Daar is slegs uitsig as God self ingryp.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-04-30
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 5
Preek Inhoud: 

Sondag 5
Ds C Kleyn - Sondag 30 April
2000

Lees: Jesaja 59; Sondag 5.
Sing: Ps 107:1,5,6; Ps 107:8-10;
Ps 98:1,2; Ps 75:1-4; Ps 69:12-14.

Tema: Daar is slegs uitsig as God self ingryp.

  1. Die roep uit die nood;
  2. Die oorsaak van die nood;
  3. Die oorsaak van verlossing.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

As ’n mens sondag 5 lees, dan lyk dit baie
logies geredeneer. Ons bely immers: langs die pad kan dit nie,
langs die ander pad ook nie, dus alleen langs hierdie pad. Die
vraag kan gestel word: is die Kat nie te verstandelik besig nie?
Lyk dit nie asof die mens deur sy eie redenasie by God uitkom nie?
Lyk dit nie asof die mens God hier voorskryf hoe Hy moet handel
om ons te red nie? Lyk dit nie asof die hoogmoedige mens aan die
woord is, die hoogmoedige mens wat die pad van verlossing deur sy
eie logika uitdink nie?

Vergeet nie, broeders en susters, wie hier aan
die woord is. Wie is hier aan die woord? Die gelowige; u en ek.
Die gelowige wat die skitterende belydenis van sondag 1 reeds
uitgespreek het: "my enigste troos is dat ek aan my getroue
Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed
vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van
die duiwel verlos." Ek die gelowige is hier aan die woord,
die verloste gelowige, wat verwonderd is oor my verlossing.
Daarom wil ek die pad van die verlossing ook naloop en uitspel.

In Sondag 5 kom ons dus nie deur redenasie by
Christus uit nie. Nee, ons gaan van Christus uit. Ons gaan uit
van die enigste troos in lewe en in sterwe. Ons wil des te
gelukkiger in die enigste troos lewe. Daarom volg ons met vreugde
die pad wat God tot ons verlossing gegaan het. Daarom gaan ons
die pad van God se liefde na. Waarom het God die pad gekies?
Waarom het Hy sy Seun mens laat word? So wil Sondag 5 die
pragtige lyne van God se verlossingswerk laat sien. Tot eer van
God, wat die ongekende weg gegaan het. God, wat die onmoontlike
moontlik gemaak het. Om ons te red. As ek so God se pad van
verlossing uitspel, dan is dit geen droë, verstandelike
besigheid nie. Dan is Sondag 5 ’n juweeltjie. Ek sien God se
heerlikheid skitter. En tegelykertyd die grootheid van my
verlossing. Die verlossing blyk dan geen goedkoop saak te wees
nie. Kyk maar na alles wat daarvoor moes gebeur. Wie sou na so
’n Sondag God nie loof vir so ’n verlossing nie?

Laat ek dan vir u mag verkondig: daar is slegs
uitsig as God self ingryp.

  1. die roep uit die nood;
  2. die oorsaak van die nood;
  3. die oorsaak van verlossing.

Hoe kan ons van God se straf bevry en weer in
genade aangeneem word? Dis ’n vraag wat baie mense besig hou.
’n Vraag wat die nood van die lewe oproep. Ieder mens voel
wel aan dat hierdie lewe nie volmaak is nie. Daar is nog soveel
gebrokenheid. Ons werk word dikwels afgebreek, stukkend gemaak.
Daar is rampe, teenslae. Daar is onenigheid en stryd. Siekte en
dood. Daarom is mense ook massaal op soek na die verbetering en
die verlossing van die lewe. Elkeen soek ’n uitweg uit die
nood.

Daarom het ons die groot godsdienste van die wêreld.
Baie sien die nood as straf van die gode en probeer die guns van
hul gode te wen. In die bybel lees ons van die primitiewe
heidense godsdienste. Dink aan die Kanaäniete in hul dien van
die Baal. Die mense het gedink dat hulle van hul baal afhanklik
was. Gestel dat Baal hulle sou afwys, dit sou ’n ramp vir
hulle wees. Daarom doen hulle allerlei dinge om hul god gunstig
te stem. Hulle bring offers en vervul allerlei rituele. Om hul
god tevrede te stel en iets van hom gedoen te kry.

’n Beskamende voorbeeld van die dien van
Baal sien u in die geskiedenis van Elia op die Karmel. Dit is
selfs Jode wat daar as priesters van Baal optree. Hulle dans
rondom die altaar en roep van die more tot die middag: "o
Baal, gee ons antwoord." En as Baal geen antwoord gee nie,
dan gaan hulle in die middag nog harder roep en gaan hulle,
volgens hul gebruik, hulself met swaarde en spiese stukkend kerwe
tot die bloed op hulle uitspuit. Hulle raak selfs in
geesvervoering. Maar hulle kry geen antwoord nie. U weet hoe dit
afgeloop het. In antwoord op die gebed van Elia het God
onmiddellik vuur laat neerdaal, wat die brandoffer en die hout en
die klippe en die stof verteer het, ja die water wat in die sloot
was opgelek het. Toe die volk dit sien het hulle uitgeroep: Die
Here, Hy is God, die Here Hy is God. (1 Kon 18).

Waarom noem ek hierdie geskiedenis? Omdat
hierdie geskiedenis wys hoe die afgodsdienaars allerlei dinge
doen om hul god gunstig te stem, hulle kerf selfs hul eie liggame
om te probeer om die aandag van hul god te wen. In feite is dit
nog so by die groot godsdienste van die wêreld. By al die
godsdienste sien ons dat die mens uiteindelik homself moet verlos.
Die oosterse godsdienste soos hindoeïsme en Boeddhisme probeer
dit te doen via meditasie of askese, deur selfverloëning en
selftug, deur jouself te onthou van allerlei aardse genietinge.
Langs die pad sou ’n mens na die lewe bevry kan word van die
kringloop van re-inkarnasie en so ook van die kringloop van die
lyding wat alle bestaan kenmerk.

In die Islam probeer mense om dit te bereik
deur ’n absolute onderwerping aan die wil van Allah.
Fanatieke volgelinge van Allah is selfs bereid om hul lewe te gee
in die sogenoemde heilige oorlog om so by hul god in die guns te
wees.

Wat nou so erg is, gemeente, is dat God se eie
volk ook dikwels so gedink en gehandel het. Hulle het gedink dat
hulle God aan hul kant kon kry deur die bring van offers in die
tempel. Of hulle het gedink dat hulle God se guns moes wen deur
hul nougesette gehoorsaamheid aan sy wet. So tipeer Christus die
Jode van sy dae as mense wat onder ’n ondraaglike las gebuk
gaan. Hulle sou van alles moet doen om weer in genade aangeneem
te word. ’n Ondraaglike las. ’n Uitsiglose saak. Daarom
roep Christus die vermoeide lasdraers na hom toe in Mt 11:28:
"Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal
julle rus gee."

Broeders en susters, as ’n mens goed
luister, dan hoor hy voortdurend die roep uit die nood. Mense is
op soek na verlossing. Hulle gryp na uitweë wat hulle self
bedink. Hulle beywer hulle om die wêreld te verbeter of om die
gode aan hul kant te kry. Die humanisme en die heidendom ontmoet
mekaar: beide dink dat hulle self hul toekoms moet waarborg,
beide probeer ook om dit self te doen.

In die gelese skrifgedeelte uit Jesaja hoor ons
ook die roep uit die nood. Die eerste vers gee dit al aan. Jesaja
moet die Jode korrigeer wanneer hy sê: "Kyk, die hand van
die Here is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar
om te hoor nie." Blykbaar vra die volk: kan die Here nie
meer red nie? Is dit te moeilik vir hom? Of wil God nie en is Hy
horende doof? Waarom laat Hy ons in die nood sit?

Hulle dink dat hulle reg het om die vraag te
stel. Hulle is tog godsdienstig? Hulle vervul tog al hul
godsdienstige verpligtings? Ja, dit doen hulle almal en tog
luister die Here nie. Dit lyk asof Hy hulle nie hoor nie. So kyk
hulle dan rondom hulle. Hulle sien die ellende waarin hulle
verkeer. Hulle is verbysterd dat die Here nog met sy verlossing
wegbly. Hulle vra wanneer die nuwe dag gaan kom. Wanneer dit
eindelik ligter sal word. Of om dit met ’n ander beeld te sê,
hulle voel hul hopeloos siek en daar kom maar geen redding nie.
Van kop tot toon voel hulle hul ellendig, maar God kom nie om
hulle te genees nie.

Hulle brom as bere, en soos duiwe kir hulle
aanhoudend, maar dit help niks nie. Hul konkludeer daaruit: God
kan nie en wil nie. Hulle het hul bes gedoen. Dan moet die
probleem tog byGod lê?

Nou die tweede van die preek: die oorsaak van
die nood.

Sou dit werklik God se skuld wees dat mense
vasloop in die nood? Dat hulle in die duisternis wandel? Die
profeet wys op die oorsaak van die nood. Dit lê werklik nie by
die Here nie: Kyk, die hand van die Here is nie te kort om te
help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie. God kan en
wil dit. Nee, dit is die skuld van die volk: "maar julle
ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en
julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg,
sodat Hy nie hoor nie."

Daar lê nog ’n skuld wat nie afgelos is
nie. Dit lê nog as ’n skeidsmuur tussen hulle. Die Here
laat nie slegs weet dat Israel gesondig het nie. Hy gee ook
noukeurig aan watter sondes hulle gedoen het. Hy noem die sondes
by hul naam. Lees maar Jes 59:3-8. Hulle hef hul hande tot God in
gebed. Maar dieselfde hande doen allerlei onreg. Met hul lippe en
tong bid hulle tot God. Maar dieselfde tong spreek ook leuen. Op
grond van valse aanklagte sleep hulle mense voor die gereg.
Basilisk eiers broei hulle, as t ware, uit en spinnerakke weef
hulle. Dit wil sê, hulle besorg onheil aan die naaste. Hul
optrede is vernietigend vir diegene met wie hulle te doen het.
Hulle is daarop uit om mense te tref, hulle te vang. Daar makeer
dus baie aan die omgang van die mense met mekaar. Die weg van
vrede ken hulle nie. Die goeie harmonie is ver soek. Hulle saai
eerder verdeeldheid as wat hulle die onderlinge vrede bevorder.

Gemeente, in Rom 3 haal die apostel hierdie lys
van sondes aan. Waarom doen hy dit? Hy doen dit om duidelik te
maak hoe diep die menslike geslag gesink het. Alle mense blyk
sondaars te wees, leuenagtig. Daar is niemand wat goed doen nie,
daar is selfs nie een nie. Waarom noem Paulus dit? Sodat ons ons
praatjies vir onsself sou hou: "sodat elke mond gestop en
die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees." (Rom 3:19).
Paulus praat in Rom 3 dus in die algemeen. Tog moet u daarop let
dat die woorde van Jes 59 juis gerig is tot die volk van God. God
se volk word hier aangespreek op sy sonde. Dink u dat dit nou
onder God se volk meeval? Dat u en ek nou vryuit gaan?

Laat ons dink aan die beeld van die uitbroei
van eiers van giftige slange en van die weef van spinnerakke. Sou
dit onder ons nie voorkom nie? Hoe dikwels gebeur dit nie dat ons
mekaar tog pynlik tref, dat ons, om watter rede ook, mekaar wil
vang, dat ons mekaar verneder. Die tong van bekeerde mense blyk
allermins volmaak te wees, laat staan dat ons hart, ons motiewe,
volkome suiwer sou wees. Te dikwels moet ons in ons eie lewe
ontdek dat ons weer in diens van die leuen gestaan het. Ook as
ons die goeie doen blyk die kwaad aanwesig te wees. En wie op een
punt struikel is skuldig aan die hele wet. Van die mens kan ons
dus geen verlossing verwag nie. Ons maak die skuld juis elke dag
nog groter.

Vind u dit oordrewe? Dit is dan juis ’n
bewys van die waarheid van die woorde. Ek is immers dan besig om
myself te oorskat. Ek is besig om my ore te sluit vir dinge wat
ek liewer nie wil hoor nie. Dit is immer nie plesierig om te hoor
dat ek weer gefaal het nie. Ek wil graag self iets hê om aan te
bied.

Die skrif leer egter duidelik dat ons moet
begin met die besef van eie skuld. Hoor die skuldbelydenis van
Jes 59:12,13: "Want ons oortredinge is baie voor U, en ons
sondes getuig teen ons; want ons oortredinge staan voor ons, en
ons ongeregtighede – ons ken hulle: die afval en verloëning
van die Here en afwyking van agter onse God; die uitspreek van
verdrukking en oortreding, die opneem en uitstoot van leuentaal
uit die hart."

Eers as ek my skuld besef, kan ek werklik kom
tot die dien van die Here. Eerlike erkenning van skuld –
sonder myself te wil handhaaf – bewaar vir goedkoop,
oppervlakkige godsdienstigheid. Ek besef dan dat die verlossing
allermins ’n goedkoop saak is. Watter prys moes nie daarvoor
betaal word nie? Self kan ek niks betaal nie. Die pad van benede
uit is onmoontlik. My skuld word alleen daagliks groter.

Die geskiedenis van Israel is as ’n rooi
lig, ’n waarskuwing op die pad van elke poging van mense om
hulself te red. Ondanks alle pogings van mense ook vandag om
hulself en die wêreld te red, sien ons die toestand slegter word.
Die leuen word alleen maar erger. Die koms van die valse profeet
word voorberei. As ’n mens homself wil red dan loop hy dood.
Dan is daar geen uitsig nie. Dis die doodsteek vir alle humanisme.
Mense, vergeet dit maar, as jy nog dink dat jy ’n plek in
die hemel kan kry deur ’n deugsame lewe, deur goed te doen
of goed te wees vir ander. Wat praat jy daarvan om elkeen die
syne gee, as God nie elke dag die syne ontvang?

Maar, gemeente, wat van ’n sterk man,
’n held, ’n ster?. Sou so ’n persoon my nie kan
verlos nie? Ook die pad is afgesluit. Geen mens, hoe sterk en wys
ook, kan van benede uit tot God opklim nie. Laat staan dat hy
ander sou kan saamneem. So ’n persoon het self meer as
genoeg aan God se ewige straf. Dit beteken sy ondergang. Sy ewige
ondergang. Van benede uit kan ons geen hulp verwag nie. Dit moet
van bo gegee word.

Dit bring ons by die derde punt: die oorsaak
van die verlossing.

Jes 59 laat sien dat daar vir Israel van benede
uit geen uitweg is nie. Daar is enkel duisternis. Die Here sien
dit en Hy kan dit nie verdra dat daar geen reg is nie. Eers kyk
Hy nog rond om te sien of daar onder die mense iemand is wat
tussenbei kan tree, ’n middelaar. Maar daar is geen nie. Die
mens is volkome van Hom afhanklik, van sy ingryping. Dan eers kan
daar verlossing kom. Ons lees in vers 16 ev: "daarom het sy
arm Hom gehelp en sy geregtigheid het hom ondersteun. Hy het
geregtigheid aangetrek soos ’n pantser, en die helm van heil
was op sy hoof; en die klere van wraak het Hy aangetrek as
kleding" om sy vyande te vergeld. Soos ’n volkome
toegeruste soldaat kom die Here om sy taak te volbring.

Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die
wat in Jakob hulle bekeer van oortreding (vers 20). God se volk
het gekla: God is blykbaar nie in staat om ons te red of Hy wil
dit nie. Nou sien ons: God kan dit en wil dit. Waar die mense ten
einde raad is, daar sorg God vir raad. Hy gryp in. Sy hand is nie
te kort om te help nie. Hy is almagtig om te red. Hy skenk ’n
middelaar. Sy Seun, ons Here Jesus Christus. God en mens in een
Persoon. Hy kan red. Hy word mens deur God se almagtige ingryping:
een met sy volk; maar ook ’n sondelose mens: Hy het immers
geregtigheid aangetrek soos ’n pantser, Hy het die wil van
die Vader gedoen. Hy is ook God: Hy kan die straf van God uitdra
sonder dat Hy ewig daaraan kapot gaan. Hy kan op ’n sekere
oomblik sê: dit is volbring. Hy kon opstaan uit die dood. So kan
Hy ook ander verlos. God self sorg vir verlossing. Die ongekende
word waar, die onmoontlike word moontlik gemaak deur God.

Nie van benede uit nie, maar slegs van bo. Daar
is immers alleen uitsig as God self ingryp. Prys die naam van die
Here. Wie sou nie juig met so ’n verlossing nie, ja, met so
’n verlosser? Die lig het gekom in die duisternis. Deur
Jesus Christus, God se eniggebore Seun ons Here. Die Lig van die
wêreld.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)