Op Paasfees stuur God sy boodskapper vanuit die hemel om sy boodskappers op aarde te aktiveer.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-04-23
Teks: 
Matthéüs 28
Preek Inhoud: 

Matthéüs 28:1-7

Ds C Kleyn -
Sondag 23 April 2000

Lees: Openbaring 6:9-17; Matthéüs 27:62-28:20.
Sing: Ps 98:1,2; Ps 98:3,4; Ps 21;1-3; SB 9:1,4,5;
SB 10.

Tema: Op Paasfees stuur God sy boodskapper vanuit die
hemel om sy boodskappers op aarde te aktiveer.

  1. Die verskyning van die hemelse boodskapper.
  2. Die aktivering van die aardse boodskappers.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons mag vandag ’n wonderlike fees vier: Christus het
opgestaan! Ons Here Jesus leef! Sou jy nie oor hierdie
werklikheid entoesiasties wees nie? In sekere sin kan ons sê dat
Pase een van die mees vreugdevolle feesdae is van die christelike
feesdae. Meesal kry kersfees die meeste aandag. Dink maar aan die
jaarlikse kerskonsert of kersfeesviering met die kinders van die
skool. Tog is kersfees slegs ’n begin: Christus het in
hierdie wêreld gekom as baba van Maria. Paasfees gee egter aan
die voltooiing van Christus se werk van verlossing. Paasfees is
werklik ’n fees van oorwinning. Paasfees is by uitstek die
christelike fees. Jesus het opgestaan! Jesus leef! Sou jy dit dan
nie saam met ons vier nie?

Maar, gemeente, as ons die feite van Pase vier, stel die sober
beskrywing van hierdie gebeure in die Evangelies ons dan nie
teleur nie? Dit, wat tydens Pase vir ons so belangrik is, naamlik
dat Christus opgestaan het uit die dood, wat word daaroor gesê?
Matthéüs gee ons nie ’n verslag van Christus se opstanding
nie. In plaas daarvan lees ons van die optrede van vroue wat na
die graf toegaan. Ons lees van ’n engel wat neerdaal uit die
hemel en van verskrikte wagte. Maar waar is Jesus Christus, wat
opgestaan het? Waar is die verslag van sy opstanding? Is dit nie
vreemd en teleurstellend nie? Matthéüs beskrywe dit wat buite
die graf gebeur. Maar ons wil graag hoor van die wonder wat in
die graf gebeur het. Ek hoor egter van vroue wat na die graf
toegaan maar nie van Jesus wat uit die graf uitgaan nie? Moet ons
hoor van die wagte wat soos dooies word en nie van Jesus wat weer
uit die dood opstaan nie?

Mense het dikwels die stilte mbt die wonder van Christus se
opstanding as ’n gemis gesien. Baie het die stilte met hul
fantasieë probeer vul. Hulle het geprobeer om te rekonstrueer
wat presies in die graf gebeur het toe Christus uit die dood
opgestaan het. Daar is selfs ’n apokriewe evangelie na
Petrus genoem wat die leegte probeer vul.

Matthéüs gee ’n sober verslag van dit wat op die Paasmôre
gebeur het. ’n Engel daal uit die hemel neer en rol die
steen voor die opening van die graf weg. Waarom doen die engel
dit? Is dit om die opgestane Heer uit die graf te laat gaan? Dit
word nie genoem nie. Dit lyk eerder asof die verband op iets
anders wys, naamlik dat die engel neergedaal het terwille van die
vroue, terwille van hul getuienis. Dit dui daarop dat die engel
die steen nie weggerol het om Jesus uit die graf te laat nie,
maar om die eerste getuies in die graf in te laat.

Jesus Christus het uit eie krag opgestaan uit die dood. Hy kan
die graf ook uit eie krag verlaat. Hy het niemand daarvoor nodig
nie. Vergelyk wat hy gedoen het op die Paasaand toe hy verskyn
het aan die elf. Terwyl die deure waar die dissipels vergader het
gesluit was, het Jesus sommer gekom en in hul midde gestaan (Joh
20:19). Die Here het die graf verlaat op sy eie manier. Niemand
het dit gesien nie. Die wagte wat daar by die graf geplaas was om
die liggaam te bewaak het ook niks gesien nie. Wat ’n gelag!

Die woorde van Ps 2 is hier van toepassing: "Hy wat in
die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. Dan sal Hy hulle
aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik;
Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg." (Ps
2:4-6). Die owerpriesters en Fariseërs word blootgestel in hul
dwaasheid. Hulle het gedink dat hul nou eindelik alles onder
beheer het. Hulle het ’n wag gekry om oor die graf te waak
sodat niemand die liggaam van Jesus sou kon steel en kon sê dat
Jesus opgestaan het uit die dood nie. Hulle het die graf laat
verseël. Aan die buitekant het hulle die graf verseker en bewaak.
Hulle het van buite af gevaar verwag.

Maar wat gebeur nou op die Paasmôre? Christus verlaat die
graf sonder dat die wagte iets daarvan sien. En ’n engel van
die Here rol sommer die steen weg en gaan daarop sit. Die soldate
bewe van vrees. Hulle word soos dooies. Al die voorsorgmaatreëls
van die Joodse leiers beteken niks as God ingryp nie.

Wanneer Christus se liggaam opgewek is en hoe dit gebeur het
word nie vermeld nie. Niemand het dit gesien nie. Daardie wonder
bly werklik ’n wonder. Tog is daar geen twyfel dat dit
gebeur het nie. Daarom daal die engel uit die hemel neer en rol
hy die steen voor die opening weg.

Op pad na die graf het die vroue vir mekaar gevra: wie sal vir
ons die steen voor die opening van die graf wegrol? (Mk 16:3).
Wel, as hulle by die graf aankom blyk dit geen probleem te wees
nie. Die engel het die graf al vir hulle oopgemaak. Die engel het
ook die wagte vir hulle weggestuur. In paniese angs het hulle na
die stad gevlug om aan die owerpriesters alles wat gebeur het te
vertel. Die vroue kan sonder enige belemmering die graf binnegaan.
Hulle kan vir hulself gaan kyk. Die graf is leeg. Christus het
opgestaan soos Hy gesê het.

God het die graf geopen om sy eerste getuies, die vroue, binne
te laat. Hy het dit geopen vir jou en vir my. Sodat ons sou weet
dat die liggaam van Jesus nie gesteel is nie maar teruggekeer het
tot die lewe. Die getuienis van die eerste getuies is later
bevestig deur die apostels Petrus en Johannes. Dit is bevestig
deur Jesus Christus self en verkondig in die wêreld. Inderdaad,
die Here het opgestaan, Hy leef.

Gemeente, laat ons nou nader let op sommige besonderhede van
ons teks. Ek wil die boodskap as volg saamvat: Op Paasfees stuur
God sy boodskapper vanuit die hemel om sy boodskappers op aarde
te aktiveer.

  1. Die verskyning van die hemelse boodskapper.
  2. Die aktivering van die aardse boodskappers.

Mattheüs vra die aandag vir sommige opvallende details. In
die oorspronklike teks begin vers 2 met die woorde: en kyk daar
was.. Mense let goed op daar was ’n groot aardbewing.

Waarom was daar ’n aardbewing? Was dit om die graf oop te
maak soos op Goeie Vrydag? Op goeie Vrydag, toe Jesus gesterf het,
het die aarde ook gebewe en het die rotse geskeur lees ons in
Matthéüs 27:51-52. En die grafte het oopgegaan en baie liggame
van die ontslape heiliges het opgestaan. Christus het getoon dat
sy dood lewe vir die gelowiges beteken.

Op die Paasfees is daar opnuut ’n aardbewing. Die aarde
skud hewig. Waarom? Om die graf oop te maak? Nee, nie hierdie
keer nie. Ons lees in die teks: want ’n engel van die Here
het uit die hemel neergedaal en gekom en die steen voor die
opening weggerol en daarop gaan sit. Die aardbewing kondig dus
die koms aan van die engel van die Here. Die Here wil duidelik
maak dat Hy Self in aksie kom. Hy wil sy eie koms aankondig.

As die Here verskyn dan bewe die aarde. Ons sien dit by
verskillende geleenthede in die geskiedenis. By verskillende
beslissende geleenthede. Dink maar aan die verskyning van die
Here op die berg Sinai. Toe die Here neergedaal het op die berg
Sinai was daar donder en weerlig. Die hele berg het vreeslik
gebewe. In ons teks is daar ook ’n groot aardbewing en
’n verskyning soos weerlig. God kondig sy koms aan. Die
engel is nie net enig iemand nie. Die engel is God se boodskapper.
Hierdie belangrike oomblik in die geskiedenis moet publiek
aangekondig word. Deur middel van die aardbewing berig God sy
volk dat ’n geweldige ding gebeur het en besig is om te
gebeur. Mense let goed op. God Self is in aksie.

Gemeente, hierdie aardbewing berei jou en my voor op die baie
aardbewings wat volg. Aardbewings sal die wederkoms van Christus
voorafgaan. Hulle herinner ons aan die feit dat Christus besig is
om te kom. Hulle berei ons ook voor op die groot en laaste
aardbewing. In Hebreërs 12 vergelyk God wat gebeur het by die
berg Sinai met wat gaan gebeur aan die einde van die dae. Ons
lees: Toe (dws by die berg Sinai) het sy stem die aarde geskud;
maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen
die aarde nie, maar ook die hemel bewe. (Hebr 12:26).

Ons lees van die laaste aardbewing in Openb 6. As Christus die
6e seël oopmaak dan is daar ’n groot aardbewing. Dit is op
die dag van die toorn van die Lam, die laaste dag. Dan sal die
konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes
en die magtiges en al die slawe en al die vrymense hulle wegsteek
in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge
en die rotse sê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van
Hom wat op die troon sit en vir die toorn van die Lam. (Openb 6:
12-17).

As die hemelse boodskapper op die Paasmôre op die aarde kom
dan is daar ’n groot aardbewing. God gryp in. Die hele
skepping is betrokke by wat op die Paasfees gebeur. Die
aardbewing laat mense skrik. Die grond waarop jy staan is nie
meer so vas as wat jy gedink het nie. Gewoonlik voel ons ons
veilig hier op die vaste land. Nadat jy op see gevaar het of
gevlieg het is dit meesal ’n plesierige ervaring om weer op
vaste grond terug te wees. Maar dan skud die aarde. Die grond rol
soos die golwe van die see. Daar is geen vaste grond meer waarop
jy kan staan nie. Jy voel jouself dan vreeslik klein en onseker.
Jou laaste vesting verdwyn. Geen wonder dat mense verskrik raak
nie. Die hele basis van ons menslik bestaan skud. God skud ons op
ons fondamente.

Maar, gemeente, die aardbewing op Pase en al die aardbewinge
wat daarop volg het nie ten doel om God se volk te verskrik nie.
God se aardbewings is daar om jou daaraan te herinner dat jou
Koning, Jesus Christus, besig is om terug te kom. Wanneer die
volle heil kom, sal die hele aarde geskud word. Die aardbewing op
die Paasfees is ’n profesie van daardie heil. Vir hulle wat
glo is dit ’n belofte van die laaste dag.

Gemeente, die hemelse boodskapper gaan na die graf, rol die
steen weg en gaan daarop sit. ’n Skitterende beeld op daar
die Paasmôre. Dit het gelyk asof daardie steen ’n hindernis
was. Die Joodse leiers het gedink dat hulle met die verseëlde
steen Jesus se liggaam in die graf sou kon hou. En die vroue het
gedink dat die steen hulle sou verhinder om in die graf te kom om
Christus se liggaam te versorg. Wanneer God ingryp dan blyk
daardie menslike hindernisse heeltemal geen hindernis te wees nie.
Christus verlaat die graf sonder probleem. Die engel rol die
steen weg van die opening en sit daarop. Die vroue kan vrylik
binnentoe gaan.

Matthéüs vra ook ons aandag vir die verskyning van die
hemelse boodskapper. "En sy gedaante was soos weerlig en sy
kleding wit soos sneeu." Waardevolle details. Beide gee aan
dat dit ’n hemelse verskyning is. Die engel is so skitterend
soos weerlig. In Matthéüs 24 vergelyk Jesus sy koms met die
weerlig: "Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en
tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die
mens wees." (Mt 24:27). Sy koms sal gepaard gaan met
donderslae en bliksemstrale en ’n groot aardbewing lees ons
in Openb 16:18. Dit sal dan die klimaks van die toorn van God
wees. Dit sal die finale uitstorting van sy toorn wees. Dan sal
alles verby wees. Wie nie glo nie sal dan geraak word deur die
bliksemstrale van God, wat sy heerlikheid vergesel.

Op die Paasfees is dit nog nie sover nie. Die maaiers is nog
nie uitgestuur om die oes in te samel nie. Die oes is nog nie ryp
nie. Die evangelie van Pase moet eers uitgaan en as saad gesaai
word. Die wêreld is die akker.

Intussen word die wagte soos dooies wanneer hulle God se
heerlikheid in die oë staar. Hulle is verlam van vrees. Wanneer
hulle van die eerste skok herstel het vlug hulle paniek bevange
na die stad toe. Dit is wat gebeur met mense wat Jesus in die
graf wil hou. As jy weier om die Erekoning te erken dan sal jy
verskrik word wanneer die hemel oopgaan en God se boodskapper
verskyn. Die verskyning van so ’n hemelse boodskapper is dan
teveel vir jou. Jy kan so ’n heerlikheid nie in die oë kyk
nie. Dit is soos ’n verterende vuur. Want God self verskyn
deur middel van sy engel. En God is ’n verterende vuur vir
almal wat Hom afwys (Hebr 12:29).

Op die Paasmôre is daar nog ’n moontlikheid van
ontsnapping. Hulle wat geen relasie met die opgestane Here het
nie kan nog vlug. Dit is nou nog die tyd van genade. Op die
laaste dag, as Christus terugkom, sal dit anders wees. Dan sal
daar geen ontkoming wees nie. Dan sal God nie alleen die aarde
nie maar ook die hemel laat bewe. Dan sal hulle wat die Here
Jesus nie aanvaar het as hul Verlosser nie vir die berge en die
rotse sê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat
op die troon sit en vir die toorn van die Lam; want die groot dag
van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan? (Openb 6:16,17).
Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God (Hebr
10:31).

Op die Paasfees is dit egter nog nie sover nie. Die evangelie
van die Pase moet nog versprei word. Daarom aktiveer die hemelse
boodskapper aardse boodskappers. Dit is die tweede gedagte van
die preek.

Die engel het geen boodskap vir die wagte nie. Hy laat hulle
vlug. Die engel het egter wel ’n boodskap vir die vroue.
Blykbaar is die vroue ook verskrik. Ons kan dit verstaan. Wie sou
nie vrees as God verskyn nie. Maar hulle vrees is ’n vrees
van hulle wat opreg die Here soek. Hul liefde vir die Here is
duidelik sigbaar. Vroeg in die oggend vertrek hulle na waar hulle
denk dat Jesus lê, om sorg te dra vir sy dooie liggaam, om hom
hul laaste eer te bewys.

Vir hierdie vroue wat regtig die Here liefhet sê die engel:
Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is.
Hiermee begin die Paasboodskap: Moenie vrees nie. Moenie bang vir
God wees nie. Moenie bang wees vir sy weerlig nie. Moenie bang
wees vir sy aardbewinge nie. Julle het die Here lief, is dit nie
so nie? Julle soek Hom tog. Wie jy ook is, wat jou agtergrond ook
mag wees (dink aan Maria Magdelena wat deur sewe duiwels besete
was en deur Jesus daarvan bevry moes word), wie jy ookal is, wat
jou agtergrond ook mag wees, as jy werklik die Here liefhet en
soek dan ontvang jy die Paasboodskap: moenie vrees nie. Want juis
met Pase is daar die boodskap: Jesus leef en Hy leef vir hulle
wat aan Hom behoort. Dit is nie nodig om te vrees nie, selfs nie
vir die dood nie.

Maar dan moet julle wel Jesus as die Lewende soek. Hy is nie
hier nie. Hy is nie in die graf nie. Dit is ook ’n
belangrike boodskap vir ons. Te dikwels maak ons asof Jesus nog
in die graf is. Met ons verstand, met ons kennis van die Bybel en
die belydenisskrifte, weet ons dat Jesus leef en dat Hy almagtig
is om te red. Maar hoe gaan dit as ons gepla word deur sorge,
onsekerheid en spanning. Toon ek ook dan dat ek glo in Jesus wat
leef? Is daar nie soms of selfs dikwels vrees by ons asof Jesus
nie leef nie. Ons soek Hom, maar nie in geloof nie. Dit blyk
moeilik te wees om die Paasboodskap in die praktyk van die lewe
as ’n werklikheid te ervaar.

Die vroue word voorberei deur die engel wat sê: Hy het
opgestaan soos Hy gesê het. Hy leef. Die engel wys hulle
vriendelik tereg. Hy sê in feite: julle kon dit geweet het as
julle Jesus eie woorde ernstig opgeneem het. Die hemelse
boodskapper verwys die aardse boodskappers terug na die Woord.
Die Vader ken ons swakhede. Maar dit bly staan dat Hy gespreek
het. En dit moet jy glo. Want God gee daardie woorde nie verniet
nie. Die blaam is op ons dat ons dikwels maak asof die Woord van
God nutteloos is.

Hy het opgestaan, dit is die boodskap van Pase. Dit is die
boodskap wat die vroue moet verifieer. Kom kyk na die plek waar
die Here gelê het. Sien met julle eie oë dat dit waar is. Gaan
daarna haastig en sê vir sy dissipels: "Hy het opgestaan
uit die dode en gaan voor julle uit na Galilea. Daar sal julle
Hom sien."

Broeders en susters, om die boodskap van God te ontvang is
beide ’n voorreg en ’n verantwoordelikheid. Dit bevat
ook die plig om dit deur te gee. Toe die herders met Kersfees die
kind Jesus gesien het, het hulle oral die woord bekend gemaak wat
aan hulle van die Kindjie vertel is (Lk 2:17). Die blindes en die
kreupeles wat genees word, word Jesus se boodskappers. Met Pase
word die vroue ook as God se boodskappers geaktiveer.

Julle vier Paasfees nie slegs deur hier in die kerk te sit nie.
Om hierdie fees te vier hou ook in dat julle die boodskap
versprei dat Jesus leef. Dit hou ook in dat julle in jul woorde
en dade toon dat Jesus leef. Die Paasboodskap kan jou nie onbewoë
laat nie.

Die Paasboodskap moet deur die hele wêreld uitgesaai word.
Daarom moet die vroue op hul beurt die dissipels aktiveer. Hulle
moet hulle die Paasboodskap vertel en hulle instrueer om na
Galilea te gaan. Daar wil Jesus hulle ontmoet. Vanuit Galilea wil
die Here sy wêreldwye offensief begin. Daar ontvang die
dissipels die boodskap: Gaan dan heen, maak dissipels van al die
nasies. Die Paasboodskap is bestem vir die nasies, vir mense uit
alle volke en tale. Want God het voor oë die groot menigte wat
niemand kan tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale,
wat staan voor die troon en voor die Lam (Openb 7:9). En wat dra
hulle? Dieselfde klere as die hemelse boodskapper op Pase: wit
klere. Wit ’n simbool van reinheid en hemelse heerlikheid.

Dit, broeders en susters, is julle toekoms as julle jul laat
was deur die bloed van die Lam. Hoe vier julle dan Paasfees? Met
eerbied vir God se Woord? As verloste sondaars wat nie bevrees
hoef te wees nie? As boodskappers van die goeie nuus: Jesus het
opgestaan? Waarom het God met Pase ’n boodskapper uit die
hemel gestuur?

Om boodskappers op aarde te aktiveer. Om die vroue en die
dissipels te mobiliseer.

Om deur hulle ook u en my te mobiliseer.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)