Die Here spoor sy kerk, wat leef met onvervulde beloftes, aan om te volhard.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-05-14
Teks: 
Hebreërs 11
Preek Inhoud: 

Hebreërs 11:1,2
Ds C Kleyn - Sondag 14 Mei 2000

Lees:

Hebreërs 10:32-11:19; Sondag 7b (vr. & antw. 21-23).
Sing: Ps 48:1; Ps 48:4; Ps 135:1,2; Ps 135:11; Ps 68:9; Ps 27:4,6; Ps 28:6-8.
Tema: Die Here spoor sy kerk, wat leef met onvervulde beloftes, aan om te volhard.

Die Here doen dit

  1. deur te wys op die aard van die geloof;
  2. deur te wys op die Ou Testamentiese gelowiges.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

As gemeente van Christus leef ons in verwagting. Ons besit geweldige beloftes. Ons het ’n geweldige vooruitsig. Daarom bely ons ook by elke nagmaalsviering: ons sien met groot verlange uit na Christus se verskyning in heerlikheid, na die bruilofsmaal van die Lam…want die bruilof van die Lam kom.

Ons sê daarmee: Ons het iets geweldigs in die vooruitsig. Die vervulling van die groot belofte: Christus se verskyning in heerlikheid, die bruilof van die Lam. Maar gemeente, waar bly die vervulling van die belofte? En wat sien ons daarvan dat die belofte werklikheid gaan word? Die kerk het al eeue daarvan gesing en daarna uitgesien. Maar dit skyn nog ewe ver weg te wees. Dae, maande, jare gaan verby. Die een geslag gaan, die ander geslag kom. Dit lyk asof daaraan geen einde kom nie.

Kan ons broeders en susters dan wel vol oortuiging bly spreek van ’n met verlange uitsien na Christus se verskyning in heerlikheid? En kan ons dit in die daaglikse praktyk van die lewe wel volhou om in die perspektief te leef, terwyl dit lyk asof die sigbare feite dit weerspreek, terwyl mense ons beskou as vreemdes, as mense sonder gevoel vir die werklikheid?

Gemeente, die brief aan die Hebreërs gaan in op dergelike vrae. Die brief is een groot waarskuwing om nie te verslap nou die vervulling van die belofte uitbly nie. Die brief is een groot aanmoediging om vol te hou, in die geloof. In hoofstuk 11 wys die geïnspireerde skrywer op die krag van die geloof. Daartoe gee hy eers ’n omskrywing van die geloof in verband met die konkrete situasie van die lesers. Laat ons daarop let as ek aan u verkondig: die Here spoor sy kerk, wat leef met onvervulde beloftes, aan om te volhard.

Die Here doen dit

  1. deur te wys op die aard van die geloof
  2. deur te wys op die Ou Testamentiese gelowiges

Laat ons, broeders en susters, eers let op die plek van Hebr 11 in die boek Hebreërs. Hoofstuk 11 lê tussen die hoofstukke 10 en 12, hoofstukke wat juis tot volharding oproep. Hoofstuk 10 eindig met die woorde: "Werp dan julle vrymoedigheid, wat ’n groot beloning het, nie weg nie. Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry…Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe."

Na daardie woorde vorm hoofstuk 11 ’n soort intermezzo waarin die geloof uitgewerk en aangetoon word. Hoofstuk 12 sluit dan weer aan by die vermaan van hoofstuk 10 wanneer dit begin met die woorde: "Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê." Die geloofsgetuies wat in hoofstuk 11 genoem word funksioneer as ’n bemoediging aan die lesers. Die Here spoor sy kerk daarmee aan om te volhard.

Ja, gemeente, die aansporing was hard nodig, en is nog steeds hard nodig. Daar is steeds die gevaar van verslapping. Die Christene uit die Jode het al baie deurstaan. Eers was daar die sware stap om te breek met die Jodedom en hulle aan te sluit by die gehate Christene. Toe al vinnig die beproewinge. Hulle het ’n groot lydensworsteling deurstaan, gedeeltelik omdat hulle deur smaad en verdrukking ’n skouspel geword het, gedeeltelik omdat hulle deelgenote geword het van die wat in so ’n toestand verkeer het. Aanvanklik het hulle dit goed gehanteer. Hulle het die berowing van hul goed met blydskap aanvaar. Hulle het mekaar vasgehou as lidmate van een liggaam. As een lid ly, ly al die lede saam.

Maar dit het so lank geduur. En toe het hulle verslap. Hulle kon dit nie meer volhou nie. Hulle het gaan aarsel. Twyfelvrae het ontstaan. Wie sy eie hart ken, kan raad watter vrae opgekom het. Moet dit werklik so? Kan Christus, wat oorwin het, geen einde hieraan maak nie. Hulle het in Christus geweldige beloftes ontvang, beloftes van lewe, van bewaring en oorwinning. Maar wat blyk daarvan? Die teendeel lyk waar. Die vyand behaal sukses na sukses en hulle moet steeds weer die onderspit delf. Waar bly die vervulling van die pragtige beloftes?

So dreig die gemeente, wat leef met onvervulde beloftes, om in te sink. Hulle volhard nie langer met die beloftes van God nie. Hulle is erfgename van die lewe, ja, erfgename van die wêreld. Die teendeel lyk waar. Hulle begin om te aarsel. Hulle word bang vir die gevolge van hul geloofskeuse. Hulle verloor perspektief.

Daarom is daar die dringende oproep: "Onthou die vorige dae…Julle het lydsaamheid nodig om die belofte te verkry…Maar by ons in daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe." Ja, volharding is nodig, geloof. En die geloof is, so lees ons in ons teks, ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Om te glo is om seker te wees van die dinge waarop ek hoop en om innerlik oortuig te wees van die dinge wat ek nie sien nie.

Maar, broeders en susters, wat is dit: die dinge wat ons hoop? Dit is nie sommerso allerlei dinge wat ek graag sou wil hê nie, allerlei ideale. Wanneer die Bybel praat van hoop dan is dit altyd ’n saak van God se beloftes. God het gespreek. God het belowe. Daarom hoop ek. Daarom leef ek in verwagting.

Die vervulling van die beloftes laat soms lang op hom wag. Daarom word ook gepraat van dinge wat ons nie sien nie. Dit is nog nie ’n sigbare werklikheid nie. Ek kan dit nog nie sien en tas nie. God het belowe dat sy kinders erfgename van die wêreld sal wees, maar ons sien dit nog nie. God het die oorwinning oor alle vyande belowe, maar daar is nog niks daarvan te merke nie. Hy het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde belowe, maar wat sien ons daarvan?

Om te glo is om seker te wees van hierdie dinge wat God belowe het, maar wat nog nie volle werklikheid is nie. Die geloof rig hom op God se beloftes. By die geloof gaan ek dus nie uit van my eie ervaring, van wat ek sien en voel nie. Ek leef by wat God vir my belowe het. Wat die oog nie gesien het en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit glo ek omdat God dit gesê, belowe het. Die geloof rus op die Woord van God.

Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat God belowe het. Om te glo is om daarvan seker te wees. God het gespreek, daarom is dit so. Ook al sien ek daarvan nog niks nie, ook al lyk alles daarmee in stryd te wees. Die Here het gespreek. Daarom sal dit so wees. Die Here immers kan en wil en sal doen wat Hy belowe het om te doen. Niks is te wonderbaar vir die Here nie. Kenmerkend vir die Here se optrede is immers dat Hy deur sy woord die dinge skep wat nog nie is nie. God laat die dinge wat gesien word nie ontstaan uit die sienlike dinge nie. Dit is die refrein in die bybelse geskiedenis.

Deur sy skeppende woord maak God dit wat daar nie is nie en wat volgens menslike berekening nie kan kom nie. Dink maar aan die kritieke momente in die geskiedenis. Dink maar aan die skepping, ’n groot wonder van God. Dink maar aan die geboorte van Isak, die verlossing van Israel uit Egipte, die deurtog deur die Skelfsee, die bewaring in die woestyn, die intog in Kanaän, almal wonders van God, dinge wat vir mense onmoontlik gelyk het. Dnk maar aan die geboorte van Jesus Christus uit die maagd Maria, Christus se opstanding, sy hemelvaart, die uitstorting van sy Gees ens. Deur sy woord het God dinge tot stand gebring wat nie uit sienlike dinge ontstaan het nie. Niemand kon dit bedink nie. Niemand kon die aflei uit die ontwikkelinge nie. Mense het eerder die teendeel verwag.

Wel, gemeente, die geloof rig hom op so ’n God en is seker van wat Hy gesê het. By die geloof pas dus geen twyfel nie. Om te glo is om seker te wees. ’n Twyfelende geloof is soos koue vuur of droog water. Die twee pas nie by mekaar nie.

Natuurlik wil dit, broeders en susters, nie sê dat ’n gelowige nie kan twyfel nie of dat ’n gelowige geen aanvegtings ken nie. Inteendeel. Ons het daagliks teen die swakheid van ons geloof en teen ons twyfelmoedigheid te stry. Maar dit neem nie weg dat die aard van die geloof sekerheid is. Die geloof is seker van God se beloftes, want dit het te doen met God wat almagtig is in sy genade en vir wie geen ding te wonderlik is nie.

Die Skrif leer ons dan ook dat twyfel sonde is en uit ongelowigheid voortkom. Dit ergste van die twyfel is nog nie dat ekself van groot troos beroof word nie. Die ergste is dat ek God nie die eer gee wat Hom toekom nie. Want in my twyfel maak ek Hom tot ’n leuenaar. Sou God sy beloftes nie kan inlos nie? Sou die vervulling van sy beloftes nie haalbaar wees nie? Om die vraag te stel is om dit te beantwoord. Hy wat belowe, is immers diegene wat spreek en dit is daar, wat deur sy woord dit wat nie is nie tot aansyn roep.

God het u, broeders en susters, die vergewing van die sondes en die ewige lewe belowe. Hy wil in Christus goddeloses regverdig. Om te glo is om ook van die beloftes seker te wees. Om seker te wees dat Hy ook my sondes vergewe, ook my sonde van twyfel. Die twyfel moet oorwin word en kan oorwin word, deur God op sy woord te glo. En dan is niks van wat God belowe het onmoontlik nie, selfs nie die regverdiging van ’n groot sondaar soos ek is.

Almal wat glo mag sê: ek is gered, my sondes is vergewe. Die volkome verlossing, ook van die swakheid van my geloof, waarteen ek daagliks moet stry, is nog nie daar nie. Die mooiste kom nog. Dis nie onseker nie. Dis waar en seker. Omdat die Here dit belowe het. Ek hoop op God se woord. Ek hoop op God. En Hy bedrieg my nie. So verwag ek die volkome verlossing met volharding. Ek sien met groot verlange uit na Christus se verskyning in heerlikheid, na die bruilof van die Lam. Die Here het gespreek. Daarom sal dit so wees, ook al sien ek nog niks daarvan nie. Ook al lyk die daaglikse werklikheid daarmee in stryd te wees.

Gemeente, deur te wys op die aard van die geloof spoor die Here sy kerk, wat nog met onvervulde beloftes leef, aan om te volhard. U het geloof nodig. En om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop en nog nie sien nie. Die Here bemoedig sy kerk ook deur te wys op die Ou Testamentiese gelowiges. Ons sal dit nader bekyk in die tweede punt. Die vervolg van die teks lui: "Want daardeur het die mense van die ou tyd getuienis ontvang."

Met die mense van die ou tyd word bedoel die gelowiges uit die tyd van die Ou Testament. Op die gebied van die geloof het hulle getuienis ontvang. Deur wie? Deur die Here self. Die Here het wat hulle geloof betref vir hulle getuig. Lees maar die vervolg van Hebr 11. Lees maar die Bybel, om te begin by Genesis. God gee ’n loflike getuienis van die Ou Testamentiese gelowiges. Hulle ontvang ’n gunstige attestasie. ’n Attestasie wat u kan lees en wat u tot u eie bemoediging moet lees.

God het aan hul kant gestaan. God het gewys dat hulle reg was. Sommiges reeds tydens hul lewe. Van Abel word in vers 4 gesê dat hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het. Ons lees in Gen 4 dat die Here Abel en sy offer genadig aangesien het, maar Kain en sy offer nie aangesien het nie. Dit het blykbaar op ’n herkenbare manier gebeur. Daarom het Kain kwaad geword.

Abraham het ook ’n loflike getuienis ontvang tydens sy lewe. God het aan Hom verskyn. In sy seën en voorspoed kon hy die guns van die Here opmerk. So het Abraham ook die seën van Melgisedek ontvang: "Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste." So het die engel van die Here tot Abraham gesê, nadat Abraham Isak geoffer het: "Ek sweer by Myself, spreek die Here, omdat jy dit gedoen het….dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder." So sou ons kan aangaan met die noem van loflike getuienisse wat die mense uit die ou tyd reeds tydens hul lewe ontvang het.

Ook na hul lewe is die getuienis van God gegee. Henog het in sy opneming juis ’n gunstige getuienis van God ontvang. God het hom toe in die gelyk gestel. En alle goeie getuienisse is nou swart op wit vasgelê in die Bybel. So spreek die gelowiges van die Ou Testament nog nadat hulle gesterf het.

Deur die geloof het hulle baie kan doen. Deur die geloof het hulle baie kan deurstaan. So het hulle dit kan volhou onder die grootste beproewings. Ja, broeders en susters, u moet nie dink dat u alleen die stryd van die geloof moet voer nie. Dink maar nie dat u alleen teen alle verwagtings in moet hoop nie. Daarin is u een met alle gelowiges uit alle tye. Dink u dat Abel nie sy stryd geken het nie? Is dit, om een punt te noem, wel so maklik om die eersteling van jou dierbare skape sommer in rook te laat opgaan as offer vir die Here, wat jy nie kan sien nie?

Wat dink u van Henog en Noag? Beide moes praat van die komende oordeel van God. Was hul prediking nie belaglik nie? Wat kon die mense sien van die naderende oordeel? Dit teendeel lyk waar. Die ongelowige wêreld het steeds sterker geword. En baie geloofsgenote het na hulle oorgeloop. Gestel dat jy jarelang so ’n ark moet bou op die droë grond, terwyl dit oënskynlik met die wêreld goed gaan.

En wat dink u van Abraham? Sou Abraham geen stryd geken het nie? God het vir Abraham belowe om hom tot ’n groot volk te sal maak. Sy nageslag sou soos die sterre van die hemel in menigte en soos die sand aan die strand van die see word. Maar Sara het onvrugbaar gebly. Totdat hulle beide so oud was dat daar geen kind meer verwag kon word nie.

En toe Isak deur ’n wonder van God gebore was, toe moes Abraham hom gaan offer. Dink u dat dit vir Abraham geen stryd gekos het nie. Wat kom daar dan tereg van God se beloftes? Moet Abraham nou die een seun gaan offer? Die geloof het egter oorwin. Abraham het gegaan om sy seun te offer, teen hoop op hoop. Abraham se geloof het teen alle menslike verwagtings ingegaan. Hy het hom slegs toevertrou aan die belofte van die Here. God het gesê dat Abraham se nageslag deur Isak gebou sou word. Wel wat God sê dit maak hy waar, ook al lyk die feite daarmee in stryd te wees. Abraham het in God geglo, God, wat dit wat nie is tot aansyn roep. So het hy gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek.

U moet broeders en susters, dus nie dink dat u alleen teen alle verwagtings in moet lewe nie. U is nie die eerste wat met onvervulde beloftes moet lewe nie. Die kerk van die ou verbond het dit selfs nog sterker moet ervaar. Toe was daar nog veel meer onvervulde beloftes. Die belofte het hulle nog nie gekry nie. Hulle het die Christus nog nie gesien nie. En dit was mense van vlees en bloed net soos ons. U moet geen helde van hulle maak nie. Hulle was ook swak en sondige mensekinders wat daagliks teen die swakheid van hul geloof moes stry. Maar hulle het oorwin. Deur die geloof.

Laat dit broeders en susters, u bemoedig in u stryd van die geloof. Volharding is moontlik, ondanks alle aanvegtings. Dit kan deur die geloof. Dit kan deur God op sy woord aan te neem. Dan hoef u dit vandag nie te sien of te tas nie. U het dit gehoor. Dit is vir u bevestig aan die nagmaalstafel. Dit is voldoende. Want Hy wat spreek is diegene wat deur sy woord dit wat nie is tot aansyn roep. So kan u met groot verlange uitsien na Christus se verskyning in heerlikheid, na die bruilof van die lam.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)