Die voortgang van Christus se werk roep om die vervulling van Judas se vakature.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-06-04
Teks: 
Handelinge 1
Preek Inhoud: 

Handelinge 1:21,22
Ds C Kleyn - Sondag 4 Juni 2000

Lees: Handelinge 1;12-26.
Sing: Ps 122:1,2; Ps 131:1-3; Ps
109:1,2; SB 45:1-4; Ps 48:4,5.

Tema: Die voortgang van Christus se werk roep
om die vervulling van Judas se vakature.

  1. Waarom? - Dit gaan oor die getal 12.
  2. Wie? - Dit gaan oor die apostoliese
    getuienis.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Na die hemelvaart van hul meester word die
dissipels deur twee engele tot orde geroep. "Waarom staan
julle en kyk na die hemel? Gaan aan die werk. Berei julle voor om
sy getuies te wees, om die volke alles wat Hy beveel het te leer.
Want Hy kom terug soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.
Hy kom terug om die oes van julle arbeid binne te haal."

Die dissipels laat hulle tot orde roep. Hulle
gaan onmiddellik na Jerusalem toe. Daarmee volg hulle getrou die
bevel van hul meester. Kort voor sy hemelvaart het die Here Jesus
immers hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie,
maar om te wag op die belofte van die Vader (vers 4). Die
dissipels gee gehoor aan die bevel en kom byeen in die bekende
bovertrek. Wellig die saal waarin hulle die laaste Pasga met
Christus gevier het.

Hul saamwees word getipeer as ’n
eendragtig volharding in gebed en smeking. Sonder ophou roep
hulle tot die Here en smeek hulle vir die vervulling van die
belofte van die Vader. Hulle gebruik die dae as adventstyd. Hulle
bid en smeek vir die koms van Christus in die Gees. "Kom
Heilige Gees, kom gou." Die eerste maranata gebed van die
jonge christelike kerk. Hulle bid vir die Gees van Christus.
Sodat alles tot volheid gebring kan word, sodat die volkomenheid
van God se ryk kan kom. Die Gees moet hulle immers krag gee om
Christus getuies te wees, nie slegs in Jerusalem nie, maar tot
aan die uiterste van die aarde. Hul aanhoudende gebed was dus ook
gerig op die bekering van u en my, sodat ons saam met hulle
huisgenote van God sou wees.

Die vergadering bid nie slegs vir die Gees nie.
Hulle kom ook in aksie vir die verkiesing van ’n ampsdraer,
’n apostel. ’n Tweetal word voorgestel. Die lot word
gewerp. Matthias word gekies om saam met die elf apostels te wees.

Gemeente, Pas die twee sake, die
adventsverlange en die ampsdraersverkiesing wel by mekaar?
Versteur die verkiesing nie die gewyde atmosfeer van die
byeenkoms nie? Alles is immers gerig op die uitstorting van die
Gees. Pas die verkiesing van ampsdraers wel daarby? Daar is mense
wat inderdaad die Gees nie graag in verband met die amp wil bring
nie. Die amp sou in wese vreemd wees aan die bedeling van die
Gees. Die amp sou die vryheid en dinamiek van die Gees in die pad
staan. Die skrif spreek egter ander taal. Om te bid vir die
uitstorting van die Gees en om ’n ampsdraer te verkies staan
op dieselfde lyn. Hulle behoort by mekaar. Die Gees wys die amp
nie af nie. Die Gees wil juis die amp gebruik. Die amp moet
’n instrument en kanaal van die Gees wees.

Laat ons nou nader let op die woorde van die
teks.

Die voortgang van Christus se werk roep om die
vervulling van Judas se vakature.

  1. Waarom? Dit gaan oor die getal 12
  2. Wie? Dit gaan oor die apostoliese
    getuienis.

Gemeente, dis opvallend dat die apostels in
vers 13 met name genoem word. Terwyl later die vroue en die ander
dissipels in die algemeen genoem word, word hier elkeen se naam
afsonderlik genoem. Waarom? God wil die aandag rig op die
apostolaat. Hulle word ook met nadruk as eerste genoem. Hier het
ons ’n vergadering van die kerk onder die leiding van die
apostels.

Lukas het reeds eerder die dissipels een vir
een genoem. Dit was toe Jesus sy dissipels na Hom geroep het en
twaalf van hulle uitgekies het, wat Hy apostels genoem het (Lk 6:
13). Toe reeds het Jesus hulle verkies om apostels te wees, sy
gesondenes om van Hom te getuig. Nou gaan die werk in volle erns
begin. Die Heiland is nie meer op die aarde nie. Hulle moet nou
as sy gesante aan die werk. Hulle staan nou gereed. Dit bring
Lukas daartoe om hul name een vir een te noem. Hy gryp terug na
hul roeping en verkiesing, en verkondig: nou word Christus se
opdrag volle erns. Nou begin die uur van sy apostolaat. Hy self
het van die aarde na die hemel gevaar. Maar Hy gaan sy werk op
aarde voortsit dmv sy apostels, en wel tot die uiterste van die
aarde.

Die apostels is daar saam met die jong
christelike kerk. Hulle staan gereed. As stormtroepe van die Gees.
Hulle wag slegs op die koms van die Gees.

Ja, is hulle werklik gereed? Kan die Gees nou
kom en begin met die wêreldwye offensief? As ’n mens die
name lees en tel dan is dit duidelik dat een ontbreek. Daar word
slegs elf genoem. Een van die twaalf is nie daar nie. Die
twaalftal is geskonde. Daarop wys Petrus. Hy is ongelukkig
daarmee. Hy besef dat Christus se werk om voortgang vra.
Voortgang via die getuienis van die apostels. Om gereed te wees
moet eers die gebroke skakel herstel word.

Maar kan hulle nie volstaan met die elftal?
Moet daar noodwendig ’n twaalfde by? Is elf getuies nie
voldoende nie?

Nee, Petrus lees uit die Skrifte die roeping om
die vakature van Judas te vervul. Deur Christus het Petrus die
Skrifte leer verstaan. Sy oë het oopgegaan vir die ryke
bedoeling en vervulling van die skrifwoorde. So sien hy Ps 69 as
’n duidelike profesie van Christus se lyding. Dawid smeek in
die psalm om die hulp van die Here teenoor sy vyande. Die ywer
van God se huis het hom verteer. Hy het vir sy eie broers ’n
vreemde geword. In volkome eensaamheid ly hy onder die smaad en
hoon van sy teenstanders. Hy soek na troosters, maar kan geen
vind nie. Daarna roep Dawid God se oordeel uit oor sy vyande.
"Laat hulle laer woes word, laat in hulle tente geen bewoner
wees nie"(Ps 69:26). Petrus sien hierdie bede in vervulling
gaan in die lewenseinde van Judas. Judas, wat Dawid se seun en
Heer Jesus Christus verraai het. Laat sy woonplek woes word, en
laat daar geen inwoner in wees nie. Laat die herinnering aan hom
uitgewis word.

Maar sê Petrus, hierdie Judas was tog maar een
van ons. Hy is saam met ons getal gereken en het die lot van
hierdie bediening verkry (vers 17). Hy het saam met ons die woord
van Jesus gehoor en sy heerlikheid gesin. En nou die Gees kom is
hy daar nie by nie. Judas die verraaier. Gemeente, laat hierdie
werklikheid u tot ernstige selfondersoek bring. Hulle het met
mekaar omgegaan en gewerk. Tog is nie almal in die heerlikheid
nie. Sal my plek ook leeg wees? "Deurgrond my, o God, en ken
my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n
weg is van smart, en lei my op die ewige weg." ( Ps 139:23,24).

Gemeente, wanneer ek so in ernstige
selfondersoek my verootmoedig voor die Here dan sien ek ook meer.
Bo die leë plek sien ek Christus se liefde skitter. Die
ontbrekende plek is die van Judas. En Judas se verraad was die
ingang van Jesus in sy lyding. En u Here Jesus het gely en is
gestorwe vir u en my. U Here Jesus wou verraai en oorgelewer word
vir u volk. Om ons te koop met u kosbare bloed. As ek dan maar
elf apostels tel dan sien ek u versoenende sterwe, u groot liefde.
Die lig van u liefde straal oor die leë plek.

Ja, die een ontbreek, maar die ander elf is wel
aanwesig. Ook dit spreek nie vanself nie. Toe Christus in
Getsemane geslaan is, is die kudde uitmekaar gejaag. Toe Christus
gebind is het die fondament van die kerk uit mekaar geval. Maar
Hy wat gedood is, het gesê: "Oor die wat U My gegee het,
het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie,
behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word"
(Joh 17:12). Hy het hulle bewaar. Tel nou die elf en sien dat
Christus se liefde sy kerk in stand hou. Geen mag in die wêreld
kan dit oorweldig nie.

Die einde van Judas was verskriklik. Wie sou
nie huiwer nie? Maar dis geen oorwinning van satan nie. Want
alles het uiteindelik gebeur volgens die Skrifte. God regeer. Hy
gebruik die kwaad juis vir ons heil. Satan kan baie. Ook boustene
uitruk. Soms baie stene. Soms baie lidmate wegtrek. Maar God hou
die leiding. Die Skrif word vervul. Ook as een van die 12 verlore
gaan. Die leë plek van Judas mag daar egter nie bly nie. Petrus
is bewus van die bediening wat die Here aan Judas en aan die
ander elf toevertrou het. Daarom sien hy nou ook ’n ander
woord van Dawid van toepassing op die situasie, naamlik die woord
uit Ps 109:8: "Laat ’n ander sy amp neem." Die leë
plek van Judas moet vervul word. Ter wille van die voortgang van
Christus se werk.

Lees Petrus hier nie teveel in die woorde van
die Skrif nie, sodat hy die teks as ‘t ware laat buikspreek?
Nee, met reg lees Petrus die Psalms as Messiaanse Psalms. Tereg
lees hy die Psalms in die lig van Christus se lewe en werk. Het
Christus bv nie opsetlik 12 dissipels gekies om apostels te wees
nie? Wel, die amptelik werk moet deurgaan. Daarin duld Christus
geen vakature nie. Laat ’n ander een sy opsienersamp neem.
Sodat die ampsdiens goeie voortgang kan hê.

Maar waarom het Christus dan 12 dissipels
gekies? Die twaalftal het ’n besondere betekenis. Christus
sluit Hom daarby aan by die twaalftal uit die Ou Testament.
Twaalf is vir God se volk ’n bekende getal. Jakob het 12
seuns gehad. Israel het 12 stamme getel.

Wat is dan die waarde van die getal 12? Twaalf
is die getal van volkomenheid. Twaalf is drie maal vier. Drie is
die getal van God (dink maar aan die drie-eenheid). Vier is die
getal van die wêreld ( dink maar aan die vier windstreke van die
aarde: oos, wes, noord en suid). In die getal 12 ( 3x4) verbind
God Homself met die wêreld. Dit gee uitdrukking aan God se wêreldwye
heilsplan. Toe Jakob 12 seuns gekry het, toe was daarin afgebeeld
God se heilsplan tot verbreiding van sy kerk. Israel moes geen
sekte word nie, maar ’n wêreldkerk. God laat sy plan tot
verlossing van die wêreld regeer oor die vlees en bloed van
Jakob en van Lea, Ragel, Bilha en Silpa. God se plan tot
verlossing van die wêreld staan as ‘t ware op die
voorhoofde van die stamme van Israel geskrywe. Die twaalftal kan
slegs reg verstaan word teen die agtergrond van die messiaanse
belofte uit Gen 12. Die belofte aan Abraham dat in hom al die
geslagte van die aarde geseën sal wees. Die struktuur van die
volk Israel – 12 stamme – was dus reeds profesie van
die katolisiteit van die kerk. God het Homself daarin verbonde
met die wêreld (3x4).

Gemeente, Christus het op die twaalftal
teruggegryp toe Hy sy 12 dissipels gekies het. Deur sy twaalftal
hoop Christus met die wêreld in verbinding te tree. Deur die
apostolaat van die 12 wil Hy die wêreld voor God verower. Sien
daar die katolieke sendingsplan van God..

Wanneer die krag uit die hoogte kom, moet die
twaalftal gereed staan. Judas het afgeval. Sy vakature moet
vervul word. Christus het 12 gekies en daar moet 12 wees, na God
se opgemaakte bestek. Dit is geen sekte wat daar in die bovertrek
vergader nie, geen splintergroep nie. Daar sit kontinuïteit in.
Die nuwe twaalftal sluit aan by die ou twaalftal. Daar sit
voortgang in Christus se kerkvergaderende werk, van die ou na die
nuwe bedeling. Hier vergader die een heilige algemene christelike
kerk.

Alles is volgens God se plan. Ons het al gesê:
hulle vorm geen sekte nie, geen groep opstandelinge nie. Dit is
nie vlees en bloed wat hier die diens uitmaak nie. Nee, God maak
hier die diens uit. Sy soewereine welbehae. Sy goddelike
verkiesing. Soos hy self soewerein beskik het dat Israel 12
stamvaders sou hê, so beskik God nou dat daar 12 apostels sal
wees. Die kerk is geen saak van mense nie, maar ’n saak van
God se welbehae. Daarvan spreek die getal 12. Dit is volgens sy
goddelike plan van verlossing. Sy huis, die nuwe Jerusalem, daar
sit orde in, ’n goddelike struktuur. Dit is goed saamgevoeg,
na God se bestek.

Broeders en susters, nadat ons gelet het op die
waarom van die vervulling van Judas se vakature, wil ons let op
die wie. Wie moet die plek inneem?

Petrus noem die voorwaardes waaraan Judas se
opvolger moet voldoen. "Van die manne dan wat saam met ons
rondgegaan het al die tyd waarin die Here Jesus by ons in- en
uitgegaan het, van die doop van Johannes af tot op die dag dat Hy
van ons opgeneem is – van hulle moet daar een saam met ons
getuie word van sy opstanding." Die kandidaat moet dus van
die staanspoor af by Christus se breë kring van dissipels
behoort het. Hy moet Christus se publieke optrede persoonlik
meegemaak het. Hy moet ’n ware getuie kan wees. Dit gaan
immers oor die apostoliese getuienis. Christus het die 12 geroep
om sy getuies te wees, oog en oorgetuies. Hulle moet die feite
kan aandra, die heilsfeite van Christus. God het ’n
regsgeding met die wêreld en hulle moet die feite op tafel lê.

Die kandidaat moet dus ’n getuie wees,
veral van die opgestane en verheerlikte Christus. Die opstanding
vorm immers die hoogtepunt en bekroning van Christus se werk.
Daarin het Hy Homself gewys as die Oorwinnaar. Sy werk het nie
doodgeloop soos hulle aanvanklik gedink het nie. Inteendeel, sy
werk het juis sy voltooiing gevind en tot heerlikheid gekom langs
die pad van lyding en dood. Die kandidaat moet Christus dus na
Pase gesien het. Hy moet Hom ken as die lewende Vors wat nou
vanuit die hemel sy werk voortsit. Die opstanding, daar draai
alles om. As dit verloën word, dan bly daar van Christus se werk
niks oor nie.

Die kandidaat moet saam met die elf getuie word
van die opstanding. Die jode en die heidene moet hoor van die
lewende Vors. Dit teenoor die leuen wat deur die Joodse leiers
oor die opstanding versprei word. Judas se opvolger moet
deskundig wees. Hy moet weet waaroor hy praat. Die voortgang van
die werk van Christus dmv die getuienis van die 12 het geen
behoefte aan vrome mense wat hul geloof in Christus bely maar nie
die feite ken nie. Want die evangelie van die Opgestane moet met
krag op grond van die feite verkondig word teenoor die leuen van
die Jode. Die gemeente van Christus moet gefundeer word op die
eenparige getuienis van die 12.

Twee manne word voorgestel: Josef en Matthias.
Voordat tot die verkiesing oorgegaan word bid hulle saam: "U
Here, wat die harte van almal ken, wys uit hierdie twee die een
aan wat U uitgekies het om die lot van hierdie bediening en
apostelskap te verkry." Via die lot wys die Here dan
Matthias aan as plaasvervanger van Judas. Matthias word deur die
Here self uitgekies. So ontstaan daar weer ’n twaalftal na
God se verkiesende welbehae. God self sorg vir ’n goeie
fondament. Sonder die fondament is die gebou van God ondenkbaar.

Broeders en susters, ons het hier dus te doen
met ’n saak wat vir u en vir my van fundamentele belang is.
Die 12e apostel moet daar wees, sodat die nuwe Jerusalem daar kan
kom. Die nuwe Jerusalem, wat Joh op Patmos uit die hemel sien
neerdaal het. Dit het twaalf poorte en by die poorte twaalf
engele. Op die 12 poorte was geskrywe die twaalf name van die
twaalf stamme van die kinders van Israel. Aan die oostekant was
daar 3 poorte, aan die noordekant 3 poorte, aan die suiderkant 3
poorte en aan die westekant 3 poorte. Die vier windstreke van die
aarde. ’n Herinnering aan die katolisiteit van die kerk.
’n Herinnering aan die getal 3x4: God verbind Hom met die wêreld
na alle rigtings.

"En die muur van die stad het 12
fondamente gehad, en daarop die name van die 12 apostels van die
Lam." Aan die fondament het die Here gewerk tydens die
byeenkoms in die bovertrek. Ja, aan die stad het Hy gewerk. Op
die eenparige getuienis van die 12tal wil God sy gemeente bou, sy
algemene, christelike kerk. Via hul apostoliese getuienis wil Hy
sy gebou laat rys volgens sy bouplan. Via hulle soek Hy die groot
menigte wat niemand kan tel nie, uit alle nasies en stamme en
volke en tale wat staan voor die troon en voor die Lam, bekleed
met wit klere (Openb 7:9). Via hulle soek God u en my.

Daarom mag ons ons uitermate verheug in God se
goeie sorg vir die gawe fondament van die kerk. Die sorg spoor
ons aan om met sorg op die fondament voort te bou. As daar iets
misgaan met die kerk dan lê dit nie aan die fondament nie. Die
fondament is betroubaar. Dit was oor en ooggetuies. 12 in getal.
Laat ons getrou op die fondament bou. Laat ons ons soos lewende
stene opbou tot ’n geestelike huis, ’n heilige
priesterdom. ’n Huis wat God self laat verrys volgens sy
opgemaakte bestek.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)