevolg word. In die sin het die werkgewer, die direkteur of die
bedryfsleier gesag oor die werknemer. En die werknemer is verplig
om binne die terme van die kontrak te gehoorsaam soos aan
Christus. Laat God se gebod dus u optrede by die werk bepaal. Ken
u eie plek. Respekteer die plek van ander wat in die situasie
’n sekere seggenskap hê.

Ons kan ook noem die verhouding onderwysers-leerlinge.
Die onderwysers het gesag oor die klas waaraan hulle les gee. As
leerling moet ek myself onderwerp soos aan Christus, terwille van
God. Dit is nie altyd maklik nie. Jy is nog jong en jy hou wel
van ’n grap. Wanneer die onderwyser geen orde in die klas
kan hou nie, dan is dit verleidelik om kattekwaad uit te haal.
Maar onthou, die 5e gebod geld ook vir die situasie. God vra van
my dat ek aan my onderwysers alle eer, liefde en trou bewys en
dat ek my aan hulle goeie leer en tug met die verskuldigde
gehoorsaamheid onderwerp en dat ek met hulle gebreke geduld hê.
Nie omdat die onderwyser so bekwaam of vriendelik is nie. Maar
omdat God my deur sy hand wil regeer. Vir my beswil. Kattekwaad
kan oulik wees vir 5 of 10 minute, maar daarna is dit stom
vervelend. Niemand baat daarby. Jy staan jou ontwikkeling in die
pad.

Seuns en meisies, julle behoort aan God? Julle
ken Hom as diegene wat mense oor julle aangestel het? Wys dan jou
gehoorsaamheid aan God deur jou met die verskuldigde
gehoorsaamheid te onderwerp. Eer jul onderwysers en luister na
hulle soos aan Christus. Daarmee vind almal baat, jou onderwyser,
jou klasgenote en jouself. En wat nog belangriker is: God sal
daardeur die eer ontvang wat Hom toekom.

Gemeente, u hele lewe moet deur onderdanigheid
gekenmerk word. Paulus skryf: Wees aan mekaar onderdanig in die
vrees van God (Ef 5:21). Christene moet ondergeskikte mense wees.
Dws, ons moet bereid wees om mekaar se dienaars te wees. As
Christen moet ek herken kan word aan my onderdanigheid.

Hoe kan ek die eienskap vertoon? Deur met die
Gees van God vervul te wees. Die woorde van vers 21 "wees
aan mekaar onderdanig" is afhanklik van die woorde van vers
18: "Moenie dronk word van wyn nie; maar word met die Gees
vervul."

Broeders en susters, seuns en meisies, kan
mense julle herken as mense wat met die Gees van God vervul is?
Tipeer onderdanigheid jul lewe, onderdanigheid is die vrees van
God? Wys julle dit in julle houding teenoor almal wat oor julle
gestel is, ook teenoor die huidige owerheid? Of is julle vervul
met die rewolusionêre gees van hierdie tyd.

Eer jou vader en moeder. Eer almal wat oor
julle gestel is. Doen dit terwille van die Here, uit dankbaarheid
vir sy reddende genade.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)