Ons skepping en val.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-04-09
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 3
Preek Inhoud: 

Sondag 3
Ds C Kleyn - Sondag 9 April
2000

Lees: Genesis 1:26-31; Genesis
3; Sondag 3.
Sing: Ps 33:1,2; Ps 33:5,6; SB 15:1-3;
Ps 8:1-4; Preek; Ps 8:4-7 (NB. Dit is nie ’n fout nie!); Ps
33:9,11 (na kollekte).

Tema: Ons skepping en val.

  1. Hoe dit was; en
  2. Hoe dit geword het.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons het netnou uit die eerste hoofstukke van
die boek Genesis gelees. Dis ’n skrifgedeelte wat baie
aandag ontvang. In die afgelope jaar het daar dikwels in die pers
iets daaroor gestaan. U herinner miskien wel die uitspraak van
’n bekende TV persoonlikheid: "ons glo nie meer aan
Adam en Eva nie, nie letterlik nie." Dit het reaksies
uitgelok. Met verskillende teologiese professors is ’n
vraaggesprek gevoer. Een het duidelik gemaak dat Ou Testamentici
lank reeds daaroor eens is dat Gen 1-11 nie eksakte historiese
gebeure beskryf nie. ’n Ander hoogleraar bestempel Gen 1 as
’n stuk filosofie in verhaal vorm. Dit sou dan iets vertel
van die mens en sy verhouding met God. Dit sê dat die mens krom
is, met ’n stuk boosheid inherent aan hom. As Gereformeerde
kerke het ons altyd verdedig dat wat in Gen 1-3 beskrywe word ook
werklik so gebeur het, dat dit waarneembare werklikheid was. Dit
is immers die klaarblyklike bedoeling van die skrifverhaal.

Die vraag kan gestel word: is dit wel so nodig
om ons te bekommer oor die wyse waarop Gen 1-3 gelees word? Maak
dit saak hoe die hoofstukke gelees word, as ware geskiedenis of
as beeldspraak? Kan ons mekaar nie daarin vry laat nie? As ons
die kern-boodskap van die Bybel, die verlossing in Christus,
aanvaar, is dit dan nie genoeg nie? Is dit nie moontlik om saam
die evangelie te aanvaar, sonder om mekaar te bind aan die
historiese opvatting van die eerste hoofstukke van Genesis,
sonder daarop te staan dat Adam en Mannin werklik geleef en geval
het?

Wel, gemeente, laat ons eers maar kyk na wat
ons uit die hoofstukke lees oor ons skepping en val.

Ek verkondig aan u: Ons skepping en val.

  1. Hoe dit was; en
  2. Hoe dit geword het.

Nadat God die aarde as woonruimte toeberei het,
skep Hy die mens as kroon van die skepping. Die skrif benadruk
hoe uitnemender die mens bo die ander skepsels is. Die skepping
van die mens geskied nie sommer op die magswoord van God, soos by
die ander skepsels nie. Vooraf is daar ’n goddelike beraad.
Dit word genoem in Gen 1: 26: "En God het gesê: Laat ons
mense maak na ons beeld, na ons gelykenis." Daarna volg ons
uitnemende bestemming: "laat hulle heers oor die visse van
die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele
aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip." In Psalm
8 kan die Psalmis met reg uitroep: "U het hom ’n weinig
minder gemaak as ’n goddelike wese en hom met eer en
heerlikheid gekroon."

So was dit in die begin. Die mens ’n
weinig minder as ’n goddelike wese gemaak, met eer en
heerlikheid gekroon. Dit kom uit in die woorde: geskep na God se
beeld. "En God het die mens geskape na sy beeld; na die
beeld van God het Hy hom geskape." Van al die ander skepsels
geld dat hulle soos letters in die mooi boek van God se skepping
is, letters wat ons God se ewige krag en goddelikheid duidelik
laat sien. Maar die mens is in ’n besondere sin beeld van
God.

Wat beteken dit? ’n Beeld doen dink aan
’n afbeelding. Die mens moet op ’n ander manier as die
ander skepsels God afbeeld. In hom word God sigbaar op aarde. In
hom as die kroon van die skepping word die deugde van die Skepper
op die mees heerlike wyse gesien. So heerlik dat die engele as
hulle die mens sien ’n gelykenis opmerk tussen die Skepper
en dit sy skepsel.

Soms word die vraag gestel: wat is die beeld
van God of waarin bestaan die beeld van God? As antwoord word dan
verwag: in ware geregtigheid en heiligheid of iets dergeliks. Tog
is so ’n vraag eintlik nie reg gestel nie. As ’n seun
die gelykenis van sy pa is, dan vra ons tog ook nie: waarin
bestaan die beeld van sy vader of wat is die beeld van sy pa? Dit
is tog die seun self. Ons kan wel vra: waarin lyk die seun op sy
pa?

So kan ons dit ook beter formuleer wanneer ons
praat oor die beeld van God. Nie, waarin bestaan die beeld van
God? Maar waarin lyk die mens op sy God? En dan kom ons uit by
die woorde: ware geregtigheid en heiligheid. Daarin lyk die mens
op God, dat Hy geskape is met die heerlike eienskappe. Hy staan
in die regte verhouding tot God en die hele skepping. En in
heiligheid is hy volkome aan die Here sy God gewy. In sy skepping
is hy volkome op God gerig, so te sê. Daardeur kan die goddelike
deugde op uitnemende wyse in hom herken word. Dit kan herken word
is sy doen en late as God se onderkoning.

Gemeente, hierdie heerlike posisie van die mens
– u heerlike oorsprong - kom ook duidelik uit in die
verbondsverhouding waarin ons geplaas is. Onmiddellik by die
skepping van Adam en Mannin sluit God sy verbond met hulle. En
praat ons van ’n verbond dan praat ons van guns, gemeenskap
en lewe. Die lewe van die mens begin dus nie met sonde, haat en
vloek nie. Dit begin met liefde en guns.

Let maar op die eerste handeling van die Here
teenoor die mens. God verhef sy milde hande. Vriendelike oë rig
hulle tot die mens. "En God het hulle geseën." Dit is
van groot betekenis. God seën die mens. Die mens begin met die
seën van die Here. Daar was allermins sprake van vervreemding of
vloek. Die eerste woorde was woorde van liefde, gemeenskap en seën.

Wat beteken dit immers om te seën? Dit beteken
om as meerdere in guns en liefde tot die mindere te spreek. Om as
meerdere aan die mindere seënryke toeseggings te doen. Dit was
’n uitermate heerlike saak. God het daarmee uitdruklik
verklaar dat Hy vasbeslote was om alle goeie gawes te gee. God
het homself daartoe verbind. Hy het homself verplig om vir die
mens die hemelse skatkamers te ontsluit.

Toe het die mens God leer ken as sy God en
Vader wat wil en kan help. En hy het homself leer ken as seun van
God. Wanneer God sê: Ek sal vir jou ’n Vader wees, dan
beteken dit immers: jy sal vir my ’n seun of dogter wees.
Kan ons vir onsself ’n heerliker posisie indink? Nee tog!
Die mens kon reken op die voortdurende liefde van die Here. Hy
het selfs ’n reghebbende party teenoor God geword. Hy kon
daarop aanspraak maak, want God het Homself daartoe verplig.

Terwyl Hy hulle seën, sê die Here vir hulle:
"Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit
en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en
oor al die diere wat op die aarde kruip." Dit is tegelyk
’n belofte en ’n bevel. Terwyl God seën, belowe Hy,
wat Hy beveel. Die Here maak daarmee duidelik dat Hy sy belofte
sal vervul aan die mens wat Hom gehoorsaam.

Hier sien u, broeders en susters, duidelik die
kenmerke van die verbond van die Here. God maak aan die mens die
verbondsgeheim bekend. God, wat as Skepper in feite alleen
reghebbende is, maak die mens tot ’n reghebbende party. Die
mens kan aanspraak maak op die seën van die Here.

Ons hoor van ’n belofte en eis, die twee
dele van die verbond. En daarin lê tegelyk opgesluit die
dreiging van die verbond. Daar is sprake van belofte, eis en
dreiging. Dit word bevestig deur die twee spesiale bome in die
hof, die boom van die lewe en die boom van die kennis van goed en
kwaad. God stel die eis van gehoorsaamheid: "van al die bome
van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van
goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie." As die mens
gehoorsaam is, dan is daar die belofte van ewige lewe in die
gemeenskap met God. Die mens mag immers eet van die boom van die
lewe. Maar as die mens die eis verwerp dan is daar die dreiging
van die ewig dood: "want die dag as jy daarvan eet, sal jy
sekerlik sterwe."

So sien u, broeders en susters, hoe dit in die
begin was. So sien u die heerlike begin van ons mense. ’n
Weinig minder gemaak as ’n goddelike wese, met eer en
heerlikheid gekroon. Geskape na die beeld van God. Op ’n
uitnemende wyse vertonende die deugde van ons Skepper. Van die
staanspoor af mog ons die seën van die verbond ontvang. Ons mog
vryuit eet van die boom van die lewe. Ons mog geniet van die guns
en liefde van God ons Skepper en Vader. Tereg kon God die 6e dag
afsluit met die woorde: "en dit was baie goed." Daarom
kon die Here op die 7e dag saam met die mens Hom verlustig in
alles wat Hy geskape het. So was dit.

Maar, hoe het dit geword? In die paradys staan
die mens vir die keuse tussen lewe en dood, seën en vloek. As hy
die Here gehoorsaam, dan mag hy vir ewig bly deel in God se
liefde en guns in ’n volmaakte wêreld. As hy dit nie doen
nie, dan kom daar die dood, die vloek, die lewe buite die
gemeenskap met die Here.

Wat doen dan die mens? Hy gee gehoor aan die
vyand van God, satan. Die mens kies teen die Here en dus teen die
lewe. Hier sê ons regtig nie te veel nie. Hoe het die mens
immers daartoe gekom om van die verbode vrug te eet? Dit was nie
slegs omdat die vrug so heerlik gelyk het om van te eet nie. Nee,
die mens het slegs sover gekom deur die woorde van die duiwel te
glo, bo die woorde van God. Die duiwel sê dat God die begeerlike
vrug verbied omdat Hy wil voorkom dat die mens soos Hom sou word.
Die mens glo die leuen van satan en eet. Dit is dus ’n
duidelike keuse vir satan en teen die Here. Satan word geglo, die
Here nie. Die mens wat in sy gerigtheid op God geskape was, gaan
hom teen God rig. Hy gaan hom rig op satan. Deur die listige
ingewing van satan word die mens ontevrede en ongehoorsaam. Die
mens is nie langer tevrede met sy heerlike posisie as beeld van
God nie. Die mens wil nie slegs ’n afspieëling van God wees
nie, maar gelyk aan God word, soos God wees. Hy wil eie heer en
meester wees. Hy wil volkome onafhanklik wees.

Met as gevolg dat hy homself verlaag tot ’n
magtelose instrument van satan. Daardeur verloor hy die
uitnemende gawes waarin God se heerlike deugde skitter. Hy word
’n kind van die dood. Geregtigheid verander in
ongeregtigheid, heiligheid in onheiligheid.

En nou moet ons, broeders en susters, nie dink
dat die stryd in die paradys slegs ’n individuele stryd van
Adam en Mannin was nie. Wanneer Adam teenoor Satan staan, dan
staan daar nie slegs Adam nie, maar dan staan die mensheid
teenoor Satan. Dan staan daar die tweede party van die verbond.
Dit word ’n stryd van die hele menslike geslag. En die stryd
beslis oor lewe en dood , seën en vloek vir die hele menslike
geslag.

Die Skrif sê dan ook dat ons almal medepligtig
was aan die ongehoorsaamheid van Adam. Dit word gesê in Rom 5:12
waar ons lees: "so het die dood tot alle mense deurgedring,
omdat almal gesondig het." Wanneer het almal gesondig? Reeds
in die oortreding van die proefgebod in paradys. Want dit was
geen partikuliere aangeleentheid van Adam nie. Toe het ons almal
gesondig, alle mense, wat nog sou gebore word. Ons was almal in
Adam as verbondshoof begrepe, maar ook: ons het almal in sy
lendene meegedoen.

Vergelyk dit maar met wat ons in Hebr 7 lees
oor die geslag van Levi wat in die lendene van Abraham was toe hy
die seën van Melgisedek ontvang het en hom ’n tiende van
alles gegee het. Levi moet nie dink dat hy niks met die
gebeurtenis te make het nie. Nee, sê die skrywer, Levi het
daarmee self die tiende aan Melgisedek gegee. Levi het daarmee
Melgisedek erken as sy meerdere. Want, so lees ons, hy was nog in
die lendene van sy vader Abraham toe Melgisedek hom
tegemoetgegaan het (Hebr 7:10).

So het ons almal in die lendene van Adam saam
met hom gesondig toe hy geval het. Die skrif gee dus geen ruimte
vir die verskoning: ons kan daar niks aan doen nie, ons is slegs
erflik belas. So word die erflikheidsleer gebruik deur die mens
wat altoos homself wil verontskuldig. Daar word gepraat van
erflike belasting om die kind, om ons, te ontlas van
verantwoordelikheid en skuld.

Maar God se woord sê: Vergeet nie dat u in die
lendene van Adam was. U word nie onthef van die
verantwoordelikheid voor wat u doen nie. Inteendeel, omdat u met
u voorvader saamgedoen het, het u uself met skuld gelaai. U is
self skuldig en verantwoordelik.

Hoe skerp het Dawid dit nie gesien en bely in
Ps 51 nie. Nadat hy daar bely: "teen U alleen het ek
gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë" stoot hy deur
na die diepte van sy skuld en bely: "Kyk, in ongeregtigheid
is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang." Daarmee
wil Dawid homself nie verskoon nie. Daarmee bely Dawid juis sy
verdorwenheid as skuld. Hy sê: ek is nie slegs skuldig vanweë
die moord en vanweë die owerspel nie, maar vanweë die
gesteldheid van my hart. Ek is skuldig tot in die wortel van my
bestaan: in sonde ontvang en gebore.

Hy sê dus nie: ag, as Adam maar nie gesondig
het nie, dan was ek nie so verdorwe nie. Maar ten diepste bely hy
sy medepligtigheid aan Adam se sonde. Daarom kan God na reg hom
in sonde ontvang en gebore laat word.

So laat die Skrif vir u weet dat u almal
medepligtig is. Ons het almal in Adam saamgedoen. Geen mens kom
daar onderuit. Ons staan daarmee, as tweede party van die verbond,
as die ontroue party, skuldig voor God. Met reg laat God ons
almal deel in die erfsmet, die verdorwenheid van ons natuur.

So het dit, na so ’n onvoorstelbare
heerlike begin, geword. Die mens ’n weinig minder as ’n
goddelike wese gemaak, met eer en heerlikheid gekroon, maar nou
tot in die wortel van sy bestaan verdorwe. Glad nie in staat om
iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig.

Ja, behalwe as ons deur die Gees van God
weergebore word. Die enkele woorde bied ons geweldige
perspektiewe. Hier word die wonder verkondig van die lewe uit die
dood, van seën in plaas van vloek. Wedergeboorte. Van dood en
vloek na lewe en seën. Van verlore paradys na die nuwe paradys.

Begryp u nou, broeders en susters, waarom dit
so belangrik is om vas te hou aan die historiese werklikheid van
Gen 1-3. Die eerste hoofstukke is fundamenteel vir ons geloof.
Alles wat verder in die evangelie staan is daarop gefundeer en
gaan daarvan uit. As ek die historiese werklikheid van die val
van Adam en Mannin ontken dan hang die verlossing in Christus in
die lug, dan bly daar niks van oor nie. Sonder die eerste Adam is
daar geen 2e Adam nie.

Ontkenning van die historisiteit van Gen 1-3
het nie slegs gevolge vir die verlossing nie, maar ook vir die
sig op die sonde. As ek nie die hoogte sien waarin die mens
geskape is, dan kan ek ook die diepte van die val nie peil nie.
As ek nie weet hoe dit was, dan kan ek nie goed takseer hoe dit
geword het nie. Dit hoef ons daarom nie te verbaas nie dat baie
moderne christene nogal ligvaardig oor die verworde situasie van
die mens dink. Vrysinnigheid loop uit op ’n humanistiese
oorskatting van die mens. In so ’n situasie is die totale
vernuwing, ’n ware wedergeboorte nie nodig nie.

Ontkenning van die historisiteit van Gen 1-3
het ook gevolge vir die toekomsverwagting. Dis nie toevallig dat
baie mense in ons moderne samelewing moeite het met die doel van
die lewe, en dat hulle geen toekomsverwagting meer het nie. Hulle
sien die verwoesting wat in die lewe is en dat die dood die grens
trek. Die teoloë vertel ons immers dat daar van die staanspoor
af ’n stuk boosheid inherent aan die mens is. Daar is niks
aan te doen nie. Ons bestaan lyk op ’n tragiese werklikheid
wat op ’n mislukking uitloop. Ons moet maar sorg dat ons
braaf hierdie tyd aanvaar en sorg dat ons ons deel kry.

Wat het dit te make met die verloëning van die
historisiteit van Gen 1-3? Wel, wat sien hulle wat nie meer glo
in die volmaakte skepping as die oorsaak van die kwaad? Onder
invloed van die evolusieleer sien baie dit as ’n natuurlike
ontwikkeling of dat dit by die wese van die mens behoort. Maar
hoe moet die mens dan daarvan bevry word? Die ellende in die wêreld
gee min hoop op verbetering. As ’n stuk boosheid inherent
aan die mens is, dan is daar weinig aan te doen. Baie mense het
afgereken met die almagtige Skepper van die begin. Hy sou nie
meer as ’n toeskouer of deelgenoot wees wat ook niks aan die
ontwikkeling kan doen nie. Wat kan ’n mens verwag van so
’n God? So kom die geëmansipeerde mens sonder hoop.

Hoe ryk is ons dan, broeders en susters, met
die evangelie van Gen 1-3. Vanweë die volmaakte skepping van ons
almagtige Vader is daar uitsig op ’n volmaakte toekoms. Die
verlore paradys gee sig op die ewige nuwe paradys. Want die
almagtige Skepper staan garant vir die ewige herskepping deur
middel van sy Seun. Die diepte van die val roep om die verlosser.
Om ’n wedergeboorte. U totale verdorwenheid word nie aan u
verkondig om u radeloos te maak nie. U moet dit weet om die erns
van u situasie te verstaan sodat u sal vlug na Jesus Christus,
die weg die waarheid en die lewe. Om in Hom gered te word van die
dood na die lewe. Na die ewige lewe in volkome heerlikheid om God
te loof en te prys.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)