Die kerkraadsvergadering te Jerusalem.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-04-30
Teks: 
Handelinge 15
Preek Inhoud: 

Handelinge 15:1-21

Ds C Kleyn - Sondag 30 April 2000

Lees: Handelinge 15:1-34.
Sing: Ps 84:1,2; Ps 84:3,4; Ps 67; Ps 87:1-3; Ps 87:4,5.

Tema: Die kerkraadsvergadering te Jerusalem.

  1. Die geskil;
  2. Die bespreking;
  3. Die voorgestelde besluit.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Dinsdag hoop ons om die sinode in Bethel te begin. Drie afgevaardigdes van elke kerk hoop dan bymekaar te kom. Die vraag kan opkom: watter nut het so ’n vergadering van die kerke. Is dit nie ’n gemors van tyd. Kan ons die tyd nie beter in die gemeente steek nie? Daar is immers baie wat die aandag verdien maar nie die aandag kry nie. Elke plaaslike kerke is tog ’n selfstandige kerk van Christus? Na die apostels het God sy kerke slegs plaaslike ampsdraers gegee. Die ampsdraers het slegs gesag in hul eie gemeente. Elke plaaslike kerk is outonoom en kan nie sy eie verantwoordelikheid aan ander oordra nie. Waarom dan ’n verband van kerke? Waarom dan ’n sinode van die kerke.

Gemeente, Hand 15 gee ons ’n pragtige voorbeeld van hoe kerke mekaar tot groot steun kan wees. Dis waar, Hand 15 praat nie oor ’n sinode nie. Hier het ons ’n vergadering van afgevaardigdes van die gemeente van Antiochië met die gemeente van Jerusalem onder die leiding van die apostels en ouderlinge. Twee kerke vergader saam. Twee kerke gee om vir mekaar. Hulle bemoedig mekaar om trou te bly. Die kontak tussen die twee kerke het God ryklik geseën. Dit het ’n breuk tussen die kerke voorkom. Dit het die eenheid van die geloof bevestig.

Ja, daar is baie in geding. Sekere persone het van Judea na Antiochië afgekom en het geleer: As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie.

In geding is die evangelie van genade alleen. In geding is die fondament van die kerk en so ook die katolisiteit van die kerk. Sal die kerk waarlik Christelik bly of sal dit ’n Joodse kerk word, ’n Joodse sekte, ’n sekte waarby jy jou slegs kan voeg deur die Joodse gebruike te aanvaar?

Ons begeer almal die vrede van Jerusalem. Christus se kerk behoort ’n oase van vrede en rus te wees. Wanneer geskille binne die kerk ontstaan dan word ons geloof op die proef gestel. Dit kan die lidmate verontrus en verwar. Dit kan aanleiding gee vir spot en laster van die vyande van die kerk. Niks pas die evangelie slegter as onderlinge getwis nie. Die apostoliese leer is die enigste wat ons bymekaar kan bring en hou.

Dis duidelik: daar is geen rus in hierdie pinksterbedeling nie. U word aangemoedig om in die apostoliese leer te volhard. Dit kan gebeur dat ons die leer van die saligheid moet verdedig teen aanvalle van binne in die kerk. Die gemeente van Antiochië het dit ervaar. Die gemeente bring die saak voor die apostels en ouderlinge van Jerusalem.

Ons wil let op drie dinge

  1. die geskil
  2. die bespreking
  3. die voorgestelde besluit

Lukas neem ons na die stad Antiochië, die hoofstad van die Romeinse provinsie Sirië, ongeveer 500 km noord van Jerusalem. ’n Groot stad, vermaard deur sy kultuur, immoraliteit en goddeloosheid. Hier in Antiochië ontstaan ’n gemeente van Christus. Baie van sy lidmate was oorspronklik heidene.

Hierdie kerk word ’n sentrum vir sendings aktiwiteite. Paulus en Barnabas word deur hulle uitgestuur. Hulle stig kerke, bevestig ampsdraers. Hulle keer terug na Antiochië en doen verslag oor hul werk. God het geweldige dinge deur hulle gedoen. Hy het die deur van die geloof vir die heidene wyd oop gemaak. Daar is slegs een deur, die deur van die geloof. Geloof in Jesus Christus. Dan gaan die deure van God se koninkryk oop. Is daar dan geen ander deure waardeur ek die kerk kan binnekom nie? Nee, die enigste eis is: glo in die Here Jesus Christus. Dit is in ooreenstemming met wat Christus self in Mk 16:16 gesê het: "Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word." Dit is een of die ander: redding of veroordeling; hemel of hel. Dit word bepaal deur geloof in die Here Jesus Christus.

Heidene hoor die prediking van Paulus en Barnabas en aanvaar dit met blydskap. Dit is die werk van God. Hy alleen open die deur van die geloof. Maar nou ontstaan daar ’n konflik in die bloeiende gemeente van Christus. Sekere persone kom van Judea af en leer ’n ander leer. Paulus noem hulle in Gal 2 valse broeders wat ingesluip het om ons vryheid te bespied wat ons in Christus Jesus het sodat hulle ons in diensbaarheid kan bring."

Ongetwyfeld doen hulle ’n beroep op God se eie woorde en op die woorde van die apostels. Let op die sluheid van satan. Hoe dikwels word die name van kerk leiers nie misbruik om die eenvoudiges te mislei nie. Die vinnige groei van die kerk deur christene van heidense afkoms stel die meer konserwatiewe Joodse christene voor ’n probleem. Straks is daar meer nie Joodse christene as Joodse christene. Verskillende joodse christene vrees dat die toevloei van soveel bekeerlinge uit die heidendom ’n verswakking van die kerk se morele standaarde sal veroorsaak. Hoe moet die nuwe situasie beheers word?

Sommige lidmate van die kerk te Jerusalem het ’n eenvoudige antwoord. Die heidene moet toegelaat word op dieselfde voorwaardes as toentertyd die proseliete na die Jodedom toegelaat is. Hulle moet besny word en die Mosaïese wette onderhou.

Wanneer Paulus en Barnabas nalaat om dit aan die lidmate uit die heidendom voor te hou, dan is daar lidmate van die Jer gemeente wat bereid is om dit goed te maak. Hulle gaan af na Antiochië.

Paulus en Barnabas doen verslag: God het die deur van die geloof vir die heidene geopen. Eks-heidene kry toegang tot God se koninkryk deur Jesus Christus. Maar nou kom hierdie beskermers van die Joodse erfenis in aksie: die deur moet toegemaak word. Daar is slegs een weg, dit is die pad van Moses via besnydenis.

Hier is die eenheid van die kerk in geding; die eenheid van die kerk te Antiochië en orals waar Jode en nie-Jode lidmate van die kerk geword het deur geloof en doop. Ja, die deur van die geloof is in geding. Dit is ’n baie fundamentele saak. Die Judaiste leer: heidene kan slegs gered word as hulle hul laat besny. Jy kan slegs ’n volwaardige Christen word as jy eers ’n Jood word. Jy kan slegs in die kerk inkom deur die deur van besnydenis. En as jy eenmaal binne is dan moet jy die ander seremonies van die wet ook nakom. Hul leuse is: jy moet ’n Jood word en as ’n Jood lewe.

Dit is egter ’n kontra evangelie, teenstand teen niemand minder as God self wat die deur van die geloof vir die heidene geopen het. Gemeente, dink nie te ligvaardig oor hierdie geskil nie. Dis ’n aanval op die werk van Christus, teen die evangelie van verlossing deur geloof alleen, sonder werke van die wet. Dit is ’n tipiese judaistiese idee: toegang tot die volk van God deur die deur van die seremonies, deur allerlei tradisies en gebruike.

Dit lei tot ’n verskriklike stryd in die kerk te Antiochië. Daar ontstaan ’n skerp woordewisseling van Paulus en Barnabas teen hulle. Paulus en Barnabas kan die leer nie tolereer nie. Ook al word hulle miskien as rusverstoorders beskou of as mense wat hul eie saak – hul suksesse op die sendingveld - trag te verdedig. Maar hulle het geen keuse nie. Die evangelie van genade alleen en geloof alleen is in geding. Ja, die fondament van die kerk is in geding.

Maar, gemeente, prys die Here! Die gemeente te Antiochië sien die erns van die saak. Hulle besluit om Paulus en Barnabas en nog ’n paar ander van hulle na Jerusalem te stuur om met die apostels en ouderlinge oor die saak te praat. Dit is nie voldoende om die saak slegs in Antiochië te debatteer nie. Dit moet ook in Jerusalem bespreek word. Laat die leiers in Jerusalem amptelik die valse broeders wat uit hul midde gekom het afwys. Laat die Jerusalem gemeente in hierdie saak ’n duidelike standpunt inneem. Laat hulle wys dat hulle die evangelie van genade alleen handhaaf. Anders kan dit lei na ’n definitiewe breuk tussen die kerke van Jerusalem en Judea en die kerk te Antiochië en haar dogter kerke op die sendingveld. Daarom stuur die gemeente te Antiochië Paulus en Barnabas en nog ’n paar ander betroubare lidmate om die saak met die leiers van die kerk te Jerusalem te bespreek.

So kom ons by die tweede punt: die bespreking

Op pad na Jerusalem, deur Fenicie en Samaria, vertel Paulus en Barnabas van die bekering van die heidene. Die nuus het aan al die broeders groot blydskap verskaf lees ons in vers 3. Oral is daar groot vreugde vanweë God se werk onder die heidene.

In Jerusalem word Paulus en Barnabas deur die gemeente en die apostels en ouderlinge verwelkom. Paulus en Barnabas doen weer verslag van al die dinge wat God deur hulle gedoen het.

Tydens die gemeente vergadering staan sommige Judaiste op wat herhaal wat ander Judaiste al in Antiochië geleer het: die heidene moet besny word en die wet van Moses onderhou. So word die saak onmiddellik duidelik vir die gemeente.

Die kerkraad van Jerusalem vergader saam met die apostels om hom oor die saak te besin. Na ’n hete diskussie neem Petrus die woord. Wat sê Petrus? Petrus herinner die broeders daaraan dat die saak al beslis was ’n aantal jare gelede toe God hom na die huis van Cornelius, ’n romeinse hoofman, gelei het. U ken die geskiedenis. ’n Engel van God verskyn aan Cornelius. Cornelius kry die opdrag om Simon Petrus te laat haal. Terselfdertyd ontvang Petrus die visioen van ’n voorwerp soos ’n groot laken wat neergelaat word met reine en onreine diere daarop. Petrus hoor ’n stem: Staan op, Petrus, slag en eet. Vanweë die onreine diere weier Petrus egter om dit te doen. Dan kom ’n stem tot hom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. Dit gebeur drie maal. Dan is daar die bodes van Cornelius voor Petrus se deur. Hulle vra vir Petrus. Die Heilige Gees maak vir Petrus duidelik dat hy met hulle moet saamgaan.

Op die kerkraadsvergadering te Jerusalem herinner Petrus die broeders aan die geskiedenis. God het toe al duidelik gemaak dat die evangelie aan die heidene gepredik moet word. Petrus het daarvoor ’n uitdruklike bevel ontvang. En God het gewys dat Hy die heidene wat tot geloof gekom het aanvaar het. Hoe? Deur aan hulle die Heilige Gees te gee net soos Hy dit aan die Joodse christene gegee het. So herinner Petrus die broeders aan God se woorde en werke onder die heidene. God het gewys dat Hy geen onderskeid maak tussen Jode en nie-Jode nie. God behandel almal gelyk. Almal ontvang die Heilige Gees.

Op die vergadering sê Petrus verder dat God die harte van die heidene gereinig het deur die geloof (Hand 15:9). Al die oue regulasies en seremonies kan nie red nie. Dit kan nie die harte reinig nie. Hoe kry jy ’n rein hart? Slegs deur geloof in Jesus Christus. Wat het Petrus daar in die huis van Cornelius gepreek? Dit: elkeen wat in Jesus Christus glo, ontvang vergifnis van sondes deur sy Naam. Dit is waar die wet van Moses al op gewys het: vergewing en vernuwing deur geloof in Jesus Christus. God maak geen onderskeid nie. Daar is by Hom geen aanneming van die persoon nie. Hy reinig Joodse en nie-Joodse harte op presies dieselfde manier: deur geloof.

So hoor ons hoe Petrus die werk van God in herinnering bring. As God die heidene aanvaar het en hulle harte gereinig het toe hulle die evangelie geglo het, hoe kan sommiges dan eis dat verdere voorwaardes aan hulle gestel moet word? Voorwaardes wat God self nie gestel het nie. God het self die deur van die geloof vir die heidene geopen. Jy het toegang tot die kerk deur die deur van die geloof. Jy hoef nie eers ’n Jood te word nie, of ’n Nederlander, of ’n Afrikaner nie. En as jy eenmaal binne is dan hoef jy nie te lewe in gehoorsaamheid aan allerlei seremonies en gebruike nie. Dit is iets van die verlede. Wat God van jou vra is : geloof in Jesus Christus, soos Hy Hom in die Skrif bekend gemaak het.

Gemeente, Petrus sluit sy toespraak af met die woorde: "Nou dan waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ’n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie?" Hoe durf julle om God te versoek. Ja, wanneer jy teen God se eie werke ingaan dan beproef jy Hom, dan daag jy Hom uit. Hoe durf jy om ’n las op die mense te lê wat God self nie op hulle lê nie. Jy moet dit en jy moet dat doen. Dit het niks met die christelike geloof te make nie. Dit is antichristelik. Jy word geroep om na Christus te kom in geloof en om sy juk op jou te neem om so rus te vind vir julle siele; want sy juk is sag en sy las is lig. Daarom konkludeer Petrus: Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle. Geloof alleen en genade alleen.

Barnabas en Paulus ondersteun Petrus se woorde deur te verhaal wat God deur hulle onder die heidene gedoen het. Die hele vergadering swyg. Hulle is onder die indruk van God se werk onder die heidene. Waarom sou hulle nog verder debatteer? Die saak is al beslis. Deur God self, deur God se woorde en werke. Jakobus rond die bespreking af deur daarop te wys dat wat hulle sien en hoor ooreenstem met die Skrifte. Van die staanspoor af het God sy katolieke, wêreldwye kerk op die oog gehad, ’n kerk uit alle stamme, tale en nasies.

Jakobus doen ’n voorstel voor ’n uitspraak wat deur die vergadering aangeneem word. "Daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie". Respekteer die werk van die Here onder die heidene. Prys God daarvoor. Daar kom hulle, heidene wat hulle tot God bekeer. God het hulle harte en gedagtes vernuwe. Dit het hulle in beweging gesit. Hulle voeg hulle by die christelike kerk. Hulle gaan binne die poorte van God se stad. Hulle is al binne. Hulle is gered. Laat ons nie ligvaardig daaroor dink dat heidene die Here Jesus as hul verlosser aanneem nie.

Dit moet eens en vir altyd besluit word dat ons geen ander las op hulle mag plaas nie. Geen verdere hindernisse op hul pad nie. Hulle kom binne deur die deur van die geloof en as hulle eenmaal binne is leef hulle deur geloof alleen.

Maar, geliefdes, hoe moet ons dan die vier reëls beskou wat Jakobus in sy voorstel noem? Ons moet inteendeel "aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed".

Beteken dit dat ons terug by af is? Noem Jakobus dan agteraf tog ’n deel van die wet as noodsaaklik vir die heil? Lê hy die vier reëls op hulle as minimale vereistes om volwaardige christene te kan word?

Beslis nie! Jakobus het die christene uit die heidene beskerm teen die wettisisme van hul broeders, die Judaiste. Hulle hoef nie die wette van Moses te onderhou om gered te word nie. Jy hoef nooit dit of dat te doen om gered te word nie.

Jakobus wil die christene uit die heidene nou ook teen hulself beskerm. Hulle lewe in ’n heidense omgewing. Daardeur word hul vryheid in Christus bedreig deur sedeloosheid, wêreldse praktyke. Wanneer jy jou tot die lewende God bekeer dan wil jy nie tot die dien van afgode terugkeer nie. Die 4 elemente wat Jakobus noem het betrekking op die afgodediens.

Heidene verlang ook na vreugde en voorspoed. Daarom soek hulle gemeenskap met hul gode. Waar doen hulle dit en hoe? In en deur hul godsdienstige rituele en seremonies.

Hulle wil hul met hul gode versoen. Ja, selfs met hul gode een word. Op die manier, dink hulle, kan hulle van die bose geeste, van dood en kwaad, bevry word.

Jakobus adviseer: keer nie terug na die afgode nie. Breek met die heidense afgodediens, met die heidense rites en seremonies. Hoe kan ’n mens die dinge doen nadat hy hom tot die lewende God bekeer het? Die heidense religieuse besigheid verontreinig die lewe. Jy word daardeur besmet. Daarom, bly weg van die offermaaltye in die heidense tempels. Onthou jou van afgodsoffers. Bly ook weg van die tempel prostitusie waarby mense die sogenoemde heilige huwelik met die godheid vier. Hulle het dit gesien as ’n uitgelese middel om gemeenskap met die gode te hê.

Dan is daar die vlees van verwurgde diere en bloed. Die heidene sê van beide dat hulle goddelike kragte bevat. Daarom word dit geëet en gedrink om met die gode in kontak te kom. So was daar die heilige dronkenskap waarby mense wyn gemengd met bloed gedrink het, ekstase, dat jy deur die gode besete raak.

Vers 20 is duidelik vir hulle wat die heidense praktyke ken. Die gelowiges uit die heidene weet daar alles van. Die losbandigheid en sedeloosheid in die heidense tempels is besmetlik. Hulle moet daarvan wegbly om nie weer slawe te word nie, slawe van hul sondige begeertes.

Gemeente dit is die beslissing wat Jakobus voorstel. Hy kyk na twee kante toe. Hy wys die wettisisme van die Judaiste af, maar ook die goddeloosheid van die heidene. Die advies van Jakobus bly waardevol ook vir vandag. Die kerk word nog steeds bedreig deur beide wettisisme en losbandigheid. Laat niemand ’n juk op jou skouers lê nie: jy moet dit doen en dat nalaat om gered te word, om ’n volwaardige christen te word nie. Nee, jy word gered deur Christus alleen, deur genade alleen en deur geloof alleen. Eer God se woorde en dade onder die heidene. En prys Hom daarvoor.

Aan die ander kant, sorg daarvoor dat jy nie verlei word om die mode van die dag te volg. Elkeen adem in die ongeestelik lug van die moderne wêreld met sy baie afgode. Onthou jou van die afgodediens, die dien van jouself, van menslike gevoelens of menslike vermoëns. Volg nie die ongelowige wêreld in sy jag na geluk en voorspoed nie. Volg die Here Jesus Christus. Neem sy juk op jou en leer van Hom en julle sal rus vind vir julle siele. Want sy juk is sag en sy las is lig. Dis die boodskap waaraan ons mekaar as kerke steeds weer moet herinner sodat ons ware christelike kerke mag bly. Kerke wat gebou is op die een fondament: Jesus Christus soos Hy homself geopenbaar het in die Skrifte.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)