Die hemelvaart van Christus is die vervulling van die triomfantlike opvoering van die ark na Sion.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-06-01
Teks: 
Efésiërs 4
Preek Inhoud: 

Efésiërs 4:8
Ds C Kleyn - Sondag 4 Juni 2000

Lees: Psalm 68:1-19; Efésiërs
4:1-16.
Sing: Ps 47:1,2; Ps 47:3,4; Ps 68:1,8;
SB 11; Ps 68:9,13.

Tema: Die hemelvaart van Christus is die
vervulling van die triomfantlike opvoering van die ark na Sion.

Die hemelvaart beteken:

  1. Die troonsbestyging van Christus;
  2. Die toerusting van die gemeente.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat ’n verskil tussen kersfees en
hemelvaartsfees. Die kersdag word baie uitbundiger gevier as die
hemelvaartsdag. Christus se koms op aarde ontvang meer
belangstelling as sy heengaan. Nie alleen in die gemeente nie,
maar ook in die samelewing. Die kersfees spreek tot die
verbeelding van die mense. Dit het vir gelowiges en ongelowiges
’n groot fees geword.

Wat ’n kontras met hemelvaartsdag. Die
meeste mense sou nie eens weet dat dit vandag hemelvaartsdag is.
Dis ’n gewone werkdag. Wat moet die mense vier? Die Bybel sê
ook min oor wat op die hemelvaartsdag gebeur het. Ons ontvang
’n kort berig in Hand 1. Ons lees dat Jesus skielik deur
’n wolk opgeneem is na die hemel. Twee engele bevestig dit
aan sy verbysterde apostels.

Broeders en susters, om die heerlikheid van
hemelvaartsdag te sien moet ons oë deur God verlig word. Alleen
deur die geloof kan u die groot voortgang van kersfees na
hemelvaartsfees sien. Hemelvaart beteken ’n groot stap
vooruit in Christus se werk van verlossing. Dis belangrik dat u
die ryke betekenis van Christus se hemelvaart vir u besef. As ons
dink aan Christus se lyding en sterwe dan lyk dit makliker te
wees om die relevansie daarvan te sien. Jesus het vir my gely en
gesterwe. Ek het as ‘t ware met Hom gesterwe en met Hom
opgestaan. Maar nou die hemelvaart. Op watter manier is ek daarby
betrokke?

Die Bybel wys dat Christus se hemelvaart net so
relevant is as sy dood en opstanding. Ek is net so nou daarby
betrokke. My lewe as Christen, die kerklike lewe sou nie moontlik
wees sonder die hemelvaart van Christus nie.

In die brief aan die Efesiërs plaas Paulus die
hemelvaartsfees midde in die praktyk van ons lewe. Die brief
spreek uitvoerig oor die kerk van Christus. Juis wanneer Paulus
aandag gee aan die praktiese lewe binne die gemeente (hfst 4)
bring hy die hemelvaart van Christus te sprake. So lees ons in Ef
4:8 "Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het
Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee."

Ek vat die teks as volg vir u saam:

Die hemelvaart van Christus is die vervulling
van die triomfantlike opvoering van die ark na Sion.

Die hemelvaart beteken:

  1. Die troonsbestyging van Christus
  2. Die toerusting van die gemeente

Wanneer Paulus Christus se hemelvaart in Ef 4
noem, dan herinner Hy ons aan elemente uit Israel se geskiedenis.
Hy haal immers Psalm 68 aan. Dis ’n geweldige Psalm wat God
se triomf oor sy vyande besing. Die Here het triomfantelik
opgeklim na die hoogte, na sy aardse troon op die berg Sion.

Dis moeilik om vas te stel by watter
geleentheid hierdie Psalm gedig is. Miskien het Dawid die Psalm
geskrywe na die stryd teen die Ammoniete en Arameërs wat
beskrywe word in 2 Sam 10-12. Blykbaar het hulle die ark, as
teken van God se teenwoordigheid, met hulle saamgeneem in die
stryd. Na die oorwinning keer die ark dan onder gejuig terug na
sy plek op die berg Sion. Dis moontlik dat Ps 68 hierdie seëtog
van die ark, en so van die Here self, besing.

Hoe dit ookal mag wees, in elk geval lê in ons
teks ’n duidelike sinspeling op die geskiedenis van 2 Sam 6.
Daar word die opvoering van die ark na die berg Sion, beskryf. Na
die oorwinning op die Filistyne word die ark uit die huis van
Abinadab gehaal om na Jerusalem oorgebring te word. Maar onderweg
word Ussa deur die Here gedood omdat hy die ark gegryp het toe
die osse gestruikel het. Sodoende het die ark 3 maande lank in
die huis van Obed-Edom gebly. Die Here het die huis van Obed-Edom
terwille van die ark geseën. Toe het Dawid en die hele huis van
Israel die ark met gejuig en basuingeklank opgehaal en na die
stad van Dawid gebring. Dawid het toe brandoffers en dankoffers
gebring. Daarna het hy die volk geseën en aan hulle almal gawes
gegee. Hy het aan die hele menigte van Israel, manne sowel as
vroue, aan elkeen een broodkoek en een stuk vleis en een
rosynekoek uitgedeel (2 Sam 6:19).

Gemeente, Paulus betrek Dawid se opvoering van
die ark na Sion en sy uitdeling van die gawes op Christus se
hemelvaart. Christus het immers as oorwinnaar opgevaar in die
hoogte. Hy het oor al sy vyande getriomfeer. Soos God oor die
Filistyne getriomfeer het, voor die opvoering van die ark. Om dit
te doen moes Jesus Christus eers vanuit die hemel neerdaal naar
die aarde toe, na die slagveld toe. Soos die ark eers na die
slagveld gedra is, voordat dit triomfantelik opgedra kom word. So
het Jesus Christus eers die slagveld ingegaan. God se eie Seun
het Homself verneder. Hy het die hemelse heerlikheid agter Hom
gelaat om terwille van ons smaad en veragting te ondergaan. Tot
die dood aan die kruis het Hy Hom verneder. Daar het Hy die prins
van die wêreld onttroon, die magte van die duisternis oorwin. Hy
het die straf vir ons sondes gedra. Ons kan weer in genade
aangeneem word. Satan kan nie meer aanspraak op die gelowiges
maak nie. Daarom word Hy uit die hemel gewerp.

Nadat Hy sy werk op aarde volbring het, keer
Jesus Christus na sy oorspronklike plek terug. Na die oorwinning
is die ark van die verbond, ja God self wat op die gerubs troon,
triomfantelik opgevoer na die berg Sion. So vaar Christus
triomfantelik op na die hemel. Hy het sy stryd gestry. Hy het
oorwin. Nou mag Hy opvaar na God se hemelse heiligdom, as
Erekoning. Hy mag sy hemelse troon bestyg. Hy mag sit aan God die
Vader se regterhand.

Broeders en susters, probeer in te dink wat
hier gebeur. Jesus Christus vaar op na die hemel. As God en mens
in een persoon. As een van ons, ons vlees en bloed. Vanweë die
sonde het die hemel vir die mens toegesluit. Die mens kon nie in
God se heilige teenwoordigheid kom nie. Die aarde het hom
losgemaak van die hemel. In plaas van harmonie tussen hemel en
aarde was daar disharmonie, ’n onoorbrugbare kloof. Wel, vir
Jesus Christus is daar nie ’n kloof tussen hemel en aarde
nie. Hy kan rustig gaan van die opstandige deel van God se
skepping ( die aarde) na die ander deel ( die hemel). Vrymoedig
gaan Hy die poorte van die hemelse paradys binne. Daar is vir Hom
geen verbode toegang nie. Die eenheid van hemel en aarde is
herstel. Christus het die groot kloof, vanweë die sonde,
deurbreek. Hy mag as een van ons geniet van die volle gemeenskap
met God die Vader.

Geliefdes, wanneer Christus na die hemel vaar,
dan gaan Hy nie met leë hande nie. Ons teks sê: "toe Hy
opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem."
Wat beteken dit? Wie is die gevangenes wat Hy saamgeneem het? Om
die beeld te verstaan moet ons terug na die Ou Testamentiese
situasie. Toe ’n militêre leier as oorwinnaar van die
slagveld teruggekeer het, het hy gewoonlik krygsgevangenes
saamgeneem. Die gevangenes was ’n sigbare bewys van
oorwinning. Wel, in sy triomfantlike intog in die hemel neem
Christus as ‘t ware oorlogsbuit saam met Hom,
krygsgevangenes. In sy stryd teen satan het Hy buit behaal.
Christus het mense uit satan se mag geruk. Christus het hulle uit
die mag van sonde en verderf bevry. Hy het hulle tot sy eiendom
gemaak. Hy het hulle vir Homself gewen.

Wie is dan die gevangenes wat Christus
saamgeneem het? Hulle is diegene vir wie Christus gesterf het,
alle gelowiges. U en ek. Ek is deur Christus buitgemaak. Ek is
aan Hom onderworpe. Ek moet aan Hom hulde betoon.. Ek moet alle
natuurlike teenstand en hoogmoed prysgee en myself aan Hom oorgee.

Dit klink miskien vreemd in u ore. Is u die
gevangenes wat Christus met Hom na die hemel saamgeneem het? As u
in die lig van die Skrif daaroor nadink, dan sal dit egter nie
meer so vreemd wees nie. Waarvoor het Christus volgens die
profesieë gekom? Onder ander, om vir die gevangenes ’n
vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die
gevangenis (Jes 61:1). Ons was almal gevangenes van sonde en
satan. Christus het gekom om ons, gevangenes, te bevry. Om ons
tot sy eiendom te maak. Paulus noem homself meermale ’n
slaaf van Christus. In 2 Kor 10:5 word gespreek van ’n
gevange neem van elke gedagte tot die gehoorsaamheid aan Christus.
As ek tot gehoorsaamheid aan Christus gebring word dan is ek deur
Christus gevange geneem. Ek behoort dan aan Hom. Hy het my as
buit uit die mag van satan gered.

Gemeente, Christus neem die gelowiges as sy
gevangenes saam na die hemel toe. Hoe moet ons dit verstaan? In
Ef 2:6 lees ons iets dergeliks. Daar staan dat God ons saam laat
sit in die hemele in Christus Jesus. Om dit te verstaan moet u
let op die posisie van die hoëpriester in die Ou Testament. Toe
die hoëpriester voor God verskyn het in die allerheiligste; het
hy altyd die name van die 12 stamme van Israel saamgedra op die
borskleed. Hy was die het die verteenwoordiger van die volk. Hy
het die hele volk as ‘t ware voor God se troon gebring. So
het Christus, ons Hoëpriester, ons almal saamgeneem in die
hemelse heiligdom voor God se aangesig. Hy het ons in die hemel
’n plek gegee. Daarom is ons burgerskap ook in die hemele (Fil
3:20). As krygsgevangenes van Christus is ons burgers van die
koninkryk van die hemele.

Gemeente, Christus se hemelvaart is so reëel
vir ons dat ons as ‘t ware saam met Hom opgevaar het. Dat
ons reeds ’n plek in die hemel het. Wat ’n wonderlike
gedagte. Ek is so verenig met Christus dat ek in prinsipe reeds
in die hemel is. Die skatte wat ons op aarde het, ons aardse
sekerhede is tydelik, verganklik, nooit 100% seker nie. Vandag
geniet ek miskien van ’n goeie gesondheid. More kan dit
anders wees. Vandag het ek miskien ’n onbesorgde lewe. Maar
skielik kan allerlei sorge my pla. Miskien dat ek verpletterende
ervarings het. Dit kan lyk asof my posisie en toekoms stukkend
geslaan is. Onthou egter: Christus het u met Hom saamgeneem na
die hemel toe. U plek is gereserveer. Geen mag op aarde kan dit
van u wegneem nie. Niemand en niks kan die verdienste van
Christus aanraak nie. Hy het die anker van u siel geneem en dit
vasgelê in die hemel. Die weldaad van versoening is veilig
geborge in die hemel.

Hier op aarde behou niks sy waarde nie. Alles
bly verander. Maar as ek met Christus verenig is, dan vind ek
blywende sekerheid en stabiliteit. Ek vind my vastheid in die
hemel. Niks kan my skei van Christus se oorwinning en dus ook van
my oorwinning nie. In Hom is ek daarom meer as oorwinnaar. Hy het
my as sy wettige eiendom saamgeneem na die hemel toe. Die
middelpunt van my lewe is van die aarde na die hemel verplaas.
Daarom, broeders en susters, seuns en dogters: soek die dinge
daarbo waar Christus is aan die regterhand van God. Bedink die
dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie (Kol 3:1,2).
Verloor jouself nie in hierdie aardse lewe met sy sorge nie, asof
dit die einde sou wees en daar niks anders sou wees nie. Hoe arm
en wankelbaar sou dan jou lewe wees. Jy sou alle vastheid en
rigting in die lewe verloor. Nee, die middelpunt van jou lewe is
nie hier nie, maar in die hemel waar jou Here Jesus is. Daarom:
wys dit in die manier waarop jy hier lewe en werk. Wys dit in jou
geloof, hoop en liefde. Bewys dat jy inderdaad in die eerste plek
’n burger van die koninkryk van die hemele is.

Nee, dit beteken nie dat u die aarde moet
prysgee nie. Baie gevangenes het wel regtens ’n plek in die
hemel maar verkeer nog hier op aarde. Dit waar u reg op het, sal
slegs volle werklikheid word na hierdie lewe, as Christus u kom
tuishaal. In die tussentyd moet u hier op aarde nog werk en stry.
U het nog te make met sonde en sy gevolge. U staan nog teenoor
satan en sy volgelinge. Maar Christus laat u nie alleen nie. Hy
dra sorg vir hulle wat aan Hom behoort. Daarom deel Hy sy hemelse
gawes uit. Dit bring ons by die tweede gedagte: Christus se
hemelvaart beteken ook die toerusting van die gemeente.

Gemeente, deur sy gehoorsaamheid en dood het
Christus die volle heil vir u en my verdien. Daarom as Hy sy
troon bestyg, deel Hy die gawes van heil uit. Die oorwinnaar gee
gawes aan almal wat Hy bevry het. Sodat ons aan die nuwe lewe kan
deelhê. Sodat ons voorberei kan word op ons triomfantlike
tuiskoms.

Dis opvallend dat ons teks die aanhaling uit Ps
68 iets verander. In Ps 68:19 lees ons: U het opgeklim na die
hoogte, U het gevangenes weggevoer, U het geskenke geneem onder
die mense. Ons teks spreek egter nie van die neem van geskenke
nie, maar van die gee van geskenke: Toe Hy opgevaar het in die
hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die
mense gegee.

Waarom hierdie verandering? Deur die
verandering maak die Heilige Gees duidelik waarvoor Christus die
gawes verkry het. Christus het nie die gawes van heil ontvang om
Homself daarmee te verryk nie. Nee, Hy het dit ontvang om sy volk
te verryk. Jesus Christus het ontvang om te gee. Dis soos Petrus
in sy pinksterpreek sê: "Nadat Hy dan deur die regterhand
van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige
Gees ontvang het, het Hy dit uitgestort, wat julle nou sien en
hoor" (Hand 2:33). Wat Christus eers van die Vader ontvang
het, het Hy uitgestort oor sy kerk. Die vrugte van Christus se
oorwinning dien nie slegs die verheerliking van Christus nie. Hy
het opgevaar na die hemel as Hoof van sy kerk. Om die heil wat Hy
verdien het uit te deel. Hy deel dit dan uit in die vorm van
talryke gawes. Daardie variërende gawes is bewyse van sy
oorwinning, feestelike geskenke. Christus se hemelvaart is dus
nie vir ons ’n verlies nie. Dit beteken vir ons toerusting
en vernuwing. Die hemelvaart is ’n ware fees van die kerk,
’n fees waarin geskenke uitgedeel word, bewyse van
oorwinning.

Die oorwinnaar vaar op na sy hemelse troon ten
goede vir u en my. Op die pinksterdag word die gawes uitgegiet..
As eerste gawe kan ons die Heilige Gees noem. Ons opgevare Heer
laat sy kerk nie alleen agter nie. Hy stuur sy Gees vir ons as
Trooster. Die Gees laat ons deel kry aan Christus en al sy
weldade. Deur die krag van die Gees kan ons soek wat daar bo is
waar Christus aan die regterhand van God sit.

Daarom, broeders en susters, Christus se
hemelvaart beteken nie dat Hy met die aarde klaar is nie.
Inteendeel. Sy hemelvaart beteken juis ’n voortsetting en
intensivering van sy werk op aarde. Deur sy Gees wil Hy alles tot
volheid bring sodat God alles in almal kan wees. Dink maar aan
wat Christus kort voor sy hemelvaart tot sy dissipels sê in Hand
1:8 "Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees
oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as
in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die
aarde."

As Christus hier op aarde gebly het, dan kon Hy
nie sy Gees stuur om alles tot volheid te bring nie. Tydens sy
bediening op aarde het Christus dit reeds gewys toe Hy gesê het:
"Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie
weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek
weggaan, sal ek Hom na julle stuur (Joh 16:7).

Geliefdes, in Ef 4 word verskillende gawes
genoem: "Maar aan elkeen van ons is die genade gegee volgens
die mate van die gawe van Christus." Elkeen ontvang sy eie
gawes en funksies. U weet tog watter gawes u het? Dink daar eens
oor na. Aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die mate
van die gawe van Christus. Opsetlik varieer Christus die gawes.
Die verskeidenheid is nodig vir die eenheid, om as liggaam te kan
funksioneer.

In Ef 4 som Paulus vervolgens bepaalde gawes
van die opgevare Heer op. Waar begin Hy dan mee? Met die ampte in
die kerk. Opvallend, vind u nie? Sien ons die ampsdraers nog wel
as oorwinningsgeskenke van Christus? "En Hy het gegee
sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste,
ander as herders en leraars." Waarom word spesifiek daardie
gawes genoem? Paulus noem die gawes omdat hulle ’n
fundamentele rol speel in die opbou van die Christelike kerk.

Vanuit die hemel bly Christus sorg dra vir sy
kerk. Hy wil sy mense, ons almal, toerus vir ons dienswerk. Hy
wil my tot volwassenheid, tot mondigheid bring. "Sodat ons
nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en
weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry
van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring (vers
14). D.m.v. die ampte, om te begin by die apostels en profete,
wil Christus ons tot volwassenheid bring sodat ons in alles sou
opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus. Let op die
waarde van die ampsdraers. Hulle is Christus se feesgeskenke aan
sy kerk. Ampsdraers moet instrukteurs wees, afrigters om die
lidmate te oefen en bekwaam te maak vir die stryd. Christus wil
die hele gemeente mobiliseer, klaarmaak vir aktiewe dienswerk.

Dmv sy gawes is Christus besig om na sy
wederkoms toe te werk. Hy wil alles tot volheid bring, sodat die
volkomenheid van sy ryk kan kom, waarin God alles in almal sal
wees. In sondag 18 van die HK bely ons die hemelvaart van
Christus. Daar word die volgende antwoord gegee op die vraag:
watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?

Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak
by die Vader is.

Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die
hemel as ’n betroubare waarborg het dat Hy as die Hoof ook
ons, sy lede, na Hom toe sal neem.

Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons
stuur, deur wie se krag ons soek wat daar bo is waar Christus aan
die regterhand van God sit, en nie wat op die aarde is nie."

Is dit nie pragtig saamgevat nie? Bewys dan die
werklikheid van hierdie belydenis in u daaglikse doen en late.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)