Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het?

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-05-14
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 7
Preek Inhoud: 

Sondag 7a (vr. & antw. 20)
Ds C Kleyn - Sondag 14 Mei 2000

Lees:

Johannes 3:1-21; 15:1-8 (1e tafel); 15:9-17 (2e tafel); 15:18-27 (3e tafel).; Sondag 7a (vr. & antw. 20).
Sing: Ps 81;1,2; Ps 81:11,12; Ps 65:2,3; Ps 66:7,9; Ps 92:6,7 (1e tafel); SB 33:1 (2e tafel); SB 33:2,3 (3e tafel); Ps 150:1,2,3.
Tema: Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het?

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

"Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het." Hieroor het dit gegaan in Sondag 6 van die HK. God se liefde is so verstrekkend dat Hy sy eniggebore Seun daarvoor opgeoffer het. Wat ’n liefde! Dis hoe ver God se liefde vir sy wêreld strek. God het sy geskape wêreld, sy meesterstuk, lief. Hy wil dit nie oorgee aan die goddeloosheid van mense nie. Hy wil dit nie oorgee aan satan en die verderf nie. God het die lewe wat Hy geskep het lief. Maar Hy haat die sonde en alles wat daaruit voortkom.

Daarom is Christus se koms in hierdie wêreld God se uitreiking na die wêreld om dit te red. God het uitgereik sodat Hy altyd mense voor Hom sou hê, om met Hom te lewe, om Hom te loof en prys in ewige heerlikheid. So sien ons God se hart oopgaan in die kind Jesus, gebore in Betlehem.

Maar nou die vraag van ons Kat: Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het? Ons is besig met ’n vraag oor lewe of dood, oor salig word of verlore gaan, lig of duisternis, hemel of hel.

Maar wat beteken dit om salig te word? Is dit slegs ’n saak van die toekoms? Dat ek na die hemel gaan? Nee. Die Kat vra nie: gaan al die mense dan deur Christus na die hemel, soos hulle deur Adam verlore gegaan het nie? Nee, die vraag is: Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het? Die laaste is reeds hier en nou ’n werklikheid. Hy wat nie glo nie is alreeds veroordeel, skryf Joh in vers 18. Hy word nie slegs veroordeel wanneer Christus terugkom nie. Hy is nou reeds veroordeel. Paulus skryf: uit genade is julle gered. Dis waar, die redding sal slegs kompleet en volmaak wees in die hemel. Maar as ek glo dan is ek reeds gered. Nie slegs in die toekoms nie, maar nou.

Wat is dan die redding? Dit bestaan in vrede met God deur Christus. Saligheid is om ryk te wees in Christus, selfs by armoede, om my te verbly in die Here, selfs in die diepste ellende, om te weet dat God met my is, watter beproewings ek ookal ervaar. Daarom, broeders en susters, moet u nooit die saligheid versmal tot die gaan na die hemel nie. Die redding wat Christus gee is beide ’n saak van die hede en die toekoms. Hy wat glo, is gered, het die ewige lewe. Daarom wanneer ek aan Christus behoort, vind daar ’n groot verandering plaas. Die vermoeides ontvang rus. Die swerwer word tuisgebring. Die ellendige word geseën. Die arme word ryk. Daardie groot verandering vind nie slegs plaas wanneer ek sterf nie. Dit gebeur tydens hierdie lewe. Wat na my dood gebeur bevestig en voltooi slegs wat reeds tydens my lewe gebeur het. Daarom is dit verskriklik as alles bly soos dit was. As ek hier geen nuwe lewe ervaar nie, dan is die hoop op ’n beter lewe later ’n illusie. Die saligheid begin immers nou.

Maar nou terug na die vraag van die kat: word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het? Dit maak ’n groot verskil hoe u die vraag stel. Ek kan die vraag stel as ’n nuuskierige toeskouer: Hoeveel sal gered word. So was daar ook ’n man wat vir Jesus gevra het: Here, is die wat gered word, min? (Lk 13:23). Dis ’n vraag wat ’n mens amper vanself stel. Hoeveel mense sal gered word? Sal dit 5% wees, of 10% of 25%? Sal dit min of baie wees? Hoe reageer Jesus op die vraer? Jesus antwoord: Stry om in te gaan deur die nou poort. Laat die vraag nooit ’n wiskundige probleem word, abstrak en onpersoonlik nie. Besef dat jy persoonlik betrokke is. Dis ’n vraag betreffende jou eie heil. Dit vra ’n persoonlike antwoord. Het jy deel daaraan? Is jy gered? Wel, stry om in te gaan.

Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het? Nee, antwoord die Kat, maar slegs die wat deur ’n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem. Dit klink teleurstellend. Al die mense het verlore gegaan, maar nie almal word gered nie. Is Christus se werk dan minder effektief as Adam se val? Christus is tog meer as Adam? Adam het alle mense saam met hom in die val gesleep, sonder uitsondering. Sou ’n mens nie verwag dat Christus dan alle mense weer sou oprig uit die val nie? Is die sonde dan kragtiger as die genade?

Wel gemeente, nommers is hier nie beslissend nie. Selfs as slegs een persoon gered sou word dan sou Christus nog sterker wees as Adam. Want die sonde het lewende mense doodgemaak. Maar deur genade word dooies lewend gemaak. Wat is meer: om mense dood te maak of om dooies lewend te maak? Adam het die dood oor die mense gebring. Christus het mense weer terug tot die lewe geroep. Wie is dan groter?

Los die vraag na die aantal. Laat ons inteendeel verwonderd wees dat daar veroordeeldes is wat deur Christus gered word, dat daar dooies is wat lewend gemaak word. Is dit nie wonderlik nie? Onbegryplik

Wie word dan gered? Die verhouding tot Christus is hier beslissend. Hulle wat aan Christus behoort, wat Hom aanvaar as hul Verlosser, word gered. "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.…Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel." Slegs hulle wat glo word gered.

Die antwoord van die Kat is mooi geformuleer. Daar staan nie: slegs die wat glo nie. Daar staan: slegs die wat deur ’n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem. Die wat in Hom ingelyf word en sy weldade aanneem. Hier word die twee kante van die medalje genoem: die passiewe en die aktiewe kant.

Om in Christus ingelyf te wees, dis iets wat aan my gedoen word. Redding is in die eerste plek ’n daad van God. God lyf my in in Christus, maak my een met Hom, soos ’n rank ingelyf word in die wynstok Christus. Dat ek in Christus ingelyf word wys ook daarop dat hulle wat gered word ’n eenheid vorm. As ’n gelowige staan ek nooit op myself nie, as ’n losse individu, sonder enige verbindings nie. Nee, saam met ander word ek in Christus ingelyf. Ons vorm saam die liggaam van Christus. U is almal aan mekaar verbind in Christus, een in Christus. Dis iets wat duidelik gewys word aan die nagmaalstafel. Wat verenig ons? Dis ons gemeenskaplike band met Christus. Saam behoort ons aan Hom.

Om in Christus ingelyf te wees teken die Christene ook as lewende Christene. Die Kat is baie prakties. Dit het ook kan antwoord dat slegs die wat uitverkies is gered word, die wat genoem word in die boek van die lewe. Dit sou die situasie teken van God se kant. Maar die kat bly liewer prakties. In plaas van om die onsigbare grond te noem, noem dit die sigbare vrug. Nou kan ek dit tenminste konstateer. Om deur ’n ware geloof in Christus ingelyf te wees is iets wat sigbaar is, tasbaar. Ek kan dit sien of ek uit Christus put of nie. Die rank wat in die wynstok Christus bly dra vrug.

Geliefdes, soos ons al genoem het, twee kante van die medalje word genoem. Eers God se werk van inlywing in Christus. Dis iets wat aan ons gedoen word. In antwoord daarop sien ons ook ons aktiewe daad van geloof. Dis wat die Kat noem: en al sy weldade aanneem. Die gelowige word ook aan die werk gesit. Hy neem aan Christus se weldade.

Sien u wat u bydrae is? Dis in feite niks meer as om u hand op te hou en Christus se weldade aan te neem. U dra self niks by aan u verlossing nie. Wat u doen is slegs om te ontvang, te aanvaar wat Christus vir u gedoen het. In die aanneming blyk dat u ’n lewende geloof het. ’n Dooie rank trek immers nie sy sappe uit die wynstok uit nie. Slegs lewende ranke put uit Christus die wynstok en dra vrug.

Wel, broeders en susters, dit is presies wat ons wil doen aan die Heilige Nagmaal: put uit Christus, al sy weldade aanneem. Ons kom met leë hande in die besef dat ons uit onsself dood is. Ons soek ons heil in Hom alleen. In Hom ontvang ons lewe. Hy wek ons uit die dood tot ’n nuwe lewe. Vier dan u band met Christus. Vier u lewe in Hom. In Hom is u gered.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)