In ooreenstemming met die profesie word die laaste bedeling gekenmerk deur die uitstorting van die Gees op alle vlees.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-06-11
Teks: 
Handelinge 2
Preek Inhoud: 

Handelinge 2:17, 18
Ds C Kleyn - Sondag 11
Junie 2000

Lees: Handelinge 2:1-21.
Sing: Ps 96:1,2; Ps 96:5,6; SB 14 (na doop van
Johannes Barnadus de Winter & Ulrike Bron); SB 13:1-3; SB 13:4-7;
Ps 67:1-3 (na kollekte).

Tema: In ooreenstemming met die
profesie word die laaste bedeling gekenmerk deur die uitstorting
van die Gees op alle vlees.

  1. Die Gees laat mense God se groot dade ken;
  2. Die Gees laat mense God se groot dade
    verkondig.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Op die pinksterdag gebeur geweldige dinge in
die tempelstad Jerusalem. Uit die hemel kom ineens ’n geluid
soos van ’n geweldige rukwind. Daar word tonge gesien soos
van vuur. Die mense hoor dus ’n hemelse stem en sien hemelse
vuur.

Alle aandag word gevestig op die skare van 120
joodse manne en vroue wat in Jerusalem rondom die apostels
vergader is. Die hemelse geluid vul die hele huis waar hulle sit.
En die tonge soos van vuur verdeel hulself en gaan op elkeen van
hulle sit. Hulle word almal vervul met die Heilige Gees en begin
spreek in ander tale. Almal wat vanweë die Pinksterfees in
Jerusalem is moet wel by hierdie wonderlike gebeure stilstaan.
Hulle kan dit nie ontwyk nie. Hulle kan nie sommerso die eerste
apostoliese gemeente verbystap nie. Die hemelse geluid kom hulle
teen en elkeen hoor die volgelinge van Christus in sy eie taal
spreek. Heel Jerusalem raak in rep en roer.

Hoe anders is dit op hierdie Pinksterdag in
Pretoria. Die aandag word nie getrek na die Christelike gemeente
wat hier vergader is nie. Hier is geen geluid soos van ’n
geweldige rukwind nie. Hier is geen tonge soos van vuur nie. Hier
word nie gepraat in ander tale nie. Hier gebeur blykbaar niks
opvallends nie. Die mense kan hierdie kerkgebou rustig verbystap
sonder om in verwarring gebring te word.

Moet ons, broeders en susters, hieruit
konkludeer dat die Heilige Gees nou minder kragtig besig is? Waar
bly die hemelse kragte? Hoe arm lyk hierdie gewone erediens in
vergelyking met die geweldige begin. ’n Mens sou daarna
terugverlang. Of nie? Hulle is toe almal vervul met die Heilige
Gees, lees ons. Hulle loop as ‘t ware oor van die Gees. Kan
ons dit wel sê van die gemeente soos dit hier vergader is? Is
ons vandag ook vervul met die Gees of geld dit alleen van die
kerk van daardie tyd?

Laat ons luister hoe die Gees self dit
Pinkstergebeure verklaar deur Petrus. Die Heilige Gees laat
Petrus dink aan die woorde van die profete. In die lig van die
profesie, veral van die profesie van Joel, laat Petrus sien dat
op die Pinksterdag die laaste fase van die wêreld-geskiedenis
ingelui is. "Dit is wat deur die profeet Joël gespreek is:
En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op
alle vlees."

Ek verkondig aan u: In ooreenstemming met die
profesie word die laaste bedeling gekenmerk deur die uitstorting
van die Gees op alle vlees.

  1. die Gees laat mense God se groot dade ken;
  2. die Gees laat mense God se groot dade
    verkondig.

Gemeente, dat ’n nuwe fase van die
geskiedenis ingelui word, bly uit die besonder tekens van die dag.
Dit is tekens van die verskyning van die Here. Dink maar aan die
verskyning van die Here by die Sinai. Dit sal die Jode van die
tyd des te sterker aangespreek het. Vir hulle was Pinkster
naamlik ’n oesfees en ’n fees ter herdenking van die
wetgewing op die Sinai. Die tekens van Pinkster herinner ons aan
die inwyding van die Sinai verbond. Dit was ook die begin van
’n nuwe fase in die wêreldgeskiedenis. Die Ou Testamentiese
periode van Moses tot Christus is ingelui met ’n verskyning
van die heerlikheid van die Here op die berg Sinai: besuingeluid,
donderslae, blitse en dan ’n stem uit die midde van die vuur.

Op die Pinksterdag lyk dit wel asof die net so
storm en blits as op die Sinai. Die Here kom weer, soos Hy
eenmaal gekom het. ’n Periode word afgesluit. Die ou
bedeling is vervul. En die nuwe bedeling word ingelui deur
hemelse geluid, deur die hemelse vuur en die spreek in ander tale.
Daarom kan en sal die pinksterdag nie herhaal word nie. Die nuwe
tyd, die eindfase van die wêreldgeskiedenis hoef maar eenmaal
ingelui te word. God het die beginpunt eens en vir goed wêreldkundig
gemaak deur die begeleidende tekens van sy aanwesigheid.

U moet, broeders en susters, dus goed onderskei
tussen die begeleidende verskynsels en die saak self. Die
begeleidende verskynsels is nie meer nodig nie. Maar die saak
self, die uitstorting van die Gees op alle vlees, bly. U hoef nie
te verlang na ’n herhaling van wat met Pinkster gebeur het
nie. Die Gees is reeds uitgestort. En dat Hy uitgestort is, hoef
nie meer op ’n besondere wyse wêreldkundig gemaak te word
nie. Ons het reeds daarvan berig in die Bybel. Na Pinkster,
’n duidelike gemarkeerde keerpunt in die geskiedenis, het
die uitgestorte Gees voortgegaan met sy werk op aarde. Daar is
nou ’n deurlopende lyn, waarlangs die Heilige Gees met alle
geweld werk na die herstel van alle dinge. Die Gees in nou
werklik nie minder kragtig besig as voorheen, as u u oë maar
oopmaak.

Joël het reeds geprofeteer van die uitstorting
van die Gees op alle vlees. Die messiaanse tydperk sou gekenmerk
word deur ’n oorvloedige werking van die Heilige Gees. In
die nuwe tydperk gaan God nie karig aan die werk nie. Hy sal sy
Gees uitgiet soos ’n stortreën neerval op die aarde. Alles
sal as ‘t ware oorloop.

Met Pinkster sien u dit werklikheid word. Mense
word vervul met die Heilige Gees en begin oor die groot dade van
God te spreek. Hulle word as ‘t ware daarmee volgegiet,
sodat dit by hulle oorloop na alle kante toe.

Petrus verkondig die vervulling van die belofte.
Hy wys tewens op die geheim van die vervulling. Wat is dan die
geheim van die vervulling? Dis Christus. Joel se profesie het
werklikheid geword deurdat Christus sy werk volbring het en
verhoog is. In vers 33 lees ons hoe alles gekom het: "Nadat
Hy (d.i. Jesus Christus) dan deur die regterhand van God verhoog
is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het,
het Hy dit uitgestort, wat julle nou sien en hoor." Die
Heilige Gees is die Gees van die Seun. Hy neem dit uit die Seun.
Hy gaan nou alles skenk wat Christus verwerf het, al sy skatte en
gawes. Hy doen dit nie suinig nie. Hulle word almal vervul. Dit
loop as ‘t ware oor na alle kante toe.

So verstaan u iets van die verskil tussen die
werk van die Heilige Gees in die ou bedeling en sy werk in die
nuwe bedeling. U moet nie dink dan die Heilige Gees as persoon
nie onder die ou bedeling aanwesig was nie. Geloof en bekering
was ook toe die werk van die Heilige Gees. In die nuwe bedeling
is alles egter veel voller en ryker, omdat God Hom in Jesus
Christus veel ryker geopenbaar het en die Gees alles uit Christus
neem. In die Ou Testament wat dit nog nie moontlik nie. Israel
moes as ‘t ware nog volstaan met ’n kindermaat. Nou mag
u die volle maat hê, die maat wat pas by ’n kerk wat
volwasse, mondig geword het deur Christus. Die Heilige Gees leer
u die groot dade van God in Jesus Christus ken.

Joel laat in sy profesie nog ’n ander
duidelike verskil uitkom. God sal van sy Gees uitstort op alle
vlees. Dit word nie slegs veel ryker nie, maar ook veel breër.
Elke ou testamentiese gelowige het die Gees ontvang. Dit was
egter slegs bepaalde persone wat die besondere gawes van die Gees
ontvang het. Hulle alleen het die Gees van profesie ontvang, ook
al was die gawe nog maar power in vergelyking met die ryke gawe
van die Nuwe bedeling. In die nuwe bedeling sal die geestesgawe
– en dit na die maat van Christus – nie slegs die
voorreg van ’n bepaalde klasse mense wees nie, van profete,
priesters en konings. Die Geestesgawe word gemeengoed, alle
groepe onder die volk sal daaraan deelhê. "Ek sal van my
Gees uitstort op alle vlees." God skenk dit aan alle lidmate
sonder onderskeid van leeftyd, geslag of stand. Die teks spreek
van seuns en dogters, jongelinge en ou mense, ja selfs van
diensknegte en diensmaagde, slawe en slavinne.

Ons lees: "En julle jongelinge sal gesigte
sien en julle ou mense sal drome droom." U moet, broeders en
susters, die woord nie so lees asof slegs die jongelinge gesigte
sal sien en slegs ou mense drome sal droom nie. Hier het ons te
doen met ’n bepaalde skryfwyse. Wat vir die een geld, geld
ook vir die ander. Die bedoeling is dat jong en oud, slaaf en
vrye sal deel in die ryke gawe van die Gees van Christus. Selfs
die dikwels veragte slawe sal daarin deel.

Jong en oud sal gesigte sien en drome droom.
Maar, broeders en susters, wat beteken dit om gesigte te sien en
om drome te droom? Vanuit die ou Testament weet ons dat God Hom
vroeër aan ’n profeet bekendgemaak het d.m.v. gesigte en
drome. Dit was die twee middele waardeur God Hom geopenbaar het.

Wanneer Joel profeteer van die messiaanse
tydperk, dan praat Hy nog in die taal van daardie tyd. Die
gelowiges van daardie tyd het presies geweet wat Hy daarmee
bedoel het. Sou jy joodse kinders gevra het wat dit beteken dat
jong en oud gesigte sien en drome droom dan sou hulle onmiddellik
geantwoord hê: oud en jong sal openbarings van God ontvang.

In die nuwe bedeling is die manier van God se
selfopenbaring duidelik verander. In hierdie laaste dae het God
tot ons gespreek deur die Seun. En die Gees het daarvoor gesorg
dat die definitiewe openbaring na ons toegekom het en vir ons
vasgelê is in die voltooide Bybel.

Joel spreek van gesigte sien en drome droom.
Dit pas in sy tyd. Dit beteken: God sal Hom bekendmaak. Hoe doen
God dit in hierdie nuwe bedeling? God maak hom nou aan u bekend
in die Skrifte, in die Bybel. U mag daarin God se groot dade sien.
Wanneer u God se Woord lees of hoor verkondig, dan sien u gesigte
en ontvang u drome. U sien God soos Hy Homself in Christus so ryk
geopenbaar het. Christus het ons immers die verborge raad en wil
van God aangaande ons verlossing ten volle geopenbaar. Hy het vir
ons God se hart oopgelê. Hy het ons die volheid van verlossing
gewys. Wat kon die Ou Testamentiese gelowiges daarvan weet? Hul
kennis was nog baie vaag en beperk. Hulle kon nie sien en hoor
wat u nou sien en hoor nie. Ja, selfs die Ou Testamentiese
profete het nie so ’n openbaring van God ontvang nie.

Daar is by ons geen skeiding meer soos voorheen:
seuns en dogters, mans en vroue, diensmeisies en diensknegte.
Hulle mag almal deel in die Gees van kennis en wysheid. God vra
nie na bepaalde kwaliteite of bekwaamhede nie. Hy vra nie na
bepaalde diplomas of onderskeidings nie. God wil Hom aan u almal
bekendmaak. En Hy doen dit elke keer wanneer u sy woord hoor
vertel of bedien.

So mag julle, seuns en dogters, gesigte sien en
drome droom wanneer julle jul bybel lees of wanneer julle die
woord bestudeer en bespreek op vereniging. Julle mag God se groot
dade van verlossing sien en hoor. Ja, julle mag selfs meer sien
as die Ou Testamentiese profete. Ook ons mans en vroue mag
gesigte sien en drome droom. God maak Hom aan u bekend. Dit kom
tot u as ’n belofte van die nuwe bedeling.

Die belofte is tewens ’n eis. As u aan die
Gees van Christus deel wil hê, dan sal u ook die Gees opreg moet
soek. As u gesigte wil sien dan sal u erns moet maak met die
Skrifte. U sal daarmee besig moet wees. Dit lees, dit oordink en
bestudeer. Daarom is die huisgodsdiens so belangrik. As u in
hierdie ryke nuwe bedeling tog nog geestelik arm en onkundig is,
dan lê dit nie aan die Pinkstergees nie. Die Pinkstergees is
ryklik uitgestort. Dan lê dit aan uself, aan u slapheid of
gemaksug.

Gemeente, wanneer die Gees God se groot dade
aan mense laat ken dan gaan hulle ook profeteer. Hulle loop
daarvan oor. Hulle kan nie langer swyg nie. God se groot dade wil
verkondig word. Dit blyk duidelik op die Pinksterdag. Die menigte
hoor die 120 gemeentelede waaroor die Gees uitgestort is oor die
groot dade van God spreek. Ook die vroue daaronder swyg nie. Met
die manne begin hulle in ander tale te spreek, soos die Gees aan
hulle gee om uit te spreek.

Joel het daarvan geprofeteer: en julle seuns en
julle dogters sal profeteer, ja selfs my diensknegte en my
diensmaagde sal profeteer. Jong en oud, slawe en vryes sal optree
as profete. Hulle sal God se groot dade van verlossing in Jesus
Christus verkondig.

Gemeente, van ’n profeet geld dat hy
mondstuk van God is. Hy moet oordra wat God aan hom bekend gemaak
het. Hy mag geen eie idees verkondig nie. Hy moet God se woorde
verkondig. Wat is dan die eerste vereiste van ’n profeet?
Dit: dat Hy goed luister na wat God vir Hom wil sê. As u profeet
of profetes wil wees, luister eers goed: spreek Here, u kneg
luister. As u in u gesin as profeet of profetes wil optree –
en dit is tog elke ouer se eer en roeping - dan sal u eers goed
moet luister. Om te luister na die Gees van profesie, om te
luister na God se woord is die enigste wapen teen alle verwêreldliking
en eiewilligheid. Dit is die geheim van ’n ware profeet of
profetes, wat God se dade verkondig. Dit is die geheim van u lewe
elke keer as u God se naam bely, elke keer as u vir God se woord
opkom.

Ons mag ons voortdurend verheug in die sigbare
vrugte van die Pinkstergees. U hoef nie te vra of die Gees na
Pinkster wel voortgegaan het met sy kragdadige werk nie. Wanneer
u u seuns en dogters hoor profeteer dan sien u dit tog? Om God se
naam te bely is slegs moontlik deur die ryke openbaring van die
Pinkstergees. Die Pinkstergees laat jong en oud profeteer.

Om te profeteer is ’n belofte van die nuwe
bedeling. Ons sien die vervulling daarvan by elke belydende
christen. Die belofte is egter ook ’n eis. God openbaar
Homself nie verniet nie. Hy kom nie verniet na u toe in die
Skrifte en in die prediking nie. Hy wil u gesigte laat sien en
drome laat droom. Waarom? Sodat u kan profeteer. Indien u dit nie
doen nie dan verag u die rykdom van die nuwe bedeling, dan verag
u die Pinkstergees. Die jongelinge sal gesigte sien sodat hulle
kan profeteer. So mag ons seuns en dogters hier, in die gesin, op
die geref skool, op die kat en op die vereniging opgelei word tot
profete en profetesse. Daar wil die Pinkstergees na toe. Hy wil hê
dat ons nie slegs hoor nie, maar ook gaan spreek van wat ons hoor.
Hy wil hê dat ons God se groot dade van verlossing in Jesus
Christus sal gaan verkondig.

Die Pinkstergees is uitgestort oor die Nuwe
Testamentiese gemeente. Die Gees is nie suinig nie. Nee, die
ontvangers raak geheel vervul met die Gees. En dan bars alles uit
sy voege. Hulle gaan aan die werk. Hulle gaan spreek. Daar kom
vaart in die lewe van God se kinders. Hulle wys hulself as
christene in woord en daad. Die Pinkstergees maak hulle entoesias,
daadkragtig.

Kan dit broeders en susters, seuns en dogters,
ook van julle gesê word? Blyk dit dat julle nie slegs die Gees
het nie, maar dat julle ook vol van die Gees is? Kan die mense
aan julle sien en hoor dat die Gees van Christus julle beheers en
lei. Kan hulle dit sien in julle optrede in jul huwelik en gesin,
by die werk, by die skool en in die manier waarop julle jul tyd
deurbring? Waar is u, waar is jy vol van?

Daar is klagte oor ’n tekort aan geesdrif
in die kerk. En as gevolg daarvan ’n tekort aan blydskap en
daadkrag. Die gemeente sou benede haar stand lewe. Benede die
vlak van die Pinkstergees. Daarom bly die oproep van Paulus in Ef
5:18 baie aktueel: word met die Gees vervul. Laat die
Pinkstergees u besiel. Sodat u ook vandag werklik geesdriftig kan
lewe tot eer van God en tot ’n getuienis vir die wêreld.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)