Christus kondig aan die ontbinding van die pas gestigte gemeenskap.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-04-16
Teks: 
Matthéüs 26
Preek Inhoud: 

Matthéüs 26:31,32
Ds C Kleyn - Sondag 16 April
2000

Lees: Sagaria 13:7-9; Matthéüs
26:26-56.
Sing: Ps 62:1,4; Ps 37:1,2,3; Ps
118:7,8; Ps 118:11-13; Ps 146:1,8.

Tema: Christus kondig aan die ontbinding van
die pas gestigte gemeenskap.

Die ontbinding

  1. ontstaan vanweë die sonde van die
    dissipels
  2. ontstaan volgens die Skrifte
  3. word opgehef deur Christus alleen.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Netnou het ons enkele verse uit Ps 118 gesing.
’n Bekende messiaanse Psalm. Profesie van die lyding wat oor
Christus sou kom en van die heerlikheid daarna. In die Psalm lees
ons o.a.: "Ek sal nie sterwe nie, maar lewe en die werke van
die Here vertel. Die Here het my hard gekasty, maar my aan die
dood nie oorgegee nie." En: "Die steen wat die bouers
verwerp het, het ’n hoeksteen geword. Dit het van die Here
gekom; dit is wonderbaar in ons oë."

Kort voor sy sterwe het die Here Jesus daardie
lied gesing. Die messias het die lied oor homself gesing. Saam
met sy dissipels het Hy gesing van die verlossing wat Hy self
gaan bewerk. Ons lees immers kort voor ons teks dat hulle na die
Olyfberg uitgegaan het nadat hulle die lofsang gesing het. Met
die lofsang word bedoel die tweede deel van die sogenaamde Hallel
Psalms, die Psalms 114-118. Die sing van die lofsang was immers
’n onderdeel van die viering van die Paasfees.

Tydens die paasmaaltyd het Jesus die sakrament
van die nagmaal ingestel. ’n Tafel van gemeenskap. Hy het
die dissipels aan Homself en so ook aan mekaar verbind. Hy het
daarby gepraat oor die bloed van die nuwe testament, wat vir baie
uitgestort word tot vergifnis van sondes. Op grond van die bloed
verenig Hy die syne tot een gemeenskap.

Daarna sing hy met sy dissipels die lofsang,
die tweede deel van die hallel, waarin Hy die Here prys vir sy
dade van verlossing.

Direk na die daad van saambinding aan die
nagmaal, spreek Jesus die woorde van ons teks. Hierdie woorde
vorm ’n sterk teenstelling met die voorgaande woorde. Dis
woorde van ontbinding van die gemeenskap wat pas gestig is. Op
die pad van die paassaal na Getsemane sê Jesus vir die elf
dissipels dat hulle in die nag almal aan Hom aanstoot sal neem.
Hy weet uit die Skrifte dat die tyd daarvoor aangebreek het. Hy
weet dat dit in hierdie nag gaan gebeur. Want Hy lees sy program
uit die Skrifte. Daarom kan Hy die vlug van die dissipels al by
voorbaat aankondig. Hy self moet die heil wat Hy aan die nagmaal
gevier het en waarvan Hy gesing het deur die offer van sy lewe
verwerf. Daarom moet die swaard van die gerig teen Hom ontwaak en
moet sy Vader Hom dodelik tref. Daarom sal ook sy dissipels
verstrooi word en die pas gestigte gemeenskap uit mekaar geslaan
word.

Laat ons nou nader stilstaan by die woorde van
ons teks. Ek vat die teks as volg vir u saam: Christus kondig aan
die ontbinding van die pas gestigte gemeenskap.

Die ontbinding

  1. ontstaan vanweë die sonde van die
    dissipels
  2. ontstaan volgens die Skrifte
  3. word opgehef deur Christus alleen.

Onmiddellik na die tafel van gemeenskap kom die
gemeenskap self in ’n hewige krisis. Satan doen ’n
verwoede poging om die gemeenskap uit mekaar te slaan. Met al sy
energie werp hy hom op die elf dissipels wat oorgebly het. Hy
weet dat daarmee die toekoms van die kerk staan of val. Christus
gaan immers sy gemeente via die dissipels vergader. Dit kragte
van die toekomende eeu moet in hulle loskom. Daarom sal dit storm
in hierdie nag. Die vonke sal spat as t ware. Satan probeer om
die kragte van die toekomende eeu te breek. So lees ons in Lk 22
dat Jesus tot sy dissipels sê: "Kyk, die Satan het vurig
begeer om julle soos koring te sif" (Lk 22:31). Satan wil
die dissipels kry.

Jesus het immers in die hoëpriesterlike gebed
vir die dissipels gebid: "Ek bid vir die wat U My gegee het…
Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur
hulle woord in My sal glo." (Joh 17:9,20). So bind die Here
die hele kerk aan die woord van sy dissipels. Hy bring die hele
kerk vir die troon van sy Vader. Hy verlang na hulle.

Maar dan is daar ook Satan. Hy verlang ook na
hulle. Die begeerte word aangevuur deur Christus se verlange. Hy
wil almal wat aan Christus behoort vir homself wen. Hy wil hulle
almal tot sonde bring.

Hy kan niks met Christus begin nie. Tot nou toe
bly Christus staande en bly hy trou aan die opdragte van sy Vader.
Uit die instelling van die nagmaal blyk baie duidelik dat
Christus vasbeslote is om Hom vir die syne te gee Daarom keer
Satan hom nou teen die dissipels, die apostels van die toekoms.
As hy Christus nie van die gemeente kan skei nie, dan moet hy
maar probeer om die gemeente van Christus te skei. So begeer hy
om die apostels, die verteenwoordigers van die hele kerk te sif.
As daardie dissipels val, dan sal daar ’n wig kom tussen die
gemeente en Christus. Dan sal die bron van die kerk toegemaak
word, dan sal die fondament van die kerk opgebreek word. Ja, dan
sal Jesus verniet aan die kruis hang en sy bloed verniet vloei.
Want dan sal die herder sonder skape wees. Dan sal ook die 24
trone rondom God se troon vakant bly vir wat betref die 12 trone
vir die apostels. Die twaalf apostoliese stoele sal leeg bly en
die 12 aartsvaders sal ook geen reg op ’n troon hê nie. Dan
wankel alles in hemel en op aarde.

Daarom soek satan hulle almal. En dan kondig
Jesus aan: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My.
Ons moet oppas dat ons nie die woorde van Jesus verswak deur te
doen asof daar staan: julle sal almal van my wegvlug nie. ’n
Vlug uit angs sou verklaarbaar wees. Wie sou nie vlug vir die
gewapende bende wat Jesus kom arresteer nie. Maar Jesus kondig
nie slegs die vlug van sy dissipels aan nie, maar Hy praat van
’n aanstoot aan Hom neem. Dit is veel meer as vlug, dit wys
juis die diepste oorsaak van die vlug aan. Hulle sal aanstons
hulle aan Jesus stoot en oor Hom struikel. Want in hierdie nag
sal Hy verraai, gevange geneem en tot die dood veroordeel word.
Dit sal hulle in verwarring bring. Hulle kan dit nie begryp nie
en hulle wil dit nie aanvaar nie. Hy het dikwels met hulle oor sy
aanstaande lyding gepraat, maar hulle begryp Hom nie. hulle wil
dit ook nie hoor nie. So ’n Meester stel hulle teleur. As Hy
dan gevange geneem word, dan sal dit vir hulle die einde wees.
Hulle verloor dan hul vertroue in Hom en laat Hom in die steek.
Dit sal in hierdie nag gebeur, in die nag van die paasmaaltyd wat
hulle saam gevier het.

Na ons teks lees ons dat Petrus ten stelligste
ontken dat dit sal gebeur. Maar Christus weet beter: "in
hierdie nag, voordat die haan gekraai het, sal jy My drie maal
verloën." Hy sal nee sê m.b.t. Jesus. Deur sy nee sal Hy
wys dat hy die konkrete opdrag om Hom te volg nie aandurf nie.

Dit is nou die petra waarop Christus sy
gemeente gaan bou. En dit is nie slegs Petrus wat hom van Jesus
afkeer nie. Almal sal aan Hom aanstoot neem. Nie een van die
oorgeblewe elf dissipels sal staande bly nie.

Dit moet die lyding van ons Verlosser onnoemlik
verswaar het. Die volk het hulle al teen Hom gekeer. En die
Joodse godsdienstige leiers sal vir sy gevangenskap en
veroordeling sorg. Hulle het ’n gewapende bende na hom
toegestuur. Christus is afhanklik van die twaalf dissipels. Via
die twaalf wil Hy sy gemeente bou. Met die twaalftal staan of val
die toekoms van sy verlossingswerk. Maar die twaalftal is al
geskeur en het tot elf verminder. Judas, een van die twaalf, het
na die Joodse leiers gegaan om Jesus uit te lewer. Wanneer ons
lees van die gevangeneming dan word ons aandag nadruklik daarop
gevestig dat Judas, een van die twaalf saam met ’n gewapende
bende gekom het. Die gebou van Christus se toekomstige kerk is al
ondermyn deur die oorloop van die verraaier. En nou moet Jesus
aankondig dat in daardie nag die ander elf ook afvallig sal word.
Christus word deur vriend en vyand verlaat. Hy gaan die
volstrekte eensaamheid tegemoet. Selfs die geroepe ampsdraers en
ambassadeurs van sy koninkryk sal Hom in die steek laat. Selfs sy
intiemste vriende sal Hom agterlaat in volslae isolement.

Gemeente, hier word openbaar wat Paulus later
uit diverse Psalms sal aanhaal: "Daar is niemand regverdig
nie, selfs nie een nie… Hulle het almal afgewyk, saam het
hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs
nie een nie." (Rom 3:10,12). Selfs nie een nie. Nie die
sanhedrin nie, nie Judas nie, selfs nie die elf oorgeblewe
intieme volgelinge nie.

Sal satan die slag dan tog wen? Sal hy die
verlossingswerk van Christus dan tog kan breek? Op die eerste
gesig sou ’n mens dit kan dink. Maar as ons verder lees dan
blyk dit dat die Skrifte in vervulling gaan. God se plan van
verlossing word deur satan se aanslae nie in die war gebring nie,
ook nie deur sy skynbare oorwinning nie. Maar die plan van die
Here ontvou hom juis langs die weg van skynbare verliese. God
voer sy plan van heil uit, soos Hy dit reeds in die Ou Testament
laat opteken het. Jesus sê: "Want daar is geskrywe: Ek sal
die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word."
Christus pas die profesie van Sag 13 toe op die situasie wat Hy
tegemoet gaan.

Sagaria moes profeteer dat die Here die swaard
teen sy herder sal oproep. Uit die woorde van die profesie is dit
duidelik dat dit die Here self is wat sy gerig aan die Herder
gaan voltrek. Dis tegelyk duidelik dat met die Herder uiteindelik
God se eie Seun bedoel word. Die Here roep immers self die swaard
op. En Hy noem die herder sy herder. En Hy spreek verder van hom
as "die man wat my metgesel is".

Uit die woorde blyk dat die Herder nie om sy
eie skuld deur die swaard van God se gerig getref word nie. Die
verband wys dat die herder gedood word om die skuld van die skape.
Nou hulle hom as goeie Herder verwerp neem die Here Hom van die
kudde weg. Die slaan van die herder is dus ’n gerig oor die
skape. Die Herder word gedood om die skuld van die skape.

As gevolg van die dood van die Herder sal die
skape verstrooi word. Dit is ook God se bedoeling. Sagaria 13:8
profeteer dat die merendeel van die skape deur God se oordeel
uitgeroei sal word. Slegs ’n res sal verlos word, maar wel
deur die gerig heen. Die grootste deel sal omkom, omdat dit die
Herder verwerp. Maar ook die res sal in die smeltkroes van die
beproewings gelouter moet word. Wanneer hulle dan die Naam van
die Here aanroep sal Hy hulle verhoor. So sal hulle, beproef en
gesuiwer van sonde, die lewende gemeenskap met hul God weer
ervaar. "Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor.
Ek sê: dit is my volk! En hulle sal sê: Die Here, my God."
In die weg, profeteer Sagaria in sy laaste hoofstuk, sal
Jerusalem gered word.

Op pad na Getsemane lees Christus sy
lydensprogram uit die Ou Testament. Hy weet dat die tyd vir die
vervulling van Sagaria se profesie aangebreek het. Die swaard van
die gerig moet teen Hom ontwaak. En die Vader self moet Hom
daarmee dodelik tref. Christus siteer Sagaria so dat gesê word
dat die Here self die Herder tref. So sluit die aangehaalde woord
van Sagaria treffend aan by die profesie van die lydende kneg van
die Here in Jes 53: "Ons almal het gedwaal soos skape, ons
het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het die
ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom." (Jes 53:6).
Die Here het dit gedoen. In ons plek laat God die Herder die
gerig, wat ons sy kudde moes tref, dra.

En die skape sal verstrooi word. Christus kan
op hierdie oomblik nog geen geloof, ook nie van sy dissipels,
verwag nie. Niemand besef nog wat die weg van die Christus
beteken, wat die vervulling van die profesie vir Hom inhou nie.
Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad
geloop. Almal het afgewyk.

Maar Christus mag op hierdie oomblik ook geen
geloof verwag nie. Want Hy gaan die hoogtepunt oftewel die
dieptepunt van sy lyding tegemoet: om verstoot te wees van alle
gemeenskap. Hy moet eers almal verloor en volkome eensaam gelaat
word, om self geheel alleen die koopprys vir die syne te betaal.
Van twee kante word Hy geïsoleer: die skape sal Hom in die steek
laat, maar ook: sy Vader sal Hom van die skape isoleer. God skeur
die skape van Hom af deur Hom te slaan. En die skape van die
kudde sal verstrooi word. Die Here het die ongeregtigheid van ons
almal op Hom laat neerkom. Die ongeregtigheid ook van my aanstoot
aan Hom neem, van my verloëning van Hom, die ongeregtigheid ook
van my daaglikse ontrou. Christus het van sy kant as die goeie
Herder sy lewe vir die skape gegee. Hy het die las van ons aller
ongeregtigheid op Hom geneem. In volstrekte isolement gaan Hy nou
die nag van sy diepste lyding in, om deur die offer van sy lewe
die skape te red en as een kudde rondom homself te vergader.

Dit is die evangelie van wat by die mense
onmoontlik is, maar moontlik is by God. Daar kom verlossing, maar
sonder enige verdienste van ons kant, uit louter genade, deur
Christus alleen. Daar kom ’n gemeente, maar nie danksy
mensewerk nie. Die fondament van die kerk word herstel, ondanks
die weiering van die grondleggers en danksy die trou van die
goeie Herder.

Daarom kan Jesus ook praat oor die lig wat aan
die end van die donker nag van lyding sal aanbreek. Sagaria het
immers ook geprofeteer dat die verstrooiing van die skape nie die
laaste is nie. ’n Res sal behou word, ookal is dit deur die
vuur van die smeltkroes heen. So vervolg Christus, na die sombere
aankondiging van die ontbinding van die gemeenskap, met die blye
boodskap dat Hy na sy opstanding die uiteengedrywe kudde weer
byeen sal bring: "Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor
julle uit na Galilea gaan." Daar sal ’n einde kom aan
beide die slaan van die Herder en aan die verstrooiing van die
skape. Nadat die Herder sy lydingswerk volbring het, sal Hy as
die lewende vors sy verstrooide skape byeenbring. Hy sal voor sy
eie skape uitgaan. Dit is herderlike werk. Soos ’n herder
sal Hy die verstrooide skape voorgaan na Galilea. Die Herder gaan
immers voorop en die skape volg. Christus self sal vir die
terugkeer van die verstrooide skape sorg. Hul aanstoot aan Hom
beantwoord Hy niet met loslating. Christus laat Sy dissipels, wat
Hom losgelaat het, nie los. Hy soek hulle as herder op en gaan
hulle voor. Hy het al eerder in sy hoëpriesterlike gebed vir die
skape gebid dat hulle nie sal verlore gaan nie. En teenoor die
dissipels het Jesus gesê dat Hy vir hulle gebid het dat hul
geloof nie sou beswyk nie. As Jesus opgestaan is, dan sal Hy
daarvoor sorg dat die verbroke gemeenskap herstel word.

Hy sal Jerusalem met sy oorpriesters en oudstes
passeer. Hy sal sy dissipels voorgaan na Galilea. Die donker
Galilea van die heidene sal die uitvalpoort wees waar Hy die
verstrooide skape weer rondom Hom sal versamel. Die plek vanwaar
Hy ook die ander skape wat nog nie van die stal is nie, tot Hom
sal lei sodat dit sal word een kudde, een herder.

Die fondament van die kerk word herstel. In die
slot van die evangelie na die beskrywing van Mt lees ons dat die
elf dissipels vertrek na Galilea, na die berg waar Jesus hulle
bestel het. Daar ontvang hulle van Christus die opdrag om al die
nasies tot sy dissipels te maak. Daar wys Hy hulle aan hul
kerkfunderende werk. En daar sterk Hy hulle tot hul taak deur die
belofte: En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die
voleinding van die wêreld.

En dan gaan hulle ook verkondig. Die groot
offensief van die evangelie begin. Die kragte van die komende
koninkryk breek los. Satan kan dit nie keer nie. Die harte word
week gemaak. Skape word vergader. In alle dele van die wêreld,
ook hier in Suid Afrika, in Pretoria. Nie danksy ons nie, maar
eerder ondanks ons. Dank sy die trou van die goeie Herder wat sy
lewe vir ontroue skape gegee het. Die kragte van ontbinding is
nog steeds aktief. Die gemeenskap van die heiliges word nog
voortdurend bedreig. Deur sonde en ontrou. Maar onthou dit
gemeente, terwyl ontbinding deur ons sondes ontstaan, word ware
gemeenskap slegs deur Jesus Christus herstel. Hy loop voorop.
Soos ’n Herder wat sy skape in een vergader. Laat ons almal
dan Hom volg.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)