Die Pinkstergees laat die kerk die styl van die Pinkster bedeling toon.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-06-11
Teks: 
Handelinge 2
Preek Inhoud: 

Handelinge 2:42
Ds C Kleyn - Sondag 11 Junie
2000

Lees: Handelinge 2:22-47.
Sing: Apostoliese
Geloofsbelydenis; Ps 73:10-12 (na kollekte); SB 43:1,2,4,5; Ps
143:8-10.

Tema: Die Pinkstergees laat die kerk die styl
van die Pinkster bedeling toon.

  1. Die kerk bind hom aan die apostoliese leer;
  2. Die kerk verbind hom tot die beoefening van die
    onderlinge gemeenskap.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die lewe van die vroeër christelike gemeente word dikwels
genoem om kritiek te oefen op die kerk van teenwoordig. Sommige
groeperings vind dat die warme stroom van die Gees wat so
duidelik merkbaar was in die eerste gemeente, in die gevestigde
gemeentes tot stilstand gekom het. Dit sou nou almal so kil en
star geword het in die bestaande kerke. Ons het nou die vaste
patrone. Ons het nou die vaste ampte en bedienings. Die
eredienste verloop na ’n vaste orde. Ons het te doen met
’n vasgestelde leer in die kerklike belydenisskrifte en met
die vaste reëls van die kerkorde. Kyk maar na die eerste
Christene, sê mense dan. Al die strukture, al die vaste patrone
het toe nog nie bestaan nie. Maar daar was warmte. Daar was lewe.
Spontaan lewe wat hom in allerlei vorme geuit het.

Die kritiek begin dan dikwels by Hand 2:43 ev. Ons lees daar
dat baie wonders en tekens deur die apostels plaasgevind het.
"En almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en het alles
gemeenskaplik besit. En hulle eiendomme en besittings het hulle
verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens wat elkeen
nodig gehad het. En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in
die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel
met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, terwyl hulle God
geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het
daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is." (Hand 2:43-47).

Wat sien ons daarvan vandag? Het ons dalk ons ryke ontstaan en
geskiedenis verloën?

Broeders en susters, laat ons ons geboortebewyse maar weer
eens op tafel lê en dit noukeurig lees. Ek verkondig aan u: die
Pinkstergees laat die kerk die styl van die Pinkster bedeling
toon.

  1. Die kerk bind hom aan die apostoliese leer;
  2. Die kerk verbind hom tot die beoefening van die
    onderlinge gemeenskap.

Wanneer ons ons geboortebewyse uit Hand 2 nalees, dan kom ons
tot ’n heel ander konklusie as in die inleiding genoem. Hand
2:43 e.v. word immers voorafgegaan deur Hand 2:42. En wat val dan
op as ’n mens Hand 2:42 lees? Dit: die allereerste wat die
Skrif ons oor die kerk van Pinkster, na die geweldige begin,
vertel is nie dat hulle in besondere gawes en uitinge hul krag
gesoek het nie. Die allereerste wat ons lees is dat hulle heel
gewoon volhard het in die leer van die apostels. Die eerste vrug
van die Gees was nie dat die gemeentelede almal spontane dinge
begin doen het nie. Nee, dit was dat hulle volhard het. Die hele
lewe van die kerk word gekenmerk deur volharding, getrouheid.

Ons teks gebruik daarvoor ’n sterk woord. Die
gemeentelede bly voortdurend by die onderwys van die apostels. Hy
hou dit stewig vas. Hulle wil dit nie loslaat nie. Hulle kan daar
nie van afgebring word nie. Dit het hulle volkome in die greep.
Daarom gaan hulle ook daagliks na die tempel. Hulle wil elke
geleentheid om die onderrig van die apostels te hoor uitbuit. Ook
om met die onderrig self besig te wees en ander daarvan te vertel.

Hulle wat op die Pinksterdag tot geloof gekom het, is nie
tevrede met ’n eenmalige belydenis nie. Hulle sien hul
openbare geloofsbelydenis, waarby hulle die doop ontvang het,
slegs as ’n beginpunt. Die onderwys in die christelike leer
eindig nie wanneer ek die belydenis van my geloof aflê nie. Dit
word daarna juis geintensiveer, verdiep. As ek bewus my jawoord
aan die Here gegee het, dan wil ek niks liewer as steeds meer van
die Here te wete kom.

In die sendingsbevel van Mt 28 word dit reeds genoem. Die
apostels moet van alle nasies dissipels maak, hulle doop in die
naam van die drie-enige God en hulle leer om alles te onderhou
wat Christus hulle beveel het. Die apostels moet dus sorg vir
voortgesette onderwys. Hul werk hou nie op by die een samekoms
waarin duisende tot bekering gekom het nie. Nee, hulle moet
daarvoor sorg dat die leer van Christus nader uitgelê word sodat
die lidmate steeds verder kan kom in die onderhouding van alles
wat Christus hulle beveel het.

Wat sien ons nou in die vroeër kerk gebeur? Die eerste
gemeente verlang na die voortgesette onderwys van die apostels.
Hulle bly kom na hul prediking. Nie slegs wanneer dit hulle pas
nie. Dit is hul lus en lewe. Hulle wil hulle meer en meer laat
onderrig sodat hulle kan groei en toeneem in die kennis van hul
verheerlikte Here. Hulle maak daarvan ’n gewoonte om gereeld
die apostoliese prediking by te woon. Die Heilige Gees bind hulle
daaraan..

Ja, gemeente, toe het die vaste gang van die bediening van die
Woord reeds begin. Die bediening van die woord wat die kerk deur
die eeue heen onderhou het en wat ons nog steeds elke sondag
onderhou. Die sentrale element in elke erediens.

Die jonge kerk het gegroei en ouer geword. Deur die stryd om
die waarheid gedring het sy die leer van apostels saamgevat en
skriftelik vasgelê in haar belydenis. Die eerste spore daarvan
vind ons reeds in die Nuwe Testament. Tekste uit die Nuwe
Testament wys dat ’n spesifieke formulering van die geloof
reeds bestaan het in die apostoliese tyd. Die volgroeide vrug van
die belydenis vorming klink nog weekliks in die eredienste onder
die naam van die apostoliese geloofsbelydenis. Daarna het ander
gevolg, waaronder die drie gereformeerde belydenisskrifte. Hulle
vorm die skat van Christus se bruid. Hulle is immers ’n
samevatting van die ware en volkome leer van die saligheid. So
het die kerk voortgegaan om te volhard in die leer van die
apostels.

Gemeente, wanneer dan die Pinksterbeweging of ander groepe
smalend praat oor die belydenis van die kerk, oor die leer en die
ampte, wanneer hulle die kerk verwyt dat hulle daarmee die
lewende geloofsgetuienis, as spontane uiting van Geesteskrag,
gesmoor het, dan is hulle verkeerd. Hul beroep op die afkoms en
geboorte van die kerk is nie tersaaklik nie. Die eerste tekening
wat ons van Christus se gemeente ontvang, na die wonderlike
uitstorting van die Gees wat aangekondig is deur wonders en
tekens, laat ons sien ’n menigte troue en gehoorsame
leerlinge. Leerlinge wat die lesse van die apostels aandagtig
volg. In die gehoorsame leergierigheid van die eerste gemeente
sien ons die voortgang van Christus se verlossingswerk.

Die Pinkstergees bind die kerk aan die apostoliese leer.
Daarom is die volharding in die leer van die apostels ook vir
vandag ’n saak van lewensbelang. As die kerk kerk van
Christus wil bly dan sal sy die styl van die pinkster bedeling
moet toon. As ek ’n lewende lidmaat van die kerk wil wees en
bly dan kan die leer van die Skrifte, soos dit ook saamgevat is
in die gereformeerde belydenisskrifte, my nie onverskillig laat
nie. Maar dan sal ek die leer ter harte neem. Dan sal dit my lus
en lewe wees. Langs die pad onderhou Christus sy kerk, gee Hy
haar lewe en oorvloed, ook vandag.

"En hulle het volhard in die leer van die apostels."
Wat ’n eenvoudige getuienis van die eerste Christelike kerk.
Maar dit is vol van die energie van die Pinkstergees. Dit is
immers die Pinkstergees wat die kerk aan die apostoliese leer
bind.

Die energie van die Pinkstergees blyk ook in die beoefening
van die onderlinge gemeenskap. "En hulle het volhard in die
leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van
die brood en in die gebede. Dit bring ons by die tweede gedagte
van die teks: die kerk verbind hom tot die beoefening van die
onderlinge gemeenskap.

Die Jode wat hulle op die Pinksterdag bekeer het ken van ouds
die gemeenskap, die onderlinge band binne die volk van God. As
nakomelinge van Abraham behoort hulle by mekaar. In sy
pinksterpreek het Petrus hulle egter opgeroep om te breek met die
gemeenskap: "Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag."
(vers 40). Maak julle los van die ou verworde afvallige
gemeenskap.

Broeders en susters, u moet u probeer indink wat die vir die
Jode moes beteken het. Elke kerklike afskeiding maak seer.
Hierdie afskeiding beslis nie minder nie. Gesinne word uit mekaar
geruk. Eie ouers, eie broers en susse, selfs eie kinders moet
soms agtergelaat word. Bande, wat oor die jare gegroei het, moet
verbreek word. Die eerste hoorders van Petrus se Pinksterpreek
was met hul gehele wese verbind aan die Joodse gemeenskap. En nou
moet hulle hul daarvan losmaak. So ’n geloofskeuse sou
beteken ’n uitsluiting uit die joodse gemeenskap. Hulle kom
apart te staan, alleen.

Tog lees ons dat ongeveer 3000 mense hulle laat doop het.
Hulle het hulself gevoeg by die christelike gemeente. Ondanks die
verdriet om hulle wat agterbly, ondanks die pyn vanweë die
skeuring, het hulle die graag gedoen, met vreugde. Hulle gryp die
enigste reddingsmiddel aan.

En dan blyk dat hulle vir die verlating van die ou vertroude
gemeenskap baie terug ontvang. Die Gees voeg hulle in ’n
nuwe lewende gemeenskap. ’n Gemeenskap wat die ware liefde
en verbondenheid ken. Hulle kry so baie vaders, moeders, broers
en susse terug. Almal deel in dieselfde heil. Hulle is bly met
mekaar. Dit laat hulle ook blyk in die beoefening van die
onderlinge gemeenskap. Hulle leef met mekaar mee as broers en
susters in die Here. Hulle trek mekaar mee. Hulle vang mekaar op.
Die Pinkstergees maak daarvan ’n hegte lewende gemeenskap.

So lees ons dat hulle bly volhard in die gemeenskap. Die
gemeenskap van die heiliges het vir hulle dierbaar geword. Dit
laat hulle steeds meer en meer blyk. Hulle bly hulle vir mekaar
insit, van harte en met vreugde. Dit word nader uitgewerk in die
verse 44 en 45. Almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en
het alles gemeenskaplik besit. En hulle eiendomme en besittings
het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens
wat elkeen nodig gehad het. So het hulle mekaar in die nood van
die tyd opgevang. Hulle het vir mekaar klaargestaan met alles wat
hulle tot hul beskikking gehad het. Hulle het hulle nie
teruggetrek met die gedagte: as ek self maar aan my trekke kom
nie. Nee, hulle het werklik vir mekaar omgegee, vir hul broers en
susters: as dit met hulle maar goedgaan.

Die liefde vir God en vir mekaar blyk ook uit die maaltye: die
breking van die brood. By die uitdrukking mag ons seker ook dink
aan die viering van die Heilige Nagmaal. Hier word immers
gespreek van een van die kenmerke van die Christelike gemeente.
Dit is dus nie sommer ’n willekeurige maaltyd nie. Tog moet
u tegelyk bedink dat dieselfde uitdrukking ook gebruik word vir
’n gewone gesamentlike maaltyd. So loop u dit raak enkele
verse verder, in Hand 2:46. Daar word gesê dat die gelowiges van
huis tot huis brood gebreek het en hul voedsel met blydskap en
eenvoudigheid van hart geniet het.

Die uitdrukking: die breking van die brood kan sowel op die
viering van die nagmaal sien as op die gewone gemeenskaplike
maaltyd. Dit kom omdat die twee nog aan mekaar verbind was. Die
viering van die nagmaal het nog plaasgevind in aansluiting op of
tydens ’n gemeenskaplike gebruikte maaltyd. Dit was die
sogenoemde liefdesmaal, waaraan dan die nagmaal verbind was. In
so ’n liefdesmaal was die gemeenskap sigbaar. Wat die een
nie gehad het nie kon die ander saambring. Saam het hulle gesorg
vir ’n gevulde tafel. So het hulle die arme versorg en mog
elkeen sonder sorge geniet van die gemeenskap met die Here en met
mekaar. Die tafels was dus tegelyk gewone tafels en
nagmaalstafels. Terwyl hulle die brood gebreek het en daarvan geëet
het, het hulle die gemeenskap met Christus en met mekaar gevier.
Dit was ’n blye en dankbare aangeleentheid. Hulle was
sigbaar bly met die verlossing in Christus en met mekaar. Die
Pinkstergees maak blye mense, blye gemeenskapsmense.

Daarom pas individualisme nie in die Pinksterkerk nie. Ek kan
my daar nie terugtrek nie, my afsydig hou nie. Die Gees dryf ons
na mekaar toe. Die Gees laat die gemeenskap sigbaar word rond een
nagmaalstafel. Ons hoort by mekaar en is bly met mekaar, saam bly
in die Here. En wie in die blydskap belemmer word deur bepaalde
nood, moet dan opgevang word, saamgeneem word. Sodat hy ook kan
deel in die gemeenskaplike vreugde. Daarom ook die liefdesmaaltye.
Daarom nou ook die kollekte aan die nagmaalstafel. Die viering
van die versoening beteken tegelyk: omsien na hulle vir wie die
lewensvreugde deur bepaalde sorg bedreig word. Daarom is die
kollekte by die nagmaal ook bestem vir die diens van
barmhartigheid.

Die pinksterkerk het volhard in die gemeenskap, in die breking
van die brood en in die gebede. Ja, ook die gebede vorm ’n
onderdeel van die beoefening van die gemeenskap. In die gebed
neem God se vergaderde gemeente mekaar mee in die lof op God en
in die smeking vir God se hulp en leiding. Daarin word ook die
individuele node tot God gebring. Die gebed vorm ’n kragtige
muur om die kerklede heen. My stryd is daar nie langer ’n
individuele stryd nie. Nee, my stryd het die stryd van die kerk
geword. En die stryd van die kerk het my stryd geword.

So laat die Pinkstergees die kerk die styl van die pinkster
bedeling vertoon. Wat tipeer die ware pinksterkerk? Dit: Hulle
bly volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en
in die breking van die brood en in die gebede. Die Pinkstergees
is geen Gees van wanorde nie. Die Gees lewer die kerk nie oor aan
die genade van spontane uitinge nie of in die mag van die
onberekenbare nie. Hy sorg vir ’n bepaalde orde in die
kerklike lewe. ’n Aantal dinge keer steeds weer terug.

Ons herken die dinge in die orde van ons weeklikse eredienste.
Met die vaste elemente floreer die Christelike kerk. As ons nie
steriel wil word of kwetsbaar nie dan moet ons die orde van die
Gees vashou. Dan laat ons ons nie meesleep deur die entoesiasme
van die moderne religieuse bewegings nie. Nee, dan bly ons die
middele wat die Gees wens te gebruik waardeer. Eers is daar die
apostoliese leer. Die leer van die Skrifte. Ek ontvang dit in die
prediking. Dit staan sentraal in ons eredienste. Iets wat ek met
sagmoedigheid en dankbaarheid moet aanvaar. So onderhou Christus
sy kerk. Dan is daar die beoefening van die onderlinge gemeenskap,
die breking van die brood en die gebede. Ons neem mekaar mee in
die diens van die offerande, in die viering van die nagmaal en in
die gebede.

Is ons, broeders en susters, met ons gewone diens van woord en
sakrament dan armer as die eerste christelike gemeente? Is die
Gees nou minder kragtig besig as toe? Maak die vaste orde die
lewe in die kerk koud en star? U weet wel beter. Let maar op wat
die Pinkstergees gedoen het nadat Hy oor die gemeente uitgestort
is. Let maar op die pinksterstyl wat Hy tot stand gebring het. Hy
wil sy kragtige stroom kanaliseer deur middel van woord en
sakrament. So wil Hy dit wat aan Christus behoort neem en dit aan
die gemeente skenk, lewe en oorvloed. Kan dit dan kil en dor bly
waar sy woord en sakramente trou bedien en gebruik word? Smoor
die orde die blydskap en entoesiasme? Nie as ek bewus die Gees in
my laat werk nie. Dit kan slegs die geval wees as ons die Gees
uitblus deur ons sondige en hardnekkige harte. Die orde op
sigself kan die vreugde nie doof nie. Dis slegs die sondige
gebruik van die orde wat dit doen. As ek die Gees in my laat werk
dan sal ek my verheug in die diens van woord en gebed.

"En hulle het volhard in die leer van die apostels en in
die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede."
Dit staan daar so eenvoudig. Maar dit is so ryk. Vol van
pinksterenergie.

Wat is dan die styl van die christen in hierdie
pinksterbedeling? Wat mag ons van julle almal verwag nou julle
jul geloof bely het? In elk geval dit: die verlange na
voortgesette onderrig in die leer van die verlossing en die
verlange na onderlinge gemeenskap. Die Here Jesus het tog vir jou
dierbaar geword. Dan wil jy Hom steeds beter leer ken en dien.
Die gemeente van Christus het ook vir jou dierbaar geword. Jy wil
daarby behoort en die onderlinge verbondenheid toon. Die
Pinkstergees het julle aan die Here en aan mekaar verbind. Bly
dan lewe op die vlak van hierdie pinksterbedeling. Jou lewe word
daardeur nie dor of star nie. Jou lewe kan daardeur juis opbloei.
Jou lewe dra dan rype vrugte tot eer van God en tot heil van die
naaste.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)