In die bestraffing van Ananias en Saffira waak die Heilige Gees oor die heiligheid van die gemeente.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-07-02
Teks: 
Handelinge 5
Preek Inhoud: 

Handelinge 5:1-11
Ds C Kleyn - Sondag 2 Julie
2000

Lees: Handelinge 2:42-47;
Handelinge 4:32-37; Handelinge 5:1-11.
Sing: Ps 101:1-3; Ps 101:4-6; Ps
143;7,8; Ps 19:6,7; Ps 139:1-3,12.

Tema: In die bestraffing van Ananias en
Saffira waak die Heilige Gees oor die heiligheid van die gemeente.

Hy onthul

  1. Die werklikheid van hul sonde;
  2. Die aard van hul sonde;
  3. Die erns van hul sonde.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die geskiedenis van ons teks kan ’n gevoel
van teleurstelling en skok veroorsaak. Met Pinkster het dit so
mooi begin. Die Gees het die gemeente vervul. En die gemeente het
gegroei en gebloei. Dit het uitgegroei tot ongeveer 5000 lidmate
en die lidmate was een van hart en siel. Daar het ’n roem
van die gemeente uitgegaan. Die buitestaanders het onder die
indruk gekom.

Dan skielik die sonde en dood van Ananias en
Saffira. Dit is asof die bliksem in die gemeente inslaan. God se
heilige vuur gaan brand. Waarom so ’n radikale en publieke
ingryping van God? God laat die mense skrik. "En ’n
groot vrees het oor die hele gemeente gekom en oor almal wat dit
gehoor het." (vers 11). God wil die mense laat skrik. God
wil deur die optekening van hierdie geskiedenis ook u laat skrik.
Sodat u ook deurdring sou word van die erns van die sonde en die
erns van sy heilige aanwesigheid.

Ek verkondig aan u: in die bestraffing van
Ananias en Saffira waak die Heilige Gees oor die heiligheid van
die gemeente.

Hy onthul

  1. Die werklikheid van hul sonde
  2. die aard van hul sonde
  3. die erns van hul sonde

Die verband van die teks spreek van die
beoefening van die gemeenskap van die heiliges. Deur die Gees is
die gemeente een van hart en siel, lees ons in Hand 4:32. Dit is
’n sterk uitdrukking: hulle is een van hart en siel. Hulle
is een in hul gesindheid en in hul gedrag. Hulle kan werklik op
mekaar staatmaak.

Die gemeenskap van die heiliges is dus nie
slegs ’n saak van die Sondag nie. Nie slegs ’n saak van
sondags by mekaar kom om saam te luister na die apostoliese
prediking en om saam te bid en te sing nie. Nee, dit is ’n
kwessie van hul hele lewe, van elke dag van die week. Die Gees
kom immers nie slegs op besoek op die Sondag nie. Die Gees het
gekom om permanent in die gelowiges te woon. Hy bly ons saambind
tot een liggaam. Hy bly by ons gelowiges om ons ’n blywende
gemeenskap te gee aan Christus en aan mekaar. So ervaar die jong
gemeente dit ook. Hulle ken hulself as lidmate van een liggaam.
Hulle stem hulself op mekaar af. Daarom is hulle bekommerd as
iemand geen geld het om kos of kleding te koop nie of as iemand
ander moeites ken. Hulle sê nie: dis sy probleem nie. Hulle weet:
daar ly ’n lid van die gemeente, ’n lid van dieselfde
liggaam waarby ek behoort. Daarom voel hulle die pyn en die nood.
Hulle verstaan die goue reël: as een lid ly, ly al die lede saam.

So begryp u, broeders en susters, iets van die
optrede binne die gemeente te Jerusalem. Daar is in daardie tyd
baie armes in die gemeente. Vroeër het hulle bystand ontvang dmv
die sinagoge, wat ’n beroep kon doen op die tempel-skatte.
Dit het egter anders geword toe hulle hul by die gemeente van
Christus gevoeg het. Daarmee het hulle die band met die sinagoge
en met die tempel gebreek. Nou moet die gemeente vir hulle sorg.
Wat daagliks via gifte en kollektes ingesamel word is egter nie
voldoende nie. Daarom verkoop ryke brs ’n huis of ’n
stuk land en gee die opbrengs daarvan aan die apostels wat
daarmee die armes kan versorg. Dit is in daardie tyd ’n
pragtige uitkoms vir die nood van die gemeente. So ontvang elkeen
wat hy of sy nodig het. Onder hulle is daar niemand meer wat
behoeftig is nie. Hulle het alles in gemeenskap.

Gemeente, beteken dit dat ’n goeie
Christen ’n Kommunis is, soos ’n ANC spreker onlangs
gesuggereer het? Nee, dit het niks met kommunisme te make nie,
ook nie met die kommunes waar elkeen wat toetree alles afgee en
waar geen persoonlik besit toegestaan is nie. In Hand is die
verkoop van eiendom geheel vrywillig. Petrus sê vir Ananias in
vers 4 "As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly
nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie?" Die
mense is beslis nie gedwing om te verkoop nie.

Bowendien moet ons rekening hou met die tyd
waarin hulle lewe. Christus het sy dissipels reeds vertel van die
komende verwoesting van Jerusalem. Die Christene het die woorde
van Christus oor die komende oordeel oor Jerusalem ernstig
opgeneem.

Die Heilige Gees beheers die lewe van die
gemeente. Die Gees gee die lidmate ’n ander instelling tov
hul eiendom. Hulle weet dat alles wat hulle het aan Christus
behoort. Daarom wil hulle die eiendom ook gewillig en met vreugde
gebruik tot heil van die ander lidmate van Christus se gemeente.
Waar moontlik wil hulle mekaar dien met hul besit. Dit is die
betekenis van die uitdrukking: hulle het alles in gemeenskap
gehad. Dit sien op hul instelling, die gesindheid van hul hart.
Hulle lewe soos geestelike mense. Hulle laat hul, ook in hul geld
sake, werklik lei deur die Gees van God.

’n Treffende voorbeeld van so ’n
geestelike mens is Joses, met die bynaam Barnabas. Gegrepe deur
die nood van die broeders verkoop hy sy stuk grond en bring hy
die geld aan die voete van die apostels. Ananias volg sy
voorbeeld. Ook hy het ’n stuk grond en sien die nood van die
broeders. Hy praat daaroor met sy vrou en saam besluit hulle om
dit te verkoop en om die opbrengs, altans ’n deel daarvan,
aan die apostels af te dra. ’n Deel daarvan hou hulle vir
hulself. Waarom hulle dit doen, dit weet ons nie. Dit sou kan
wees dat hulle enigsins bekommerd is oor hul toekoms. In elk
geval wil hulle nie hê dat die gemeente weet dat hulle iets
agtergehou het nie. Mense sou bv daaroor kan gaan skinder en
hulle as gierig sien of as mense wat nie op die Here vertrou nie.
Hul eer en goeie naam is op die spel. Daarvoor is hulle bereid om
’n leuen te gebruik, om die skyn te bewaar. Niks mag die eer
van mense in die pad staan nie en hulle moet ook self daarby baat
hê.

So bring hulle ’n deel van die opbrengs by
die apostels, maar hulle doen asof hulle alles gee. Hulle dink:
niemand hoef dit te merk nie. Hulle betoon tog liefdadigheid? So
’n klein leuentjie om jouself te beskerm is tog nie so erg
nie. So neem hulle ’n mooie skyn aan. Geen mens kan
daaragter kom nie. So kan daar ook vandag baie skyn in die kerk
wees. Onwaaragtigheid kan hom soms pragtig verskuil, sodat die
mense daar niks van merk nie. Soms probeer ’n mens om deur
te stoot na die waarheid maar jy kom nie daaragter nie.
Onwaaragtigheid kan hom soms pragtig inklee. Die mense sien slegs
die buitekant en raak onder die indruk. My eer word so hoog gehou.
Geen mens wat my kan gryp nie.

Maar broeders en susters, dink u dat u in die
gemeente slegs met mense te doen het? In die eerste plek het u
met God te make, God wat deur sy Gees in die midde van die
gemeente woon. Sou Hy Hom deur die skone skyn laat mislei? Sou Hy
nie daar deurheen kyk nie? Sedert Pinkster bly ek in die kerk nêrens
met my skone skyn. Ek kan die mense miskien wel vir die gek hou,
maar God nooit nie. Dit sien ons in die geskiedenis van Ananias
en Saffira. Die Heilige Gees waak oor die heiligheid van die
gemeente wat Hy gestig het. Onheiligheid, onwaaragtigheid mag
daar nie huishou nie. Daarom ontmasker Hy die werklikheid van die
leuen. Petrus ontvang ’n goddelike openbaring waardeur die
sonde aan die lig kom en openlik bestraf word.

Na die tyd van die apostels is daar geen
direkte openbarings meer nie. Geen mens, geen kerkraad kan meer
so in die hart kyk en oordeel nie. Dink egter maar nie dat dit
vandag dus veiliger met jou leuen is nie. U het ook nou te make
met die Gees van God, die kenner van die harte.

Dit bring ons by die 2e gedagte: die Heilige
Gees onthul die aard van die leuen.

Vir watter sonde word Ananias en Saffira
bestraf? U moet goed daarop let dat hulle nie bestraf word vir
die feit dat hulle maar ’n deel van die opbrengs gee nie.
Hulle is vry om met die opbrengs te doen wat hulle wil. Petrus sê
nadruklik: "As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue
gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie?"
Nee, hulle word nie bestraf omdat hulle ’n deel van die
opbrengs agterhou nie. Die sonde waaroor hulle bestraf word is
dat hulle hulself mooier voordoen as wat hulle is. Dat hulle die
skyn aanneem asof hulle alles gegee het. Hul onwaaragtigheid, dit
is hul sonde en dit word bestraf.

U moet daar goed op let hoe die onwaaragtigheid,
die leuen getipeer word. Eers hoor ons : waarom het die Satan jou
hart vervul. Die leuen is die werk van Satan, God se groot
teenstander. Satan is die vader van alle leuen. Hansie se
opmerking oor die duiwel in sy lewe is dus nie vreemd nie en hoef
heeltemal nie verkeerd te wees nie. Satan laat die gemeente nie
met rus nie, nee, juis nie. Waar die Gees van God aktief is, daar
probeer satan altyd tussen te kom. Dit gebeur ook in die lewe van
die jong gemeente te Jerusalem. Die eenheid wat deur die Gees
gewerk is moet gebreek word. Daarvoor gebruik satan Ananias en
Saffira.

Gemeente, dit beteken egter nie dat hulle
daardeur willose slagoffers van satan is nie. ’n Mens kan
soms maklik sê: o, daar het jy die satan weer, satan het dit
weer gedoen. So kan ek myself agter die satan skuil. Hy is die
skuldige. In Petrus se woorde klink duidelik die verwyt. As satan
in my lewe aktief is, dan is ek daar self ook by betrokke.
Ananias en Saffira het hul hart deur die satan laat vervul. Hulle
het hul in hul oorlegginge nie laat beheers deur die Heilige Gees
nie, maar deur die gees uit die afgrond. Waarom het die satan jou
hart vervul? Hoekom het jy hierin nie die Heilige Gees gevolg nie?
Hy het tog almal vervul? Hoekom het jy in hierdie saak satan die
plek van die Gees laat inneem? Hoekom het jy satan jou laat
beheers?

Petrus vervolg: waarom het die Satan jou hart
vervul om vir die Heilige Gees te lieg? Jy het nie vir mense
gelieg nie, maar vir God. En teen Saffira sê Petrus iets
dergeliks: waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here
te versoek? Die leuen is dus ’n ernstige vergryp en wel teen
die Heilige Gees. Dis opvallend dat hier van sonde teen die
Heilige Gees gepraat word. U moet dit nie gelykstel met die sonde
teen die Heilige Gees nie, die onvergeeflike sonde. Nee, dit was
Pinkster en nou is alle sonde ’n sonde teen die Heilige Gees.
Die Heilige Gees het immers in die gemeente woning kom maak. En
wat ek ookal doen of sê, ek het in die eerste plek met Hom te
make. Petrus praat selfs van ’n versoeking van die Gees. In
die woord ‘versoek’ lê die element van provokasie, van
uitdaging. Met my leuen, onwaaragtigheid daag ek die Heilige Gees
uit. Sal Hy reageer of nie? Ek lok Hom uit as ‘t ware.

Petrus maak die ware aard van die sonde aan ons
bekend. Vandag word die sonde dikwels psigologies benader. Ons
voer dan allerlei dinge aan om die sonde te verklaar. Kyk maar na
die omgewing waarin hy of sy grootgeword het. Die agtergrond van
’n persoon help inderdaad om die gedrag van die persoon te
begryp. Maar dit neem nie weg die eie verantwoordelikheid nie.
Laat ons die sonde nie verbloem nie. Op daardie oomblik is ’n
mens vervul van satan. Dit is ’n sonde teen die Heilige Gees.
Hoekom het die leuen na pinkster nog ’n plek in ons lewe en
samelewing? Die Gees is tog uitgestort! Die Gees van waarheid. In
die gemeente het ek allereers met die Gees van Christus te make.
Daar word dikwels nie aan gedink nie. Ek wil tog nie bewus teen
die Heilige Gees sondig nie? Maar dit is wel die werklikheid.
Sedert Pinkster kan ek nooit meer met die brs en srs in aanraking
kom sonder dat ek God, die Heilige Gees ontmoet nie. Ek het nooit
meer die kans om die Gees nie te tref nie. Ek kan Hom nie meer
ontwyk nie.

Dit is, broeders en susters, die vreugde van
die Pinksterbedeling: ek ontmoet die Gees nou en altyd in die
kerk. Dit is tegelyk die groot erns: as ek nou in watter vorm
ookal, in die gemeenskap van die heiliges knoei en lieg, dan doen
ek dit teen die Heilige Gees en nie slegs teen mense nie.

Dit bring my by die derde gedagte: die Heilige
Gees onthul die erns van die leuen.

Ananias en Saffira val albei dood neer. Wat
’n straf! Is dit nie veel te hard nie? Moes Petrus nie baie
barmhartiger gewees het? Let daarop, broeders en susters, dat
Petrus nie in eerste instansie self met die doodsvonnis kom nie.
Dit is die Gees wat Ananias skielik laat doodval, nadat Petrus
die aard van die sonde bekendgemaak het.

Maar, God is tog barmhartig en genadig? Dink
maar aan die vrou wat tot Jesus gebring is omdat sy owerspel
gepleeg het. Pleks van haar doodmaak, sê Jesus tot die aanklaers:
Laat die een van julle wat sonder sonde is, die eerste ’n
klip op haar gooi. En tot die vrou sê Jesus: Ek veroordeel jou
ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie (Joh 8:7,11). Wat moet
ons dink van die moordenaar aan die kruis? Skuldig aan geweld,
rowery en moord en tog sê Jesus vir hom: Vandag sal jy met my in
die paradys wees. Sy sondes is tog veel erger as die leuen van
Ananias? Moes die Gees van Christus hier nie barmhartigheid
getoon het nie? Petrus self het immers ook sy meester driemaal
verloën en tog genade ontvang?

Waarom dan die streng oordeel? Die Here bepaal
ons by die erns van die sonde. Hy kan die onwaaragtigheid in die
gemeente nie verdra nie. Daaroor ontbrand sy toorn.

Maar Ananias en Saffira het tog geen kwaad
bedoel met hul leuen nie? Hulle het liefdadigheid betoon. Hulle
het hul eiendom ter wille van die armes in die gemeente verkoop.
En hulle het tog nog steeds ’n groot deel van die opbrengs
daarvoor opgeoffer. Sou u dit nadoen? Miskien dat hulle goeie
motiewe gehad het vir hul handelwyse.

’n Mens moet ook nie vergeet dat hulle
veel daarvoor moes oorhê om lid van die gemeente te word. Dit
doen ’n mens nie sommerso nie. Dit kan gevaarlik wees om
christen te word. Jesus die Nasarener was gehaat. Die Joodse
leiers was skerp in hul verset. Die kerk-keuse van Ananias en
Saffira pleit dus vir hulle. Moet die een sonde van leuen hulle
dan so swaar aangereken word?

Dit bly sonde, watter versagtende omstandighede
ook aanwesig mag wees. En sonde wek die toorn van God op, ook
vandag. Dit wil die Here ons op die hart bind deur hierdie
geskiedenis.

Gemeente, die oordeel oor Ananias en Saffira
beteken nie noodwendig dat hulle ewig verlore is nie. Oor die
tweede dood, die hel word hier nie gepraat nie. Om die eerste
dood te sterwe is nie dieselfde as om verdoemd te wees nie.
Ananias en Saffira word nie beskuldig van algehele huigelary nie.
Dit gaan hier oor die een sonde van leuen waaroor die Here Hom
vertoorn. Die Here maak ’n einde aan hul aardse lewe vanweë
onwaaragtigheid.

Laat ons broeders en susters, die erns van die
sonde nie onderskat of kleineer nie. God se heiligheid verdra die
sonde nie, toe nie en nooit nie. Dit hoort in die gemeente nie
tuis nie. Laat ons vrees. God vrees. Hom ernstig opneem in sy
liefde en in sy toorn. Wees daarom opreg in die beoefening van
die gemeenskap van die heiliges. Wees opreg ook in die opening
van u beursies. Ja, in al u geld sake, ja in al u doen en late.
Onthou dit: u het met die Gees van Christus te make. Die Gees wat
deur alles heen kyk, die Gees wat as ’n verterende vuur is,
vir hulle wat in die sonde volhard. Dit is nou nog die tyd van
genade. Sonde teen die Heilige Gees is nog nie die sonde teen die
Heilige Gees nie. Na die belydenis van die gemeenskap van die
heiliges, in die apostoliese geloofsbelydenis, bely ons nog altyd
die vergewing van sondes. Daar is nog steeds vergewing, ook
vergewing vir my leuen. God is regverdig maar ook barmhartig.

Laat ons dan bly wees met die geskiedenis van
Ananias en Saffira. U sien hier die Gees waak oor die heiligheid
van die gemeente. Hy maak ’n einde aan die kragte wat die
gemeenskap ontbind. Hy lei die kerk verder in die ware vrees van
sy Naam. So wil Hy ook u lei.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)