Die bittere dood van ons Here Jesus Christus in ons plek.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-07-30
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 16
Preek Inhoud: 

Sondag 16
Ds C Kleyn - Sondag 30 Julie
2000

Lees: Genesis 2:8-17; 3:14-19;
Romeine 6; Sondag 16.
Sing: Ps 31:1,3,5; Ps 31:17-19;
Ps 66:6,7; Ps 103:1-3; Ps 89:3,6,7.

Tema: Die bittere dood van ons Here Jesus
Christus in ons plek.

  1. Wat die dood vir Christus beteken;
  2. Wat die dood vir die gelowiges beteken.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ek verkondig aan u die bittere dood van ons
Here Jesus Christus in ons plek

  1. wat die dood vir Christus beteken
  2. wat die dood vir die gelowiges beteken

Ons praat oor die bittere dood van ons Here
Jesus Christus. Sy dood was verskriklik! Moes Hy werklik sover
gaan? Kon God nie met minder tevrede wees nie?

Ooreenkomstig die Skrifte sê die Kat: dit kon
regtig nie anders nie. Dit moes weens die geregtigheid en
waarheid van God. Anders sou God nie Homself wees nie. Dit moes
vanweë die geregtigheid van God. Vanweë sy trou aan die verbond.
In die verbond is dit altyd ’n kwessie van lewe of dood. Ons
mog oorspronklik van die boom van die lewe eet. God het ons in
gemeenskap met Homself geskep. Indien ons trou aan die verbond
sou gebly het dan sou ons die ewige lewe mog ontvang het. Ja, die
gemeenskap met God is juis die ewige lewe. God is immers die lewe.

Om die verbond te verbreek beteken egter die
dood. Die mens sny dan sy band met die lewende God deur. Vandaar
dat God in die paradys bepaal het: die dag as jy daarvan (van die
boom van kennis van goed en kwaad) eet, sal jy sekerlik sterwe.
Paulus skryf later: want die loon van die sonde is die dood. Die
sondaar moet sterwe. Dit het hy verdien. Daarom het ons Here
Jesus, toe Hy ons verbondsbreuk wou betaal, Hom tot in die dood
moet verneder. Daar kon vir ons sondes nie anders as deur die
dood van die Seun van God betaal word nie.

Gemeente, om goed te kan verstaan wat die dood
vir Christus beteken het, moet ons gaan kyk na die oorspronklike
dreiging van die verbond, die woorde: die dag as jy daarvan eet,
sal jy sekerlik sterwe. Christus moet mos die oordeel vir ons
wegdra.

Waarmee word die mens presies gedreig as hy God
se gebod oortree? Wat bedoel die Here met die sterwe? Is dit
uitsluitend die liggaamlike dood? Maar die mens het nie
onmiddellik die liggaamlike dood gesterwe nie? Het God sy woord
dan wel nagekom? God het tog gedreig: die dag as jy daarvan eet,
sal sy sekerlik sterwe.

Ons sal, broeders en susters, moet let op dit
wat volgens die skrif die wesenlike van die dood is. Wat is
eintlik die dood? Die Bybel praat op onderskeie maniere oor die
dood. Op grond daarvan kan ons drieërlei dood onderskei.

In die eerste plek is daar die geestelike dood.
In Ef 2 sê Paulus dat ons almal van nature dood was deur die
misdade en die sondes. Hierdie geestelike dood sien op ’n
lewe geskei van God die lewende. As ek nie in God glo nie, geen
liefde vir God hê nie, dan is ek geestelik dood. Ek leef dan
sonder God en sonder hoop in hierdie wêreld.

In die tweede plek is daar die liggaamlike dood.
Daaronder verstaan ons die einde van ons aardse bestaan, die
skeiding van siel en liggaam, wanneer die gees uit die mens uit
verdwyn en die liggaam ’n lyk word.

Ten slotte spreek die Skrif ook van die ewige
dood. Dit is die definitiewe, onherroeplike skeiding van God in
die hel, die ewige rampsaligheid. In Openb 20 word hierdie dood
die tweede dood genoem. Hierdie dood is die ergste. Dan is alles
definitief en volkome hels. Daar is geen terugkeer tot God
moontlik nie.

Laat ons, gemeente, nou terugkeer na die
dreiging van Gen 2:17, die dreiging: die dag as jy daarvan eet,
sal jy sekerlik sterwe. Wat sien ons hier? Hier word nog geen
onderskeidinge gemaak nie. Hier word nie gesê hoe die dood die
menselewe sal binnekom of hoe dit sal ontwikkel nie. God gee
slegs ’n algemene aankondiging van die dood, van die volle
dood as straf op die sonde.

Eers na die sondeval reël God die uitvoering
van die straf. Die Here reël dat die dood in fases oor die mens
kom.. Eers is daar die geestelike dood, die verbreking van die
band tussen God en die mens. So het die dood ook onmiddellik in
die lewe van Adam en sy vrou ingetree toe hulle die verbond
verbreek het. Die sondeval is onmiddellik gevolg deur die dood in
die sin van geskei van God wees.

Op die geestelike dood volg die liggaamlike
dood, die dood as skeiding van siel en liggaam. God sê vir Adam:
stof is jy en tot stof sal jy terugkeer. Ook hierdie dood het vir
Adam onmiddellik na die sondeval begin. Die proses van sterwe het
toe reeds begin. Nie verniet sê die doopsformulier dat hierdie
lewe niks anders as ’n voortdurende sterwe is nie. Langs die
pad van die liggaamlike dood kom ek as ek my nie tot God bekeer
het nie tereg in die ewige dood. My liggaamlike dood is dan die
oorgang na die ewige dood, die ewige skeiding met God. By
Christus se wederkoms sal dit op die ewige pyniging na liggaam en
siel uitloop.

Gemeente, hierdie volle dood, wat in fases oor
die mens kom is aangekondig in Gen 2:17. Wanneer die mens die
verbond verbreek, sal hy die volle dood sterwe.

Ja, dat die volle dood bedoel word, blyk uit
wat Paulus in Rom 6 skrywe: Want die loon van die sonde is die
dood. Daarteenoor plaas Paulus dan die ewige lewe: want die loon
van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die
ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.

Wel, om my te bevry van die straf op die sonde
moet Christus nie slegs die liggaamlike dood sterwe nie, maar ook
die ewige dood, die hel. Sy dood moet ’n helse dood wees. So
alleen kan Hy aan die reg van God voldoen.

Die Here Jesus het die hel deurgegaan. In die
allerdiepste smaad en angs van die hel het Hy uitgeroep: My God,
my God, waarom het U My verlaat? Probeer eers te bedink wat dit
beteken. God se eniggebore Seun in die helse godverlatenheid. Dit
wat ons verdien het!

Ek moes uiteindelik die ewige pyn na liggaam en
siel dra. Christus het dit vir my gedra. Na liggaam en siel het
Hy die helse angs en pyn gedra. Ja, na liggaam en siel, in
lewende lywe aan die kruis.

Broeders en susters, met ons apostoliese
geloofsbelydenis bely ons dat Christus gesterf het, begrawe is en
nedergedaal het na die hel. Beteken dit dan dat Christus na sy
liggaamlike dood na die hel as plek toegegaan het? Vanweë die
volgorde van die artikels van ons geloof dink sommiges dat dit
inderdaad so is. Na sy sterwe en begrafnis sou hy na die hel
neergedaal het. Tog is dit nie die geval nie. Met die woorde:
neergedaal na die hel word ’n terugblik op Christus se
lyding gegee. Voordat oorgegaan word na die verhoging van
Christus word die wesenlike van Christus se lyding kort en
kragtig genoem. Wat was nou die wesenlike van Christus sy lyding
en dood? Dit was die hel, die totale verlating deur God die Vader.

As ons goed daaroor nadink, dan sou dit ook vir
Christus onmoontlik gewees het om na sy dood na die hel te gaan.
Die liggaamlike dood beteken immers ’n skeiding van siel en
liggaam. En wat het gebeur met Jesus se siel en liggaam by sy
sterwe? Sy siel het onmiddellik tot God die Vader gegaan. Hy het
immers tot sy Vader gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees oor (Lk
23:46). En sy liggaam is van die kruis afgehaal en in die graf
neergelê. As sy siel in die hemel is en sy liggaam in die graf
hoe kan Hy dan nog na die hel as plek toegaan?

Bowendien, Christus moes met beide siel en
liggaam die hel deurstaan. Anders sou Hy nie die volle dood
gesterf het nie. En dan sou sy betaling nie voldoende wees nie.
Wanneer het Christus dan na die hel neergedaal? Hy het dit aan
die kruis gedoen, voor sy liggaamlike dood. Eers daarna het Hy
die liggaamlike dood aanvaar. Hy blaas sy laaste asem uit. Hy
laat sy liggaam ’n lyk word, ’n lyk wat in die graf
neergelê word. Hy voldoen aan die reg van God: stof is jy en tot
stof sal jy terugkeer. Die weg wat vir die sondaar beskik is: via
die liggaamlike dood na die ewige dood, die pad volg Christus.
Alleen, wel in die omgekeerde volgorde. Voor sy liggaamlike dood
moet Hy die mag oor die dood verkry, moet Hy Satan oorwin. So kan
Hy uitroep kort voor sy sterwe: dit is volbring. Hy het reeds
oorwin. Hy het beide die liggaamlike en ewige dood vir u en my
deurstaan.

Wat ’n ryke troos, broeders en susters. Hy
het die pad gevolg wat ons verbondsbrekers moes volg. Hy het in
my plek die volledige straf gedra. Sodat die dood my geen angs
meer sou aanjaag nie. Sodat ek die straf kan ontgaan, die straf
van die geestelike, liggaamlike en ewige dood.

So kom ons by die tweede gedagte van die preek:
wat die bittere dood van ons Here Jesus vir die gelowige beteken.

Broeders en susters, dit is die apostel Paulus
wat duidelik skrywe oor die betekenis van Christus se dood vir
die gelowige. Ons het daarvan gelees in Rom 6. Daar word gesê
dat ons reeds gesterf het en begrawe is. Paulus verwys na ons
doop. Wat wil die doop sê? Dit is ’n teken van die
gemeenskap met Christus, ’n teken van die inlywing in
Christus. Ek behoort by Christus. Ek is een met Hom. En as ek een
met Christus is, dan is ek ook een met Hom in sy dood en
opstanding. Die doop trek my as ‘t ware saam in Christus se
dood. Wat met Christus gebeur het, het regtens met my gebeur. So
kan Paulus sê dat ons saam met Christus begrawe is. In prinsipe
het daar ’n einde aan ons sondig bestaan gekom. Christus het
gesterf en is begrawe en ons met Hom.

Christus het immers vir die syne gesterf. Die
syne is in Hom begrepe. Dus het die syne met Hom gesterf en is
hulle met Hom begrawe. Die doop versekerd ons daarvan. Paulus
vervolg: aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig
is. Ons sondige bestaan is aan die kruis veroordeel. Dit is reeds
deur God se vloek getref en gedood. En waartoe het dit gebeur?
Sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons
nie meer die sonde sou dien nie. Dit gaan daaroor dat my liggaam
vir sover dit deur die sonde verdorwe en beheers word, tot niet
gemaak word. Die mag van die sonde en daarmee die mag van die
dood in my lewe moet gebreek word.

Dit het nou gebeur sê Paulus, toe Christus
eens en vir altyd gesterwe het. Die dood was mos straf op die
sonde. Vanweë die sonde was ons aan die dood in al sy fases
oorgegee: die geestelike dood, die liggaamlike dood en die ewige
dood. Die dood het Christus vir ons gesterwe. Die dood kan dus
geen aanspraak meer op die lewe van die gelowige maak nie. Aan
haar reg is voldaan. "Want hy wat gesterf het, is
geregverdig van die sonde." (Rom 6:7). God kan die gelowige
nie opnuut straf met die dood nie. In plaas daarvan is daar nou
die lewe, die lewe in gemeenskap met God. Want die loon van die
sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe
in Christus Jesus, ons Here.

So sien u broeders en susters, dat daar nou
reeds bevryding van die sonde en die dood is. Die gelowige is nie
langer dood deur sy oortredings en sonde nie. Die gelowige is nie
langer sonder God en sonder hoop nie Hy het reeds oorgegaan uit
die dood na die lewe. Christus het ons oorgeplaas uit die dood,
die skeiding met God, na die lewe, die gemeenskap met die lewende
God.

Dit wil broeders en susters, nie sê dat die
geestelike en ewige dood reeds sy invloed op my lewe as christen
verloor het. Sy heerskappy en regsaansprake is inderdaad tot niet
gemaak, maar sy invloed bly nog deurwerk. Paulus kla daar
smartlik oor in Rom 7: "want die goeie wat ek wil, doen ek
nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek (vers 19). Ek,
ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie
dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!"

Hier op aarde het ek nog die aanvegtings, sware
aanvegtings sê die kat. Satan gaan rond as ’n brullende
leeu op soek na prooi. Hy weet dat sy tyd kort is en ons uit
onsself so swak is. In die aanvegtings kan dit soms lyk asof ek
deur God verlaat is. Waar bly God? Dit lyk asof Hy onbereikbaar
ver weg is. Maar, broeders en susters, vergeet dit nooit nie: Die
Here Jesus het die ewige dood, die helse verlatenheid deurstaan.
Waarom? Sodat ek nooit meer deur God verlaat sou word nie. Hy het
vir my, wat in Hom glo, die hel oorwin. Hoe kan ek dan nog sê
dat ek deur God verlaat is? Of het ek soms self van my kant God
verlaat, of is dit so dat ek weier om God te soek waar Hy Hom
laat vind, by woord en sakrament? Wie God verlaat kan inderdaad
smart na smart verwag. Maar wie werklik op Hom vertrou, wie
gelowig tot Hom vlug, die mag roem, selfs in verdrukking, as meer
as oorwinnaar.

Maar gemeente, as Christus die dood in sy volle
omvang oorwin het en ons reeds uit die dood na die lewe oorgegaan
het, is dit dan wel nodig dat ons die liggaamlike dood sterwe?
Christus het tog in ons plek gesterwe? Dan hoef ons dit tog nie
oor te doen nie?

Inderdaad, dit is nie absoluut nodig dat ons
sterwe nie. Enkele gelowiges het die liggaamlike dood dan ook nie
gesien nie. Henog en Elia. En wanneer Christus terugkom sal die
wat dan lewe nie sterwe nie. Hulle sal in ’n oogwenk
verander word. Die gelowiges gaan dan die Here tegemoet in die
lug, sonder dat hul siel van hul liggaam geskei word.

U moet eers let op die verskil tussen die
dreiging van Gen 2:17 en die vonnis van Gen 3:19. Die Here het
gesê: die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe, sal die
volle dood intree, die dood van godverlatenheid. Na die
moederbelofte van Gen 3:15 luid die vonnis vir Adam: "In die
sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na
die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot
stof sal jy terugkeer."

Hoe anders word die dood na die sondeval
aangekondig. Nie as ’n onverbiddelike einde aan alle lewe
nie, maar as ’n grens aan die taakvervulling. Adam sal werk
en eet totdat hy na die aarde sal terugkeer. Dit wil sê: aan die
einde van sy taak op aarde sal God hom aflos deur die dood. Dit
bly ’n sware gang: die afbraak van die liggaam, die
terugkeer na die stof. Hoe anders sou dit gegaan het sonder
sondeval. Dan sou die mens onmiddellik na volbragte taak in die
staat van ewige heerlikheid oorgegaan het. Nou is daar egter
’n terugkeer na die stof. Maar wie in Jesus Christus glo
sien hierin ’n wyse beskikking van die Here. God stel ’n
grens aan my verblyf en my taak hier op aarde. Anders sou ek tot
aan die jongste dag te make het met ’n versondigde liggaam.
Anders sou ek solank moet sug in die skepping wat ook self sug en
in barensnood verkeer. Anders sou ek solank moet wag op die
volkome bevryding van die sonde, die bevryding van die liggaam
van hierdie dood. Dit is God se wyse beskikking dat ons nog
sterwe. God laat die kwaad, die liggaamlike dood, ten goede
meewerk vir hulle wat Hom liefhet. Ook hierdie laaste vyand moet
tot my heil dien. Nou hoef ek nie lank te wag op die eerste
heerlikheid nie, wanneer my siel by Christus sal wees.

Die dood van die gelowige is mos geen straf
meer nie. Christus het die straf vir u en my gedra. Daar bly vir
die gelowige geen betaling vir die sonder oor nie. So is die
angel uit die dood uit weggeneem. Die dood jaag die gelowiges
geen angs meer aan nie, want Christus het voldaan.

Dis geheel anders as ek nie glo nie. Dan bly
die liggaamlike dood vir my ’n straf. My sterwe is dan vir
my ’n oorgang na die ewige straf. Ek kom dan steeds verder
van God af te staan. Daar is dan geen terugkeer na God meer
moontlik nie. Ek sink dan definitief weg in totale
godverlatenheid. Ek is dan onherroeplik op pad na die volle helse
straf na liggaam en siel.

U mag as gelowige egter van krag tot krag
steeds verder gaan. Die liggaamlike dood is geen poort na die hel
nie, maar ’n poort na die heerlikheid. U ontvang by u dood
al meer gemeenskap met God. U mag dan deel in die eerste
heerlikheid. U het die liggaam van hierdie dood definitief afgelê
en u mag by Christus wees. Eers nog inkompleet, met slegs u siel,
maar later kompleet, met liggaam en siel.

As ek so die dood beskou dan is dit vir my as
gelowige geen vloek meer nie, maar ’n seën. Die graf is
immers die deur na heerlikheid. Ek is getroos in lewe en sterwe.
Want ek weet: Jesus is die lewe van my lewe en Jesus is die dood
van my dood.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)