Die lyding van ons Here Jesus Christus.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-07-23
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 15
Preek Inhoud: 

Sondag 15
Ds C Kleyn - Sondag 23 Julie
2000

Lees: Johannes 18:28-19:16;
Sondag 15.
Sing: Apostoliese
Geloofsbelydenis; Ps 22:1,3; SB 7:1,2,8,9,10; Ps 86:3,5,6.

Tema: Die lyding van ons Here Jesus Christus.

  1. Die buitekant van sy lyding;
  2. Die kern van sy lyding;
  3. Die vrug van sy lyding.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

By elke viering van die heilige nagmaal vier
ons die heerlike gedagtenis van die bittere dood van ons Here
Jesus Christus. ’n Heerlike gedagtenis aan ’n bittere
dood, is dit wel gepas? Ons kan ons voorstel dat daar weleens
vreugde is oor die dood van ’n gehate vyand. Maar ’n
heerlike gedagtenis aan die bittere dood van ’n geliefde is
tog ondenkbaar. Die dood van ’n geliefde beteken normaalweg
eerder verdriet en ’n gevoel van gemis. En dan veral by
’n bittere dood. Dit maak seer. Ek kan dit nie aansien dat
dit ’n geliefde aangedoen word nie. Elke keer dat ek daaraan
herinner word maak dit my seer.

Broeders en susters, kan ons dan wel kom tot
die viering van die heerlike gedagtenis van die bittere dood van
ons Here Jesus Christus? Kan sy verskriklike dood as ’n
vreugdevolle saak gevier word?

Dit is dwaasheid vir mense: wie doen nou so
iets. By die dood van ’n leier sou ek moet huil in plaas van
om te vier en te jubel. Maar tog gemeente, dit is die wysheid van
God, waartoe u vanaand weer geroep word. Die wysheid van God tot
u behoud. Die dwaasheid van die prediking van die kruis is juis
die krag van God tot redding van elkeen wat glo. Maar dan moet u,
broeders en susters, wel raaksien wat daar gebeur. Indien u nie
die geheim daarvan sien nie, dan bly dit ’n dwaasheid,
waaroor u sal val en waaraan u aanstoot sal neem.

Ek verkondig aan u die lyding van ons Here
Jesus Christus.

  1. die buitekant van sy lyding
  2. die kern van sy lyding
  3. die vrug van sy lyding

Die lyding van ons Here Jesus was verskriklik.
Let in die eerste plek maar op die lyding soos dit vir die
natuurlik oog sigbaar is.

Dit het onmiddellik begin: by sy geboorte. Die
gebore koning van die Jode ontvang geen plek in ’n herberg
nie. Sy eie volk staan nie gereed om Hom te begroet nie. Hy moet
as ’n arm kind tevrede wees met ’n krip in ’n stal.
Hy kry ook gou te make met die lyding van die kant van die
heidene. As kind moet hy om sy lewe ontwil vir die tiran Herodes
na Egipte vlug. Die lyding is daar tydens sy hele lewe. Hy kry te
make met teëwerking, haat en onreg. Alles loop uit op die mees
bittere lyding aan die einde van sy aardse lewe. Daar kom alle
bose magte saam om hulle op Christus te werp. Satan werp hom op
sy vermeende prooi.

Eers is daar die lyding van die kant van die
geestelik leiers. Christus het tot die syne gekom en sy eie mense
– die kerkleiers voorop – het Hom nie aangeneem nie.
Uit selfsug besluit hulle om Jesus te laat doodmaak. In die nag
van Getsemane kom hulle na Hom toe met swaarde en stokke, asof
hulle met ’n opstandeling te make het. Hulle neem Hom
gevange. Voordat Jesus voor die Joodse Raad verskyn moet Hy dit
ontgeld van die kant van die tempelpolisie en dienaars van die hoëpriester.
Hulle bespot Hom. Hulle blinddoek Hom, slaan Hom in die gesig en
vra Hom spottend: Profeteer wie dit is wat u geslaan het.
Christus ons hoogste profeet en leraar word deur sy eie
volksgenote diep verneder.

Hoe gaan dit verder? Die hoogste
bestuursliggaam van die Joodse volk laat valse getuies teen Hom
optree. Hulle verdraai die reg om van Jesus ontslae te raak. En
as Jesus voor Pilatus verskyn dan word die haat van die Joodse
volk nog skerper openbaar. Hoe pynlik moet dit vir Jesus gewees
het dat sy eie volk vir die rewolusionêr Barabbas en teen Hom
kies. Die Joodse volk het liewer te doen met die skuldige
opstandeling Barabbas as met Christus die regverdige. Christus
het tot die syne gekom en die syne het Hom verwerp. In blinde
haat skreeu die opgehitste massa: Kruisig Hom, kruisig Hom. As
hulle die jammerlike blik van Christus as ’n gewonde spot
koning sien dan skreeu hulle nog harder, soos bloeddorstige diere.
Die beloofde Koning van die Jode word deur die Jode self verwerp
en na die kruis verwys. Wat ’n lyding moet dit vir Christus
gewees het. Deur toedoen van sy eie volk word Hy op die kruis
gespyker. Die kruis, die mees verskriklike dood! Daar hang Hy.
Hangend tussen hemel en aarde. Uitgestoot uit die menslike
samelewing.

Ook daar op die kruis moet Hy die spot van sy
eie volk aanhoor. Die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes
en ouderlinge kan nie nalaat om Hom te hoon met die woorde: ander
het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. As Hy die Koning
van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons sal in
Hom glo. Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy
behae in Hom het; want Hy het gesê: Ek is die Seun van God (Mt
27:41-43). Vurige, godslasterlike pyle word op Hom afgeskiet.

Maar dit is nog lank nie alles nie. Die bittere
lyding van Christus het nie slegs gekom van die kant van sy eie
volk nie, maar ook van die kant van die heidene. Diepe veragting
klink deur in die woorde van die heiden Pilatus: Is U die Koning
van die Jode? So word met Jesus die spot gedryf elke keer as
Pilatus Hom die Koning van die Jode noem, tot selfs die opskrif
bo aan die kruis toe.

Wanneer Christus na die eerste verhoor deur
Pilatus na Herodes gestuur word, dan moet Christus dit ook daar
ontgeld. Herodes verenig hom met sy soldate in die bespotting van
die Koning van die Jode. Hy werp by Hom ’n blink kleed om en
stuur Hom so terug na Pilatus. Daarmee wil Herodes die pretensies
van Jesus bespotlik maak.

Terug by Pilatus word Jesus verder verneder.
Eers stel Pilatus die Joodse volk voor die keuse tussen Jesus en
Barabbas. Christus die onskuldige word op een lyn gestel met die
skuldige Barabbas. Daarna laat Pilatus Jesus kasty. U moet nie
lig daaroor dink nie. Mense het dikwels beswyk onder so ’n
kastyding en die rug was deur die sweepslae oopgeskeur sodat die
bloed daaruit gestroom het.

Daarna kry die Romeinse soldate die geleentheid
om van Jesus ’n spotkoning te maak. Hulle sit ’n kroon
van dorings op sy hoof en werp om Hom ’n purper kleed om
daarmee op ’n griewende manier sy koningskap te bespot. Keer
op keer groet hulle Hom as koning om Hom daarna in die gesig te
spoeg en te slaan. Wat ’n verskriklike vernedering van u
Heiland, gemeente. Daarna word Hy in die bespotlike kleding aan
sy volk voorgestel: daar is die mens!

Ten slotte gee Pilatus, die wettige
verteenwoordiger van die Romeinse owerheid, sy goedkeuring aan
die kruisdood van Christus. Christus is onskuldig deur die wêreldlike
regter veroordeel tot die dood aan die kruis. So het die Here
gely van die kant van sy volk en van die heidene.

Maar gemeente, dit is nog nie alles nie. Hoe
gaan dit met sy eie volgelinge? Bly hulle aan Hom getrou tot aan
die einde toe? Nee, Judas, een van sy dissipels, word sy
verraaier. Petrus verloën Hom driemaal. Almal neem aanstoot aan
Hom. Hulle wil nie aanvaar dat hulle so ’n lydende Messias
moet hê nie. Hulle is in Jesus teleurgestel. Dit het Jesus se
lyding onnoemlik verswaar. Selfs sy intieme vriende draai hulle
rug na Hom toe. Vriend en vyand verlaat Hom. Hy word agtergelaat
in volstrekte eensaamheid.

En ons, broeders en susters, gaan ons vryuit?
Is ek onskuldig aan Christus se lyding? Sou ek Hom wel aanvaar
het in sy lyding? Dink dit maar nie. Hier geld die woord van
Paulus: "Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.…
Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand
wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie" (Rom 3:10,12).
Selfs nie een nie. Nie die heidene nie. Nie die Joodse Raad nie,
nie die Joodse volk nie, selfs nie die 12 dissipels nie. In sy
diepste lyding staan Christus volstrek alleen.

Die lyding van Christus was verskriklik. Ons
het daar nou iets van gesien. Christus se laaste 2 dae was vol
smaad en hoon en dit het op die bittere en smadelike dood aan die
kruis uitgeloop. Dit het ons Here Jesus gely.

Maar, gemeente, as ons dit so gedenk dan kan
die vraag rys: was daar nie meer mense op aarde wat iets
dergeliks gely het nie? Dit was inderdaad verskriklik, maar het
ook ander mense nie so ’n verskriklike lyding ondergaan nie?
Kan ons Jesus hier nie vergelyk met die martelare bv wat gemartel
en gegesel is? En was Jesus nie slegs ’n slagoffer van mense
soos daar baie ander slagoffers was nie? Is sy lyding ook nie
slegs ’n droewige gevolg van sy konsekwente lewenshouding
nie?

Broeders en susters, daar is mense wat dit so
wil verklaar. In die geskiedenis van die kerk het baie mense
Christus dan ook beskou as slegs ’n edelmoedige voorbeeld
vir die mense. Hy het dit gedurf om tot die uiterste te gaan,
selfs tot die dood aan die kruis, met sy houding van liefde en
geregtigheid.

Maar, gemeente, so praat die mens wat nie
verder as die menslike horison kyk nie. So praat die mens wat
slegs die buitekant van sy lyding sien en slegs mensehande daarin
herken.

Die Woord van God leer ons egter om nie te bly
staan by die dade van mense nie. As ek dit doen dan sal die
geheim en die vrug van sy lyding my ontgaan.

Laat ons daarom in die 2e plek let op die kern
van Christus se lyding.

Die Bybel maak duidelik dat Christus nie slegs
’n slagoffer van onregverdige menslike dade is nie. Nee,
Christus het self beheer oor die situasie van sy lyding. Alle
inisiatiewe gaan van Hom uit. Ons sien dit by sy gevangeneming.
Die sterk manne met hul swaarde en stokke val op die grond neer
wanneer Jesus Homself aanwys. Hulle is as niks vir Hom nie.
Sonder sy wil kan hulle ook niks nie. Christus kon weerstand
gebied het. Hy kon die beskikking oor legioene engele gekry het.
Maar Jesus het Homself vrywillig aan die owerstes oorgegee, as
Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.

In Christus se lyding is dit, broeders en
susters, nie in die eerste plek menslike planne wat verwesenlik
word nie, maar God se planne. Alles gebeur presies op tyd, op God
se tyd. En dit gebeur op die manier waarop God dit wil hê.
Daarom word Christus ook nie ’n slagoffer van ’n
volksoploop nie. Hy moet in die hande van Pilatus teregkom. U
lees daarvan in Joh 18: 31,32. Pilatus wil hom nie bemoei met
hierdie saak nie. Daarom sê hy vir die Jode: Neem julle Hom en
oordeel Hom volgens julle wet. Maar die Jode antwoord: dit is ons
nie geoorloof om iemand dood te maak nie. Daarby voeg Joh dan die
verklaring: "sodat die woord van Jesus vervul sou word wat
Hy gesê het om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe."
Die verloop van hierdie saak is dus nie toevallig nie. Dit
verloop volgens Jesus se eie woorde. Dit gaan oor die vervulling
van God se plan van verlossing, soos Christus dit self aan sy
dissipels bekendgemaak het.

In een van die aankondigings van sy lyding sê
Christus: "die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die
owerpriesters en skrifgeleerdes; en hulle sal Hom tot die dood
veroordeel en Hom oorlewer aan die heidene om Hom te bespot en te
gesel en te kruisig" (Mt 20:18,19). Volgens die goddelike
plan moet Christus uiteindelik in die hande van die heidene kom.
Sodoende kan Hy die teregstelling ontvang wat God nodig ag.
Indien die Jode Hom sou teregstel, dan sou hulle Hom stenig soos
hulle dit later met Stefanus gedoen het. Die Romeine ken egter
die kruisiging as straf. En Christus moet die kruisdood sterwe.
Deur die oorgawe aan Pilatus word dit bewerk. So word die woord
van Christus vervul dat Hy verhoog sou word aan die paal.

So sien u, broeders en susters, dwars deur al
die geknoei van mense heen die soewereine wil van God seëvier.
Sy verlossingsplan word uitgevoer. Dit lyk asof Satan wen. Maar
satan se skynbare oorwinning is juis sy verlies. Dwars deur die
onreg van mense heen triomfeer die reg van God.

Die lyding van Christus is immers in die eerste
plek ’n saak tussen God die Vader en God die Seun. Die Vader
is hier besig om sy Seun te tref. Daarom is daar die dodelike
angs in Getsemane. Christus staan op die punt om die beker van
God se toorn te drink. Die toorn van God teen die sonde van die
gehele menslike geslag sal op Hom losbreek, Hom verbreek. Wie kan
dit dra?

So kom Christus in die hande van Pilatus, die
wettige owerheid, God se dienaar. Tydens sy verhoor sê Christus
self ook vir Pilatus: "U sou geen mag teen My hê as dit u
nie van bo gegee was nie" (Joh 19:11). Pilatus tree op as
wettige verteenwoordiger van die Romeinse owerheid en so ook,
ookal besef hy dit nie, as verteenwoordiger van God. Hy moet God
se reg kenbaar maak. Christus word ter dood veroordeel. God se
dienaar spreek die doodsvonnis uit. Ja, God self spreek die
doodsvonnis uit. God sien Christus staan belaai met die skuld van
ons mense.

Hy moet aan die kruis sterwe. Waarom? Omdat die
kruisdood deur God vervloek is. Dit was tog in die eerste plek
’n saak tussen die Vader en sy Seun Jesus Christus? God maak
sy toorn duidelik. Christus hang nie slegs tussen hemel en aarde
nie. Maar God plaas Hom ook in die duisternis. Verstote van alle
gemeenskap. Van mense: hulle hang Hom op, stoot Hom uit. En van
God: Hy plaas Hom in die duisternis. Volgens die Ou Testamentiese
geskrifte ’n duidelike teken van God se gerig. Christus ly
onder die streng oordeel van God. Daaraan is geen twyfel meer
moontlik nie. Hoor hoe Christus aan die einde van die drie ure
duisternis uitroep: My God, my God, waarom het U My verlaat? God
die Vader het Hom teen sy Seun gekeer, sodat ons nooit meer deur
Hom verlaat sou word nie.

So kom ons by die derde gedagte: die vrug van
Christus se lyding.

In die evangelie van Johannes word Christus se
kruisiging as ’n verhoging voorgestel. In sy gesprek met
Nikodemus sê Jesus: "En soos Moses die slang in die woestyn
verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word sodat
elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige
lewe kan hê" (Joh 3: 14,15). Ons word herinner aan die
geskiedenis met die koper slang in die woestyn. As straf op hul
gekla word die volk Israel deur vurige slange gepla. Na hul berou
wys God op ’n middel om aan die straf te ontkom. Moses moet
’n vurige slang namaak en dit op ’n stang sit sodat
elkeen dit kan sien. ’n Wonderlike maatreël. Wat kan ’n
mens van so ’n namaak slang verwag? Wat kan so ’n dood
ding bereik? Wat erger is, dit is selfs ’n afbeelding van
die verskriklike dier wat hul pla. ’n Mens sou sê: Israel
kan geen slang meer verdra nie. Maar God beskik dit so dat hulle
daarna moet kyk, goed kyk, gelowig kyk. Deur in geloof na die
strafmiddel te kyk is daar vir hulle genesing. Wie sy oë rig op
die koper slang en vertrou op God se belofte van genesing, die
word gered.

So moes Christus verhoog word sodat alle oë op
Hom gerig sou word. Christus se kruisiging is nie ’n
mislukking nie, maar dit dra heerlike vrug, soos die koper slang.
Elkeen wat in geloof daarna kyk word gered. Een blik op die kruis
is vir u lewe en heil. Wat sien u dan in die gekruisigde? Presies
dit wat Israel gesien het in die koper slang: ’n
voorstelling van die straf, die vloek wat ek vanweë my sonde
moes dra. Die straf wat nou nie op Israel geplaas word nie, maar
sinnebeeldig op die slang. Die straf wat nie op my teregkom nie,
maar op my Here Jesus Christus.

Die kruis is so veel heerliker as die koper
slang. Die koper slang was slegs ’n afbeelding. Die koper
slang het in homself niks om die sonde ongedaan te maak en om die
slanggif kragteloos te maak nie. God het eenvoudig aan die sien
van die slang die belofte van behoud verbind. Christus het egter
aan die kruis die sonde self ongedaan gemaak. En die ewige lewe
verdien.

En nou kom dit, broeders en susters, aan op
’n sien in geloof. Dit was die voorwaarde om deel te hê aan
die genesing. Dit is in die hele Skrif die voorwaarde om deel te
hê aan die heil. Christus moes verhoog word sodat elkeen wat in
Hom glo gered sou word. Geloof is nodig.

En gemeente, om u geloof op die gekruisigde te
sien maak my klein. Ek sien dan die werklikheid van my sonde en
skuld, van God se gerig en oordeel. My sonde het immers Christus
aan die kruis gebring. Wat ’n groot prys moes my Here
daarvoor betaal. En wat het dit sy Vader nie baie gekos nie? Om
Hom vir sy geliefde Seun te verberg en om die skale van sy toorn
oor Hom uit te giet.

Maar die kruis, wat vir u en my so beskamend is,
gee ook geweldige troos en vreugde. Dit spreek ook van genade en
vergewing, van redding en verlossing. Christus het die
vervloeking wat op my gerus het, op Hom geneem en weggedra. Deur
op Hom te sien is daar lewe. Dit mag u, broeders en susters,
troos wanneer u die skuld van u sondige lewe sien. U mag met al u
sondes en tekortkomings na Hom toe.

Wat doen u dan met die gepredikte Christus en
Hom as gekruisigde? Soek u dit by Hom as die enigste bron van
lewe en heil? Glo, bely en belewe u sy dood as u lewe is?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)