Die naam Jesus, wat beteken die Here verlos.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-06-18
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 11
Preek Inhoud: 

Sondag 11
Ds C Kleyn - Sondag 18 Junie
2000

Lees: Psalm 130; Sondag 11.
Sing: Ps 99:1,2; Ps 99:4,5; Ps
100:2,4 (na die doop van Pieter Paul Van Deventer); Ps 75:1,4; Ps
130:1,2,4; Ps 68:9.

Tema: Die naam Jesus, wat beteken die Here
verlos.

  1. Die Here alleen verlos;
  2. Die Here verlos heeltemal.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die eerste wat ons van die Seun van God bely is
dat Hy Jesus genoem word. Die naam Jesus is ’n vertroude
naam. Miskien wel te vertroud. Wie ken nie die naam Jesus nie?
Die Naam het selfs banaal geword. Hoe dikwels hoor ons nie dat
mense die naam Jesus of ’n vervorming daarvan as ’n
bastervloek of stopwoord gebruik nie. Die naam word dan ontdaan
van sy betekenis en vir platvloerse bedoelings gebruik.

Ons mag veronderstel dat die naam Jesus onder U
wel bekend is. Tog is dit goed om onsself steeds weer af te vra:
waarom die naam Jesus? Ons moet immers voortdurend antwoord gee
op die persoonlike vraag: "maar julle, wie sê julle is Ek?"
U moet almal steeds weer besef wat dit konkreet vir u beteken dat
Hy Jesus genoem word.

Wie dit besef sal die naam Jesus nie langer
ydellik gebruik nie. Hy sal die naam met eerbied gebruik en met
eer oor Jesus spreek. Jesus sê immers wat die Seun van God vir
my is. Jesus beteken dan ook alles vir my. Hy is my heil en my
toekoms. Dit is die naam wat onder die mense gegee is, waardeur
ons gered moet word (Hand 4:12). As ek dit weet dan gaan ek tog
nie so ’n naam misbruik nie? Die naam Jesus het vir my
dierbaar geword.

Ek wil aan u verkondig die naam Jesus, wat
beteken die Here verlos.

  1. Die Here alleen verlos;
  2. Die Here verlos heeltemal.

In Ps 130 hoor ons van die Here wat verlos. Die
Psalm eindig daarmee: "By die Here is daar veel verlossing;
en Hy self sal Israel verlos van al sy ongeregtighede."

Die Psalmis roep uit die dieptes. Wat is die
dieptes? Dit is al die plekke waar die mens wegsink, waar die
mens geen bodem of vastheid onder sy voete het nie. Dieselfde
beeld kry ons o.m. in Ps 69 waar Dawid uitroep: "Verlos my,
o God, want die waters het tot by die siel gekom. Ek sink in
grondelose modder waar geen staanplek is nie; ek het in
waterdieptes gekom, en die stroom loop oor my….Red my uit
die modder en laat my nie sink nie; laat my gered word van my
haters en uit waterdieptes. Laat die waterstroom nie oor my loop
en die diepte my nie verslind nie, en laat die put sy mond bo my
nie toesluit nie!" (Ps 69:2,3,15,16). Kort saamgevat: die
persoon verkeer in ’n angswekkende diepte. Hy sink al dieper
in die ellende weg; Hy voel hom as een wat in ’n moeras
tereggekom het. Hy dreig daaraan onder te gaan.

Vanuit so ’n asembenemende nood skreeu die
digter in Ps 130 om hulp. Wat die nood presies is, sê hy nie.
Dit kan van alles wees. Elke mens ken sy dieptes. Daar is niemand
wat slegs hoogtes ken. Elkeen word op die bestemde tyd deur die
Here in die dieptes van moeite en teleurstelling, van smart en
verdriet gelei. Daar is ’n veelheid van dieptes. Die Psalmis
spreek in die meervoud. "Uit die dieptes roep ek U aan, o
Here." Die digter weet dat sy lewe onherroeplik verlore is
as daar geen verlossing kom nie. Dan is dit met hom gedaan. Ja,
dan kan niemand bestaan nie. Die put van die verderf sluit hom
dan bo elkeen se hoof.

Maar, gemeente, midde in die nood sing die
digter tegelyk van die verlossing. Dit is, broeders en susters,
steeds weer die verrassende van die Psalms. Die Psalmiste skreeu
voortdurend uit die nood. Maar hoe groot die nood ook al mag wees,
hulle kan nie nalaat om te roem in God se verlossing nie. Die
Psalm eindig met ’n loflied op God se verlossing: "Wag
op die Here, o Israel! Want by die Here is die goedertierenheid,
en by Hom is daar veel verlossing; en Hy self sal Israel verlos
van al sy ongeregtighede." God se kinders kan en mag in alle
omstandighede reken op God se reddende hulp. Die Here verlos.

Let daarop, gemeente, hoe seker die digter van
die saak is. Daar is geen spoor van twyfel nie. Hy is ten volle
oortuig. So is dit. By die Here is veel verlossing. Hy self sal
Israel verlos. Die Here verlos. Hy alleen.

Een van die kenmerkende woorde van die Psalm is
die woord: wag. Die digter leef in gespanne verwagting. Dit is by
hom geen vae hoop nie, maar ’n vasstaande kennis. Die
verlossing sal kom. Die groot more sal aanbreek. Daarom sien hy
vurig daarna uit. "Ek wag op die Here; my siel wag, en ek
hoop op sy woord." God het dit belowe, daarom sal dit ook
kom. My siel wag op die Here, meer as wagters op die more,
wagters op die more.

Soos wagters uitkyk op die muur van die stad in
die lange donker nag – die more laat so lank op hom wag
– so is hier die gespanne verwagting, die verlange na die
verlossing van die Here. Eens sal God op die grote more sy
verlossende woord spreek. En dan sal alle dieptes verdwyn. Dan
sal moeite en verdriet oorwin wees. Dan sal Israel se verlossing
kom.

Het dit u ook opgeval, broeders en susters, dat
die digter hier nog in die toekomstige tyd praat: Die Here self
sal Israel verlos. Wat in die Ou Testament nog toekoms is, word
in die Nuwe Testament werklikheid. Die Here sal verlos, word in
Jesus Christus: die Here verlos. In Hom word die taal van Ps 130
vervul. In Hom verlos die Here immers self sy volk van al sy
ongeregtighede.

Dat dit in Jesus Christus volle werklikheid
word, blyk uit sy naamgewing. Jesus is die griekse vorm van die
hebreeuse naam Josua en beteken letterlik: die Here verlos. Daar
was meer mense wat die naam gedra het. Uit die Ou Testament ken
ons byvoorbeeld Josua die seun van Nun, die opvolger van Moses en
Jesua, die seun van Josadak, van na die ballingskap. In beide
gevalle spreek die naam bewus van die Here wat verlos. Die intog
in die land Kanaän onder leiding van Josua getuig van die Here
wat verlos. So ook die terugkeer van Israel uit die babiloniese
ballingskap.

Wat daar ’n profetiese vooruit wysende
funksie gehad het, is in Jesus die seun van Maria werklikheid. Hy
word nie sommer Jesus genoem nie. Dis op bevel van die Here self
dat Hy die naam ontvang. Josef en Maria het albei via ’n
engel die bevel gekry om Hom Jesus te noem. Die Here self wil hê
dat die kind Jesus, dws ‘die Here verlos’ genoem word.
Waarom wil Hy dit? Omdat daardie naam sy persoon en werk sal
tipeer. Hy sal wees wat sy naam beteken. Hy word Jesus genoem en
Hy is Jesus. Hy word ‘die Here verlos’ genoem en Hy is
dit: ‘die Here verlos’. Die verlossing van die Here is
in Hom volle werklikheid. Let maar op die verklaring van die naam
wat God self aan Josef gee: "Jy moet Hom Jesus noem, want
dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos." (Mt 1:21).

In Ps 130 lees ons: die Here sal verlos. Hier:
Jesus sal verlos. Is dit geen teenstrydigheid? Beslis nie. Want
Jesus is ook die Here, die tweede Persoon van die goddelike drie-eenheid.
Juis in Jesus verlos die Here.

Die Psalmis het, broeders en susters, geroep
van die enigste uitsig uit die dieptes: die Here verlos. Sonder
Hom is daar geen hoop nie, geen uitsig nie. Niemand kan dan
bestaan. Die poel van die verderf sluit hom dan bo elkeen se hoof.
Dit is dan werklik afgeloop.

Alleen by die Here is daar verlossing. Die Seun
van God word Jesus genoem. Hy verlos en by niemand anders is daar
enige saligheid te soek of te vind nie. Is dit nie wat oordrewe
nie? By niemand ander enige saligheid, enige verlossing nie?

As ek siek is, wat doen ek dan? Dan volstaan ek
tog nie met gebed nie? Dan gaan ek tog ook na my dokter toe en
gebruik ek tog waar nodig medisyne? As ons land deur vyandelike
leërs bedreig word, dan roep ons tog die hulp van bondgenote in?
As ons land deur hongersnood of deur vloede getref word, dan mag
ons tog ons hoop op humanitêre hulp vanuit die buiteland vestig?
As ek in die samelewing ’n goeie posisie wil opbou, dan
probeer ek tog om dit bereik via ’n gedeë opleiding en
harde werk.

Moet ek dan nie eerlikheidshalwe sê: Ek soek
my heil by Jesus plus by die dokter en die mediese wetenskap.
Jesus plus die bondgenote. Jesus plus die humanitêre hulp. Jesus
plus my eie ywer en studie.

Gemeente, die Kategismus laat hier egter ’n
radikale nee hoor: dit is nie Jesus plus iets anders nie. Dit is
hier een of die ander. Jesus alleen of Jesus heeltemal nie. Nee,
dit wil nie sê dat ek nie na die dokter hoef te gaan nie.
Beslissend is: hoe gaan ek na die dokter. Ek moet die dokter sien
as ’n middel in die hand van my verlosser Jesus Christus.
Watter verlossing ek ookal ontvang, dit is danksy Jesus Christus.
En vergeet nie: mag dit werklik verlossing genoem word as ek wel
liggaamlik genees word, maar my ewige ondergaan tegemoet gaan?
Jesus is vir u alles of niks nie. Die mense wat hulle saligheid
en heil by die heiliges, by hulself of iewers anders soek verloën
met die daad die enigste Verlosser Jesus, sê die
Kategismusegismus, alhoewel hulle met die mond in Hom roem.

Hier proe u duidelik ’n afwysing van die
roomse praktyke. Rome wil naamlik Jesus eer as Verlosser. Maar
hulle dink dat die werk van Jesus deur die heiliges en deur die
goeie werke van die gelowiges aangevul moet word. Dit moet ’n
soort samewerking wees: Jesus doen iets, maar die heiliges en
onsself doen ook iets. Dus: Jesus plus nog iets. En dit beteken
’n verloëning van die enigste Verlosser Jesus. Dan is dit
nie meer: die Here alleen verlos nie. Dit is een of die ander:
Jesus, die Here, is vir u alles of Hy is vir u niks nie. In die
laaste geval is daar vir u geen hoop nie. Want indien u dit van
eie werke of van ander mense verwag, dan lê u nog onder die
vloek. Dan gaan u die ewige verderf tegemoet. Immers, as U, Here,
die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?

So kom ons by die 2e gedagte: Jesus verlos
heeltemal.

Dis opvallend, broeders en susters, dat die
Psalmis opeens praat oor ongeregtighede. Sy direkte nood, sy
dieptes, daaroor sê hy maar min. Hy ag dit nie nodig om dit met
name te noem nie. Hy gaan in vers 3 onmiddellik oor van die
dieptes na die ongeregtighede: "As U, Here, die
ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?"

Waarom noem die digter skielik die
ongeregtighede? Die digter stoot deur na die oorsaak van alle
ellende, die oorsaak van alle dieptes. Die nood staan nie op
homself nie. Die ergste is nie dat ek in dieptes verkeer nie. Die
ergste is dat ek ’n sondige mens is. My siektes, my
teleurstellings vorm nie my grootste nood nie. Die grootste nood
is en bly die sonde. Daaraan word ek steeds weer herinner as ek
deur die dieptes gaan. Daarom ook die oorgang van die digter na
sy ongeregtighede.

So ’n oorgang lê by ons in die reël nie
voor die hand nie. In die diepte van die nood bly dit meesal by
’n skreeu om redding, ’n roep om beterskap en uitkoms.
Die digter sien egter skerp die wesenlike van die nood. Hy sien
die hand van God wat vanweë ons gemeenskaplike en persoonlike
skuld die lewe in die dieptes bring, in angswekkende dieptes. Hy
weet immers: as die Here die ongeregtighede in gedagtenis hou,
dan kan niemand bestaan nie.

Maar by U is vergewing, roep die digter uit.
Die wesenlike nood word opgehef. Daarvan spreek die hele
tempeldiens. Daar is vergewing. Die Here hou my sonde nie in
gedagtenis nie. Hy kom nie daarop terug nie. Hy vergewe en
vergeet. Hy self sal Israel verlos van al sy ongeregtighede.

Wat beteken dan die naam Jesus? Die Here verlos.
Waarom moet die Seun van God Jesus genoem word? Omdat in Hom die
Here verlos. En waarvan verlos Hy? Die engel verklaar dit aan
Josef: "Jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk
van hulle sondes sal verlos" (Mt 1:21).

Wat ’n verskil, broeders en susters, met
al die menslike redders, hoe waardevol hulle ook mag wees. Wat
’n verskil met die dokter wat ek by siekte raadpleeg. Wat
’n verskil met die bondgenote wie se hulp ons inroep. Wat
’n verskil met wat ons van ons eie studie en insette kan
verwag. Al die menslike redders kan hoogstens ’n tydelike
verligting van moeite gee. Hulle kan hoogstens werk aan die
gevolge van die sonde, aan die simptome. Miskien luk dit hulle om
te sorg vir ’n tydelike opheffing van bepaalde nood. Hulle
kan die siekte help genees, honger help stil, verdrukking help
verbreek ens. Op sigself nie niks nie, gawes waarvoor ons baie
dankbaar mag wees. Maar dis bepaald nie alles nie. As dit daarby
bly dan kom daar uiteindelik nog niks van my tereg nie. Die
oorsaak van alle ellende, daar kan hulle niks aan doen nie, dit
kan hulle nie wegneem nie. Een nood kan opgehef word maar dan kom
daar weer ’n ander nood. Dis nie verniet dat die Kategismus
spreek van ’n moeitevolle lewe hier op aarde. En uiteindelik
loop alles uit op die dood.

Hoe heerlik is dit dan, gemeente, dat ons Jesus
mag ken. In Jesus stoot die Here deur na die oorsaak van alle
ellende. Hy pak dit by die wortel aan. Daar waar dit misgeloop
het. Die sonde word aangespreek en uitgewis. Dit volgens God se
belofte, wat reeds in Ps 130 besing word: "Hy self sal
Israel verlos van al sy ongeregtighede." Ja, want dis vanweë
die ongeregtighede dat ons nie kon bestaan nie, dat daar geen
lewenskanse was nie. Maar in Jesus is daar vergewing. Ons kan
weer bestaan. Daar is redding en uitsig. Jesus Christus red
volkome naar siel en liggaam.

Maar, broeders en susters, hoe sit dit dan met
die hulp van mense wat ons steeds weer inroep? Moet ek by siekte
ook geen vertroue in my dokter stel nie? Moet ek in my strewe na
’n goeie posisie dit ook nie verwag van my opleiding en ywer
nie. Mag ek dan geen verwagtings van my medemense of van myself
koester nie?

Dit hang daarvan af hoe ek my vertroue op ander
of op myself stel. Dit mag nooit ’n absolute vertroue wees.
Dit mag slegs ’n vertroue wees in besef van die
afhanklikheid van Jesus. Sonder Jesus kan ek niks nie, kan ook my
medemense niks nie. Alle mense is volkome afhanklik van Hom.
Hulle is slegs sy dienaars, sy instrumente. Wat ander of onsself
doen is in feite vrug van Jesus se werk. Sonder Hom is daar geen
heil of welvaart nie. Sonder Hom sal alle inspanning en wetenskap
my nie baat nie. Geen mens sou bestaan. As ek genesing mag
ontvang dan het ek dit aan Jesus te danke. Hy alleen verlos.
Ookal maak Hy daarby gebruik van menslike instrumente. En Hy red
volkome, na liggaam en siel.

Is dit, broeders en susters in u lewe ook te
sien dat die Here alleen red en dat Hy heeltemal red? Met die
mond bely ons dat ons glo in Jesus Christus, God se eniggebore
Seun. Is dit ook ’n werklikheid in u lewe van elke dag? Blyk
dit wel in die manier waarop u u gedra in hierdie wêreld. In die
manier waarop u moeites en teleurstellings deurstaan? Is Jesus
alles in u lewe? Ook as U die hulp van mense inroep? Is Hy alles
as julle, seuns en dogters, ’n opleiding kies of ’n
beroep? Verwag julle werklik jul toekoms, jul posisie en jul
welvaart van Hom? Is dit so dat jy geen diploma of graad, geen
sent en geen kos begeer buite die verlossing in Jesus Christus
nie?

Teenwoordig het baie mense Jesus Christus uit
die daaglikse lewe weggedruk. Mense vind dat Jesus wel relevant
is vir die kerk, vir die Sondag en vir die individuele siel. Maar
in die breë terrein van die lewe sou Jesus geen seggenskap hê
nie. Daar sou ander instansies en wette seggenskap hê. Hy of sy
wat so praat en leef verloën met die daad die enigste Verlosser
Jesus. Wie vandag in die kerk Jesus as Verlosser bely, maar more
brood eet, fees vier, eksamens skrywe of sake doen buiten Hom,
die verloën die enigste Verlosser Jesus.

Die Kategismus stel so ’n huigelary aan
die kaak. So ’n lewenspraktyk vloek met die skone belydenis.
Die Kategismus dring u en my tot ’n radikale keuse. Dit is
een of die ander. Of Jesus is nie ’n volkome verlosser nie
– dit sou godslasterlik wees om dit selfs te dink – of
die wat hierdie Verlosser met ’n ware geloof aanneem, het in
Hom alles wat vir hulle saligheid nodig is.

U weet, gemeente, waar dit op aankom. U het
opnuut gehoor waarom God se Seun Jesus genoem word en wat dit vir
u beteken. Die Here verlos. Hy alleen en heeltemal. Soek dit dan
ook by Hom alleen. Aanbid Jesus as U enigste en volkome Verlosser.
Dan is u verlos, vandag, more en oormore, tot in alle ewigheid.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)