Die verband tussen Christus die gesalfde en ons sy gesalfdes.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-06-25
Teks: 
II Korinthiërs 1
Preek Inhoud: 

2 Korinthiërs 1:20,21 &
Sondag 12
Ds C Kleyn - Sondag 25 Junie
2000

Lees: 2 Korinthiërs 1:12-2:4;
Sondag 12.
Sing: Ps 111:1,2; Ps 105:5,6; Ps
111:4,5; SB 25; Ps 110:1-3.

Tema: Die verband tussen Christus die gesalfde
en ons sy gesalfdes.

  1. Die agtergrond van daardie woorde van
    Paulus; en
  2. Die betekenis van die woorde.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In hierdie diens hoop Hans de Wit belydenis van
sy geloof af te lê. By sy doop het God sy jawoord aan hom gegee.
Nou hoop Hans publiek sy amen aan die Here te gee. Hy wil as kind
van God lewe, as Christen, as God se profeet, priester en koning.

Hoe kan hy, hou kan ons dit doen? Ons is immers
almal swak en sondige mense. Tog word ons geroep tot die hoë amp
van profeet, priester en koning. Wie kan dit?

Gemeente, dit kan alleen as u Christus ken, die
Gesalfde, en u eie salwing in Hom.

Dis opvallend dat Paulus ’n besondere
verband lê tussen die salwing van Christus en die salwing van
die gelowige. Let maar op 2 Kor 1:21 "Maar Hy wat ons saam
met julle bevestig in Christus en ons gesalf het is God." In
die oorspronklike taal is die verbinding onmiddellik duidelik.
Christus beteken immers gesalfde. Dan kan ons vertaal: Maar Hy
wat ons saam met julle bevestig in die gesalfde en ons gesalf het
is God.

Ek wil aan u verkondig die verband tussen
Christus die gesalfde en ons sy gesalfdes.

Ons let op

  1. die agtergrond van daardie woorde van
    Paulus; en
  2. die betekenis van die woorde.

Hoe kom Paulus daartoe om hieroor te skrywe?
Paulus word deur sommige lidmate te Korinte van onbetroubaarheid
beskuldig. Hy het belowe dat Hy Korinte sou besoek. Maar hy het
die belofte nie nagekom nie. Waarom? Om die Korinthiers te spaar,
lees ons in vers 23. Dus vir hulle eie beswil. Paulus wil naamlik
hê dat die onderlinge verhouding tussen hom en die Korinthiers
eers weer reg is. Die verhouding blyk naamlik versteur te wees.

Sommige lidmate gryp die verandering van planne
aan om Paulus van onbetroubaarheid te beskuldig. Paulus sou
’n man wees op wie ’n mens nie kan staatmaak nie.
Vandag sê hy ‘ja’ en more ‘nee’. Besef u,
gemeente, wat hier op die spel is? As Paulus onbetroubaar is in
sy reisplanne, dan is hy dit ook in die verkondiging van die
evangelie. Watter houvas het ’n mens dan nog aan sy woorde,
ja aan die Woord van God wat deur hom verkondig word? ’n
Mens kan hom daaraan dan maklik onttrek.

U weet hoe dit gaan. Niemand vind dit aangenaam
om deur ’n ampsdraer tereggewys te word nie. Die liefste
negeer ek die vermaan. Waar bemoei die man hom mee? Ek sal self
wel besluit wat ek wil doen. Alleen, dan sit ek nog wel met my
gewete. Diep in my weet ek immers dat ek verkeerd is. Hoe kan ek
my gewete sus? Wat is dan mooier as om iets te kan aangryp waarin
die ampsdraer self gefaal het. Dis dan handig as ek die ampsdraer
van onbetroubaarheid kan beskuldig. Ek kan mooi daaragter skuil.
So kan ek myself vrypleit. Moet ek luister na so ’n
ampsdraer? Hy moet eers maar na homself kyk. So sus ek my gewete.
Ek is nie in die eerste plek in gebreke nie, maar hy is in
gebreke. Hy blyk onbetroubaar te wees. Die tragiese is egter dat
ek daarmee myself mislei en dat ek daarmee my onttrek aan die
Woord van God.

Paulus weet dat die Woord van God in geding is.
Die kerkvergaderende werk van Christus. Daarom gaan hy daarop in.
Nie om sy eie persoon veilig te stel nie. Hy soek nie sy eie
belang of voordeel nie (vgl vers 17). Maar hy is ’n apostel,
’n gesant van Christus. So het hy homself met nadruk
aangekondig in vers 1. Hy het homself nie opgewerp as apostel nie.
Hy is dit deur die wil van God.

Die gemeente van Korinte moet nie bly kyk na sy
persoon nie. Hulle moet in hom ’n ampsdraer van Godsweë
sien. Agter die gesant moet ek die Sender sien. Agter Paulus moet
ek Christus sien. In die kerk gaan dit nie oor mense nie, maar
oor Christus, wat verkondig word.

Daarom spreek Paulus oor sy sender Jesus
Christus in vers 19: "Want die Seun van God, Jesus Christus,
wat deur ons onder julle verkondig is, deur my en Silvanus en
Timotheus, was nie ja en nee nie, maar was ja in Hom."

Die Seun van God is in u midde verkondig, sê
Paulus. U het dit van drie persone gehoor. Daarom staan die saak
vas. U weet nou met sekerheid wie Christus is en wat u van Hom
mag verwag. Hy is die Seun van God. Dus, God self. God wat nie
kan lieg nie. God wat altyd betroubaar is. Hy is Christus, God se
gesalfde. Hy is Jesus, die redder van die wêreld. Ons het Hom
aan julle verkondig. Die evangelie is nie ’n saak van ja en
nee nie. Maar in Christus is dit ja. Dws in Christus het God sy
jawoord tot die wêreld gespreek.

Gemeente, hoe kan dit? Die wêreld het mos Hom
gehaat? Ons het nee teen Hom gesê. Hoe kan God dan ja sê? Dit
is slegs moontlik danksy Christus. Alleen deur Christus is dit
moontlik dat God ja teen my gesê het by my doop, dat Hy ja sê
teen ons kinders. Slegs deur Christus is dit moontlik dat God ons
in sy genadeverbond opneem. Want Christus is die Middelaar van
die genadeverbond.

Is dit geen wonder dat God ja sê teen ons, dat
Hy ons wil red uit die mag van die duiwel, die sonde en die dood?
En dat Hy sy jawoord aan ons bly verkondig. Ook vandag. Ons kan
soms ook in die kerk baklei oor allerlei dinge. Maar waaroor gaan
dit in die kerk? Nie in die eerste plek oor mense nie. Dit gaan
in die eerste plek oor Christus. Vergeet dit nooit! Moet ons nie
veral verwonderd staan oor God se ja tot ons, sy jawoord in Jesus
Christus nie.

Paulus vervolg: "want hoeveel beloftes van
God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja" (vers 20). Die
Bybel is vol van die beloftes van God. Dink maar aan die
moederbelofte in die paradys waaruit al die ander beloftes
voorgekom het. God het sy beloftes gegee aan Noag, Abraham, Dawid
ens. Beloftes van vergewing van sondes, van ewige lewe, van seën
en voorspoed. Beloftes van sy nabyheid en Vadersorg. Beloftes van
genade en herstel. Beloftes van bevryding uit die mag van die
duiwel, die sonde en die dood. Beloftes vir hede en toekoms.

Broeders en susters, wil u weet hoe betroubaar
die woord van God is? Wil jy ’n bewys hê dat God nie vandag
ja sê en more nee nie? Kyk maar na Christus. Na Christus wat aan
u verkondig is. In Hom kom God se ja na u toe. Die evangelie is
’n betroubare boodskap. God sê geen ja en nee tegelyk nie.
Hy sê ja. Hy het dit eenmaal gesê op die hoogtepunte van die
heilsgeskiedenis. Op die kersdag en op Goeie Vrydag. By die krip
en by die kruis. Hy bly dit sê. In sy Woord. In elke
skriftuurlike preek. By elke doop. Verbond met Abraham, sy vrind,
bevestig Hy van kind tot kind.

Al God se beloftes lê vas in Christus. Ek weet
nou wat ek aan God het. Hy maak sy woorde waar. Ek mag lewe uit
die vastheid van God se jawoord. Daaruit moet ons almal lewe.
Teenwoordig is die uitgangspunt van baie mense nie meer wat die
Here in sy verbond sê nie, maar wat ons daarvan ervaar. Verstaan
my goed. Daar is niks verkeerds met ervaring nie. Ons moet ook
ons geloof ervaar. Ons moet ’n lewende verhouding met ons
Here hê. Maar ons moet nie daarmee begin nie. Wie dit doen kom
in voortdurende onsekerheid tereg. Slegs wanneer ek bou op God se
beloftewoord, God se jawoord in Christus, kan ek lewe in die
sekerheid van die geloof. Dan sal ek dit ook gaan ervaar.

So kom daar, broeders en susters, ook die amen
van die gemeente. In Hom dws in Christus is daar die amen, tot
heerlikheid van God deur ons. God het sy ja gespreek. Nou kan ons
deur Christus amen sê. God se beloftes beaam. Sy woorde aanneem
en bely.

My amen, my jawoord, my belydenis, hang dan nie
in die lug nie. Nee, soos God se beloftes vaslê in Christus, so
lê ook my amen vas in Christus. My amen is ’n reaksie op
God se beloftes. Ek kan die Here nie vryblywend laat praat nie.
Ek kan sy toeseggings nie slegs vir kennisgewing aanneem nie. Ek
word gedwing om te reageer. Ek wys die beloftes in ongeloof af,
of ek neem hulle in geloof aan. Vir ’n afwysende reaksie
waarsku die Here ons voortdurend in die Bybel. Dink bv aan Hebr
12:25: "Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want
as hulle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde
’n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder ons wat ons
van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek."

Dis sy eis. Dis onlosmaaklik met sy beloftes
verbind. God doen dus ’n dringende appel op ons
verantwoordelikheid. Sy beloftes gaan immers nie outomaties in
vervulling nie, maar langs die pad van die geloof. Wanneer ek glo,
dan word God se beloftes ’n blye werklikheid vir my. God se
ja vra om my amen. Ek sê van my kant ja teen God. Ek neem sy
beloftes aan.

Gemeente, in aansluiting op die ja van God en
die amen van die gelowige, lê Paulus dan die verband tussen
Christus die Gesalfde en die salwing van die gelowiges. "Maar
Hy wat ons saam met julle bevestig in die Gesalfde en ons gesalf
het, is God." Wat bedoel Paulus met hierdie woorde? Daarmee
het ons gekom by die tweede punt: die betekenis van Paulus se
woorde.

Die woord bevestig is eintlik ’n regsterm.
Dit beteken behalwe "vasmaak" ook "regsgeldig"
maak! God bevestig ons, apostels, sê Paulus. Dat wil sê, God
gee aan ons apostoliese woord regsgeldigheid. God self staan
daaragter. Met sy opdrag maar ook met sy krag. Wat sy troue
dienaars op aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles
wat hulle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees (Mt
18:18).

God maak dus die woord van sy troue dienaars
vas. Hy gee dit regskrag. So bevestig Hy ons sê Paulus. Maar
Paulus voeg onmiddellik daaraan toe dat Hy ook die gemeentelede
bevestig. "Hy bevestig ons saam met julle." Hy maak
alle gelowiges vas in Christus. So laat God ons almal sterk staan,
ampsdraers en gemeentelede. Hy laat ons sterk staan, nie in eie
kragte nie, maar in Christus. In die Gesalfde vind ons almal ons
vastheid. In die gemeente het daar, deur die verwyt van die
Korinthiers aan Paulus, verwydering gekom. Die apostel wys dan op
die werk van God. Wat God doen, dit verenig ons. Dit bring ons
verder. Dit laat ons saam sterk staan.

Christus, die gesalfde, roep Ou Testamentiese
gedagtes op. In die Ou Testament lees ons meermale van die
gesalfdes van die Here. Wie was daar die gesalfdes van die Here?
Dit was God se besondere dienaars. Die profete, die priesters en
die konings. Dit was mense wat deur die Here tot die besondere
amp geroep was. By hul aanstelling is hulle gesalf. ’n Soort
fyne ‘parfuum’ is oor hulle uitgegiet. Die Bybel noem
dit salfolie. Dit was ’n welriekend olie. Wat beteken nou
die salwing? Allereers dat die persoon daarmee deur God aangestel
word in sy amp. Hy word op daardie manier van ander onderskei.
Wanneer hy die olie voel en ruik dan weet hy seker: ek is deur
God aangewys om hierdie werk te doen. Die ander mense wat daarvan
getuies is kan ook weet: dit is die nuwe koning of priester.

Die salwing beteken egter nog meer. Dit is ook
’n teken dat ’n mens deur God bekwaam gemaak word vir
die uitoefening van die amp. Dit is ’n teken van die Heilige
Gees. ’n Pragtige teken. Die sondaar, wat uit homself as t
ware ’n slegte geur versprei, versprei nou deur die salfolie
’n aangename geur. Die sondaar wat uit homself onbekwaam is,
word fris en kragtig gemaak vir sy taak. Sondaars word vir God
aangenaam en bruikbaar. Wanneer God tot die amp roep, dan belowe
Hy ook die nodige kragte.

Maar, gemeente, hoe gebrekkig was die Ou
Testamentiese ampsdraers. Die profete, die priesters en die
konings kon die heil nie bring nie. Hulle ampsdiens roep om die
groot ampsdraer Jesus Christus. Wel, die Christus het gekom, die
gesalfde van die Here. Toe Hy publiek in sy amp aangestel is, is
Hy nie met salfolie, die teken van die Heilige Gees, oorgiet nie,
maar met die Heilige Gees self. Die Gees het by sy doop soos
’n duif neergedaal en op Hom gekom. En die stem van Vader
het uit die hemel geklink: Dit is my geliefde Seun in wie Ek
’n welbehae het.

Johannes die doper het dit gesien en gehoor.
Dit was vir Hom die bewys dat Jesus die beloofde Messias was, die
gesalfde van die Here. In die sinagoge van Nasaret het Jesus
homself as God se gesalfde aangewys. Hy het daar uit die profesie
van Jesaja gelees: "Die Gees van die Here is op My, omdat Hy
My gesalf het om (as profeet) die evangelie aan die armes te
bring, Hy het My gestuur om (as priester) die wat verbrysel van
hart is, te genees; en aan blindes herstel van gesig te gee en om
(as koning) aan die gevangenes vrylating te verkondig, die
aangename jaar van die Here." Christus bevestig dat hierdie
woorde in Hom vervul is.

Gemeente, Christus verenig in Homself die drie
ampte van profeet, priester en koning. As die groot ampsdraer is
Hy die vervulling van alle ampte. Die ander is nie meer nodig nie.
Gelukkig nie! Hy bring rêrig die heil. Wat ’n verskil met
sy voorlopers. Elia die profeet was bv baie belangrik. Tog kon hy
maar ’n bietjie laat sien van God se genade en toorn. Die
gesalfde Jesus Christus ken egter God se woord volkome. Hy vertel
ons presies wat God in gedagte het. Hy is ons hoogste Profeet en
Leraar, ook vandag, in die kerk. Hy spreek. Hy onderwys. Deur die
Bybel, die Woord van God. Deur ’n skriftuurlike preek. Sy
woord moet dit doen. God laat ons vasstaan in Christus. In Hom is
ons sterk. In Hom ons hoogste profeet is ons woorde geldig. Ja,
sy woorde gee ons vastheid. Hulle is betroubaar.

Hoe belangrik die priesters ookal was, hulle
kon nooit werklik die sondes versoen nie. Christus het as ons
enigste Hoëpriester ons met die enige offer van sy liggaam
verlos. En nou tree Hy met sy voorbidding gedurigdeur by die
Vader vir ons in. Sy dood is ons lewe. So ontvang ons ook in
Christus die hoëpriester ewige sekerheid.

Hoe belangrik koning Dawid ookal was, Hy kon
ons nooit werklik beskerm en bevry nie. Daar was nog steeds Satan
en die sonde. Christus die gesalfde koning het egter satan oorwin,
so ook die sonde en die dood. Hy is die ewige koning. Hy regeer
ons deur sy woord en Gees. Hy beskerm ons teen die mag van die
bose. Hy bewaar ons by die verlossing wat Hy verwerf het. In Hom
is ons meer as oorwinnaars.

So oefen die gesalfde vandag sy amp van profeet,
priester en koning uit. In Hom het ons alles. In Hom is ons
veilig en sterk. As ek na sy profetiese stem luister, as ek in sy
priesterlike offer glo en as ek my aan sy koninklike heerskappy
onderwerp, dan staan ek sterk.

U sal, broeders en susters, nou wel verstaan
wat Paulus bedoel wanneer hy sê dat God ons bevestig in die
gesalfde. In Christus ons hoogste profeet, ons enigste Hoëpriester
en ons ewige Koning ontvang ons sekerheid, vastheid, onoorwinlike
krag. Daarom kan die poorte van die doderyk die kerk nie
oorweldig nie. Christus sorg vir sy kerk. Hy leer ons die
verborge raad en wil van God self. Hy wys ons die weg, die
waarheid en die lewe. Hy koop ons met sy kosbare bloed. Hy stry
ons stryd. Ons toekoms is veilig in sy hande. Wat anders kan
’n mens verwag van so ’n ewige Koning wat priester op
sy troon is? Daar is niemand by wie ’n mens so veilig en
sterk kan wees nie.

Dit beteken egter nie, gemeente, dat ons nou
agteroor kan sit met die hande oor mekaar nie. Christus sorg
inderdaad vir die syne. In Hom het ons ewige sekerhede. Christus
is die gesalfde. Wanneer ek by Hom behoort dan laat God my egter
ook deel aan sy salwing. Daarom skryf Paulus: "Hy wat ons
bevestig in die gesalfde en ons gesalf het is God, wat ons ook
verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het."
Hy het ons verseël as sy eiendom. Hy het die Gees aan ons gegee.
Hy maak ons tot gesalfdes saam met Christus. Christus doen sy
drievoudige werk vir ons en in ons. Nie so dat ons sy drie ampte
oorneem nie. Maar Christus oefen wel sy drievoudige amp uit deur
u en my. Dit is wat dit beteken om ’n Christen te wees. God
het my gesalf. Daarmee het Hy my geroep om ’n spesiale taak
te vervul as sy dienaar of dienares. Hy het my ook toegerus deur
sy Gees.

As profeet kan en moet ek sy naam bely. Sy
woorde deurgee. Vir Hom opstaan.

As priester kan en moet ek myself aan Hom toewy.
Ek kan weer Christo-sentries lewe. Ja, ek kan weer fokus op God,
sodat alles uit Hom en tot Hom is.

As koning kan en moet ek stry teen die sonde en
die duiwel, in my eie lewe en in die lewe van ander. Ja, ek gaan
dan myself beheers om as God se onderkoning te werk.

Gemeente, wat ’n geweldige posisie mag ons
deur die geloof in Christus ontvang. Is dit nie geweldig om
Christen te wees nie? Christus maak u tot profete, priesters en
konings. Ek moet nou word wat ek reeds in prinsipe in Christus is.
Ek moet nou myself in die daaglikse lewe wys as ’n ware
profeet, priester en koning van God. Hoe ryk en vol word dan my
lewe. My woorde bou dan op. Hulle gee genade aan hulle wat dit
hoor. My hele houding word dan gekenmerk deur ootmoedige diens
aan God. My optrede sal dan beheers wees, in onderworpenheid aan
Christus. Wat ’n voorreg om aan so ’n ryke roeping deel
te hê.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)