Verneder uself voor die Here en Hy sal u verhoog.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-08-06
Teks: 
Lukas 18
Preek Inhoud: 

Lukas 18:9-14
Ds C Kleyn - Sondag 6 Augustus
2000

Lees: Psalm 15; Lukas 14:7-11;
Lukas 18:9-14.
Sing: Ps 61:1-3; Ps 85:1,3; Ps 24:1-3;
Ps 51:1,6,8; Ps 131.

Tema: Verneder uself voor die Here en Hy sal u
verhoog.

  1. Wat die Fariseër en die Tollenaar kan
    aanbied;
  2. Wat hulle vra;
  3. Wat hulle ontvang.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Volgende week hoop ons weer die Heilige Nagmaal
te vier. Vanoggend wil ons ons daarop voorberei. Die vraag wat
ons daarby besig hou is: Hoe mag ek aan die tafel van die Here
verskyn. Ja, wie mag vertoef in God se tent? Wie het toegang tot
God se koninkryk? Wie mag van die weldade van sy ryk geniet?

Dit is goed om ons vantevore op hierdie vrae te
besin. Om aan die tafel van die Here aan te gaan mag geen sleur
wees nie. Die gevaar is wel aanwesig. Dit kan so gewoon word dat
ek aan die tafel gaan. Elkeen verwag dit van my. Gestel dat ek
sou wegbly.

Hoewel dit inderdaad normaal moet wees om aan
te gaan, moet dit nooit ’n vanselfsprekendheid word nie. Ek
moet goed weet wat ek doen as ek aanskuif aan die tafel. Dis nie
so dat elkeen outomaties aan die tafel welkom is nie. Die viering
is nie outomaties ’n seën nie. Dat kan ook so wees dat ek
leeg van die tafel weggaan. Ek het dan nie geniet van die skatte
van Christus nie.

Die gelykenis van die Fariseër en die
Tollenaar kan ons help by die besinning oor hierdie saak. Die
gelykenis gaan ook oor die vraag wie die koninkryk van God mag
ingaan en die skatte daarvan mag ontvang. Beide die Fariseër en
die Tollenaar is besig met die aloue vraag van Ps 15: Here, wie
mag vertoef in u tent? Wie mag woon in u heilige berg?

Ek wil aan u verkondig: verneder uself voor die
Here en Hy sal u verhoog.

  1. wat die Fariseër en die Tollenaar kan
    aanbied
  2. wat hulle vra
  3. wat hulle ontvang

Laat ons dan onsself ondersoek in die lig van
die gelykenis. Dink nie te gou dat u niks met die Fariseër
gemeen het nie. Dis baie maklik en verleidelik om onsself te
verhef en op ander neer te sien. Of om te vergelyk met ander.
Elkeen van ons staan voor God en moet vir homself rekenskap gee.
Laat ons dan ootmoedig ons besin oor ons lewe voor God.

Eers is daar die Fariseër. Hy gaan op na die
tempel om te bid. Hy weet waar die Here gesoek wil word. Hy gaan
na die juiste adres. God se bedehuis, die plek wat God gekies het
om daar sy naam te vestig. Hy soek die ware diens van die Here in
sy tempel.

Die Fariseër kan wys op sy nougesette lewe in
die diens van die Here. Hy is goed onderrig in die wet. Geen
bepaling ontglip sy aandag nie. Hy hou hom aan die bepalings van
die wet soos geen ander nie. Niemand kan hom oortref nie. As
iemand in God se tent mag vertoef dan hy in elk geval. By hom is
daar geen openbare sonde nie. Hy is nie soos die massa nie, nie
soos die rowers, wat met geweld die besit van ander mense gryp
nie. Nie soos onregverdiges, wat die reg van God skend en ander
onreg aandoen nie. Nie soos die egbrekers wat God se instelling
van die huwelik skend en hul liggaam ontheilig, soos mense wat
rondslaap nie. Nie soos die tollenaar nie.

Hy vergryp hom nie aan God se wet nie, ja Hy
gee God selfs meer as die wet voorskrywe. Eintlik hoef die Jood
maar een dag in die jaar te vas, naamlik op die groot versoendag.
Hierdie Fariseër vas egter twee keer in die week. Hy vas dus
vrywillig ongeveer honderd dae ekstra. Volgens die wet was die
Jode verplig om die tiende van die koring, mos en olie as ’n
soort tempel belasting af te dra. Geen kleinigheid nie, 10
persent van die bruto opbrengs van die vernaamste gewasse. Die
skare het dit dikwels nie so nou geneem met hierdie gebod nie.
Hierdie Fariseër kom egter op vir die reg van die Here. Hy gee
meer as wat hy verplig is. Hy gee die tiende van alles wat hy kry,
dus ook ’n tiende van groentes en peulvrugte.

U moet, broeders en susters, nou nie dink dat
die Fariseër hier huigel. Christus het die huigelary van die
Fariseërs dikwels moet bestry. Dikwels het hulle hulself mooier
voorgedoen as wat hulle was, terwyl hulle in werklikheid die wet
van God ontduik het. Baie van hulle het slegs ’n skone skyn
opgehou. Van die Fariseër uit die gelykenis het ons egter geen
rede om te twyfel aan sy opregtheid nie. Hierdie man word
voorgestel as opreg, regverdig en vroom. Hy is baie godsdienstig.
Hy moet wel by God in die guns staan. Daar is nie baie mense soos
hy nie. So ’n troue, vrome kerkganger kan nie geweier word
nie. Hy hoef ook nie te aarsel nie. Hy mag daar immers wees met
sy vrome lewe. So ’n man kan tog met volle vrymoedigheid
voor God verskyn? As ek so ’n lewe kan aanbied dan hoef ek
tog nie te vrees nie? Ons sou vandag sê: so ’n regverdige
en vrome man mag rustig aan die tafel van die Here aangaan. As Hy
dit nie mag nie, wie mag dit dan wel. So ’n vrome man is
daar op sy plek.

Dan is daar die Tollenaar. Hy kom ook na die
tempel om te bid. Hoe kan dit, sou ons sê. Hoe durf hy? Die
tollenaars het immers in Israel geen goeie reputasie nie. Selfs
Christus plaas die tollenaars op een lyn met sondaars en hoere.
Dink maar aan Christus se woorde oor ’n broeder die in sonde
verhard en hom nie steur aan die vermaan van die gemeente: laat
hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar, sê Jesus in
Mt 18.

Die tollenaars was amptenaars wat die belasting
op ingevoerde goedere moes in vir die Romeine. Die romeinse
owerheid het ’n tolgebied verpag aan iemand wat daarvoor die
hoogste bedrag gebied het. Die opbrengs van die tolgeld moes in
elk geval die pagsom plus onkoste oortref. Meestal het die
tollenaar geprobeer om soveel as moontlik tolgeld in te win. Daar
was wel algemene bepalings vir die tariewe, maar die tollenaar
het nog voldoende geleentheid ontvang om meer te vorder as wat
billik was. So het hulle dikwels op ’n onregverdige wyse
hulself trag te verryk deur bedrog en korrupsie en dit ten koste
van hul eie volksgenote en in diens van die romeinse oorheersers.
Daarom was die tollenaars by die bevolking gehaat. Hulle was die
parias van die samelewing, verstotelinge, kollaborateurs met die
romeinse besetters. ’n Fatsoenlike mens sou geen omgang met
hulle hê nie. Hy sou wel oppas om saam met hulle aan tafel te
sit. Wie soek nou omgang met sulke opligters, sulke vriende van
die onreine heidene? ’n Mens kan die minagting van die
Fariseër vir die Tollenaar begryp. So ’n sondaar behoort
daar tog nie in die tempel, die heilige huis van God nie. Hy kan
tog nie vertoef in God se tent nie? Vergelyk dit maar met die
rowers in ons samelewing of met homoseksuele of ander wat deur
hul seksueel wangedrag vigslyers geword het. Hoe sou u reageer as
so ’n bekende rower of homoseksueel hier in die kerk sou
instap? Sou u ook nie dink: wat doen die man hier. Hy hoort tog
nie hier nie?

Die tollenaar het dus niks om aan God aan te
bied nie. Die enigste wat hy van homself kan se is "sondaar."
Ons hoef die tollenaars ook eg nie goed te praat nie. Hulle was,
blykens Christus se eie woorde, sondaars by uitstek. Die man
staan daar voor die Here met leë hande, met ’n sondige lewe.
Geen wonder dat hy ver weg bly staan.

Broeders en susters, as aan u gevra sou word:
wie van die twee ( die vrome kerkganger of die groot sondaar) mag
vertoef in God se tent, sou u dan nie as vanselfsprekend sê: die
vrome kerkganger nie? So ’n godsdienstige man kan tog nie
geweier word nie. So ’n meelewende kerklidmaat hoort tog ook
tuis aan die tafel van die Here. Vir ons gevoel is dit anders met
die tollenaar. So ’n sondaar wat baie sondes op sy gewete
het mag tog nie aan die tafel van die Here verskyn nie? So ’n
man kan tog nie vertoef in die tent van God nie?

In die gelykenis kom Christus egter met die
verrassende en ontdekkende oordeel. Wie ontvang die goedkeuring
van God? Wie word deur die Here aanvaar? Wie mag geniet van die
skatte van God se ryk? Nie die fariseër nie, maar die tollenaar.
Die tollenaar het geregverdig na sy huis gegaan. Hy ontvang God
se guns. Hy mag geniet van die skatte van God se koninkryk, die
vergewing van sondes en die ewige lewe.

Hoekom word die godsdienstige fariseër afgewys
en die sondige tollenaar aangeneem? Ons wil daarna kyk in die
tweede punt: wat hulle vra.

Die fariseër is tog ’n troue kerklik, ja
selfs baie trou? ’n Vooraanstaande lid wat hoog geag word.
Hy beantwoord tog aan die regverdige soos hy geteken word in Ps
15. Hy wandel tog opreg en doen tog geregtigheid? Hy gaan nie
rond met laster op sy tong nie. Hy doen sy vriend geen kwaad nie.
In sy oë is die verworpene veragtelik maar hy eer die wat die
Here vrees. Al die woorde van Ps 15 lyk op hom van toepassing te
wees. Wat wil ’n mens nog meer. Dit kan van die tollenaar
nie gesê word nie. Waarom word die fariseër dan verwerp en die
tollenaar aangeneem?

Is dit miskien omdat die fariseër sy eie
deugde opsom? Maar dit gebeur tog ook in die Psalms. Hoe dikwels
lees ons nie dat die Psalmis op sy eie vroomheid pleit om God tot
aksie te beweeg nie. Dink maar aan die gebed van koning Hiskia,
wanneer hy dodelik siek is. Hiskia bid dan: Ag, Here, dink tog
daaraan dat ek voor u aangesig in trou en met ’n volkome
hart gewandel het en gedoen het wat goed is in u oë (Jes 38:3).
Die Here bewys Hiskia guns en gee hom in antwoord op sy gebed nog
15 jare van lewe.

Die afwysing van die fariseër is dus nie
soseer vanweë die feit dat hy sy deugde noem nie. Waaraan lê
dit dan wel? Dit lê aan die manier waarop hy sy deugde opsom en
gebruik. Sy hele houding deug nie. Let maar op verskillende
besonderhede van die teks. Met nadruk word vermeld dat die fariseër
het gaan staan. Hy staan reg op, met opgehewe hoof. Versekerd van
sy voortreflikheid. Hy is oortuig van God se goedkeuring. As die
beste kerklik gaan hy as ‘t ware heeltemal vooraan in die
kerk staan.

En wat kom hy doen met sy gebed? Kom hy iets
van God vra? Nee, hy het niks om te vra nie. Hy het geen guns of
genade om te vra nie. Hy het God eintlik nie nodig nie. Dit lyk
eerder asof God hom nodig het. So ’n voortreflike kneg kan
God goed gebruik. Sy gebed is dan ook in feite niks anders as
’n uitstalling van sy eie voortreflikheid. Hy is nie soos
die ander mense nie, soos die sondaars. Hy sien wel die sondes
van ander, van rowers, onregverdiges, egbrekers, tollenaars. Die
mense wek God se toorn op en moet hulle bekeer. Maar hy is daarbo
verhewe. Hy het geen sonde om te bely nie. God mag wel dankbaar
wees vir so ’n voortreflike kneg.

Wat kom die fariseër dan doen met sy gebed? Hy
kom God as ‘t ware sy rekening presenteer. Hy wil sy tegoed
in die hemelse boeke laat opskrywe. Wat ’n hoogmoed! Hy
verhoog homself en word daarom deur God verneder. Die fariseër
ken homself nie as sondaar voor God nie. En daarom dink hy dat hy
geen genade nodig het nie. Hy het geen Verlosser nodig om sy
skulde te betaal nie. Want hy is hom van geen skuld bewus nie. Hy
het geen verlosser nodig om hom te regverdig nie want hy
regverdig homself. Hy hoef dus niks te vra nie. Daarom word hy
leeg weggestuur, sonder vryspraak.

Hoe anders is dit by die tollenaar. Sy gebed is
slegs ’n vraag. Dit is ’n roep om genade: o God, wees
my, sondaar, genadig. Hy ken homself as sondaar voor God. Wanneer
hy by die tempel kom dan bly hy ver weg staan. Deur die sonde het
daar ’n afstand gekom tussen God en hom. Daarom neem hy
afstand. Hy durf sy oë nie op te hef nie. Sy diepe skuldbesef
ontneem hom die moed om God as ‘t ware in die oë te kyk. In
selfveroordeling slaan hy homself op die bors. Daar is pyn oor
die sonde. Dit raak hom ’n sy hart. Hy ken die hartlike
berou daaroor dat hy God deur sy sondes vertoorn het.

Tog gaan hy na die tempel toe. Hy steur hom nie
aan wat mense van hom dink of sê nie. Nee, hy weet dat hy by God
moet wees. Die tollenaar het die evangelie van Christus gehoor.
Hy het gehoor van die vryspraak van sondaars uit genade. Die
evangelie het hom gebreek en gedrywe na die tempel, God se aardse
woning. Hy weet dat God daar aangeroep wil word. Daar is die
versoendeksel. So soek hy God in die tempel. God wat die
goddelose regverdig. Met alles wat in hom is wil hy God se genade
ontvang. Hier wys hy ’n groot geloof. Hy soek die enige
grond vir sy heil buite homself in Jesus Christus. Die geloof glo
niks van homself nie, maar alles van God.

Die gebed van die tollenaar is baie sober. Hy
maak geen beloftes nie. Hy vergelyk met niemand anders nie. Hy
skuil nie agter die sondes van ander nie. Hy het genoeg aan
homself. Sy sonde is so groot, sy skuld so swaar dat hy nie meer
kan uit as ’n enkele roep om genade nie: o God, wees my,
sondaar, genadig.

En hy ontvang genade. Daarmee is ons in die
derde punt: wat hulle ontvang.

Die fariseër ontvang niks nie. Hy het niks
gevra nie. Hy het slegs iets aangebied. Nou gaan hy met leë
hande huis toe. Hulle wat gesond is, wat dink dat hulle gesond is,
het geen geneesheer nodig nie, het Christus elders gesê. Met al
sy vrome gedrag, waarmee hy dink om ’n tegoed in die hemelse
boeke te kan opbou, plaas hy homself buite die boek van die lewe
van die Lam (Openb 13:8). Hy het die Lam nie nodig nie. Hy het
Christus nie nodig nie. Hy sal Christus dan ook nie ontvang nie.
Die heil van God se koninkryk gaan hom verby. Hy gaan huis toe
sonder regverdiging, sonder vryspraak van die skuld. As ek geen
sonde of skuld besef het nie, dan hoef ek geen heil te verwag nie.
Dan word ek leeg weggestuur.

By die tollenaar is dit anders. Hy het berou
oor sy sondes. Hy verskyn voor God in besef van skuld. Heel sy
houding spreek daarvan. Hy ken homself as ’n smekeling: o
God, wees my, sondaar, genadig. En God verhoor sy gebed. God keer
Hom in guns na hom toe. God spreek hom vry van skuld en straf,
hoe bond hy dit ookal gemaak het. Hy het hom verneder en word
deur God verhoog. Hy kry vergewing. Dawid sing in Ps 51:19: Die
offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en
verslae hart sal U, o God, nie verag nie. Daarom gaan die
tollenaar na sy huis geregverdig, vrygespreek. Hy mag vertoef in
God se tent. Hy het vrye toegang tot die skatte van God se
koninkryk. Na die styl van God se ryk word die hongeriges met
goeie dinge vervul en word die rykes met leë hande weggestuur (Lk
1:53). Die tollenaar wat niks kon aanbied nie, maar homself as
sondaar geken het, word met goeie dinge vervul. Die Here betoon
sy welbehae aan hom wat nederig na Hom vra.

Wat moet ons, broeders en susters, maak met
hierdie gelykenis? Wat kan ons daarmee doen vir die viering van
die nagmaal? Moet ons almal word soos die tollenaar? Moet ons
almal groot sondaars word? En is die noukeurige nalewing van die
wet dan nie meer belangrik nie? Nee, dit is nie wat die Here met
die gelykenis bedoel nie. Die Here is bly met ’n strenge
gehoorsaamheid aan sy wil. Ps 15 bly staan. As ek in God se tent
wil vertoef dan sal ek moet breek met die sonde, dan sal dit my
lus en liefde moet wees om volgens die wil van God in alle goeie
werke te lewe.

Waarom word die fariseër dan geweier? Nie
omdat hy goeie werke doen nie. Maar omdat hy daarop vertrou.
Omdat hy homself verhef. Omdat hy dink dat hy daarmee by God in
die guns staan. Hy dink: ek doen dit en ek doen dat, God mag bly
wees met so ’n kneg. En hy sien dan neer op ander wat nie
die op die vlak lewe nie.

Dieselfde houding sou ook by ons kan wees by
die viering van die Heilige Nagmaal. Mense met verskillende
agtergronde, karakters en gedrag gaan aan, aan die tafel. En dan
kan die gedagte somtyds opkom: moet eers kyk na hom of haar, hoe
durf hulle om aan te gaan. Jy moet hulle eers sien in hul
daaglikse lewe. Dis soms maklik om die kwaad van ’n ander te
sien en op te som. Maar eie sondes? Wat maak ons daarmee?
Bowendien, weet u hoe moeilik die ander persoon dit moontlik het
met die sondes wat u by hom opmerk? Het u hom wel in liefde
gehelp in die stryd teen die sonde? Het u wel met hom daaroor
gepraat? Miskien het hy baie meer berou oor sy sondes as u dit
het oor u sondes. Daardeur sou hy juis op sy plek wees aan die
nagmaal.

Laat ons, broeders en susters, waak vir die
selfversekerde en hoogmoedige houding van die fariseër. Alleen
langs die pad van selfvernedering word die heil ontsluit. As ek
aan die tafel van die Here gaan dan moet ek werklik bewus wees
dat ek genade nodig het. Anders hoef ek nie te kom nie. Dan moet
ek in skuldbesef weet dat ek Christus nodig het. Ons kom tog nie
na die nagmaal om daarmee te kenne te gee dat ons in onsself
volmaak en regverdig is nie. Inteendeel, daarmee erken ons dat
ons Christus nodig het, dat ons ons heil buite onsself in
Christus soek.

Daarin moet ek die houding van die tollenaar
aanneem. Nie dat ek my moet gaan uitleef in allerlei sondes om
die genade beter te laat uitkom nie. Maar met my sondes moet ek
tot Jesus Christus vlug, met belydenis van skuld.

Wanneer u uself beproef, laat dan al u sondes
en tekortkomings u nie in die war bring nie. Laat die sondekennis,
wat u seermaak, u nie weerhou om tot die nagmaal te kom nie. Nee,
kom, juis dan, want die koninkryk van die hemele behoort aan
hulle wat arm van gees is, aan hulle wat treur oor hul sondes.
Immers "salig die wat treur want hulle sal vertroos word."
Waarvoor was Christus nodig? Tog om sondaars te red? Hoe groot my
sonde ookal mag wees, as ek opreg berou het en toon, dan mag ek
na Hom toegaan en Hy sal my nie weier nie. Immers: "Elkeen
wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself
verneder, sal verhoog word". Verneder julself dan voor die
Here en Hy sal julle verhoog.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)