God se Seun het mens geword.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-07-16
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 14
Preek Inhoud: 

Sondag 14
Ds C Kleyn - Sondag 16 Julie
2000

Lees: Hebreërs 2; Sondag 14.
Sing: Ps 8:1-4; Ps 51:1-3; Ps 105:5;
Ps 22:4,9; SB 27:1-3; Ps 36:2,3.

Tema: God se Seun het mens geword

  1. As Seun van Adam het Hy ons vlees en bloed
    aangeneem;
  2. As Middelaar van die verbond ontferm Hy
    Hom oor die nageslag van Abraham.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Net nou mog ons getuies wees van die doop van
twee kinders van die gemeente, van Merize en Tiaan. Die doop bly
’n vreugdevolle aangeleentheid. Die God van lewe wil homself
verbind aan ons en ons kinders. Hy wil ons uitsig gee op lewe en
lig. Tegelykertyd herinner die doop ons aan die skaduwees wat
hang oor die lewens van ons en ons kinders. Die feit dat Merize
en Tiaan met water gedoop moes word sê reeds baie. Dit wys dat
hulle reeds onrein is, hulle moet reeds gewas word van hul sondes.
Hulle is nie in die paradys gebore nie en hulle sal nie in ’n
paradys groot word nie. In die doopsformulier word van hierdie
lewe gesê dat dit tog niks anders as ’n voortdurende sterwe
is nie – alles is aan verderf onderworpe. Water is dus nodig
– hulle moet van hul sondes gewas word – hulle is in
sonde ontvang en gebore en aan allerhande ellende onderworpe. Tog
word water gebruik – hulle mag die wassing van sondes
ontvang.

Vanoggend wil ek preek oor die ontvangenis en
geboorte van Jesus Christus – dat Hy mens geword het. Het
die twee gebeurtenisse wel iets met mekaar te make? – die
doop van Merize en Tiaan en die ontvangenis en geboorte van Jesus
Christus? Wat het hulle met mekaar te make? Ja, wat wil dit vir
ons almal sê dat Jesus ontvang is van die Heilige Gees en gebore
uit die maagd Maria?

Ek verkondig aan u:

God se Seun het mens geword

  1. As Seun van Adam het Hy ons vlees en bloed
    aangeneem
  2. As Middelaar van die verbond ontferm Hy
    Hom oor die nageslag van Abraham

Jesus Christus is gebore as Seun van Adam. Adam
het baie kinders gehad. Maar by elke geboorte was daar die vloek.
By elke wieg sê die Here: as kind van Adam is jy ’n sondaar.
Voordat ek bewus iets daaraan kon doen het die sonde reeds op my
lewe beslag gelê. Want ek is in sonde ontvang en gebore. Dit is,
gemeente, die verskriklike van Adam se nageslag. Die geslag het
uit homself geen toekoms meer nie. Sodra daar weer ’n kind
gebore word, is daar die sonde. En daarmee ook die gevolge van
die sonde, die gebrokenheid, die vloek, die dood. Niemand kan die
noodlottige ban breek. Dit is by mense onmoontlik. Van elke kind
bly geld: in sonde ontvang en gebore. Die voortgang van die
menslike geslag word die voortgang van die dood hier op aarde.

Gemeente, in so ’n hopelose situasie gryp
God nou in. In sy ewige raad van vrede het Hy sy verlossingsplan
uitgedink. In die volheid van die tyd verskyn God die Seun hier
op aarde as kind van Maria, as mens onder die mense. God buig Hom
neer tot die verlore mensheid. God gee sy eie Seun aan ’n wêreld
wat uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe is.

God die Seun neem die ware menslike natuur aan.
Die woord ‘aanneem’ gee ’n duidelike tipering van
wat plaasvind by Christus se ontvangenis en geboorte. Dikwels
word gepraat oor die menswording van God. So ’n uitdrukking
kan maklik tot verkeerde gedagtes lei. Ek sou daaruit kan aflei
dat God in ’n mens verander het, dat God se Seun nie meer
God is nie, maar slegs ’n mens. Die Kat maak duidelik dat
dit nie die geval is nie. Die ewige Seun van God het gebly wat Hy
was: ware en ewige God. Daarby het Hy nou die ware menslike
natuur aangeneem. Hy het dus gebly wat Hy was: God. En Hy het
geword wat Hy nie was nie: mens. Vanaf sy ontvangenis en geboorte
is daar die onbegryplike wonder van die vereniging van God en
mens in een persoon. Die ewige Seun van God neem die vlees en
bloed van ons mense aan. Ons kan dit nie begryp nie. Hier pas
enkel: aanbidding in geloof.

Broeders en susters, hoe anders is die geboorte
van Jesus Christus in vergelyking met ons eie geboorte en die
geboorte van die kinders wat nounet gedoop is. God se Seun is
self aktief daarby betrokke. Sy geboorte is nie iets wat Hom
slegs oorkom nie. Elke persoon wat ons ken word sonder eie keuse
of toedoen gebore. By my geboorte was ek volkome passief. By
Jesus Christus is dit anders. Hy ondergaan nie sommer die
geboorte nie. Hy laat homself gebore word.

Vind u dit oordrewe? Wat dink u dan van Fil 2:6,7:
"Hy wat in die gestalte van God was … het Homself
ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en
aan die mense gelyk geword." Wat ’n onmeetlike,
selfopofferende liefde! Geheel vrywillig is Hy aan ons mense
gelyk geword. Hy het goddelike heerlikheid besit. Tog het Hy
gekies om terwille van ons, ons vuil menslike bestaan in te gaan.
Terwyl die menslike lewe vir Hom ’n voortdurende lyding sou
wees. Jesus Christus het immers van tevore geweet dat Hy van die
lewe niks anders as ellende, vyandskap en dood mog verwag nie.
Tog het Hy nie geaarsel om uit sy hemelse heerlikheid te stap en
ons vlees en bloed aan te neem nie. Met al die swakhede en
vernedering daarvan.

Waarom so? Omdat God ’n volkome nuwe begin
in ons menselewe wou maak. God wil die noodlottige ban van die
dood deurbreek. So word Christus gebore uit die maagd Maria. Hier
kom geen man by te pas nie. God skuif die aktiewe party, die man,
opsy. Adam kry nou wel ’n seun, maar hierdie keer verwek hy
die seun nie. Want dit sou hom nie baat nie. Hy sou die skuld
alleen maar verder dra. Maar nou skuif God die aktiewe party opsy.
Die kind mag nie uit die wil van die vlees, nog uit die wil van
’n man gebore word nie. Daarom is Hy ontvang van die Heilige
Gees. Hy is deur die krag en werking van die Heilige Gees gevorm.

Die ontvangende party, die vrou, word egter wel
deur God ingeskakel. Hy word gebore uit die maagd Maria. Hy moet
immers ware mens wees. So bely ons met die Kat dat die Seun van
God die ware menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd
Maria, deur die werking van die Heilige Gees aangeneem het.
Nogtans, en dit is die groot wonder hier, bly Hy God uit God en
lig uit lig. God kan immers nie verander nie. Christus se
goddelike natuur gaan nie oor in die natuur van die mens nie. Tog
neem Hy uit ons vlees en bloed ware menslike natuur aan. Dit bly
’n wonder wat ons nooit sal kan verstaan nie, ’n wonder
van God se genade. God se Seun bly God ook as Hy ons vlees
aanneem. En tegelyk: dit was werklik ons menslike vlees wat Hy
aangeneem het.

Maar, gemeente, hoe kan die Heilige God Hom aan
ons sondige menslike vlees verbind? Die Heilige Gees verrig die
wonder dat in ’n maagd met sondige vlees ’n reine en
heilige seun verwek word: die Seun van God. Dink maar aan wat die
engel Gabriël vir Maria sê: "Die Heilige Gees sal oor jou
kom en die krag van die allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook
sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word."
(Lk 1:35). ’n Mens sou ook kan vertaal: "daarom sal dit
wat gebore word Heilig genoem word, Seun van God." God maak
hier ’n nuwe heilige begin in die verdorwe massa van Adam se
kinders. So kom die tweede gedeelte van vr en antwoord 35 helder
voor oë te staan: "So is Hy tegelykertyd die ware
nakomeling van Dawid, in alles aan sy broers gelyk, behalwe die
sonde."

Ja, Christus het werklik vlees geword. Hy is
gebore uit die maagd Maria. Hy is die ware nakomeling van Adam en
van Dawid. Hy het in alles aan sy broers gelyk geword. Joh 1:14
bly staan: die Woord het vlees geword. Maar tegelykertyd bly die
ander ook waar: Hy is ontvang van die Heilige Gees. Deur die Gees
is sy vlees van die smet van die sonde geheilig. Dit is die begin
van God se groot verlossingswerk deur sy Seun. Hier het ons dan
eindelik een wat nie in sonde ontvang en gebore is nie. Wat by
ons mense onmoontlik was, het God tot stand gebring. ’n
Heilige sondelose mens verskyn onder die sondige mensekinders. So
ontvang ons menslike lewe weer uitsig. Deur die nuwe begin word
die mag van die sonde gebreek.

Daarmee word die mag van die dood ook gebreek.
"Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het
Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur
die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het –
dit is die duiwel – en almal kon bevry wat hulle hele lewe
lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was." (Hebr
2:14,15). Waarom was daar die dood? Tog vanweë ons sondes?
Daarom is die lewe aan die verganklikheid onderworpe. Maar, wat
het die duiwel hiermee te make? Hy het die mag oor die dood
ontvang. Hy het die werktuig geword om die vonnis van die dood te
voltrek.

Maar nou het Christus tot ons sterflike lewe
neergedaal. Hy het oorwin. Hy het die duiwel onttroon, sy mag
gebreek. Hy het die sleutels van die dood en die doderyk ontvang
(Openb 1:18). Hy het die lewe aan die lig gebring. Daarmee bevry
Hy my ook van die vrees vir die dood wat die mense gevange hou.

Nee, gemeente, dit beteken nie dat alle vloek
en vrees reeds uit die mensewêreld verbanne sou wees nie. As ek
rondkyk dan moet ek erken dat die vloek nog steeds deurvreet, ook
in ons samelewing. En baie mense skyn die vloek dikwels liewer te
hê as die lewe. Mense soek hul heil en toekoms buite God en meen
dit sonder God te kan doen. Mense sien en aanvaar Christus nie as
die weg, die waarheid en die lewe. Hulle wil in hierdie
postmoderne tydperk nie hoor van die weg en die waarheid nie.
Daardeur kies hulle vir die dood en die vloek. God se vloek is
nog nie uit die wêreld uit nie. Dit word selfs steeds duideliker
geopenbaar totdat Christus uiteindelik die ewige straf toedien
aan hulle wat die lewe bly weier.

Die bevryding van die skuld en vloek is daar
dus nie vir elke persoon nie. Christus het as Seun van Adam die
vlees en bloed van ons mense aangeneem. Maar as Middelaar van die
verbond ontferm Hy Hom slegs oor die nageslag van Abraham. Dit is
die tweede gedagte van die preek.

Die bevryding van die ellende in Christus gaan
nie outomaties nie. Daarvoor moet ek glo. Ek moet Christus
aanvaar. Ek moet deur geloof ’n kind van Abraham word. Van
Abraham, die vader van alle gelowiges. Want God bekommer Hom nie
oor die engele nie, lees ons in Hebr 2:16, maar oor die geslag
van Abraham bekommer Hy Hom, dws oor die gelowiges en hul kinders,
u en ek. Ook die seuns en dogters wat aan die hand van hul ouers
kerk toe kom. Hulle wat christelik opgevoed word en die geloof
hul eie maak. Christus het gekom om Hom oor bondelinge te ontferm.

Die Kat vra: "watter nut verkry jy uit die
heilige ontvangenis en geboorte van Christus?" In geloof
bely Ek as antwoord daarop: "dat Hy ons Middelaar is en met
sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en
gebore is, voor God bedek." Christus is ons Middelaar.
Diegene wat die twee partye van die verbond by mekaar bring. En
Hy kan dit, want Hy is ontvang van die Heilige Gees. Hy staan aan
God se kant. En Hy is gebore uit die maagd Maria. Hy staan aan
ons kant. Daar het ons ’n volmaakte Middelaar tussen God en
mense.

My lewe was tot die grond toe bedorwe. Daar was
nie slegs swarte vlekke in my lewe nie. Reeds by my verwekking en
geboorte het ek nie gedeug nie. Ek is in sonde ontvang en gebore.
My sonde maak my tot ’n voorwerp van God se toorn reeds
vanaf die uur van my ontvangenis. Van nature deug daar niks van
my lewensgeskiedenis nie. Christus moet selfs my ontvangenis en
geboorte Christus korrigeer. Daarom is Hy sonder sonde ontvang en
gebore. Daarom was sy lewe een van onskuld en volkome heiligheid.

Daarin is Hy, broeders en susters, u
Plaasvervanger. Hy stel sy lewe in die plek van u lewe. Sy
onskuld en volkome heiligheid word aan u toegereken. God reken
nou asof ek net so heilig was as Christus. En dit word deurgetrek
tot die allereerste begin: my ontvangenis en geboorte. Deur my
Middelaar is dit nou asof ek ook heilig ontvang en gebore is en
my lewe tot in sy wortel suiwer is.

So kan daar, gemeente, by die gelowiges weer
vreugde wees by elke nuwe geboorte. Die kind van Adam is nie meer
’n kind van die dood nie. Hy word in Christus geheilig.
Pleks van die voortgang van die dood is daar nou die voortgang
van die lewe. Christus neem die vloek wat oor ons lewens gelê
het weg. Hy het as Middelaar juis daartoe ons vlees aangeneem.

Gemeente, toe Jesus Christus op aarde gekom het,
was dit nie om ons sondaars die les te lees nie. Hy het nie in
hoogheid gekom om Hom teenoor ons op te stel nie. Nee, Hy het
gekom om naas ons te staan. Hy is aan sy broers in alles gelyk
geword, behalwe die sonde. Maar dan ook in alle dinge. In my
eensaamheid, in my skande, in my pyn, in my armoede, in my sorg.
In al die verskriklike dinge wat sedert die sondeval oor ons
mense kan kom. Hy is in alles aan sy broers gelyk geword. Hy was
werklik’n kind onder die ander verbondskinders.

Niks van my lewe is Hom vreemd nie. Hy is
’n mens van vlees en bloed soos u en ek. Hy moes leer om te
loop en om te praat. Hy moes leer om te lees en om te werk. Hy
het geweet wat verdriet is, wat honger of dors is. Hy het
vermoeidheid geken en frustrasie. Niks mensliks was vir Hom
vreemd nie. Hy het ook sy menslike gevoelens en verlangens gehad.
Hy het heimwee en eensaamheid geken. Hy het ook behoefte aan
vriendskap en meelewe geken. Om deur sy vriende verlate te wees
het ook Hom baie seer gemaak.

Gemeente, so het u Middelaar onder ons verkeer,
as iemand wat hom oor ons ontferm. In alle opsigte is Hy aan sy
broers gelyk geword. Waarom? Luister maar na Hebr 2:17,18: "Sodat
Hy ’n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die
dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk
te versoen. Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan
Hy die help wat versoek word."

Wat ’n geweldig troos om te weet dat Jesus
Christus ontvang is van die Heilige Gees en gebore is uit die
maagd Maria. Hy het een van ons geword. En as een van ons bly Hy
by ons, ook na sy hemelvaart. Hy ken my lewe met al sy swakhede.
Hy kan my in alles verstaan, in al my node, angs en pyn. Hy ken
my ontwikkeling van kind tot volwassene. Hy is op die hoogte van
die node van die kinderjare. Hy weet van die onrus van die tiener
jare. Hy verstaan die vrae van jongeres en van volwassenes. Wat
is dit heerlik om so ’n hoëpriester te hê, aan wie ons
alles kan voorlê. Hy kan my verstaan en help.

Veel mense voel hulle ten diepste eensaam. Dis
nie maklik om lank aan die huis of aan die bed gebind te wees nie
of om onder ander mense te verkeer sonder ’n werklike
diepere band met hulle te hê nie. Maar julle ken ’n
barmhartige en getroue hoëpriester. Hy was baie eensamer as u of
ek ooit kan wees. Hy was nie slegs van mense verlate nie, maar
deur God self. So eensaam kan ek nooit meer wees nie. In Christus
is God immers altyd naby. Hy is deur God verlate sodat ek nooit
meer deur Hom verlaat sou word nie. En Hy sal my bewaar by my
verlossing.

Die werklikheid van die wêreld kan ons soms
bang maak. Waar gaan alles na toe? Wat sal van ons kinders word?
Sou ’n mens nie bang wees om in hierdie wêreld nog kinders
te kry en groot te bring nie? Maar gemeente, Christus u Middelaar
troon daar bo. In Hom het God ’n volkome nuwe begin in die
mensewêreld gemaak. God se eie Seun het ons vlees en bloed
aangeneem. Hy het die noodlottige ban waarin ons gevange was
gebreek. Hy bevry van die voortgang van die skuld, van die
voortgang van die dood. Die lewe het weer uitsig en toekoms. Die
son kan weer skyn oor die wieg. Die kleine babatjie kan in
blydskap ontvang word.

Die son kan ook weer skyn oor die graf. God se
nuwe begin gee uitsig op lewe. Dis nie so dat die dood
uiteindelik ons lewe sal verslind nie. Nee, die teendeel is waar.
In Christus sal uiteindelik die sterflike deur die lewe verslind
word (2 Kor 5:4). Die lewe, die ewige lewe met God, het die
laaste woord. My lewe, my huwelik en gesin, my werk en my siekbed
staan nie meer onder die donker skadu van die dood nie. Hulle mag
staan in die teken van die lewe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)