Die goddelike verklaring van die feite.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-05-28
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 9
Preek Inhoud: 

Sondag 9
Ds C Kleyn - Sondag 28 Mei 2000

Lees: Lukas 13:1-5; Hebreërs
12:1-17; Sondag 9.
Sing: Ps 145:1-3; Ps 145:10-12;
Ps 104:1-3; Ps 104:17-21; SB 17:1,2,6.

Tema: Die goddelike verklaring van die feite.

  1. Teenspoed is nie outomaties ’n teken
    van toorn nie;
  2. God tugtig sy kinders met die oog op hul
    heiligmaking.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In die kerk en in die maatskappy kan daar
’n groot verskil wees tussen die situasie van een persoon en
die ander. Een persoon kan gesondheid en voorspoed geniet. Hy het
baie werk en inkome. Of sy besigheid brei uit in ’n tyd
waarin baie ander sakemanne gedwing word om in te krimp of selfs
hul bedryf te sluit.

Ander ervaar miskien een teenslag na die ander.
Hulle het miskien min werk, min inkome. Daardeur ontstaan
spanning in die huwelik en gesin. Ander worstel met siekte of
gebrokenheid. Wat moet ons konkludeer uit hierdie verskille? Kan
ons sê dat voorspoed ’n teken van die guns van God is
terwyl teenspoed ’n teken van God se onguns is? Wat moet ons
dink van die toename van geweld in ons land? Wat moet ons dink
van die moeites wat baie blankes in ons samelewing ervaar? Is dit
’n teken van God se toorn?

Ek verkondig aan u: die goddelike verklaring
van die feite

  1. Teenspoed is nie outomaties ’n teken
    van toorn nie
  2. God tugtig sy kinders met die oog op hul
    heiligmaking.

Met die kat bely ons dat God die Vader alles
deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer. God
laat nie slegs dinge hul loop hê nie, Hy regeer alle dinge. Hy
lei alle dinge in ’n sekere rigting. Hy het ’n doel met
alle dinge, ’n plan.

Wel, as dit is wat ons bely, watter konklusies
moet ons dan trek uit die verloop van die wêreld en kerk
geskiedenis? Wat is God se bedoelings?

Baie mense het geworstel met die verklaring van
sekere opvallende gebeurtenisse. Neem die verloop van die boere
oorlog. Neem die wêreld oorloë. Was God se hand op ’n
spesiale manier daarin aanwesig? Is dit tekens van God se toorn?
Of neem ’n verpletterende, troumatiese ervaring in u eie
lewe? Die skielike dood van ’n geliefde, ernstige siekte.
Wat moet ons daaruit konkludeer aangaande God se gesindheid en
bedoelings?

Gemeente, die Skrif waarsku ons om nie haastige
en ongeoorloofde konklusies te trek uit sekere gebeurtenisse nie.
Ons word tot versigtigheid aangespoor. Kyk maar na wat ons gelees
het uit Lk 13. Daar lees ons van Galileërs wat die slagoffers
geword het van Pilatus se wreedhede en van die 18 mense op wie
die toring van Siloam geval het. Die vraag wat Jesus na
aanleiding van die gebeurtenisse stel raak die saak waaroor ons
besig is: hoe interpreteer ons die geskiedenis. "Dink julle
dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die Galileërs,
omdat hulle sulke dinge gely het?"

Blykbaar het die mense wat die berig gebring
het reeds hul eie konklusies getrek. Die Galileërs is deur
Pilatus se soldate aangeval en gedood terwyl hulle besig was om
hul offers voor te berei. Daarom was hul eie bloed met die bloed
van hul offer diere gemeng. Dis verskriklik. Nie slegs vanweë
die wreedheid nie, maar veral vanweë die ontheiliging van hul
offers van versoening. Vanweë hul dood kon die offeraars nie
ander offers bring om dit weer reg te maak nie. Wel, het God so
’n verskriklike menseslagting nie laat gebeur nie? Wys Hy
daarmee nie aan dat die offeraars groot sondaars is en dat Hy
hulle offers afwys nie? God laat hul offerbloed ontheilig word.
Moet ons nie hieruit konkludeer dat God geen behae in hulle het
nie?

Gemeente, dat die mense in hierdie rigting
gedink het is duidelik uit Jesus se antwoord in vers 2: "Dink
julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die Galileërs,
omdat hulle sulke dinge gely het?" Die Jode het gewoonlik
gedink dat lyding en tragedies God se straf op sonde was. Hoe
groter die lyding, hoe groter die sonde moes wees. Hulle het
geglo in goddelike vergelding – maat vir maat.

In Joh 9 sien ons iets dergeliks. Die dissipels
loop ’n man raak wat vanaf sy geboorte blind is. Hulle vra
Jesus: "Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers,
dat hy blind gebore is?" Selfs die dissipels sien ’n
verband tussen blindheid van geboorte en direkte persoonlike
skuld. Die algemene gedagte was dat hulle wat die Here vrees en
sy gebooie onderhou ryklik geseën word, terwyl hulle wat
ongehoorsaam en ontrou is, gestraf word met teenspoed en lyding.

Hierdie idee van vergelding sien ons reeds by
die drie vriende van Job. Wanneer hulle Job se lyding sien trek
hulle die konklusie: Job moet ’n ernstige sonde begaan het,
anders sou God hom nie so ’n lyding gee nie.

Wel, gemeente, volgens hierdie opvatting moet
die Galileërs wat deur Pilatus gedood is, groot sondaars gewees
het. Hulle verskriklike en ontheiligende dood, sonder ’n
geleentheid om dit weer goed te maak nie, sou dit voldoende
aantoon.

Hoe reageer Jesus op so ’n interpretasie
van die gebeure? Christus verwerp die veronderstellings mbt God
se gesindheid. Dink nie dat hierdie Galileërs groter sondaars
was as al die ander Galileërs nie. Dink nie dat julle beter is
as hulle omdat julle nie so ’n tragedie ondergaan nie.

Broeders en susters, dit spreek selfs nog
sterker in die voorbeeld wat Jesus noem. Christus sê: "Of
daardie agtien op wie die toring van Siloam geval en hulle gedood
het – dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense
wat in Jerusalem woon?" Die eerste voorval het betrekking op
Galileërs, inwoners van die veragte Galilea van die heidene.
Daar was dit ’n mens – die heiden Pilatus – wat
hulle gedood het. By die tweede voorval gaan dit oor mense wat
woon in die heilige stad Jerusalem. Daarby was ook geen mensehand
betrokke nie. Dit was, om so te sê, ’n onmiddellike
ingryping van God self. Sou ’n mens nie daaruit mag
konkludeer dat God besig was om hulle te straf vir hul
goddeloosheid, dat hulle groter sondaars was as die ander mense
in Jerusalem nie?

Met groot nadruk sê Christus: Nee, ek sê vir
julle, nee. U het geen reg om sulke konklusies te trek nie. Die
gebeure as sodanig wys nie hoe God oor die mense voel nie. Jy kan
nie sommerso God se bedoelings daaruit weet nie. God gee geen
insig in al sy bedoelings nie. Hy laat ons sy wee nie verifieer
nie. Ons mense kan nie nagaan waarom God een persoon meer laat ly
as ’n ander persoon nie. Dit behoort by die verborge dinge
van God. Job ervaar dit op ’n pynlike manier. Sy drie
vriende het gedink dat hulle God se bedoelings geweet het. Hulle
het Job beskuldig van geheime sondes. Toe het die jong man Elihu
gekom met sy verlossende woord. Wat was die verlossende woord?
Dit: God is groot en verhewe. Hy doen wat hom behaag. Hy hoef aan
niemand rekenskap te gee. Hy is regverdig in alles wat Hy doen
ookal kan ons dit nog nie sien of verstaan nie.

God self bevestig dit wanneer Hy met Job spreek
uit die storm. Job wil weet waarom hy so ’n ellende moet
deurstaan. Hy dink dat hy die reg het om insig te hê in die rede
waarom God hom so laat ly. God sit Job op sy plek. Hy vra Job:
wil jy werklik my reg verbreek, My veroordeel, dat jy gelyk kan hê
(40:3). God wys Job dat hy sy lyding moet aanvaar, ookal weet hy
nie die rede daarvan nie. Job moet sy plek ken onder God; hy het
geen reg om God te bevraagteken nie. Sy weë is onnaspeurlik.

Broeders en susters, hierdie verwysing van die
Skrif wys dat ons nooit eenvoudigweg uit sekere gebeurtenisse mag
konkludeer hoe God dink oor die betrokke persone of volke nie.
Neem die ernstige en chroniese siektes wat sommiges ervaar, die
baie teenslae wat sommiges ondervind. As ons nie vanuit Job se
ondraaglike lyding mag konkludeer dat hy ’n groter sondaar
moet wees, sou ons vandag wel sulke konklusies mag trek uit die
teenwoordige lyding? Neem die swaarkry van baie blankes in ons
samelewing. Wat gee ons die reg om slegs vanweë die feit van die
swaarkry te konkludeer hoe God oor die mense dink?

Die teenoorgestelde geld ook: wanneer daar
groei, sukses en voorspoed is, wat gee ons die reg om daaruit te
konkludeer dat God ’n welbehae in die mense het? Die feite
op hulself openbaar nie God se gesindheid of sy bedoelings nie. U
moet dan ook nooit sukses sommerso gelykstel met God se seën en
lyding met God se vloek nie.

Maar, gemeente, wat maak ons dan met die
gebeurtenisse in die Skrifte wat wel verbind word met God se
gesindheid? Dink aan die talryke gebeurtenisse in die tyd van die
rigters waarin God sy toorn of sy guns getoon het. Dink maar aan
die droogte in die tyd van koning Agab vanweë Israel se baal
diens. Dink aan die dood van Herodus wat genoem word in Hand 12.
Daar lees ons dat ’n engel van die Here hom getref het omdat
hy die eer nie aan God gegee het nie. Of neem die voorbeeld van
die gemeente te Korinthe. Blykbaar was daar onder die gemeente
baie swakkes en sieklikes en ’n aantal het ontslaap (1 Kor
11:30). Paulus noem dit die oordeel van die Here, vanweë hul
gebrek aan liefde en onderskeiding. Wys sulke voorbeelde nie dat
ons tog konklusies mag trek uit spesiale gebeurtenisse nie?

By die gevalle wat ons genoem het, gaan dit nie
oor feite wat subjektief deur mense verklaar word nie. Die
gebeurtenisse word deur God self verklaar. Hy maak sy gesindheid
bekend, sy guns of sy onguns. In daardie gevalle spreek die
gebeurtenisse ’n duidelike taal omdat God self eers ’n
duidelike taal spreek. As ek God se gesindheid wil weet dan moet
ek die Woord van God eers ken. Ek sal die feite dan moet verklaar
in die lig van God se woord. Die feite op sig is nie ’n
spesiale openbaring van God nie. Hulle kan slegs verstaan word in
die lig van die bybelse openbaring.

Maar, broeders en susters, wat wil die huidige
feite ons dan in die lig van die Skrif vertel? Ons kan geen
simplistiese antwoorde gee nie. God se weë is dikwels
onnaspeurlik, onbegryplik. Baie dinge bly vir ons verborge. Soos
met Job wat tydens hierdie lewe die oorsaak van sy lyding nie
geweet het nie. Daarom moet ons ootmoedig en versigtig bly. Ons
bely in art 13 van die NGB: "Ons wil ook nie verder as wat
ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na die dinge wat Hy
bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel,
ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die
regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is
tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te
leer ken wat hy aan ons in sy Woord openbaar, sonder om die
grense daarvan te oorskry."

Wat leer die Here ons dan in sy Woord? In die
Bybel verbind God sonde en lyding wel in ’n algemene sin.
Sonder sonde sou daar nooit lyding gewees het nie. In ’n
volmaakte wêreld is daar geen plek vir lyding nie. God wys ook
sy toorn in hierdie wêreld. In Rom 1: 18 lees ons dat die toorn
van God van die hemel af geopenbaar word oor al die goddeloosheid
en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die
waarheid onderdruk. God bestraf goddeloosheid en ongeregtigheid
met ’n regverdige oordeel tydelik en ewig. Ja, tydens
hierdie lewe en in die lewe wat kom. Goddelose mense ontvang hul
verdiende loon so dikwels as hulle ly in hierdie wêreld. Daarom
kan ons in ’n algemene sin praat van God se oordeel in
lyding. Hier moet ons besef dat ons almal diek hel verdien het,
veel erger as wat enige mens hier op aarde ly. In die sin kan ons
sê dat ons almal die lyding verdien het.

Maar dit is nie outomaties ’n oordeel van
God nie. Dit geld alleen vir die goddeloses. En kan ons altyd
weet watter slagoffers goddeloses is en met watter slagoffers God
’n beter plan het? Die laaste en spesifieke oordeel lê by
die Here.

Soms is daar ’n direkte verband tussen
sonde en bepaalde gebeurtenisse. As ek voortdurend teveel alkohol
drink, dan kan dit gebeur dat ek as gevolg daarvan ernstige
probleme met my lewer kry. Dit kan gebeur dat vanweë my slapheid
en slordigheid my besigheid in die probleme kom. Laat ons eerlik
wees: baie probleme wat ons mense ervaar het ons in feite onsself
aangedoen. Daarom moet ons altyd onsself beproef en onsself
verneder voor God. Paulus skryf in 1 Kor 11: 31,32 "Want as
ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. Maar
as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons
nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie."

In geloof mag God se kinders weet dat alle
dinge ten goede meewerk, vir hulle wat God liefhet (Rom 8:28).
Alle dinge, voorspoed en teenspoed. Vader werk in beide vir ons
ten goede. Daarvan is ons seker wanneer ons glo. Daarom kan
armoede, siekte, teleurstellings ’n seën wees, ’n
teken van God se guns. Hy is besig om iets moois van ons te maak.
Dink aan die woorde van Hebr 12 wat ons gelees het: "My seun,
ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy
deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy
liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem." Hier word
bestraffing gesien as ’n uitdrukking van liefde. Dis beslis
nie waar dat God se liefde slegs sigbaar word in sukses en
voorspoed nie. Voorspoed kan selfs ’n vloek wees. Dink maar
aan die situasie in Wes Europa waar die weelde baie mense juis
van God weggedryf het. "Watter seun is daar wat die vader
nie tugtig nie. Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal
deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns
nie."

Waarom bestraf God ons? Wel, soos ouers bestraf
Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. Hy
wil iets moois van ons maak.

Gemeente, hierdie waarheid is baie belangrik
wanneer u probeer om die ervarings in u lewe te verstaan.
Bestraffing kan ’n bewys van God se liefde wees. Bestraffing
en seunskap behoort by mekaar. Dit lyk miskien asof die feite
’n ander taal spreek. "Nou lyk elke tugtiging of dit op
die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van
droefheid." Maar in werklikheid is Vader besig met jou.
Sonder geloof in God die Vader sal jy nooit die feite goed kan
verstaan nie. Slegs deur geloof en in die lig van die Skrif word
dinge duideliker. Deur geloof leer ek om te sien dat tugtiging
sin maak, ookal is dit pynlik. Dit het ’n goddelike doel:
groei in heiligmaking. Sonder heiligmaking sal niemand God sien
nie.

Geliefdes, dat dit die positiewe doel van die
lyding van God se volk is, is reeds duidelik uit die geskiedenis
van Job. Die Mens – slegs ’n skepsel en ’n sondige
skepsel – moet hom voor die soewereine God verootmoedig. Ons
moet voortdurend leer om uit genade te lewe. Daarom benadruk
Christus ook in Lk 13 die bekering. "As julle jul nie bekeer
nie, sal julle almal net so omkom." Die menseslagting van
Pilatus en die ramp met die toring van Siloam word gegee as
waarskuwings, tekens wat ons herinner aan ons sondes. Daarom moet
ons uit alle gebeurtenisse leer. Ons staan voor die heilige God.
Hy soek positiewe vrugte. Hy roep u tot geloof en bekering. Sal
ons die toets deurstaan.

Broeders en susters, wanneer die vraag gestel
word: wat probeer God ons te leer deur die swaarkry van mense
hier in suid Afrika. Sê nie te haastig: God wys sy toorn nie.
Nee, onthou die positiewe reël: vader tugtig sy kinders met die
oog op hul heiligmaking. Laat ons dan daardeur groei, groei in
ootmoed, liefde en trou. Laat dit werklik ten goede werk. Dit is
immers God se doel. Beproef jouself. Verneder jouself voor die
groot en verhewe God. Wees eerlik met die sondes in jou lewe en
bekeer jou daarvan. Werp elke las weg en die sonde wat ons so
maklik omring. Laat niemand onverskillig of goddeloos wees soos
Esau nie. Leer om van genade alleen te lewe. Sodat alle dinge
werklik tot jou heil mag dien. Sal jy die proef van God deurstaan?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)