Laat ons aan almal goed doen.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-07-23
Teks: 
Galásiërs 6
Preek Inhoud: 

Galásiërs 6:10
Ds C Kleyn - Sondag 23 Julie
2000

Lees: Galásiërs 5:16-6:10.
Sing: Ps 37:1-3; Ps 79:5,6,9; Ps
37:23-25; Ps 92:1,2,6,7; Ps 127:1,2.

Tema: Laat ons aan almal goed doen.

  1. Wat is dit?
  2. Hoe kan ek dit doen?
  3. Vir wie moet ek dit doen?
  4. Waar moet ek dit doen?

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

"Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het,
aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die
geloof." In ons land word voortdurend ’n beroep op ons
gedoen om goed te doen. Daar is immers so baie nood in ons land.
Dink aan die armoede wat daar is, die gebrek aan kos of klere.
Die nood van die gestremdes. Die nood van die vigslyers. In die
laaste weke het die nood sterker ons aandag gekry vanwee die vigs
conferensie in Durban. Skrikbarende syfers word ons voorgehou.
Indien niks gedoen word dan word verwag dat teen die jaar 2005
’n derde van die Suid-Afrikaanse jeug aan vigs kan sterf en
dat daar in 2005 meer as 1 miljoen weeskinders in Suid-Afrika sal
wees omdat hulle ouers weens vigs sterf. In ons land is die nood
groot. En daarom ook die beroep wat op ons gedoen word.

Maar wat is dit om aan almal goed te doen?

Is ek wel in staat om dit te doen?

Wat is die verhouding tussen die "almal"
en die huisgenote van die geloof?

Watter geleenthede het ons om goed te doen?

Dit is vrae waarna ons wil kyk as ek aan u
verkondig

Laat ons aan almal goed doen

  1. Wat is dit?
  2. Hoe kan ek dit doen?
  3. Vir wie moet ek dit doen?
  4. Waar moet ek dit doen?

Wat is dit om aan almal goed te doen? Dit is om
vir ander mense dinge te doen wat goed is en wat vir hulle nuttig
is. Ek doen dan opsetlik dinge wat nuttig vir ander is. Ja, ons
moet vir mekaar omgee. Gevoelig wees vir wat ander nodig het. Ek
moet werklik hul geluk, hul welsyn soek, met woord en daad.

Wie is die ander? Alle mense, sê die teks vir
ons, alle mense sonder diskriminasie. Ook die ondankbares, die
slegtes, die verlorenes, die mense sonder hoop, die opstandiges.

Het u ooit geprobeer om goed te doen aan iemand
wat ondankbaar is? Ja, het u ooit geprobeer om goed te doen selfs
aan u vyande, hulle wat nie van u hou nie?

Om aan almal goed te doen is nie ’n
maklike taak nie. Ons is geneig om goed doen te beperk tot hulle
van wie ons iets kan terug verwag. Ons wil ook self daarvan
voordeel ondervind. Dit moet ook strook met ons eie belange. Ons
belange staan in ons tyd dikwels sentraal. Ek moet tog my eie
lewe lei, of nie? My ontwikkeling, my loopbaan, my stokperdjies,
my plesier is dikwels beslissend. Baie van ons het nou
geleenthede vir ontspanning, vermaak, stokperdjies, sport en die
genot van weelde artikels. Die verleiding is daar om heeltemal
deur die dinge opgesluk te word en so ’n lewe rondom onsself
op te bou. Dit is ’n groot gevaar vir vandag se kerk. As die
gesindheid ons domineer dan kom daar van die oes nie veel tereg
nie. Want dan het ek geen tyd en geen lus om mekaar se laste te
dra nie (vers 2). Dan sal ek ook geen liefde en geduld hê om
iemand wat deur ’n misdaad oorval word reg te help met die
gees van sagmoedigheid nie(vers 1).

Ja, gemeente, om goed te doen beteken dat ek
myself moet verloën. Daartoe moet ek myself, my tyd en geld en
energie opoffer. Soos die Christene van Macedonië, wat selfs bo
vermoë gegee het. Die gelowige wat goed aan ander wil doen sal
dikwels tyd moet gee wat hy nie het nie. Dikwels is dit ’n
daad van geloof, soos dit ook die geval is as ek geld gee wat ek
eintlik nie kan bekostig nie. Ons sal altyd te besig wees om
ander te help, tensy ons werklik verstaan hoe belangrik God dit
vind om aan ander goed te doen.

Om goed te doen is nie slegs selfopofferend nie.
Dit behoort ook onvermoeid te wees. Paulus roep ons op in vers 9:
"En laat ons nie moeg word om goed te doen nie." Dis
redelik maklik om goed te doen in enkele of selfs in ’n
aantal geïsoleerde gevalle. Dis baie moeiliker om bepaalde goeie
dinge dag in en dag uit te doen, veral as die dade deur die
ontvangers as vanselfsprekend beskou word. Ons het die neiging om
dan ontmoedig te word en om te verslap of om dit selfs te laat
vaar. Veral as ons nie die beoogde respons of resultate ontvang
nie. In hierdie verband is ons dikwels soos klein kinders. Ons
wil onmiddellike resultate sien. Ons wil op dieselfde dag saai en
maai. Daarom is die verleiding daar om vinnig op te hou. Met die
verontskuldiging dat ander nalaat om te reageer. Of dat hulle wat
sou moet help weier om saam te werk.

Geliefdes, as dit so moeilik, so veeleisend en
vermoeiend is om aan almal goed te doen, hoe kan ons ooit in
staat wees om dit te doen? Dis die tweede gedagte van die preek:
Hoe kan ek dit doen?

As ek my deur my sondige vlees laat lei, as ek
saai om my sondige vlees te bevredig, dan sal ek dit nooit kan
doen nie. As ek dink dat ek dit self kan presteer, dan sal dit
verkeerd gaan. Dit is iets waarteen die hele brief aan die Galasiërs
waarsku. Christus moet dit doen. In ons. Ek moet deur die Gees
lewe. Ek moet ’n nuwe skepping in Christus Jesus wees. Glo u,
glo jy dat Christus in jou woon? Dit is waaroor die geloof gaan.
Geloof verenig my met Christus. Wat geld vir Christus, geld dan
ook vir my. Sy werke is dan my werke. Dan kan ek met Gal 2:20 sê:
"Ek is met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar
Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek
deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en
Homself vir my oorgegee het."

Daarom sal ek slegs goed kan bly doen as ek
deur die geloof lewe. Geloof is nodig. Ek moet glo in die Seun
van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. Dink
daar eers oor na: Christus het my liefgehad terwyl ek van nature
onbeminlik was. Hy het Homself vir my oorgegee terwyl ek nog sy
vyand was. Christus het werklik aan almal goed gedoen, aan die
ondankbares, die slegtes, die verlorenes, die mense sonde hoop,
die opstandelinge. Daarom as ek goed wil doen aan die ondankbares,
die slegtes dan moet ek Christus in my laat woon.

My natuurlike neiging is om vriendelik en goed
te wees slegs vir hulle waartoe ek my aangetrokke voel, my
familie, vriende, beminlike mense. Maar Christus wys goedheid aan
hulle wat veragtelik is, die ondankbares en slegtes. Het u ooit
geprobeer om goed te wees vir iemand wat ondankbaar is? Tensy
Christus in my hart werk, dan sal my reaksie op sy ondankbaarheid
waarskynlik wees: Ek sal nooit meer iets vir hom doen nie. Maar
Christus draai nie sy rug op die ondankbares nie. As Hy dit
gedoen het dan sou ek ook vir ewig verlore wees. So sê Christus
vir ons in Lukas 6: 35: "Maar julle moet jul vyande liefhê
en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle
loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste
wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes.
Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is."

Om goed te doen is dus ’n saak van meer en
meer soos God word, aan Christus gelykvormig word. Dis ’n
saak van "Christus in my." So ’n lewe het sy eie
karakteristieke vrug, naamlik liefde met sy verskillende aspekte
o.a. goedheid.

Dis onverenigbaar met wat die sondige natuur,
met sy selfsug, produseer. Sodat ek nie doen wat ek wil nie. Die
twee staan teenoor mekaar, soos goed en kwaad.

Ons herken almal wel die woorde van Ef 2:8,9.
Daar word gesê dat ons uit genade gered is, deur die geloof en
nie uit werke nie. Ewe belangrik is egter ook die volgende vers,
Ef 2:10: "Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus
tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan
wandel." Dis ’n verrassende uitspraak. Ons is nie slegs
geskape in Christus Jesus, wedergebore tot die doen van goeie
werke nie. Maar ons is geskape om goeie werke te doen wat God
voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. Voordat ons Christus
leer ken het, het God sekere goeie werke voorberei vir ons om te
doen. God het goeie werke vir elkeen van ons voorberei, in
ooreenstemming met ons gawes en omstandighede. Ons moet bid: Here
wat wil u dat ek sal doen? En dan moet ons dit doen in die krag
wat deur Hom verleen word.

Hoe kan ek dan die veeleisende en vermoeiende
taak om aan almal goed te doen vervul? Slegs deur geloof. Deur
God se verbasende liefde vir my, ’n verlore sondaar, aan te
neem. Deur Christus se liefde in my lewe te laat skyn. Deur die
vergewing van my sondes en die vernuwing van my lewe te glo. Deur
in geloof te aanvaar dat ek ’n nuwe skepping is, geskape in
Christus Jesus om goeie werke te doen.

Nou die derde punt: aan wie moet ek dit doen?

Die teks sê: Laat ons aan almal goed doen,
maar die meeste aan die huisgenote van die geloof. Sommige
benadruk die laaste woorde van die vers in so ’n mate dat
goed doen soveel op die huisgenote van die geloof gerig word
sodat dit lyk asof daar geen tyd, geen geld en geen energie
oorbly vir hulle wat buite verkeer nie. Tog is die apostel
duidelik dat hy werklik wil hê dat ons aan almal goed doen,
ongeag die ras, nasionaliteit, klas, godsdiens of wat ookal.

Hier reageer die apostel ten dele op die valse
leraars wat die Galasiërs lastig val. Die valse leraars (Judaïste)
is van mening dat ’n mens deur besnydenis tot God se
spesiale volk toetree en afgesonder word van alle ander mense.
Dit sou dan beteken dat die besnedenes niks te doen sou hê met
die onbesnedenes nie. Die onbesnedenes sou ’n klomp
verlorenes wees. Dit is hierdie instelling wat die apostel bestry.
In plaas van om die ander te ignoreer as ’n klomp verlorenes,
moet die Galasiërs aan almal goed doen.

In hierdie verband is Paulus se woorde in Gal 3:8
baie leersaam. Daar herinner Paulus ons daaraan dat Abraham vanaf
die begin vir die heil van alle volke geroep is. Dis wat God vir
Abraham gesê het heeltemal by die begin van Israel se
geskiedenis: "In jou sal al die geslagte van die aarde geseën
word (Gen 12:3). Dit is waar dat die Jode nie met die ander volke
mog vermeng nie. Hulle mog die onderskeid tussen hulself as volk
van God en hulle wat God nie ken nie, nie negeer nie. Maar dit
gee die Judaïste nie die reg om op alle ander mense neer te sien
nie asof hulle ’n klomp verlorenes is wat geen goedheid hoef
te ontvang nie. Paulus benadruk dat Abraham ’n seën vir
alle volke sou wees, ’n seën vir alle soorte mense. Dit is
terwille van al die volke dat God Israel in die eerste plek
afgesonder het.

Jesus Christus het hierdie waarheid bevestig en
vervul. Hy het gesterwe nie slegs vir Jode nie, maar vir mense
uit alle stamme en volke en tale, of hulle nou Jode of heidene is,
romeine of Grieke, Egiptenare of Kretensers, Nederlanders of Suid
Afrikaners of wat ookal. Jesus Christus die Seun van Abraham is
deur God gegee om ’n seën te wees vir die volke, vir alle
soorte mense. Nou dit so is, sê Paulus aan die Galasiërs, mag u
nie die instelling van die Judaïste volg nie en die heidene los
in hul ellende nie. Inteendeel, wys vir ander die liefde wat
Christus vir jou gewys het. Wees ’n seën vir almal. Doen
goed aan almal of hulle Jode of heidene is, ryk of arm, beminlik
of onbeminlik, waardig of onwaardig. U het tog Christus se liefde
gesien en ervaar, of nie? Is Christus se liefde nie in u nie? Wel,
weerspieël die liefde in u omgang met ander mense. Doen aan
almal goed. Wees ’n seën vir almal in woord en daad. U het
tog die Heilige Gees ontvang? Dan moet tog die vrug van die Gees,
waaronder liefde, goedheid ens sigbaar wees?

Maar, geliefdes, wat moet ons dan maak met die
laaste woorde van die teks: "Maar die meeste aan die
huisgenote van die geloof"? My eerste verantwoordelikheid is
altyd teenoor hulle wat my die meeste naby is. Neem die voorbeeld
van ouers. Hul het ’n taak teenoor hul bure. Maar hul eerste
verantwoordelikheid is teenoor hul kinders. So ook hier. Ons
eerste verantwoordelikheid is teenoor die huisgenote van die
geloof, ons medegelowiges, hulle met wie ons een in die geloof is.
Gestel dat ek in die breër gemeenskap baie vrygewig en
behulpsaam is terwyl ek my eie gesin of die kerkgesin negeer. Dit
sou ’n skande wees. Dit sou ook my Christelike getuienis
ondermyn.

Dink aan wat Paulus skrywe in 1 Tim 5:8 "Maar
iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie,
het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige."
Sterk woorde! Dit wys ons op ons eerste verantwoordelikheid.
Verwaarlosing daarvan sou Christus se evangelie van liefde
bespotlik maak. Kan u u ’n gemeente van Christus voorstel
wat geen liefde toon nie en waar die mense mekaar byt en opeet
soos Paulus dit noem in Gal 5:15? Watter effek sou dan die
liefdediens buite die kerk hê? As ek nie eers in my eie kring my
geloof in praktyk kan bring nie wat moet die buitestaanders wel
van my christendom dink? Dit sal hulle in elk geval nie na die
kerk trek nie. Dan sal hulle nie deur my dade na my Vader gewys
word nie, sodat hulle ons Vader wat in die hemel is gaan
verheerlik. Besef daarom hoe belangrik dit is om ware christelike
liefde en goedheid binne die eie gemeente te toon. Nie dat die
kerk eers volmaak in haar liefde moet wees om effektief te wees
nie. Dan sou die kerk nooit in die wêreld kan optree nie, want
solank Christus nie weerkom nie sal ons beste werke nog met sonde
bevlek wees. Maar die evangelie van redding deur Christus moet
wel weerspieël wees in die omgang met mekaar.

Nou die laaste punt: waar moet ek dit doen?

Dit vloei voort uit wat ons reeds genoem het.
Maar nou wil ek dit iets konkreter maak. Om aan almal goed te
doen begin by die huis. As ek aan ander goed doen terwyl ek die
behoeftes van my eggenoot, van my ouers of kinders negeer, dan
beoefen ek nie die deug van goedheid nie. Wat doen ons, as mans,
vir ons vroue, vir hulle wat die mees naby ons is? Daar is baie
kleine dinge wat ons in die huis sowel as rond die huis kan doen
om die behoeftes van ons vrouens te bevredig.

Die beste opvoeding is deur voorbeeld. As ek my
kinders wil oefen om goed te doen (en hulle moet daarin geoefen
word, dit kom nie vanself nie) dan moet ek ’n voorbeeld vir
hulle wees. Hoeveel seuns wat in christelike gesinne grootword
het die voorreg om te sien dat hul pa ma, waar nodig, uit help
met die skottelgoed was of die erf skoonmaak. Laat ons aan almal
goed doen maar die meeste aan ons eie gesin. Vir jong mense kan
dit soms makliker lyk om na ’n verenigingsaand op te ruim as
om by die huis die eie slaapkamer of die kombuis op te ruim. Dit
lyk miskien meer geestelik om op die kinders van ander ouers op
te pas as om ma te help met die skottelgoed of met ander
huishoudelike take. Maar vergeet nie dat liefde, goedheid en
behulpsaamheid by die huis begin.

Watter ander geleenthede het ons om goed te
doen? Dit sal per persoon varieer. Beskou jou gawes, jou talente,
jou werk en jou omstandighede as ’n spesiale erfdeel wat God
aan jou toevertrou het om daarmee ander te dien. Soos die apostel
Petrus skrywe in 1 Pt 4:10: "Namate elkeen ’n
genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie
bedienaars van die veelvuldige genade van God." Onthou, u
hoef nie alle goeie dinge wat in die wêreld gedoen moet word
doen nie. Dit sou onmoontlik wees. U word geroep om te doen wat
God vir u beplan het.

Die meeste geleenthede om goed te doen kom na
ons toe op ons normale daaglikse lewenspad. Soek nie die
opsienbarende dinge nie. Min mense het ooit die geleentheid om
’n mens uit ’n brandende kar te red. Elkeen van ons het
wel die geleentheid om ’n vriendelike en bemoedigend woord
te spreek, om die kleine, moontlik onsigbare, daad te verrig wat
die lewe vir ander meer plesierig kan maak.

Dalk is een van die mees voor die hand liggende
area waarin u goeie werke kan doen u daaglikse werk. Die meeste
beroepe is daarop gerig om die behoeftes van mense te bevredig.
God het die wêreld so georganiseer dat mense met onderskeie
moontlikhede onderskeie behoeftes vervul. Beskou daarom nie u
beroep as ’n noodsaaklik kwaad om die rekenings te kan
betaal nie, of as ’n geleentheid om ryk te word nie. Nee,
beskou eerder u beroep as ’n geleentheid om die goeie dinge
te doen wat God vir u beplan het. Wees diensbaar vir ander mense.
Wys dat u nie slegs daarop uit is om geld te maak nie. Wees
’n goeie christelike vakman of sakeman. Gee mense waarde vir
hul geld, ook vir die loon wat hulle jou moet betaal. Lewer goeie
produkte, en goeie dienste. Toon opregte belangstelling in die
welsyn van die kliënte of die werknemers. Behandel hulle goed en
billik.

Om in die deug van goedheid te groei moet ek
die juiste houding teenoor my werk of studie hê. Beskou hulle as
geleenthede om goed te doen. Sodat die mense julle goeie werke
kan sien en jul Vader wat in die hemele is verheerlik.

Vroue wat binne hul huis hul taak het, het
ander geleenthede. Om ’n tuis te skep en om kinders groot te
maak is op sigself van onskatbare waarde. Dalk ontvang u ook
’n grotere geleentheid om buite die huis goed te doen, soos
die omsien na siekes of eensames, die betoning van gasvryheid,
die bereiding van maaltye vir ander of die opvang van ander
kinders.

Laat ons almal bedink wat God sou wil hê dat
ons doen vir die heil van ander mense. Toon opregte
belangstelling vir mense. Neem die tyd om na hulle te luister.
Een van die minste vanselfsprekende, maar moontlik die mees
ingrypende, behoefte wat baie mense ervaar is om iemand te hê
wat werklik wil luister. ’n Klein bietjie belangstelling van
iemand wat omgee kan reeds baie beteken.

Spreek ’n bemoedigend woord waar moontlik.
Aanvaar die koste van goeie werke in terme van tyd, aandag en
inspanning. Beskou die geleenthede om goed te doen nie as
interrupsies nie, maar as deel van God se plan vir u. Hy het u
tog geskape in Christus Jesus tot goeie werke? Leef vanuit
Christus. Fokus op sy liefde vir u. En weerspieël die liefde in
u omgang met ander. Bid vir sy genade om verder te kyk as u eie
belange en om die node en behoeftes van ander raak te sien. En
ontvang die genade wat u nodig het om te groei in die deug van
goedheid. In geloof.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)