Die God van die Verbond handhaaf die reg van sy liefde teenoor die sondige mens.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-04-16
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 4
Preek Inhoud: 

Sondag 4
Ds C Kleyn - Sondag 16 April
2000

Lees: Romeine 1:18-32; Sondag
4.
Sing: Ps 66:1,2; Ps 44:1,2; Ps 85:1,2;
Ps 85:3,4; SB 28:1,2.

Tema: Die God van die Verbond handhaaf die reg
van sy liefde teenoor die sondige mens.

  1. Hy doen dit as die onveranderlike God
  2. Hy doen dit as die Heilige God.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanaand gaan dit oor die reg van God. ’n
Onderwerp wat nie baie populêr is nie. In die vorige sondae het
ons gesien dat God volkome liefde vra, radikale en totale liefde.
Ons het ook gesien dat ons nie in staat is om dit te gee nie. Ons
natuur is so verdorwe dat ons glad nie staat is om iets goeds te
doen nie en tot alle kwaad geneig is. En nou gaan ons hierdie
eerste deel van die kat afsluit met God se regverdige toorn en
straf.

As ons hierdie sondag op homself neem, dan is
daar vir ons geen hoop nie. Dan bly daar niks anders oor as om te
val in die hande van die lewende God. Daarom is dit goed om
vooraf daarop te wys dat hierdie sondag nie op homself staan nie.
Sondag 4 volg op sondag 1. Die bekende sondag oor ons enigste
troos in lewe en sterwe. Ook in sondag 4 is dit die getrooste
volk van God wat sy geloof bely. Juis terwille van die troos word
die diepte van die ellende geteken. As ek in die troos gelukkig
wil lewe dan moet ek steeds meer en beter my ellende sien.

Dit is vanaand dus nie die bedoeling om met
sondag 4 alle troos weg te neem nie. Inteendeel. Dit gaan daaroor
dat u juis ryker word, ryker in Jesus Christus u Here. By hierdie
sondag mag ek nie maak asof ek Christus nie ken nie. Juis deur
Hom in geloof te ken – kan ek die woord van God se reg
verstaan. Ons sien in geloof hoe tereg en hoe groot God se toorn
teen die sonde is. Sy toorn teen die sonde is so groot dat Hy -
eerder as om dit ongestraf te laat bly – sy geliefde Seun
Jesus Christus met die bittere en smadelike kruisdood gestraf het.

Christus word in hierdie sondag nie uitdruklik
genoem nie. Tog is die prediking hieroor volop Christus prediking,
bediening van die versoening. Hou dit goed in gedagte anders word
dit inderdaad ’n troostelose saak.

Maar gemeente, nou dit volop Christus prediking
is, nou is dit des te ernstiger. Dit maak dit nie makliker vir u
nie. Wie eenmaal die lewende God gesien het met sy regverdige
eise en straf kan nie langer onverskillig staan teenoor die
Christus nie. Ek word gedring om ter wille van my lewe te kies.
Te kies vir die Christus. Dis ’n kwessie van lewe of dood.

Ek verkondig u: die God van die Verbond
handhaaf die reg van sy liefde teenoor die sondige mens.

  1. Hy doen dit as die onveranderlike God
  2. Hy doen dit as die Heilige God.

Die vrae van die kat vind weerklank in ons hart.
Wie ken nie die pogings om weg te kom van God se toorn en straf
nie? Die pogings om onsself vry te pleit. Die uitvlugte. As
eerste uitvlug word genoem: Doen God die mens dan nie onreg aan
as Hy in sy wet van hom eis wat hy tog nie kan doen nie? Die
sondige mens probeer om aan die greep van God se reg te ontkom
deur God self voor die gereg te daag. Doen God dan geen onreg nie?
Die skuldige party pleit homself graag vry deur die skuld af te
skuif op ’n ander. Soos mense dikwels voor die regbank na
allerlei ontsnappings moontlikhede soek. Deur die vraag te stel
wil die kat ons natuurlike denke korrigeer.

Die vraag het ’n skyn van billikheid. God
bly volkome liefde eis van die sondige mens. Maar ons het in die
vorige sondag gesien dat ons van nature nie daartoe in staat is
nie. Mag God dan wel van ons verlang wat ons nie kan gee nie? As
ek, ’n gelowige, nie in staat is om die vereiste liefde te
gee nie, is dit dan wel billik van God om die volkome liefde te
bly eis? ’n Mens gaan tog nie van ’n verlamde persoon
eis dat hy moet loop nie? Jy dra tog nie ’n kind op om iets
te doen wat slegs ’n volwassene kan doen nie? En wat moet
ons dink van al die heidene wat die evangelie nog nooit gehoor
het? Is dit reëel om elkeen se lewe te meet aan die een wet van
God?

Gemeente, vanweë die skynbare billikheid van
die teewerping is dit belangrik om ons te laat onderrig deur God
self. As ek my laat lei deur my eie gevoelens en gedagtes dan is
ek soos ’n blinde wat ’n blinde lei. My menslike gevoel
is ’n slegte gids. Ek kan nie daarop bou nie. Van nature is
ek immers geneig om die waarheid in ongeregtigheid te onderdruk.
Deur die sonde is my onverstandige hart verduister. Maar God wil
ons oë oopmaak vir die werklike situasie hier op aarde. Daarvoor
voer Hy my gedagtes terug na die verlore paradys. God wil my
deurdring van hoe dit was om my te laat verstaan hoe dit nou is
en hoe dit deur sy genade weer sal word.

In alle erns bly die Here die sondige mens
aanspreek. Hy roep u op om die wet te gehoorsaam, die oerwet, die
verbondswet, die wet van die paradys, die wet van die liefde. In
alle erns handhaaf Hy sy liefdeseis ook teenoor die sondaar. Goed
en kwaad bly vir Hom goed en kwaad.

Hiermee handel God allermins onregverdig. In
God is geen onreg nie. Hy buig die reg nie. Hy het juis
geregtigheid lief. Terwyl alle mense leuenagtig is en geneig is
om die waarheid in ongeregtigheid te onderdruk, bly God die
waaragtige, die regverdige.

Broeders en susters, God het sy reg vasgelê in
die verbond wat Hy met Adam gesluit het. Hy hou Hom aan die
verbondsreg. Handhawing van die eis is vir die Here dus ’n
saak van verbondstrou. God, wat die verbond self uitgedink en tot
stand gebring het, bly daaraan trou. Hy hou Hom aan die afspraak.
Hy bly trou aan Homself en daarmee ook aan die mens, die tweede
party van die verbond.

God het die mens in verbondsverhouding geskep.
Die verbond bepaal alle verdere handelinge. God het die mens sy
volle liefde verklaar. Tegelyk het Hy wederliefde geëis. Die
mens mog leef in die heerlike verbondsgemeenskap met sy God, in
die gemeenskap van die liefde.

Ons het ook alles ontvang wat nodig was om die
liefde van God te beantwoord. God het ons so geskep dat ons dit
kon doen. Maar wat het die mens gedoen? Die mens het homself van
die gawes beroof. Hy het die gawes genegeer, weggegooi. Gestel
dat u aan iemand allerlei mooie dinge gee om van die lewe te kan
geniet en die persoon sou dit almal verkwis, verniel. So het die
mens sy gawes verniel.

Die mens is dus geen slagoffer nie. Hy het alle
middele tot sy beskikking gehad om van die eerste paradys na die
ewige paradys te gaan. Maar deur moedswillige ongehoorsaamheid
het hy homself van die gawes beroof. Willens en wetens. So is die
onmag van die mens om God se eis te volbring ’n skuldige
onmag. Ons onmag is onwil. Ons wil nie die wederliefde gee nie,
en daarom kan ons dit nie. Daarvoor het ons onsself te lief. Durf
ons dan nog spreek van onreg by God? Ons wat dikwels so
skynheilig is en ander mense allerlei kwaad toewens as hulle ons
beledig. Ons wat so maklik haat koester teen elkeen wat ons in
die pad staan? Durf ons God van onreg betig? God het nie verander
nie. Maar die mens het verander. God het gewoon trou gebly aan
Homself en aan ons.

Gemeente, God bly ons mense dan ook aansien
soos Hy ons geskep is. Hy het ons as sy bruid geskep, aangelê op
sy liefde. Daarin vind ons ons ware menslike natuur. Daarin is
ons ware mens. Daaraan ontkom ek nie. In die oë van God kom ek
nooit los van die begin nie. Ek kom nie van die verbond los nie.
God bly die mens sien as eks- bondgenoot. Soos ’n man sy
ontroue vrou as eks-bruid sien.

God is die gekrenkte bondgenoot, die beledigde
party. As dit onder die mense kom tot ’n egbreuk dan het
dikwels beide partye skuld. En die egbreuk is meestal definitief.
Maar van God se kant is daar nooit sprake van egbreuk nie. Hy bly
terugroep tot sy liefde. Anders sou Hy nie God wees nie. God is
liefde en wie by Hom wil woon moet ook liefde wees. God vra niks
meer en niks minder nie.

Ons mag God se liefde dus nie uitspeel teen sy
regverdigheid nie. In liefde handhaaf God sy liefdeseis, sy
heilsame reg. God se liefde kan nie toegeeflik wees nie.
Toegeeflikheid sien op swakheid. Maar sy liefde is sterk. God se
liefde bestaan nie daarin dat Hy alles deur die vingers sien nie.
Dit is ’n vertekening van liefde. Ook die liefde van ’n
pa en ma sien nie alles deur die vingers nie. Ons kan gerus sê
dat sulke ouers hul kinders nie werklik liefhê nie. Hulle bederf
inteendeel hul kinders. Die liefde kan en moet daarom streng wees.

Ons mag, broeders en susters, bly wees met die
eisende liefde van God. Dis baie heilsaam. God bly ons op die
vlak van die verbond aanspreek. Hy wil ons weer op die vlak hê.
God het gelukkig nie verander nie. Hy is in sy majesteit die
onveranderlike God. Hy is en bly ’n ware en betroubare
verbondsparty. ’n Verbondsparty waarop ons onvoorwaardelik
kan staatmaak. Daarom is daar geen boodskap wat meer vertroue wek
as die boodskap dat God sy verbondseis handhaaf nie. Hy is nie
’n mensekind nie, dat Hy sou lieg nie. Hy bly trou aan die
woord wat Hy eenmaal gespreek het, en dit tot u heil.

God pas Hom immers nie aan by die verworde
situasie nie. Hy handhaaf sy verbond ook na die sondeval. Want Hy
wil ons opnuut op die vlak van die paradys kry. Hy gaan die mens
nie meewarig behandel as ’n stumper wat nie beter weet nie
en nou eenmaal so is nie. Dit sou die geval wees as God inderdaad
sy eise sou laat val en hom sou aanpas aan ons sondige en
magtelose staat. As Hy ons sonde deur die vingers sou sien. Dan
sou Hy ons nie meer as verantwoordelike en volwaardige
verbondsparty behandel nie.

Gemeente, mense beroem hul teenwoordig graag op
hul mondigheid. Ons wil op eie bene staan. Maar sodra God se reg
ter sprake kom, word die mondigheid verswyg. In sy opstand teen
God staan die mens sy mondigheid in die pad. As ek God van onreg
beskuldig wanneer Hy sy regseis handhaaf, dan kies ek eintlik vir
’n posisie benede my stand, benede my oorspronklike mondige
staat. Ek wil blykbaar nie hê dat God my as volwaardig behandel
nie.

U mag, broeders en susters, roem in God.
Ondanks u sonde en onmag bly Hy u aanspreek as verantwoordelike
mense. Hy vergeet u oorspronklike aanleg en heerlikheid nie. Nee,
gelukkig nie. Dan sou dit maar ’n hopelose en uitsiglose
situasie wees. Maar God wil u steeds weer die verbond van die
begin voorhou. In Christus wil Hy u bevry van dood en ondergang
om u opnuut op die vlak van die paradys te plaas.

Die God van die verbond handhaaf die reg van sy
liefde teenoor die sondige mens. Hy doen dit as die
onveranderlike God, maar ook as die Heilige God. Dit is die
tweede gedagte van die preek.

Gemeente, baie mense, ook onder hulle wat
hulself christene noem het moeite met die woorde straf, toorn of
hel. Hulle probeer om die woorde weg te moffel deur hulle ’n
ander inhoud te gee of deur hulle gewoon te negeer as tydgebonde
uitsprake van die bybelskrywers.

Respek vir God dwing my egter om te luister na
God se woord. Dan kan ek werklik nie die werklikheid van God se
toorn ontken nie. God het volkome liefde geëis. En waar die mens
die liefde nie gegee het nie, daar het hy ’n vloek oor
homself gehaal. So lees ons bv in Gal 3: 10: "Vervloek is
elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die
wet om dit te doen nie." God laat nie met Hom spot nie. Hy
is die Heilige. Sy toorn is sy afkeer van die sonde. Dit laat Hom
nie koud nie. ’n God wat nie oor die sonde toornig sou wees
nie, sou nie meer God wees nie. Dan sou ook sy liefde nie
betroubaar wees nie. Want toorn is die keersy van die liefde, is
’n saak van beledigde liefde. Die heilige God kan nie die
sonde negeer nie. Die sonde is aanranding van sy heilige wese.
Daarom is sy toorn verskriklik sowel oor die erfsonde as oor die
sonde wat ons self doen. Ons het die reg van die verbond geskend
en dit moet herstel word.

Onder die mense word dikwels met gesag en reg
gespeel. Die mense neem dit dikwels nie so nou nie en sien
bepaalde oortredings deur die vingers. Dink maar aan die
nalatigheid van ons huidige samelewing om by verskillende
oortredings van die geldende wette tot regsvervolging oor te gaan.
Elkeen weet dat so ’n praktyk funes is. As ouers hul kinders
bly dreig met straf sonder om die straf ooit uit te voer moet ons
nie verbaas wees as die kinders dan gewoon hul gang gaan nie.

Sou die heilige God dan so moet optree? Sou God
wat nie kan lieg nie sulke onreg deur die vingers moet sien? Dan
sou Hy nie meer die Heilige wees nie. God handhaaf egter die reg
vir 100%. Hy eis volkome herstel van die geskonde reg. En vir die
herstel van die geskonde reg moet die straf gedra word. En,
gemeente, die straf is nie mis nie. Want u het te doen met die
allerhoogste majesteit van God. Om ’n koning te beledig is
anders as om my buurman te beledig. Hoeveel te meer geld dit vir
die belediging van die allerhoogste majesteit van God. Daarby pas
die swaarste straf. Ons verdien die ewige straf aan liggaam en
siel. Ons het beide liggaam en siel in diens van die sonde gestel
en so die dood oor ons gehaal. God het tog gewaarsku: die dag as
jy van die boom van die kennis van goed en kwaad eet, sal jy
sekerlik sterwe. God hou Hom aan sy woord. As die Heilige
handhaaf Hy sy reg.

Dit wil die mens teenwoordig nie meer sien nie.
Mense praat van ’n afwesige God. Mense praat wel oor die
ellende in die wêreld, oor die baie mislukkings in menselewens.
Maar mense wil nie God daarin sien nie. Dink maar aan vigs wat so
’n dreigende siekte in ons land is.

Tog praat die Skrif oor die aktiewe
teenwoordigheid van God in sy toorn. Dink maar aan Rom 1. Die
toorn van God word geopenbaar oor al die goddeloosheid en
ongeregtigheid van die mense. Die toorn van God is sigbaar. Die
kriminaliteit en ander kwaad in die lewe word verklaar as ’n
gevolg van wat op aarde gebeur, byvoorbeeld armoede, huislike
omstandighede . Maar in werklikheid is dit die toorn van God wat
openbaar word. God soek die mens nou al op in sy toorn. In die
werklikheid van vandag en more ontmoet ons die toorn van God. God
keer Hom teen die opstandige mens en druk hom swaar in die lewe.
Hy laat ons lewe en strewe vasloop. Hy wil nie hê dat daar
buiten Hom geleef en gewerk word nie. Daarom is daar die rampe in
die wêreld, die epidemies en oorloë. Daarom is daar die
gebrokenheid in elkeen se lewe, die onenigheid en stryd. God laat
die lewe verskrompel.

Na die sondeval bring God sy vloek oor die
aardbodem as ’n sinjaal, as ’n voorbode en profesie van
die vloek wat eens volkome sal wees in die hel. Die Here deel nou
sy straf slegs met mate uit. Hy stel die volheid van sy toorn nog
uit. Maar by Christus se wederkoms sal Hy volledig toeslaan. Die
sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is sal
dan ook met die swaarste straf gestraf word, dit is die ewige
straf aan liggaam en siel. God handhaaf tot in ewigheid die reg
van sy verbond, die reg van sy versmade liefde. Vreeslik is dit
om te val in die hande van die lewende God.

U word, broeders en susters, geplaas voor die
bittere erns van God se regverdige toorn. Ek kan werklik nie met
God se liefdesverklaring speel nie. Al ons uitvlugte word afgesny.
Die bedenksels van ons hart plaas ons op ’n dood spoor. Daar
is geen uitweg nie. Behalwe die pad wat God self bedink het en
aan ons voorhou, naamlik Christus, die weg, die waarheid en die
lewe. Alle menslike hoogmoed word ons afgeleer. U word gedryf na
die hande van Christus. Wie die lewende verbondsgod gesien het,
soos Hy die reg van sy liefde handhaaf, die kan nie langer
onverskillig staan teenoor die Christus nie. God se toorn teen
die sonde is immers so groot dat Hy – eerder as om dit
ongestraf te laat bly – sy geliefde Seun Jesus Christus met
die bittere en smadelike kruisdood gestraf het. By Christus val
die beslissing. Alle eie bedagte paaie loop uit op die dood, die
ewige dood. Maar Christus is die pad na die lewe. So word u
gedring om te kies tussen die vlug na Christus toe of die val in
die hande van die lewende God.

Laat, gemeente, hierdie sondag u opnuut dryf na
Christus toe. Die God van die paradys is ook die God van Golgota
en so ook die God van die nuwe paradys. Sien tog die enigste
troos in lewe en sterwe, naamlik dat ek aan my getroue Verlosser,
Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my
sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel
verlos. Dit glo en bely u tog!

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)