Die God van die verbond roep ons op om sy dag te heilig

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-01-14
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 38
Preek Inhoud: 

Sondag 38
Ds C Kleyn - Sondag 14 Januarie
2001

Lees: Exodus 31:12-17; Psalm
92; Sondag 38.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis;
Ps. 96:5,6,8; Ps. 92:1-4; Ps. 92:5-7

Tema: Die God van die verbond roep ons op om
sy dag te heilig

Dit beteken:

  1. Dat ek op die dag rus van my daaglikse
    arbeid; en
  2. Dat ek die dag aan die Here wy.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe ervaar u die Sondag? Watter waarde het die
Sondag vir u? Belangrike vrae by die besinning op die 4e gebod.
Vandag is die besinning nodig. Die Sondag het vir baie aan waarde
ingeboet. Dit het vir baie geword soos die vrye Saterdag. ’n
Dag van die mens. ’n Dag van uitgaan en vermaak.

Tegelykertyd neem die arbeid op die Sondag toe.
En nie slegs strik noodsaaklike arbeid nie. Ook arbeid wat om
ekonomiese redes gedoen word. Christelike ondernemers kom steeds
meer onder druk te staan om hul bedrywe ook op die Sondag oop te
hê. Beurse en tentoonstellings word dikwels op Sondag oopgestel.

Gemeente, hierdie ontwikkelings gaan ons nie
verby nie. Ons word as Christene daarmee gekonfronteer en tot
’n keuse gedwing, soms ’n baie pynlike keuse. Wat moet
ek as ondernemer maak as ek in die konkurrensie slag dreig om
onder te gaan omdat my kollegas ook op Sondag hulle dienste
aanbied? Wat moet ek as werknemer maak as my baas van my eis dat
ek ook op Sondag werk of dat ek anders kan loop. Wat moet ek as
werklose wanneer ek wel werk kan kry op voorwaarde dat ek bereid
is om ook op sondag te werk in ’n bedryf wat nie op Sondag
oop hoef te wees nie? Moet ek dan terwille van die werk tog maar
sondagsarbeid aanvaar? Moeilike vrae. Moeilike situasies. As ek
’n antwoord daarop wil vind dan moet ek eers die
uitgangspunte skerp in beeld hê. Daarvoor sal ek na God se gebod
moet teruggaan. Ek wil immers as ’n Christen my weg soek in
die konkrete situasie.

God sê ook vandag: gedenk die sabbatdag dat jy
dit heilig. Dink aan die sabbatdag deur dit te heilig. Die bevel
kom in Ou Testamentiese taal. Daar is sprake van die sabbatdag.
Vandag in die N.T. het ons die Sondag in plaas van die sabbat.
Met Christus se opstanding het die 7e dag verskuif na die 1e dag
van die week. Deur die leiding van die Heilige Gees het die
Christelike kerk die eerste dag van die week gesien as die dag
van die Here, as die dag van die heilige samekoms. God se volk
mag nou elke week die dag van Christus se oorwinning vier. Ons
mag vanuit die oorwinning die werkweek ingaan. Ondanks die
verskuiwing van die dag, bly God ons aanspreek: Gedenk die
sabbatdag dat jy dit heilig.

Wat beteken dit om die dag te heilig? Om te
heilig wil sê dat ek die dag afsonder van die ander dae van die
week, dat ek die dag anders as die ander dae bestee. Daar is van
die dae wat so apart van karakter is, dat baie ander dinge gewoon
nie by die dag pas nie. My troudag bv is so besonder dat ek nie
op die dag ook na werk toe gaan nie. Wanneer iemand van my naaste
familie afsterwe, dan laat ek op die dag van die begrafnis baie
ander daaglikse aktiwiteite agterweë. So sonder die Here die
sondag af van die ander dae. Hy wil dat ek Hom daarin navolg: dat
ook ons die dag afsonder, dat ons die dag as ’n aparte dag
behandel en belewe.

Hoe doen ek dit? Deur te rus van my daaglikse
arbeid en deur die dag af te sonder vir die diens van die Here.
Soos dit in die 4e gebod genoem word, ek volg hier die vertaling
van wyle Prof Lettinga: "Gedenk die sabbatdag deur dit te
heilig. Ses dae het jy om te arbeid en al jou werk te doen, maar
die sewende dag is ’n sabbat wat aan die Here jou God gewy
is. Dan mag jy geen enkele arbeid verrig nie."

So wil ek aan u verkondig: die God van die
verbond roep ons op om sy dag te heilig

Dit beteken:

  1. Dat ek op die dag rus van my daaglikse
    arbeid
  2. Dat ek die dag aan die Here wy.

Hoe was die sabbat? Was dit ’n knellende
aangeleentheid, waarvan ’n mens liewer bevry wou word? En
hoe word die Sondag nou beleef? Dit kan mooi weer wees. Jou
vriende neem die boot en geniet van watersport terwyl jy kerk toe
moet gaan. Is die dag dan tog ’n knellende juk? As ek die
Bybel daaroor nalees, dan blyk die teendeel waar te wees. In Jes
58:13 word die sabbat ’n verlustiging genoem. Die mens mag
op die dag asem skep. Ek mag dit doen in navolging van God self.
Van God word immers gesê dat Hy na sy skeppingswerk op die 7e
dag gerus het en asem geskep het. Soos die Here die 7e dag gevier
het, so mag ook sy kinders dit doen op die sabbatdag: om weer
asem te skep.

Gemeente as ons die weergawe van die 4e gebod
in Deut lees, dan sien ons dat die sabbat werklik iets was om te
vier. Daar in Deut 5 word die viering van die dag verbind aan die
uittog uit Egipte. Die Israeliete moet daaraan dink dat hulle in
Egipte slawe was en dat die Here hulle daarvandaan bevry het.
Hulle mag die dag vier as ’n bevrydingsdag. Ook die
personeel moet ten volle van die rus kan geniet. Die Israeliete,
wat aan hul slawerny in Egipte herinner word, moet aan hul eie
slawe wys wat die bevryding van die daaglikse sware arbeid
beteken. Die sabbat is ’n bevrydingsfees.

In die N.T. noem die Here Jesus die sabbat ook
’n geskenk van God aan die mens. "Die sabbat is gemaak
vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie (Mk 2:27). Die mens
het rus nodig. Ek kan as mens nie sonder ophou bly werk nie. Dit
weet my Skepper. Daarom belet Hy my deur die sabbatgebod. As ek
dit sien, sou ek God dan nie prys nie. Dan prys ek God wat ons
mense rus gee. Wat ons mense sy heilsame wet gee.

In ons samelewing is daar baie stres. In die
bedryfslewe moet dikwels onder hoogspanning gewerk word. Die lewe
is dikwels gejaag. Mense kan maar nie tot rus kom nie. Wie ervaar
nie die druk van die lewe met sy baie verantwoordelikhede nie?
Daar word baie van ’n mens gevra. Wat ’n seën van die
Here is dit dan dat Hy vir die nodige rus sorg. Een dag per week
vry van beroepsarbeid. Een dag per week om asem te skep, om tot
rus te kom. Soos Afrikaanse gidse dit eens so mooi geformuleer
het: Ons rus op die Sondag sodat ons siele ons liggame kan inhaal.
Indien elkeen hierdie heilsame gebod sou hou, dan sou daar minder
mense oorspanne wees. Nee, ek wil nie beweer dat daarmee alle
oorspannenheid oorwin sou kan word nie. Oorspannenheid kan ook
heel ander oorsake hê. Tog sou die gehoorsame nalewing van God
se gebod baie siekteverskynsele kan voorkom. Dit het God ook op
die oog as Hy sy heilsame gebod gee. Hy tref maatreëls sodat ons
die lewe kan volhou en geniet.

Maar, gemeente, wat tot seën aan die mens
gegee is, blyk dikwels ’n swaar opgawe te wees. Dit blyk
dikwels moeilik te wees om te doen wat goed vir ons is. So gebeur
dit dat die Sondag dikwels die oorloop van die week word. Deur
die week kom ek nie klaar met my werk nie. Op Sondag doen ek dan
die laaste bietjies wat oorgebly het. Of: in die week het ek geen
tyd vir my stokperdjies nie. Dan maar die Sondag daarvoor gebruik.
By die jong mense kan dit gebeur dat hulle tydens die week soveel
ander dinge doen, dat hulle die huiswerk of die studie vir ’n
toets nie voltooi nie. Dan maar op Sondag dit doen. Op Sondag
neem ek immers nie deel aan sportwedstryde nie. Dan is dit ’n
dag waarop ek maklik huiswerk kan doen. Tussen of na die dienste
is daar tyd genoeg.

Maar, broeders en susters, hierdie gedagtegang
is nie reg nie. Die Sondag is geen oorloop vir werk wat deur die
week gedoen moet word nie. Die Sondag is ’n dag om te heilig.
Dit is ’n aparte dag. ’n Dag wat ek nie met die vrye
Saterdag kan vergelyk nie. Ook nie met ’n vrye Saterdag
waarop ek dan een of twee maal kerk toe gaan nie. Alleen van die
Sondag sê die Here dat Hy die dag geheilig en geseën het. Dan
is die dag nie slegs geheilig tydens die eredienste nie, maar as
geheel. En om die dag te heilig beteken oa dat ek op die dag, ter
onderskeiding van die ander dae, rus. Dit beteken dat ek van my
gewone daaglikse besighede loskom. Dat ek daarvan afstand neem.

Dit is vir die mens ’n opgawe. Daar is
mense wat dit nie kan nie. Daar is mense wat dink dat dit fout
gaan as hulle een dag rus neem. Daar is mense wat so op die maak
van wins gerig is dat hulle geen rus ken nie.

Deur die 4e gebod word ons almal op die proef
gestel. Die neem van rus op die Sondag is ’n duidelik proef
op die som óf ek die hef in eie hande wil hou, óf dat ek my
lewe aan die Here toevertrou. Die mens wat sy sake self in hande
wil hou, ervaar die onderbreking van werk op Sondag as hinderlik.
Die onderhouding van die dag vra om geloof. As die geloof verdwyn
dan verdwyn daarmee ook die ware viering van die Sondag.

Daarom is die onderhouding van die Sondag as
’n rusdag ’n testcase insake ons vertroue op God. Durf
ek om die werk ’n dag te laat lê in vertroue op God? Durf
ek dit wanneer ek sien dat die konkurrente dit nie doen nie? So
is die neem van rus op Sondag ’n stuk verloëning van ons
eie wil. Sommiges erken dit en neem rus, maar selfs tydens die
kerkdiens kan hulle nie nalaat om allerlei berekenings en planne
vir die werk te maak nie. Is dit ’n rus om asem te skep?
’n Rus waartoe die Here ons oproep?

Om te rus, om die daaglikse werk te laat rus,
is ’n blyk van geloofsvertroue, ’n vertroue daarop dat
wie na God se gebod handel God se seën sal wegdra. Om werklik
rus te neem is ’n geestelike stryd wat ook ons kinders moet
leer. Ook as dit gaan oor huiswerk doen en dergelike dinge. Op
Sondag vra die Here van ons twee dinge: dat ons rus van ons werk
en dat ons die dag aan die Hom wy.

Hierdie rus word vandag bedreig. Ons sal dit
moet verdedig teen die samelewing waarin ons leef, maar ook teen
onsself. Ons bedreig dikwels self ons rus deur allerlei werk na
die Sondag te skuif. Daardeur word die Sondag ’n verlengstuk
van die week. God wil hê dat ons rus op die een dag. Ons mag en
hoef geen slawe van ons werk te wees nie, nog van die magtige
dollar nie, nog van ons stokperdjies nie of van kerkwerk nie. In
sy goeie sorg gee God ons ’n dag om asem te skep. Jy mag
werklik tot rus kom, ontspan.

So kom ons by die tweede punt: om die dag van
die Here te heilig beteken nie slegs dat ons rus nie, maar ook
dat ons die dag aan die Here wy.

Die Sondag is goed vir ons mense. Ons mag
geniet van die rus. Maar dit is nie ’n dag van die mens nie.
Die Here noem dit telkens sy dag. Dit is die dag van die Here.
Die teks van die 4e gebod praat van ’n sabbat wat aan die
Here jou God gewy is. Dit moet ’n dag wees om die Here te
loof. Dink aan Ps 92. ’n Dag om op ’n besondere manier
gemeenskap met die Here te beoefen.

Op die sabbat het God se volk ekstra offers
gebring. Daar was heilige samekomste. Om te rus en om die heilige
samekomste te hou gaan kennelik saam. Hulle word dikwels saam
genoem. Ons lees bv in Lev 23:3 in die nuwe vertaling: "Die
sewende dag is ’n rusdag, ’n sabbat waarop julle ’n
gewyde byeenkoms moet hou. Dan mag julle geen werk doen nie.
Julle moet die sabbat aan die Here wy, waar julle ook woon."

As jy die sabbat heilig, dan dink jy nie slegs
aan jouself nie. Die sabbat is ’n vreugde vir die mens, maar
die mens vind sy diepste vreugde in die Here. Daarom vorm die
eredienste ook die hart van ons viering van die Sondag. Die
eredienste waarin die Here sy volk ontmoet. Die kat wys ook op
die sentrale plek van die eredienste. In Christus se gemeente is
die Sondag voor alles ’n blye dag. ’n Fees wat die Here
vir sy verloste volk berei. ’n Dag van die feestelike
vergadering. ’n Dag waarop ons op ’n besondere manier
van die omgang met die Here ons God mag geniet. ’n Dag
waarop God sy volk wil seën. Waarop God ons nuwe kragte wil gee,
om as kinders van Hom hier te lewe, te werk en te stry.

Die sondagse eredienste staan dan nie op
hulself nie. Daar gaan iets van uit. Dit werk iets uit. Dit gee
kragte vir die lewe van elke dag met sy beslommerings. So straal
die een dag uit na die 6 gewone werkdae. Daarom vervolg die kat:
"Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke
rus en die Here deur sy Gees in my laat werk. So begin ek die
ewige sabbat reeds in hierdie lewe."

Ja, broeders en susters, om as christen te lewe
en te werk is geen eenvoudige saak nie. Daarvoor het ek kragte
van bo nodig, kragte wat God veral ook in die eredienste wil
uitdeel. Die dienste herinner my aan my plek in die wêreld, aan
die band wat ek met God het. So wil die Here ook die band
onderhou. Dit is daarom tot my eie skade as ek die dienste
verwaarloos. Daarmee plaas ek my verhouding met God op die spel.
’n Mens sien dit in die praktyk. Wie die sondagse eredienste
verwaarloos, gaan met verloop van tyd die hele breë lewe aan die
diens van die Here onttrek. Die geloof of geloofslewe sterf af
omdat ons dit dan van die bron losgemaak het.

Daarom is dit ook ’n gevaarlike
ontwikkeling as mense daar ’n gewoonte van maak om slegs een
maal kerk toe te gaan, terwyl hulle in staat is om twee maal te
gaan. Dit beteken nie slegs ’n verarming nie. Maar dit
beteken ook ’n aantasting van die Sondag as dag van die Here.
Die praktyk van een diens per Sondag lei gou tot ’n karakter
verandering van die Sondag. Dit word dan gou ’n vrye dag van
die mens. ’n Dag soos kersdag. Soggens kerk toe en verder
’n vrye dag. Vry om in te vul en te bestee soos jy wil.
Gekoppel aan die Saterdag, die naweek, waarbinne daar dan een
uurtjie vir godsdiens gereserveer word. ’n Dag van die mens,
met een uur vir God. Terwyl die bedoeling is: dag van die Here,
goed vir die mens.

Laat dan niemand die geheim van die Sondag as
dag van die Here vergeet nie. As dag van die ontmoeting met die
Here in die kerk. Hier word die rus geskenk. Die rus in die
oorwinning van Jesus Christus. Die rus in die werk wat Christus
volbring het. Dan is dit geen vraag meer of een keer kerk toe
voldoende is nie. Ek wil die meeste van die dag van die Here maak.
Ek wil die bemoediging, die leiding, die krag wat die Here my vir
die daaglikse lewe wil gee, ontvang. Waar moontlik wil ek dan
getrou met God se volk vergader om God se lewende en kragtige
woord te hoor, om die sakramente te gebruik en om die Here
openlik aan te roep.

Waar die bron van lig en krag genegeer word,
daar sien ’n mens dat die lewe steeds meer ontheilig word.
Die daaglikse lewe en arbeid onttrek hom steeds meer aan God.
Daardeur ontstaan rusteloosheid en onsekerheid. So gebeur dit dat
sommige mense nooit werklik tot rus kom nie. Nooit die ware
geestelike rus vind nie. Hulle bly twyfel aan hulself, aan hul
God en sy woorde.

Gemeente, langs watter pad wil God u rus en
vrede gee? Wil Hy dit nie doen lang die pad van die gebruik van
die genademiddele, die middele van woord en sakrament nie.
Aanvaar ons wel voldoende die hulp wat God ons bied? Put ons wel
voldoende uit die Sondag? Die Sondag is tog bestem om ’n
bron van krag te wees. As ’n kragsentrale. Krag vir die
alledaagse lewe en stryd. Soek u en ontvang u wel bewus die
bevrydende kragte van bo, God se genade en gees, wat God in die
eredienste wil uitreik?

Broeders en susters, as ek nie optimaal gebruik
maak van die kragsentrale, die rusdag en met name die eredienste,
dan hoef ek nie te verwag dat my geestelike swakheid,
oppervlakkigheid en rusteloosheid oorwin sal word nie. Dan sal ek
moeilik my kan verhef bo die humanistiese en wêreld se manier
van dink en praat. En wat nog erger is: God sal dan nie die eer
ontvang wat Hom toekom nie.

Daarom: gedink die sabbatdag deur dit te heilig.
Dis goed om die Here te loof. Dis goed om sy dag aan Hom te wy.
Slegs so kan die dag werklik ’n seën wees. ’n Bron van
geestelike krag. So leer ek om weer anders teen die daaglikse
lewe en werk aan te kyk. Ek is geen slaaf nie. Ek is ’n kind
van die Here. Ek staan in die diens van God, nou en alle dae van
my lewe. God gee my krag om meer en meer van my bose werke te rus
en om in Hom op te staan tot ’n nuwe lewe. So begin ek die
ewige sabbat reeds in hierdie lewe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)